Stellengate? ’n Ongelyke kans: Ope brief aan regter Edwin Cameron

  • 25

Wim de Villiers (links) en Edwin Cameron (regs) (Foto: Andrew Aitchison [CC BY-SA 3.0], via Wikimedia Commons)

.........

Geagte oudregter Cameron

Ek rig hierdie skrywe as regspraktisyn ten einde my magtelose frustrasie oor die uitspraak in Gelyke Kanse v US te bestuur. Die berig in Beeld en Die Burger van 24 Oktober 2019, getitel “Herrie oor Cameron se pos by Maties”, is ontstellend.

Oudregter, ek het net die hoogste agting vir u as juris, maar u vlekkelose integriteit en reputasie vereis dat u oor hierdie aangeleentheid volledige openbaring moet pleeg, en deursigtigheid, ook van die US se kant, is nou dwingend. Wat hier gebeur het, lyk minstens na ’n poging tot korruptering en ontoelaatbare inmenging in ’n uiters belangrike grondwetlike kwessie. Dit kan ook u onkreukbare reputasie besmet, want as ’n party tot ’n geding ’n regter afsonderlik nader, was dit nog altyd die betreding van ’n verbode terrein.

Ek sal daarom graag die volgende wil weet, want die integriteit en geloofwaardigheid van die Konstitusionele Hof (KH) is ’n kleinood wat te alle tye beskerm moet word:

1. Wanneer het u die eerste keer bewus geword dat u vir die kanselierskap van die US genomineer is?

2. Hoe het u daarvan bewus geword?

3. Sedert wanneer het die genoemde persone in die berig u aangaande die kanselierskap genader?

3.1 In watter termyn, met bepaalde verwysing na datums, is u daaromtrent gepols?
3.2 Wat was die inhoud van die gesprekke/kommunikasies?
3.3 Is dit aan die hoofregter en u ampsbroers en -susters geopenbaar?

3.3.1       Indien wel, aan watter ampsbroers en -susters?
3.3.2       Indien wel, wanneer is dit aan hulle geopenbaar?
3.3.3    Wat was die kommentaar?

4. Toe professor Wim de Villiers volgens die berig kort voor die aanhoor van die saak op 8 Augustus 2019 met u oor die kanselierskap geskakel het, was u sekerlik ontsteld, aangesien dit ’n klaarblyklike poging was om die uitkoms van die verhoor te beïnvloed, nie waar nie?

5.1 Het u navraag gedoen of die US se regspan van die skakeling weet?
5.2 Het u navraag gedoen of die regspan van Gelyke Kanse daaromtrent ingelig is?

6. Is hierdie skakeling voor die aanhoor op 8 Augustus 2019 openbaar gemaak?

7. Watter regspan kon weier om positief te reageer toe u aan die einde van Augustus 2019 navraag gedoen het of Gelyke Kanse beswaar teen u nominasie sou hê?

7.1 Stem u saam hulle is eintlik in ’n onmoontlike posisie geplaas?

8. As kanselier vanaf aanstaande jaar, sou u so ’n praktyk van skakeling met die regbank met hangende betrokke litigasie goedkeur?

9. As president J Zuma vir hoofregter Mogoeng Mogoeng tydens die verrigtinge in die OB-saak gekontak het met byvoorbeeld ’n toekenning van uitnemendheid, sou dit behoorlik gewees het?

Ek was op 8 Augustus 2019 in die hof, en nadat ek u daar aangehoor het, het ek gedink u is aan die Grondwet se kant. Maar ek sal nou altyd wonder of u dieselfde uitspraak sou gegee het as u nie as kanselier van die US aangewys is nie. Ek wag egter op die antwoorde op die bogenoemde vrae.

Oudregter, ek weet regters gee nie ná uitsprake regverdiging of kommentaar op hulle uitsprake nie, maar daar behoef kommentaar op dié uitspraak. U as aangewese kanselier sal wel die voorreg hê om in voordragte te reageer. U het daardie mooi deur van die KH met die regte in verskillende tale vir Afrikaans op tersiêre terrein, en waarskynlik ook vir ander Suid-Afrikaanse tale, toegemaak, tensy Gelyke Kanse die saak verwys na die VN se Menseregtekomitee onder die opsionele protokol tot die internasionale konvensie van burgerlike en politieke regte.

U het u gebonde geag aan die AfriForum v Universiteit Vrystaat-saak (hierna die UV-saak genoem). Die UV-saak staan op skandebene, want dit is beslis sonder om dit in die ope hof aan te hoor. Hierdie kwessie is teregwysend deur regter J Froneman as onwys om dit nie in die ope hof aan te hoor nie in sy “minderheidsuitspraak” ingegrif. Daardie uitspraak bevat ook die onhoofregterlike aanmerking oor Afrikaans deur hoofregter Mogoeng Mogoeng toe hy die volgende in paragraaf 76 gesê het:

... Afrikaans as a medium of instruction has unwittingly become an instrument of racial or cultural division and discrimination.

Oudregter, u hoef u nie aan ’n swak beslissing van die KH gebonde te geag het nie. Die KH het mos juis in die saak Molaudzi vs S 2015 JOL 33409(CC)(45) bevind dat daar ’n buigbare benadering in buitengewone gevalle gevolg kan word om nie ’n vorige beslissing na te volg nie. Die UV-saak is egter nie ’n goeie presedent in die lig van voormelde nie, en dit sou op sigself ’n goeie rede gewees het om daarvan af te gewyk het.

