Geletterdheid en lees met begrip, of eerder die gebrek daaraan onder graad 4-leerders, het onlangs onder die soeklig gekom. Voeg hierby disfunksionele skole, afwesige pa’s en die land se maatskaplike omstandighede en die uitsig skyn donker te wees. Wat sê kenners?
Wat is geletterdheid?
Nelmari Kemp, ’n projekleier van die Stigting vir die Bemagtiging deur Afrikaans (SBA), sê geletterdheid is die sleutel tot effektiewe kommunikasie, die grondslag vir konneksies deur die bou van sinvolle verhoudings en selfontwikkeling.
Johan Koekemoer, navorser aan die Skole Ondersteuningsentrum (SOS), sê geletterdheid, wat spesifieke vaardighede, ingesteldhede en kennis insluit, is “nodig om suksesvol in ’n snel veranderende wêreld te wees”.
Oordrag van geletterdheid
Johan sê kinders leer deur waarneming en deur interaksie met hul tydgenote. “Alhoewel direkte instruksie belangrik is vir die oordrag van kennis, is dit dikwels ondoeltreffend vir die ontwikkeling van vaardighede en ingesteldhede wat geletterdheid bevorder.”
Die SBA se Zoë-voorleesprojek het ten doel om kinders te bemagtig om kennis en begrippe op ’n akademiese vlak te ontsluit en liefde vir lees te kweek. “In huise waar leesmateriaal vir ontspanning baie beperk is, moet ons ons kinders begelei om met hierdie bronne in aanraking te kom en ’n leeskultuur, wat tot ’n positiewe ingesteldheid teenoor leer lei, te help vestig,” verduidelik Nelmari.
Die vere maak die skool
Statisties is slegs 20% van skole hoogs funksionerend. Volgens Die FW de Klerk-stigting se 2022-indeksverslag behaal leerders in die top 200 skole meer onderskeidings in wiskunde as dié in die volgende 6 600 skole saam. “Onderwys, soos soveel ander aspekte van die Suid-Afrikaanse samelewing, word gekenmerk deur ongelykheid. Kinders met swakker agtergronde is meer benadeel en ly as gevolg van die regering se versuim om hierdie basiese reg in die openbare onderwysstelsel te verseker.”
........
“Onderwys, soos soveel ander aspekte van die Suid-Afrikaanse samelewing, word gekenmerk deur ongelykheid. Kinders met swakker agtergronde is meer benadeel en ly as gevolg van die regering se versuim om hierdie basiese reg in die openbare onderwysstelsel te verseker.”
........
Infrastruktuur
Die Ontwikkelingsbank van Suider-Afrika (DBSA), wat fokus op die ontwikkeling en finansiering van infrastruktuurprojekte wat ’n kritieke rol speel in Suid-Afrika se ekonomiese groei, waaronder die onderwyssektor, sê kwaliteitonderrig kan menslike toestande verbeter en tot die ekonomie bydra. Van die uitdagings soos vervat in die DBSA-verslag “Socio-economic factors that challenge SA’s education system”, is swak of ontoereikende infrastruktuur, wat vervalle en oorvol klaskamers insluit.
Oorwerkte en ongekwalifiseerde onderwysers
Oorvol klaskamers het ’n negatiewe impak op onderrig, meen die DBSA. “Dit benadeel kinders wat addisionele hulp of meer aandag benodig, omdat daar meer ontwrigting in die klas is. Dit is geen wonder dat onderwysers sukkel om 50-plus leerders te bestuur terwyl hulle ook aan elke kind onverdeelde aandag moet gee nie.” Dié instelling voer aan dat onderwysers oorwerk is weens die onderwyser-tot-leerder-verhouding, en sê dít lei tot gapings in kennis.
Die gevolg is dat leerders "nie die gehalte van onderrig ontvang wat hulle veronderstel is om te kry nie," sê die Suid-Afrikaanse Demokratiese Onderwysunie (Sadtu). Volgens Persal-data vir 2004 het 50% van die onderwysers oor ’n Relatiewe Gelykwaardige Kwalifikasiewaarde (REQV) van 14 beskik, die minimum vereiste om as ’n volledig professioneel gekwalifiseerde onderwyser by die Suid-Afrikaanse Raad van Opvoeders (SACE) geregistreer te word, terwyl 10% van die onderwysers on- of ondergekwalifiseerd was. Teen 2016–2021 het die proporsie volledig professioneel gekwalifiseerde onderwysers toegeneem tot 66%. “Dit is waarskynlik ’n onderskatting van die werklike getalle van volledig gekwalifiseerde professionele onderwysers wat in administratiewe data geïdentifiseer kon word,” skryf Debra Shepherd, senior lektor in ekonomie aan die Universiteit Stellenbosch (US), in ’n verslag namens ReSEP (’n navorsingsgroep in US se Departement Ekonomie wat op sosio-ekonomiese beleid fokus) van November 2022.
’n Gebrek aan leermateriaal
........
“Baie Suid-Afrikaanse leerders het nie die nodige materiaal om die onderrig te kry wat hulle voorberei om tot die ekonomie by te dra nie. Dit benadeel leerders en verbreed die gaping tussen die ryk en die arm, wat later ’n domino-effek op die ekonomie sal hê.”
