
bbbeti op Pixabay
...............
Kinderboeke kan jou kind se hele wêreld oopbreek. Naas die aspekte rondom kinderboeke self soos ouderdomsbeperking, geskiktheid en kwaliteit, is een van die belangrikste aspekte die vermoë om met begrip te kan lees. Dié artikel fokus op die belang van leesbegrip en die rol wat kinderboeke kan speel om kinders se lees-, sowel as leesbegripvaardighede te verbeter.
...........
Kinderboeke kan jou kind se hele wêreld oopbreek. Naas die aspekte rondom kinderboeke self soos ouderdomsbeperking, geskiktheid en kwaliteit, is een van die belangrikste aspekte die vermoë om met begrip te kan lees. Dié artikel fokus op die belang van leesbegrip en die rol wat kinderboeke kan speel om kinders se lees-, sowel as leesbegripvaardighede te verbeter.
Eerstens word die resultate van die PIRLS- en ANA-toetse in Suid-Afrika tussen 2014 en 2021 asook die uitdagings bespreek wat leerders ondervind met leesbegrip. Tweedens beklemtoon hierdie artikel die noodsaaklikheid van metakognisie en modellering vir die ontwikkeling van leesbegripvaardighede, terwyl dit in gesprek tree met Johan Anker se artikel oor die leesbegripproses wat op LitNet verskyn het.
Wat leesbegrip nou eintlik is, hoe die leesproses werk en waar dinge dan fout gaan, is alles vrae wat hierdie artikel gaan ondersoek. Daar sal gebruik gemaak word van die PIRLS- (Progress in International Reading Literacy Study-) en die ANA- (Annual National Assessment-) geletterdheidstoetse wat kinders in grade 4, 6 en 9 skryf. Dit sal gebruik word as ’n soort barometer vir hoe Suid-Afrikaanse kinders vaar met leesbegrip. Let asseblief ook daarop dat die vermoë om te kan lees en leesvaardigheid nie dieselfde is as om met begrip te kan lees nie. Alhoewel die twee vaardighede afhanklik van mekaar is, is dit nie dieselfde vaardigheid nie.
Kinderliteratuur van kleuter tot jong volwassene het hier ’n baie interessante maar ook kritieke rol te speel. Die vaardigheid om te kan lees en om met begrip te kan lees moet eerstens met mekaar verbind word.
Die ontstellende syfers en statistieke: “Ons kinders kan nie met begrip lees nie!” word veral na die afloop van ’n Nasionale Senior Sertifikaat-eksamen voorgehou. Soms word dit ook gebruik om skok en sensasie te dryf. Ongelukkig, miskien gelukkig, soos met enige statistieke moet dit binne konteks beskou word. Daar sal nou gekyk word na waar Suid-Afrikaanse kinders staan ten opsigte van hulle vermoë om met begrip te kan lees deur na hierdie twee toetsstelsels en hul onderskeie resultate te kyk. Dit behoort ’n goeie konteks en agtergrond te gee waar Suid-Afrika op die leesbegripkontinuum staan.
Internasionale standaarde – PIRLS
Die internasionale PIRLS meet Suid-Afrika teenoor ander lande se kinders van dieselfde ouderdomme, onderskeidelik in graad 4 en 6 (10 en 12 jaar oud). Hier is reeds ’n eerste oranjelig – ons kinders begin eers op 6 jaar met skool en leer om te lees. In Europa en die VSA begin hulle reeds op 4 of 5 jaar skool toe gaan en leer lees.
Daar is ’n paar kernaspekte wat in gedagte gehou moet word, spesifieke kontekstuele feite, wanneer die PIRLS-toetse as maatstaf vir leesbegrip gebruik word.
Eerstens die aard van die toetse: wat die toetse behels, watter leerders getoets word, hoe hulle getoets word en hoe die uitslae verwerk en bepaal word.
PIRLS is ’n internasionale leesvaardigheidstoets wat gebruik word om te bepaal of kinders met begrip kan lees. Dit wil sê dat kinders vrae kan beantwoord oor die teks wat hulle lees en hulle eie gedagtes oor die teks kan vorm gebaseer op wat hulle gelees het. Dit word elke 5 jaar gedoen en in 2021 was dit die vierde keer dat Suid-Afrika aan die PIRLS-studie deelgeneem het.
Dit is baie belangrik om te onthou dat “PIRLS 2021 is the first international large-scale assessment to report achievement trends after successfully collecting data during the COVID-19 pandemic, assessing 400 000 students in 57 countries” (DBO 2023:1). Verder word hierdie data slegs in drie Afrikalande ingewin en dit word regoor verskillende kurrikulums gedoen waar daar beduidende verskille is ten opsigte van lees- en algemene geletterdheidsvlak.
