Die geleentheidspreker by vanjaar se prestigelesing van die Vereniging van Regslui vir Afrikaans (VRA) was Cerneels Lourens. Hy deel sy toespraak met LitNet. In die toespraak gee hy agtergrond oor die taalstryd van die afgelope 20 jaar waarin hy direk betrokke was en verder spreek hy aktuele taalregtelike vraagstukke aan, waaronder die besluit van die hoofregter om Engels as taal van rekord in die howe in te voer en die abdikering van die hoofregter se plig om die Gelyke Kanse vs US-aangeleentheid aan te spreek. Hy maak ook verskeie voorstelle rondom Afrikaans in die toekoms.
Geagte Voorsitter en hooggeagte vriende
Allereers wil ek net dankie sê vir hierdie eer. Ek bedank die organiseerders vir hierdie groot voorreg. Dit is ook vir my ’n vreugde om hier te kan praat.
Inleiding
Met hierdie praatjie gaan ek ’n bietjie terugkyk na die stand van die taaltoneel in die land. Daarna gaan ek ’n paar opmerkings maak oor die huidige taalregtesituasie die taal-van-rekord-dilemma bespreek, en laastens my toekomsvisie met u deel.
Die vraagstuk wat ek vanaand aanpak, is: Het ek en jy individueel én kollektief misluk om Afrikaans in die regswese te beskerm of is dit ’n voortgaande taak?
Op 5 Julie 1822 het proklamasie 17 van 1822 van lord Somerset in werking getree, waarvolgens Engels as enigste taal vir die reg en die regering ingestel is. Dit is ’n hele 197 jaar gelede en steeds is alles nog nie Engels nie!
Taalregte is die gonsgedagte vir die 21ste eeu. Wat ek hierin sê, is nie oorspronklike denke nie, maar is geleende denke uit die kollektiewe kapitaalbelegging van die Afrikaanssprekende intellektuele denke hieroor en spesifiek ook van julle wat vanaand luister.
Terug op ’n paar voetspore: veral van die VRA
Ek het nooit kon dink dat taalregte ’n onderwerp sou word waarin ek belang stel nie; trouens, dit was nie vir my eens ’n vraagstuk nie. My ambisie was bloot om ’n goeie prokureur te wees, en ek strewe steeds daarna. In die negentigerjare het ek gereeld die Prokureursorde se opdatumbring-seminare bygewoon. By geleentheid het dit gebeur dat ’n persoon opgestaan en gesê het hy kan nie Afrikaans verstaan nie. Daar is toe oorgeskakel na Engels om hom (of haar) te akkommodeer.
Nadat ek die kwessie met die Prokureursorde opgeneem het, het hulle geadverteer dat die lesings taalgewys geskei sou word: die Afrikaanse lesings in Pretoria en dié in Engels in Midrand. Hierdie reëling het goed gewerk.
In September 2000 skryf ek ’n brief in De Rebus (bl 8) met die opskrif “Daarstelling van Vereniging vir Afrikaanssprekende regslui” en ek dink wat daarin gesê is, is vandag nog meer waar. Ek meld onder andere die noodsaak van kollektiewe optrede en skryf voorts daarin:
Die grondslag is naamlik dat die doelwit van die huidige Grondwet nie was om een taal, naamlik Engels, bo ander tale te bevoordeel nie. Engels is ’n skitterende en noodsaaklike taal, maar dit mag nie ten koste van ander tale en wat ons betref, Afrikaans bevorder word nie. ... Daar moet ten slotte beklemtoon word dat geen verborge politieke agenda in die vereniging geduld moet word nie en dat hierdie vereniging vir Afrikaanstaliges en bondgenote daarvan oop moet wees.
Maar daarna kom De Rebus en verander die taalgebruik waaraan ons gewoond was. Die nuusgedeelte was toe net in Engels en sedert 2002 ook die rubrieke.
Ná my brief in De Rebus het verskeie kollegas my gekontak oor die voorkeur vir Engels. Ek het vervolgens ’n konsepgrondwet vir die VRA saamgestel. Uiteindelik het ons op 8 Junie 2002 by die Duitse Klub in Pretoria, toevallig skuins regoor die Prokureursorde, die VRA gestig. Ek het verwag daar gaan ongeveer 200 persone wees, maar ek het gou geleer dat die bevordering van Afrikaans ’n eensame werk van enkelinge is, want slegs 14 persone het opgedaag. Nee, ek het nie net geleer dat dit min sal wees nie, maar ek het weer besef dat daar waar gehalte is, getalle nie nodig is nie.
Ek moet hier enkele persone uitsonder, want leiers moet uitgesonder word vir die rol wat hulle speel. Koos Malan, die intellektueel, en Dawie de Villiers, die afgeronde skerpsinnige juris, was onderskeidelik voorsitter en ondervoorsitter. Ons het persdekking gekry en briewe aan die Regterlike Dienskommissie en Landdrostekommissie geskryf waarin die noodsaak aan die aanstelling van personeel ooreenkomstig die taaldemografie van die land as noodsaaklike vertrekpunt vir die vestiging en handhawing van taalregte in Suid-Afrika beklemtoon is.
Dowe ore het nie hierdie klop aan die deur gehoor nie. Dawie de Villiers het die punt onderstreep dat dit ons belangrike taak is om mense van hulle taalregte bewus te maak; hy het hiervoor die woord “sensiteer” gebruik. Hennie Strydom het die eerste opleidingseminaar vir ’n handvol van ons oor taalregte aangebied. Hy was toe ondervoorsitter van PanSAT en saam met Koos Malan seker die kundigste oor taalregte op daardie stadium.
Daar is aan die parlement geskryf en gewys op die problematiek met betrekking tot wysiging van wetgewing in ander tale as die tale van die hoofwet. Moedswillige ore het ook hierdie geklop nie gehoor nie.
Op 2 November 2002 het ek ’n mosie, ondersteun deur Tiaan van Wyk, by die Prokureursorde van die Noordelike Provinsies gestel met die inhoud dat die Prokureursorde van die Noordelike Provinsies van die LSSA moet onttrek weens die verengelsing van De Rebus. Die debat wat daarop gevolg het, was volgens ouer prokureurs en swart kollegas wat my later teëgekom het, ’n debat op ’n hoë vlak, maar daar was groot emosie van BLA- en NADEL-kant. Te wyte aan proksies wat gereël is deur ’n vooraanstaande Afrikaanssprekende prokureursvrou wat aan die BLA behoort het, het ons die mosie verloor, maar ons het ’n sterk boodskap daarmee uitgedra.
Ek haal kortliks aan uit De Rebus (Desember 2002, bl 19) se verslag oor die gebeure tydens die vergadering:
In proposing the main motion Mr Lourens said that, if they were not developed, the ten official languages other than English would become “museum languages”. He demanded to know what the LSSA had done to give effect to the constitutional imperative to develop indigenous languages and he appealed to the meeting to respect the feelings especially of Afrikaans-speaking attorneys so that they would remain “on board” the organised profession. However a number of other speakers – some of whom used black official languages as part of their speeches – accused the VRA of abusing a call for multilingualism to protect and promote Afrikaans only ...”
In 2004 het die VRA ’n hofaansoek gebring om die kansellasie van die akte-eksamen – wat veroorsaak is deur die uitlek van een vraestel – te keer, maar dit was onsuksesvol. Dit het egter gehelp met die proses van bewusmaking.
In Mei 2005 het ’n subkomitee van die VRA my aanbeveling afgekeur om die Prokureursorde hof toe te neem oor die besluit om De Rebus te verengels. Hennie Strydom het gedurende hierdie kommissievergadering beklemtoon dat ons hofgesag in taalregte nodig het. Ek het daarna as uitvoerende sekretaris uit die bestuur bedank. My lojaliteit aan die VRA was egter altyd 100%.
Die VRA het pragtige hoogtepunte beleef en ek herinner julle net daaraan dat daar nie honoraria of vergoeding vir hierdie werk betaal is nie. Die VRA het stukrag gekry met ’n juris met uitnemende statuur, oudregter William de Villiers, wat as erepresident sy reputasie gewaag het. Ons salueer hom!
Benewens Koos Malan het die VRA besondere voorsitters gehad wat elkeen ’n spesifieke inset gelewer het. So het Steve Cornelius die inisiatief geneem om Amler’s voorbeelde van pleitstukke deur LexisNexis te laat vertaal. Was dit nie ’n mooi geleentheid toe oudappèlregter Louis Harms die bekendstellingsvoordrag gelewer het nie? Wat ’n geleentheid! Die saamstel van die Afrikaanse Arbitrasiegenootskap, genaamd DAAG, en die uitstekende arbitrasiereëls in Afrikaans onder leiding van oudregter William de Villiers, is steeds ’n skat wat ontgin behoort te word.
