Die sleutel tot die vreugde en plesier van kinderboeke

  • 0

Prent: PixaBay

Lees kán lekker wees, want dit is dan so goed soos ’n fliek wat in jou kop afspeel. Lees moet lekker wees vir kinders om hulle in die eerste plek aan die lees te kry.

Dit het nie elektrisiteit nodig om te werk nie en dit kos die meeste van die tyd nie geld nie, al is boeke nogal duur. Onthou, daar is altyd die biblioteek.

En raai wat? Jy is die eregas met “surround sound” en dalk is jy selfs deel van die verhaal, want net jy bepaal wat in jou verbeelding gaan gebeur wanneer jy ’n boek lees. 

.....
Jy is die eregas met “surround sound” en dalk is jy selfs deel van die verhaal, want net jy bepaal wat in jou verbeelding gaan gebeur wanneer jy ’n boek lees. 
.....

Kinderboeke, maar ook jeug- en jongvolwasseboeke, het ’n spesiale plek in die harte van jong lesers. Dit is nie net nog ’n verhaal met ’n les of ’n simplistiese storie nie. Daar is ’n bepaalde magiese transgressiwiteit na ’n wêreld vol avontuur, verbeelding en wonderbaarlike dinge. Maar wat presies is die “it-factor” wat kinderboeke so onweerstaanbaar lekker maak? In hierdie artikel gaan daar gekyk word na verskeie aspekte van en moontlike redes vir die besondere aantrekkingskrag van kinderboeke.

Transgressiewe aard van karakters

’n Moontlike leidraad lê in die transgressiewe aard van karakters in kinderboeke. In “Die lees van Peter Pan as ’n transgressiewe figuur in kinder- en volwasseliteratuur” (Theron 2020) word Peter Pan in die verhaal Peter and Wendy (1911), insluitende geselekteerde herskrywings en verwerkings van Peter se verhaal, as voorbeeld van ’n transgressiewe figuur voorgehou (Theron 2020).

Deur gebruik te maak van ’n Lacaniaanse lens, is die bewering in die bogenoemde studie dat die karakter oor die grense van die drie ruimtes van die onbewuste kan beweeg. Transgressie beteken daarom hier die oorsteek van grense en het nie noodwendig die krasse negatiewe konnotasie met morele oortredings, geweld, ensovoorts nie. Dit is natuurlik ook nie heeltemal uitgesluit nie, want ons weet dat sommige avontuurlustige jong lesers hou van ’n goeie seerowergeveg en die oorwinning van die bose.

Foto: Unsplash

Die gebruik van Jacques Lacan se drieledige teorie veronderstel dat die onbewuste uit die verbeelde, simboliese en reële ordes bestaan en dat elkeen spesifieke karaktereienskappe en kenmerke het. Die ordes van belang in hierdie artikel is die simboliese orde, waar taal funksioneer, en die verbeelde orde, wat die ruimte voor taal is en ook die ruimte is waar die verbeelding funksioneer. Die reële orde is die ruimte waar geloof en al die dinge wat die menslike verstand nie kan begryp nie, lê. Dit is waar die onverstaanbare woon. Daarom funksioneer ’n kind tussen twee ruimtes van die verbeelde en die simboliese. Hulle kan maklik oor die grense van hierdie twee ruimtes beweeg sonder om die een van die ander uit te sluit. Hulle het nie altyd die taal of simbole vir wat hulle in die verbeelde orde of ruimte ervaar nie, maar so het hul ook woorde vir dinge wat hulle nog nie gekonsepsualiseer het in die verbeelde ruimte nie. Peter Pan is só ’n figuur en karakter. Hy kan vlieg en hy kan reëls oortree wat ons as die lesers nie kan nie. Wat hom nog interessanter maak, is die ervaring wat ’n karakter soos Peter Pan vir volwasse lesers bied, omdat volwassenes gereeld die verhaal vir kinders sal voorlees of self sal lees, of in ’n hervertelling, film of TV-reeks sal herken. 

Lees meer oor Peter Pan se transgressiwiteit  hier.

Tans is ons egter op die spoor van waar die lekker in kinderboeke gevind kan word. Dit is wel belangrik om te meld dat die teoretiese ondersteuning wat hierdie Peter Pan-artikel bied van belang is. Die teoretiese lens daarvan kan help om die argument hier verder te voer: dat die lekker in ’n kinderboek werklik by die karakters en in hul transgressiewe aard en vermoë lê. Kom ons kyk nou na die karakters self en wat presies die eienskappe van sulke transgressiewe karakters is.

Die karakters

Die sleutel tot ’n goeie en dalk ook suksesvolle kinderboek wat lekker is om te lees, is die karakters. Dit hang ook af van die ervaring van elke individu (kind of volwassene) en hoe en waar lesers daardie karakter hulle s’n maak. Niemand se Hagrid (Harry Potter-reeks) lyk dieselfde nie. Elke kind sien en beleef ’n boek anders en dit is waar die wonder en lekker van ’n leeservaring kan lê – jy maak dit jou eie. Flieks neem hierdie vryheid en individualiteit van boekervarings en leeservarings, veral kinderboeke, weg of water dit af.

