Annemarié van Niekerk gesels met Steve Hofmeyr oor skryf, lees en Vier briewe vir Jan Ellis

  • 0

Steve, jou novelle Vier briewe vir Jan Ellis wat onlangs by Zebra Press verskyn het, is jou vyfde boek. Jy’t onder andere al ’n digbundel met die titel Valkuns gepubliseer en ook verlede jaar jou outobiografie getiteld Mense van my asem. Maar hierdie is jou eerste novelle en dit het al  byna 10 000 kopieë verkoop. Die kopers is nie net fans van Steve Hofmeyr die sanger nie, maar ook mense wat goeie letterkunde lees, soos Joan Hambidge, wat dit in ’n Rapport-resensie ’n uitbundige stempel van goedkeuring gegee het. Ook Jaybee Roux het dit onlangs in die Volksblad hoog aangeskryf in sy resensie “Dis kuns hierdie”. Hiermee word ’n ander beeld van jou geskep as dié van die kontroversiële media-persoonlikheid, akteur en sanger. Ek vermoed dat ’n paar mense na die lees van Vier briewe hul opinie oor jou kwaai sal moet terugsluk. Wat het jou laat besluit om met jou skryfwerk só ’n literêre rigting in te slaan?

Ek misbruik tans my skrywe as terapie, maar dis duidelik dat ek gesond word. Omdat ek my lesers nie onderskat nie, wou ek iets groots in enkele lettergrepe vertolk. Bietjie Kaaps met ’n Damaskus-moment. Mense van my asem was te pedanties en selfondersoekend. Te eerlik. Ek het baie oopgemaak. Nou skep ek weer ’n gesonde afstand tussen my en Suid-Afrikaners. Maar ek stiek Joan vir ’n lang wyn as ek in die Kaap aanland.

Om ’n slagoffer van beeldvorming te wees is iets wat jy aan eie bas gevoel het. Almal het ’n opinie oor jou. They either love you or they hate you. Jy het dit in Vier briewe reggekry om die komplekse gelaagdheid van beeldvorming op ’n toeganklike narratiewe manier te ontrafel en jou leser byna terloops ’n stewige greep daarop te gee. Wou jy op ’n dubbeldoor manier – met Jan Ellis se verhaal, maar ook deur jouself as goeie skrywer te bewys – die beeld wat van jou bestaan vir eens en vir altyd nek omdraai?

Ag, nee wat. Dis te laat daarvoor. My oorlewing het niks te doen met werwing of hoeveel mense van my hou nie. Dit het te doen met hoe geen groep onpartydig staan as ek verbystap nie. Die Libs voel ek’s ’n Voortrekker, die behoudendes voel ek is nie behoudend genoeg nie, die Bloubulle voel ek moenie die Kaap toer nie en die Sharks dink ek is ’n drol. Swartes dink ek’s rassisties en wittes dink ek’s ’n kafferboetie. Die sinode voel ek gaan hel toe en ander dink ek’s ’n moralis (hiehie). Die litkliek voel ek is ’n rugbyliedskrywer en die Loftus-fêns voel ek probeer my slim hou. Ek’s ook te oud vir te veel omgee en te gemaklik vir kompeteer. Soos Nietzsche omarm ek kuns bloot vir die ease daarvan ... “erbärmlichen Behaglichkeit”. Ek vind die wydheid van die spektrum te beautiful om te spesialiseer.

Jy lees graag, hoor ek. Wie is jou gunsteling-outeurs en wat lê nou op jou bedkassie?

Ek’s so pas deur die biografieë van Ayn Rand, Paul Kruger, Albert Luthuli en Christopher Hitchens, en amper klaar met Eugène Terre’Blanche s’n. Ek bestudeer tans geslaagde federasiemodelle, die post-ABO-jare, die Waitangi Indigenous Rights, en blaai deur die Argief Jaarboek vir SA Geskiedenis van 1950. Ek het twee Joe Bennetts en Kris Kristofferson se biografie (asook Hestrie se memoires!) uit Nieu-Seeland saamgebring. Ek seg mos: true happiness is reading all the books you own. Ek lees alle Philip Roths, JM Coetzees, Richard North Pattersons ... Eintlik lees ek bykans enigiets, maar spandeer die minste tyd aan kortverhale, Huisgenoot en James Patterson.

