USAN 2022: ’n onderhoud met Kanja van der Merwe

  • 0

Foto van Kanja van der Merwe: verskaf

Die Departement Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit Stellenbosch het van 19 tot 21 Januarie 2022 ’n tweejaarlikse kongres vir nagraadse studente en jong navorsers aangebied. Die kongres is ’n geleentheid vir jong navorsers om hulle navorsing, gebaseer op hulle nagraadse studie, met akademiese eweknieë te deel. Naomi Meyer het ’n aantal bydraers met vrae genader.

Hier is Kanja van der Merwe se antwoorde.

Hallo! Die USAN-kongres wat by die US se Departement Afrikaans en Nederlands plaasgevind het, voel al soos maande gelede. En dit wás maande gelede. Tog is dit die moeite werd om hieroor te gesels. Veral in ’n geskiedkundige eeufeesjaar van hierdie departement. Wat kan jy onthou van die USAN-kongres – wat was jou persoonlike indrukke?

Ek het dit werklik so baie geniet. Dit was vir my lekker om ander jong navorsers se referate by te woon en tussendeur oor ’n heerlike koppie koffie te netwerk. Dit is verrassend om te sien dat verskeie ander nagraadse studente ook hul tesisse by die Departement Afrikaans en Nederlands aanpak. Omdat ons nie klasse het nie, is daar nie veel geleenthede om mekaar te ontmoet nie. Dus was die USAN-kongres vir my waardevol, nie net vir navorsingsdoeleindes nie, maar ook vir netwerkgeleenthede.

Vanjaar, 2022, was ’n gans-ander soort jaar as toe die kongres vir die heel eerste keer in 2014 aangebied is. Die wêreld is nou ’n ander plek. Het die omgewing waarbinne jy navorsing doen, ook jou navorsing beïnvloed? Indien wel, op watter maniere?

Ek was in 2014 nog op skool, maar ek kan my indink dat die omgewing drasties verander het. Die pandemie was beslis die grootste faktor wat my omgewing en veral die empiriese komponent van my navorsing beïnvloed het. Ek het pedagogiese tolking (tolking as taalonderrigtegniek) ondersoek en moes een van my aktiwiteite, pedagogiese telefoontjietolking, afskaf weens die sosialeafstandsmaatreëls. Dit is my beskeie mening dat my deelnemers ’n baie lekker aktiwiteit ontsê is! Ten spyte van dié struikelblok is ek dankbaar dat ek wel my studie kon uitvoer, want dit was nie vir almal beskore nie.

Wat beteken dit vir jou om ’n jong navorser genoem te word? Wat behels dit, in ’n praktiese opsig, vir jou?

Om ’n jong navorser te wees beteken om op te kyk na al die gesoute navorsers en mentors om jou en om nederig te bly, want ’n mens kan soms so in jou eie klein wêreldjie vasgevang word dat jy vergeet daar is derduisende mense net soos jy.

............
Dit beteken daar is nog baie om te leer – navorsing is immers ’n lewenslange leerproses – maar daar is op hierdie stadium eindelose moontlikhede om jouself in die navorser te omskep wat jy graag wil wees, op die gebied(e) waarin jy wil spesialiseer.
............

Dit beteken daar is nog baie om te leer – navorsing is immers ’n lewenslange leerproses – maar daar is op hierdie stadium eindelose moontlikhede om jouself in die navorser te omskep wat jy graag wil wees, op die gebied(e) waarin jy wil spesialiseer.

Waaroor handel jou navorsing? Dalk kan jy in ’n paragraaf daaroor uitwei.

Ek ondersoek die verband tussen tolking en taalverwerwing. In my honneursnavorsingswerkstuk het ek die term pedagogiese tolking geskep en die velde van tolking en taalverwerwing versoen om te motiveer waarom tolking ’n effektiewe onderrigtegniek in die interaksiebenadering van tweedetaalverwerwing sal wees. In my meestersverhandeling het ek my nuutgevonde teoretiese raamwerk, pedagogiese tolking as interaksie, gebruik om vir Afrikaanstweedetaalstudente aan die Universiteit Stellenbosch geleenthede vir Afrikaanse interaksie binne ’n taakgebaseerde benadering te bied.

