Steve Hofmeyr (1964–)

  • 1

Gebore en getoë*

Stephanus Johannes (Steve) Hofmeyr is op 29 Augustus 1964 in Pretoria gebore. Sy pa was ook Stephanus Johannes en sy ma was Catharina Olivier. Hulle is op 5 Mei 1964 in Pretoria getroud. Vyf seuns is uit die huwelik gebore van wie Steve die oudste is. Hy is vernoem na sy oupa wat ’n aanvoerder was van die Stormjaers van die Ossewabrandwag. Sy oupa was ’n Rhodes-beurshouer, asook medehoof van Universiteitskorrespondensiekursusse in Pretoria.

Steve vertel aan oorlede Barrie Hough in Rapport-Tydskrif van 14 Maart 1999 dat hy vandat hy op skool was, baie lief was vir letterkunde en taal: "Nou moet ek sê: "Ek het gou agtergekom hoe ek hoë punte vir opstelle kon kry – veral by die Engelse juffrou. In elke opstel het ek tien verskriklike hoge woorde reg probeer om haar te impress. Woordeskat is ’n wenner."

In sy outobiografie, Mense van my asem (2008), vertel Steve meer oor sy jeugjare en van sy ouers wat "vinnig moes trou en ’n pa wat sy drome van ’n loopbaan in die regte moes opgee om vir sy gesin te sorg," skryf Ilza Roggeband (Beeld, 11 Oktober 2008).

Steve skryf verder: "Ek twyfel nie vir een oomblik dat die maandelikse huur nie altyd beskikbaar was nie. Elke jaar ’n ander skool, ’n ander huis, ’n ander kar en ’n nuwe werk. Maar ek onthou nie een enkele uur waarin ’n Matchbox-karretjie my nie skatryk laat voel het nie. En waar die Uile, Jasper, Bollie en Trompie nie my pelle was nie."

Die jong Steve gaan skool toe in Pretoria en nadat die gesin na die Vrystaat verhuis het, ook in Hennenman. Hy matrikuleer in 1982 aan Grey Kollege in Bloemfontein.

Hy vertel aan Terésa Roodt in die tydskrif Finesse (Junie 2005) dat hy nie in ’n skatryk huis grootgeword het nie: "Niemand in ’n gesin van vyf kinders kan hul ooit daarop roem dat hulle vreeslik baie sakgeld gekry het nie. Maar my kinderjare was uiters gelukkig. Dit was eenvoudig en organies, met kleilatte, bendes, ’n klubhuis met jukskeibane en boeresport. Kaalvoet in die Goudveld. Jy moes daar grootgeword het om eendag ’n lied soos 'Pampoen' te kan skryf.

"My pa was gek na vintage-karre. Hy't gereeld met een opgedaag wat hy êrens op ’n hoewe ontdek het. My ma kon nooit vatplek kry aan die ou Porsche, Plymouth en toe die Cadillac nie. So dit was ons kinders se voorreg om oral saam te cruise waar hy gaan brag het. Hy't my leer kitaar speel. Ons het ure aan Kris Kristofferson en Neil Diamond se werk getokkel. Ek dink hy sou vandag trots gewees het op my, maar hy't alles gemis."

Tydens sy tienerjare was hy Sondagskoolonderwyser, jeugleier, bekeerd en het sy pa heeldag teen die wederkoms gewaarsku (Finesse, Junie 2005). "Ek het ook pouses vir medeleerders gebid en Jesus Loves You-plakkers teen posbusse geplak. ’n Lekker pyn in die gat."

Oor sy ma vertel Steve aan ’n tiener in Keur van 5 Augustus 1994: "Sy speel ’n baie belangrike rol in my lewe. My pa is ses jaar gelede oorlede en dis nie maklik om vyf seuns alleen groot te kry nie. Ek het my pa se onstuimigheid en my ma se stiltes geërf. Vir my ma kan ek sê wat ek vir niemand anders wil of kan sê nie. Sy is ’n ma en ’n vriendin vir my."

Hy vertel ook aan E Bekker (De Kat, Somer 2006) dat sy ma beautiful is: "Sy's deel van die Vrystaat wat na my toe terugkom as ek liedjies skryf wanneer ek metafore soek en as ek die prentjies nodig het. Dan is hulle kristalhelder. As ek my ma sien, gebeur dieselfde met my as wanneer ek vandag by my huis se hekke inry. Alles is weg, al die celebrityhood … jy is skielik net haar seun. En jou ma wat sê 'dis rêrig ’n k*k haarstyl, my kind'."

* Steve Hofmeyr is bekend op vele terreine. Vir die doeleindes van hierdie album word egter hoofsaaklik gekyk na sy bydrae tot die Afrikaanse letterkunde.

Verdere studie en werk

Ná skool is Steve vir twee jaar na die weermag vir sy verpligte militêre opleiding en gaan studeer in 1985 en 1986 drama aan die destydse Pretoria Technikon, maar hy voltooi nie sy studies nie.

In 1986 is Steve se pa op 43-jarige ouderdom oorlede toe Steve maar nog ’n jong man van 22 was. En dit het hom op daardie stadium van sy lewe heeltemal ontspoor, skryf Terésa Roodt (Finesse, Junie 2005). Hy het gerebelleer en daar was eensklaps ’n gat in sy lewe wat hy nie kon vul nie. Gedurende sy twintigs, ’n bittersoet-tyd in sy lewe, het hy drie buite-egtelike kinders gehad. Hy het egter geen berou oor enige van sy kinders nie.

Steve vertel verder dat sy pa hom gereeld herinner het aan die trotse Hofmeyr-erfenis, "sóveel so dat ek vandag fanaties is oor die beskerming van alle kulture se monumente, maar veral die Afrikaner s’n, wat tans effe wees behandel word. Maar toe ons mekaar later gevind het, was dit wonderlik. Ek het hom bewonder."

"Hy was egter ook baie streng. Ek is daagliks gefoeter. (…) Respek was sy sleutelwoord. Maar hy kon ook lekker stories vertel. Dit was vir my die lekkerste as hy agterstevoor op sy stoel gaan sit het, met ’n brandewyn in sy hand, en die fassinerende stories oor sy ducktail-dae in die 60's vertel het. Ek mis hom vreeslik. Soms wil ’n mens net iemand wat ouer is as jy, hê wat sê: Dis oukei!"

Hy vertel verder dat sy pa hom waardes geleer het soos respek en medeburgerskap met alle burgers. "En dat humor alles kan red. Ook om trots te wees, veral op jou erfenis en stambome. Dat ons almal net mense is en niemand voorgetrek is nie, niemand beter is as die volgende persoon nie. Veral ook dat sterk mans mag huil oor ander se lyding. Diere s’n ook."

Toe die televisiereeks Agter elke man in 1986 op die klein skermpie verskyn, vertolk Steve die rol van die skurk Bruce Beyers en word hy onmiddellik volksbesit en was dit sy eerste tree as akteur. Hy vertolk ook rolle in sepies op televisie soos Egoli en Sewende Laan en kry ook sy eie televisieprogram getiteld Dis hoe dit is met Steve waarin hy onderhoude met bekendes voer.

Hy tree ook op in rolprente soos KampusAgter elke manNo hero, A case of murder, Platteland en Treurgrond. Op die verhoog speel hy in produksies soos Summer holidayJoseph and the Amazing Technicolour Dreamcoat en Sound of Music, terwyl hy ook die hoofrol vertolk in Dis hoe dit was, die drama wat die Hertzogpryswenner Deon Opperman oor sy lewe geskryf het. (Wikipedia)

Toekennings vir sy televisieprogram sluit in ’n ATKV-toekenning in 2003 vir die beste onderhoud op televisie in Dis hoe dit is met Steve, asook ’n Safta in 2010 vir die beste kletsprogram op televisie.

As sanger het Steve Suid-Afrika stormenderhand verower. Hy was nog ’n jong seun toe hy in die kerkkoor gesing het en as elfjarige het hy sy eerste liedjies begin skryf.

Baie van sy CD's verwerf goue status en saam met Dana Winner van België bereik hulle vertolking van Neil Diamond se "You don't bring me flowers" ("Vroeger bracht jy bloemen") nommer twee op België se treffersparade.

In 2001 toer hy deur Suid-Afrika met Beautiful Noise wat die lewe en musiek van Neil Diamond uitgebeeld het. Hy het in dié jaar ook sy DVD met dieselfde titel uitgereik. Die toer was ’n groot sukses met 224 konserte waarvan al die kaartjies uitverkoop was.

In 2004 word sy CD Toeka 2 met ’n SAMA-toekenning bekroon as die beste verkoper van alle CD's in Suid-Afrika en in 2015 verwerf sy country-musiek-CD, If you could read my mind, binne ’n week goue status. In 2005 vereer die Bloemfontein-tak van die ATKV Steve met ’n oorkonde vir sy bevordering van Afrikaans by wyse van sang.

In 2006 ontvang hy en Juanita du Plessis vir die tweede agtereenvolgende jaar Huisgenoot se Tempo-toekenning vir die gunsteling-manlike en -vroulike Afrikaanse kunstenaar.

