Die geveg rondom die Stellenbosse taalbeleid het nog nie gaan lê nie, en gaan klaarblyklik ook nie binnekort end kry nie. Die verrigtinge van Donderdagaand 14 November word deur die Universiteit Stellenbosch as 'n suksesvolle Konvokasie-vergadering beskou. Die US blyk baie energie te spandeer om seker te maak dat die wêreld se persepsie van die Konvokasie-ontmoeting nie deur Konvokasie-voorsitter Jan Heunis SC se verdoemende en siedende aanval op die rektor, Wim de Villiers (en die US-bestuur in die algemeen), oordonder word nie.
Sedert Donderdag is daar op Facebook alleen omtrent ses verskillende verslae oor die vergadering deur die US gepubliseer, en geeneen vermeld Heunis se toespraak nie. Op die video-opname van die vergadering hoor 'n mens telkens 'n snedige groep koggelaars wat Heunis se eerbare beroep op die belang van veeltaligheid aan die universiteit as 'n maatskaplike kleinood probeer doodskree. Die onverdraagsaamheid en honende houding van die groepie gesiglose fasciste, waarskynlik 'n stel ontplooide kaders met 'n lojaliteit aan die slegs-Engels-voorstanders en opvolgerkolonialiste in die ANC-elite, is 'n aaklige klad op die ruimte vir “beskaafde en verdraagsame debat” wat Heunis gereeld genoem het.
Hierdie hartseer stand van sake op 'n US-Konvokasie-vergadering het my laat dink aan hoe diep die universiteit verval het in 'n moeras van politieke gedienstigheid aan die regering van die dag met sy swak taaldiversiteitsrekord. Onder die vaandel van “internasionalisering”, skynbaar Wim “Brutus” de Villiers se vlagskipprojek, word verengelsing van die ganse struktuur op 'n subtiele wyse aangemoedig. Die projek trek sy krag uit die onwaardige konvensionele kennis dat globale Engelstaligheid inherent meerderwaardig is. Hierdie geloof word deur die US se kastige hands off-benadering aangevuur, ten spyte van die enorme problematiek daarvan. Die Britse Empaaier spook voort.
Die filosoof Johan Rossouw skryf onlangs (17 November 2019, Netwerk24) dat kolonialisme bestaan wanneer een groep ‘n ander se geskiedenis en storie vir hul skryf en bepaal, volgens die koloniseerder se wil en norme. Dit sluit die dominering van die gekoloniseerde in die openbare sfeer in, soos deur die uitfasering van die gekoloniseerde se taal deur die ekonomiese druk van koloniale kapitalisme, uitsluitende en ondermynende beleid, of selfs gewelddadige verdrukking. In die gees van die teenkoloniale denker Frantz Fanon is versetoptrede deur die gekoloniseerde die enigste volhoubare manier om die gekoloniseerde groepering se selfbeeld te herstel en die dualiteit van meerderwaardigheid tussen kolonis en gekoloniseerde omver te werp.
In 15de-eeuse Wallis het die gerespekteerde landheer Owain Glyndŵr (sy van word “Glindoer” uitgespreek, met die “g” soos in “rugby”) volgens ons historiese bronne die boosheid van Engelstalige oorheersing op sy mense gesien en ervaar.
Sy versugting word saamgevat in die pragtige Walliese lied “Breuddwyd Glyndwr” (“Die droom van Glyndŵr”):
Safodd Glyndŵr ar fynyddoedd Meirionnydd
A chysgod y plygain yn drwm ar ei wedd
Clywodd riddfanau yn esgyn o'r cymoedd
Plygodd i wrando, a'i bwys ar ei gledd.
Vertaalbaar uit Wallies as:
Glyndŵr het gestaan op die berge van Meirionnydd
Die skaduwee van die dagbreek weeg swaar op sy gedagtes
Hy hoor die kreun rys vanuit die valleie
Hy kniel om te luister, gesteun deur sy swaard.
