USAN 2022 – ’n onderhoud met Danie Stander

  • 0

Foto van Danie Stander: verskaf

Die Departement Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit Stellenbosch het van 19 tot 21 Januarie 2022 ’n tweejaarlikse kongres vir nagraadse studente en jong navorsers aangebied. Die kongres is ’n geleentheid vir jong navorsers om hulle navorsing, gebaseer op hulle nagraadse studie, met akademiese eweknieë te deel. Naomi Meyer het ’n aantal bydraers genader met vrae.

Hier is Danie Stander se antwoorde.

Hallo! Die USAN-kongres wat by die US se Departement Afrikaans en Nederlands plaasgevind het, voel al soos maande gelede. En dit wás maande gelede. Tog is dit die moeite werd om hieroor te gesels. Veral in ’n geskiedkundige eeufeesjaar van hierdie departement. Wat kan jy onthou van die USAN-kongres – wat was jou persoonlike indrukke? 

Vanjaar s’n was die tweede USAN-kongres wat ek bygewoon het. Ek het my eerste USAN-kongres beleef as ’n lanseringsbaan vir my termyn as nadoktorale genoot by hierdie departement [Departement Afrikaans en Nederlands, Universiteit Stellenbosch]. Ek het die vorige jaar my PhD in Engelse Studies voltooi en op daardie stadium nog slegs kongresse in Engels bygewoon en referate met Engels as voertaal gelewer. Dit was dus vir my ’n intimiderende vooruitsig, maar uiteindelik was dit my gunstelingkongres wat ek tot nog toe bygewoon het.

Ek het wonderlike vriende gemaak (onder andere Frederick Botha, Ruan Coetzer en Stefan van Zyl) wat tydens die 2020-grendeltyd as korrespondente gedien het om my tot ander geeste verbind te laat voel; mense met wie ek (tot nou toe selfs) bykans weekliks idees en bronne uitruil. Ons werp ook gereeld ons redigerende oë op mekaar se skryfwerk. 

Ek het hierdie jaar se kongres dus in vele opsigte as ’n reünie ervaar en nog meer vriende gemaak. Die debatte en gesprekke tussen die sessies het my vanjaar veral beïndruk en geprikkel. Ek moes ’n paar belangrike kopskuiwe maak waarvoor ek baie dankbaar is en wat ek waarskynlik nie in afsondering sou kon maak nie. 

Vanjaar, 2022, was ’n gans ander soort jaar as toe die kongres vir die heel eerste keer in 2014 aangebied is. Die wêreld is nou ’n ander plek. Het die omgewing waarbinne jy navorsing doen, ook jou navorsing beïnvloed? Indien wel, op watter maniere?

Ek dink die volgende staaltjie mag dalk my belewenis van hierdie veranderinge opsom. My liewe vriendin, Aletta Simpson, het per Zoom haar (fassinerende) referaat (oor postkoloniale humorstudies) uit Italië gelewer – USAN se eie Tossie Lochner 😉. Tydens die vraag-en-antwoord-sessie lewer ek kommentaar op van haar idees en iemand in die vertrek (hier in Suid-Afrika) stuur onmiddellik vir my per WhatsApp ’n skakel na ’n artikel oor die onderwerp ter sprake. Kan dit hibrieder? Ek het op daardie oomblik besef dat ons uiteindelik iets van die sogenaamde nuwe normaal waarna almal uitgesien het, beleef het. Die meeste kongresse wat ek in 2020 en 2021 bygewoon het was slegs aanlyn bywoonbaar, of ek het dit slegs aanlyn bygewoon, omdat die wisselvallige inperkingsregulasies my versigtig gemaak het om te reis. Ek het hierdie toedrag van sake gedeeltelik verpes, maar verandering is onafwendbaar en dít bring tog altyd ook voordele mee. Dit was vir my byvoorbeeld meer bekostigbaar om meer kongresse by te woon as wat die geval sou kon wees as dit nie op ’n hibriede (of eksklusief digitale) wyse aangebied is nie, en die staaltjie wat ek hier bo verhaal illustreer hopelik iets omtrent die voordele van die vermenging van platforms. Ek haal my hoed vir Dalene Joubert (née Vermeulen), Natasha Harmse en andere af wat die administrasie moes behartig om dit te vermoontlik!