Suid-Afrika is ook die enigste land wat deelneem aan PIRLS waar daar 11 amptelike landstale is en in die verslag word dit beskryf as ’n “diverse nie-homogeniese taalkonteks” veral wat laer sosio-ekonomiese (arm) skole betref.
Kinders van ongeveer 10 en 12 jaar oud word in hierdie studie getoets. In die noordelike halfrond word toetse tussen Maart tot Junie gedoen, omdat dit naby aan die einde van die graad 4-skooljaar is en leerders dan die voordeel het van ’n goeie grondslag van driekwart van die jaar wat reeds verby is.
In die suidelike halfrond (Suid-Afrika ingesluit) is die toetse van Oktober tot Desember afgelê, ten spyte van die Covid-19-pandemie se impak. Dit was grootliks omdat beplanning vir die studie reeds vir ekstra tyd voorsiening gemaak het. Dit was vir die vertaling van die tekste in al 11 geskrewe landstale (insluitend die verifiëring en goedkeuring van die dokumente) om dit betyds te voltooi.
Dit is belangrik om die impak van die Covid-19-pandemie op hierdie resultate in gedagte te hou, omdat Suid-Afrikaanse skole vir lang tye gesluit was. Veral skole wat in die laagste kwintiele funksioneer (armste en minderbevoorregte skole) het beslis hier ’n reuse-impak gevoel. Daar was byvoorbeeld nie die toegang tot hulpbronne wat baie leerders in meer ontwikkelde lande sou gehad het gedurende hierdie tydperk nie.
Wat die toetse betref wat elke leerder afgelê het, het elke leerder ’n boekie ontvang met twee tekste. 1. ’n Literêre (fiktiewe) teks – met ander woorde ’n storie. 2. ’n Inligtingsteks – met ander woorde ’n feitlike leesstuk.
Daar is ook vraelyste deur verskillende belanghebbendes voltooi:
- Early Learning Survey deur ouers of voogde tuis.
- Teacher Questionnaire deur onderwysers in die klaskamer.
- Learner Questionnaire deur die leerders met die twee tekste.
- Curriculum Questionnaire deur die onderskeie onderwysdepartemente.
- School Questionnaire wat deur skoolhoofde voltooi is (DBO 2023:4).
Leerders moes 18 verskillende vrae beantwoord gebaseer op die twee tekste wat verskaf is. Dit is só opgedeel dat geen twee leerders wat langs mekaar sit, dieselfde kombinasie van vrae sou ontvang nie. Die Engelse tekste is aangepas na Verenigde Koninkryk-Engelse spel- en grammatikastandaarde en is gekontekstualiseer vir Suid-Afrika. Die tekste wat deur graad 4-leerders voltooi is, is in die 11 amptelike tale vertaal en vir die graad 6-leerders is die tekste slegs in Engels en Afrikaans verwerk.
Leerders is dan getoets in die taal waarin hulle vanaf graad 1 tot 3 skoolgegaan het – die taal van onderrig (Language of Learning and Teaching). ’n Totaal van 12 426 graad 4-leerders in 321 skole en 9317 graad 6-leerders in 253 skole is geassesseer. Waarvan graad 4-leerders in die 11 landstale in al 9 provinsies getoets is en die graad 6-leerders in al 9 provinsies slegs in Afrikaans of Engels die toetse afgelê het. Die deelnamepersentasie vir die PIRLS-toetse was 97% vir die 2021-verslag (DBO 2023:3).
Dit is wat die internasionale peiling se beperkings behels. Die resultate en aanbevelings van die studie is besonder interessant, gegewe die struikelblokke en beperkings wat in ag geneem moet word.
Wanneer enige resultate van ’n bepaalde studie gebruik word, is daar altyd aspekte wat dinge kan skeeftrek of die resultate onbedoeld kan beïnvloed. Soos vroeër genoem, is daar besorgdheid oor taalomstandighede en die impak van die Covid-19-pandemie wat hierdie resultate kan beïnvloed. Die studie is bedag op hierdie invloede en die volgende uitslae en aanbevelings is deur die PIRLS-studie bevind:
- Suid-Afrika het in die algemeen swak gevaar: “Very low performance levels on learners’ ability to read for meaning as they turn 10. South Africa, at 288 score points, performed significantly below the PIRLS centre point of 500.”
- Die leerders wat die hoogste punte behaal het in die graad 4-groep, was dié wat in Afrikaans en Engels die toets afgelê het: Afrikaans (387) en Engels (382).
- Interessant genoeg is daar ’n 79-puntverskil tussen die graad 6-leerders, waar Afrikaanse leerders 456 punte behaal het teenoor die 377 punte van die Engelse leerders (DBO 2023:4).