En op ’n heel ander noot is Steve in 2007 is Steve as die wenner aangewys van ’n eerbewys vir die beste Suid-Afrikaanse blog (webjoernaal) oor politiek in die jaarlikse SA Blog-toekennings. Hierdie eerbewyse vereer plaaslike blogs wat in ’n jaar aktief was in 16 kategorieë. Dit is die eerste keer in 2005 toegeken.

Steve het in 2012 saam met Hennie Smit nasionale ATKV-toekennings ontvang. Die ATKV het verklaar dat hulle "van die begin af tot nou" hul passie en liefde vir die Afrikaanse taal en kultuur op vele wyses en deur verskeie kultuurgenres bevorder en uitgeleef het. Hulle het lewende legendes in hul eie tyd geword. (Volskblad, 28 Julie 2012)

Die Boeremusiekklub van Suid-Afrika het Steve in 2014 saam met Sakkie Kotze, ’n vrywillige kultuurwerker, vereer vir hul bevordering van die Afrikaanse taal en kultuur oor baie jare op hul eie, unieke manier.

In 2015 het hy twee Ghoema-musiektoekennings ontvang en sy reaksie hierop was: "Hierdie is ’n godswonderwerk, want naas Breyten Breytenbach is ek die mees geboikotte wit man in Afrika." (Die Burger, 26 Maart 2015)

Altesaam verkoop hy meer as ’n miljoen CD's, ’n rekord vir ’n plaaslike kunstenaar. Hy het al opgetree in Nederland, België, Nieu-Seeland, Australië, Kanada, die Verenigde Arabiese emirate. Kenia, Namibië, Mauritius, die Seychelle- en Comoro-eilande, Egipte, Zimbabwe, Amerika en Brittanje en het liedjies in Los Angeles in Amerikaans opgeneem. Hy is een van slegs twee Suid-Afrikaanse solo-kunstenaars wat daarin slaag om die Sun City Super Bowl uit te verkoop vir ’n optrede.

Van die liedjies wat Hofmeyr self geskryf het, is 150 reeds deur Suid-Afrikaanse en internasionale kunstenaars opgeneem.

Wat sy persoonlike lewe betref, is Steve uit die aard van sy werk, in die openbare oog. In 1998 is hy getroud met een van sy medespelers in die sepie Egoli, Natasha Sutherland. Twee seuns, Sebastian en Benjamin, is uit die huwelik gebore. Steve het ook drie "liefdeskinders", Charissa, Armand en Devon.

Nadat berigte van Steve se drie "liefdeskinders" openbaar gemaak is, het Steve hom vir drie maande afgesonder – veral nadat baie ondersteuners hulle teleurstelling met hom uitgespreek het. Hierna het hy aan Marie Opperman van Huisgenoot (28 Julie 1994) vertel: "Ek is dalk die eerste Afrikaanse bekende wat buite-egtelike kinders het. Maar ek is deel van die emansipasie van die Afrikaner. Dinge gaan aan. Dit sal seker ál meer gebeur. Dis naïef om te dink mense het nie buite-huwelikse seks nie. En oor tien, twintig jaar is trou dalk heeltemal uit die mode."

Steve en Natasha is in 2008 geskei nadat sy verhouding met Janine van der Vyver op die lappe gekom het, asook ’n beweerde verhouding met Nelmarie Kruger.

Al voor sy huwelik met Janine van der Vyver vertel Steve aan Murray la Vita (Volksblad, 25 Junie 2011) dat die liefdesverhaal in Die verste uur (2011) sy en Janine se verhaal is. Miskien het die adjustment bureau verbygekom en ons aanhoudend probeer keer om bymekaar uit te kom. Jy kan nie ’n langer pad vat as wat ek en sy gevat het om bymekaar uit te kom nie.

"Twaalf jaar dat ons nie bymekaar kon uitkom nie. Daar was hofsake tussenin, daar was operasies, dat ek getroud was … Die kinders was belangrik. Ek dink nie alles het oorgewaai nie, maar ons het sover die beste van ’n slegte saak gemaak."

In Januarie 2014 is Steve en Janine in die Hartebeespoort-omgewing buite Pretoria getroud. Steve se vier seuns was die hofknapies. Een dogter is uit die huwelik gebore

Ná die publikasie van Die onaantasbares in 2017 vertel Steve aan Suzanne Venter (Rapport, 16 April 2017) dat Janine sy beste klankbord is: "Sy is beslis baie beter met woorde en blokkiesraaisels as ek."

En toe, in 1997, betree Steve die Afrikaanse literêre toneel toe sy digbundel Valkuns by Human & Rousseau uitgegee word.

Oor hierdie waagmoedige stap vertel Steve aan Elmari Rautenbach (Boekewêreld, 19 November 1997) dat hy effe senuagtig was oor hierdie onderhoud wat hy moes voer in die persona van Steve die Digter: "Aan die een kant is ek al soveel jare gewoond dat elke nuwe hond van my die volgende Sondag in Rapport pryk. So die gedagte aan interviews, selfs kritiek het my nie laat skrik nie. Maar ek het gou uitgevind julle wêreld is veel meer kinderagtig as myne."

"Die skrywerswêreld. Die wêreld van die letterkunde. Dis net soveel kinderagtiger as die musiekbedryf. Dis of literêre resensies sê die massas is dom. Resensies word uit die hoogte geskryf, en vir mekaar. Ek hou van terugvoer."

"Ná elke live show bestudeer ek die koerante om te sien hoe ek gevaar het. En dit was nie altyd positief nie. Maar as ek moet luister na wat resensente oor Valkuns skryf, sal ek nooit weer my pen op papier sit nie.

"Kyk, ek wou nie die laaste sê hê in die Afrikaanse poësie nie. Ja, ek hét hard probeer. Ek het Hennie Aucamp se handleidings oor skryfkuns sin vir sin deurgewerk en probeer volg. Maar ek is nie hy nie. Ek wou op die ou end weergee wat in my kop aangaan. En ek het gedink die bundel sou so aanvaar word. Op Velddrif het ’n oumatjie van 95 na my gekom en gesê: 'My kind, ek het nog nooit ’n digbundel besit nie. Hierdie een is my eerste.' Ek dink die kriterium moet miskien nie wees wat geskryf word nie, maar wat gelees word."

Oor die ontstaan van Valkuns vertel Steve aan Rautenbach dat dit uit sy dagboek ontstaan het: "Ek hou al lank dagboek van alles wat met my gebeur, met voetnotas. Ek wou dit eers ’n crazy manual maak met die titel Valkuns, met voetnotas. Maar gelukkig het my uitgewers my beskerm.

Om op te som: "Die tema van die bundel is 'die val van ’n ster'," brei Steve so bietjie meer uit teenoor Rautenbach. "Dit kan ’n werklike ster wees of ’n celebrity. My pa is nou tien jaar dood. Die afwesigheid van ’n pa-figuur kom sterk deur in die bundel. Ek kom uit ’n familie van sterk Vrystater-mans. (…) My pa was baie charismaties."

"Hy was geensins in sy skik met my besluit om drama te gaan studeer ná Grey Kollege nie. Ek het ’n beurs in tale gekry. Maar ek het besluit ek sal hom wys. Alles wat ek destyds gedoen het, het ek gedoen deels in opstand teen my pa – ek het baie asblikke geskop – en deels om hom te beïndruk. Ek onthou ná sy begrafnis het ek skielik na die dramaskool gekyk en gedink: wat soek ek hier?"

"Nou sit ek ook met drie kinders vir wie ek ’n pa is wat nie daar is nie. Ek probeer. Ek bel my jongste seuntjie, Devon, elke dag en gaan haal hom as ek kan by die kleuterskool. My dogtertjie van tien, Charissa, het kom kyk toe ek nou die dag vir die Blou Bulle op Loftus moes sing. Maar dis vir my verskriklik swaar. En ek worstel daarmee – en met hulle toekoms – in my digbundel."

Fanie Olivier (Beeld, 3 November 1997) skryf dat Hofmeyr se debuutbundel die risiko loop om van vele kante bekyk te word, "veral as die bekende gesig van die skrywer op die voorblad uitgepak staan. Voorbehou en vooroordeel is amper vanselfsprekend by elke ernstige poësieleser."

"Dat Valkuns ten spyte van hierdie agtergrondstemminge oorleef, is ’n pluimpie vir die skrywer. Die sestig gedigte is oorwegend regte verse, gekenmerk deur vaste vorm, deeglike klankbinding, meer funksionaliteit van woorde en ’n deurgevoerde retoriek. Dat ’n mens ná die lees meer as ’n handvol gedigte wil saamneem, bevestig dat Steve Hofmeyr as digter ook verder vorentoe sou kon saamgesels."

"Daar is gebreke: ’n geneigdheid tot oorskrywery, geforseerde taal en ’n somtyds te gedronge sinsbou (vir ’n popsanger!). Nou en dan word alliterasie oordoen, wat weer van ’n popster verwag sou kon word. Daar is iets van ’n naamdoenery, terwyl die gebruik van leë woorde aan die einde van reëls ook onverskoonbaar is. Maar daar kan ’n mens aan slyp. (…)"

"Saamgevat: die bundel het met heelwat vooroordeel op my lessenaar beland, maar het my daarin verkeerd bewys. Daaroor is ek dankbaar. Waarskynlik gaan hierdie publikasie nie groot byval vind by Steve Hofmeyr-bewonderaars nie (hul klub se adres verskyn voorin!), maar Valkuns sal beslis daartoe bydra, ironies genoeg, dat hy ’n ander groep mense gaan kry wat met belangstelling sy loopbaan gaan volg."