Om die vraag egter opsommend te beantwoord: Ek stuit nie meer vir die duiwels van digitale tegnologie nie en ek het kreatiewer geword met die aanpak van argiefnavorsing. 

Wat beteken dit vir jou om ’n jong navorser genoem te word? Wat behels dit, in ’n praktiese opsig, vir jou? 

Die benaming behels vir my twee hoofimplikasies: Ek voel aangemoedig en ek voel ontdaan van die druk wat gepaard sou gaan met die benaming "senior navorser". 

Wat die eersgenoemde betref: My ervaring van USAN was dat die (kom ons noem hulle) "senior navorsers" (dws ervare, gevestigde, gerekende navorsers) wat teenwoordig was daar was om te hélp; hulle was vrygewig en opbouend met hulle vrae, terugvoer en insette. 

Ek dink die tweede rede spreek dalk vanself? Ek voel ek mág nog foute maak, wat beteken dat wanneer ek ’n referaat by USAN lewer, my ego nie so heftig in gedrang kom nie, en tog het dit my laat dink dat dit eintlik by geen kongres só hoef te wees nie. Ek hou van die Engelse woord "scholar" omdat dit soos "skolier" klink en dit my laat voel dat ek ’n beroep gekies het wat my vir altyd (of vir so lank as wat ek die vóórreg het om dit te beoefen) soos ’n skolier (oftewel ’n leerder) sal laat voel. Omnomnom en njammie! 

Mag ek toevoeg dat dit ook op die ouderdom van 32 lekker voel om nog "jonk" genoem te word wanneer jy op ’n studentedorp woon waar die ouderdomsjare tussen 18 en 40 soos hondejare voel? 

Waaroor handel jou navorsing? Dalk kan jy in ’n paragraaf daaroor uitwei?

My oorhoofse navorsingsfokus kan soos volg opgesom word: die lewens en werke (veral geskrewe tekste) van yl nagevorsde Suid-Afrikaanse vroue – veral vroue in teater. My PhD-verhandeling was oor Reza de Wet, die hoofonderwerp van my nadoktorale navorsing is die vertaaloeuvre van Nerina Ferreira, en ek het ook al oor Anna Neethling-Pohl, Alba Bouwer en Antjie Krog gepubliseer. 

My navorsing word gerig deur wat Sherry Simon (2005:1) beskryf as "bringing to light the strong figure of the 'translatress'" in geskiedskrywing, in hierdie geval die Afrikaanse "vertaalster". Daarbenewens fokus ek op vertalings van kanonieke tekste, soos dié van Shakespeare, wat veral as hegemoniese werktuie ingespan is. 

Wat het jou geïnspireer om die navorsing te doen wat jy doen? Wat was jou aanvanklike inspirasie? Hoekom doen jy wat jy doen? 

Ek het in 2011 ’n dramagraad behaal – vandaar my begronding in dramaliteratuur. Ek het eintlik in die eerste plek drama studeer omdat ek gaande was oor hoe ’n mens met letterkunde (vir die verhoog of nie) kan omgaan as jy dit bestudeer. Toe ontdek ek dat jy ’n akademikus kan word en toe besluit ek om my studies nagraads voort te sit en só beland ek toe by die Departement Engels, waar my M-studieleier, dr Jeanne Ellis, my voorliefde vir Reza de Wet bemerk het. Sy en Marthinus Basson het my aangemoedig om my akademiese skryfwerk met biografiese en argiefnavorsing aan te vul. Dit het die begin van die grootste avontuur in my lewe geword.

...........
Toe ontdek ek dat jy ’n akademikus kan word en toe besluit ek om my studies nagraads voort te sit en só beland ek toe by die Departement Engels, waar my M-studieleier, dr Jeanne Ellis, my voorliefde vir Reza de Wet bemerk het. Sy en Marthinus Basson het my aangemoedig om my akademiese skryfwerk met biografiese en argiefnavorsing aan te vul. Dit het die begin van die grootste avontuur in my lewe geword.
............