Hier moet in gedagte gehou word dat in die graad 6-groep slegs Afrikaans en Engels as taalopsies beskikbaar was om die toetse in te voltooi. Dus is dit baie moontlik dat kinders wat Zulu, Sotho, Xhosa of ander Afrikatale praat en hul onderrig daarin ontvang, die toetse in Engels moes voltooi.
Interessant genoeg vir dié wat wonder wie beter kon lees met begrip tussen seuns of dogters het die studie bevind dat daar geen statistiek-noemenswaardige verskil is nie. Daar is minder as 50 punte verskil tussen seuns en dogters se gemiddelde punte vir beide graad 4 en 6.
Die PIRLS het internasionale standaarde en vereistes vir leesbegripvlakke waarop hulle hul punteskaal skoei. Om op hierdie punteskaal te kan pas, moet ’n land se uitslag tussen 400 en 600 of meer val. Hier is wat elke kategorie van die punteskaal verteenwoordig en wat ’n leerder moet kan doen:
- Low International Benchmark (400–474): Can read to locate and retrieve explicit information.
- Intermediate Benchmark (475–549): Begin to interpret and identify obvious reasons for events in text, as well as giving basic explanations for actions or information.
- High International Benchmark (550–624): Make intricate connections between events in the text. Identify crucial features and make generalisations. Interpret complex text and tables.
- Advanced International Benchmark (625 and above score points): Integrate ideas, as well as evidence across a text to appreciate overall themes, understand the author’s stance, and interpret significant events (DBO 2023:4).
Die vorige rondte toetse vir die PIRLS-studie waaraan Suid-Afrika ook deelgeneem het, is in 2016 gedoen. Tussen 2016 en 2020 se groepe graad 4-leerders was daar ’n beduidende verswakking in die algehele prestasie van die leerders.
Die IEA (International Association for the Evaluation of Educational Achievement), wat die toesighoudende instansie is vir die PIRLS en ander internasionale studies, se gevolgtrekkings en aanbevelings is as volg:
- Die 2021-PIRLS-assessering blyk te moeilik te wees vir ’n hoë persentasie van graad 4-leerders en daar word aanbeveel dat Suid-Afrika eerder aan die LANA- (Literacy and Numeracy Assessment-) studie deelneem. Hierdie studie is gemik op lae- en middelinkomste lande.
- Daar word gewaarsku dat die syfers wat in hierdie 2021-verslag vervat word, nog in die verifiëringsproses is en dat dit nie as finale statistieke beskou moet word nie.
- Daar is geen beduidende verskil tussen die graad 4- en 6-leerders se punte wat die toets in Engels afgelê het nie, maar daar is 96 punte verskil tussen die graad 4- en 6-leerders wat die toets in Afrikaans afgelê het. Daar word ook vermeld dat amper alle Afrikataalleerders die toetse in Engels afgelê het (DBO 2023:9).
Wat aanbevelings betref om ons leesbegripvaardighede onder graad 4- en 6-leerders te verbeter, is daar die gewone aanbevelings: Verbeter die onderrig van lees en die hersiening van die kurrikulum – wat baie tyd neem om werklik vrugte af te werp.
Die drie voorstelle wat van belang is en wat dié artikel op die voorgrond wil stel, is:
- Daar moet meer tyd bestee word aan die aanleer en oefen van lees as ’n vaardigheid in skole – die huidige KAVB-kurrikulum gee slegs 5 uur in ’n 2-week-siklus tyd vir leesonderrig, dit is net twee en ’n half uur per week.
- Die verskaffing en beskikbaarheid van leesmateriaal: ”DBE should allocate funding specifically for these schools to have classroom libraries with books that are grade appropriate” (DBO 2023:9). Makliker gestel – elke skool MOET ’n skoolbiblioteek of ten minste klasbiblioteke hê en dit behoort as ’n prioriteit beskou te word, nie ’n luuksheid nie.
- Die opleiding en praktyk van onderwysers rondom leesonderrig en watter rol dit kan speel in ’n veeltalige klaskamer moet ondersoek word. Daar moet spesiale aandag gegee word aan hoe onderwysers opgelei word om vir kinders die vaardigheid van lees aan te leer, spesifiek “having a look at aspects such as the methodology of languages” (DBO 2023:9).
’n Baie goeie voorbeeld van hoe hierdie aanbeveling as verandering in aksie gesien kan word, is LAPA se onlangse veldtog “Operasie: Kom ons kry ons leerders se leesvaardighede weer op koers!” waar al die rolspelers betrokke raak om kinders aan die lees te kry ten einde nie net hul leesvaardighede te verbeter nie, maar ook hul leesbegripvaardighede. Lees meer hieroor op hul Facebook-blad.