Johan Kriek het die leiding geneem om die jaarlikse prestige-afskeidsfunksies te begin, waar Afrikaanse regslui saam kon kom. Len Dekker het met sy ervaring die boot verder gestuur met sy bekende vergelykende opmerking met die tydskrif Vogue dat ons die “oorweldigende minderheid” verteenwoordig. Tydens Tiaan van Dyk se voorsitterskap is die Landdroshofreëls deur Tom McLachlan vertaal. Dit is met ’n skenking van die Marie Luttig Trust gefinansier. Wat kan ons van die Reëlsraad sê wat weier om hierdie professionele vertaling te erken? Miskien behoort hulle daartoe gedwing te word. Of praat ek uit my beurt?
Tans is Dawie Beyers aan die stuur en die inisiatief om die Regspraktisynsraad (RPR) hof toe te neem, waarna ek hier onder verwys, is ’n baie positiewe ontwikkeling.
Benewens baie ander hoogtepunte is die opleidingseminare in Afrikaans seker een van die VRA se grootste prestasies en ek hoop dat die Gilde dit sal voortsit en sal akkrediteer sodat die nodige punte vir bywoning aan praktisyns toegeken sal word.
Taal en ras: die onontwykbare tweeling van ons tyd
Die uitdaging van ons tyd is ook hoe ons ons komplekse rasseverlede hanteer. Vir die taaldebat is dit relevant te midde van die sensitiwiteit oor die taalimperialistiese misdaad wat gepleeg is om Afrikaans op die leerlinge van onder andere Soweto in 1976 af te dwing. My eie familie het nog gely onder die Milner-beleid en die verengelsing in die skole; en ek kan my nou nog nie indink hoe hierdie irrasionele besluit (die Soweto-besluit) geneem en geïmplementeer kon word te midde van ons eie ervaring van taalimperialisme nie. Die gelykstelling van Afrikaans met die Afrikatale, dit wil sê die afwaartse gelykmaking, met die superstatus van Engels as sambreeltaal, word deur my geopponeer. Die 1976-etiket word nog steeds om Afrikaans se nek gehang.
Voordat ek praktiese opmerkings hieroor maak, vestig ek die aandag op die obiter opmerking van regter Johan Froneman van die Konstitusionele Hof in die Gelyke Kanse vs US-saak (paragraaf 94) – dit is insiggewend:
Die Grondwet bemagtig elkeen van ons om trots te wees op ons taal. Ons hoef nie een taal te vernietig om die ander te bevorder nie. Dit beteken wel ja, vir wit Afrikaanssprekendes, dat ons sensitief moet handel met die feit dat Afrikaans as magsinstrument in onderdrukking gebruik is. Dit moet erken word voordat ons te gou begin kla oor hoe ons nou behandel word. Maar dit keer nie dat ons, en beslis nie bruin en swart Afrikaanssprekendes, nie mag trots wees op ons taal nie. Daar lê ’n lang pad voor voordat wye aanvaarding gevind sal word dat Afrikaans “die verwoording is van die komplekse wêreld waarin ons beweeg”, maar dit begin reeds gebeur.
Een van my ikone, Neville Alexander, word aangehaal in sy boek Interviews with Neville Alexander: The power of languages against the language of power (2014, bl 102) oor die “taal van onderdrukking”. Vergun my ’n effe lange aanhaling ter stimulering van die gehoor se half gekoloniseerde breine:
Every now and again people come back to the fact that Afrikaans is a language of the oppressor. So in fact it’s very interesting that people who say that don’t realise that they are quoting an Anglo-Boer War leader, an Afrikaner, a Boer leader, the president of the Free State of that time, Marthinus Steyn. He was the one, and he was quoting somebody from Flanders in the struggle of the Flemish people. He was quoting that person when he said that the language of the oppressor in the mouth of the slave is a language of oppression. And he was talking about English. So to call Afrikaans the language of the oppressor is basically to quote Steyn. And most people are not even aware of the paradox. In one sense of course, the Soweto Uprising rang in, heralded the overthrow of apartheid. The whole wave after wave of revolutionary action that eventually led to a negotiated settlement. In another sense – from a language point of view – it really entrenched the position against Afrikaans, but also for English as opposed to African languages.
Wat kan ons as regslui doen om dit te hanteer? Ons kan voortgaan om met groot respek ons mede-Suid-Afrikaners wat by howe aangestel is en nie Afrikaans magtig is nie, te respekteer met dien verstande dat waar Afrikaans dit regverdig, die aangeleentheid egter by die Landdroshof-Kommissie en die Regterlike opgeneem moet word om die nodige korrekte aanstellings te maak.
Dit is dus nie die taak van die regspraktisyn om ’n ongemaklike situasie met die voorsittende beampte te skep nie. Dit is my ervaring dat dit teenproduktief is. Dit is ook my standpunt dat dit nie die werk van individuele prokureurs of advokate is om elke keer in ’n hof hulle taalregte te moet verdedig nie, aangesien die sambreelstruktuur gevestig moet wees sodat hulle net aan hulle kliënt se direkte belange aandag kan gee. Die uitdagings wat Julius Malema en die EFF en die gelykdenkendes in die regerende en opposisiepartye met betrekking tot Afrikaans stel, moet nooit onderskat word nie. Ons moet dit ernstig opneem, maar met vernuf en strategiese denke hanteer en op die valsheid van daardie boodskap wys. Hierdie laagtepunt is direk te wyte aan die gebrek aan behoorlike leierskap, met die gevolg dat verstekleiers die podiums beset.
Die raselement oor wie nou die meeste Afrikaanssprekendes is, wit of bruin en swart, is vir die bevordering van Afrikaans nie ter sake nie, want enige persoon ongeag ras moet onbelemmerd Afrikaans kan bevorder. Die Afrikaanssprekendes se groot versuim is om die Afrikataal van die betrokke streek te leer. Ek doen hiermee weer eens ’n beroep dat ons Afrikaanse skole nie ons kinders in hierdie opsig moet faal nie. Ons kinders moet Afrikatale ten minste op kommunikasievlak leer.
Die negatiewe impak van SEB (swart ekonomiese ontwikkeling) op Afrikaanse regsfirmas wat moet poog om finansieel te oorleef, het eeue oue taalkulture verrinneweer. Die gebruikstaal van ou Afrikaanse firmas word verengels. Dit kan beperk word indien hulle aktief kandidaatprokureurs werf uit nie-Afrikaanssprekende geledere, maar wat wel Afrikaans magtig is, soos ek reeds voorgestel het in De Rebus van September 2000 in die bekendstellingskrywe om die VRA tot stand te bring. Dit is net die kleiner firmas wat nie nodig het om aan die SEB-vereistes te voldoen nie. Hulle moet deur die Gilde ondersteun word.
Dit is ook nodig om op die gevolge-onreg van die huidige rasbeheptheid op individuele Afrikaanse regslui te wys. Die strewe om transformasie in die howe ten alle koste in ’n rekordtyd daar te stel, het ook sy tol op van die beste Afrikaanssprekende regters se loopbane geëis. Hierdie praktyk, wat gebaseer is op die ideologie van verteenwoordigendheid, wat Afrikaansprekendes uitsluit, skree onreg in Afrikaans!
Ek wil ook by die eerste beste geleentheid aan die hoofregter vra: Trek die onhoofregterlike aanmerkings terug oor Afrikaans toe u die volgende seermaakwoorde in paragraaf 76 van die Afriforum and Another v University of the Free State CCT1010/17 2017 ZACC 48 gesê het: “Afrikaans as a medium of instruction has unwittingly become an instrument of racial or cultural division and discrimination.”
Soos ’n ampsbroer van u in dieselfde saak gesê het, dit is mense wat rassisties is, nie ’n taal nie!
Ons behoort kollektief verantwoordelikheid vir ons rasverlede te neem deur konstruktief aan die diskoers daaroor deel te neem. Ons behoort voorts alle formate te gebruik om beïnvloedend betrokke te wees en om sodoende ’n opbouende gesprek te probeer voer. Dit sal die klaarblyklike poging om die Afrikaansprekende – te midde van die huidige retoriek – te isoleer, ontspoor. Daar is ’n formele dialoog nodig, ’n tipe taal-KODESA in die regswese wat taalverdraagsaamheid en taalgeregtigheid tussen gelykes as oogmerk bevorder. Wanpersepsies kan so uitgeskakel word en ’n respekterende diverse gemeenskap kan so bevorder word.
Amptelikheid
Die elftaalbedeling met sy inherente problematiek is mooi saamgevat deur Theo du Plessis van UV: “The more languages, the more English!” Hoe meer tale ons het, hoe makliker praat ons Engels as algemene kontaktaal.
Met my voorbereiding vir hofsake het ek onder andere met wyle Marinus Wiechers gepraat en hom gevra oor die inhoud van artikel 6. Hy het gemeld dat toe “amptelikheid” met die interimgrondwet aangebied is, dit as genoegsaam aanvaar is. Daar was natuurlik groot bona fides dat “amptelikheid” beteken wat dit voorheen beteken het of voorgee om te beteken. Dit was natuurlik by nabaat ’n groot stuk naïwiteit en daarom is ons vandag waar ons is.