Toe ek die genootskap by Departement Afrikaans en Nederlands aanvaar het, moes ek ’n nuwe onderwerp bedink, veral om dit by vertaalkunde te laat pas, en alles wat ek tydens my navorsing oor De Wet omtrent Afrikaanse vroue in teater in die 20ste eeu geleer het, het my voorberei vir my navorsing oor Nerina Ferreira. 

Iets wat ek nie kan oorbeklemtoon nie, is dat prof Ilse Feinauer hierdie geleentheid vir my vermoontlik het, dat ek vir geen beter studieleier vir hierdie navorsing kon vra nie, en dat dit nie sonder die Ton en Anet Vosloo Leerstoel in Afrikaanse Taalpraktyk kon gebeur nie. Ek ag myself uitverkore en ek aanvaar dit nie as vanselfsprekend nie. 

Wat het jy van die ander navorsers – sommige fisies teenwoordig en sommige hibried – se navorsing gedink? Was daar enige tematiese raakpunte wat jy kon raaksien? 

Ek het Stefan van Zyl by die 2020-USAN-kongres ontmoet en hy het geen sê in die saak gehad nie – ek het eenvoudig besluit dat ons voorts boesemvriende gaan wees. Soms dien my voorbarigheid my, en daarom was dit inderdaad ook só. Hy het ook, soos ek, in 2019 sy PhD in die vorm van (soos myne) ’n oeuvre-studie voltooi. Vanjaar het hy in sy referaat op ’n minder bekende Afrikaanse drama gekonsentreer en omdat ek oor ’n dramavertaling uit dieselfde era gepraat het, het ek inderdaad baie by hom geleer. Stefan is ’n stylvolle, deeglike en classy navorser en ek moet erken dat ek, bykans twee jaar later, steeds ’n bietjie geïntimideerd voel as ons gesels en korrespondeer, maar daarom is dit juis lékker, want dan voel ek mos nou juis soos ’n skolier. 

Lobke Minter se referaat oor die gotiese in die literatuur was vir my soos ’n blikkie kondensmelk, indien ’n mens ’n blikkie kondensmelk by ’n vyfsterwynplaas kon bestel – en indien daardie kondensmelk nog boonop pikgitswart soos Morticia Addams se korsette was. My meestersverhandeling het oor die gotiese impulse in Reza de Wet se dramas gehandel en die gesofistikeerdheid van Lobke se referaat, die verfyndheid van haar denke en haar welsprekendheid tydens die vraag-en-antwoord-sessie was vir my besielend. Ek kan nie wag om te sien wat sy alles uit die hekseketel van haar navorsing gaan optower nie. 

Ek skaam my dat ek nog nie Elise Groenewald vir ’n salon in die kleine kon vaspen nie. Sy het in ’n sessie wat parallel geloop het met die een waarvan ek die voorsitter was oor die Afrikaanse vertaling van Asterix en Cleopatra gepraat en ekself het oor ’n Afrikaanse vertaling van William Shakespeare se Antony and Cleopatra gepraat. Boonop het ons beide op genderkonstruksie in vertaling gefokus, so ek lek my lippe nat vir ons toekomende gesprekke oor die laaste Egiptiese farao en hoe sy deur verskillende vertalers verafrikaans is. 

As mens navorsing oor ’n sekere vakgebied doen, kan dit mens begeester. Dit kan mens ook sinies maak. Dit kan mens jou vakgebied laat problematiseer en laat ondersoek. Wat is jou ervaring: jou pad met Afrikaans en jou studies op hierdie stadium? 