Watter van die genres waarin jy nou al gepubliseer het, spreek die meeste tot jou?

Omdat kreatiwiteit vir my sinoniem is met geestelikheid, is die boodskap belangriker as die boodskapper. Die formaat sal seker nog baie verander, maar ek is gelukkig om lesers en luisteraars te hê wat belangstel in my invalshoek en my soms aweregse kyk na kwessies. Dis my pleidooi. Die volle spektrum moet gedek word ... (eh, so iets).

Merk ek by jou ’n nuwe gedrewenheid om te skryf?

Ek’s gelukkig onder geen druk om te skryf nie. Dis ’n heerlike weelde om te wag vir die muse, die skaars feeks.

En lyk my sy kom nie net onverwags nie, maar sy jaag jou ook alle rigtings in. Jy durf nie net verskillende genres aan nie, maar jy speel ook met genre-verskeidenheid binne een werk. Soos nou weer met Vier briewe wat eintlik ’n novelle is maar wat met poëtiese kwaliteit en poëtiese minimalisme werk. Jou woorde is fyn gekies en presies geplaas. Tog pen dit ’n ryk en grootse belewingswêreld vas – ’n wêreld van vooroordele, van identiteit, van die individu se verhouding ten opsigte van die gemeenskap, van skuld en onskuld, van outsiderskap, van ontnugtering – om ’n paar te noem. Waarom dié gestroopte styl as jy met sulke grootse temas werk?

Daar is ’n akademiese antwoord, maar ek wil eintlik net hê my ma moet dit ook lees. En daai tannie van Bloemfontein duld geen woorde groter as 7de Laan nie. Maar my missie is tannie Stienie van Agter elke man. Sy’t soms, sonder om te weet, met haar kommingeite en al, die grootste filosofiese juwele kwytgeraak. Maar ek het in elk geval ’n groot affiniteit met musiese prosa, waarvan ek nog min in Afrikaans kon opspoor. Ek dink aan Jeanette Winterson en Ben Okri. Antjie Krog doen dit by uitstek wanneer sy nie dig nie. Ons skrywers benut nie alle moontlikhede wat die literatuur bied nie. G’n wonder ons sukkel om mense aan die lees te kry nie. Ek dink dit het baie te doen met hoe nieboeiend ons skrywers kan wees. Sangklasse by die Woordfees kan ook bydra. Ek kritiseer nou bloot as ’n leser.

Vier briewe is beslis ’n skuif in dié rigting van poëtiese prosa. Maar die liriese toonaard is nogal misleidend, want die novelle gee ’n genadelose kyk op die destruktiewe gevolge van ’n homofobiese en rassistiese gemeenskap. Is dit nie teenstrydig met van die politieke uitlatings wat jy deesdae kwytraak nie? Sommige mense sê jy word AWB-erig. Wat sê jy hiervan en hoe sien jy rassisme?

Rassisme is onder andere die afwesigheid van jaloesie. Jy voel jou meerwaardig en keur assimilasie af. Ekstremiste is daarom ook nie skaam om hul posisie uit te blaker nie. Dit is nie ek nie. Ek verskil van rassiste deurdat ek glo in die potensiaal van enige sterfling, maar dat ons saam gaan opdaag by die wenstreep beteken nie dat ons saam weggespring het nie. Afrikane is so oorval deur die post-struggle-euforie dat nie een enkele woord gerep word oor hierdie kontinent se prekoloniale sub-Sahara-verlamming nie. Hier is my mede-Suid-Afrikaners te besig om te luister na Afrikaner-confessions om tyd te maak om hand in eie boesem te steek. Dis natuurlik baie maklik om te daal na die vlak van ’n Malema, maar lyk my dit is op daardie vlak wat Suid-Afrikaners wil redekawel. Ek sou nie Vier briewe met soveel respek en deernis kon geskryf het as ek myself meer geag het as my bruin broers en suster nie. Ek kan nie wag om dit op die verhoog te sit met die beste Weskus-talent nie. Maar by die Groot Debat (mag hy kom) sal ek niemand weer rassisme met feite laat verwar nie. Ek haat terapie-geskiedenis. Ek dink ook gay- en vroue-regte is so 80’s. Menseregte is meer my ding.