My PhD-onderwerp, waaraan ek tans werk, is die omgekeerde van my vorige navorsing. Waar ek voorheen die veld van taalverwerwing met behulp van pedagogiese tolking wou verryk, fokus ek tans op die potensiaal van taalaanleerstrategieë om die veld van tolkopleiding te verryk deur ’n model van tolkaanleerstrategieë te skep. Ek mik dus daarop om uiteindelik in die velde van tolking en taalverwerwing te spesialiseer.

Wat het jou geïnspireer om die navorsing te doen wat jy doen? Wat was jou aanvanklike inspirasie? Hoekom doen jy wat jy doen?

In my vertalinghonneursjaar was ek van die begin af gefassineerd deur tolking. Dit was vir my verstommend dat mense opgelei word om in die oomblik gesproke vertaling te doen, onder tydsdruk met groot steun op korttermyngeheue. Ek het natuurlik tolking as vak gekies om myself met hierdie taak uit te daag. As taalstudent en tutor vir Afrikaanse taalverwerwing vanaf my skooldae en later by die Universiteit Stellenbosch het ek ook nog altyd belangstelling in taalaanleer getoon. Dit was onafwendbaar dat die twee passies uiteindelik in die middel sou ontmoet om iets vernuwend te skep, en so het pedagogiese tolking vir Afrikaanstweedetaalverwerwing in my honneurs- en meestersnavorsing ontstaan.

...........
My PhD-onderwerp spruit uit my eerste ervaring as tolk by die openbare verhore oor die Wysingswetsontwerp op Kinders in Desember 2021. Na afloop van die tolkproses het ek besef dat tolkstudente nie in tolkopleiding uitdruklik aan tolkaanleerstrategieë blootgestel word nie, hoewel dit kan bydra tot die vergemakliking en optimalisering van die tolkaanleerproses, sowel as die tolkproses self.
.............

My PhD-onderwerp spruit uit my eerste ervaring as tolk by die openbare verhore oor die Wysingswetsontwerp op Kinders in Desember 2021. Na afloop van die tolkproses het ek besef dat tolkstudente nie in tolkopleiding uitdruklik aan tolkaanleerstrategieë blootgestel word nie, hoewel dit kan bydra tot die vergemakliking en optimalisering van die tolkaanleerproses, sowel as die tolkproses self. Daarom my huidige navorsing om die veld van prosesgerigte tolkopleiding met taalaanleerstrategieë te kombineer in ’n poging om tolkstudente, tolkopleiers en praktiserende tolke by te staan.   

Wat het jy van die ander navorsers – sommige fisies teenwoordig en sommige hibried – se navorsing gedink? Was daar enige tematiese raakpunte wat jy kon raaksien?

Dit is altyd interessant om te sien dat ’n mens se eie navorsingsonderwerp wêrelde van ander navorsers s’n kan verskil. Hoewel dit baie verskillend was, was die tematiese raakpunte na my mening beslis Afrikaans, ons gedeelde en geliefde moedertaal. Die referate is natuurlik in Afrikaans aangebied, maar verskeie referate het ook op een of ander manier oor Afrikaans gehandel, byvoorbeeld Afrikaanstaalverwerwing en Afrikaanse literatuur. Ek was beïndruk met al die referate wat ek bygewoon het. Ons jongklomp probeer net elkeen ons onderskeie navorsingsvelde binnedring, en ek dink my mede- jong navorsers by USAN doen uitstekende werk om hul regmatige plekke by die tafel in te neem.

As mens navorsing oor ’n sekere vakgebied doen, kan dit mens begeester. Dit kan mens ook sinies maak. Dit kan mens jou vakgebied laat problematiseer en laat ondersoek. Wat is jou ervaring: jou pad met Afrikaans en jou studies op hierdie stadium?

