’n Eerste biblioteek
Daar was nie regtig geld vir boeke in ons huis nie. Die paar wat wel daar was, het ek vinnig klaar gelees, daarom het my ouers ons kinders elke twee weke na die openbare biblioteek in Welkom geneem. Die skoolbiblioteek was egter ook onontbeerlik.
Op laerskool het die biblioteekonderwyser ons geleer hoe om ’n gekleurde plankie as plekhouer in die rak in te skuif wanneer ons ’n boek uithaal. Nog later het sy ons van die Dewey desimale sisteem geleer en met elke biblioteekperiode het ons meer en meer van ons skool se boekeparadys ontdek.
Op hoërskool het die biblioteek tot verdere ontdekkings gelei. Hier het ek onder leiding van Miss Groenewald, die Engels-onderwyser, onder andere George Orwell se 1984 gelees. Ek het dit beslis nie alles verstaan nie, maar dit het my verwonderd gelaat. Is dit wat boeke aan jou kop kan doen? Dit het gevoel of ek daarna met ’n geheime ontdekking in my rondloop.
’n Paar jaar gelede is ek terug by my ou hoërskool. Dit was ’n skokkende ontdekking om te sien die geliefde biblioteek het na ’n lokaal onder die skoolsaal verskuif. Al die boeke was deurmekaar. Niemand het die biblioteek gebruik nie. Om te dink dit was eenmaal vir my ’n droomhawe.
Die verdwyning van skoolbiblioteke
Tog is dit hoe sake nou in driekwart van Suid-Afrika se staatskole staan. ’n Verslag van Augustus 2023 oor die geriewe by staatskole slaan ’n mens stom.
Op daardie stadium was daar 22 597 staatskole. 74,2% van hulle het geen biblioteek of mediasentrum nie. Van die skole wat wel ’n biblioteek het, het 43,1% nie voldoende boeke nie. ’n Facebook-gebruiker bevestig hierdie situasie op een van my plasings: “My laaste hoërskool het ’n biblioteek gehad maar nie een boek. En so was dit vir jare.”
Dit gaan die slegste in die Oos-Kaap. Uit hulle 5 046 staatskole het slegs 354 skoolbiblioteke. Maar selfs dit beteken niks, want uit dié handjievol het slegs 215 van hulle enigsins boeke.
Limpopo se 3 649 staatskole vaar nie veel beter nie. Slegs 314 het biblioteke en 108 het biblioteekboeke.
Gauteng vaar die beste. 67,9% van hulle 2 066 staatskole het biblioteke. Ongelukkig het slegs 881 van hulle biblioteekboeke.
Hoekom nou hierdie bohaai oor skoolbiblioteke?
Ons weet almal die land verval teen ’n skrikwekkende tempo. By skole gaan dit nie veel beter nie; dis hoekom privaat skole so gewild is.
In 2013 het die Equal Education-organisasie druk op die minister van basiese onderwys, Angie Motshekga, geplaas oor toestande by skole. Hieruit het ’n dokument oor die Minimum norme en standaarde vir staatskole voortgevloei. Die dokument vereis onder andere dat alle skole ’n skoolbiblioteek of mediasentrum moet hê, asook ’n minimum, voldoende en toepaslike versameling boeke. Die versameling moet boonop gereeld aangevul word volgens skole se behoeftes.
........
Suid-Afrika se kinders is weer eens in die steek gelaat.
........
Die sperdatum hiervoor is 29 November 2023. Ons is nou minder as twee maande weg van die datum, maar dit is totaal buite bereik as mens na die statistiek kyk. Suid-Afrika se kinders is weer eens in die steek gelaat.
Volgens ’n DBO-infrastruktuurverslag van April 2023 sal dit R8 miljard kos om binne die volgende sewe jaar skoolbiblioteke te bou. So, daar is dus uiteindelik planne hiervoor? Nee, jammer, nie met hierdie regering nie. Die verslag meld nie eens voornemens om skoolbiblioteke te bou nie.
Maar die internet is mos genoeg ...?
Baie mense sal reken dat die internet skoolbiblioteke kan vervang. Dit is wel so dat die internet onontbeerlik vir leerders is, maar boeke is ook broodnodig. Leerders moet albei kan gebruik.
Biblioteke is ook die plek waar talle leerders studeer. Ek was ’n paar jaar gelede by die Heidedal openbare biblioteek in Bloemfontein. Smiddae is die plek gepak met leerders. Hulle lê selfs op die vloer en huiswerk doen. Dis ’n veilige plek, gewoonlik met elektrisiteit, gewoonlik met stilte.
Biblioteke is daarom ook ons droomplek, ons saamkomplek, ons leesplek en ons leerplek. Rondom boeke word vriende gemaak, kennis uitgeruil, stories en verwondering gekoester.
