Top matriekuitslae ≠ beste onderwysstelsel

  • 1

...............

Die helfte van die klas van 2024 (byna 337 158) se uitslae was veronderstel om hulle toe te laat tot Baccalaureus-studie. Ons 26 universiteite bied egter net 202 000 sitplekke. Terwyl ek hier skryf, wag 300 studente steeds voor KSUT se hekke. By die UK het betogende studente die intervarsity-wedstryd ontwrig en op die Matie-kampus word daar vandag (Woensdag 19 Februarie) ’n massavergadering gehou oor onder andere studente wat nie genoeg akkommodasie het nie.

...............

Terwyl ons almal trots is op die klas van 2024 met hul rekord-matriekuitslae, is dit nie regtig gelykstaande aan ’n foutlose onderwysstelsel nie. Michael le Cordeur het die uitslae ontleed. 

Is dié histories hoogste slaagsyfer wat die matriekklas van 2024 behaal het, die gevolg van uitstekende onderrig in ’n verbeterde onderwysstelsel of is dit ’n geval van die klas van 2024 wat goed afgerig is? Dit is die vraag wat ek my afgevra het. Ek is op rekord dat ek ’n slaagsyfer van 84% voorspel het. Na die bekendmaking van die uitslae, is ek genader vir talle radio- en televisie-onderhoude. Telkens was die eerste vraag: Are these results for real?

Eers die kort antwoord: Ja, die uitslae is legitiem. Dit is onderskryf deur Umalusi en Yunus Ballim en sy raad dwing baie respek af. In Nguni beteken die woord Umalusi “herder”; dit wil sê, die beheerliggaam wat toesig hou oor die matriekeksamen en seker maak dat alles above board is. Ouers en almal wat steeds twyfel: Die matrieks van 2024 se slaagsyfer is ’n historiese beste. Hulle het 87 uit 100 keer die korrekte antwoorde gegee.

Vir die langer antwoord moes ek ’n diepgaande studie van die uitslae maak. Ek moes (wou) dit ook belyn met die TIMMS- en PIRLS-studies. Ons durf nie die matriekuitslae sien as ’n losstaande entiteit nie. Wat in die laerskool gebeur, is bepalend vir die matriekslaagsyfer. ’n Dieper kyk na die matriekuitslae toon ’n paar aspekte waaroor ons bekommerd moet wees. Soos jy egter met ’n hoë slaagsyfer kan verwag, is die bevindings meestal positief.

Covid

Met hul aankoms op hoërskool in 2020, is die 2024-klas begroet deur Covid: die ergste pandemie wat hierdie land nóg getref het. Dit het die ontgroening van vorige jare se graad 8’s soos ’n piekniek laat lyk. Skole se hulpbronne is uitgeput deur ’n kleiner begroting. Sosiale euwels soos bendegeweld en taxistakings het verdere druk op hulle geplaas. Desondanks hierdie uitdagings is die slaagsyfer ’n verbetering van 4,4% op 2023 se syfer. Geen provinsie het swakker as 84% gevaar nie. Trouens, al nege provinsies het op hul vorige uitslae verbeter. Uit die 75 distrikte het 73 ’n slaagsyfer van meer as 80% behaal. Byna die helfte van die matrieks het gekwalifiseer vir Baccalaureus-studies. Dit sluit meer as 390 000 onderskeidings in. Dit is ’n besondere mylpaal vir ons hoëronderwys wat nuwe eise gaan stel. Meer hieroor later.

Gaping tussen ryk en arm verklein

In die verlede was ek skepties oor die gaping tussen ryk en arm skole. ’n Groot pluspunt is dat die gaping tussen skole wat nie skoolfooie hef nie (85,8%) en skole wat skoolfooie vra (90,3%), kleiner raak. Leerders van kwintiel 1 tot 3 skole wat die armste gemeenskappe bedien, het ’n reusesprong vorentoe geneem. Ongeveer 67% van alle matrieks wat met Baccalaureus geslaag het, kom van hierdie skole. Dis ’n aanduiding dat die ekstra ure wat onderwysers en amptenare ingesit het, begin vrugte afwerp.

Spesiale skole 

Die uitslae toon dat enige kind kan sukses behaal mits hulle die geleentheid gegun word. Daar is byvoorbeeld ’n toename in die getal matrieks van spesiale skole wat geslaag het. Voorts het 151 uit die 161 matrieks wat die eksamen in die gevangenis afgelê het, geslaag.

Meer vroulike as manlike leerlinge het die matriekeksamen afgelê. Dit is ’n aanduiding dat die emansipering van swart vroue momentum kry: Miljoene swart jongmeisies sien hulself nie meer as huishulpe en bediendes nie. Hulle visier is duidelik op ’n hoër mikpunt gestel.