Die novelle begin met ’n aanhaling uit die Oudam Herald van 8 September 2009. Dit skep die illusie van outentisiteit. So ook die afskrifte van ’n resep vir Hertzogkoekies, ’n bladsy uit die Psalms-en-Gesange-boekie, en ander getikte of gesimuleerde geskrewe dokumente. Is Vier briewe die verwerking van ’n ware verhaal of is dit suiwer fiksie?

Dis suiwer fabrikasie, eintlik gedroom. Die tegniek wat ek gebruik, die spel met outentisiteit, dit is doelbewus – dis die draer van nostalgie en ougoed. Ek wens al jare lank vir hyperlinks na die ander sintuie ... as jy maar die klapper kan proe terwyl George dit uit sy tassie pak. Hierdie storie kan ook nie werk in ’n tyd van selfone nie. Die afwesigheid van tegnologie is ’n voorwaarde vir Vier briewe om te kan werk. Ek het tans ’n radiotreffer genaamd “FM Stereo”, ’n lied oor seine wat tussen mense verlore gaan. ’n Uitroep na frekwensies, nie Facebook en Twitter-profiele nie. Die taal van innuendo en die genadelose soektog na omvattende resonansie.

Gepraat van nostalgie en ougoed. Jou hoofkarakter se naam is George Jan Ellis Kok. Of sommer net Jan Ellis. Het jy ’n besonderse band met die legendariese Jan Ellis?

Hy was my eie gunsteling-rugbyspeler as kaalvoet seun in die Goudveldse laerskole. Ek was ook ’n flank en eendag het my pa sy handtekening gebring uit Namibië. Ek het amper flou geword. As ’n Springbok was hy, vir kinders van my tyd, maar altyd daar. Sy blywende indruk het iets te make met die grootte van sy hande. Hy was die Pierre Spies-tipe wat die bal in een hand kon vasvat en ’n pad met die ander oopstoei doellyn toe. Jare later sou hy ’n getekende Joost van der Westhuizen-trui aan my afbie. Hy was onder andere ook ’n afslaer. Ek het ’n getekende kopie van Jan Ellis by hom probeer uitkry, maar nog niks gehoor nie. Dat ’n mens “a sense of wonder” moet behou, het my Metodiste-dominee elke Sondag gepreek. Een van my lewensvereistes is om altyd ’n bewonderaar te bly, van iets of iemand.

Wie bewonder jy nou en hoekom?

Kan jy glo hulle was op ’n tyd rockers en rugbyspelers! En nou? Wel, ek’s ietwat sku vir kontemporêre invloede. Ek skaar my by die skeptiese, postverligting-klomp maar nie noodwendig die ongelowiges nie: Hegel, Hume, Russell, CS Lewis, Tolstoi, Spinoza, Nietzsche en die “einde” van filosofie, Wittgenstein. Uit die tydperk van Sokrates spandeer ek die meeste tyd by Jesus, Job en Aristoteles. Onlangs is daar Rand, Chomsky, Eco, Said, Ken Wilber en iemand aweregs soos Hitchens, wie ek bewonder sonder om noodwendig saam te stem. Nader tuis lees ek Gustav Preller, Eybers, Cussons en Van Wyk Louw. Oor en oor. Ek lewe ook in bewondering vir ons volkshelde en kweek deurgaans respek vir eervolle bydraes tot die Struggle. Maar my oudste helde is superhelde soos Iron Man, Captain America, Batman en Ruiter in Swart. Simon Armitage is my gunsteling (lewende) Engelse digter. Ek was so beïndruk met die poësie van Sandor Kanyadi wat ek in 2009 tydens my Oosblok-vakansie ontdek het dat ek dadelik een van sy gedigte in Afrikaans vertaal het. Máár: lewensvrate soos ek laat die alledaagse juweeltjies nie deurglip nie. Hulle, die onvoorspelbares en die gewones wat nie raakgesien word nie, die tannie wat haar kneukels deurknie aan deeg vir broodjies vir die plaaslike kinderhuis, hulle is my helde.