Ook Stephan Bouwer (Rapport, 16 November 1997) is heel positief oor Steve se Valkuns. Hy was eerstens nuuskierig om te sien of die verse in die bundel nie maar net lirieke vir liedjies is nie. Maar hy moes beken dat hy verkeerd was.

Hy gaan voort: "Steve Hofmeyr is geen geringe debutant nie. Hy skryf met die hart op die mou – maar dis geen koesterende belydenisse nie; eerder in die gees van die confessional poets. ’n Mens herken dan ook natrillinge van Jonker, Eybers, Sexton, Plath, Rilke en die Amerikaanse beat poets. Die man is belese!" (…)

"Daar is wel enkele verse wat ’n bietjie woordoordadig is of wat by ander woordkeuses (sinonieme) sou baat gevind het. Daar is ook enkele tipografiese vreemdhede (’n nuwe woordverwerker as speelding?) wat nie tot betekenis bydra nie."

"Hofmeyr sal egter nie – soos baie digters – later veel hê om oor skaam te wees in sy digdebuut nie."

Al die resensies van Valkuns was egter nie só vleiend nie. Joan Hambidge het dit onomwonde gestel in Die Burger van 1 Oktober 1997: "Dit was glad nie dom van Human & Rousseau om Valkuns te publiseer nie. Want verkoop sal dit verkoop. Maar is dit poetry, wil ons weet? Pooooooëzie? Die bundel word ’n 'verrassende poësiedebuut' genoem. Hmmmm. (…) Wat wel verrassend duidelik geword word by die lees van hierdie bundel is dat Human & Rousseau se oordeel kennelik by die venster uitgeval het! Genugtig, dis dan die ene cliché op cliché op cliché." (…)

"Daar is laas in die sewentigerjare sulke reddelose vrot poësie gepubliseer, en sal die kritikus wat hierdie bundel as ’n 'verrassing' beskryf het, asseblief opstaan, want u is ’n verduideliking aan die Afrikaanse letterkunde verskuldig. Behalwe as ons hier ’n nuwe genre het: hygpoësie."

In Karring (Winter 1998) is Vernie Plaatjies se samevatting van Valkuns as volg: "Mooi poëtiese oomblikke het Valkuns wel. (…) Maar binne die onaansienlikheid van die bundelopset in die geheel gaan dië poëtiese oomblikke egter verlore. Die geheelindruk wat Valkuns skep, maak dit ’n digdebuut om nie oor opgewonde te raak of te bewonder nie."

Met die publikasie van Jêmbeekseep: Omstrede en ander woorde van Steve Hofmeyr (2007) beland Steve vir die eerste keer wat sy skryfwerk betref in die moeilikheid. Die bundel bevat aanhalings wat hy die vorige sewe jaar in verskeie publikasies, radiostasies en op sy spoegblok gemaak het. Hy het hom onder andere uitgelaat oor die doodstraf, geloof en gay-regte, skryf Sanri van Wyk (Beeld, 19 Januarie 2008).

Binne enkele weke nadat die boek verskyn het, is duisende eksemplare verkoop. Thomas Mollett, uitgewer van Griffel Media, uitgewers van die boek, het gesê die winkelgroep PNA was onder diegene wat bestellings geplaas het, maar PNA het by aflewering gesê hulle mag nie meer Jêmbekseep verkoop nie.

Volgens Mollett het Trish Swanepoel van PNA gesê dit is gedoen omdat hulle ’n groep met ’n Christelike basis is en dat die inhoud van die boek nie strook met hul profiel nie.

Hierop het Steve geantwoord: "Dit is nogal vreemd om oral gestop te word vir ’n aanhaling eerder as ’n liedjie. Hoewel ek in Jêmbekseep op een of twee na op my toornigste aangehaal word, kan die boek jou slegs omkrap as jy ’n snob, ’n sinode, ’n Stormer of die regering is."

In sy bespreking van Jêmbekseep skryf Jaybee Roux (Volksblad, 14 Julie 2008) dat Steve oor alles en nog wat sy mond al uitgespoel het. En, gaan Roux voort, moet ’n mens dit Steve ter ere nagee: "Aan openbare waagmoed ontbreek dit hom nie. Openbare persoonlikhede tel gewoonlik hul woorde omdat ’n roekelose uitlating hulle ’n paar aanhangers kan kos, maar Hofmeyr bestorm dikwels ’n mynveld wat selfs engele nie sal betree nie. Selfs godsdiens laat hom nie terugdeins nie."

"Een van sy bewerings – dat God ’n wêreld geskep het waarop Bart Simpson sou kon verbeter – het meegebring dat van sy konserte gekanselleer is en sy CD's verbrand is. Maar selfs dít was slegs ’n tydelike terugslag vir sy loopbaan." (…)

"Min van hierdie aanhalings kan ernstig opgeneem word en kom waarskynlik uit ’n mond waarin die tong diep in die kies gedruk is. Maar hoewel Steve self sê daar is geen Sokrates-slimgeite in die boek versteek is nie, is daar inderdaad ook stof tot nadenke wat gerus ernstig opgeneem kan word." (…)

"Ek is nie só bevry dat ek openlik sal erken daar is ’n paar Hofmeyr-CD's in my versameling nie, maar ’n passie vir (goeie) boeke het ek wel. En daar mag nooit teen ’n boek wat genot bring, gediskrimineer word omdat die skrywer nou nie juis die leser se Kerskaartjielys sal haal nie: dit sal jammer wees as Jêmbekseep inderdaad slegs op die boekrakke van Hofmeyr-aanhangers ’n ereplek vind."

In Mei 2008 is Steve in die hospitaal opgeneem as gevolg van ’n perforasie van die dikderm. Hy moes ’n noodoperasie hê. ’n Geperforeerde dikderm was ook die oorsaak van sy pa se afsterwe.

In 2008 verskyn Steve se outobiografie onder die titel Mense van my asem by Zebra Press. En dit was onmiddellik ’n weghol-sukses. Binne twee weke is die eerste oplaag van 21 000 verkoop en moes ’n tweede oplaag van 20 000 bestel word. Dit was binne een week op die Sunday Times se lys van tien toptreffers en was ook die topverkoper van Kalahari.net. Steve het aan Philip de Bruin (Volksblad, 28 Oktober 2008) gesê dat hy verheug is: "Ek kry ’n bietjie lekker ook. En wie sê Afrikaanses lees nie. Meer verstommend is die reaksie van mense wat die boek binne twee dae kafgedraf het. Tydens my Kaapse toer (in Oktober 2008) het ek meer boeke as CD's geteken. Dis alles ’n heerlike nuwe ervaring."

Tydens die bekendstelling van Mense van my asem by iZapa Bush & Game Lodge buite Pretoria het Steve gesê dat hy besluit het om sy outobiografie te skryf nadat hy die dood in die oë gekyk het tydens sy onlangse siekte.

"Terwyl ek siek was, het ek ’n keerpunt in my lewe bereik. Ek het besluit om hierdie boek te skryf omdat jy na so ’n ervaring gedwing word om terug te kyk op jou lewe." (Pretoria News, 13 Oktober 2008)

Oor die titel het Steve gesê dat dit die mees inklusiewe titel was wat hy kon vind: "The title of the book is reflective of the people I crossed paths with in my life. Some good and some bad. But I gave them my breath and they breathed on me. The title is not aimed at Afrikaners only. Mense van my asem includes everyone across the most southern country on the African continent."

In Beeld van 11 Oktober 2008 skryf Ilza Roggeband dat Mense van my asem ’n goeie outobiografie is: "Dis eerlik, goed geskryf en goed versorg. Die foto's wat in twee seksies geplaas word, dra by tot die boek se sukses. Dit is ’n moet vir aanhangers, maar mense wat nog altyd in hul binnekamers nuuskierig was oor die man agter die naam, sal moontlik net soveel daaruit kry."

Op LitNet eindig Theunis Engelbrecht sy uitgebreide resensie oor Steve Hofmeyr as volg af: "Mense van my asem is nietemin ’n interessante leeservaring. Hofmeyr se kop is duidelik baie besig, en ’n mens behoort seker bly te wees dat daar ’n Afrikaanse sanger is wat dink. Anders as die meeste ander Afrikaanse sangers wat net daarop uit is om te behaag en in die proses ’n soetlike soort sielloosheid uitdra, is hy nie bang om uitdagend, uitgesproke en konfrontasioneel te wees en op mense se tone te trap nie."

"Sy passie vir lees verdien vermelding en ’n mens hoop sy bewonderaars vind dit aansteeklik en doen bietjie moeite om boeke te lees van al die skrywers wat Hofmeyr noem (onder andere Colin Wilson, JM Coetzee, Breyten Breytenbach, Leo Tolstoi, Oscar Wilde, Umberto Eco, Langenhoven, Franz Kafka, JC Kannemeyer, Hennie Aucamp, Kleinboer, Sheila Cussons, Gert Vlok Nel, Milan Kundera).

