Gedagtes van ’n bardolator oor Shakespeare, vroue en Afrikaans

  • 0

Danie Stander beskryf homself as ’n “onbeskaamde en onrehabiliteerbare bardolator”, oftewel Shakespeare-aanbidder. (Foto: Aldi du Toit)

Danie Stander van die Universiteit Stellenbosch se Departement Afrikaans en Nederlands se navorsingsartikel oor die vertaling en 1983-opvoering van William Shakespeare se The taming of the shrew in Afrikaans as Die vasvat van ’n feeks het onlangs in LitNet Akademies verskyn. In die artikel ondersoek hy Nerina Ferreira se vertaling van die teks, en ook die aanpassings wat destyds deur die regisseur van die Truk-opvoering, William Egan, aangebring is. Melt Myburgh het vir Danie uitgevra oor Shakespeare in Afrikaans, en Nerina Ferreira se bydrae tot vertaling.

 

***

Danie, is ek reg as ek sê dat vertalings van Shakespeare se dramas in Afrikaans iets is wat nie meer gebeur nie? Waarom was daar vroeër soveel entoesiasme daarvoor, en hoekom is daardie vertalings belangrik?

Shakespeare-dramas word nog gereeld verwerk of aangepas in Afrikaans. Dink maar aan Martelize Kolver se Bohaai oor boggerol (Much ado about nothing), Christiaan Olwagen se Droom (A midsummer night’s dream) en Marthinus Basson se macbeth.slapeloos (Macbeth). Dan is daar ook die onlangse luisterryke verskynsel van Antjie Krog se vertaling van Tom Lanoye se Vlaamse verwerking van King Lear as Koningin Lear. Maar Shakespeare-vertalings as sodanig geskied al hoe minder gereeld.

Dit bly tog interessant dat Shakespeare se volledige kanon nog nie in Afrikaans vertaal is nie en dat talle vertalings van sy toneelstukke (veral deur vroue) nog nie gepubliseer is nie, maar (hopelik) in argiewe sluimer, terwyl daar byvoorbeeld drie gepubliseerde Afrikaanse Hamlet-vertalings bestaan – al drie deur mans. Anna Neethling-Pohl het ook Coriolanus, Antony and Cleopatra, A midsummer night’s dream, The merchant of Venice en The tempest vertaal – benewens haar gepubliseerde vertalings van Julius Caesar, Othello en ’n keur uit Shakespeare se sonnette. Ek wonder of daar ’n projek begin sou kon word om van die eersgenoemde ongepubliseerde (kom ons noem dit) closet-vertalings byeen te bring en uit te gee.

Ek dink die vertaling van Shakespeare in Afrikaans is in die verlede belangrik geag onder meer as deel van ’n poging om Afrikaans as ’n taal met ’n internasionale status te bevestig. Sommige taal- en vertaalfilosowe verwys na ’n taal se “Shakespeare-fase”, dit wil sê wanneer ’n taal nie slegs deur die konsolidering daarvan deur die uitgee van ’n woordeboek erken word nie, maar ook deur die vertaling van Shakespeare-tekste in die betrokke taal.

Is dit problematies dat juis Shakespeare se oeuvre hierdie bakermat moes wees? Dit is sekerlik debatteerbaar, maar dit is ’n onteenseglike feit dat sy spesifieke toepassing van metriek, sy vermenging van taalregisters en (klas- en etniese) dialekte, sy voorliefde vir die dubbele innuendo en woordspel ’n buitengewone kombinasie uitdagings aan enige vertaler stel en waaraan daar inderdaad vertaalspiere getoets kan word.