Diegene wat ontsteld is oor leerlinge wat in graad 11 oorgesit word (weens omstandighede buite hul beheer, soos die taxi’s wat staak op die dag van die eksamen), sal berusting vind dat meer as 29 000, oftewel 54,7% van matrieks wat hierdie vergunning gekry het, die geleentheid aangegryp en geslaag het. Tesame hiermee was die matrieks in 2024 meestal 18 jaar oud. Dit beteken die meerderheid is nie meer as een keer teruggehou nie.

Deursetkoers kan beter

Die Suid-Afrikaanse deursetkoers staan volgens die departement op 64% (my somme wys dit is eerder 61,7%) en vergelyk goed met die 60% van lande met gemiddelde inkomste. Dit is belangrik om te onderskei tussen die deursetkoers en die slaagsyfer. Die deursetkoers is die getal leerders wat die sisteem betree het, teenoor die getal wat die sisteem verlaat het. Uit die 1,2 miljoen leerders wat in 2013 in graad 1 begin het, het 740 876 dit tot in matriek gemaak. Hiervan het 615 429 die eksamen geslaag, met ander woorde net meer as 51%. Talle kritici sê dit is die eintlike slaagsyfer. Die slaagsyfer is egter die getal leerders wat suksesvol was in ’n bepaalde eksamen: 615 000 uit 740 000, wat die slaagsyfer van 87% gee.

Manipulasie 

In aansluiting by die punt hierbo, het Umalusi sy kommer uitgespreek oor die byna 8% afwesigheidsyfer. Dit beteken dat 69 309 matrieks wat vir die eksamen ingeskryf het, nooit opgedaag het nie. Die Vrystaat, wat vir die derde jaar met die hoogste slaagsyfer (91%) spog, het die swakste deursetkoers (55,3%), teenoor die Wes-Kaap wat spog met die hoogste deursetkoers van 70%. Suid-Afrika se swak deursetkoers teenoor die hoë slaagsyfer is ’n tendens wat ’n paar jaar aankom en laat vrae ontstaan oor die moontlike manipulasie van die slaagsyfer. Die werklike uitdaging vir Suid-Afrikaanse onderwys is nie om rekord-slaagsyfers na te jaag nie, maar ’n verbetering van die deursetkoers om meer leerders geleentheid te gee om matriek te voltooi. Die regering erken dat meer in hierdie verband gedoen moet word.

Nog ’n bron van kommer is dat talle leerders aangemoedig word om die “makliker” vakke te neem om die slaagsyfer te verhoog ten koste van vakke wat matrieks ’n beter kans sou gee vir verdere studie of beter werksgeleenthede. Die afname in vakke soos Besigheidstudies, Rekeningkunde en Ekonomie wek kommer, gegee Suid-Afrika se ideaal om sy ekonomie te groei.

Die Wiskunde-kwessie

Nog ’n vak waarvan die getalle kwaai gedaal het, is Wiskunde, teenoor die styging in getalle van die “makliker” Wiskundige Geletterdheid. Ons durf nie die risiko hiervan ignoreer nie. Volgens die 2021-PIRLS-studie kon 82% van alle graad 4-leerders nie met begrip lees nie; ’n voorvereiste as jy Wiskundige Geletterdheid as vak wil neem. Leerders wat nie die basiese vaardighede van lees en Wiskunde bemeester het nie, sal sukkel op hoërskool of universiteit.

Ons behoort almal bekommerd te wees dat 12 000 minder matrieks Wiskunde geneem het. Die belangrikheid van Wiskunde vir verdere studie en sekere beroepe, soos mediese dokters en ingenieurs, kan nie genoeg beklemtoon word nie. Daarom behoort die uitslae van die 2023-TIMMS-toetse in Wiskunde en Wetenskap, waar Suid-Afrika laaste uit 64 lande geëindig het, as ’n voortydige waarskuwing te dien. Die Wes-Kaap wat met die hoogste slaagsyfer in Wiskunde (78%) spog en Limpopo het hul prioriteite in plek. Dis bemoedigend dat 44,1%, van dié landelike provinsie se leerlinge Wiskunde kies.

Tegniese vaardighede

Suid-Afrika as ’n ontwikkelende land benodig meer tegniese vaardighede. ’n Hospitaal benodig nie net dokters nie. Loodgieters en messelaars is ook nodig om die hospitaal te bou. Die president se pleidooi dat die departement maniere moet vind om die inskrywing van tegniese vakke en Wiskunde te verhoog, kon nie op ’n beter tydstip gekom het nie.

Gesonde stelsel? 

Die klas van 2024 het buitengewone leerderondersteuning ontvang en die impak daarvan is daar vir almal om te sien. Daarvoor verdien die onderwysdepartement en onderwysers ons lof en dank. Die vraag bly steeds: Kan ons die direkteur-generaal van die onderwysdepartement, Mathanzima Mweli, glo as hy sê dat ons onderwysstelsel nog nooit so gesond was soos nou nie? Ek wens te verskil. Myns insiens was dit hier ’n geval van uitstekende afrigting vir die eksamen.

...............