Oudregter, ek wil tog verskil met u en die benadering dat ’n KH net beperk is tot die feite op die stukke voor hom, en dat ’n beslissing aan die hand daarvan gemaak moet word. As ’n gedingparty nie al die feite voor die Hof plaas nie – en ek is nie van mening dat Gelyke Kanse in hierdie saak dit gedoen het nie – behoort die KH nie beginsels neer te lê waaraan ander partye vir dekades gebonde is wetende dat dit verkeerd is nie. Die KH behoort naamlik groter en wyer te dink en geregtelik kennis te neem van feite wat ter sake is voordat daar tot ’n eng beslissing gekom word. Anders as die Appèlhof, moet ’n KH tog met ’n wyehoeklens na sake kyk, soos die beginregters dit wel gedoen het.

Ek het spesifiek geluister na wat u as oud-Stellenbosser en as leierdenker in die KH sê, want as regspraktisyns weet ons gewoonlik in watter rigting die regbank dink wanneer jy ons uitstap. Ek het kennis geneem van u vraag oor die Plascon-Evans-beginsel dat nuwe getuienis nie op repliek geopper kan word nie, maar dat dit in die aanvanklike verklaring moet wees. Ek het opgelet toe u die US se advokaat, advokaat Jeremy Miller (SA), laaggevat het met die plettervraag toe hy nie wou toegee dat die nuwe beleid die regte van Afrikaanssprekendes wegneem nie. U het hom gedwing om toe te gee.

U het Gelyke Kanse se saak grootliks gekelder met die US se koste-argument, wat nie deel was van die oorwegings van die Raadsbesluit om die 2016-beleid te aanvaar nie, maar in die opponerende verklaring geopper is, nieteenstaande die feit dat die argument feitlik in die repliek van Gelyke Kanse genegativeer is. Ek herinner u dan ook graag aan die ander saak waarin u gebonde was, een wat júis die koste-oorweging by die uitvoering van ’n grondwetlike verpligting die deur gewys het. Die saak is Minister of Health and others v TAC and others CCT8/02 2002 ZACC IS; 2002CSJSA721, waarin die volgende bevind is:

Even simple declaratory orders against government or organs of state can affect their policy and may well have budgetary implications. Government is constitutionally bound to give effect to such orders whether or not they affect its policy and has to find the resources to do so.

Uit die uitspraak blyk dit dat daar swaar op u gesteun is om die verwoestingswerk van taaldiversiteit op hoëronderwysvlak te ondersteun. Ek is teleurgesteld dat u nie die geleentheid gebruik het om dit eerder verder te versterk nie, soos in u boek Justice: A personal account (ble 210 ev), waarin u die 11 amptelike tale se brose idealistiese posisie uitstip.

Oudregter, ek dink u het die voetspore van wyle oudpresident Nelson Mandela misgetrap. Hy wat kon trap, maar afgebuk het en die hand uitgesteek het. Hy het uit ervaring geweet wat die gevolge van onverdraagsaamheid is. As ’n KH nie meer verdraagsaamheid en die grondwetlike ruimte beskerm nie, faal dit die Grondwet. U het ongelukkig met u laaste uitspraak, met die syspoor wat u geneem het, skeefgetrap. Lees gerus die volle voordrag van wyle oudpresident Nelson Mandela van 25 Oktober 1996 toe hy die eredoktorsgraad by die US gekry het en nie net die selektiewe aanhaling van hoofregter Mogoeng Mogoeng in paragraaf 60 van die UV-saak nie. Hy het gesê:

The real issue therefore is not the extermination or preservation of Afrikaans as  an academic medium. 

Rather, the question is this: amongst ourselves, how are we to negotiate a dispensation for the South African university system that meets the following three criteria? Firstly, that a milieu should be created and maintained for Afrikaans to continue growing as a language of scholarship and science. At the same time, that non-speakers of Afrikaans should not be unjustly deprived of access within the system. And moreover, that the use and development of no single language medium should – either intentionally or unintentionally – be made the basis for the furtherance of racial, ethnic or narrowly cultural separation.

Let me put it to you simply and bluntly: within a system comprising more than twenty universities, surely it must be possible to reach an accommodation to the effect that there will be at least one university whose main tasks will include that of seeing to the sustained development of Afrikaans as an academic medium.

How that institution is to accommodate languages other than Afrikaans is one of the details that can be settled through a process of negotiation. If we could manage to resolve the major political conflicts through negotiation, then surely the country's men and women of learning need not view a matter of this nature as posing some insuperable obstacle.
(http://www.mandela.gov.za/mandela_speeches/1996/961025_stellenbosch.htm)

Die Beleid op Hoër Onderwys is die resultaat van sodanige onderhandelinge waaraan die US tans nog onderhewig is. Alle belastingbetalers betaal vir die implementering van hierdie nasionale beleid. Die wanfunksionering van die Departement van Hoër Onderwys om nie hierdie beleid te implementeer en te monitor nie, is direk daarvoor verantwoordelik dat die US dit kon systap. Die “vinger teen versuim” wys direk na die ministerie in hierdie verband. Hierdie beleid het dwingende grondwetlike sanksionering wat die KH moes verdedig het. Regter J Froneman het naby gekom daaraan, maar dit verkeerdelik as ’n grondwetlike belofte getipeer; dit is eerder ’n verpligting. U moes dit uitgewys het.