.....
Die sleutel tot ’n goeie en dalk ook suksesvolle kinderboek wat lekker is om te lees, is die karakters.
.....

Dit is juis om hierdie rede dat karakters transgressief moet wees om suksesvol te kan funksioneer as karakters in kinderboeke. Die karakter moet goed in die verbeelde én simboliese orde kan funksioneer.

Die vraag is dan: Wat maak ’n karakter transgressief en hoe weet jy of ’n karakter effektief in ’n kinderboek sal werk? Kom ons kyk na twee karakters as voorbeelde: Peter Pan, soos in bogenoemde artikel bespreek, en die Babalela, ’n karakter geskep deur Martie Preller, na aanleiding van De Vries se artikel “Die gebruik van kinderprenteboeke as selfbeeldbouers in die onderrig van agtergeblewe kinders” (2014).

Peter and Wendy (1911)

Die verhaal van Peter Pan word beskou as ’n gevestigde kinderverhaal van ’n seun wat nooit grootgeword het nie, en ook nie wil grootword nie. Hy woon in Nimmerland (Neverland), ’n magiese, verbeeldingryke plek met Indiane, dinosourusse en seerowers. Hy besoek Wendy en haar twee broers en neem hulle na hierdie Nimmerland. Hulle vlieg daarheen en het onmoontlike en wonderlike avonture.

Peter and Wendy (1911) deur JM Barrie. Illustrasie deur FD Bedford. Bron.

In die artikel “Die lees van Peter Pan as ’n transgressiewe figuur in kinder- en volwasseneliteratuur” word Peter Pan se transgressiewe aard so opgesom:

Peter Pan hou verskeie sleutels tot die onbewuste in sy hand en Lacan se ordening van die onbewuste, soos dié van ’n taal, […], is gepas om figure soos Pan te beskou. Die dinamiese beweging van karakters soos Peter Pan tussen die ‘Verbeelde’ en ‘Simboliese ordes’ dui daarop dat hy […] transgressief is en moet wees. Hy is die sleutel daartoe om ’n brug te skep vir die kind en volwasseleser om dieselfde teks tegelykertyd te ervaar. (Theron 2020:114)

Peter Pan funksioneer in die verbeelde orde omdat hy kan vlieg, nooit oud word nie, en dinge kan doen wat kinders nie in die werklikheid kan of mag nie. Tog bestaan hy omdat sy verhaal vertel en geskryf word in die simboliese orde van woorde. Kinders het dus toegang tot sy wonderlike verbeeldingswêreld omdat sy verhaal gevestig is. Dit is deel van die kanonieke kinderliteratuur saam met sprokies, volksverhale en mites.

Hou ook in gedagte dat daar selfs in Peter Pan ’n paar lewenslesse tussen al die avonture is. Om groot te word terwyl jy steeds die mooi herinneringe van kindwees koester word baie mooi uitgebeeld aan die einde van die verhaal wanneer Wendy en haar broers na Londen terugkeer.

Kom ons kyk nou na ’n meer onlangse karakter wat homself behoorlik tuisgemaak het in kinders se verbeeldings en harte.

Die Babalela

Die Babalela is ’n veerbeeldingskarakter wat Preller geskep het en in verskeie verhale spesifiek vir kinders voorkom. Die boeke is besonder gewild en was onlangs heruitgegee. Die karakter het ook skole besoek en kinders regoor die land vermaak met sy stories. Daar waas ook T-hemde en poppe van die Babalela, wat sy gewildheid verder bevorder het.

Babalela deur Martie Preller, LAPA Uitgewers.

De Vries se artikel het ondersoek ingestel na hoe die storie van die Babalela in die Kaapse Vlakte gebruik word om positiewe verandering by kinders te skep, en spesifiek hoe ’n onderwyser die boek en karakter gebruik het om ’n goeie selfbeeld en selfvertroue by kinders te kweek wat daagliks met maatskaplike kwessies soos drank- en dwelmmisbruik en geweld te doen het.

“When someone, when the gangster say, when the gangster say ... get the gun, you must say: ‘Ek is ’n Babalela, los my uit!’” (De Vries 2014)

Die Babalela was die verweer en ’n spraakbuis vir hierdie graad 3-leerder van Athlone North Primary. Haar onderwyser het vir haar ’n karakter voorgehou wat sy kon vertrou en wat uit ’n verbeelde ruimte van ’n boek kom en in haar simboliese wêreld geplaas is waar hy haar kon help.

.....
Wanneer ’n kind ’n sterk verbintenis met ’n karakter maak en met hulle identifiseer, klim die karakter uit die boek en kan die kind hulself in die boek inleef. Die boek word ’n veilige plek wat hulle keer op keer wil besoek.
.....