........
“Baie Suid-Afrikaanse leerders het nie die nodige materiaal om die onderrig te kry wat hulle voorberei om tot die ekonomie by te dra nie. Dit benadeel leerders en verbreed die gaping tussen die ryk en die arm, wat later ’n domino-effek op die ekonomie sal hê wanneer hulle die arbeidsmark betree sonder die nodige vaardighede om ekonomiese groei aan te moedig,” meen die DBSA-volgens hul webtuiste (www.dbsa.org).
Boeke en biblioteke
Die drukgroep Equal Education (EE) skryf in ’n persverklaring van 4 Oktober vanjaar dat hoop op verbeterde onderwys op biblioteke berus, maar dat slegs 8% van openbare skole funksionerende biblioteke het. Sowat 13% van skole het ’n biblioteekruimte sonder boeke en 79% het geen fisiese biblioteekruimte of ’n boekversameling nie. “Hierdie syfers moet beskou word binne die breër konteks van die klasgebaseerde ongelykhede in ons onderwysstelsel en samelewing. In Khayelitsha het slegs ’n handjievol van die 53 skole funksionerende biblioteke, terwyl die res van die township se 700 000 inwoners van net vyf openbare biblioteke afhanklik is. Dit is duidelik dat boeke vir die bevordering van geletterdheid vir almal maklik toeganklik moet wees.”
Die driestroommodel
Jaco Deacon, uitvoerende hoof van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas), skryf in ’n verklaring van Mei vanjaar: “Fedsas is bekommerd oor die stadige pas waarteen die driestroommodel geïmplementeer word. Die doel hiermee is om drie afsonderlike onderrigstrome te skep, naamlik akademies, vaardigheidsgerig en beroepsgerig. “Fedsas steun hierdie model, omdat dit die land se vaardigheidstekort sal aanspreek en terselfdertyd verligting vir die hoë werkloosheidsyfer onder jongmense sal bring. Dit gebeur egter te stadig.” Die driestroommodel is daarop gemik om leerders in tegniese, of beroepsmatige, of algemene skole in te stroom. Maar die ongelykheid wat die onderwysstelsel voortdurend herhaal, dreig om geformaliseer – selfs versterk – te word deur die driestroomstelsel, waarsku EE. Dié drukgroep sê die groot meerderheid van skole wat swart leerlinge dien, is wanfunksioneel en kan nie leerlinge behoorlik leer lees, skryf en tel nie.
Die uitwerking
Die Menslike Kapitaal-indeks vir Suid-Afrika is 0,43 volgens die Wêreldbank. “Dit beteken ’n kind wat vandag in Suid-Afrika gebore word, sal 43% minder produktief wees as ’n kind met voltooide onderwys en volle gesondheid – wat dui op ondoeltreffende spandering aan onderwys.” Hierby sluit ’n onlangse studie deur die Australië-gebaseerde, niewinsgewende, Wêreldgeletterdheidstigting aan: “Drie miljoen van Suid-Afrika se 60 miljoen burgers het nie basiese onderwys nie. Hul gebrek aan geletterdheid en numeriese vaardighede het ’n nadelige invloed op die produktiwiteit en winsgewendheid van besighede. Dít, saam met ander probleme wat met ongeletterdheid verband hou, kos die Suid-Afrikaanse ekonomie jaarliks $6,7 miljard.”
Moontlike oplossings
Die Instituut vir Opvoedkundige Wetenskappe (IES) het bevind dat leerders wat graadvlakvaardigheid in lees teen graad 3 bereik, vier keer meer geneig is om te slaag en suksesvol in hul loopbane te wees. Die organisasie maak die volgende voorstelle ter verhoging van geletterdheidsvlakke onder kinders:
- Gesinne kan leerders beter in die huisleeromgewing ondersteun.
- Ouers se positiewer houdings teenoor lees, die aantal boeke by die huis, en die tipes vroeëgeletterdheidsaktiwiteite.
- Die besteding van meer tyd buite die skool aan leer, insluitend by die huis en in gemeenskaplike leeromgewings, bied verhoogde ondersteuning en oefening wat die aanleer van vaardighede verskerp.
- Die verbetering van gehalte-onderrig. “Professionele ontwikkeling kan opvoeders se kennis en bewustheid van die effekte van vroeëgeletterdheidsprestasie verhoog en hulle help om op die geletterdheidsbehoeftes van die leerders te fokus.”
- Moedertaalonderrig
- Die bywoon van vakansieskole en voorskoolse programme
- Verbeterde aandagspan van leerders
- Gereelde skoolbywoning – uiteraard presteer studente wat meer as 10% van die tyd afwesig is, bloot swakker in assesserings.
Lees ook:
Onderwyshulp en leesbegripstrategieë 7: Die maak van afleidings
Kommentaar
Ek is reeds 27 jaar betrokke in die onderwys, as Engelse onderwyseres. Kinders uit top skole in my dorp, Worcester, is semi-geletterd. Al die bronne is daar. Solank as sogenaamde topskole en die onderwysdepartement volhou met die huidige patroon, gaan niks verander nie. Daar word gejaag na punte sonder begrip. Die krisis gaan oor 10 jaar volkome wees.