Afrofuturisme in Afrikaanse letterkunde: ’n onderhoud

  • 7

………

Lees meer oor Afrikaanse letterkunde in die volgende LitNet Akademies-artikels:

………

Jerome Coetzee, 23 jaar oud, is tans besig met sy Meestersgraad in Afrikaanse letterkunde by die Universiteit van Wes-Kaapland. Sy belangstelling is hoofsaaklik Afrofuturisme in Afrikaanse letterkunde. Hy gesels met Cliffordene Norton oor sy navorsing.

Wat het jou navorsingsonderwerp, Afrofuturisme in Afrikaanse letterkunde, geïnspireer?

Eerstens het ek altyd ’n liefde vir universiteit gehad. En met dit bedoel ek nie net partytjies en lekker tye nie.

Ek hou van die idee van mense ontmoet, veral mense met ander perspektiewe, om kontakte op te bou, nuwe vaardighede aan te leer, geleenthede te ontvang/skep, maar meestal van die soeke na en oordra van kennis.

Dit was my eerste inspirasie, ek wou meer weet van Afrofuturisme en dit oordra.

Ek wou altyd my Meesters doen en na Honneurs moes ek ’n onderwerp kies. Ek het eenvoudig begin lees.

Ek het toekomsfiksie êrens raak gelees, maar daar is alreeds baie aandag daaraan gewy in Afrikaans letterkundenavorsing. Ek het die fliek Black Panther (2018) gesien en ’n bespreking wat ek gelees het, het verduidelik hoe dit Afrofuturisme illustreer.

My studieleier het ook vir my die romans wat met die Afrofuturisme skakel, waaroor ek later meer sal praat, gegee.

Na ek baie gaan lees het en video’s gaan kyk het op YouTube was my finale inspirasie die leemte wat daar is, nie net in Afrikaans letterkunde nie, maar ook in die res van Suid-Afrika. 

…………

“Afrofuturisme se boodskap is een van bemagtiging. Hierdie bemagtiging is ten opsigte van Afrika se potensiaal in die toekoms.”

…………

Hoe sou jy Afrofuturisme definieer?

Daar is so baie definisies en navorsers debatteer nog die definisie van Afrofuturisme. Vir my en my studie is die bemagtiging van swart en bruin mense van Afrika en wat tans daar woon, asook ’n element van die toekoms, tegnologie, natuurbewaring/aardbewusmaking, en die buitengewone relevant. Ek ondersoek ook die nuutskepping van plekname en ander neologismes. Die invloed van die Afrofuturisme kan gesien word in die letterkunde, musiek, kleredrag en vele ander genres.

Wat hoop jy om te bereik met hierdie navorsing?

Ek hoop om meer mense bewus te maak van Afrofuturisme, asook die potensiaal wat dit het vir Afrikaanse skrywers en navorsers. Hierdie navorsing sal my bemagtig om my eie skryfwerk te verbeter en te illustreer hoe Afrofuturisme ’n bate is vir Afrikaanse letterkunde.

My navorsing moet deel word van die globale gesprek rondom Afrofuturisme, want daar is ’n gesprek in verskillende genres en vorme. Ek wil graag hê dat ons mense dit moet raaksien vir die bemagtiging wat dit is, maar nie net in letterkunde nie. Afrofuturisme se boodskap is een van bemagtiging. Hierdie bemagtiging is ten opsigte van Afrika se potensiaal in die toekoms. Dit beteken hoe Afrika kan groei ten opsigte van tegnologie, nuutskeppings, aardbeskerming en die gesprekke wat nog moet begin word. Afrofuturisme wil Afrika se plek aan die tafel in die toekoms bevestig en ook aan die mense bewys dat daar potensiaal is vir soveel meer.

Wat is die mees fassinerende aspek van jou projek? Was daar enige bevindinge wat jou verras het?

Om net een te kies is heel moeilik, omdat ek elke stap van my navorsing geniet. As ek een moet kies sal ek sê die idee dat jy Afrofuturisme in verskillende genres kan toepas en nogtans dieselfde boodskap kan oordra. Die een bevinding is dat die term en gesprek vanaf 1994 aan die gang is, ’n 2018-fliek globale aandag daarvoor gebring het, en dat daar deurlopend kunstenaars besig is met Afrofuturisme, maar dit kry nog nie die nodige aandag nie.

Nog ’n bevinding wat my verras het, was hoe uniek en anders genres lyk wanneer jy dit deur die oë van ’n Afrofuturis bekyk. Ek was ook verras met die groot impak wat Afrofuturisme kan maak op soveel aspekte in die samelewing, veral by gesprekke soos natuurbewaring. Die potensiaal van ’n Afrofuturistiese benadering is eindeloos – ons het nog nie eens begin om dit te ontgin nie.

Fokus jou navorsing op poësie, skryfwerk of dramatekste?

My navorsing fokus hoofsaaklik op drie romans: Stof, Snak en Kraak. Ek bespreek kortliks in my navorsing hoe Afrofuturisme toegepas word in verskillende genres (volwasse versus jeugfiksie, onder andere), net om te illustreer hoe die verskillende genres vanuit dieselfde navorsingshoek besigtig kan word.

Op watter outeurs se werke fokus jy in jou navorsing? Bestudeer jy hierdie kuntenaars se oeuvres of fokus jy op spesifieke werke?

Ek fokus op Alettie van den Heever se debuutroman Stof (2018) en Rouxnette Meiring se romans Kraak (2018) en Snak (2018). Beide Alettie van den Heever en Rouxnette Meiring het nie veel meer gepubliseer nie. Meiring se werk is deel van die IIHui !Gaeb-jeugreeks.

Hoe sal jy jou navorsing prakties wil implementeer?

Ek wil baie graag mense bewus maak van Afrofuturisme as teoretiese invalshoek. Dan wil ek baie graag spasies skep in Kaapstad (bv in museums) en hopelik uitbrei in Suid-Afrika –  waar jy kan leer van Afrofuturisme, maar ook sien hoe dit toegpas word en dat dit nie net ’n akademiese veld is nie. Afrofuturisme fokus op die potensiaal van Afrika in die toekoms.

Wat wil jy doen nadat jou studie afgehandel is?

Daar is soveel wat ek wil en kan doen, ek besluit nog. Ek weet ek wil beslis die praktiese van my navorsing sover as moontlik uitdra en ook fokus op my eie kreatiewe skryfwerk.

  • Foto’s: verskaf
Lees ook 

Kreolisering, die Afrikaanse letterkunde en kultuur: ’n onderhoud

  • 7

Kommentaar

  • Ek kan definitief sy passie vir die onderwerp hoor as ons daaroor praat. Ook 'n baie interessante konsep.

  • Jerome Coetzee, jy is 'n groot inspirasie vir baie jong mense. Ek weet jy gaan nog ver gaan; ek hoop jou al die beste.

  • Beslis indrukwekend hoe jy die leser en onderhoudvoerder boeiend aan die lees hou
    Jerome is 'n inspirasie vir ons Nasie. Gee hom spasie vir die Afrofuturisme-fondasie. Hierdie navorsing is 'n meesterstuksensasie.
    Mense sal bewus raak, selfs die museum sal dit oorweeg, so moet nie bekommerd wees nie, want daar is geen haas nie. Ons benader die radiostasie as 'n alterasie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top