Anna Neethling-Pohl as Lady Macbeth en André Huguenet as Macbeth onder regie van Gwen Ffrancon-Davies (Foto: Lantern, Desember 1958; openbare domein, Wikipedia)

In Nederland word Shakespeare se volledige kanon vierjaarliks hervertaal! Een vertaling is nie genoeg nie. Hoe interessant byvoorbeeld sou ’n vars Afrikaanse Othello-vertaling nie wees nie. En hoe heerlik sou dit nie dan wees om dit te kan vergelyk met Neethling-Pohl se vertalings nie – as ’n lakmoestoets vir Afrikaans se konstante her-/omvorming. Meer nog, hoe opwindend sou dit nie wees as geld bewillig kon word om al die Shakespeares wat nog nie in Afrikaans vertaal is nie, in hierdie vreemde jong taal om te skakel nie? Verder vorm vertaling dikwels ook deel van kreatiewe skryfkursusse. Dink net watter wonderlike nuwe tekste só ’n vertaalprojek sou kon inspireer …

Jou aanhaling van Nerina Ferreira se woorde in die titel van die artikel, “Darling, ek is onrondneukbaar”, sê baie oor die genialiteit van dié veelsydige vrou. Buiten aktrise en vertaler was sy “joernalis, onderwyseres en voetheelkundige” – en dit net ’n paar van die beroepe waarvoor sy bekend is! Sy het tekste uit nie minder nie as 11 tale, heel moontlik 14, in Afrikaans omgesit. Jy noem dat haar kinder- en jeugboekvertaaloeuvre ongeveer 70 titels behels. Waar het sy aan dié veeltaligheid gekom?

Nerina Ferreira (Foto verskaf deur Pieter de Vos)

Daar bestaan ’n rykdom staaltjies, legendes en moontlike mites waaruit antwoorde op hierdie vraag afgelei kan word. Ek is nie Ferreira se voornemende biograaf nie, so ek sal my nie verbind tot een antwoord nie, maar Ferreira self het dit in personderhoude aan ’n paar faktore toegeskryf.

In die eerste plek was haar moeder uitsonderlik meertalig en het Ferreira dit as kind as die normale toedrag van sake aanvaar dat moeders meertalig is. Sy het daarom haar ma se voorbeeld gevolg.

Speels en rapsodies soos wat Ferreira glo was, het sy ook die aanleer van ’n taal as ’n soort speletjie beskryf.

Laastens het sy dit toegeskryf aan haar voorliefde vir die naglewe in die Kaapse hawe. Die destydse Darryl’s Night Club (wat Pieter Fourie beskryf het as Suid-Afrika se Studio 54 – en Fourie wás in Studio 54, mind you!) was een van Ferreira se gunstelingkuierplekke. Sy het graag daar gaan dans en fuif in ’n era toe die Suez-kanaal gesluit was en Kaapstad ’n besondere smeltkroes van skeepsverkeer van oor die wêreld heen geakkommodeer het. Ferreira het in hierdie lewendige en meertalige milieu spoedig baie tale (of ten minste ’n basiese kennis daarvan) aangeleer. Haar susterskind Pieter de Vos onthou (soos ek hom in die artikel aanhaal): “Sy het dikwels gespot dat sy tale aangeleer het om met haar talryke minnaars te kon kommunikeer, sommige van hulle in vlietende oomblikke van liefde oornag.”

Raadpleeg gerus ook Henry Mylne se huldeblyk aan Ferreira op YouTube getiteld “Henry Mylne praat oor Nerina Ferreira”. Op die oomblik lees ek ’n prikkelende artikel deur Kevin West getiteld “Translating the body: towards an erotics of translation” – miskien kan Ferreira se vertaalpraktyk ten minste gedeeltelik in sulke terme beskryf word? Sy kon nie al die tale waaruit sy vertaal het, vlot praat nie, maar dat sy ’n aanleg en ’n aanvoeling vir die aanleer van tale gehad het, is klaarblyklik.

Jou navorsing vir die artikel het ’n interessante pad gevolg, juis omdat Die vasvat van ’n feeks nooit gepubliseer is nie. Jy het byvoorbeeld die opvoerteks by Jana Cilliers opgespoor waarin William Egan se regisseursnotas en aanpassings aangebring is, en Sandra Prinsloo het haar herinneringe oor Egan se werkswyse met jou gedeel. Vertel asseblief meer hiervan.

