USAN 2022 – ’n onderhoud met Ancheri Götze

  • 0

Foto van Ancheri Götze: verskaf

Die Departement Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit Stellenbosch het van 19 tot 21 Januarie 2022 ’n tweejaarlikse kongres vir nagraadse studente en jong navorsers aangebied. Die kongres is ’n geleentheid vir jong navorsers om hulle navorsing, gebaseer op hulle nagraadse studie, met akademiese eweknieë te deel. Naomi Meyer het ’n aantal bydraers met vrae genader.

Hier is Ancheri Götze se antwoorde.

Hallo! Die USAN-kongres wat by die US se Departement Afrikaans en Nederlands plaasgevind het, voel al soos maande gelede. En dit wás maande gelede. Tog is dit die moeite werd om hieroor te gesels. Veral in ’n geskiedkundige eeufeesjaar van hierdie departement. Wat kan jy onthou van die USAN-kongres – wat was jou persoonlike indrukke?

Ek het die dae na die USAN afgetel, omdat dit vir my ’n opwindende geleentheid was om my navorsing aan ander bekend te stel en ook uit te vind waarmee ander navorsers besig is. Ek kon ongelukkig net die Donderdag van die kongres bywoon weens my voltydse werk, maar dit was ’n heerlike leergeleentheid om skouers met medenavorsers te skuur. Ek onthou ek was ’n bietjie op my senuwees net voor ek my eie aanbieding moes doen, maar ek het goeie terugvoer en vrae vanuit die gehoor ontvang. Dit was die eerste jaar wat ek USAN bygewoon het en dit was van begin tot einde uitstekend georganiseer.

Vanjaar, 2022, was ’n gans ander soort jaar as toe die kongres vir die heel eerste keer in 2014 aangebied is. Die wêreld is nou ’n ander plek. Het die omgewing waarbinne jy navorsing doen, ook jou navorsing beïnvloed? Indien wel, op watter maniere?

As ’n voltydse taalonderwyseres het my omgewing my navorsing beïnvloed omdat ek leemtes in my eie klaskamer raaksien en dit die dryfkrag agter my navorsing is. Verder, met die vooruitgang van tegnologie wat deel is van ons daaglikse lewe, skep dit nuwe navorsingsgeleenthede, byvoorbeeld oor die gebruik van sosiale media en tegnologiese hulpmiddels in die taalklaskamer.

Wat beteken dit vir jou om ’n jong navorser genoem te word? Wat behels dit, in ’n praktiese opsig, vir jou?

Hierdie jaar is my vyfde jaar in die onderwys en om die etiket van “jong navorser” by my “onnie”-etiket te voeg, is vir my spesiaal. Voltyds werk en swot verg baie opofferings en ek streef daarna om nuwe maniere te vind om leemtes in my klaskamer aan te vul. Alhoewel my eie navorsing slegs ’n klein druppel in die groot Afrikaans-emmer is, is dit lekker om te weet dat ek in hierdie veld ’n jong navorser is. Dit motiveer my om my navorsing voort te sit en vanjaar met my PhD te begin.

Waaroor handel jou navorsing? Dalk kan jy in ’n paragraaf daaroor uitwei?

My navorsing val binne die veld van Afrikaanstaalverwerwing. Ek het vir my MA-verhandeling ses taakgebaseerde lesse ontwerp waar Instagram as ’n digitale hulpmiddel gebruik word om Afrikaanse woordeskat aan te leer, te oefen en ook aan nuwe woorde blootgestel te word.

.........
My navorsing val binne die veld van Afrikaanstaalverwerwing. Ek het vir my MA-verhandeling ses taakgebaseerde lesse ontwerp waar Instagram as ’n digitale hulpmiddel gebruik word om Afrikaanse woordeskat aan te leer, te oefen en ook aan nuwe woorde blootgestel te word.
............

Die taakgebaseerde lesse is gemik op vreemdetaalaanleerders van Afrikaans, maar dit bied ook idees vir en voorbeelde van hoe dit op ander vlakke van Afrikaans toegepas kan word. My navorsing is ’n teoretiese verkenning, omdat dit die eerste keer is dat Instagram en Afrikaanstaalverwerwing mekaar ontmoet.

Wat het jou geïnspireer om die navorsing te doen wat jy doen? Wat was jou aanvanklike inspirasie? Hoekom doen jy wat jy doen?

As ’n taalonderwyser sien ek eerstehands hoe studente wat Afrikaans as ’n addisionele taal of selfs as ’n vreemde taal aanleer, sukkel met die aanleer en onthou van woordeskat en ook algehele motivering om Afrikaans aan te leer.