Glyndŵr was geen Engels-hater nie, en was geskool in sy moedertaal Wallies ('n Keltiese taal inheems aan Brittanje) asook Engels en Latyn. Hy was 'n geleerde man wat besef het dat veeltaligheid en die gebruik van die taal van sy Engelse buurland en oorheerser nie op sigself ongewens is nie, maar dat die probleem in die houding van die Engelse koninkryk jeens die Walliesers se taal en kultuur lê.
Hy het aangedring op gelykheid en die maatskaplike opheffing van die Walliese mense deur gelyke belasting met Engelse burgers, politieke verteenwoordiging en die vryheid om hul taal en kultuurgebruike binne hul eie land te mag koester. Dit het Glyndŵr vreedsaam vanuit sy gesagsposisie as landheer gevra. Keer op keer is hy gestraf en uitgelag deur die Engelse lords wat Wallis namens die Engelse koning beheer het.
Toe het Glyndŵr sy streep in die sand getrek en ‘n gewapende opstand gelei wat die Engelse regering 12 jaar lank besig gehou het.
Glyndŵr se rebellie word vandag nog as een van Wallis se belangrikste teenkoloniale stryde beskou. Die Walliese rebelle was nie konings, chiefs en landhere nie, maar 'n mengelmoes van armes, rykes, mans en vroue wat die idee van Engelse meerderwaardigheid in hul land verwerp het. Die opstand was aanvanklik hoogs suksesvol en het groot politieke kopsere vir koning Henry van Engeland veroorsaak. Die Engelse oormag het oplaas Glyndŵr en sy volgelinge tot die Meirionnyddberge in Noord-Wallis beperk, en die res van die land is gestraf deur genadelose slagting, verkragting en plundering.
Glyndŵr self het egter die Engelse bly ontwyk en het teen 1412 uit die opgetekende geskiedenis verdwyn. Hy is nooit gevang nie, en het vermoedelik die res van sy lewe onder vermomming deurgebring. Vandag word hy as Wallis se grootste teenkoloniale stryder beskou. 'n Byna mitiese agting bestaan vir die gees van Owain Glyndŵr, en Walliesers glo dat Glyndŵr eendag sal terugkeer om sy mense van Engelse onderdrukking te red; 'n onderdrukking wat daartoe gelei het dat Wallies, soos Skots-Gaelies, Ierse Gaelies, Manx op die Eiland Man en Kornies in Cornwall in Suidwes-Engeland) gereduseer is tot minderheidstale wat sukkel om kop bo water te hou.
Ek hoop dat Afrikaanssprekendes en diegene wat veeltaligheid in ons multikulturele land koester, sal aanhou baklei, in die gees van teentaalkoloniale sentimente soos beliggaam deur Owain Glyndŵr, Frantz Fanon, Ngũgĩ wa Thiong'o en die ou taalstryders vir Afrikaans, soos Arnoldus Pannevis en CP Hoogenhout. Dit is hierdie ideologie van gelykheid, vryheid en diversiteit wat in ons Grondwet verewig is en wat met aandrang en massa-aktivisme tot uiting gebring moet word.
Hierdie tipe aktivisme se strewe is nierassig, dog inklusief en bewus van ‘n Suid-Afrikaanse verlede vol rasbevoorregting en onderdrukking.
Dit behels juis die hoop op 'n veeltalige gedeelde toekoms wat kan internasionaliseer sonder om die inheemse taaldiversiteit van ons land te vernietig, en sonder om magstrukture toe te laat wat Engels bevoordeel ten spyte van inheemse kennisstelsels.
Dit is waarom die koggelaars wat Jan Heunis se toespraak probeer doodskree het, verteenwoordigend is van 'n retrogressiewe boosaardigheid wat ten alle koste teëgewerk moet word. Dit stink na die elitisme wat ook tekenend is van die maghebbendes wat oor staatskaping toesig gehou en hulself verryk het.
Ek sien hul kinders op die US-kampus. Ek hoor die koggelende stemme van die seuns en dogters van top ANC- (Magashule-faksie-) politici in daardie Konvokasie-vergadering-video.