Met u ongelooflike skerpsinnigheid moes u die volgende gedoen het:

  • U moes die grondwetlike raamwerk waarbinne universiteite as staatsorgane die grondwetlike taalbedeling soos vervat in voormelde beleid moet toepas, uiteengesit het. Artikel 27(2) van die Wet op Hoër Onderwys as magtigingsbepaling vir die US-Raad met instemming van die Senaat se taalbeleid, is heel spesifiek behoudens die hoëronderwysbeleid wat deur die Minister vasgestel word. Die laasgemelde beleid is ’n direkte opdrag van die Grondwet ingevolge subartikel 6(4) van die Grondwet dat die Nasionale Regering hulle gebruik van amptelike tale “moet reël en monitor”. Verder dat alle amptelike tale “gelyke aansien” en “billike behandeling” moet geniet met die spesiale opdrag om voorheen benadeelde tale – en ek dink nie Afrikaans val onder artikel 6(2) nie – te bevorder.
  • U moes bevind het dat die gemelde beleid die sambreel is waaronder die universiteite in die land staan en dat hulle derhalwe getaak behoort te wees om die verskillende amptelike tale te ontwikkel. Voorts dat gegewe die historiese konteks, geografiese ligging en die taaldemografie in die Wes-Kaap dit noodwendig tot gevolg het dat die US ook Afrikaans as taal moet bemagtig en beskerm; dus nie toegelaat het dat daar ’n vermindering van regte mag plaasvind nie.
  • U moes verder gegaan het en gewys het op die Staat se verpligting rakende subartikel 7(2) van die Grondwet, naamlik om die dwingende opdrag om die regte in die Handves van Regte te eerbiedig, te beskerm, te bevorder en te verwesenlik. Dus: om nie onbillik op grond van taal te diskrimineer nie en ter nakoming van subartikel 29(2) van die Grondwet om na keuse in ’n openbare onderwysinstelling onderwys te ontvang in sy/haar amptelike taal waar daardie onderwys “redelikerwys doenlik” is. U moes derhalwe die kontekstuele konstruksie van die Grondwet verduidelik het.

U het egter in weerwil van die oorkoepelende beleid bevind dat dit nie die US se “las” is om Afrikaans teen Engels se opmars te beskerm nie. Dit te midde van die feit dat die UK, CPUT en UWK in die onmiddellike omgewing onder voormelde sambreelbeleid Engels bevorder. U kon op die feite bevind het (a) dat die US op grond van sy beleid van ope deure vir wit Engelssprekendes die situasie geskep het wat aanleiding gegee het tot die benadeling van Afrikaans en (b) dat dit buite die hoëronderwysbeleid val.

Wat my in die besonder kwel rakende die KH se uitspraak, ook met ander uitsprake, is dat daar ’n klaarblyklike vereiste van eenparige beslissing, maar met verskillende menings is. Toe advokaat Jeremy Miller regter J Froneman se uitspraak in die UV-saak as ’n “minderheidsuitspraak” getipeer het, het hy heftig gesê dit is nie. Oudregter, herlees tog weer u ampsbroer J Froneman se twee minderheidsuitsprake: dit is inderdaad minderheidsuitsprake, want dit repudieer in werklikheid die meerderheidsredenerings in beide sake. Met respek teenoor u, oudregter, regter J Froneman se uitspraak is dié van ’n KH-regter wat met ’n wyehoeklens u bevinding “seer eienaardig” vind.

’n Opmerking van hoofregter Mogoeng Mogoeng verdien ook kommentaar. Sy opmerking dat Afrikaanssprekendes en die ander inheemse tale deur die privaat sektor gefinansier moet word en dat almal in ’n gemeenskaplike taal opgelei moet word, dui nie alleen op onkunde oor die koste van die daarstelling van ’n universiteit nie, maar veral ook van voormelde grondwetlike taalbedeling. In Fronemaniaanse terme is dit “seer eienaardig” om dit van ’n hoofregter te verneem. Oudregter, ek is diep bekommerd oor die bemodderde ideologie in die KH wat hierdie uitspraak onderlê.

U kan skynvrede vind vir u gemoed met die juigkrete van ’n onderpresterende minister, met ’n geniepsige tong vol onkunde, en akademici wat soos hy dink, maar dit kan net tydelik wees. Die regsgeskiedenis gaan myns insiens hierdie wanklank in u roemryke regsloopbaan ophys en die vlag van toelating van inmenging halfmas laat hang vir almal om te sien.

As nagedagte, Oudregter, u wat ’n hart het vir die sukkelmens, die agtergelatene: Wanneer u as kansellier ageer, oorweeg tog die bevordering van Kaaps as selfstandige variëteit van die Afrikaanse blomtuin en miskien kan u dalk weer die spore van Nelson Mandela optel.

Ten slotte, Oudregter, as Afrikaanssprekende sal ons in kreatiewe verantwoordelikheid die toe deur oopmaak, net soos Albert Luthuli toe hy geteister is om toe te gee dat hy geweld beoog. Hy het dit toe gestel dat hy sal aanhou klop, want hy weet die deur sal uiteindelik oopgemaak word. So sal ons as Afrikaanssprekendes aanhou klop, ook aan die deur van die huis van die dowes vir taaldiversiteit, en moontlik ook aan u deur as kanselier.

Cerneels Lourens, ’n prokureur en taalregte-aktivis.

  • 25

Kommentaar

  • Wat 'n onsmaaklike aanslag op iemand wat sy integriteit meer as voldoende oor baie jare bewys het.