Ek was bevoorreg om ’n magisterbeurs uit die Ton en Anet Vosloo-Leerstoel in Afrikaanse Taalpraktyk te ontvang om my meestersverhandeling in Afrikaans te skryf. Sedertdien word ek herinner aan hoe natuurlik ek my in my moedertaal uitdruk. Ek is hoopvol dat ek my moedertaal bevorder en met nuwe akademiese terme aanvul. Enigeen wat hul navorsing in Afrikaans neerpen, is deel van die oplossing. Wat my sinies maak, is sommige instellings en diegene se negatiewe houding teenoor Afrikaans: dié wat glo die bereik van inklusiwiteit lê by die afskaffing van Afrikaans. Dit is ’n heeltemal verwronge beeld van wat inklusiwiteit is. In ’n diverse land soos Suid-Afrika moet veeltaligheid nagestreef word, en dit behels ongetwyfeld die behoud van Afrikaans.

..............
Wat my sinies maak, is sommige instellings en diegene se negatiewe houding teenoor Afrikaans: dié wat glo die bereik van inklusiwiteit lê by die afskaffing van Afrikaans. Dit is ’n heeltemal verwronge beeld van wat inklusiwiteit is. In ’n diverse land soos Suid-Afrika moet veeltaligheid nagestreef word, en dit behels ongetwyfeld die behoud van Afrikaans.
................

Kom ons praat oor die vakgebied – en aan wie Afrikaans behoort. Wie se eiendom dit is, waar het dit begin, wie mag dit toe-eien. Was daar sulke gesprekke? Wat broei in jou kop hieromtrent?

Dit moet nie oordink word nie: Afrikaans behoort aan enigeen wat dit gebruik. As hoof- operasionele beampte van StudentePlein Metakampus is ek in ’n posisie waar ek daagliks met studente werk wat akademiese, loopbaan-, sosiale en/of kulturele bystand in Afrikaans benodig en ook wil aangryp. Afrikaanse studente moet die waarde van hulle moedertaal in elke sfeer ten volle kan benut – en StudentePlein help hulle om in die pylvak te kom. Ek vertrou dat ek in die hoedanigheid van my studies sowel as my posisie by StudentePlein ’n bydrae tot die bevordering van Afrikaans lewer.

Mense kyk te veel vas in Afrikaans se plaaslikheid en dink die taal sal hul daarvan weerhou om hul drome te bereik. Ek kon onlangs die plaaslike én internasionale waarde van die vakgebied Afrikaans geniet. Ek het aansoek gedoen om ’n referaat by ’n oorsese kongres te lewer, en het prysgeld ontvang om die geleentheid as ’n Afrika-navorser suid van die Sahara by te woon. Die twee keurders het spesifiek klem op my Afrikaanse navorsing in hul terugvoer gelê: “I am really happy to see research for Afrikaans” en “It is nice to see a focus on a language like Afrikaans, which is underrepresented in the literature.” Hierdie ervaring getuig van die waarde van ons moedertaal, wie se naam ek in Augustus 2022 in Oostenryk by die 9de Internasionale Kongres vir Taakgebaseerde Taalonderrig gaan hoog hou. Afrikaans het ’n plek in navorsing, nie net in ons land nie, maar wêreldwyd.

Ek het jou gevra om terug te kyk. Nou vra ek jou om vorentoe te kyk. Wat sien jy op jou toekomspad, selfs korttermyn, ten opsigte van jou navorsing in die vakgebied Afrikaans?

Afrikaans word deur sy sprekers onderhou en opgebou. Solank daar jong navorsers soos by USAN 2022 is, is Afrikaans hier om te bly. Afrikaans is ’n nuutskeppende, kreatiewe, bruikbare en wetenskaplik ontwikkelde taal, en so moet dit en sal dit voortleef.

Lees ook:

USAN 2022 – ’n onderhoud met Marishan Hendricks

USAN 2022 – ’n onderhoud met Samantha Miller

USAN 2022 – ’n onderhoud met Danie Stander

USAN 2022 – ’n onderhoud met Marthie de Waal

USAN 2022 – ’n onderhoud met Ancheri Götze

USAN 2022 – ’n onderhoud met Lobke Minter

USAN 2022 – ’n gesprek met Carmi Britz

https://www.litnet.co.za/usan-2022-n-terugblik-

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top