"Ná die lees van die boek voel ’n mens jy kan saamstem met wat die aktrise Annelize van der Ryst in haar 'getuigskrif' sê: 'Daar is ’n baie diep, slim seun agter al die onbesonnenheid, geraas en publisiteit. Ek dink nie iemand ken Steve werklik nie. Net hy self en miskien sy ma.'"

Met Steve se volgende boek, Vier briewe vir Jan Ellis (2010), betree hy die terrein van die prosa. Hy het aan Karin Burger (Rapport, 21 Februarie 2010) gesê dat hy so opgewonde soos ’n kind is oor hierdie boek – "al koop net my ma dit".

Hy gaan voort: "Die boek is kort, maar kragtig en ek wil hê almal moet voel hulle het dalk hul eie lewe daar raak gelees."

Die hoofkarakter in die novelle is ’n onskuldige posbode wat weens ’n sameloop van omstandighede probleme op die lyf loop. "Die karakters staan magteloos voor kerkleiers, die regstelsel en ’n gemeenskap wat hulpeloses in die steek laat." skryf Burger.

"Dis ’n boek oor die spreekwoordelike 'klein' mannetjie wat grootse kwessies pak sonder dat ’n 'boodskap' aan die leser opgedring word. Die taal in die boek is getrou aan dié wat gepraat word op Jacobsbaai en Diazville, kusdorpe aan die Weskus wat Steve na aan die hart lê."

Jan Ellis is die posbode en ’n tragiese gebeurtenis het sy lewe drasties verander. In Huisgenoot van 8 Julie 2010 skryf Lucia Swart-Walters dat sy die boek met voorbehoude en slegs uit nuuskierigheid begin lees het, maar sy het gou verdiep geraak en die boek verslind.

"In die aanloop tot die briewe moet die leser die gebeure wat 40 jaar voor Jan uiteindelik die briewe aan hul eienaars kan besorg, inkleur," skryf Swart-Walters. "Dit is een van die aspekte wat die boek so susksesvol maak: Niks word vir die leser uitgespel nie.

"Die novelle lewer sosiale kommentaar sonder om dit soos ’n preek of teregwysing te laat klink. Tussen die hoofstukke is daar ook onder meer ’n handgeskrewe resep, ’n foto van ’n langspeelplaat en ’n afdruk van strafregulasies wat jou verplaas na die tyd van Jan se grootwordjare."

"Die Bruinafrikaans waarin die boek geskryf is, slaag, hoewel die gebruik daarvan nie oral konsekwent is nie en soms gedwonge voorkom. Hoe die voorblad van die boek by die storielyn inpas, laat jou kopkrap. Maar die storie vergoed vir enige tekortkominge. Die boek is so geskryf dat jy dit eintlik meer as een keer moet lees om al die leidrade wat in die boek opgelsuit is, bymekaar te trek. Die resultaat is ’n spanningsvolle, genotvolle leeservaring. Soos dit op bladsy 35 (weliswaar in ’n ander konteks) staan: 'Dis nja, my bra.'"

Ook Joan Hambidge (Rapport, 18 April 2010) was positief oor Vier briewe vir Jan Ellis. "Die gegewe in Hofmeyr se novelle van die posman wat veertig jaar later vier briewe moet aflewer, krap sake deurmekaar. Die vierde brief is hartverskeurend in die ontboeseming en die soeke na die 'verlêkind' en 'closure'".

"Ook die derde brief gaan om vergifnis ('vergifnis sonder gif is mos maar vernis', bladsy 97), oftewel die bitter gif van 'regrets'. Die derde brief gaan om nood en word gerig aan die 'Vereerde Meneer Councillor Kees Wolfaard'".

"Al drie briewe word ikonies voorgestel in eenvoudige handskrifte, terwyl die eerste brief in tikskrif is, onderteken deur die triomfantelike 'Councillor Jake Fryer'. Tussendeur word daar vertel. En die leser moet invul en uitvee. En dan, in die laaste brief, weet die leser met sekerheid hoekom Klein Jan van Groot Jan soveel pyn ervaar het."

Hambidge skryf verder dat die novelle "pakkend geskryf" is en keurig uitgegee is: "Dit is ’n teks wat besonder vernuftig omgaan met die leser se fantasie en lewer kommentaar op die politieke ongeregtighede van die verlede en hoe identiteit gekonstrueer word. Is jy ’n psigopaat omdat ander jou verdink? Word jy die rol wat mense aan jou toeken? En hoe bewys jy uiteindelik jou skuld of onskuld in ’n samelewing wat al reeds besluit het jy is 'skuldig'?

"Net vir laasgenoemde aspek is die teks al die moeite werk om te lees.

"Ernstige literatore hoef nie diep te sug nie. Die boek het beslis meriete. Ek het die teks drie keer gelees en elke keer op ander nuanses en versweë implikasies afgekom. Dit is ’n teks wat meer as een lees behoef. En die weggee van geheime op die agterblad is net ’n truuk. Die geheim lê opgesluit in die laaste brief. Die brief van Maddy M Louw, wat sy ontvang van die posman wat die brief aflewer. Te laat. En vir straf moes hy briewe aflewer …".

"Steve Hofmeyr se prosa is sterker as sy digkuns. Dis inderdaad ’n boek van patos. Van hartseer en verdriet wat die persoonlike ellende laat saampraat met die politiek van hierdie land. Wit versus swart. Normaal en buite die orde."

In Volksblad (12 Junie 2010) is Jaybee Roux amper meer komplimenterend oor Vier briewe vir Jan Ellis as Joan Hambidge. Hy skryf: "Die gegewe lyk skraps, maar Hofmeyr woeker daarmee om ’n verbluffende storie vol geheime, versweë wyshede en emosionele trauma te skep.

"Die boeke het ’n sterk visuele impak (…). Die struktuur is goed beplan: Kort hoofstukke word afgewissel met die genoemde faksimilee-afdrukke. Elke tydsprong is perfek. Alles pas; alles maak mettertyd sin. Die taalgebruik kan beswaarlik méér in die kol wees. (…) Die protagonis se leefwêreld – selfs die deel van die boek wat dekades gelede afspeel – word getrou uitgebeeld."

"Die verhaal se vlymskerp intellek, ironiese kinkels en droewe ondertoon word nooit aan die leser opgedwing nie, maar skep die indruk van skadurige, ragfyn vinjette. Min skrywers kan so ónder die oppervlak werk en terselfdertyd onderhoudend en aangrypend, selfs vermaaklik, skryf. (…)

"Vier briewe vir Jan Ellis is ’n verhaal oor die 'weggooibaarheid' van mense; oor eenvoudige, maar kosbare lewens wat vinnig verbygaan en maklik verkwis word. Alles tel in hierdie perfek afgeronde verhaal. Dis Kúns hierdie, geskep met ’n koel berekendheid, maar ook ’n warmte, grasie en deernis. Ek twyfel of daar gou weer ’n boek, in enige genre, van hierdie gehalte sal verskyn."

In 2011 word Steve se volgende roman, Die verste uur, weer by Zebra Press uitgegee. Op die buiteblad word die skrywer, Deon Meyer, aangehaal: "Die Verste Uur is ’n skerp, slim bravura simfonie van ’n storie. Hofmeyr is ’n maestro."

Hieroor is Steve aanvanklik beskeie, skryf Murray la Vita in sy onderhoud met Steve in Volksblad van 25 Junie 2011: "Jy moet kan sien ek is nie reg vir ’n groot, vet fiksiewerk van 400 bladsye nie. Ek is net nie geskool in skryf nie. Ek loop my disnis teen al die clichés en ek weet dit nie eens nie."

"Maar dit is nogal bevrydend, moet ek sê. So praat jy nie heeltyd oor die koppe van die mark wat jy wil bereik nie. Dis miskien die een ding. Maar ek weet wat die slaggate is. En dan kan jy sien en druk soveel moontlik by die min bladsye in."

Die eerste hoofstuk van Die verste uur is die langste hoofstuk van die boek – 100 bladsye. In die hoofstuk vind die leser drie tekste wat parallel loop: Die storie van Jamie van der Merwe, ’n fisikastudent; die wetenskaplike dr Arnold du Plessis se navorsing oor die Franse Barok-komponis Jean-Philippe Rameau; en gedeeltes van ’n afskeidsbrief van Du Plessis aan sy vrou, skryf La Vita oor die roman.

Hierop reageer ’n laggende Steve as volg: "As jy Vier briewe vir Jan Ellis gelees het, weet jy ek skryf dieselfde storie oor en oor."