  • Breyten Breytenbach

    Geagte Cerneels Lourens: Wat ook al hierna gaan gebeur - wees verseker dat hierdie besonder moedige daad gebaseer op onweeglegbare regsbeginsels, 'n ewe besonderse en skerp ontleding feitelik gestaaf en weer eens onweerlegbaar, en veral (en dit is die allerbelangrikste en so onvervangbaar) op empatie, opregte medelye en begrip - onthou en gekoester sal word. Dankie!

    En vergun my dat ek my veroorloof om u ook te bedank namens Albert Luthuli en Nelson Mandela. Dankie dat u hulle humanisme en wysheid uitwys. En dankie ook, 'n groot dankie uit die hart, vir die eerbetoon bevat in u pleidooi vir ons twee halsstarrige en waaragtige tale van daadwerklike transformasie - ons oermoeder en ons abbavader: Kaaps en Afrikaans. U maak mens weer trots daarop om méns te mag wees.

    Met waardering en bewondering

    Breyten Breytenbach

  • Andries Fourie

    As ek dit reg het, is hierdie niks anders as beslaglegging sonder vergoeding. Stellenbosch is gebou met Afrikaanse geld as teenvoeter teen Engelse UK?

  • Dit is waarom 'n Skotse Toergids breëbors kon sê dat alles wat in die Britse Museums uitgestal word,gesteel is by ander lande.

  • Tom McLachlan

    Cobus, jy mag dit dalk 'n onsmaaklike aanval vind, maar vir baie lede van die breë publiek, my inkluis, is iets in hierdie hele sage oënskynlik nie pluis nie. Dink 'n bietjie: In De Villiers is eerste termyn as rektor ken die US aan Cameron 'n eredoktorsgraad toe. Terwyl die saak voor die hof hangende is, begin een van die partye in die saak, die einste US, in die persoon van sy hoofverteenwoordiger, die rektor, met een van die regters in die hof samesprekings voer oor oor die prestige-amp van US-kanselier. De Villiers, volgens 'n mediaberig, sê hy het "nie met die regsproses ingemeng nie". Almiskie. En dalk in De Villiers se oë.
    Hoewel ek nie 'n regsgeleerde is nie, lyk dit vir my as gewone landsburger vir wie die toekoms van Standaardafrikaans van die allergrootste belang is, of iets onreëlmatigs of selfs onbehoorliks plaasgevind het wat regterlike en rektorale etiese kodes betref. Cameron moes waarskynlik botweg geweier het om De Villiers te woord te staan, en De Villiers moes Cameron nooit in so 'n posisie geplaas het nie.
    Dalk was alles heel onskuldig, dalk was dit net gebrekkige oordeel aan beide kante. Maar dalk was dit nié. En daardie persepsie kan nie net weggewens word nie.
    Lees gerus adv. Gustaf Pienar se beskouing van die saak op Netwerk 24. Dalk sal jy dan besef, Cobus, dat Lourens se stuk nie so 'n ongegronde "onsmaaklike aanval" is nie.

  • Heinrich Matthee

    Mag troef die reg. As ’n kultuurgroep sy opgeboude mag in ’n politieke orde afgee sonder selfs ’n kleiner vorm van staatsmag - of minstens gesag oor sy eie kultuursake en ’n deel van sy belastinggeld - het dit helaas gevolge.

    Die geveg in die howe vir Afrikaans by universiteite is sedert 2015 ’n agterhoedegeveg. Die geveg is binne Suid-Afrika nou in ‘n doodloopstraat.

    Cerneels Lourens suggereer dat mens die posisie van Afrikaans by universiteite in Suid-Afrika aanhangig kon maak by tribunale of liggame buite Suid-Afrika. Sulke regsaksies sou ’n wyer bekendstelling van Afrikaans se benarde posisie wees. Dit sou ’n belangrike simboliese stryd daarstel.

    Sulke regsake internasionaal dwing ongelukkig selde openbare instellings om ruimte te skep vir die verwaarloosde taal. Daar is terloops tans ’n saak wat werd is om dop te hou, waar ’n owerheid ook die koste-argument voorhou: Conseil scolaire francophone de la Colombie-Britannique v. British Columbia.

    Taal en kultuurregte geniet teoreties nog heelwat erkenning en soms beskerming in die internasionale reg. Moria Paz (2013, bl. 64) som egter die posisie op na heelwat uitsprake: ’n klein groep mag steeds sy taal en kultuur handhaaf, maar dan in sy eie tyd en met sy eie fondse.

    Die hoofweg binne Suid-Afrika nou is waarskynlik die opbou of oorneem van Afrikaanse opvoedingsinstellings met eie tyd en geld. Akademia is tans die beste voorbeeld. Andere mag volg. Dalk sal hulle vorentoe met ander instellings binne Suid-Afrika kon saamwerk.

    Ook buite Suid-Afrika. Dit sou goed wees om nie alle bates van Afrikaanse opvoedingsinstellings in Suid-Afrika se eenpartydominante mandjie te plaas nie. Die Konstitusionele Hof se Hoofregter Mogoeng besluit immers in die Sebenza-saak in 2013: As die staat eiendom as “custodian” oorneem, nie as eienaar nie, is dit geen onteiening nie. Vergoeding is dus nie nodig nie. Nie eens 'n kopie van die “die beste grondwet ter wêreld” nie.

  • Pieter Haasbroek

    As 'n hofbeslissing 'n onreg tot gevolg het, moet dit aan die kaak gestel word. Soos wat Cerneels Lourens en Gustav Pienaar inderdaad doen. Die onreg van die US se verengelsing kom egter al 'n lang pad. Dit het so geslepe geskied, dat dit met reg met staatskaping vergelyk kan word: in die naam van transformasie word die Afrikaanse kultuurerfenis gesteel.