Beginsel XI van die tussentydse Grondwet wat lees: “The diversity of language and culture shall be acknowledged and protected, and conditions for their promotion shall be encouraged” as enigste maatstaf om artikel 6 van die Grondwet te toets, was die truuk waarmee die onderhandelaars gevang is aangesien gedink is dat artikel 3 van die tussentydse Grondwet die inhoud van ’n nuwe taalartikel sou wees. Dit is interessant dat oudregter Albie Sachs, wat verlede jaar op 14 Junie 2018 die inleidingspreker met die loodsing van die Deklarasie van Taalregte was, gemeld het dat “amptelikheid” nie in die Grondwet staan nie. Ek het hom na die tyd gevra, en hy het toe gesê dat hulle met die onderhandelinge nie “amptelikheid” in die Grondwet wou gehad het nie. Daar is natuurlik die bekende uitspraak in die Gauteng-Onderwyssaak, Gauteng Provincial Legislature In re: Gauteng School Education Bill of 1995 (CCT39/95) 1996 ZACC 4, 1996 (4) BLLR 537; 1996 (3) SA 165 4 April 1996 CC waarin hy mooi opmerkings oor Afrikaans gemaak het, maar dit het nie met die uitslag van die saak veel gehelp nie.
Terloops, ons huidige president, Cyril Ramaphosa, het volgens sy biograaf, Anthony Butler, op ’n vraag nadat hy gekritiseer is dat die taalartikel deel is van die funderende bepalings, gemeld dat dit eintlik nie belangrik is waar dit staan nie. Die vraag is hoe dit gewysig kan word en slegs ’n gewone meerderheid kan artikel 6 wysig.
Die verlening van amptelike status aan die nege Afrikatale en die waardetoevoeging wat dit ongetwyfeld vir hierdie tale sal meebring, al blyk dit in die praktyk nou net simbolies te wees, kan en mag nie onderskat word nie. Ons moet hierdie konsep uitbou en uitbasuin totdat dit ’n ware inhoud ooreenkomstig die beginsel van konstitusionalisme verkry. Oudregter Edwin Cameron merk in sy boek Justice, a personal account (bl 211) met betrekking tot hierdie aspek op:
But the importance of the official languages provision is more than symbolic … Again, this provision of the Constitution has created an ideal world – a world in which there is not, in effect, only one language of business, namely English, but truly eleven official languages …
Aktivisme deur middel van litigasie
Die navorsing wat ek gedoen het vir my skeefgeloopte doktorale studie onder leiding van Hennie Strydom met die goedgekeurde onderwerp “Die beskerming en afdwinging van taalregte in die RSA met bepaalde verwysing na Afrikaans”, wat ek weens my praktyksdruk moes laat, het ek toe met latere litigasie benut.
In my aanvanklike hofaansoek in 2009 het ek dit gestel dat die sosiale kontrak, die Grondwet, waarvan die taalartikel in hierdie geval relevant is, nie deur die regering nagekom word nie, dat dit repudiasie van die sosiale kontrak daarstel waaruit ons kan tree. Ek het gemeld dat ons dit nie toe kon doen nie totdat ons alle moontlike remedies uitgeput het. Die hofsake wat aanhangig gemaak is en wat tot dusver gedoen is, is deel van die uitputting van die interne remedies. Die vraag is, en dit moet gedebatteer word, is die repudiasie nie nou met die Gelyke Kanse vs US-saak voltooi nie?
In 2008/2009 het die VRA nie my versoek opgevolg om die grondwetlike verpligting kragtens artikel 6(4) van die nasionale regering met ’n hofaansoek af te dwing nie. Daarkragtens moet die nasionale regering deur middel van “wetgewende en ander maatreëls hulle gebruik van die amptelike tale reël en monitor”. Ek het toe besluit om die hofaansoek self te doen. Die intellektuele ondersteuning van my kollegas van die VRA het ek altyd erken, en ek erken dit ook vanaand: die onderlinge slypingsgesprekke se waarde is onberekenbaar. Ek moet bely dat ek met die insig van terugskouing kan sê dat ek nie werklik ’n organisasiemens is nie. Dit is moeilik vir my om te moet wag vir oorweging en besluitneming ná raadpleging en verdere vertragings. Ek is eerder ’n nóú mens.
Die idee met die litigasie was om die wese van die bepalings van die Grondwet in ’n groter en wyer regulatoriese raamwerk uit te brei om Afrikaans, en natuurlik ook die ander Afrikatale, te beskerm en te bevorder. Waarom het dit regulatoriese en beleidsbeskerming nodig? Dink aan ’n pad. Hoekom is padtekens en padreëls nodig? Want daar is nie net een motor op die pad nie. So is daar ook vele tale op die Suid-Afrikaanse pad. Die dominansie van Engels en die gedagte dat taal “soos water (is) wat vloei van ’n berg: dit neem die weg van die minste weerstand” (om Helen Zille parafraserend in haar outobiografie, Not without a fight, met betrekking tot taal aan te haal) dra daartoe by dat daar druk is op die vrye gebruik van al hierdie tale. Daarom is van hierdie tale, en natuurlik ook Afrikaans, sedert 1994 besonder kwesbaar, en nog te meer ná die onlangse hofuitsprake oor Afrikaans aan universiteite. ’n Meertalige land soos Suid-Afrika hét effektiewe en afdwingbare beleids- en regulatoriese beskermingsmaatreëls vir ons tale nodig.
Min het ons op 8 Junie 2002 geweet dat ons eintlik versiende is: Die vloedgolf wat Koos Malan transformatisme noem, het toe begin en is ons tans in daardie storm.
Net gou ’n handelsonderbreking: Die nuwe boek van Koos Malan, There is no supreme Constitution – A critique of statist-individualist constitutionalism, is pas vrygestel. Dit is ’n magnus opus en dit is ’n aan-die-kaakstelling van die rooftog van ons Afrikaanswees. Lees dit en word ingelig oor die gevare wat bespreek word.
Dit is ook vir my nodig om te reageer op die deurlopende kritiek op ons wat op taalregte steun en dit afdwing. Warren Buffett het gesê: "Someone is sitting in the shade today because someone planted a tree a long time ago." Dit beteken iemand het die gat gegrawe, die boom geplant en die boom versorg. In Malan se bekende boek Politokrasie (2011) sê die skrywer dat die juristeklas in ’n regstaat die dominerende groep is en dit ook word. Is dit in die Afrikaanse gemeenskap so? Nee, die juristeklas is onder die radar en dit is politieke kommentators, joernaliste en ryk sakelui wat die verhoog beset. Die regslui is diegene wat die duiwe opjaag wat in die boom broei. ’n Taalregtebedeling in Suid-Afrika waar daar respek vir al die tale, en spesifiek die amptelike tale is, kan slegs binne ’n harmonieuse gereguleerde omgewing met behoorlike afdwingbare maatreëls bestaan. Dit bestaan egter ongelukkig steeds nie.
Dit is tyd dat die kritici op die Afrikaanssprekende gemeenskap wat aanspraak maak op hulle regte wat in die Grondwet belowe is, hulle vergewis van die inhoud van die Grondwet met betrekking tot die taalregte en die daaruit voortvloeiende wetgewing. Die felle kritiek wat Afrikaanssprekendes op mekaar rig en ’n onverdraagsaamheid weerspieël, moet getemper word met vragte vol respek. Die aard van ons werk om konflik te bestuur en konflikterende standpunte te kommunikeer, en te laat arbitreer, veroorsaak dat ons meer en sterker en fermer oorkom as die sagter beroepe.
Dit is ook vir my nodig om te reageer op die kritiek op AfriForum, die burgerregtevleuel van die Solidariteitsbeweging, en ook Solidariteit self. Hoewel ek saamstem dat hulle nie Grondwet-gelowiges is nie, moet ek egter klem daarop lê dat hulle Grondwet-gebruikers is en die burgerregte wat in die Grondwet daargestel is, opneem en die beloftes daarvan probeer afdwing. Dink vir ’n oomblik aan die gevolge as die Afrikaner- en Afrikaanse gemeenskap die afgelope 20 jaar sonder ’n gekontroleerde uitlaat van regmatige frustrasies deur middel van AfriForum en Solidariteit was? Dink hoeveel enkelpersone of “enkellopende hiënas” sou nie die reg in eie hande geneem het of groepies wat sonder hoop eie rigting sou toepas nie? Die vorme waarin regmatige verontwaardiging wat in so ’n ongekontroleerde en ongeorganiseerde situasie ontketen sou word, kan ek my nie indink nie. Die skrywer Boerneef het die mense wat altyd beter weet, “weters van beter” genoem. Kom ons kritiseer met stomper griffels die Grondwetgebruikers. Ek salueer dus die leierskap van die Solidariteitsbeweging en AfriForum met besondere vermelding van Flip Buys, Dirk Hermann, Kallie Kriel en Alana Bailey. Hier wil ek ook Fedsas en spesifiek Paul Colditz by name noem.