..........
Ek is altyd op soek na nuwe idees om inhoud aan te bied wat studente geïnteresseerd sal hou en wat hulle sal geniet. My passie lê by tegnologie en taal en ek probeer juis hierdie twee belangstellings kombineer om iets nuuts te ontdek.
..........

Ek is altyd op soek na nuwe idees om inhoud aan te bied wat studente geïnteresseerd sal hou en wat hulle sal geniet. My passie lê by tegnologie en taal en ek probeer juis hierdie twee belangstellings kombineer om iets nuuts te ontdek.

Wat het jy van die ander navorsers – sommige fisies teenwoordig en sommige hibried – se navorsing gedink? Was daar enige tematiese raakpunte wat jy kon raaksien?

Binne die taalverwerwingsveld onthou ek Kanja van der Merwe se navorsing omdat dit vir my so interessant was. Haar navorsing het gefokus op die gebruik van vertaling in die taalverwerwingsklaskamer met behulp van bekende TV-reekse en films. Ek onthou ook Jané van NMU se aanbieding, juis omdat sy ook op Instagram fokus, maar op ’n heeltemal ander manier as in my eie navorsing. Haar navorsing oor Instagram-digters en -gedigte was so kreatief en baie genotvol. Beide hierdie navorsers het vir my lekker idees gegee wat ek graag prakties in my taalklaskamer wil gebruik.

As mens navorsing oor ’n sekere vakgebied doen, kan dit mens begeester. Dit kan mens ook sinies maak. Dit kan mens jou vakgebied laat problematiseer en laat ondersoek. Wat is jou ervaring: jou pad met Afrikaans en jou studies op hierdie stadium?

As ’n moedertaalspreker en ook as ’n Afrikaanstaalonderwyseres voel dit soms daar is baie verantwoordelikheid op ’n mens se skouers om Afrikaans te bevorder, maar ook te verdedig. Om boonop navorsing in die taal en oor die taal te doen, kan definitief met tye oorweldigend voel. Dit is egter vir my heerlik om die kompleksiteite, maar ook die mooi en beskrywende deel, van Afrikaans te ondersoek en te ontdek.

Kom ons praat oor die vakgebied – en aan wie Afrikaans behoort. Wie se eiendom dit is, waar het dit begin, wie mag dit toe-eien. Was daar sulke gesprekke? Wat broei in jou kop hieromtrent?

Vir my is Afrikaans die taal waarin ek lag, huil, skryf, kwaad word, geliefd voel en wat deel vorm van my identiteit. Ek dink dat Afrikaans so ’n belangrike rol in ons menswees as Suid-Afrikaners speel, en dat dit nog deur baie groeipyne gaan. Ek glo egter dat Afrikaans as ’n vakgebied nog baie potensiaal het om te groei. Afrikaans is werklik daar vir enigiemand wat dit wil omhels en saam met dit ’n pad wil stap.

Ek het jou gevra om terug te kyk. Nou vra ek jou om vorentoe te kyk. Wat sien jy op jou toekomspad, selfs korttermyn, ten opsigte van jou navorsing in die vakgebied Afrikaans?

Ek is tans in my eerste jaar as PhD-student in Afrikaanstaalverwerwing en ek hoop dat my verdere studies nuwe insigte vir die vakgebied kan lewer. Ek is opgewonde daaroor om my passie verder na te jaag en ek hoop om nog ’n paar druppels in die Afrikaans-emmer by te voeg. My groot droom is om te doseer en ek hoop dat my navorsing hierdie droom kan verwesenlik.

Hoe sien jy Afrikaans (in die algemeen) in die toekoms? Sien jy ’n toekoms vir Afrikaans en Afrikaanse navorsing en navorsing in Afrikaans?

Soos vroeër genoem, is ek opgewonde oor Afrikaans en die potensiaal wat dit het. Ek dink Afrikaans is hier om te bly, want daar is net te veel mense wat vir die taal, sy mense en sy kultuur lief is. USAN het net weereens bevestig dat Afrikaans as ’n vak- en navorsingsgebied baie het om te bied en dat jong navorsers inspirerende idees het om die taal aan die lewe te hou.

Lees ook:

USAN 2022 – ’n gesprek met Carmi Britz

USAN 2022 – ’n terugblik met Aletta Simpson

USAN 2022 – in gesprek met Mareli Swart

USAN 2022 – ’n onderhoud met Lobke Minter

USAN 2022 – ’n onderhoud met Danie Stander

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top