Dit moet in die eerste plek wel gemeld word dat Die vasvat van ’n feeks se opvoerteks ondertussen digitaal beskikbaar gestel is deur die webwerf www.akda.co.za (waaroor ek evangelisties geword het!). ’n Versameling van Ferreira se vertalings is ná haar dood aan Petrus du Preez (Dramadepartement, Universiteit Stellenbosch) geskenk. Hierdie skenking is oorgedra aan die Departement Afrikaans en Algemene Literatuurwetenskap van Unisa vir bewaring in die Suid-Afrikaanse Drama- en Teaterbewaringsprojek (onder leiding van Marisa Keuris). In 2019 is hierdie tekste deur AKDA onder toesighouding van Leana Welgemoed geskandeer.

Opvoerteks van Die vasvat van ’n feeks met notas deur die regisseur William Egan (Skermgreep: Danie Stander)

Ek het die artikel egter tydens die eerste inperking begin skryf, hoewel ek in my nadoktorale projekvoorstel beloof en onderneem het om (privaat en openbare) argiewe te raadpleeg ten einde (ten minste sommige van) Ferreira se tekste te bekom. Die eerste inperking het dit in die wiele gery.

ESAT (Encyclopaedia of South African Theatre, Film, Media and Performance), ’n uiters waardevolle aanlyn argief en naslaanbron vir mense soos ek wat oor die selfontbindende genre genaamd “teater” skryf, kon my darem voorsien van die rolverdeling van Truk se 1983-produksie van Die vasvat van ’n feeks. Van daar af kon ek speurwerk doen en uiteindelik kontak maak met Jana Cilliers. Sy was gaaf genoeg om vir my haar opvoerteks te pos. Jy kan jou sekerlik voorstel hoe uit my nate ek was terwyl ek tydens ’n kragonderbreking op ’n reënerige dag PostNet toe huppel om ’n koevert met ’n vergeelde, tikmasjiengetikte opvoerteks met blou-ink-aantekeninge oop te maak!

Jana Cilliers (Foto: Gerrit Rautenbach)

Daarna kon ek vasstel dat Ferreira se susterskind, Pieter de Vos, verbonde is aan Foxwood House in Johannesburg – ’n instelling wat elke duim die Bloomsbury Group se beskermdame, lady Ottoline Morrell, se huis ewenaar. Ek kon met hom kontak maak en tydens die 2020 Foxwood-fees op Volsoo se voorstel, en met sy ondersteuning, Ferreira met Sandra Prinsloo help huldig: Prinsloo het saam met Gustav Gerdener gedeeltes uit sowel The taming of the shrew as Die vasvat van ’n feeks vertolk ten einde die gehoor ’n vergelykende indruk te bied van hoe Shakespeare in Engels en (aan die hand van Ferreira) in Afrikaans klink. Ferreira se seun, Anton Vosloo, was ook teenwoordig.

Prinsloo was die Afrikaanse Katherina en sy het die vertolking van hierdie rol as een van haar gunstelingteaterervarings uitgesonder. (Kyk gerus haar onderhoud met Ferreira op YouTube: “Sandra op ’n drafstap: Nerina Ferreira”). Wat ’n belewenis, dus, om ’n toeskouer te kon wees van Prinsloo wat die rol laat herleef! Pieter en Anton Vosloo en Sandra Prinsloo was ongelooflik vrygewig en hulpvaardig teenoor my, veral aangaande die meedeel van hulle herinneringe van Ferreira.