Ek gee graag erkenning aan AfriForum wat my uitgawes gedra het in die Gelykheidshofsaak waarin ek die publisering van alle wetgewing in alle amptelike tale probeer afdwing het. Dit raak die koste van die advokate, die uitgawes vir die appèlrekord en die uitgawes met betrekking tot die verwysing van die saak na die VN se Menseregtekomitee. Sonder daardie ondersteuning en dus die kollektiewe Afrikaanse gemeenskap sou ek vasgeval het, en daarom my hartlike dank aan AfriForum. Die nut van hierdie saak was en is dat die parlement tans versigtiger is om hoofwette in ’n ander taal te wysig as waarin dit aanvanklik gepubliseer is. Volgens ’n obiter opmerking van appèlregter Lewis in die saak Lourens vs Speaker of the National Assembly of Parliament and Others (208227/2014) 2016 ZA SCA 11, 2016 ZA11 SA 340 CSCA) behoort minstens drie amptelike tale vir die Nasionale Wetgewing gebruik te word, en sy merk in paragraaf 34 op:
“… may now have the duty, by virtue of s 4 of the Use of Official Languages Act, to ensure publication of statutes in three official languages. The duty is not imposed directly, but the requirement that each national department adopt a language policy that identifies the three official languages that it will use, perhaps implies that. Even if there is such a duty it would not satisfy Mr Lourens.”
Wat mý tevrede sal stel, is nie ter sake nie, maar die Afrikaanse gemeenskap eis alle wetgewing in Afrikaans! (Die VN se Menseregtekomitee se uitspraak is uitstaande, maar dit is blykbaar op hulle volgende agenda geplaas. Tyd sal ons dus leer wat hiervan word.
Ek wil verder hiermee ook die ATKV bedank vir die ondersteuning om te dien as platform vir die loodsing en die bevordering van die voorgestelde Deklarasie van Taalregte waarmee ek tans besig is en waarna ek hier onder verwys.
Die huidige swak wetgewende raamwerk
Ek verwys gehoorlede graag na die Wet op die Gebruik van Amptelike Tale, Wet 12 van 2012, met sy regulasies, ook oor die verskillende taalwette van die provinsies. Het julle geweet al die provinsies, behalwe KwaZulu-Natal, het taalwette? Maar hulle is tans kragtelose, ongebruikte wette. Hierdie wetgewing is egter deur litigasie en die dreigement tot litigasie daargestel. Andersins was daar niks nie.
Die Pan-Suid-Afrikaanse Taalraad (PanSAT) is deur die ANC-regering met die wysigingswet in 1999, Wet 10 van 1999, gekaap toe dit onder die bevoegdheid van die minister van kuns en kultuur gebring is. Die instelling strompel van skandaal tot skandaal en is die slagveld van politieke twiste. Daar is tans skorsing en dissiplinêre aksies teen ou – en veral goeie – personeel. Dit is ’n lekker storie vir joernaliste om oop te vlek en ek hoop hulle doen dit ook, want as ons stilbly hieroor, is ons self skuldig aan versuim. Want dan neem ons aan alles is in orde. Maar dit is nie. Daarom kan ek dit hier kategories stel: In die bevordering en die uitleef van die oorspronklike doelwit soos gestel in artikel 6(5), het PanSAT geheel en al misluk.
Die Nasionale Taaleenheid, wat in die Departement van Kuns en Kultuur gevestig is as oorsigtaaleenheid oor al die taaleenhede en taalverteenwoordigers ingevolge die Wet op die gebruik van Amptelike Tale, is net so ’n mislukking. Die redes hiervoor is velerlei, maar dit gaan hoofsaaklik om ’n gebrek aan kapasiteit om die werk te kan doen, en ook ’n gebrek aan politieke wil. Die werk van die Nasionale Taaleenheid en van PanSAT oorvleuel, en daar vind gevolglik duplisering van werk plaas. Hulle is natuurlik ook nie behoorlik gefinansier nie, want taal is nie vir die regering ’n prioriteit nie. Ons het ’n kommissie nodig om die taalregtebedeling te hersien en ons het spesifiek ’n “taalgeneraal” soortgelyk aan die kommissaris van taalaangeleenthede in Kanada nodig. Die kommissie vir die bevordering en beskerming van die regte van kulturele, godsdienstige en taalkundige gemeenskappe (KGT-Kommissie) (artikel 185), is tans ook nog ’n onopgestane grondwetlike wese …
Daar ís dus liggame wat ons taalregte moet beskerm en bevorder, maar daarvan kom in die praktyk min tereg. Iemand het by geleentheid gesê hierdie liggame is maar net werkverskaffingsburo’s vir ANC-kaders. Dit is dalk te sterk gestel, maar die gebrek aan prestasie laat my wonder of daar nie waarheid hierin steek nie.
Deklarasie van Taalregte
My groot projek is tans om ’n Deklarasie van Taalregte as ’n allesinsluitende taalregtedokument saam te stel. Tyd laat dit nie toe om in besonderhede hierop in te gaan nie. Ek nooi ook elkeen van julle uit om my te kontak om kommentaar daarop te gee. Hierdie dokument, in sy huidige vorm, bevat die intellektuele kapitaal van ’n menigte Afrikaanssprekende kundiges en dit sal hopelik as ’n “van onder na bo”-relativeringsinstrument dien om die Engelse vloedgolf te rem. Dit is ’n bewusmakingsdokument, ’n breë dokument wat kan uitloop op ’n enger handves van taalregte ingevolge artikel 234. Ek voorsien dit egter nie in my leeftyd nie, maar die deklarasie kan deur middel van bewusmaking van taalregte ’n groter groep mense bemagtig om hulle taalregte te ken en op te neem en om nog verdere regte te bevorder. Dit gaan ook in al die ander amptelike tale vertaal word. Ons moet toesien dat ons ook saamwerk om die Universal Declaration of Linguistic Rights van 1996, die Barcelona-verklaring, wêreldwyd te bevorder en uit te bou.
Die Afrikaanse blomtuin: die rol van die Afrikaanse Taalraad en organisasies
Die Afrikaanse gemeenskap, en die organisasies in die besonder, is soos ’n blomtuin.
Die verskeidenheid moet voortbestaan en moet asseblief nie weer opgaan in ’n enkele organisasie nie. Die Afrikaanse Taalraad is die groot prestasie van die Afrikaanse gemeenskap van die afgelope dekades om ’n insluitende oorkoepelende liggaam daar te stel. Reuse soos Neville Alexander, Wannie Carstens, Jacques van der Elst, Michael le Cordeur, Anne-Marie Beukes, Theo du Plessis, Christo van der Rheede, Hendrik Theys, Ria Olivier en vele meer het hierdie Afrikaanse wonderwerk bewerkstellig. Die nut van die Solidariteitsbeweging is voorts onberekenbaar en moet gekoester word ter ondersteuning van die hele Afrikaanse saak.
Ons moet die ou gedagte in die Afrikaanse paradigma – om ander nie ’n plek in die son te gun nie – uitroei. Die sambreel-mentaliteit (naamlik om as die son oor iemand skyn, dadelik te hardloop met die sambreel om te kéér dat die son oor hom skyn) moet einde kry, want daar is te veel werk vir al die organisasies en individue.
Die Afrikaanse blomtuin moet ook gebruik maak van bondgenote onder die Afrikataalsprekendes. Daar is belangrike opkomende vennote by universiteite en baie goeie mense in veral provinsiale kantore van PanSAT wat die gedagte van meertaligheid ondersteun. In hierdie verband is die ATR en die ATKV goed geposisioneer.
Regslui behoort gebruik te maak van die individuele lidmaatskapreg van die ATR om hierdie organisasie verder te versterk.
Taalkaping: taal van rekord
Hierdie voordrag sal onvolledig wees as ek nie aandag gee aan die besluit van hoofregter Mogoeng Mogoeng om Engels as die enigste “taal van rekord” in die howe te verklaar nie. Ek ontleed dit in meer besonderhede weens die negatiewe uitwerking daarvan op veral Afrikaans. Hy het ’n vierde sfeer van regering geskep en ’n buitejuridiese bevoegdheid vir homself aangematig asof hy die opperleier, die “Supreme leader”, is. Hy en die hoofde van die hooggeregshowe het blykbaar, volgens die verslag van sy kantoor, nadat ’n komitee (klaarblyklik ’n geheime komitee, want dit was nie in die openbaar nie) aanbevelings oor die gebruik van tale in die howe gemaak, hierdie dekreet uitgevaardig.