Laastens is daar die kwessie waarvan ons almal bewus is, maar waarvan die proses uiters stadig is. Die ontwikkeling van inheemse en spesifiek Afrikatale. Moedig kinders aan om in hul eie taal te lees en hier kan ons beslis die werk van die Book Dash-inisiatief wat boeke in Afrikatale help publiseer, bevorder.
Dit is die internasionale perspektief vanuit die groter lens en deur ’n onafhanklike entiteit wat in Suid-Afrika leerders kom toets het. Alhoewel hul sensitief was vir faktore wat uniek is aan die Suid-Afrikaanse konteks, moet ons ook kyk wat ons eie Departement van Onderwys se bevindings en statistieke sê oor ons leerders se leesvaardigheid en leesbegripvermoë.
Nasionale standaarde – ANAs
Hierdie toetsstelsel wat deur ons eie regering en Departement van Onderwys gebruik word om ons eie leerders teen hulself te meet, word in siklusse van drie tot vyf jaar (aanvanklik was dit elke jaar) afgelê. Die Jaarlikse Nasionale Assessering of beter bekend as die Annual National Assessment (ANAs) word deur beide staat- en privaatskole afgelê. Dit bevat taal- en wiskundetoetse vir graad 1- tot 6-leerders en sluit ook graad 9-leerders in. Die laaste volledige verslag wat beskikbaar is, is vir 2014, waar die toetse landswyd in 2011 en 2012 afgelê is. Sedertdien is daar beperkte weergawes van hierdie toetse in 2015, 2019 en 2021 afgelê. 2014 se verslag verteenwoordig die kinders wat toe in graad 6 was en hulle is nou waarskynlik eerstejaars op universiteit, kollege of in die werksmag.
In die geval van hierdie artikel sal daar slegs gekyk word na bevindings oor taal- en leesvaardigheid vir grade 4, 5, 6 en 9, omdat dit ooreenstem met die ouderdom van leerders wat in die nuutste PIRLS-toetse getoets is. Dit behoort vergelykbare inligting te bied wat as ’n gemiddelde maatstaf gebruik kan word vir Suid-Afrikaanse leerders se leesvaardigheid en die verband met hul leesvaardigheid op ’n internasionale vlak.
Wees bedag daarop dat die ANAs nie toegespits is op leesbegripvaardighede soos die PIRLS nie, maar dat daar wel ’n leesbegripkomponent getoets word as deel van die taal- en leesvaardigheidtoetse.
Dit is belangrik dat hierdie toetse fokus op wiskunde en taal, dit wil sê, dat daar ’n syfervaardigheid en leesvaardigheid getoets word wat nie heeltemal ’n duidelike indikasie van ’n leerder se leesbegripvaardigheid sal weergee nie.
Soos vroeër genoem, word graad 4-, 5-, 6- en 9-leerders getoets, wat ’n effe wyer verspreiding van ouderdomme gee; basies word die hele intermediêre fase getoets (graad 4–6). Daar is ’n verdere steekproef van graad 9-leerders wat dan reeds twee jaar in die seniorfase voltooi het. Dit is belangrik om te meld dat graad 9 die eerste uitgangspunt is waar ’n leerder ’n Algemene Onderwys Sertifikaat kan behaal en die skool kan verlaat. Daarna betree leerders van ongeveer 15 jaar óf die verdere onderwys- en opleidingsfase óf hulle het die opsie om ambagsvakke of beroepsgerigtevakke by ’n TVET-kollege te voltooi.
Die belangrikste merkers van hoe leerders getoets is, is dat alle lees- en taaltoetse in leerders se moedertaal afgelê is, sowel as in eerste addisionele tale. Dit beteken dat hierdie studie se toetse ’n groter waarskynlikheid het om ’n meer akkurate uitslag te bied. Die land se taalkonteks, asook hoe dit in die onderwysstelsel aangebied en hanteer word, word weerspieël in hierdie studie.
Interessante resultate
Let wel dat hierdie resultate slegs ’n indikasie gee en nie harde, vaste syfers is nie, omdat hierdie verslag een is oor toetse wat in 2012 en 2013 afgelê is. Dit is eers in 2014 gepubliseer en daar het reeds 9 jaar verloop sedert hierdie spesifieke uitslae. Die daaropvolgende toetssiklusse het nog nie finale verslae opgelewer nie en die 2019- en 2021-siklusse is nie deur die bank afgelê deur al die skole in Suid-Afrika nie, weens die impak van die Covid-19-pandemie.
- Graad 4-huistaalleerders: Hierdie leerders het die toetse in hul huistaal afgelê.
Leerders het gesukkel om:
- antwoorde te gee gebaseer op ’n teks wat verwag het dat die leerder ’n mening of rede vir ’n antwoord moes verskaf;
- sinonieme en antonieme vir woorde uit die teks te gee;
- sinne van een tyd na ’n ander oor te skryf;
- die struktuur van ’n dialoog te gebruik;
- ’n kort basiese storie te skryf gebaseer op die teks wat hulle gelees het.
