Samantha Miller het vir ongeveer tien en ’n half jaar in die uitgewersbedryf as bemarkingkoördineerder en mediabestuurder by akademiese, professionele en algemene uitgewershuise gewerk voor sy in 2013 as dosent en nagraadse student in die Departement Inligtingkunde by die Universiteit van Pretoria aangesluit het. Sy verwerf haar MIS Uitgewerswese-graad (cum laude) in 2018 by die Universiteit van Pretoria; dit handel oor die verkoop van die vertaalregte van Afrikaanse fiksie aan Nederlandse en Belgiese uitgewershuise. Tans doseer sy in die subdepartement Uitgewerswese, en fokus op manuskripwerwing, publikasielysbestuur en bemarking. Honneursmodules sluit die verkoop van neweregte in, sowel as besigheidsbestuur. Werksondervinding voeg waardevolle praktiese ondervinding tot haar klasse toe, en sy ondersteun die gebruik van verskeie interaksies en leermetodes in haar opleidingsfilosofie.
Bemarking en kommunikasie is haar sterk punt en sy glo vas plaaslike skrywers en uitgewerye moet bekendgestel word aan die internasionale mark deur besoeke aan internasionale boekfeeste en deur die bou van ’n sterk beeld oor Afrikaanse literatuur. Verder is die skep en onderhoud van ’n sterk agentemodel, en die lewering van goeie diens en produkte deur middel van vernuwende posisioneringstrategieë belangrik vir die Suid-Afrikaanse uitgewersbedryf.
Die konseptualisering, produsering en bemarking van kreatiewe inhoud (boeke, kunswerk, musiek) in spesifiek Afrikaans is haar grootste passie. Samantha finaliseer haar PhD-navorsingstudie wat handel oor die posisionering van Afrikaanse literatuur buite landsgrense met die gebruik van ’n besigheid- en bemarkingstrategie, samedingingen land van oorsprong. Sy raak ook graag betrokke by boekpraatjies en konsulteer graag met skrywers en uitgewerye oor strategieë.