Die jaarverslag van die hoofregterskantoor vir 2018/2019 lees in paragraaf 3 met betrekking tot hierdie aspek soos volg:
Another mechanism employed to reduce the costs of litigation and to accelerate the pace of litigation was a resolution by the Heads of Court to have English as the language of record. What this means is that every litigant is free to testify in a language of preference but the record of proceedings is itself required to be in English. The Chief Justice indicated that recent experience has borne out the wisdom behind this resolution.
Die enigste moontlike bron van hierdie bevoegdheid is te vinde in artikel 8(3)(b) van die Superior Courts Act, Wet 10 van 2013, wat op 23 Augustus 2013 in werking getree het. Dit lees soos volg:
(3) The Chief Justice may, subject to subsection (5), issue written protocols or directives, or give guidance or advice, to judicial officers –
-
- regarding any matter affecting the dignity, accessibility, effectiveness, efficiency or functioning of the courts.
Subartikel 8(5) lees verder:
(5) Any protocol or directive in terms of subsection (3) –
-
- may only be issued by the Chief Justice if it enjoys the majority support of the heads of those courts on which it would be applicable; and
- must be published in the Gazette.
Daar is nie sodanige besluit in die Staatskoerant gepubliseer nie, maar slegs in die Sunday Times van 16 April 2017. (Ek dra nie kennis daarvan dat die Sunday Times die nuwe Staatskoerant is nie.)
Reël 13(4)(a), 13(4)(b) en reël 25 van die Konstitusionele Hof se reëls, wat die Konstitusionele Hof self daarstel, is nie gewysig nie. Dit maak voorsiening vir die gebruik van “enige amptelike taal’ in die Grondwethof”, maar hierdie dekreet het dit klaarblyklik ook sonder enige formele wysiging opgehef.
Oudregter Edwin Cameron sê op bl 211 van sy voormelde boek:
… A Party may address the Constitutional Court in any official language. The court supplies the interpreter for the judges who don’t understand the language to be used. The only requirement is that person must give the court notice. Should a person wish to address the court in an official language other than the language of his or her written argument, he or she must let the Registrar know, so that arrangements can be made …
Die Reëlsraad het geen konsultasieproses begin of is volgens my kennis daarmee besig om enige taalhofreël te wysig of daar te stel nie.
Wat is die posisie met betrekking tot die landdroshowe? Artikel 6 van die Wet op Landdroshowe maak voorsiening daarvoor dat enige van die 11 amptelike tale as taal van rekord gebruik mag word en dit lees:
- Voertaal wat by verrigtings gebruik word. (1) Die een of die ander van die landstale kan op enige stadium van die verrigtings in ’n hof gebesig word en die getuienis word in die aldus gebesigde taal genotuleer.
Van wanneer af het die hoofregter se kantoor groter bevoegdheid as dié van die parlement om ’n parlementswet te wysig? Die hoofde van die hooggeregshowe het klaarblyklik ’n instruksie kragtens subartikel 8(4)(c) van die Superior Courts Act uitgevaardig na aanleiding van voormelde hoofregtersbesluit dat die landdroshowe net in Engels mag funksioneer te midde van hulle bevoegdheid om die judisiële funksies van die landdroshowe te reël.
Wyle waarnemende regter CR Jansen het in Lakey v Road Accident Fund (69036/2015) [2017] ZAGPPHC 245 (25 Mei 2017) die volgende insiggewende opmerkings gemaak oor die gebruik van taal in die howe gedurende Mei 2017, dit wil sê ná die hoofregter se aankondiging van sy dekreet in die Sunday Times van 16 April 2017:
[34] The judicial branch of government has not yet framed a set of rules that deals with the issue of choice of language in courts. Neither the Superior Courts Act 10 of 2013, nor the Rules Board for Courts of Law Act 107 of 1985 seems to deal with this issue in any specifics … [38 and 39] I am not aware of any ruling made by any of the law societies or by the General Council of the Bar or any of its constituents in respect of choice of language … [39] The problem with such a very sensitive matter, which is also a matter of constitutional importance, is that one cannot properly formulate a rule if there has not been a proper discussion of the issue. This discussion is dearly needed … [41] … On the other hand, all official languages must be used and developed to make their status as official languages real … [43] … It also does not help that the professional bodies have not engaged in broader internal discussions and that they have not come up with specific rulings to assist practitioners ... [44] … the use of all 11 official languages in our courts should be something that the legal profession should positively support. It is a constitutional imperative … [46] Indigenous language speakers would do well to champion their constitutional language rights and to insist that it be used in courts as a primary language, and not only as a secondary translated language. But its use must be practical.
Wat ’n wyse bydrae tot hierdie debat!
In skaapsinnige navolging van die valse prediking van die Grondwet-herder verklaar waarnemende regter DM Thulare in State v M Gordon 91712980 [2018] ZAWCHC 106 (29 Augustus 2018) onder andere:
[34] … As the nation walks towards achieving the progressive realization of an elevated status and advanced use of all languages in our courts, the Heads of Courts could only cut the cloth to the size that fits the nation today ...
[35] In the spirit of section 6 (3)(a) of the Constitution, the Heads of Courts elected English as the official language for the purposes of litigation in our courts. In that way, litigants from Khayelitsha cannot shop for their own Judge by constructively excluding Binns-Ward J from their matters through the use of isiXhosa, in the same way that litigants from Langebaan cannot shop for their Judge by excluding Boqwana J by conducting the proceedings in Afrikaans, or litigants from the Cape Flats exclude Dolamo J by using the lingua franca …
[37] Until and unless the Department of Justice and Constitutional Development has available resources and systems to expeditiously transcribe and prudently translate court records of proceedings from other languages than English, Magistrates in this Division should heed the directive of the Chief Justice …
Die besluit fundeer na bewering uit die gees van artikel 6(3)(a) van die Grondwet, aldus DM Thulare, maar die uitdruklike letter van artikel 6(3)(a) van die Grondwet vereis die gebruik van ’n minimum van twee amptelike tale. Subartikel 6(3)(a) behandel egter die gebruik van amptelike tale deur die Nasionale Regering! Wat doen DM Thulare egter hier? Hy trap oor die artikel 34-reg op gelyke toegang tot die howe en maak van Afrikaanssprekendes taalbedelaars wat tevrede moet wees met krummelregte wat subartikel 35(3)(k), ’n minimumreg in die strafhof, daarstel. Dit is ’n “buitepos-taalreg” en kan nie gebruik word om ’n verpligting voortspruitend uit amptelike status en die regte teen onbillike taaldiskriminasie te dekonstrueer nie. Verder negeer dit die noodsaak vir die aanstelling van regters in spesifieke afdelings van die hoër howe wat daardie streke se amptelike tale as regstale moet kan gebruik. Hierdie uitspraak is ’n wanklank in die hartland van Afrikaans!
Regter Johan Froneman van die Konstitusionele Hof maak in die Gelyke Kanse vs US-uitspraak van 10 Oktober 2019 in paragrawe 92, 93, 97 en 98 die volgende “Fronemaniaanse” opmerkings. Ek haal dit volledig aan:
[92] ’n Voorbeeld daarvan is Afrikaans se ontwikkeling as ’n regstaal. Handboeke is in Afrikaans deur Afrikaanse akademici geskryf, met ’n groot en belangrike invloed op die ontwikkeling van ons reg. Voor 1947 is slegs ’n paar Appèlhof-uitsprake in Afrikaans geskryf. Vanaf 1947 tot 1994 is veel meer uitsprake in Afrikaans geskryf, veral waar dit die litigante se moedertaal was. Sedert 1994 al hoe minder. In hierdie Hof is drie gepubliseerde uitsprake in Afrikaans geskryf en terselfdertyd in Engels vertaal. Miskien is hierdie die laaste een. Dit sal ’n kwade dag wees. Ek hoop dit sal nie gebeur nie. [93] Sover ek weet, is daar nog nie ’n uitspraak in enige van die ander inheemse Afrikatale in hierdie Hof geskryf nie … [97] Verbeel ’n Grondwetlike Hof waar uitsprake nie uitsluitlik in Engels geskryf word nie, maar in ’n verskeidenheid van ander inheemse tale, met gelyktydige vertalings in Engels in die aangrensende kolom, soos in die Kanadese hofverslae. ’n Geleentheid vir aanvanklike feesviering, voordat ons dit later doodgewoon aanvaar as die norm. [98] Is dit “redelik onprakties”? Ek dink nie so nie. Om te aanvaar dit is onvermydelik so is om deel van ons Grondwetlike droom prys te gee. Ons hoef dit nie te laat gebeur nie.