In Volksblad (18 Junie 2011) is Michiel Heyns die resensent van Die verste uur: Hy som die verhaal as volg op: "Inderwaarheid is die hele roman ’n fantasie op ’n tema van die die Franse Barok-komponis Jean-Philippe Rameau. Hofmeyr se hoofkarakter, Jamie van der Merwe, weet so min van Rameau soos ’n aap van sokkies, maar word toevallig ingetrek in ’n intrige van ene dr Arnold du Plessis, ’n wetenskaplike en kenner van Rameau. Dr du Plessis het spoorloos verdwyn, en sy vrou-moontlike-weduwee soek iemand om sy besittings op te ruim. Jamie het geld nodig en willig in. Hy 'erf' ook Du Plessis se skryftoebehore, onder meer ’n notaboek wat blyk Du Plessis se afskeidsliefdesbrief aan sy vrou te bevat."

"Die intrige is te gekompliseerd vir ’n kort resensie: Genoeg om te weet dat Du Plessis uitgevind het hoe om in tyd te reis deur middel van sekere van Rameau se harmonieë, 'die kortsluiting tussen ’n rare kombinasie van klanke wat jou terugvat'. Jamie doen hom dit na, en beland in sy oupagrootjie se lyf as bode in die Anglo-Boereoorlog. In hierdie hoedanigheid versuim hy om generaal Cronjé se hensop-bevel uit te voer; die Boere gee nie oor nie en wen die oorlog."

"Reis na Pretoria in 2011 soos dit sou uitgesien het as die Engelse nooit die plek kom opmors het nie," skryf Heyns verder. "Hofmeyr gee vir ons ’n satiriese visioen, so eg uit die daggapyp van dr Verwoerd: Van Pretoria as wit Afrikaanse Volkstaat." (…)

"Hoe maklik eintlik: As die Engelse nie die Boere-oorlog gewen het nie, het ons nie apartheid gehad nie, want ons het nie swart mense gehad nie – hulle woon êrens ver van die wit tuisland en kom net as hoflike en dankbare genooide arbeiders oor die grens, met hul paspoorte en mooiste Afrikaans om vriendelik te skerts en te werk. Geen rasseprobleem, geen ANC, geen taalprobleem nie; geen uitlanders; en natuurlik geen Anglo American-korporasie nie." (…)

"As dit alles na ’n AWB-koorsdroom klink … wel, dis moontlik dat Hofmeyr hoop dat van sy eenvoudiger aanhangers dit alles vir melktert gaan opeet, terwyl meer gesofistikeerde lesers dit sal aanvaar as satire. (…) Maar wat bly oor van die roman as ’n mens verby die politieke satire lees? Vir hierdie leser was dr Du Plessis se beknopte geskiedenis van Rameau insiggewend (…)."

"Of ’n mens werklik die idee van tydreise ernstig kan opneem, is eintlik nie belangrik nie: Die verste uur is fantasie-letterkunde, en al wat fantasie vereis, is ’n konsekwente deurvoer van die spelreëls. Dit kry Hofmeyr wel reg. (…) Obskuur? Nie eintlik nie. Geloofwaardig? Nie eintlik nie. Maar op hierdie grondbeginsel het Hofmeyr ’n vermaaklike toekoms-en-verlede roman gebou. Lees dit gerus."

In Rapport (17 Julie 2011) eindig Marius Visser sy resensie as volg: "Hofmeyr kán skryf en as hy ’n eerlike storie skryf oor ons eie wêreld, en die Boer se plek daarin, sal dit heel leesbaar kon wees. Maar dié boek is oneerlik, gestroop van spanning en karakterisering en die intrige is so subtiel soos swart yster. Dit hou nie eens kersvas by die Fritz Deelman-boeke nie."

In sy resensie op LitNet Akademies sluit Etienne Viviers sy (akademiese) resensie af: "Hofmeyr se soeke na ’n draaipunt in die Boereoorlog, en sy verbeelding van ’n alternatiewe Boerebeskawing, is simptomaties van ’n apokotastatiese instink wat lank reeds deel uitmaak van die Afrikaner se gemeenskaplike psige. Apokotastase is die verlange om terug te keer na ’n onskuldige en ongeskonde oerkondisie. Tydsreise is nostalgiese literêre sinjale wat dui op die verlange om hierdie primordiale toestand te herstel en om ’n pastorale harmonie te bewerkstellig. Tog is hierdie denkbeeldige veilige plek ’n konjunktiewe Prokrustesbed waarop die werklike geskiedenis se Afrikaner en miljoene ander mense met geweld gedwing is om te slaap. Niemand pas op hierdie bed nie en niemand sal ooit nie. Die Verste Uur slaag nie daarin om hierdie historiese dilemma oortuigend te fiksionaliseer en só ander insigte te bewerkstellig nie. Die tyd het miskien aangebreek om pogings tot ’n Boere-Arkadië finaal te groet."

Ons los die laaste woord wat betref Die verste uur vir die skrywer: "So, ek betrek dan wat ek meen linkses sou beskou as ’n bietjie van ’n regse fantasie … dat jy die Anglo-Boereoorlog kon gewen het. Maar, jy kón netsowel, met ’n baie klein misstappie. En dis dié misstappie wat die aksis van die storie word." (Volksblad, 25 Junie 2011)

Met die publikasie van Kapabel in 2012 takel Steve weer iets anders. In Kapabel vra hy die vraag of dit moontlik is om van jouself, jou lewe en jou verlede te ontsnap, vertel hy aan Pauli van Wyk (Beeld, 5 November 2012).

"Die vraag is of ’n mens so ’n eksperiment kan waag; kan jy dit doen?" verduidelik hy verder. "Ek wonder baie oor Afrikaners wat in Auckland, Perth en Kanada bly. Baie wil nie weet van Suid-Afrika nie, wil nie meer oor die land praat nie. Hulle gee nie veel om vir Afrikaans nie, gee ook nie om dat hul volgende generasie Engels praat nie. Maar hoe suksesvol ontsnap jy van jou verlede?"

Van Wyk wil by Steve weet of hy sý antwoord op hierdie vraag in Kapabel verskaf: "Ek hou nie van boeke waarin die skrywer tussen my en die storie kom nie en met Kapabel wil ek so graag hê die leser moet Steve vergeet. Ek gee nie om dat hulle my hoor in 'Blou Bul' of in 'Pampoen' nie, maar boeke het ’n ander standaard."

Hy erken teenoor Pauli van Wyk dat die hoofkarakter gedeeltelik op die verdwene bendeleier Ralph Haynes gebaseer is en dat sake skeef loop vir hom: "Ek het die boek nie vir hom geskryf nie, maar ek het baie van die anekdotes by hom gesteel. Ek was in ’n sekere mate baie lief vir hom. As ’n laaitie het hy besluit om ’n poskantoor te beroof. En toe hy die gewere uittrek, toe staan sy ma in die tou! Hoe kan ’n mens dit nie oorvertel nie?'"

In Kapabel leer die leser vir Desmond Faure ken – Desmond wat voorheen bekend was as die tronkvoël Danie Fourie. Danie/Desmond probeer alles wat hy kan om sy lewe te verander, maar dan haal sy lewe hom in. In Lig (Maart 2013) is Ilza Roggeband van mening dat die roman van Steve deur en deur die moeite werd is om te lees en dat dit hopelik vir Hofmeyer as ’n ernstige skrywer daar sal stel.

Vir Joan Hambidge (Beeld, 3 Desember 2012) is Kapabel die storie van ’n lewenswyse van white trash. "Van iemand wat die wêreld van Gunston Toasted en kroeggevegte wil verlaat om iets beters te word."

"Danie Fourie word Desmond Faure en in hierdie naamsverandering lê die moeilikheid. Die boek beslaan 164 bladsye wat jou dwing om uit te vind: Gaan hy wegkom? Sal sy bullebakkery hom uiteindelik in die tronk laat beland? Hoe nou gemaak met iemand wie se bankrekening spring van R2 750 tot vyftig miljoen skille en ’n propperse emosieswendelaar wat ou tannies op ’n toerbus belieg met sy hard luck-stories?" (…)

"Die roman behels ’n roman-binne-’n-roman wat die skrywende verteller behendig saamstel. Op bladsy 117 verneem die leser dat jy dan die storie 'tot dusver' meegemaak het wat verbrand is omdat dit te veel 'evidence' bevat.

"Dit resoneer met die moeder se geloof in haar kind wat ’n werk-in-wording is, ’n kapabelkind. Italo Calvino se If on a winter's night a traveller gebruik die truuk van wat jy is, liewe leser, besig met die 'verkeerde roman', so begin asseblief maar weer. Die punt is: Jy het reeds beginne lees en doelbewus word jou gedagte gekleur deur dit wat sogenaamd ontersake is. Dis natuurlik alles net ’n fiksionele truuk."

"Hofmeyr se karakter is die meester van die 'suspense of disbelief'. Jy glo in sy maneuvers en vermoë om op sy voete te dink en elke 'hendikep' te troef. Hy is ’n besondere liegfabriek wat nie alleen bus dryf (nie bestuur nie!) nie, maar ook sy leser se saamspeelvermoë insleep." (…)

"Hofmeyr kan vertel. Die pas van die roman is vinnig en soms is daar tonele wat skreeusnaaks is. (…) Die leser kan gerus sy of haar vooroordele opsy skuif. Steve Hofmeyr se stories is outentiek en hy begryp iets van die lot van die verskoppeling wat uit die benoude bestaan van armoede en ellende wil vlug. En dan sy hand oorspeel. Die karakters word helder en goed beskryf. Gesiene romanskrywers kan gerus gaan kyk hoe hy karakters laat praat! Dis nie ’n groot roman nie, maar ’n goed beplande, outentieke en goed geskryfde 'page turner'."