Leerders in hierdie groep het ’n duidelike probleem ondervind met dit wat hulle wel kan lees, maar nie met hoër vlakke van begrip kan verstaan nie. Hulle kon wel basiese begrip toon deurdat hul eers begin sukkel het wanneer daar denkvlakke bo dié van ’n basiese oorvertelling vereis word.
- Graad 6-huistaalleerders: Hierdie leerders het ook die toetse in hul huistaal afgelê, anders as met die PIRLS-toetse waar hierdie groep leerders beperk is tot Afrikaans en Engels.
Leerders het gesukkel om:
- nuwe woorde binne konteks te verstaan;
- voor- en agtervoegsels te identifiseer;
- leesstrategieë te gebruik om ’n teks op te som;
- oorsaak en gevolg in ’n teks te identifiseer;
- korrek te spel en lees- en skryftekens te gebruik;
- beeldspraak en stylfigure te identifiseer en te verstaan.
Die meeste leerders kon verstaan wat hulle lees, maar kon sekere sleutelelemente nie identifiseer nie. Hulle kon nie die inligting wat hulle gelees het, verwerk of prosesseer nie, wat dui op gemiddelde tot goeie leesvaardigheid maar ’n groot leemte wat leesbegrip aanbetref.
Graad 4-leerders het ’n gemiddelde prestasie van 60% vir die lees- en kyk-gedeelte van die toets ontvang, maar slegs tussen 55% en 53% vir die taalstrukture en konvensies- en skryf en aanbied-afdelings. Die kurrikulum maak ook gebruik van hierdie drie kategorieë vir die samestelling van die lees- en skryfvaardighede-onderrigplan. Dit wil sê dat die samestelling van die toetse wat geskryf is, nie anders is of noemenswaardig verskil het van wat leerders deur die jaar in hul skoolwerk sou teëkom nie.
Enkele van die aanbevelings was om ’n groter fokus op woordeskat te plaas en om meer leesbegripoefeninge te doen met ’n wye verskeidenheid tekste.
Vir die graad 6-leerders was dit interessant dat die skryf en aanbied-afdeling ’n 66%-prestasie getoon het, teenoor lees en kyk wat 32% is. Taalstrukture en konvensies het slegs 12% getoon, wat verduidelik hoekom leerders goed kon lees maar nie met grondige begrip die teks kon verstaan of daarmee werk nie.
In graad 6 is daar geïdentifiseer dat leerders se beperkte woordeskat hul vermoë belemmer het om te kan lees, sowel as om met begrip te kan lees. Hierdie bevinding is duidelik omdat leerders nie ’n afleiding of opinie kon verwoord omtrent die gebeure in ’n storie nie. Die leerders kon nie die woorde verstaan in die teks nie, hul kon dit daarom nie lees nie en dus nie genoegsaam begryp nie. Leerders kon ook nie redes vir hul antwoorde verskaf nie omdat hulle nie werklik verstaan het wat hulle gelees het nie. ’n Verdere bewys hiervan is dat graad 6-leerders nie oorsaak en gevolg in ’n teks kon identifiseer of aflei uit gebeure in die teks nie.
Die interessante aanhaling kom uit die samevatting dat “the evidence suggests an improvement in comprehension skills” (DBO 2014:102), wat geensins klop met wat die internasionale PIRLS-toets bevind het nie.
Kyk ons na die enkele aspek van ’n leerder wat nie oorsaak en gevolg kan identifiseer aan die hand van ’n teks wat hy of sy gelees het nie, moet daar ook gevra word of die leerder die konsep verstaan en of dit werklik net ’n geval is waar die leerder nie die woordeskat het nie. Want dan is dit nie ’n probleem van “ek verstaan nie die woord nie”, maar ’n werklike leesbegrip-probleem.
Wanneer ’n mens kyk na die ware betekenis van wat bedoel word met leesvaardigheid en leesbegrip, dan kan daar nie ’n verbetering in leesbegripvaardighede wees nie. Wat die stand van sake tans is, is moeilik om te bepaal omdat die statistieke en die geldigheid, betroubaarheid en deeglikheid daarvan nie juis in lyn is nie. Studies wat nie deur die Departement van Onderwys gedoen is nie, word sonder twyfel hierby uitgesluit. Die grootste faktor was die Covid-19-pandemie vir die periode van 2020 tot einde 2021, omdat Suid-Afrika se skole ’n groot impak ervaar het waar skole vir lang periodes gesluit is.
Die uitslae van hierdie twee toetsstelsels dui beslis daarop dat die verskil tussen leesvaardighede en leesbegrip verwarrende of selfs misleidende statistieke tot gevolg kan hê. ’n Kind wat goed kan lees, het nie noodwendig goeie leesbegripvaardighede nie.