City Press het op 17 September 2017 ‘n ope brief, “Courts should promote all languages”, van my, Russell H Kaschula, Monwabisi K Ralarala, Zakeera Docrat, Alana Bailey en Annelise de Vries publiseer waarin ons die hoofregter se besluit bevraagteken het. Dit is nadat hy nie op korrespondensie gereageer het nie. Hy het daarna gemeld dat hy dit nie nodig vind om op ’n ope brief of op korrespondensie te reageer nie. Ek het die saak toe na die Menseregtekommissie (MRK) verwys, maar dié kommissie het geweier om stappe te doen en my na die Kommissie vir die bevordering en beskerming van die regte van kulturele, godsdienstige en taalkundige gemeenskappe (KGT-Kommissie) verwys. Die klagte word nog deur hulle oorweeg.
Die probleem eskaleer egter.
Oudregter Yekiso het in S v Damoyi [2003] JOL 12306 (C) ’n pleidooi gelewer dat Engels die enigste taal van rekord moet wees. Tydens die First Southern African Regional Conference of the International Association of Forensic Linguists in Kaapstad op 17 April 2018 het ek ’n podium met hom gedeel waarin hy dit uitdruklik gestel het dat as hy toe meer oor taalregte geweet het, hy nooit daardie uitspraak sou gegee het nie en ook dat hy die hoofregter se besluit bevraagteken.
Wat sê die ampseed van die regters? Moet jy die Grondwet handhaaf of moet jy die hoofregter se instruksie uitvoer? Dit lees:
… en dat ek die Grondwet en die menseregte wat daarin verskans is, sal handhaaf en beskerm; en aan alle persone op gelyke voet reg sal laat geskied sonder vrees, begunstiging of vooroordeel, ooreenkomstig die Grondwet en die reg.
Wat kan ek meer hieroor sê?
Ek verstaan daar was ’n Afrikaanssprekende regter by die VRA se afsluitingsfunksie in 2018 wat, hoewel hy die gasspreker was, die VRA gemaan het om nie aan te dring op Afrikaans as taal van rekord in die howe nie. Hy wat, soos die ander regters, gedienstig en gedwee hierdie onregmatige, ongrondwetlike instruksie van die hoofregter toepas, verbreek nie net die Grondwet nie, maar die ampseed hier bo. En ons almal weet wat ’n eed beteken.
Ek doen dus ’n beroep op alle regters om hulle ampseed hoër te ag as hierdie onreëlmatige onregmatige instruksie van die hoofregter. Ek doen egter ’n beroep op die hoofregter om nie ’n medepligtige tot eedsverbreking van al die regters te wees nie. As hy of die regering dit wil wysig, moet hulle die behoorlike grondwetlike pad stap om ’n wysiging te doen, en dit is in die wetgewende domein.
Wat gebeur egter in die praktyk? Dit is gepas dat ek uit van my korrespondensies enkele aanhalings voorlees waaruit my protes blyk:
- Regterpresident EM Makgoba van die Hooggeregshof in Limpopo skryf soos volg op 23 Januarie 2019 aan my korrespondent nadat ek daarop aangedring het dat ’n Hooggeregshofdagvaarding van ’n Afrikaanssprekende kliënt teen ’n Afrikaanssprekende verweerder uitgereik word:
I do not wish to engage Mr Lourens on a policy issue regarding the language of record in our Courts. It appears that Mr Lourens is taking advantage of his client’s case to fight what he believes to be his right to use Afrikaans in the Courts. The following statement in Mr Lourens’ letter referring to the Chief Justice is in bad taste and unfortunate. “Hy tree op as wetgewer en hy is nie ’n wetgewer nie.” My decision that the summons be in English remains unchanged. Should Mr Lourens’ client’s claim prescribe while he continues to complain on the language issue, his client will look up to him for the prescribed claim. Needless to say that the Judiciary will oppose any claim that may be contemplated by Mr Lourens in this regard.
- My korrespondent in Worcester berig op 10 September 2018 aan my nadat die griffier van die streekshof aldaar geweier het om ’n Afrikaanse dagvaarding uit te reik:
Kragtens instruksies van RP Hlope, mag daar blykbaar nie meer Afrikaanse dagvaardings uitgereik word nie. Ons sal dit bygevolg waardeer indien u vir ons met ’n Engelse weergawe van die dagvaarding kan voorsien vir uitreiking.
Ek antwoord toe:
Neem kennis dat die gemelde instruksie van RP Hlope ongrondwetlik is en moet u die dagvaarding in Afrikaans uitreik. RP Hlope het geen regsbevoegdheid om so ’n direktief uit te reik nie.
Die griffier het toe maar die dagvaarding in Afrikaans uitgereik.
- ’n Kollega van George merk in ’n laaste sin van ’n skrywe gedateer 2 Julie 2019 aan my op:
Ons vind dit terloops interessant dat u nog in die Brits Streekshof ’n dagvaarding in Afrikaans kan uitreik, inaggenome die aanwysing in die lig van die taalvoorskrif deur die Hoofregter ‘n tyd gelede.
- Die Afrikaanse streeklanddros van Brits verklaar op 11 Maart 2019 tydens die onbestrede egskeidingsrol dat slegs Engels voortaan as taal van rekord in haar hof gebruik mag word. Hoe reageer jy? Toe my saak geroep word, staan ek op en versoek haar om my protes teen die afkondiging te notuleer. Ek gaan toe voort in Engels, want dit is immers nie die forum om ’n taalgeveg te voer nie; dit moet eerder met die strukture gedoen word. Net daarna getuig ’n Afrikaanse getuie maar in Engels, haak vas en vra toe beleefd: “Kan ek nie maar Afrikaans praat nie?” en dit word toe maar toegelaat. ’n Tolk uit die strafhof kom tolk toe verder en vertaal toe “binne gemeenskap van goedere” as “in communication of goods …” Ons hoftyd verdubbel toe.
- ’n Korrespondent in Roodepoort berig in Maart 2019 aan my dat die landdroshof aldaar nie verdere pleitstukke in Afrikaans gaan aanvaar nie.
- Hierdie besluit het ook ’n afbrekende impak op die helde van ons howe, die tolke! Ons tolke is opgelei om in strafhowe te getuig, maar hulle moet nou ook in die siviele hof gaan getuig. Die hooftolk van die Pretoria-landdroshof het jare gelede gekla het dat hulle nie vir siviele sake, waar akademiese en tegniese terme in Afrikaans en Engels gebruik word, opgelei is nie. By geleentheid het ek ’n siviele saak in die landdroshof in Brits gehad waartydens daar tegniese terminologie oor elektrisiteit gebruik is. Die gerespekteerde ou tolk, wat tien amptelike tale in die strafhof kan tolk, sukkel toe natuurlik. Sowel ek as my opponent moes hom toe telkens reghelp en dan het hy ons beleefd bedank. My opponent se geduld het opgeraak en versoek dat die saak uitgestel word om ’n beter tolk te kry. Die skadu van onbevoegdheid is oor hierdie wonderlike tolk gewerp. My hart het as’t ware vir hom gekrimp. Ek het opgestaan en vir hom in die bresse getree deur te meld dat dit ’n onreg is wat aan ons strafhoftolke aangedoen word om hulle onbekwaam te laat lyk terwyl hulle nie vir die siviele howe opgelei is nie. Daarbenewens word ’n ekstra las op die regspraktisyns geplaas om seker te maak dat die Engelse rekord korrek is. Die baie onderbrekende regstellings lei die aandag van die ondervraende regspraktisyn af en ondermyn veral kruisondervraging. Dit is benewens die ekstra koste weens die ekstra hoftyd. Tolke moet nie die slagoffers word van ’n ondeurdagte besluit nie en hierdie besluit is vir seker nie voorafgegaan deur ’n tolkoudit nie.
Hierdie kwessies is deel van forensiese linguistiek, wat nog nie genoeg aandag in ons regstelsel gekry het nie. Dit behoort beslis in die ondervermelde voorgestelde taalbestuursplan ingesluit te word.
Die onreg skree ten hemele in tien amptelike tale. Ons weet egter die gemaskerde skaakskuif het eintlik maar net Afrikaans in sy visier gehad, want die ander amptelike tale is op enkele uitsondering na nog nie werklik in ons howe as taal van rekord gebruik nie. Die groot verloorders is egter die mense van Suid-Afrika.
My beroep is dus op die hoofregter om die besluit tersyde te stel.
Indien die hoofregter nie die besluit self wil herroep nie, is die mees effektiewe wyse om hierdie onreg hok te slaan, waarskynlik dat die parlement ’n wysiging van subartikel 8(3)(b) van die Superior Courts Act aanvaar wat net die volgende byvoeg: “… but this right excludes the right to exclude any official language as language of record in the Courts”.
Stellengate of nou ook Mogoenggate?