"’n Skrywer se boeke is nie ’n getuigskrif omdat daar baie prosesse plaasvind tussen die (werklike) hy en die (fiksionaliserende) hy nie. Kapabel soos in bekwaam en nugter."

Op LitNet sluit Phil van Schalkwyk sy bespreking van Kapabel as volg af: "Hofmeyr hanteer die taalmedium met ’n soepelheid en vindingrykheid wat aan Tom Lanoye herinner."

"As prosawerk is Kapabel ’n besonder keurige en geslaagde voorbeeld van sy soort, maar geen literêre grense word hier verskuif nie. Kapabel kan as ’n karakterroman beskryf word. ’n Fokus op één individualistiese, teendraadse karakter is dan ook weer tipies van die novelle. Hoe ook al, die klem op karakter sal baie lesers aanstaan, aangesien lesers, synde mense, se belangstelling gewoonlik gerig is op die wedervaringe van mense. In terme van karakter en storie is Kapabel dus besonder kapabel.
Soos ek aangetoon het, is hierdie boek funksioneel gekonstrueer. Daar is heelwat diepte en reikwydte, maar sonder dat mens veel pretensie gewaar. Kapabel is ’n eerlike vertelling oor die leuenagtige."

In 2014 verskyn Steve se volgende roman onder die titel Laaste dans, Drienie (Zebra Press), En tydens die Woordfees op Stellenbosch in 2014 sê Deon Meyer aan Steve: "Dit is die spannendste boek wat ek in 20 jaar gelees het. Ek kon dit nie ophou lees nie. Dit het ’n moord, ’n raaisel, twee liefdesverhale wat so mooi is … dit is ’n veelvlakkige boek."

In Rapport van 11 Mei 2014 vertel Johan Smith meer oor die verhaal van Laaste dans, Drienie: "Luitenant Muller Joubert, beeldpoetser van die SAPD ondersoek ’n anonieme oproep wat lei na ’n ouetehuis. Die beskuldigde is ’n tannie van ouer as 90 jaar. En sy vertel ’n storie uit ’n verlore era van oorlog, verraad en liefde."

"Tussen die ondersoek deur verwerk Joubert sy gevoelens vir sy kollega kaptein Sonja Basson. Maar min het hy geweet tannie Drienie se storie sal ’n groter impak op sy lewe hê as enige saak wat hy nóg gepoets het. Hy word ingetrek in ’n tragiese verhaal wat sy lewe oorneem."

Vir Smith het die roman ’n wyle gevat om op koers te kom en die storie wat oor twee tydperke afspeel – 2013 en die vroeë 1940's – laat die leser soms verward, maar die storie vloei tog hoe verder daar gelees word.

"Die simplistiese verhouding tussen Joubert en Basson staan in kontras met die komplekse verhouding tussen die broers Jurgen en Dawid Bremer en Betanie Engelbrecht (Drienie) en dis hierdie verhouding wat die hartsnare roer."

"Hofmeyr maak aan die einde van die verhaal melding dat sy oupa, ook Steve, die 'owerste' van die Stormjaers was, en hy is ook ’n karakter in die boek. Hierdie deel, wat afspeel in die 1940's in Pretoria wat handel oor die Stormjaers, is baie goed. Soos Joubert se karakter ook melding maak, daar is baie inligting oor die Tweede Wêreldoorlog, maar daardie deel van die Afrikaner se verlede (Die Ossewabrandwag en die Stormjaers) is vaer en minder gedokumenteer. Hofmeyr het sy navorsing behoorlik gedoen en dis ’n verrykende stukkie geskiedenis wat hy blootlê."

"Die broers se omwenteling gedurende die Tweede Wêreldoorlog, waar hulle vir Duitsland geveg het, word treffend en soms skokkend uitgebeeld. Maar dit plaas allermins die liefdesdriehoek tussen die broers en Betanie in die skaduwee en die feitlike, historiese aspek oorheers nie die emosionele nie."

Vir Smith is Hofmeyr se styl "soms poëties en selfs liries" en Betanie en Jurie se jong liefde word ook baie mooi uitgebeeld.

Hy sluit af: "Hofmeyr kwyt hom goed van sy taak om ’n geskiednisles te verweef met ’n goeie, emosiebelaaide storie."

Op LitNet skryf Izak de Vries dat Laaste dans, Drienie eerstens ’n spanningsroman met ’n baie goeie storie is. Maar "terselfdertyd is hier veel om te ontgin, want dit is ’n slim werk met vele vlakke. Ek wil die lekkerleesaspek voorop stel, want die leser móét weet dit is ’n baie goeie leeservaring. Slim, maar nie droog nie en toeganklik vir almal."

"Ek het hoop opgegee oor die teks as spanningsroman," skryf De Vries laastens, "maar op die agterblad staan daar ook ’n baie mooi waarheid: hierdie storie is ’n 'liefdesverhaal wat reeds sewentig jaar wag om vertel te word'.

"Steve Hofmeyr het hom nog eens bewys as ’n skrywer wat nog diep spore in die Afrikaanse letterkunde gaan trap. In hierdie roman deel hy verder ’n belangrike deel van die Afrikaner se geskiedenis waaroor daar nog min geskryf is."

Die belangrikste impetus vir die skryf van Laaste dans, Drienie was Steve se tante, Beckie Smit. Sy is in Februarie 2014 oorlede en sy en Steve het ’n liefde vir geskiedenis gedeel. Verder het die Tweede Wêreldoorlog hom ook gemotiveer, asook die paar Boere wat vir Hitler se SS sou veg. Maar, sê hy vir Phyllis Green (Sarie, 7 Maart 2014), die hoofstorielyn is die liefdesdriehoek en die liefde was die grootste inspirasie. En hoewel die verhaal self fiksie is, is die agtergrond feitelik en geskiedkundig.

Hy vertel verder aan Green dat hy juis Muller Joubert gekies het om die storie te vertel, omdat hy die "hapless en self verwarde leser verteenwoordig – te besig met sy eie probleme en werk om enigsins die lewe van ’n bejaarde as interessant te beskou. Ek wil hê die leser moet saam met Muller afgebreek word deur ’n tannie wat aanvanklik skadeloos en selfs bietjie koekoes oorkom. Ons kan nie meer verkeerd wees nie. Elke bejaarde wat jy onderskat, is jy ’n ryk lewe en storie kwyt."

Met Steve se volgende roman, Die onaantasbares (2017), betree hy ’n nuwe terrein – dié van die misdaadroman met die hoofkarakter wat ’n "huurmoordenaar wat skop, skiet en donner, verlief raak en praat van wilde seks" is.

Oor hierdie storie vertel Steve aan Suzanne Venter (Rapport, 16 April 2017) dat hy dit al lank in hom het en dat dit "gebars het om uit te kom. Dis heeltemal anders as my vorige boeke. Nie so filosofies nie. Ek was lus vir iets meer kontemporêr. Dis ’n meer kommersiële storie. Jy weet," sê hy aan Venter, "Afrikaanse boeke is geneig om so suutjiespoep te wees. Ek wou dinge by die naam noem en daar was geen wag voor my mond nie."

"Ek dink ook my ma, Carien, gaan die boek meer as my voriges geniet. Sy sê altyd ek raak baie langdradig."

Steve het besluit om af te wyk van die gewone misdaadroman deur die storie uit die perspektief van die skelm, of in hierdie geval die huurmoordenaar, te skryf. "Ek het in my lewe twee groot skelms geken – een is dood en die ander leef nog, maar ek wil nie hul name bekendmaak nie. Hulle het my geleer dal almal ’n goeie kant het, selfs al kan jy moord pleeg."

In Die onaantasbares is die die Sluiper, die hoofkarakter, ’n ou huursoldaat. "Hy kry berading, word afgedank en bied dan sy dienste as sluipmoordenaar aan … en word totaal onkant gevang wanneer hy verlief raak," skryf Venter.

"In die boek speel ek natuurlik ook met die Suid-Afrikaanse psige waar nie een van ons kan om ’n plank op te tel en iemand te donner nie," verduidelik Steve verder.

Hy het op spotternderwyse aan Elna van der Merwe van Huisgenoot (16 November 2017) gesê: "Eintlik is ek ’n ou sluipmoordenaar!" nadat sy vir hom gevra het waar hy aan die idee van ’n harpsnaar as moordwapen gekom het. "Nee, ek moes maar sit en dink, wat alles is al gedoen. As ek ’n sluiper met flair was, het ek dit so gedoen. Ek sal tog bitter spyt wees as Die onaantasbares ’n handleiding vir misdadigers word!"

Oor sy vermoë om die koelbloedige detail in sy boek só oortuigend te skryf, sê hy aan Van der Merwe: "Jy moet as skrywer ’n fyn sin van ander mense se skoene hê, want jy sal oortuigend in elkeen s’n moet staan. Hier het ek maar met my donker verbeelding gespeel. Vir my is die moeilikste deel van skryf om die einde te ken. Ek moes probeer raai hoeveel die leser besig is om te ontrafel."