Daarom is dit belangrik om te kyk na die proses wat betrokke is by leesbegrip.
Ware betekenis van lees en leesbegrip
Waar en hoe werk die ware betekenis van lees en waar pas leesbegrip dan eintlik in? Dit is juis hierdie komplekse vraag wat Johan Anker (2022a) in sy artikel “Onderwyshulp: Hoe wyd lê die betekenis van lees? Die toepassing van metakognisie en modellering” probeer beantwoord.
Anker, ’n dosent aan die Kaapse Universiteit van Tegnologie (KSUT) in Kurrikulumstudies, ook by die Universiteit Stellenbosch (US), het ’n besondere interessante artikel in 2022 by LitNet gepubliseer oor presies die kwessie van leesbegrip en hoe wyd die betekenis van lees werklik kan lê.
Anker verduidelik op ’n metodiese en stapsgewyse manier presies wat betrokke is by die proses van lees en waar begrip ter sprake kom.
Die eerste aspek wat hy noem, is dat betekenis so wyd is as wat die leser se agtergrondkennis, woordeskat, belesenheid, denke, verbeelding en lewenservaring in verhouding met ’n teks is (Anker 2022a). Anker omskryf die konsep van leesbegrip deurdat leesbegrip amper buite die teks lê, tog is daar ander faktore wat beduidende rolle speel, veral sosio-ekonomiese faktore.
Anker se argument is dat dié wat leesbegrip wil verbeter, asook dié wat dit vir ander moet leer, moet kan nadink oor hoe hulle dink oor lees – metakognisie oor die leesproses en hoe begrip gevorm word – voordat dit aan ander gemodelleer kan word.
Vir die doel van hierdie artikel is dit belangrik dat Anker benadruk dat dié wat leesbegrip effektief kan doen, selfverwysend daaroor nadink en dán eers die vaardigheid vir ander moet modelleer.
Hier lê die klontjie goud. Die eerste gouedraad wat aan die klontjie goud vasgemaak is, is om te kan nadink oor hoe ’n persoon dink oor lees en leesbegrip. Die tweede draad is dat ons as volwassenes eers vir ons kinders moet wys hoe lekker lees is. Daarna kan ons vir hulle wys hoe ons dit wat ons lees, kan begryp en verstaan. Die derde en laaste gouedraad is dat jy vir kinders moet voorlees en saam met hulle moet lees. Dit is waar die klontjie goud al die drade van ware leesbegripvaardighede anker. Iemand moet vir die kind wys hoe, sodat die kind hul leesbegrip kan modelleer op wat vir hulle voorgehou is.
Wat was eerste – lees of begrip?
Lees is eintlik ’n proses van betekenisgewing en konsepte vorm wat nie eintlik losgemaak kan word van begrip nie. Jy kan dus nie lees sonder ’n mate van begrip nie.
Die hele punt van leesbegrip – om met begrip te kan lees – is om te kan verstaan wat jy lees. Dit is die mees fundamentele denkproses omdat dit gaan oor die proses van betekenisgewing en betekenisvorming. Verskeie dele van die brein is betrokke by die vermoë om te kan lees, wat ’n vorm van patroonherkenning is.
Die vraag oor lees en leesbegrip is soortgelyk aan die filosofiese hoendervraag: Wat was eerste, die hoender of die eier? Net so is lees en leesbegrip integraal aanmekaar verbind, alhoewel dit verskillende prosesse behels.
Die proses van vorm- en patroonherkenning wat betrokke is by die aanleer van die vaardigheid om te kan lees, behels een stel denkprosesse. Daardie proses word weer verbind met die denkproses om die woord kar as verteenwoordigend van ’n werklike objek te verwerk of verteer. Dit is uiters komplekse prosesse wat ons as lesers partykeer te maklik as vanselfsprekend aanvaar.
Hier kan die semiotiek dalk van hulp wees. Spesifiek die drieledige teorie soos uiteengesit deur Ferdinand de Saussure: die teken, die betekenaar en die betekende. De Saussure is deel van die strukturaliste wat geglo het dat die betekenis van enige teks te vinde is in die aard en struktuur van die teks. Sy boek Course in General Linguistics (1959) het die grondslag gelê van hoe daar vir baie lank oor betekenisgewing gedink sou word.
“The linguistic sign unites, not a thing and a name, but a concept and a sound-image” (De Saussure 1959:66). Daar word dus betekenis geskep van patroon- en vormherkenning na letters, na woorde, na konsepte en objekte wat deur ’n woord of teken verteenwoordig word. De Saussure verduidelik dat enige teken bestaan uit die konsep en dit wat hy noem die klankbeeld. “I call the combination of a concept and a sound-image a sign” (De Saussure 1959:67).