  • Leon de Vries

    Dit is duidelik dat die Grondwetlike Hof se uitspraak deur die gebeure wat in die agtergrond plaasgevind het, en nou aan die lig kom, gekompromitteer is. Wat nou? Miskien sal die Grondwetlike Hof moet begin dink aan 'n herverhoor. Dit lyk vir my na al uitweg.

  • Hans Richardt

    Daar is 2 vrae oor US, wat antwoorde nodig het.
    1) Die toenadering deur Wim de Villiers, terwyl US taalbeleid saak hangend was voor Oudregter Cameron, vir pos by US.
    2) Mense wie goedere trou geld bemaak het aan US, vir die gelyke bevordering by US, oa Het Jan Marais Nasionale Fonds. Maw hierdie uitspraak het ook finansiële gevolge vir US se Engelse studente.
    3) Minderhede word nou uitgesluit opgrond van direkte diskriminasie met hierdie uitspraak, ten gunste van meerderheid.

  • Albert du Plessis

    Cobus het jy enigsins gelees wat Cerneels skryf? Watter deel van die woord "onsmaaklik" vind jy van toepassing op Cerneels se fyn beredeneerde regstegniese analise van die aangeleentheid? Of is die Beatification of the untouchable Jesus Cameron vir jou Paramount?

  • Gustaf Claassens

    Agter die skerms is daar vingers op die klawerbord wat agendas dryf. Dis wat jy doen as jy jou sin wil kry. Sommiges in magsposisies het al geleer hoe om die spel te speel waarvan Prof. De Villiers duidelik een blyk te wees. Dis deel van ‘n ononderbroke “rewolusie.” Hierdie is die sagte soort.

    Dit help nie ons verwag van mense soos Prof. De Villiers om in die spieel te kyk nie. Ons moet agter die spieel gaan soek en die meedoeners en meepraters kollektief uitwys en aanspreek. Ook diegene soos Cobus Bester. Hy behoort tog te weet dat vrae ‘n vereiste word wanneer dinge ‘verdag’ voorkom. Sy flou poging hierbo is die simptoom van ‘n groterwordende verskynsel. Oordrewe politieke korrektheid wat sy oorsprong in ‘n skuldkompleks het. Die doel is om Afrikaans ‘n mynveld met hindernisse te maak en te hoop daar sal nie “terugbaklei” word nie.

    Verkeerd. Sulke optredes en pogings dien as motivering vir almal wat ‘n premie op hul taal plaas. Soos Johnie Walker, is dit 'n vereiste om aan te hou stap..... 'n Taal in die spervuur is soos 'n eklips waar selfs die son swart raak. Dis gelukkig nooit finaal nie tensy die draers daarvan self so besluit.

  • Daar is in 2015 deur die bende aan my genoem dat die ideale voorbeeld om van Afrikaans ontslae te raak, is soos Namibië. Sommer net so sonder enige gevegte. Suid Afrika sal n bietjie moeiliker wees.
    Die weerstand sal n bietjie stof opskop en dan oorwaai.
    Wel hul was reg. Met die skuldgevoel, het die Afrikaanssprekende meer belang gehad in n braai, TV of buitelugbedrywigheid en maar sy kultuur en tradisie oorgee aan transformasie. Dit terwyl die Internationale tendens net Anderson is. Prof Herman Gilliomee, noem dat slegs n groep vernederend verslaan is in n veldslag, gee hy sy kultuur op.
    So het De Villiers baie slinks en sonder enige integriteit te werk gegaan om mense uit die raad te laat bedank om sy doel stelselmatig te bereik.
    US personeel asook besighede, was weer bang vir viktimisasie.
    So die hof het ook in berekening gebring dat daar geen sigbare protes teen die ontafrikaansing was nie. Ja, die meeste Afrikaanssprekendes het op internet protesteer wat soos water van n eend se rug geval het.
    In SA word sigbare protes as n maatstaf gebruik.
    n Ander aanname was dat die hofstukke redelik weersprekend en te wyd was deur vir alle minderheidstale te veg.
    Die eintlike punts was.
    Stellenbosch is die kernpunt van Afrikaans met n groot meerderheidsdemografie, tot ook Namibië.
    Jannie Marais se groot nalatenskap is gebruik om n Hollandse en sy variant te onderrig. Op dieselfdedag toe Rhodes geld gegee het vir n Engelse universiteit in Kaapstad.
    Die grondwet laat onderrig in moedertaal toe.
    So die uitslag sal nou die volgende gevolg hê. Met harde werk van prof Jansen, gaan eers begin word met die verengelsing van arm bruin skole, wat n dominoeffek gaan hê.
    Dit, tensy die onreg en onredelikheid nou aan die groot klok gehang word en protes aangewakker word, TERWYL die momentum nog daar is.

    n Ander oplossing, behalwe Akademia, is om samewerking te vind en toenadering en samewerking met die Nederlandse talegroep. Dalk n Nederlandse satelietkampus, met Klein kursusse ook in skole om dit te bevorder. Dit sal alle Nederlandse tale soos Afrikaans en Vlaams vergroot, met enorme voordele. Kultureel, toerisme, finansieel. Daar is van Nederland groot steun hiervoor. Die tyd is Nou ryp.