In die artikel gee jy ook ’n oorsig van vroulike vertalers wat Afrikaans met hul werk verryk het, soos AE Carinus-Holzhausen, wat vanaf die 1920’s tot die 1940’s talle dramas uit Duits, Frans en Engels vertaal het wat deur Afrikaanse teaterpioniers soos Paul de Groot, die Hanekoms, André Huguenet en Jean Plaat-Sultjes op die planke gebring is. Verder was daar ook figure soos Anna Neethling-Pohl en Hermien Dommisse. Hoe sou jy Nerina Ferreira se statuur binne dié vertalersgalery beskryf?

Hierdie is ’n baie interessante vraag!

Dit was nogal op aandrang van een van my twee wonderlike keurders dat ek Ferreira kontekstualiseer in ’n tradisie van Afrikaanse vrouevertalers van dramas. Ek leen gereeld die feministiese vertaalfilosoof Sherry Simon se woorde in Gender in translation: Cultural identity and the politics of transmission aan om my eie navorsingsprojek te kontekstualiseer: “bringing to light the strong figure of the ‘translatress’”. Al drie genoemde “vertaalsters” se vertaal-CV’s gryp my aan.

Carinus-Holzhausen se vertalings sal ek nog wil naspeur – hopelik bestaan genoeg daarvan nog! Sy vertaal onder meer Henrik Ibsen se Et dukkehjem as Geleende geld. Wat ’n vindingryke titel! Sê nou iemand kan dit opvoer, sodat ons Ibsen nie net weer in Afrikaans kan hoor nie (André Brink het dit ook vertaal), maar in so ’n vroeë vergestalting daarvan, al is dit net om te besin oor die wonderlike wyse waarop die taal ’n opvangplek was van bepaalde 1920’s-wêreldbeskouings, ten einde dit op te weeg teen watter ander opwindende seggings/segswyses Afrikaans in die 2020’s aan ons bied.

In Neethling-Pohl se outobiografie stel sy haarself voor as ’n uitgesproke nasionalis en beklemtoon sy die politieke diens wat sy deur haar vertalings aan die destydse regering wou lewer – nie dat ek haar daarmee in ’n tydgenootlike boksie wil plaas of die baanbrekerswerk wat sy gedoen het, onder meer vir vroue in teater en in die lettere, wil afwater nie. Ferreira verbind haar egter aansienlik minder formeel met nasionale politiek.

By uitstek sou ek Ferreira in die volgende opsig van hierdie ander twee vrouevertalers van dramas onderskei: haar meertaligheid. Weer eens: Sy het uit meer as 11 tale vertaal en so min van daardie vertalings is gepubliseer! Ek dink argiewe moet gekontak word en die saak moet so gou moontlik reggestel word. Ek weet nie hoe en deur wie nie, maar dit moet gedoen word.

In jou artikel noem jy dat Shakespeare se The taming of the shrew “sedert die draai van die 16de en 17de eeu deur talle kritici as inherent patriargaal-seksisties beskou” word. Herinner ons lesers asseblief kortliks waarom kritici dié indruk het.

William Shakespeare (Afbeelding: openbare domein, Wikimedia)

Ek dink die antwoord op die vraag is eenvoudig: Op ’n opsigtelike/oënskynlike basis behels The taming of the shrew die vernedering en brutalisering van ’n vrou deur ’n man ten einde haar onderdanig aan hom te dwing, en dan vertoon hy haar onderdanigheid boonop op haar suster se bruilof tydens ’n weddenskap – haar gehoorsaamheid aan hom bring hom geld in die sak.

Miskien bied hierdie vraag vir my die geleentheid om dit te kenne te gee dat hoewel ek in die artikel ’n uitgebreide saak uitmaak vir The taming of the shrew as ’n teks wat patriargaalgebaseerde seksisme deur middel van dramatiese ironie aan die kaak stel, dit ’n uiters ingewikkelde teks is en dat baie van die argumente (bykans vier eeue se argumente wat myne voorafgaan) my soms steeds aan my eie gevolgtrekking laat twyfel. Tog is ’n drama, en tot ’n mate enige teks, slegs dít wat jy daarvan maak, en die afleiding wat ek in my artikel maak, is dat Ferreira, deur middel van haar vertaling, die feministiese moontlikhede daarvan wou uitlig.