Die proses van betekenisgewing kan dan in geheel saamgevat word deur sy verduideliking van ’n drieledige teorie van ’n teken, betekende en betekenaar.
I propose to retain the word sign [signe] to designate the whole and to replace concept and sound-image respectively by signified [signifié] and signifier [signifiant]; the last two terms have the advantage of indicating the opposition that separates them from each other and from the whole of which they are parts (De Saussure 1959:67).
Daar is ’n verband tussen hoe daar betekenis gegee word aan woorde en taal en die proses van leesbegrip, omdat die proses van betekenisgewing soortgelyk is vir gesproke taal én geskrewe taal.
............
Daar is ’n verband tussen hoe daar betekenis gegee word aan woorde en taal en die proses van leesbegrip, omdat die proses van betekenisgewing soortgelyk is vir gesproke taal én geskrewe taal.
.............
Anker neem die leser van sy artikel deur die proses van leesbegrip deurdat hy ’n gedig ontleed. Ooreenkomste tussen die proses van betekenisgewing en leesbegrip kan duidelik gesien word. Anker wys ook daarop dat die begrip van die gedig wat gelees word, buite die teks self lê. Tog is dit steeds verbind aan die teks. ’n Baie soortgelyke proses as die semiotiese teorie van Ferdinand de Saussure se teken, betekende en betekenaar (De Saussure 1959:67).
Daar moet daarom ’n bewuswording wees van hoe ’n mens se gedagtes, assosiasies, kennis en ervarings bydra tot jou eie skep van betekenis vir jouself uit die teks. Die betekenis is nie net in die teks self nie, dis in baie opsigte in jou eie kop (Anker 2022a).
Die unieke plek wat kinderboeke volstaan
Kinderboeke is die primêre wyse waarop die saadjies van leesbegrip gesaai word en dit bout die vaardigheid van lees waarop leesbegrip moet staan. Veral wanneer kinders moet lees vir begrip om te verstaan sodat hulle in ander nie-taalvakke take kan voltooi, byvoorbeeld in ’n wetenskapvraestel of -klasopdrag.
Dit begin by prenteboeke. Hierdie tipe boeke is die helperwieletjies aan die fiets van die reis om te leer lees en om met begrip te lees. Dit is met hierdie tekste waar die vaardigheid of vermoë om werklik te kan lees begin – om woorde te kan identifiseer aan hul vorm en hul betekenis te kan begryp. Dit is die begin daarvan om betekenis aan daardie kode van letters en woorde te heg. Dit is die eerste plek waar kinders regtig leer om betekenis te skep buite hulself en die vaardighede aanleer wat hulle vir die res van hul lewe gaan gebruik om ook die wêreld om hulle te verstaan.
Anker bevestig in sy artikel dat hierdie proses gemodelleer moet word sodat dit suksesvol oorgedra word. Lees is ’n vaardigheid wat lei tot konseptualisering en daarná kom begrip van wat gelees word. Al lê begrip buite die teks en tekens wat op die papier staan.
Dit is in hierdie opsig waar kinderboeke ’n unieke plek volstaan. Kinderboeke wat voorgelees word, skep die ideale geleentheid om vir kinders te modelleer hoe om te lees, hoe om boeke te hanteer, en met die regte leiding in ’n veilige, geborge omgewing kan die proses van betekenisgewing suksesvol oorgedra word.
Iemand moet vir jou wys hoe. Ouers en grootouers speel ’n belangrike rol, veral in die geval waar kinders by hul grootouers grootword terwyl hul ouers elders in die land werk. In Suid-Afrika is dit die werklikheid vir baie werkersklaskinders in laer sosio-ekonomiese sektore.
Die lys van boeke wat hierdie prosesse kan fasiliteer en vaardighede help ontwikkel, is eindeloos. Daar is beslis nie ’n tekort aan die aanbod van interessante boeke nie.
Hier is ’n bondige seleksie van opsies wat ouers, onderwysers en metakognisie-bewuste tannies kan raadpleeg met ’n geruste hart.
- Die Tippie-reeks waar die heel kleintjies kan leer tel, lees, leer oor diere, kleure en nog meer.
- Tokkelossiebossie deur Phillip de Vos wat onlangs die LALA-toekenning vir kinderliteratuur ontvang het.
- Jaco Jacobs se boeke het geen bekendstelling nodig nie. Hulle wakker die verbeelding van enige lesende wese aan. Wie sou kon dink dat brokkoli-zombies (Oupa Zombie, 2020) in toom gehou kan word?
- Suid-Oosterdraak deur Dianne Hofmeyr is ’n lieflike boek vir almal wat die suidoosterwind in die Kaap liefhet, verpes en mee saamleef.
- Die Keegan en Samier-reeks deur André Trantraal.