    Stellenbosch Lente

  • Pienaar Spies

    Cerneels Lourens, Baie dankie! Jou ongelooflike knapbewoorde wel ter tale betoog laat my as totale regsleek met twee oorkoepelde indrukke:
    1. Jy klim in 'n swaargewig-bokskryt teen 'n formidabele teenstander en vee hom met jou ryklik borduurde taalgebruik letterlik met 'n veertjie om.
    2. Jy maak my trots op Afrikaans. Met jou ongelooflike taalvaardigheid sal die mees onkundige Afrikaanssprekende persoon so 'n ingewikkelde en komplekse betoog verstaan.
    As ek die kliënt was wat dit in Engels moes aanhoor sou ek, omdat ek redelik vaardig is in Engels, seker alles verstaan het, maar sekerlik nie die helfte bergryp het nie.
    Jy demonstreer wat Gelyke Kanse beteken!!

  • Hoe ek kry ek as leek dan die ongemaklike gevoel dat dit 'n geval is van:'wiens brood mens eet, diens woord mens spreek"

  • Pienaar Spies

    Natuurlik is jy reg FC.
    Dis die vryemark. Sonder daardie beginsel sou geen besigheid enige produkte teen wins verkoop het (Uitgesluit staatsdiens werkers wat "onge-ag" belastingbetalers se brood eet)

  • Akademia is bynans die enigste antwoord Koos (en Wikipedia).

    Daar word groot gewag gemaak van Engels se kamtige dominante posisie terwyl dit eintlik GLAD NIE die geval is nie.

    Ek stem saam oor jou Nederlandse voorstelle, baie dankie vir jou insigte! (wie gaan dit maak werk? Ons kan begin om voorspraak daarvoor te maak by Yves T'Sjoen. Wie sal hom namens Afrikaanses kan nader?)

    Die Derde Taalbeweging is op hande!

  • Waldemar Gouws

    Geagte mnr. Lourens

    Baie dankie vir hierdie belangrike skrywe. Wie sal u kundigheid en deeglike kontekstualisering kan versmaai?

    Ek wens Jan Rabie, Adam Small en Karel Schoeman (o.a.) kon saamlees.

    Met dankbare agting

    W Gouws

  • Die skrywe van Cerneels Lourens is klaarblyklik geregverdig, hoewel dit potensieel netelrige kwessies aanraak.
    Is dit egter te veel gevra dat die volledige tydlyn van al die relevante gebeure, waarna hy verwys, openbaar gemaak word? Onsekerheid daaroor kan tog net agterdog aanwakker.

  • spook speurder

    Van hierdie vingers op die klawerbord hoor ek graag Gustaf Claassens, die dwangmusiek van agter die spieël gespeel.

    Dis terselfdertyd die dood- en leuen-sang van Lore Lay (Lorelei), en soos sy vang hulle graag goed bedoelende harte in hul nette van voorliefde, afgodery en soetsappigheid. Dis so ontwerp, so slim haarfyn op hartsnare gerig en na getoonset.

    Die man hierbo hooggeag verstaan ek nie. Hy is bloot ‘n saad waaruit menere W de Villiers en E Cameron se optredes, in dade en denke, opstaan. Jy kan die latere twee dus nie tot skaam wees lei deur hul teenoor hom te vergelyk nie.

    Hoor van die volgende (hof)saak:

    Op 5 Maart 1959 antwoord Albert Luthuli blykbaar op die vraag "Do we really want to get rid of the white man?” soos volg: "No. We do not want to get rid of the white man." En sê verder: “But I say, for all that, the white man is in the land where he is, and the aim should be to get him to repent of his wrongdoings rather than to work for his forceful removal out of the country.” En om mee af te eindig kopieër ek verder: “The white man must accept the demands of the people for unqualified freedom for all on the basis of adult suffrage, regardless of race or colour, and shed himself of all weaknesses of domination. If he satisfies these conditions, there is no reason why he should go. If he does not satisfy these conditions, then one of two things could happen. He could either become a subjected person or return to his original home.”

    Wel, einste aan ‘n politikus gebruik hy woorde en sinsnedes van Newspeak soos in “1984” deur George Orwell openbaar. Wat Luthuli sê ‘could happen’ het nou gebeur en dit is ‘n skaamte!

    Die ‘the people’ van hom het met die 1994 verkiesing hul eerste Luthuli-vereiste ontvang. Dis ‘n voorbeeld van Newspeak in die gebuik van “unqualified freedom”. Die tweede vereiste is ‘n beter voorbeeld van Newspeak. Die poëtiese taalgebruik wat die kraan van beskuldiging grondves. Die kraan word intussen stadig oopgedraai en al hoe meer soute, patogene ensomeer word in die fonteinwater gestort. Die skeppers en eienaars van die water is politici van alle aard. Die nuutste patogene byvoeging is die kamstige grondkwessie. Die sterkste Newspeak in die hofsaak, en sekerlik in ander ook, mag “..the need to redress the results of past racially discriminatory laws and practices.” wees. Ek sê mag wees want ek lees moeilik daaraan.

    Dit sou in elk geval nooit genoeg gewees het om van ons nie ‘subjected persons’ te maak nie want almal volg maar net voorbeeld, hul werk maar net hier in die Newspeak-drukkery. Die definisie van ‘the people’ is nie alleen onder verdenking nie. Dit verwys o.a. na die Universiteit en hof se gebruik van, selfs steun op, die fisiesgewelddadige handjievol mense veralgemeen as “katalisator”. Veralgemening is ‘n warm troetelkind van Newspeak.