Afrikaans bly vars – daarmee kan niemand stry nie. Vars genoeg en gereeld vars genoeg en vinnig genoeg in die opskerping van die varsheid daarvan – ja, dít kan betwis word – maar die feit dat daar, vandat ek my verstand gekry het (ek is in 1990 gebore, maar dít wat as "verstand" beskryf kan word, het veel later gekom), debatte was oor wat Afrikaans is, aan wie dit behoort, hoe dit moet lyk en klink – dit alles getuig daarvan. En dit was inderdaad nog altyd só, sedert (en nog vóór) Afrikaans veramptelik is. Hoekom sou dít my sinies maak? Ek was nog nooit aangetrokke tot intellektuele of ideologiese gemaksones nie. Ek was al baie en is gereeld (myns insiens) verkeerd en ek verstel konstant my standpunte, want ek is ’n professionele "skolier" – ek leer nog elke dag. Die teenoorgestelde sou van intellektuele sklerose getuig. Uitsprake oor Afrikaans irriteer my gereeld, ek irriteer myself gereeld, opinies oor Afrikaans gee my dikwels aanstoot, maar twee tot vyf jaar later skaam ek my dood vir kommentaar wat ek daaroor in sekere sosialemediaplasings gemaak het. Ek roem my nie op "suiwerheid" of filosofiese onbeweeglikheid nie. Dit daag my uit en ek kan nie sien dat dit my ooit sal ophou uitdaag nie. 

Sovéél van Afrikaans se geskiedenis en hede is verder nog só ongekarteerd of yl gekarteerd – velde wat braak lê vir my en my medejongnavorsers, asook my senior navorsers! 

Kom ons praat oor die vakgebied – en aan wie Afrikaans behoort. Wie se eiendom dit is, waar het dit begin, wie mag dit toe-eien. Was daar sulke gesprekke? Wat broei in jou kop hieromtrent? 

Ah! Ek voel nou soos iemand wat sy naam en van by "name" in pen op die vorm skryf en dan by "surname" uitkom. Maar die onderwerp is inderdaad nie uitgeput nie. 

Ek dink die gesprek by vanjaar se USAN-kongres wat vir my die naaste daaraan gekom het is Jané de Wet se referaat en die gedagtes en gesprekke wat dit uitgelok het. Wat ’n dinamiese spreker en wat ’n deftige en veerkragtige denker! Ons is – terloops – ook nou vriende. Sy het ook geen sê in die laasgenoemde saak gehad nie. Sy het oor die potensiële status van Instapoësie besin. Vir sommige verteenwoordig Instapoësie ’n afwatering van literêre standaarde (en van – o wee – "ons" "Afrikaanse" "kultuur"); vir ander is dit ’n verskynsel wat eenvoudig nie misken kan word nie, iets wat die Afrikaanse literatuurskat kan uitbrei, en iets waarin kanoniseerders soos samestellers van bloemlesings en skoolkurrikula in dié verband ’n rol te speel het. Dit was inderdaad ’n omstrede referaat, maar kan jy jou indink in wat ’n goeie gees daar ná die tyd opinies verwissel is? Ons klomp smulpape (wat van professore tot honneursstudente gestrek het) het sonder om aan middagete te dink (ons mag dalk daaraan gedínk het, maar ons was vraatsugtiger vir gesprekvoering) vir kwartiere later nog in die ouditorium gestaan en klets en kwets hieroor. Jané het in haar referaat nou wel nie gefokus op die aard van Standaardafrikaans nie (hoewel sy tog aan die onderwerp geraak het), maar die simbiose tussen die standaardisering van Afrikaans en die erkenning van Afrikaans aan die hand van letterkunde kan tog ten minste teruggevors word na daardie dissidente wildekat Eugène Marais se “Winternag” – indien nie veel verder terug in ons landsgeskiedenis nie. Dink maar aan wat Krog met haar vertalings in Die sterre sê 'tsau' gedoen het om hierdie gegewe aan haar lesers aan te toon. 

..........
As navorser is ek bereid om baie dinge te wees, maar ’n grondbewaker is ek nie. 

Afrikaans (in die gestalte waarin ek dit leer praat het) is my moedertaal, dit is vir my ’n wonderskone taal, en omdat ek op vertaling konsentreer, word ek gereeld aan die wonderbaarlike eiesoortigheid daarvan herinner, maar ek is nie besitlik daarop nie.

Die feit dat dit konstant gedeëssensialiseer word, bekoor my. 