- Fanie Viljoen se boeke is gewild onder verskillende ouderdomme. Donkerweb (2020), die opvolg van die voorgeskrewe teks Onderwêreld (2008), is baie gewild. Offers vir die vlieë (2020) is net so gewild onder veral tienerseuns.
- Kompleks (2023) deur Louis Pretorius het onlangs verskyn en blyk ’n treffer vir tieners te wees.
- Saartjie die spinnekop met sewe bene (2023) deur Riana Scheepers is ’n pragtige prenteboek wat spinnekoppe eintlik heel vriendelik voorstel.
- Jakkals en Wolf (2023) deur Wendy Maartens bring die ou storie van Jakkals en Wolf terug vir ’n nuwe generasie om te lees oor dié twee diere wat gedurig mekaar treiter.
Gaan loer gerus op LAPA se kinder- en jeug-webblad vir ’n lys vol lekkerleesboeke so lank soos die Kaapse wapad.
Die goue draad tussen slaaptydstories en leesbegrip
Die goue draad al die pad van die sukkelende resultate van leesbegripstudies, Ferdinand de Saussure se linguistieke teorie, tot waar ’n mooi prenteboek ’n verskil kan maak, eindig met ’n baie eenvoudige oplossing. As jy wil hê jou kind moet met begrip kan lees, lees vir hulle kinderboeke voor.
...........
Die goue draad al die pad van die sukkelende resultate van leesbegripstudies, Ferdinand de Saussure se linguistieke teorie, tot waar ’n mooi prenteboek ’n verskil kan maak, eindig met ’n baie eenvoudige oplossing. As jy wil hê jou kind moet met begrip kan lees, lees vir hulle kinderboeke voor.
.............
Modelleer vir hulle hoe die vaardigheid lyk en hoe lekker dit is om te lees. Die beste manier om te leer lees is (op iemand se skoot) in ’n ruimte waar ’n kind veilig en geborge voel. Hul hele brein en wese is betrokke – hulle leer lees en om betekenis te gee. Só leer kinders hoe om betekenis te gee aan tekens wat dinge in die werklikheid simboliseer en verteenwoordig. Stories is waar kinders leer oor die lewe op ’n manier wat hulle verstaan, deur ’n medium wat hulle kan verteer en internaliseer.
Lees daardie slaaptydstories. Dit help ’n hele versameling van vaardighede en denkprosesse ontwikkel wat soveel meer is as net ’n begripstoetspunt aan die einde van die skoolkwartaal.
Verwysings:
Anker, J. 2022a. Onderwyshulp: Hoe wyd lê die betekenis van lees? Die toepassing van metakognisie en modellering. LitNet. https://www.litnet.co.za/onderwyshulp-hoe-wyd-le-die-betekenis-van-lees-die-toepassing-van-metakognisie-en-modellering/ (12 Oktober 2023 geraadpleeg).
Anker, J. 2022b. Onderwyshulp en leesbegrip: Johan Anker beantwoord lesers en opvoeders se navrae. LitNet. https://www.litnet.co.za/onderwyshulp-en-leesbegrip-johan-anker-beantwoord-lesers-en-opvoeders-se-navrae/ (12 Oktober 2023 geraadpleeg).
Departement van Basiese Onderwys (DBO). 2014. Annual National Assessment 2014: Diagnostic Report – First additional language and Home language. Departement van Basiese Onderwys: Pretoria.
Departement van Basiese Onderwys (DBO). 2023. PIRLS 2021: South African Preliminary Highlights Report. Departement van Basiese Onderwys: Pretoria.
De Saussure, F. 1959. Course in General Linguistics. Vertaal deur: Wade Baskin. New York: Philosophical Library. https://ia802607.us.archive.org/8/items/courseingenerall00saus/courseingenerall00saus.pdf (30 Oktober 2023 geraadpleeg).
LAPA kinder- en jeugboeke. s.j. https://www.lapa.co.za/kinder-en-jeug (31 Oktober 2023 geraadpleeg).
Lees ook:
Onderwyshulp en leesbegripstrategieë 7: Die maak van afleidings
Kommentaar
Baie dankie, Anke, vir die uitvoerige en duidelike artikel oor leesbegrip en die waarde van, onder andere, voorlees. Dit is vir my 'n groot plesier om sulke deeglike werk en agtergrond daaroor te lees. Mag baie lesers, ouers en onderwysers daarby baat vind!
INSIGGEWEND! Daarby: Hoe kan dit makliker vir skrywers gemaak word om te publiseer? Hoe kan mens betrokke raak by verskillende loffike pogings om boeke by skole en in die klaskamer te kry? Met wie kan mens kommunikeer oor goedkoper boekidees EN om kinders deel te maak van die 'boekiebou'-proses?