........
Dit is wel so dat die internet onontbeerlik vir leerders is, maar boeke is ook broodnodig. Leerders moet albei kan gebruik.
........
Wie moet skoolbiblioteke bou?
André Groenewald, ’n oudonderhoof van ’n laerskool in Bloemfontein, verduidelik dat die verantwoordelikheid vir openbare skole by die staat, in samewerking met die beheerliggaam en die senior bestuur van die skool berus. Die staat is egter nie altyd bewus van die etos en die metodiek van skole nie. Van hulle kom glo nie eens by skole nie, daarom voel hy dat die beheerliggaam en senior bestuur eerder die leiding moet neem en die staat kan eerder vir die finansiering sorg, maar dit gebeur ook nie. Soos met die herstel van paaie sal die publiek ook moet inspring om skoolbiblioteke tot stand te bring.
Hulp met skoolbiblioteke
’n Gemeenskapsorganisasie soos The Bookery het baie meer sukses as die regering. Hulle het al 93 skoolbiblioteke gebou. Die jongste een, by die Zibodla Primêre Skool, se rakke is met 4 000 boeke volgepak. Die onderwysers en leerders is gaande daaroor.
Sheldon Spear se Need 2 Read-organisasie het al talle skoolbiblioteke tot stand gebring. Hy het selfs in 2022 ’n ATKV Woordveertjie daarvoor ontvang.
Die private sektor se hulp moet ook ingeroep word. Absa het destyds die Trompsburg Primêre Skool se biblioteek help vestig. Avbob het onlangs die Letlotlo Primêre Skool in QwaQwa van ’n biblioteek voorsien. Die mooi skeepsvraghouer sal in die skool se basiese behoeftes voldoen. Ook in die Wes-Kaap sal jy sulke vernuwende skeepsvraghouerbiblioteke kry. Hulle is ideaal as geld skraps is.
Die Light from Africa Foundation help eweneens om skoolbiblioteke tot stand te bring of te vernuwe. Hulle het byvoorbeeld saam met die Oxford Centre for Fantasy gewerk om fantasieleeshoekies in minderbevoorregte skole se biblioteke te maak om JRR Tolkien se lewenswerk te gedenk.
Ander organisasies, soos Biblionef, Room to Read en Read to Rise, help ook om boeke in leerders se hande te sit.
Ten slotte
’n Onlangse internasionale studie het getoon dat 81% van Suid-Afrikaanse graad 4-leerders nie met begrip kan lees nie. Ons kan nie langer wag vir politici om geletterdheid te verbeter nie. Hulle kan skaars ’n slaggat in ’n pad toegooi. Ons skole moet biblioteke kry, en die biblioteke moet boeke kry. Dit is ononderhandelbaar.
Lees ook:
Kommentaar
By die lees hiervan, dink ek nou nogal terug aan so dekade of wat gelede, 2012/2013. Daardie jare is ons baie goed deur sommiges laat verstaan dat biblioteke sal verdwyn. Digitale boeke sou biblioteke oorbodig maak. Dit het toe ook gebeur dat biblioteke gekwyn het, maar toe nou nie weens 'n einde aan die behoefte nie, maar weens wanbestuur. En nou verlang ons terug na daardie biblioteke...
Met die nuwe BELA-wetgewing, wat die skoolbeheerliggame se magte gaan inkort, sal privatisering waarskynlik verder versnel, en die skole, wat almal staatskole gaan word, gaan bestuur word in lyn met die standaarde wat gehandhaaf word by ESKOM, SAL, TRANSNET, PRASA, POSKANTOOR, DENEL, SABC, Staatsdepartemente ens. ens. Ek glo ons politici werk onverpoos aan die saak. Hulle is gelukkig mos goed toegerus met die nodige kragopwekkers, diesel, blouligbrigades en sekuriteitswagte wat hulle sal beskerm terwyl hulle met al hulle harde en belangrike werk besig is.
n Uiters belangrike punt wat hier bespreek word. Ek beskik oor n B Bibl (ed) kwalifikasie wat ek in 1989 nog by die destydse UOVS verwerf het. Die probleme met skoolbiblioteke het al in 1990 begin toe skoolbibliiteke met rekenaarsentrums vervang is. Boeke is letterlik in bokse gepak om vir rekenaars plek te maak. Skoolbiblioteekposte het toe al so skaars soos hoendertande begin word. Genadiglik het ek by n aktiewe openbare biblioteek betrokke geraak waar ons die afgelope paar jaar op n gereelde basis positiewe onderwysers in die gemeenskap help wat biblioteke by hul skole tot stand probeer bring. Ek hoop regtig dat die noodroep vir skoolbiblioteke die regte ore sal bereik...veral dié mense wat met die begrotings werk.