"Behalwe (die besit van) skryfbehoeftes, is dit ook belangrik dat die leerders elke dag in die skool moet wees": wenke vir ’n suksesvolle skooljaar

  • 0

Foto van Sonja Saal: verskaf; foto van skryfbehoeftes: Unsplash

Dis die begin van die nuwe skooljaar.

Suid-Afrikaners draai die sente om. Sommige huishoudings draai die sente meer as een keer om.

Hoe maak die ouers van skoolkinders om die beste skryfbehoeftes teen ’n bekostigbare prys in die hande te kry? Hoe rus ’n mens die kinders toe vir skool vanjaar? Naomi Meyer het vir Sonja Saal, ’n opvoeder by Loeriesfontein Hoërskool, vir praktiese wenke gevra.

Sonja, vertel asseblief vir ons lesers van jou agtergrond.

My naam is Sonja Saal. Ek is ’n Loeriesfonteiner gebore en getoë en is ’n opvoeder by Loeriesfontein Hoërskool vir die afgelope 11 jaar.

Wie is die skoolgemeenskap waar jy ’n opvoeder is?

Loeriesfontein is ’n klein dorpie in die Noord-Kaap wat bekend is vir die grootste windpompmuseum. Die populasie is nie baie groot nie en werkloosheid is, soos ook in die grootste gedeelte van ons land, maar ’n groot probleem. Alhoewel die ontstaan van die wind- en sonplase vir ’n paar jaar effens verligting vir ’n groot gedeelte van die gemeenskap gebring het, was dit gou weer terug na “normaal”. Dit het natuurlik ’n groot effek op ons leerders, veral omdat die pryse by die minuut styg en die sakke net so vinnig plat bly.

Baie van die leerders kry maatskaplike toelaag, wat beslis nie voldoende is om in al hul skoolbehoeftes te voorsien nie. Baie ouers is ook werkloos en ons gemeenskap se mense is verskriklik lief vir hul dorpie en dus is hulle maar sku om uit te reik om werk te gaan soek op ander dorpe.

Hoe ervaar jy ouerbetrokkenheid en -ondersteuning in jou plattelandse omgewing?

Ten spyte van moeilike omstandighede, gaan die ouers werklik uit hul pad om te sorg dat hulle kinders slaggereed skool toe kom.

Het jy wenke vir ouers wat finansieel swaarkry, maar steeds die beste vir hulle kinders wil gee?

Vir die ouers wat werklik sukkel, sou ek die volgende raad gee:

  • Vergeet van die gewoonte, as ’n mens dit so kan noem, om te wag om alle skryfbehoeftes op een slag in Desembermaand te koop. As jy byvoorbeeld ’n boek, pen, plastiek, ensovoorts koop saam met elke maand se inkopies, behoort die las beslis ligter te wees teen Desembermaand.
  • Vra die skool vir ’n skryfbehoeftelysie aan die begin van die jaar – soms vra die kinders goed wat nie nodig is nie, soos highlighters, gekleurde penne, wat nogal redelik duur is. Maak ook seker dat u die lysie goed deurgaan. Die meeste skole vul die boeke aan as die kind nie genoeg het om die jaar te begin nie.

Wat is die belangrikste skryfbehoeftes waarmee ’n kind akademies kan vorder?

...........
Die basiese skryfbehoeftes wat ’n leerder benodig, is een blou pen, een potlood, een uitveër, ’n liniaal en ten minste ’n skryfboek vir elke vak. 
.............

Die basiese skryfbehoeftes wat ’n leerder benodig, is een blou pen, een potlood, een uitveër, ’n liniaal en ten minste ’n skryfboek vir elke vak. In ’n klein skooltjie soos ons s’n vul ons as opvoeders ook aan waar dit nodig mag wees. Al wat die leerders moet doen, is om te praat as hulle hulp nodig het.

Hoekom dink jy is iets soos skryfbehoeftes belangrik?

Skryfbehoeftes is van kardinale belang vir elke leerder. Indien hulle nie van die begin af bybly met die notas wat geskryf moet word nie, dan raak dit moeilik om in te haal. Die kurrikulum is redelik lywig en notas is belangrik vir elke leerder.

Wil jy ook aan die begin van die skooljaar vir die leerders van elke skool iets sê?

............
Behalwe skryfbehoeftes, is dit ook belangrik dat die leerders elke dag in die skool moet wees.
............

Behalwe skryfbehoeftes, is dit ook belangrik dat die leerders elke dag in die skool moet wees. Ek sê altyd vir die leerders, dit baat nie om te sit met ’n probleem of behoefte waaraan ons saam iets kan doen nie. Dan, gee jou samewerking te alle tye, doen jou tuiswerk gereeld, vra as jy die werk nie verstaan nie, woon die ekstra klasse by wat aangebied word. Laaste, maar nie die minste nie: Behandel jou meerderes met respek en onthou jou morele waardes wat jou ouers jou geleer het!

Lees ook:

Matriekuitslae in Loeriesfontein: Sonja Squires deel ’n verhaal van hoop

Indeks: notas, toetse en vraestelle

Eksamenwenke aan ouers en leerders: Renette Symington, ’n opvoeder, gee raad

Eksamenwenke aan ouers en leerders: Faeed Amardien, ’n opvoeder, gee raad

BELAB and mother tongue education: an interview with Sindiwe Magona

BELAB en moedertaalonderrig: ’n gesprek met Jaco Deacon aan die begin van 2024

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top