Weer eens is die kritici beïndruk met Steve se vermoë om die Afrikaanse taal en sy idiomeskat te ontgin om ’n "volkome eietydse en geloofwaardige verhaal te spin", soos Jean Meiring skryf (Rapport, 17 Desember 2017). Meiring noem Die onaantasbares ’n "helleveeg en en ’n helsem van ’n verhaal".

In Vrouekeur (1 Desember 2017) beskryf Willie Burger Die onaantasbares as "die aksiebelaaide verhaal van ’n huurmoordenaar wat as 'die Sluiper' bekendstaan. Hy was eers ’n huursoldaat, maar word dan ’n baie suksesvolle huurmoordenaar. ’n Suksesvolle huurmoordenaar moet ’n koel kop hou en onbetrokke bly om alles so helder en eenvoudig as moontlik te hou. As hy egter verlief raak, verander alles. Die intrige is vol talle onverwagte wendings en die vaart neem die leser op sleeptou – soos dit in hierdie genre behoort te wees.

"Die temas van wraak en mense wat in hul onaantasbaarheid glo, word dikwels in misdaadromans ondersoek. Maar Hofmeyr doen iets meer as om net die resep van hierdie genre te volg. Die taalgebruik is vol interessante afwisseling en daar is skreeusnaakse tonele. Daarom is dit ’n boeiender misdaadroman as baie ander. En Hofmeyr se Sluiper is ook filosofies ingestel met trefseker insigte soos die volgende: 'Die dag wanneer begrip van jou sterflikheid op jou neerdaal, is die dag wat jy sien dat jy nie in beheer van alles is nie'."

Steve se Vier briewe vir Jan Ellis en Laaste dans, Drienie was al vir Jean Meiring (Rapport, 15 Desember 2017) toonbeelde van watter ambisieuse en vindingryke skrywer Steve is wat "graag sy leser in sy arms opneem en draaie gooi wat verwagtinge op hul kop keer".

Vir Meiring speel "dieselfde flinke two-step" in Die onaantasbares uit. "In die eerste helfte word die alsiende verteller al om die ander hoofstuk met die Sluiper se eie vertelstem afgewissel. In die tweede helfte neem die Sluiper oor.

"Namate die verhaal dus in felheid toeneem en sy versengende hoogtepunt nader, word die blik al hoe intenser op die Sluiper se binnewêreld gerig. Ook suggereer dié skuif netjies sy groeiende eensaamheid en afgesonderdheid. Of dié twee stemme – ewe woordryk en gevat – egter voldoende van mekaar onderskei word, is te betwyfel. Maar dié hinderlikheid is redelik gering aan die bodemlose plesier wat Hofmeyr se taal en sy stuwende storie bied." (…)

"Bowe alles laat die stygende spanningslyn Die onaantasbares se kort hoofstukkies al hoe vinniger – domino-agtig – teen mekaar steier. Totdat die laaste een neerstort, en die skille van die leser se oë afval. (…)

"Die onaantasbares is ’n blinkgeoliede bliksemstraal van ’n spanningsverhaal wat by die bestes van weleer en vandag kan kers vashou – wat ’n mens verrassend nuut na Afrikaans en al die moontlikhede daarvan laat kyk."

Ook Joan Hambidge is positief oor Die onaantasbares: "Die pas is snel, die navorsing uitstekend (kyk na hoofstuk 9 en 22) en die vrouehaat (dikwels aanwesig in hierdie genre) ontstellend. Hy is verniel deur oorloë en huurmoorde; hierom sy laakbare optrede teen sy geliefde vrou. Hierdie passasie is erg ontstellend, maar karaktergetrou beskryf." (…)

"En die slot? Hieroor moet die leser self besluit ná die outentieke leeservaring van ’n erg psigiese beseerde man wat die hoofbestanddeel van hierdie storie moet sluk, te wete: dubbelspel." (…)

"In hierdie roman is die taal gekrui, die vuiste klap en daar is baie 'geniepsige kinkels' in die storie. En in-grappes (’n verwysing na Karlien van Jaarsveld), kommentaar oor die verspreiding van pornografiese materiaal en misdaad wat ons almal verlam in hierdie land.

"Binne die subgenre van vergeldingsliteratuur steek Hofmeyr hier ’n kleim af. ’n Liefdesdriehoek met ek, sy en die duiwel …"

Die volgende hoofstuk in die Sluiper se lewe verskyn in 2018 onder die titel Die lucky strike. Op LitNet gee Francois Bekker sy lesersindruk oor Die lucky strike: "Die onaantasbares het met die kinkel van alle kinkels geëindig. (Dit sal help om eers dié boek te lees.) Gordel vas, want die man wat ons as die Sluiper ken, is terug en daar is onafgehandelde sake op die Kalahari-wildsplaas waar dinge laas keer bymekaargekom het. Of was dit ’n geval van uitmekaargedonner het? En nou, met sy staccato-aanslag, dans die poppe behoorlik met lyke wat oral rondlê op hierdie onwaarskynlike held se soektog na antwoorde en ’n nuwe toekoms wat hom telkens ontwyk.

"Verraad en wraak is ’n kousale realiteit. En die liefde ’n verleidelike bliksem. Siende blind ook. Die Sluiper se pogings om onder die radar te funksioneer, sy geskende gesig ten spyt, blyk nou eenmaal nie suksesvol te wees nie. Hoog op testosteroon en macho in elke opsig is die Sluiper ’n kanniedood wat veglustig voortstu om sy vyande te fnuik. ’n Vinnige missie in die Kongo is ’n lastige afdraaipad alvorens vergelding voltrek word. En afsluiting? Ja, wel."

"Steve Hofmeyr beloon die Afrikaanse leser met ’n viriele leksikon om aksietonele onder woorde te bring en bewys daarmee waartoe dié taal in staat is. Ek het groot vreugde geput uit ’n teks wat tegelyk evokatief en selfs poëties is. So word ’n kapokboom byvoorbeeld beskryf: 'Hy lok jou met sagte katoen wat hy soos liefdesbriewe op die bries laat sweef' (bl 3). Anderkant sy omstredenheid is Hofmeyr ’n woordvirtuoos wat respek by vriend en vyand afdwing.

"Wat ook beïndruk, is Hofmeyr se kennis van wapentuig, onmiskenbaar ingegee deur goeie navorsing. Voeg hierby die realistiese beskrywings van wonde en pyn. Spanningsrillers verskyn deesdae soos paddastoele op die literêre veld. Die Sluiper is bestem om soos Bennie Griesel (Deon Meyer) en Kassie Kasselman (Rudie van Rensburg) deel te word van die Afrikaanse krimikultus. Met ’n storielyn wat tot op die heel laaste bladsy verras, is Die lucky strike ontvlugtingsleesvermaak uit die boonste rakke."

Jean Meiring is weer Rapport (8 Julie 2018) se resensent: "Soos met Die onaantasbares toon Hofmeyr opnuut dat hy, sy dikwels ongelukkige openbare beeld ten spyt, ’n baie begaafde en uiters sensitiewe storieverteller is. Waar die hoofstukke in die eerste helfte van die vorige boek tussen ’n alsiende verteller en die Sluiper as ek-verteller afwissel, raak die alsiende verteller in Die lucky strike ná die eerste hoofstuk stil. Dan neem die Sluiper enduit oor."

"Sodoende is dié aflewering dalk minder kompleks as vertelling, maar bepaald meer direk. Die leser het deurentyd insae in hoe die Sluiper die ontvouende gebeure ervaar. Dit werk ’n selfs steiler spanningslyn in die hand as in Die onaantasbares."

"Ook is die sonderlinge en hoogs taalbewuste stem waardeur die volle verhaal hier vertel word, nou meer geloofwaardig. En wat ’n stem is dit nie! Soos in die eerste boek slaag Hofmeyr daarin om, wonderbaarlik, die volle spektrum van Afrikaans – insluitende woorde en uitdrukkings wat as argaïes beskou word – doodluiters te ontgin. En sodoende ’n klokhelder stem te giet wat volkome hedendaags en outentiek opval sonder om meer as ’n roeslagie Engelse woorde toe te laat. (…)

"Tog is Hofmeyr se selfs groter prestasie hoe behendig hy die onderdele van sy storie aaneentimmer, en sodoende daarin slaag om deurentyd die leser terg-terg in te katrol – selfs in die op die oppervlak stiller Bapsfontein-hoofstukke. Ratser Afrikaans as in die kwiksilwer-aksietonele is daar nie te vind nie. Onthulling volg op verrassende onthulling. Kortom, die storie word so vaardig vertel dat selfs diegene wat ’n broertjie dood het aan bloeddorstige geweldstonele – hulle is dik gesaai! – sal blý lees. ’n Mens blaai telkens ademloos verder."

"Dit is merkbaar dat die staatsowerhede in Die lucky strike byna volkome ontbreek. In so ’n hellevuur, sê Hofmeyr, is dit aan die beroepsmoordenaar oorgelaat om hom oor byvoorbeeld seksueel misbruikte kinders te ontferm." Die tweeluik Sluiper-boeke, wat stellig binnekort sal aangroei, toon ’n stygend swartgallige houding jeens hierdie land en vasteland.