Vertel iets meer oor die treffende blou vooromslagfoto. Was dit jou keuse?

Die omslagkarakter is Baziltjie Blue, ’n karakter in die novelle. George en die Oudamse boelies het sy gesiggie gepaint met die blou eyeshadow wat hulle by hom gekry het. Die noodlot boelie haar mense ook maar so. En sy’s veral wreed met buitestanders. Baziltjie is George se eerste lewensles in seksualiteit en Protestantse lamsakkigheid. Ek wou ook die wittes en bruines opsy maak staan vir die meelewendheid van blou mense, van Jan Alleman. Elkeman, as jy wil. En vir ingeval iemand dalk so dink, die Bloubulle het niks daarmee te doen nie en die idee was myne maande voor die bloukop fliekplakkate van Avatar oral verskyn het.

Baziltjie is ’n aangrypende karakter. Mens wil hom beskerm. Hy simboliseer die kneusplekke wat die gemeenskap kwesbare mense so dikwels toedien. Sy blou kleur bring ook die hartseer en die snaaksigheid bymekaar – die tragikomiese element in jou novelle. Jy speel goed met humor en vermeng dit dan delikaat met die pynlike. Hoekom die bymekaargooi van uiterste pole van die gevoelspektrum? Lyk my ons is weer terug by die “volle spektrum” waarvan jy netnou gepraat het.

Ek gebruik dit in my skryfwerk omdat dit presies dít is wat mý na trane dryf. Ook as ek lees. Daai dun lyntjie tussen uitbars en inhou. Die traan in die nar se oog. Die komedie van Bette Midler wat jou hart in enkele sinne tussen daardie pole rondjaag. Tannie Stienie, wat in ’n oogwink van die komiese na die tragiese vertrek. Hulle lê so mooi langs mekaar. Ek’s so bang Afrikaners glo dat die somtotaal van emosies slegs op sepies en in die geelpers registreer. Ek was so dankbaar toe Fokofpolisiekar in Afrikaans kom skree het dat die are in hulle nekke uitslaan.

Die novelle speel meesal af op Diazville, in die distrik Darling. Waarom hier? Het jy ’n spesiale band met die plek?

Ek is al jare ’n vennoot van dié Weskusplek op Jacobsbaai en het met verloop van tyd ’n spesiale verhouding opgebou met die mense daar. Natuurlik is die idee van lokaliteit oorbodig in ’n everyman-novelle, maar sonder om die einde te verklap is die Suid Afrikaanse dilemma tog baie relevant. Jy sal dit nie glo nie, maar dit was eers ná die publikasie van Vier briewe wat ek op ’n kerkie met geverfde vensters in Diazville afgekom het. Ek is lief vir die Weskus, vir sy gestrooptheid. Hoogdrawende woordepraal werk nie daar nie. Die ruheid van die plek akkordeer met my.