Dit is hoe die transgressiwiteit van karakters in kinderboeke, hetsy gevestig en tradisioneel soos Peter Pan of selfs Sneeuwitjie of nuwe karakters soos die Babalela, buite die grense van die boek lees vir kinders lekker kan maak. Transgressiwiteit van sulke karakters bewerkstellig ’n gevoel van identifisering en empatie by die leser. Wanneer ’n kind ’n sterk verbintenis met ’n karakter maak en met hulle identifiseer, klim die karakter uit die boek en kan die kind hulself in die boek inleef. Die boek word ’n veilige plek wat hulle keer op keer wil besoek.

Terselfdertyd leer hulle ook oor die wêreld om hulle en hoe om dit te navigeer te midde van al die kwaad en wreedheid wat daar is.

Doen iets met die storie

Die funksie van kinderliteratuur is veelvoudig en die goue draad daarvan lê in ’n les, nie ’n preek nie. Kinders, en volwassenes ook, lees stories met meer begrip as wat algemeen verwag word. Kinders het die vermoë en ontwikkelingsvermoë om te verstaan dat as ’n karakter ’n sekere ervaring het, hulle iets daaruit kan leer. Kinders is intelligent en skerp genoeg om te weet wanneer ’n boek vir hulle preek, didakties vir hulle voorsê wat om te doen en wat nie.

Foto: Unsplash

Dit is ’n ervaring waarmee selfs volwassenes hul kan vereenselwig. Daar blyk die inherente drang in ons as mens te wees om teenstand te bied wanneer daar vir ons voorgeskryf word. Daarom is boeke en stories ’n veilige plek om lewenslesse en waarhede te leer en vir kinders voor te hou.

.....
Die funksie van kinderliteratuur is veelvoudig en die goue draad daarvan lê in ’n les, nie ’n preek nie.
.....

Tog was daar ’n tydperk in die geskiedenis van kinderliteratuur waar die didaktiese benadering algemene praktyk was. Dit is egter lankal nie meer die geval nie. Jy vang tog meer vlieë met heuning as met asyn … Gaan vra maar vir skrywers soos Jaco Jacobs, Fanie Viljoen, Cecilia Steyn, Maretha Maartens, Jan Vermeulen en Zelda Bezuidenhout, om net ’n paar te noem.

Deur iets te “doen” met die storie, is daar groot potensiaal vir die skrywer van goeie en suksesvolle kinderboeke om eerder vir sy leser te wys as te sê. Dit is waar die goue eier versteek word. En dit is ook so met volwasseliteratuur. Wanneer ’n skrywer vir sy leser die intriges en karakters se foute uitwys, is dit baie meer effektief as om alles in die narratief te vertel.

Meer as net ’n storie

Goeie kinderboeke het spesifieke eienskappe wat van hulle goeie boeke maak en nie net kinderstories nie. Hierdie eienskappe of kenmerke sluit op die eerste vlak kleurryke en uitstekende illustrasies in. Gepaste taalgebruik moet oordeelkundig gebruik word, want ons het Roald Dahl se gruwelike rympies en Jaco Jacobs se grillerige grappige boeke wat steeds gepas is, al sou dit ’n paar dekades terug beskou word as onvanpas. ’n Sinvolle boodskap moet met empatie en begrip vir kinders voorgehou word sonder om te preek of voor te skryf. Hierdie elemente dra by tot die potensiaal van boeke om genot aan hul lesers of voorlesers te verskaf.

......
Kinderboeke is die gereedskap wat ons van dag een af met kinders kan deel en kan gebruik om vir hulle ’n wêreld te skep waarin hul verbeelding vlerke kry, hulle in ’n veilige omgewing empatie kan leer, en waar hulle belangrike lewenswaarhede kan ontde
.....

’n Transgressiewe karakter soos in “Die lees van Peter Pan as ’n transgressiewe figuur in kinder- en volwasseneliteratuur” (Theron 2020) vervat, kan as ’n sleutel beskou word. Ons kan nog ure oor al die moontlike voorbeelde gesels: sprokieskarakters, karakters waarmee generasies grootgeword het, soos Liewe Heksie, Paddington en Winnie the Pooh, en die tonne ander karakters uit volksverhale en mites.

Kortom is kinderboeke die gereedskap wat ons van dag een af met kinders kan deel en kan gebruik om vir hulle ’n wêreld te skep waarin hul verbeelding vlerke kry, hulle in ’n veilige omgewing empatie kan leer, en waar hulle belangrike lewenswaarhede kan ontdek. Die aspekte wat in hierdie bespreking aangeraak is, kan help om ’n liefde vir lees en stories te kweek. En hier kom die verrassing – gaan lees self ’n kinderboek. Ja, jy as volwassene, of jy nou ’n kleuter het of nie. Gaan gryp ’n kinderboek en verkyk jou aan die prente. Verdiep jou in die storie en karakters. Dit is waar die genot van ’n lekker storie lê. Dit is die aangrypende karakters wat ’n boek met jou laat praat.

Lees ook:

Boeke en ouderdomsaanbevelings vir jou kind

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top