"Tog, al kom dit uit ’n ou voorlaaier, is dit nou maar wors dat Die lucky strike een van die sidderendste rillers is wat tot nog toe in Afrikaans die lig gesien het."

Met die verskyning van die derde boek in die Sluiper-reeks in 2020 onder die titel Die kwesbares vertel Steve aan Christa Steyn Bezuidenhout van Maroela Media dat dit nooit sy plan was om ’n reeks te skryf nie. "Dit sou slegs Die onaantasbares wees. Maar die storie het te lank geword om in een boek te vertel en dit is dus in drie verdeel."

Steve het ook vertel dat dit die laaste storie in die Sluiper se verhaal sal wees: "Dit was baie moeilik om die gebeure en verhaal af te sluit. Ek het Die kwesbares se einde twee keer geskryf. Die redaksie was aan Tes se kant. Maar die Sluiper is aan sy eie kant en wou haar afmaai. Ek dink die uitgewers was reg."

Hierdie keer is die agtergrond vir die Sluiper en sy avontuur meestal in Johannesburg en Pretoria. Die paaie en plekke is aan die meeste mens in Gauteng bekend, maar Steve gebruik dit in situasies en gebeur wat die leser dwing om uit ander hoeke daarna te kyk. Die klimaks van die verhaal speel juis af in een van Pretoria se bekendste teaters.

Hieroor vertel Steve verder aan Maroela Media: "Dit gee my kans om die Sluiper se afkeur aan die kunste te demonstreer. Hy sien dit as die skepping van oorbodige realiteite, terwyl die realiteit wat ons het reeds so ingewikkeld is. Ek lag sommer as ek daaraan dink dat ek die eienaar laat weet het ek brand sy teater af in my volgende boek."

Oor sy gebruik van gekruide taal in die Sluiper-boeke sê Steve aan Maroela Media dat dit wel die leser se ervaring kan benadeel, maar in ’n spanningsverhaal is dit onvermydelik: "Dit is ondenkbaar dat mense op dié woelige vlak van konflik en wanorde nie vloek nie. ’n Mens kan 'deksels' ook net soveel keer gebruik."

Weer is Jean Meiring die resensent in Rapport (5 April 2020) en wéér is hy baie komplimenterend oor Die kwesbares, net soos oor die vorige twee boeke in die Sluiper-reeks.

In hierdie derde boek is die Sluiper heeltyd die persoon deur wie se oë die leser al die opwinding ervaar. En die leser ontmoet weer vir Tes, "die harpspelende plaasmeisie met wie hy al sedert boek een in ’n gevaarlike kat-en-muis-spel gewikkel is".

Meiring gaan voort: "Die kwesbares se doek vou immers met die onwaarskynlike vooruitsig oop dat die Sluiper en Tes hul skrede Mauritius-waarts sal wend – om happily ever after rus en stilligheid op te soek. Op pad Mauritius toe doen hulle by die Sluiper se bergingshokke in Honeydew aan en die leser word gou herinner dat die bekoorlike Tes ’n palimpses is wat oor die fotoboek-argetipe Tessa lê (bl 31): 'Daar was nie tyd vir koer en liefkoos nie. Klaarblyklik ook nie vir ontklee nie. Sy het haar ligblou blommetjiesrok tot op haar heupe gerol en met haar regterhand haar broekie voor die paradys weggetrek …'

"Maar die lughawe sien hulle nooit nie, Die Veearts van Baia Farta, húl Kubaan, sal dit nie toelaat nie. En later moet die Sluiper, sonder ’n oordosis ironie of selfkennis, dít laat val (bl 204): 'Ek ken ’n heuninggesmeerde lokval.' (…)

"Selfs die neebroers moet vir Hofmeyr ’n voldonge ja gee. Van die opbou van ’n slim en telkens verrassende intrige en van die handhawing van ’n snelle tempo kan ’n mens hom weinig leer. Soos die vorige twee boeke bestaan nommer drie ook uit kort en blitsig afgevuurde hoofstukke waarin Hofmeyr met ratse hale die toneelinkleding doen en dán sonder omhaal óf skroom sy karakters in die maalstroom dompel."

"Hy ken die genre soos die palm van sy hand. Langs die weg vernuwe hy dit en stuur dit soms ’n bietjie op. Maar bowe als is sy doel eenvoudig: om ál pronkend en pierewaaiend ’n storie te spin wat lees weer lekker maak. Om in ’n tyd waarin mense aan flitsende skerms vasgenael sit ’n beskeie wonderwerkie te skep: ’n klein papierboekie waarvan die bladsye as 't ware hulself voortblaai.

Want, as die lesers die spel speel en hul ingegreinde twyfellus ophef, sal hul gewoon nie weet wat om die draai wag nie. Of nee: As een ding vasstaan, is dit dat hulle sál weet daar wag om elke hoek en draai ’n verrassing. En húlle kan nie wag nie.

"Maar soos die titel dalk suggereer, is daar in dié derde aflewering ’n merkbare verdieping in Hofmeyr se karaktertekening. Al is daar nog baie genre-getroue tonele waar die karakters hulle in tekenprentgeweld verlustig – liggaamsdele wat vergruis en oë wat versuur word – kom die Sluiper híer veel meer lewensgetrou en kwesbaar as tevore uit die verf. Dís deels weens die stadiger, meer realistiese tonele wat tussen die frenetiese aksie ingebou is én die Sluiper se vriendskap met Sherman de Villiers, sy MacGyver-agtige steunpilaar."

Meiring sluit sy bespreking af: "Hofmeyr is ’n wafferse verkleurmannetjie. Enersyds is hy ’n siener ('[d]ie allemintige dak het soos ’n korona oor die heerlikheid gespan', bl 143) en andersyds ’n stoutmoedige kulturele argeoloog. In Die kwesbares toon hy opnnut dat hy ook ’n besondere vindingryke verteller van stories is. ’n Mens wonder wat nog in sy broek sit. ’n Gróót roman dalk?"

In 1987 het Steve probeer selfmoord pleeg, skryf Murray la Vita (Volksblad, 25 Junie 2011) en hy het dit weer oorweeg – een keer ’n maand: "En ek is nie ’n depressielyer nie. Een keer ’n maand sê ek vir myself: Al die goeters wat jy doen, is miskien net te veel, jy hoef net die stuurwiel links te swaai.

"En as daardie oomblik verby is, gebeur honderd en tien goeters wat vir my sê: Jy sou hierdie goeters nie ondervind as jy dit gedoen het nie. Miskien is ek grootbek …

"Ek het nog baie om by te dra en nog baie wat wat ek wil doen. Ek gaan nog ’n ultimate boek skryf, ’n ultimate CD uitbring …, die ultimate fliek maak, die ultimate digbundel skryf en die ultimate talk show host wees …"

"Máár as ek skielik weggevat word, sal ek nie kan sê dat ek ooit verveeld was nie."

Publikasies

Publikasie

Steve Hofmeyr – die boek. Saamgestel deur Martjie Roos

Publikasiedatum

1994

ISBN

(hb)

Uitgewer

Kengray: Steve Hofmeyr

Literêre vorm

Biografies

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Valkuns

Publikasiedatum

1997

ISBN

9780798137454 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Jêmbeekseep: Omstrede en ander woorde van Steve Hofmeyr

Publikasiedatum

2007

ISBN

9780980255690 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Griffel Media

Literêre vorm

Versameling kwinkslae, moedswillighede en uitlatings

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Mense van my asem

Publikasiedatum

2008

ISBN

9781770220966 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Zebra Press

Literêre vorm

Outobiografie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Vier briewe vir Jan Ellis

Publikasiedatum

2010

ISBN

9781770220812 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Zebra Press

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die verste uur

Publikasiedatum

2011

ISBN

9781770221642 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Zebra Press

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Kapabel

Publikasiedatum

2012

ISBN

9781770224186 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Zebra Press

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Laaste dans, Drienie

Publikasiedatum

2014

ISBN

9781770227071 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Zebra Press

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die onaantasbares (Die Sluiper-reeks)

Publikasiedatum

2017

ISBN

9781776092680 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Zebra Press

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die Lucky Strike (Die Sluiper-reeks)

Publikasiedatum

2018

ISBN

9781776093670 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Zebra Press

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die kwesbares (Die Sluiper-reeks)

Publikasiedatum

2020

ISBN

9781776095476 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Zebra Press

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

’n Keuse van artikels oor Steve Hofmeyr beskikbaar op die internet:

Steve Hofmeyr se ATKV|LitNet-Skrywersalbum is oorspronklik op 2021-09-29 gepubliseer en is nou volledig bygewerk.

Bron:

  • Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

Die opsteller vra om verskoning dat van die skakels nie tans kan oopmaak nie, maar Media24 se koerantargief is op die oomblik nie toeganklik nie. 

 

• Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

  • 1

Kommentaar

  • 'Agter elke man' het in September 1985 die lig gesien. Dit het baie hartseer in sommige mense se lewe veroorsaak, veral omdat jong mense as Jan Bommers veralgemeen is. Nie my gunsteling nie!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top