Die inmengingskandaal by die Konstitusionele Hof deur die US in die Gelyke Kanse vs US-saak het ’n konstitusionele krisis veroorsaak. “Stellengate” is ’n voorbeeld van hoe ver diegene wat teen Afrikaans is, sal gaan om dit te vernietig. Nie eers die integriteit van die Konstitusionele Hof is daarteen verskans nie. Ek verwys graag na my ope brief aan oudregter E Cameron “Stellengate? ’n Ongelyke kans” op LitNet van 25 Oktober 2019 (https://www.litnet.co.za/stellengate-n-ongelyke-kans-ope-brief-aan-regter-edwin-cameron) wat die vlak van juridiese en etiese fondasie van hierdie saak uitwys.
Hoofregter Mogoeng Mogoeng verontagsaam dit egter deur te beweer dat oudregter Cameron die prosedure in die geval waar ’n regter ’n botsing van belange mag hê, nagekom en aan die vereistes daarvan voldoen het. Hy swyg egter daaroor hóé dit in hierdie geval gedoen is. Waarom swyg hy? Ons kan net spekuleer, en sy stilswye broei agterdog uit. Volgens inligting het ten minste korrespondensie via die Griffierskantoor van die Konstitusionele Hof uitgegaan. Vermoedelik het hy en die ander regters van die hele sage geweet. Hy kan dus nie teen regter Edwin Cameron optree nie en wil ook waarskynlik nie, want dit is ’n gerespekteerde ampsbroer met wie hy jare saam gewerk het.
Sy probleem is egter dat hy hoofregter is en as sodanig die plig het om die geloofwaardigheid van die Konstitusionele Hof as primêre voog daarvan te beskerm. Dit is dus ’n toets vir hom. Die vraag is nou of sy kritici destyds reg was of hy oor die vermoë beskik om as hoofregter te ageer. Die vraag is verder wat vorige hoofregters in dieselfde omstandigheid sou gedoen het. Ek glo hulle sou die besmette hofuitspraak tersyde gestel het en ’n nuwe regbank saamgestel het uit oudregters van die Konstitusionele Hof en die US vir hierdie verspilde koste aanspreeklik gehou het.
Hy kan nie wag vir die US se aangewese ondersoeker, oudregter B Fourie, se verslag nie, want laasgenoemde het slegs beperkte toegang tot inligting: hy is aangewese op samewerking van die betrokkenes. Ek dink oudregter B Fourie het sy reputasie op die spel geplaas deur hierdie ondersoek te aanvaar. Hy gaan hom waarskynlik ongeag die uitkoms kritiek op die hals haal. Die hoofregter kan dus nie sy verantwoordelikheid aan oudregter B Fourie abdikeer nie. Die vraag hang dus in die lug hoe ons hierdie onreg teen Afrikaans uit ons hofverslae sal kan wis.
Die grootste nut vir taalontwikkeling deur hofsake is waarskynlik deur die Gelyke Kanse vs US-saak gepleeg toe hulle met hulle omvattende hofstukke ’n geweldige klomp sosiolinguistiese inligting onder die regters van die Konstitusionele Hof se aandag gebring het. Dit het neerslag gevind in regter Froneman se instemmings- en aanlastingsuitspraak. Dit is jammer hy neem nie hieroor standpunt in deur ’n ware minderheidsuitspraak te gee nie. Hy is waarskynlik onder beleg te midde van die ideologie van transformatisme, soos Koos Malan dit tipeer.
Regsraad: besluit om Raadseksamens net in Engels af te neem
Die VRA het ’n aansoek in die Hooggeregshof in Pretoria gebring om die besluit van die Regsraad van 4 Maart 2019 om die Raadseksamens slegs in Engels af te neem, op hersiening te neem. Hierdie skeeftrap van die Regsraad ná kwalik vyf maande van sy bestaan is klaarblyklik met die skoen van hoofregter Mogoeng se voormelde verengelsingsdekreet gedoen. Ek doen ’n beroep op die Regsraad om hierdie ongrondwetlike en onwyse besluit onmiddellik sonder verdere litigasie tersyde te stel en deel te neem aan die reeds voorgestelde en ook ondervermelde taal-KODESA. Die effek van hierdie besluit is dat Afrikaanssprekende firmas hulle kandidaatprokureurs nou in Engels moet oplei, anders word hulle benadeel wanneer hulle die Raadseksamen gaan skryf. Hulle vereis inderwaarheid dat die firmas moet verengels. Dit is tog teen die gees van die taalbepalings in die Grondwet.
Reëlsraad
Die Reëlsraad se weiering om die gewysigde hofreëls in Afrikaans te vertaal en die vertaling van die Landdroshofreëls deur Tom McLachlan te erken, spruit klaarblyklik voort uit die turfspore van die anti-Afrikaanse benadering van die Konstitusionele Hof wat die veeltalige huis se vloere betree het. Die Gilde behoort ’n aansoek te doen dat hierdie vertalings gedoen en/of erken word. Intussen doen ek egter ’n beroep op die Reëlsraad om sy ongrondwetlike benadering te hersien.
Voorstelle en toekomsvisie
Te midde van hierdie taalstorm is die vraag: Kan ons niks meer doen nie en is dit te laat? Die antwoord is: Nee, dit is nie te laat nie.
Ons beskik oor geweldige intellektuele kapitaal, maar weens die individualistiese aard van die regswese, en die kaping van die Prokureursordes en die opgaan daarvan in die Regsraad onder ’n BLA-bewind, moet ons herbesin oor ons benadering.
In die Afrikaans-gekonsentreerde gebiede behoort daar op streeksvlak saamgewerk te word om voormelde regte af te dwing. Het ons senior regslui te deftig, te waardig, te steriel geword oor Afrikaans? Sal hulle saamwerk met ’n woorde-optog na die Konstitusionele Hof of so iets? Dit is tyd, en die tyd is nóú, vir behoorlike kollektiewe agitasie. Die hoofregter se konstitusionele misdaad moet aan die kaak gestel word en in die openbaar oopgevlek word. Ons moet hom dus in ’n openbare staat van beskuldiging plaas weens hierdie konstitusionele misdaad, want dit is die wortel van die kwaad. Die medepligtiges tot hierdie besluit moet ook ten minste van hulle poste as regter-presidente van die Hoër Howe afstand doen.
Die volgende idees word in u gedagteknapsak geplaas om ná vanaand verder geneem te word:
- Ons benodig ’n behoorlike taalbestuursplan vir die howe. Koos Malan het reeds ’n baie goeie voorstel hieroor gepubliseer, maar tyd laat my nie toe om dit in besonderhede te bespreek nie. Taalsosioloë behoort hier betrek te word. Die hoofregter behoort die inisieerder van so ’n taalbestuursplan vir die howe ná konsultasie met alle belangegroepe te wees: ’n taal-KODESA vir die howe.
1.1Die onmiddellike versoek is – en ek wil vanaand vra dat ons dit verder moet voer – dat daar ’n rondgaande stelsel van howe ontwikkel moet word waar regters en landdroste wat Afrikaanssprekend of Afrikaans magtig is om op verskillende plekke Afrikaanse verhore te hanteer. Dit geld natuurlik ook vir die ander tale, en as hulle dit wil opneem, moet hulle dit aanvra (sien subartikel 6(3)(a) van die Grondwet).
1.2 In die streke waar Afrikaans goed verteenwoordig is, byvoorbeeld Pretoria, Bloemfontein, Kimberley en Kaapstad, behoort genoegsame regters volgens ’n interne taalbestuursplan beskikbaar te wees om sake in Afrikaans te kan aanhoor. Dit is ’n onding dat my kliënt R6 000 vir ’n tolk in die Hooggeregshof in Pretoria moet betaal en moontlik ook vir die ekstra dag of twee vir sy advokaat weens hierdie duplikasie van tyd. In Pretoria is dit ’n konstitusionele misdaad en so ook in dié gedeeltes van die land waar Afrikaans dit regverdig.
1.2.1 Daar behoort oorweging geskenk te word aan ’n eis om dubbelkoste as gevolg van hierdie wanpraktyk van die Staat te vorder.
1.3 Distrikshowe behoort landswyd volgens die streektaalgebruik bestuur te word. Noodsaaklike skaars tolkdienste kan dan beter aangewend word. Toeganklikheid tot die howe sal sodoende verbeter, want daar sal meer sake vinniger afgehandel word en die hofrolle sal verkort word. Slegs baie beperkte sake word op appèl geneem en regters in daardie afdelings behoort volgens die streektaalgebruik aangestel te word wat die appèlle en hersienings kan bereg.
1.4 Ons moet Afrikaanssprekende regters en landdroste op die bank kry en senior regspraktisyns oorreed om dit op te neem.
1.5 So behoort ons met die Landdroshof-Kommissie te skakel om ad hoc- aanstellings vir senior prokureurs te reël om byvoorbeeld ’n paar dae in die maand as ’n streeklanddros in die siviele hof waar te neem. Op hierdie wyse kan ons dan Afrikaansprekende voorsittende beamptes in die streekhof hê. Prokureurs kan dit nie bekostig om langer as ’n week uit hul kantoor te wees nie, en sodoende kan hulle ook as regsprekers opgelei word.