...........

As navorser is ek bereid om baie dinge te wees, maar ’n grondbewaker is ek nie. 

Afrikaans (in die gestalte waarin ek dit leer praat het) is my moedertaal, dit is vir my ’n wonderskone taal, en omdat ek op vertaling konsentreer, word ek gereeld aan die wonderbaarlike eiesoortigheid daarvan herinner, maar ek is nie besitlik daarop nie.

Die feit dat dit konstant gedeëssensialiseer word, bekoor my. 

Ek het jou gevra om terug te kyk. Nou vra ek jou om vorentoe te kyk. Wat sien jy op jou toekomspad, selfs korttermyn, ten opsigte van jou navorsing in die vakgebied Afrikaans

Ek weet nog nie wat my onmiddellike toekoms inhou nie (ek bevind my in die laaste jaar van my genootskap), maar dit is interessant dat, hoewel ek my PhD in Engels voltooi het, so ’n groot gedeelte daarvan juis oor Afrikaans gehandel het. Reza de Wet was totaal tweetalig en het volledig tweetalig geskryf, maar sy word merendeels (plaaslik en internasionaal) as ’n Afrikaanse skrywer onthou en sy het ook as ’n Afrikaner geïdentifiseer. Nerina Ferreira het baie met De Wet gemeen – soos hoe sy ook die taal uitgebrei het, dat ook sy nie ’n grondbewaker was nie, maar ’n ook verruimer daarvan was, ideologies, artistiek en deur haar blote selfgeldende individualiteit. Nie een van hierdie twee vroue (sonder wie ek my nie eens teenswoordige Standaardafrikaans kan indink nie) was taalpuriste of puriste in enige sin van die woord nie. Hulle was wel mense met bepaalde standaarde en sterk persoonlikhede wat selfondersoek gedoen het en invloede van "ander" kulture en tradisies aktief nagejaag het. 

Ek voorsien nie ’n toekoms waarin ek nie navorsing oor Afrikaans doen nie. Al is ek volgende jaar gelukkig genoeg om enigsins werk in die akademie te vind (mag ek so uitverkore wees ...) en indien dit selfs by ’n Engels-departement is, sal ek sekerlik steeds navorsing óór Afrikaans doen. Ek is besmet daarmee – hierdie immerverwordende taal en die navorsingsonderwerpe wat dit inspireer is inflammatories en intrinsiek belangrik – so essensialiserend (en dus selfweersprekend) as wat ek nou klink en seker(lik) ook is. 

Hoe sien jy Afrikaans (in die algemeen) in die toekoms? Sien jy ’n toekoms vir Afrikaans en Afrikaanse navorsing en navorsing in Afrikaans? 

..........
Sien ek ’n toekoms vir Afrikaans en Afrikaanse navorsing en navorsing in Afrikaans? Ongetwyfeld, ja.

...........

Sien ek ’n toekoms vir Afrikaans en Afrikaanse navorsing en navorsing in Afrikaans? Ongetwyfeld, ja. Dit hang natuurlik af van hoe "Afrikaans" gedefinieer word, maar Afrikaans word konstant geherdefinieer. Dit is vir my onmoontlik om ’n toekoms te verbeel waarin dit nie deel is van die akademiese landskap van Suid-Afrika en inderdaad van die wêreld nie.

Lees ook:

"Darling, ek is onrondneukbaar": Intertalige en intersemiotiese vertaling in TRUK se 1983-produksie van Nerina Ferreira se Afrikaanse vertaling van William Shakespeare se The taming of the shrew as Die vasvat van ’n feeks

Gedagtes van ’n bardolator oor Shakespeare, vroue en Afrikaans

"dié dag, / leef jy twee maal": Anna Neethling-Pohl se vertalings van vyf en twintig Shakespeare-sonnette as performatiewe spraakhandelinge

USAN 2022 – in gesprek met Mareli Swart

USAN 2022 – ’n onderhoud met Lobke Minter

USAN 2022 – ’n terugblik met Aletta Simpson

USAN 2022 – ’n onderhoud met Marthie de Waal

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top