Dié beskouing van The taming of the shrew as problematies in terme van gender en diskriminasie is nie beperk tot hedendaagse opinies deur kritici nie. Jy wys daarop dat Shakespeare se opvolger as dramaturg vir The King’s Men in 1611, John Fletcher, The woman’s prize: The tamer tamed, geskryf het waarin hy die ongelyke gendermagsverhouding in Shakespeare se drama in ’n mate “herstel”. In daardie tyd is vroue nie op die verhoog toegelaat nie, en vrouekarakters is gewoonlik deur seuns vertolk. Maar dit was ook die tyd toe ’n vrou op Engeland se troon gesit het – Elizabeth I. Dink jy Shakespeare se dramas het darem, ten spyte van vroue se posisie as tweedeklasburgers, ’n bydrae gelewer om ’n regverdiger bewussyn oor vroue te skep? Watter konteks moet ons in gedagte moet hou wanneer ons na daardie periode van die geskiedenis terugkyk?

Elizabeth I (Foto: openbare domein; Wikimedia)

Shakespeare se eerste gepubliseerde kritikus was ’n vrou, Margaret Cavendish, en sy het hom juis geloof vir wat sy beskou het as sy geloofwaardige uitbeelding van vroue. Maar een vrou kan natuurlik nie alle vroue se ervaring en uitleg van Shakespeare verteenwoordig en hom kroon as eens en vir altyd onproblematies aangaande gendervertolkings op wêreldverhoë nie.

’n Mens kan inderdaad die volgende in ag neem: Ja, ’n vrou het die Engelse troon beklee toe Shakespeare sy debuut as dramaturg gemaak het; ook Skotland was deur ’n vrou regeer en daar was op daardie tydstip ook in Frankryk ’n vroulike ryksbestuurder (regent).

Maar wat van die alledaagse vrou en die feit dat sy nie op die verhoog toegelaat is nie en inderdaad ’n tweedeklasburger was? Gaan lees byvoorbeeld in A room of one’s own, Virginia Woolf se roerende fantasie oor Judith Shakespeare, William Shakespeare se denkbeeldige suster: Woolf skep ’n tragiese, dog geskiedkundigbegronde gevallestudie wat die uitdagings verhaal wat die aspirantvroueskrywer in Elizabethaanse Engeland opgelê is. Die vraag is egter of Shakespeare ’n regverdige bewussyn oor vroue geskep het.

Vroue is wel as gehoorlede in Elizabethaanse teaters toegelaat. Daar kan aangeneem word dat daar ewe veel vroue as mans in Shakespeare se gehore was, indien nie meer nie. Wat sy toneelstukke so interessant maak, is onder andere die feit dat hulle vir sowel die meestal ongeletterde (hoewel geensins woordongevoelige nie) werkersklas opgevoer is, maar ook aan die koninklike hof.

As onbeskaamde en onrehabiliteerbare bardolator (Shakespeare-aanbidder), verdiep en verlustig ek my gereeld in spekulatiewe geskiedskrywings aangaande Shakespeare se persoonlike lewe. Was die Donker Dame (na wie daar in sy sonnette verwys word) geskoei op ’n historiese figuur? Talle kandidate is al voorgestel, onder meer ’n swart bordeeleienares wat vroeër in haar loopbaan ’n danseres aan koningin Elizabeth se hof was.

Onlangs het ek baie gelees oor die Joods-Italiaanse edelvrou Emilia Lanier, wie se vader ’n hofkomponis was. Sy self was ’n vaardige musikant, asook die eerste gepubliseerde vrouedigter in Engels. Haar gedigte word as protofeministies beskou. Of die Donker Dame nou ’n uitbeelding van ’n werklike mens is en of sy ’n bedinksel van ’n manlike skrywer is, sy skemer deur as ’n uiters onafhanklike vrou wat tevergeefs deur die digterspreker getem probeer word tot iemand wat ’n seksueel-monogame, huishoudelike vertolking van vroulikheid beoefen.