- Die opleiding van tolke om kommersiële Afrikaans na Engels te tolk en die beskikbaarstelling van so ’n lys van tolke is vir ons bedryf van kernbelang. Die Gilde kan moontlik hierby betrokke raak ten einde die koste van litigante te verminder en so werk vir Afrikaanssprekendes te skep. Die Departement van Justisie behoort daarvoor te betaal.
- LitNet Akademies (Regte) moet meer ondersteun word. Tydskrifte wat nog in Afrikaans publiseer, moet deur Afrikaanssprekende regslui van artikels in Afrikaans voorsien word.
- Verder kan die Gilde oorweeg om ’n “Regtepedia” daar te stel waar regslui Afrikaanse regsmenings (natuurlik na die verwydering van kliënte se identifiseringsinligting) geplaas kan word. Ek het onlangs met die waterregkenner Martin Grüter gepraat om sy ongelooflike opinies aan Akademia se regsbiblioteek te skenk. Daar is byvoorbeeld bundels dorpsraadbeslissings wat advokaat Derek Coetzee saamstel en wat op so ’n “Regtepedia” geplaas kan word. Daar is ook talle ander voorbeelde in hierdie verband. In regsmenings is daar goue gedagtelyne wat regsnavorsing in Afrikaans ’n groot hupstoot kan gee.
- Afrikaans is gevestig in Namibië en dit is moontlik tyd dat die Namibiese Afrikaanssprekendes begin agiteer vir Afrikaans as mede-amptelike taal, aangesien dit volgende jaar al 30 jaar ná onafhanklikwording is. Afrikaans is immers die lingua franca van die land.
- Daar is ’n noodsaak vir die insluiting van alle Afrikaanssprekendes onder ’n sambreel-“lobby”-groep met die doel om Afrikaans te bestendig en te bevorder. Dit kan slegs deur middel van ’n politieke virtuele lobbybeweging bewerkstellig word. ’n Afrikaanse virtuele “tiende provinsie” in die huidige bedeling, en uiteindelik ’n Afrikaanse virtuele staat, is ’n grootse gedagte, maar moontlik ons goue toekoms. Ek maak nie aanspraak op die oorspronklikheid van hierdie gedagte nie, aangesien wyle Marinus Wiechers en Breyten Breytenbach dit ook al geopper het en ek dit ook tydens die Saela-konferensie met ’n voordrag in September 2012 geskets het. Dit kan dan lei tot byvoorbeeld ’n drukgroep wat vorderings vanaf die Staat kan doen, en uiteindelik behoort daar ’n staatsagentskap, ’n digitale staatsagentskap, tot stand gebring te word om Afrikaanse mense te bedien.
- Die daarstelling van ’n senaat van Afrikaanssprekendes, sodat ons die bestaande intellektuele kapitaal van die huidige bo-55-jariges in die hele Afrikaanse gemeenskap kan benut. Dit is iets wat onmiddellike oorweging verdien en deur en op inisiatief van veral ons oudregters, soos oudregter Eberhart Bertelsman, senior advokate soos JC Heunis, en ander daargestel kan word. So ’n senaat kan op ’n streeksbasis, soos ’n sinode, van tyd tot tyd deur die jaar sit en komitees kan natuurlik virtueel vergader. Die kollektiewe optrede sal dan waarskynlik die aandag van die regering trek en die vordering van ons regte sal met groter erns opgeneem word. Die virtuele lobbygroep kan deur so ’n senaat ondersteun word. Daar is plek vir al die organisasies en politieke partye in sodanige lobbygroep.
- Daar behoort onverwyld ’n vertaalfonds ingestel te word om te belê in vertalings, ook van regswerke. VivA kan dit moontlik administreer en uitbou.
- Ons moet in Akademia belê, en alle afgetrede regslui moet daaraan dink om hulle biblioteke en ook opleidingsvaardighede aan Akademia beskikbaar te stel. Daar behoort ook in die Suid-Kaap, moontlik in George, ’n satellietkampus gestig te word. Intussen moet ons veg dat Stellenbosch en Potchefstroom se verengelsing gerem word ten einde Akademia kans te gee om op hulle voete te kom. Dit gaan opoffering kos, en natuurlik ook geld. Die onreg dat ons weer nuwe universiteite moet vestig, is diepliggend en is eintlik verset werd.
- Meer Afrikaanssprekende taalregkundiges behoort internasionale konferensies, waarvan daar verskeie is, by te woon ten einde uit die ervaring van ander lande te put.
- ’n Pan-Suider-Afrikaanse Taalraad kan ’n voorloper wees om taalregte binne die huidige politieke staatlike konteks in die SADEC-lande te bevorder as eerste stap. Dit behoef ’n doeltreffende bydrae van die Afrikaanse gemeenskap wat gerat is en bekend is met taalregte.
- Suid-Afrika moet uiteindelik opgaan in ’n konfederale en later federale Suider-Afrikaanse staat: ’n Verenigde State van Suider-Afrika wat mag strek tot en insluit die suide van Angola, Zambië, Malawi en Mosambiek. Derduisende Mosambiekers en Zimbabwiërs is reeds in die land en Shona en Portugees kan waarskynlik aanspraak maak, net op getalle alleen, op ampteliketaalstatus. Die vrug van sodanige vergrote staat sal ook die erodering van die huidige politieke elite en ook huidige etniese meerderhede teweegbring.
- Die Afrikaanse pers moet inkoop op die derde taalbeweging en groter prominensie aan alle optredes gee; Afrikaans is immers hulle steunbasis. Die redakteur van Beeld, Barnard Beukman, toon goeie leierskap met die beriggewing oor die skandaal met die Gelyke Kanse-saak. Dit geld gelukkig ook Die Burger in die Wes-, suidelike en Oos-Kaap en Volksblad in die Vrystaat.
2020 is ’n groot jaar vir Afrikaans, want die nuwe vertaling van die Bybel in Afrikaans word vrygestel en ons weet almal waarvandaan ons krag kom!
Slot
Aan die einde van die toespraak is daar nou die vraag: Gaan Afrikaans hierdie taalstorm oorleef? Ek en almal in die gehoor gaan dit nie weet nie, want die nageslag gaan dit in die geskiedenisboeke aanteken. Die vraag is egter: Wat gaan hulle oor ons aanteken? Het ons ons verantwoordelikheid nagekom in die nóú van ons bestaan met betrekking tot ons taal in die tyd wat ons gegee is om te lewe? Die goeie nuus is dat ons uit ons menslike ervaring weet dat storms nie vir ewig aanhou nie.
Die kollektiewe aanslag op die Afrikaanssprekende gemeenskap deur die aanslag op Afrikaans, onderwysinstellings, universiteite, ens bedreig die kosbare vrede in ons land. Dit kan vergelyk word met die brand van die biblioteek van Alexandrië: dit is ’n brand wat poog om die “intellektuele biblioteek” van die Afrikaanse gemeenskap te vernietig. Die vasberadenheid van ons om Afrikaans te beskerm en te bewaar en so ook ons ander regte, moenie onderskat word nie. Ons sal dit bevorder met kreatiewe verantwoordelikheid wat die strukturele geweld teen Afrikaans kollektief en individueel sal konfronteer. Dit is nie net ons reg nie, maar ons verantwoordelikheid. Dit baan ook die pad vir ons mede-Suid-Afrikaners om hulle Afrika-tale op te eis.
Toe ek sowat ’n dekade gelde die eer aangedoen is om die Toon van den Heever-toekenning van die VRA te ontvang, het oudregter Willem van der Merwe ’n stroewe ouditverslag van die gebruik van Afrikaans in die howe op daardie stadium gelewer. Met my aanvaardingstoespraak het ek gemeld dat daardie verslag nie die begrafnisrede van Afrikaans in die regswese was nie, want ons beskik oor die intellektuele kapitaal om dit uit te oorlê. Ek het gesê ek is ’n weieraar en ek het gesê ons almal moet weieraars word. Ek is dit steeds.
In ’n onlangse e-pos meld ’n vooraanstaande taalkampvegter dat hy daaraan dink dat ons eerder die land moet red as om net op Afrikaans te fokus.
My antwoord was: Sonder Afrikaans is Suid-Afrika nie die moeite werd nie.
Kom ons aanvaar die uitdaging!
Lees ook:
US-taalbeleid en die Konstitusionele Hof se beslissing: Afrikaans? Afrikatale? Stellenbosch?
US-taalbeleid en Gelyke Kanse: Konstitusionele Hof se volledige uitspraak
Stellenbosse taalbeleid: woed die Anglo-Boereoorlog dan nog steeds?
Gelyke Kanse en die Konstitusionele Hof-beslissing: uit 'n US-tolk se perspektief
US Konvokasie 2019: taalkolonialisme op Maties en die verhaal van Owain Glyndŵr