  • spook speurder

    Die vier paragrawe hierbo van oudpresident Mandela, by die ontvangs van sy US eredoktorsgraad gelewer, dui, soos die gebruik van Luthuli is, ook op onwerklikheid.
    Paragraaf een is duidelik genoeg. Iemand vernietig Afrikaans as akademiese medium en iemand staan die vernietiging teen. Hy praat soos iemand wat daaroor moet besluit m.a.w. as magtige van die staat, as bestuurder van geregtigheid. Goed en wel, maar, behalwe vir ondersteuning soos in die vorm van geld gee, behoort die staat nie ‘n finger op opvoeding te mag lê nie.
    In paragraaf twee: Eerstens praat hy, asof dit ‘n gegewe is, dus Newspeak hy dit in plek in, van universiteite as ‘n sisteem. Universiteite ontwikkel nie as deel van ‘n universiteitssisteem nie en om dit so te stel is meer as net verkeerd. Maar, om aan te hou luister moet ons dit as ‘n gegewe aanvaar. Siek. Daarby vra hy eintlik hoe ons tot bedinging gaan kom, of, meer spesifiek; hoe gaan ons beding? Hoe gaan ons saam om die tafel sit en regverdig beding oor die vorm van die sisteem? Weereens goed en wel, gegewe die afpersing van aanhoudende geweld, die olifant in hul kamer, in die US se saal.
    Paragraaf twee, tweedens, onder ons selwers moet ons dan die vorm van die sisteem beding om 3 eienskappe te hê. Ons word vorseer om ‘n sistemiese bedeling te beding. Die bedeling sal drie dele bevat; 1. Skep en behou ‘n goedhartige lewensklimaat vir die voortbestaan van Afrikaans as taal van kundigheid en wetenskap, asof dit nie een en dieselfde ding is nie. Goed so, mooi man. 2. Studente wie Afrikaans nie magtig is nie moet op universiteitsvlak opvoeding kan geniet, gestel as, hulle mag nie op onregverdige wyse toegang binnein die sisteem van beroof word nie. Wow. Asof enigeiemand dit sou wou doen. Maar goed en wel, weereens gegewe die omgewing van geweld en haat met versoening in vooruitsig. 3. Die gebruik en ontwikkelling van nie eers een taalmedium, sal as basis vir die bevordering of ondersteuning van eng kulturele afsondering en van ras of etniesbaseerde onderskeid dien nie. Hier lê die ding nou. Hiermee het hy in sy rede die bestaansrede gevestig van teen Afrikaans, of enige ander taal, optree. Dis hul bestaansvorm per definiese van eie en aparte taal wat hul so ontneem word.
    So, ongelukkig vir almal, weerspreek die man homself hierin. Hy eindig met ‘n negatiewe op. Omrede sy denke nie op realiteit baseer is nie maar wel op partypolitiek, kan hy nie anders nie. Wat hy wil hê is ‘n droomland, soos in hul eintlike konstitusie die Freedom Charter opgeneem, wat hy en sy maats, ongelukkig vir hulle, nie op die aarde sommer kan kry nie.
    Hy plaas mooi, al is dit half, die nodigheid vir ‘n milieu stig vir Afrikaans om in te groei as punt een en sneeu dit dan toe onder ‘n hoop teenstrydighede wat die nodigheid se moontlikheid in die wiele ry. Hy speel die rol kamstig van duiwelsadvokaat teen sy mense maar ondersteun uiteindelik eerder die retoriek van ‘bevryding’, van sy politiese party, wat eintlik maar swart nasionalisme ondersteun en ‘n kultuurlose samelewing in vooruitsig stel. Dis ongelukkig maklik te verwagte van iemand wat kinders tot oorlog sou oplei ter vestiging van sy geloofsoortuiging.
    In die derde paragraaf gaan hy ‘n stap dieper teen die Afrikaanse taal in die negatiewe in. Dis ‘n modderpoel van konsepte waarvan die mees uitstaande ‘n som is; uit meer as twintig universitiete is daar sekerlik ‘n ou enetjie vir ‘n titseltjie Afrikaans beskikbaar!
    Die vierde paragraaf se karakter is net so ingewikkeld. Hier wys ongelykheid duidelik gesig. Nou praat hy van net die enkele universitiet hierbo toegelaat. Dis tweedens ‘n leuen want die groot politiese konflikte is nie deur middel van onderhandeling besleg nie, maar deur verskeie vorms van geweld beoefen en daarteenoor, of daarmeesaam dan, die referendumbesluit tot vermy daarvan.
    Wat vir President Mandela as onderhandeling bestaan lees in die fisieke en morele oog as geweld, en dit was hoofsaaklik soos volg beoefen:
    • Die lus van die Jeugliga om beheer van die land te kry, dus voorafbeplande hoogverraad, vanaf die twee jaar lange stigting, deur hom en ‘n handvol maats, teen 1944 en dan die onmiddellike begin van ‘n stadigopwarmende massa aksie program wat versterk, soos om later teen die polisie in Natal in 1963 op te tree, in ‘n aggresiewe aksie soortgelyk aan die van die Britte toe hul magte destyds om die twee republieke aanhou opeenhoop het en oorlog ook nooit deur die aanvallers verklaar was nie. So kon die Geneva Konvensie ignoreer word.
    • Verdere geweld teen die Geneva Konvensie o.a waar dit in artikels sê dat: “It also stated civilians may not be collectively deported or made to work on behalf of an occupying force without pay.” By monde van wat Luthuli wat oor die ‘white man’ praat breek die ANC, en Mandela destyds, steeds die Geneva Konvensie. Hoekom hou die V.N. aan dit toelaat?
    • Interne geweld teen hul eie mense; necklaces by die 100de, of was dit 1000de, in die Weskaap byvoorbeeld, teen mense wie nie die handjievol politici se toekoms wou beleef nie; maar nouja, hier het ons dit nou nog ‘n stappie verder tot voltooiing.
    • Voeg hierby die invloed van Westerse medisyne wat o.a. tot populasieontploffing lei, die einste benodig as kanonvoer vir die ‘revolusie’, as amunisieopeenhoping.
    • Die geweld van internasionale leuenplasings en vervalsings as propaganda en ander misinformasie, dus geweld teen waarheid, die gebruik van vals getuienis lewer en die doelbewuste aanhou met hierdie prosesse. Ingesluit bv. dat universiteite in tuislande gebou is om vir wit argitekte destyds werk te skep, ‘n maklike aanval teen die ‘intelligentsia’, as vernietigingsaksie een van die hoekstene van hul ‘revolusie’.
    • Geweld vanuit die buiteland van oor die landsgrense, deur internasionale moonthede soos Rusland, Sjina, Noord Korea en seker meeste lande van Afrika wat vir minder duidelike redes so optree.
    • Die geweld van sanksies, in Engeland deur Suid-Afrikaners geloots, aangehits en daarvandaan voortgedryf.
    • Daarby kom dat na die grondwet destyds in 1994 opgeneem is dit ignoreer is toe die uitvoer van die Regering van Nasionale Eenheid, vanaf die kant onder Mandela, geminag en verontagsaam is. Die voortsleping van die tendens is bv. die kamstige uitval en skeiding tussen die ANC en J.Malema in hul hoeveelste poging om die einste grondwet te omseil. Hul eintlike grondwet is in 1955 al aanvaar en tot vandag toe waar en soos nodig toegepas en aangepas.
    • Slagting onder burgers onder Mandela reeds gevind met Suid-Afrika nou die wêreld se moord hoofstad.
    • Aanhoudende geweld teen kinders in verskeie vorms, waaronder om hul as haatdraende ‘soldate van bevryding’ op te lei, ja natuurlik van kindsbeen af op en om hul onderwysopleiding te verswak. So bv. moet laerskoolkinders nou pornografie begin beoefen, so asof Sigmund Freud enigsins die waarheid van kind wees besef het.
    • Die vernietiging van Afrika kultuur om kamstig demokraties gelyk te moet wees, maar hul ‘gelyk’ mense word nie ingelig oor die hoofsaaklik negatiewe waarde van demokrasie in ons tyd nie, en al die grond behoort steeds aan die hoofman, en aan die staat as Groter Grootste Hoofman; behalwe vir wat in 'wit' hande is.
    • Die Engelse taal gee ons nie verniet die gesegde: “The road to hell is paved with good intentions” nie.
    • Het jy al ooit bespreek hoe, in die tyd van die “Evil Apartheid Regime” die volgende enigsins moontlik kon wees, dat: “Mandela and Tambo was a South African law firm established by Nelson Mandela and Oliver Tambo in Johannesburg in late 1952. It was the first "Attorney Firm" in the country to be run by black partners.” (Google snippet).??? Wesenlik is hier iets van stryk af en in die middelpunt daarvan is wie en wie nog?
    • Ten spyte van al die geweld, kon Mandela tog die bewering grondig maak, dat saam op vrede besluit is, maar dat die land nie volslae in burgeroorlog verval het nie is alleen aan die Afrikaners te danke, aan hul lewensfilosofie. Dit was nie te dankie aan geweld nie maar aan die vermy daarvan. Die bestuur van die land is in goedertrou oorhandig, bloot om Mandela se geweld tot ‘n einde te bring. Aldus Mandela se half waar stelling, maar toe is die trou gou gou gebreek, en val nou nog net verder in skerwe. Nie-fisiese geweld is nog nooit beïndig nie en bou maar net verder op. Nuutste ongevalle en siekte is by die US.