Die vroue, minnaresse en dogters van Shakespeare se twee vernaamste beskermhere was ook groot teaterentoesiaste en ondersteuners van die kunste. Sommige van sy toneelstukke is by hulle bruilofte en verjaarsdae opgevoer. Die punt wat ek wil beklemtoon, is dit: Shakespeare sou sekerlik in ag moes geneem het dat die sukses van sy toneelstukke op sowel die bevrediging van manlike as vroulike gehoorlede se sensibiliteite en versugtinge berus het.

Daarom vermoed ek dat ’n mens uit sy tekste tog veel kan aflei aangaande Elizabethaanse en Jakobeaanse vroue se behoeftes, begeertes en sosiale stand.

Moet natuurlik ook nooit sterk vrouekarakters soos Beatrice in Much ado about nothing en die titelkarakters in The merry wives of Windsor uit die oog verloor nie – ek praat hier maar van drie karakters wat die chauviniste in hulle samelewing deeglik op hulle neuse laat kyk het.

Die manier waarop Shakespeare tydens apartheid aan Suid-Afrikaners aangebied is, is baie interessant. Jy verwys onder meer na Orkin se mening “dat Shakespeare se oeuvre in Suid-Afrikaanse skole en tersiêre opvoedingsinstellings in die 1980’s oorwegend behandel is op wyses wat ’n passiewe aanvaarding van die apartheidstelsel aangemoedig het en hy beskou die staatsbefondsde teaterorganisasies (soos TRUK) as aandadig hieraan”. Maar regisseurs soos Dieter Reible en Marthinus Basson, wat in daardie era by streeksrade betrokke was, het nie geskroom om Shakespeare-produksies so aan te bied dat dit kritiek op apartheid lewer nie. Wil jy hierop uitbrei, en miskien iets sê oor die wyse waarop Nerina Ferreira se vertaalwerk die hegemonie en stereotipes uitgedaag het?

Marthinus Basson (Foto: KKNK)

Miskien moet ek ook net beklemtoon dat ek nie Orkin se stelling geheel en al in twyfel trek nie. Sekerlik sou daar baie regisseurs en pedagoë gewees het wat Shakespeare-tekste as hegemoniese werktuie ingespan het. Maar dit is ook gevaarlik om die kind met die badwater uit te gooi.

Raadpleeg gerus die fassinerende dokumentêr Feast in time of plague deur Amber Fox-Martin en Philip Theron. Met die inhuldiging van die destydse Nico Malan-teater (nou Kunstekaap) sou Bartho Smit se drama Christine opgevoer word. Kort voor hierdie drama se première is dit verbied. Die teater is toe met twee ander toneelstukke ingehuldig: Ferreira se vertaling van Georges Feydeau se La puce à l'oreille as Hond se gedagte en Uys Krige se vertaling van King Lear as Koning Lear. Dieter Reible se produksie van Koning Lear was ’n uiters opsraakwekkende en omstrede teatergebeurtenis wat die sensuurraad en talle gehoorlede briesend gemaak het omdat sy kritiek op die heersersklas deur middel van die regie en ontwerp ooglopend was.

Neem verder in ag dat ook Shakespeare se toneelgeselskap in sy eie tyd soms in die moeilikheid by die Kroon was. Sy Richard II is in 1601 deur Lord Chamberlain’s Men op die planke gebring met die hoop om ’n revolusie te inspireer. Van die geselskapslede is na die opvoering in hegtenis geneem. Sommige van Shakespeare se toneelstukke was so besaai met gekruide taal dat daar in 1606 deur die Engelse regering ’n sensuurwet teen onder meer obsene taalgebruik (Act to Restrain the Abuses of Players) in dramas ingestel is. Baie van hierdie vloekwoorde was in die mond van die karakter Sir Falstaff gelê – ’n karakter wat in Henry IV, deel 1 (nóg ’n Shakespeare-drama wat nog vertaal moet word) gedurig die spot dryf met die koning en die adelstand (waarvan hy deel gevorm het).

