USAN 2022 – ’n onderhoud met Jean-Marie Potgieter

  • 0

Foto van Jean-Marie Potgieter: verskaf

Die Departement Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit Stellenbosch het van 19 tot 21 Januarie 2022 ’n tweejaarlikse kongres vir nagraadse studente en jong navorsers aangebied. Die kongres is ’n geleentheid vir jong navorsers om hulle navorsing, gebaseer op hulle nagraadse studie, met akademiese eweknieë te deel. Naomi Meyer het ’n aantal bydraers met vrae genader.

Hier is Jean-Marie Potgieter se antwoorde.

Hallo! Die USAN-kongres wat by die US se Departement Afrikaans en Nederlands plaasgevind het, voel al soos maande gelede. En dit wás maande gelede. Tog is dit die moeite werd om hieroor te gesels. Veral in ’n geskiedkundige eeufeesjaar van hierdie departement. Wat kan jy onthou van die USAN-kongres – wat was jou persoonlike indrukke?

Die USAN-kongres kan beslis as ’n hoogtepunt vir jong navorsers beskou word as daar gekyk word na die aantal referate wat gelewer is en hoeveel navorsers van ver gereis het om die kongres by te woon. Verder was dit duidelik dat die organiseerders werklik moeite gedoen het om te verseker dat alles glad verloop. Die belangstelling en insette van die gehoor het ook tot ’n suksesvolle kongres bygedra.

Vanjaar, 2022, was ’n gans-ander soort jaar as toe die kongres vir die heel eerste keer in 2014 aangebied is. Die wêreld is nou ’n ander plek. Het die omgewing waarbinne jy navorsing doen, ook jou navorsing beïnvloed? Indien wel, op watter maniere?

My navorsingsveld, sintaksis, laat gelukkig toe dat ek nie afhanklik is van fisiese interaksie met deelnemers nie. Tydens die grendeltydperk moes kongresse óf gekanselleer word óf elektronies plaasvind. Ongelukkig het die gesprekke met ander navorsers tydens die pouses gevolglik in die slag gebly. Ek voel dat mens dikwels waardevolle insette en/of idees kry wanneer daar informeel gesels word. Daarom was dit goed dat die kongres in persoon kon plaasvind.

...........
Ongelukkig het die gesprekke met ander navorsers tydens die pouses gevolglik in die slag gebly. Ek voel dat mens dikwels waardevolle insette en/of idees kry wanneer daar informeel gesels word. Daarom was dit goed dat die kongres in persoon kon plaasvind.
...........

Wat beteken dit vir jou om ’n jong navorser genoem te word? Wat behels dit, in ’n praktiese opsig, vir jou?

Om ’n jong navorser te wees is opwindend, want dit beteken dat daar nog so baie is om te leer en te ontdek. Soos wat jy kennis binne jou navorsingsveld inwin, word jy al hoe meer toegerus om uiteindelik jou unieke perspektief te kan gebruik om ’n bydrae tot die veld te lewer.

Verder behels jou posisie as jong navorser dat jy die geleentheid het om meer ervare navorsers te raadpleeg. Die ondersteuning en raad wat jou studieleier bied tydens jou nagraadse studie, is van onskatbare waarde.

Waaroor handel jou navorsing? Dalk kan jy in ’n paragraaf daaroor uitwei.

Ek nader tans die pylvak van my doktorale navorsing in teoretiese sintaksis. My fokusarea is positiewe polariteitsitems (PPI’s) in Afrikaans. PPI’s sluit in elemente soos iemand, iets, êrens asook frases soos kon ’n speld hoor val, vir ’n appel en ’n ei, en dae/maande/jare laas. PPI’s het die eienskap met mekaar gemeen dat hulle nie saam met negativering kan voorkom nie. Dit is byvoorbeeld aanvaarbaar om te sê Ek het hom dae laas gesien, terwyl die sin Ek het hom nie dae laas gesien nie nie grammatikaal is nie.

.............
My fokusarea is positiewe polariteitsitems (PPI’s) in Afrikaans. PPI’s sluit in elemente soos iemand, iets, êrens asook frases soos kon ’n speld hoor val, vir ’n appel en ’n ei, en dae/maande/jare laas. PPI’s het die eienskap met mekaar gemeen dat hulle nie saam met negativering kan voorkom nie. Dit is byvoorbeeld aanvaarbaar om te sê Ek het hom dae laas gesien, terwyl die sin Ek het hom nie dae laas gesien nie nie grammatikaal is nie.
...............

My navorsing is hoofsaaklik verkennend van aard – ek ondersoek watter PPI’s in Afrikaans voorkom, hoe hulle ooreenstem met en verskil van dié in Engels en Nederlands, en hoe hulle deur Afrikaanssprekendes gebruik word. ’n Subafdeling van my proefskrif fokus op die maniere waarop PPI’s gekombineer word met spreker-hoorder-georiënteerde elemente soos mos en sommer om die spreker se houding teenoor ’n proposisie aan te dui.

Wat het jou geïnspireer om die navorsing te doen wat jy doen? Wat was jou aanvanklike inspirasie? Hoekom doen jy wat jy doen?

Ek het reeds in my eerste jaar van voorgraadse studie my hart op sintaksis verloor, aangesien dit ’n kombinasie is van twee velde waarvoor ek lief is: taal en abstrakte, teoretiese navorsing.