Meer TVET-kolleges is nodig sodat meer studente ’n tegniese rigting na graad 9 kan volg.

...............

Die helfte van die klas van 2024 (byna 337 158) se uitslae was veronderstel om hulle toe te laat tot Baccalaureus-studie. Ons 26 universiteite bied egter net 202 000 sitplekke. Terwyl ek hier skryf, wag 300 studente steeds voor KSUT se hekke. By die UK het betogende studente die intervarsity-wedstryd ontwrig en op die Matie-kampus word daar vandag (Woensdag 19 Februarie) ’n massavergadering gehou oor onder andere studente wat nie genoeg akkommodasie het nie. Beter belyning is nodig tussen die departemente van basiese onderwys en hoëronderwys. Die linkerhand weet nie wat die regterhand doen nie. Meer TVET-kolleges is nodig sodat meer studente ’n tegniese rigting na graad 9 kan volg. Ons benodig egter ook meer skole en die begroting is uitgeput.

So, wat kan erger wees as om matriek te druip? Dit is om jou gat af te werk sodat jy teen al die verwagting in slaag en met ’n matrieksertifikaat sit wat jou toegang gee tot ’n graadstudie, maar daar is nêrens plek vir jou nie. Sou ons wel ’n verbeterde onderwysstelsel gehad het, sou daardie 300 studente wat gisteraand voor die hekke van die KSUT geslaap het, ’n welverdiende heenkome gehad het.

Die regering het hulle in die steek gelaat.

Michael le Cordeur is Emeritus Professor in Opvoedkunde aan die Universiteit Stellenbosch en ’n onderwyskonsultant vir skole wat hulself wil herdefinieer.

Lees en kyk ook:

Gratis hulp vir leerders, onderwysers en ouers!

Is matriek regtig die towerstaffie?

Skole se invloed op die onderbou van (on)geletterdheid

"Onderwys in syfers"-verslag: ’n onderhoud met Riaan van der Bergh

Hoe leer kinders die taal van wiskunde aan? ’n Onderhoud met Wilhelm du Toit

Leesbegrip? ’n Kinderboek kan jou kind se wêreld oopbreek

Running Records (RR) as ’n leesassesseringstrategie om leesonderrig in Suid-Afrikaanse grondslagfaseklaskamers te ondersteun

Reguit met Robinson: Onderwyssektor onder beleg

Hoe los ons die onderwyskrisis op? Faeed Amardien se oplossings

Loeriesfontein Hoërskool behaal ’n 100%-slaagsyfer: oud-matrikulante vertel hoe hulle dit reggekry het

"Behalwe (die besit van) skryfbehoeftes, is dit ook belangrik dat die leerders elke dag in die skool moet wees": wenke vir ’n suksesvolle skooljaar

’n Donker wolk en ’n nuwe skooljaar: ’n gesprek met ’n skoolhoof van Kuilsrivier

COVID-19 en verlore skooltyd: Earl Basson se wenke aan ouers en onderwysers

  • 1

Kommentaar

  • Barend vd Merwe

    Suid-Afrika is bankrot. En lei deesdae onderwysers, dokters ens. op vir die oorsese markte. Die Minister van Gesondheid, Aaron Motsoaledi, het vroeer vanjaar vir 'n groep werklose jong dokters gese hulle moet maar oorsee gaan en daar gaan werk:

    https://www.medicalbrief.co.za/minister-under-fire-as-number-of-jobless-doctors-grows/

    Die rede, soos ons natuurlik almal weet, is dat die politici al die geld gesteel het. Die ANC se anti-kapitalistiese beleide het verder die belastingsbasis ook verwoes oor 3 dekades.

    Daar is ook klomp onderwysers wat nie werk kry nie.

    Die universiteite is juis totaal en al behep met hulle posisies op die internasionale ranglyste, wat vir hulle belangriker is as die werklikhede wat in hulle eie land aan die gang is.

    Vaardighede en kwalifikasies en kundigheid is eintlik glad nie nodig in Suid-Afrika nie. Dis nice om kwalifikasies te he, maar jongmense sal beter vaar deur eerder te fokus op konneksies in die politiek en die privaatsektor. Jou gade gaan meer deure oopmaak as jou grade. As jy die regte mense ken, kan jy toegang kry tot die BEE-deals.

    Werklose Afrikaners sal skynbaar dalk binnekort as vlugtelinge in die VSA kan gaan werk. Dit behoort uitgebrei te word na ALLE werklose jongmense, nie net Afrikaners nie. Suid-Afrika se werkloosheidskoers is 32 %, terwyl die VSA 4 % werkloos is.

    Ons jongmense se drome word verwoes, terwyl die politici se bankrekeninge kreun van al die geld.

    Gelukkig is daar baie geleenthede oorsee. Australië is nog 'n land met eindelose moontlikhede. Selfs ons buurland, Namibië, raap graag Suid-Afrikaanse dokters en miljoenêrs op, omdat Suid-Afrika nie in hulle belangstel nie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top