Suid-Afrikaanse inheemse-taal-aktiviste moet besef hoeveel mag hulle het. Ons staan op die morele hoë grond. Die US het homself nalatig, dalk selfs wetend, geallieer met die korrupte elitisme van die gekompromitteerde heersende party en met die kolonialisme van globale Engelstalige en onvolhoubare, ongebreidelde winsbejag.
Leer by teenkoloniale geeste soos Owain Glyndŵr, en streef 'n samelewing na wat inheemse tale en kulture red van steriele en onkreatiewe geldgierigheid, elitisme en koloniale meerderwaardigheid. En trek jou streep in die sand.
US-taalbeleid en die Konstitusionele Hof se beslissing: Afrikaans? Afrikatale? Stellenbosch?
US-taalbeleid en Gelyke Kanse: Konstitusionele Hof se volledige uitspraak
Stellenbosse taalbeleid: woed die Anglo-Boereoorlog dan nog steeds?
Gelyke Kanse en die Konstitusionele Hof-beslissing: uit 'n US-tolk se perspektief
Wie is die “bruin mense” en watter taal praat hulle? Repliek op Mercy Kannemeyer
Stellengate? ’n Ongelyke kans: Ope brief aan regter Edwin Cameron
Kommentaar
Dit is 'n verdere uitstekende bydrae deur Van Wyk oor die toksiese toestand waarin die taalbeleid aan die Universiteit Stellenbosch verval het. Hy is 'n stem roepende in die woestyn, maar dit maak sy standpunt nie minder eerbaar nie. Hy geniet my volle ondersteuning.
Dankie vir die treffende artikel. Owen Glyndŵr word onder meer gedenk by Glyndŵr-universiteit, vandag Wrexham Glyndŵr. Ek kon een keer die redelik sober kampus besoek: oral was kennisgewings en muurinskripsies in sowel Wallies as Engels, en Walliese simbole.
Gelyke tweetaligheid is dus selfs moontlik digby die Engelse magsentrum, anders as wat die bemarkers van die verre rekoloniale Stellenbush beweer. Sulke gelykberegting het in Wallis wel jare se volhardende aksies geverg.
Hele geslagte van Walliesers het grootgeword en doodgegaan met die gedagte dat hulle taal in ’n krisisposisie verkeer. In 1900 kon net sowat 50% van Walliese afstammelinge nog Wallies praat, teen 1991 net 18%. Deesdae is die tendens omgedraai na sowat 29% van die al diverser bevolking, sowat 875 000 sprekers.
Net die toewyding van individue het oor geslagte Wallies-medium opvoeding in Wallis se Engelstalige universiteite laat oorleef. Die Walliese streeksregering het in afgelope jare wel met belastingbetalergeld ook die Coleg Cymraeg Cenedlaethol (Nasionale Walliese Taalkollege) opgerig. ’n Nasionale aanlyn-platform van die Taalkollege, Y Porth9, huisves deesdae honderde universiteitsmodules in Wallies.
Afrikaanssprekers sou self of saam met ander taalgroepe suksesvol moes mobiliseer voordat ’n deel van hul belastinggeld toegewys word aan dit waarop hulle geregtig is. Dit lyk tans onwaarskynlik. Wat oorbly is dus die lang pad om weer in Afrikaans met eie geld en energie opvoedingsnetwerke, projekte en instellings op te bou.
Stem saam met van Wyk. Die sogenaamde bevryders pas kolonislisme toe wanneer dit hulle pas maar wil nie daarop gewys word of erken nie
Drie van ons kinders is in Engeland ... My man kom van Nederland. Oral in Europa word Moedertaalonderrig gekoester. Ook in Engeland is daar respek vir huisgesinne en kinders wat tweetalig is, (Engels en hulle Moedertaal). Om tweetalig te wees in Engeland, is baie raar. Die ANC regering is totaal uit voeling met die globale siening van Moedertaalonderrig ten koste van elke Suid-Afrikaner wie se Moedertaal nie Engels is nie.