Ek het begin belangstel in (positiewe en negatiewe) polariteitsaspekte van taal tydens my honneursjaar. My studieleier, Theresa Biberauer, het ’n module oor negativering aangebied wat my geweldig geïnteresseer het en wat uiteindelik die fokusarea van my honneurs- en meestersnavorsing geword het. Ek en Johan Oosthuizen het ook heelwat gesprekke gevoer oor positiewe polariteit, veral oor bywoorde soos wel wat gebruik kan word om aan te dui dat die spreker die waarheid van sy/haar stelling beklemtoon (bv Ek het wel die boek gelees).

Ek hou daarvan om alles moontlik oor ’n onderwerp te leer. Die relatief min navorsing wat tot dusver gedoen is oor PPI’s in Afrikaans, en oor PPI’s oor die algemeen, het my aangespoor om daarop te fokus tydens my doktorale studies.

Wat het jy van die ander navorsers – sommige fisies teenwoordig en sommige hibried – se navorsing gedink? Was daar enige tematiese raakpunte wat jy kon raaksien?

Dit was regtig interessant om meer te leer oor die navorsing wat in ander subvelde soos letterkunde uitgevoer word. Die aantal queer-teoretiese aanbiedings was vir my opvallend. Verder blyk dit dat sosiale media soos Instagram ook heelwat ingespan word vir data-insamelingsdoeleindes. Mart-Mari van der Merwe se aanbieding oor prototipiese Afrikaanse taboewoorde het tot ’n mate aangesluit by my navorsing, aangesien ons albei kyk na hoe Afrikaans in die werklikheid deur sprekers ingespan word om gevoelens en houdings uit te druk.

...........
Mart-Mari van der Merwe se aanbieding oor prototipiese Afrikaanse taboewoorde het tot ’n mate aangesluit by my navorsing, aangesien ons albei kyk na hoe Afrikaans in die werklikheid deur sprekers ingespan word om gevoelens en houdings uit te druk.
..............

As mens navorsing oor ’n sekere vakgebied doen, kan dit mens begeester. Dit kan mens ook sinies maak. Dit kan mens jou vakgebied laat problematiseer en laat ondersoek. Wat is jou ervaring: jou pad met Afrikaans en jou studies op hierdie stadium?

Navorsing oor elemente wat spreker-perspektief uitdruk en hoe hierdie elemente geïntegreer kan word binne die tradisionele sintaktiese raamwerk is tans aan’t floreer. Vooruitgang binne die akademie kan slegs geskied as bestaande inligting en benaderingswyses bevraagteken en uitgedaag word. Dis baie opwindend om deel te kan wees van hierdie akademiese diskoers. Ek is dankbaar dat ek op die clichéagtige “regte plek op die regte tyd” my navorsingsloopbaan kan begin.

Kom ons praat oor die vakgebied – en aan wie Afrikaans behoort. Wie se eiendom dit is, waar het dit begin, wie mag dit toe-eien. Was daar sulke gesprekke? Wat broei in jou kop hieromtrent?

Die verskeidenheid navorsing wat deesdae oor Afrikaans geskied, toon dat Afrikaans nie meer beskou (kan) word as die besitting van ’n klein groepie individue nie en dat preskriptiewe benaderings vervang (moet) word met ’n deskriptiewe uitgangspunt. Die interaksie tussen Afrikaans en plaaslike tale en hul invloed op mekaar dui ook op die waardevolle bevindinge wat navorsing oor ander Suid-Afrikaanse tale na vore sal kan bring.

Ek het jou gevra om terug te kyk. Nou vra ek jou om vorentoe te kyk. Wat sien jy op jou toekomspad, selfs korttermyn, ten opsigte van jou navorsing in die vakgebied Afrikaans?

Daar is heelwat aspekte van die Afrikaanse taalstruktuur wat nog ondersoek moet word en ek sien daarna uit om aan die navorsing deel te neem. Ek beplan om na my doktorale studie verder navorsing te doen oor PPI’s en spreker-hoorder-georiënteerde elemente. Daar is waardevolle inligting wat ingewin kan word deur korpusstudies asook kruislinguistiese vergelykings.

Hoe sien jy Afrikaans (in die algemeen) in die toekoms? Sien jy ’n toekoms vir Afrikaans en Afrikaanse navorsing en navorsing in Afrikaans?

............
Die verskeidenheid temas en raakpunte in vanjaar se kongres het dit duidelik gemaak dat Afrikaans-navorsing definitief lewend is.
..............

Die verskeidenheid temas en raakpunte in vanjaar se kongres het dit duidelik gemaak dat Afrikaans-navorsing definitief lewend is. Verder toon die tweetalige aard van die kongres dat navorsing oor Afrikaans nie net geskied deur moedertaalsprekers van die taal nie, maar ook deur ander navorsers wat bepaalde aspekte van die taal interessant vind. Die navorsing rondom taalverwerwing dui ook aan dat daar steeds ’n behoefte bestaan om Afrikaans as ’n addisionele taal aan te leer.

Lees ook:

USAN-kongres 2022 – 'n terugblik: Jerome Coetzee

Afrofuturisme in Afrikaanse letterkunde: ’n onderhoud

USAN 2022: ’n onderhoud met Kanja van der Merwe

USAN 2022 – ’n onderhoud met Marishan Hendricks

USAN 2022 – ’n onderhoud met Samantha Miller

USAN 2022 – ’n onderhoud met Danie Stander

USAN 2022 – ’n onderhoud met Marthie de Waal

USAN 2022 – ’n onderhoud met Ancheri Götze

USAN 2022 – ’n onderhoud met Lobke Minter

USAN 2022 – ’n gesprek met Carmi Britz

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top