  • Tiaan van Dyk

    Geagte Mnr Lourens

    Jou kommentaar is uitstekend en in die kol.

    Ek vermoed baie howe, en spesifiek die konstitusionele hof, is vinnig besig om aansien onder baie mense, maar veral Afrikaanssprekendes, te verloor. En dit is net nie net weens die Gelyke Kanse uitspraak nie, maar ook verskeie ander uitsprake.

    Lees gerus Prof Malan se nuutste boek "There is no supreme Constitution" wat mooi uiteensit dat die die howe nie onpartydig is nie en die grondwet verander is deur onder nadere interpretasie.

    Dit is duidelik dat die KH nie onpartydig is nie maar in geheel deel is van die ANC ideologie. Trouens, die KH is die afdwinger van ANC ideologie. Die KH is dus die bewaker van ANC ideologie.

    Die tyd het aangebreek dat die publiek die howe, en veral die KH, sien vir wat hul werklik is... en dan daarvolgens handel. Want dit is die korrekte manier.

    Afrikaners, staan op - daar is groot werk!

  • Carolina Cornforth

    Cerneels, ek kon dit nie beter stel nie!!! Stellenbosch behoort aan die Afrikaanse gemeenskap en as jy in ‘n ander taal wil studeer is daar baie om uit te kies!! Hierdie liberales moet ‘n ander speelveld kry waar hulle skews kan gaan op🤬!!!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top