In Shakespeare se tyd was daar ook geweldige verset, veral deur die Puriteine, teen die wettiging van teateropvoerings. Daar is gewaarsku teen die viva vox, die “lewende”, gesproke woord, die woord in die mond van die akteur; ’n waarskuwing wat getuig van ’n begrip van die opswepende, inspirerende krag van die akteur se vertolking daarvan onder die regisseur se spelleiding. Die Puriteine het besef hoe effektief akteurs en regisseurs ondermynende lewe in die geskrewe woord kon blaas en “gevaarlike” idees by gehoorlede kon aanwakker.

Selfs met Shakespeare-produksies wat tydens die apartheidsregime dalk nie met groot gebare die politieke status quo uitgedaag het nie, kan ’n mens nie die krag van die viva vox onderskat nie. Dink maar aan die feit dat Othello vir skole voorgeskryf is en die streeksrade uittreksels daarvan op skooltoere sou opgevoer het en watter inisiatief wederstrewige regisseurs en akteurs sou kon neem.

Wat Ferreira se Shakespeare-vertaling betref: In die eerste plek dra ek nie kennis dat sy enige ander Shakespeare as The taming of the shrew vertaal het nie. In die tweede plek benadruk ek dit ook dat ek nie aflei dat sy met Die vasvat van ’n feeks landspolitiek wou aanspreek nie (hoewel daar in die tweede feministiese beweging dikwels nie onderskei is tussen die sogenaamde persoonlike en die politieke nie). Ek doen eerder aan die hand dat sy met hierdie vertaling op subtiele wyses die spot gedryf het met hegemoniese opvattings van gender en die huwelik.

Iets wat ek nie lekker in die artikel kon vertolk nie, omdat dit dalk onakademies en onstaafbaar subjektief is, is my aanvoeling dat Katherina in Ferreira se vertaling van The taming of the shrew veel spitsvondiger, intelligenter en woordvaardiger as Shakespeare se reeds bekkige en veelkantige vrouekarakter voorkom. Sandra Prinsloo het Katherina uitgesonder as die veelkantigste vrouekarakter onder al die Shakespeare-rolle wat sy al vertolk het en ek betwyfel dit nie dat Ferreira se vertaling hiertoe bygedra het nie.

Ek dink nie dat Ferreira Shakespeare wou ondermyn nie; ek skat eerder dat haar vertaling van Katherina se dialoog haar interpretasie van Katherina as ’n interessante, sterk en geslepe (shrewd) vrouekarakter ondersteun en bevorder. Daarom dink ek dat Ferreira se vertaling van The taming of the shrew as een van die groot feministiese oomblikke in (Suid-) Afrikaanse teatergeskiedenis geag moet word.

 

Lees en kyk ook:

Danie Stander se LitNet Akademies-artikel: “Darling, ek is onrondneukbaar”: Intertalige en intersemiotiese vertaling in TRUK se 1983-produksie van Nerina Ferreira se Afrikaanse vertaling van William Shakespeare se The taming of the shrew as Die vasvat van ’n feeks.

Alta Coertzen se LitNet Akademies-artikel “’n Instrument met baie snare – ’n metafoor vir Shakespeare se drama Antony and Cleopatra.”

Besoek die Afrikaanse kontemporêre drama-argief (AKDA) vir toegang tot digitale damatekste.

Kyk na Sandra Prinsloo se onderhoud met Nerina Ferreira op YouTube: “Sandra op ’n drafstap: Nerina Ferreira

Phil Ndlela takseer ’n essay in Martin Orkin se Shakespeare Against Apartheid hier op LitNet: “A Reading of Claudius’s ‘State of the Nation Address’ in Hamlet”

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top