Sonder om die einde heeltemal weg te gee, Jan Ellis se “ma” sê: “Djy’s ’n fokken verlêkind.” Binne die konserwatiewe Suid-Afrikaanse gemeenskap kan sy regte ma nie haar verantwoordelikheid as moeder op ’n natuurlike wyse nakom nie, maar tog kan sy ook nie heeltemal afstand doen van hom nie. Haar verbintenis met haar kind hou haar haar lewe lank besig; dit ry haar as’t ware. En eers later kom Jan Ellis agter die waarheid. Jy benader dit met groot deernis. Hoekom hierdie “fokken verlêkind”-tema? 

Jy weet wanneer ma’s sê: “As die kind slim is, is hy myne, as hy droogmaak, sy pa s’n” ... Ek bevraagteken hiermee ook bloedverbande en of bloed werklik dikker is as water. Die stereotiepe nare stiefma is ook ’n leuen. Gaan luister maar weer na Mrs Doubtfire se skitterende toespraak oor verskillende families. Dieselfde geld vir kultuur-politiese retoriek. Nasionaliteite, nasionalismes en patriotismes is iets waarmee ek my graag besighou, maar ek is nie verswelg daardeur nie. Dis tog die uitsonderings op die reëls wat die reëls so mooi maak. Binne daardie groot bruin/wit familie is ons almal maar verlêkinders.

Jy vang die inwoners van Diazville vas in kostelike karaktertekeninge. Soos Antie Tô wat met haar lywigheid en hangarms oor Daphne Kok se draadheining hang. Dis duidelik dat jy mense fyn dophou. Wat fassineer jou die meeste?

Die diversiteit teenoor die ooreenkomste en waar hulle skei. Dis ’n heilige skeppingsoomblik daardie. Hoe onselfbewus sommige is. Die vryheid daarvan. My voorliefde vir die ou garde en die kinders. En die sout van die aarde tussenin. Hier is daar klaarblyklik geen verskille tussen wit en bruin nie. Gee my sulke mense en daardie plekke waar daar vir pronkerige slimgeite en ander aanwensels geen plek is nie.

Jou novelle lewer kommentaar op hoe mens se identiteit soms vorm en volume kry wat die werklikheid ver verbyskiet – as dit verkeerd val, is jy gedoem; as dit goed val, score jy. Vir Jan Ellis val dit verkeerd. Jy’s self iemand van wie daar ’n baie pertinente openbare beeld bestaan. Dink jy dié beeld het ook proporsies aangeneem wat alle grense van realiteit oorskry? Het jou novelle ook hiermee te make?

Ek wou nie hê iemand moes dit sien nie. Ek bekla ook die disproporsionele strawwe vir gewone mense, God se parmantige afwesigheid wanneer ons die hardste skree, ons opgesmukte tevredenheid met wat ons ooglopend waarneem, en die waarskuwing van my dominee in standerd ses: “Steve, nobody said that it was supposed to be fair.” In my eie lewe moes ek groot aanpassings maak. Publisiteit beteken dat jou dade beoordeel word deur jou reputasie en nie andersom nie. Dis ook iets waarteen die Brits-Amerikaanse joernalis en literatuurkritikus Christopher Hitchens kapsie maak. George Jan Ellis Kok word oornag ’n celebrity en, vra my, dit vertroebel die watertjies van geregtigheid.

Wat kan ons volgende van jou te wagte wees binne die literatuur?

Die skrywersduiwel jaag my nie. Ek het Vier briewe vir Jan Ellis in twaalf dae geskryf nadat ek myself (ná my lywige outobiografie) belowe het dat ek nooit weer so iets sal doen nie. Ek tap my gedigte, liedjies, essays, rubrieke, moerigheid, blogs en toesprake uit slegs een enkele feilbare bron. As tipiese eksistensialis en ongeneesbare dromer ly ek vreeslik aan self-imposed loadshedding. Dan doen ek onkreatiewe, blonde dinge vir maande aanmekaar.

Wil Steve Hofmeyr ’n groot skrywer wees?

Ek het laat begin, maar ek vang mooi op. Ek leer eintlik nog om te dink. Miskien eendag ...

Ter afsluiting, gee vir my ’n lysie van jou gunsteling-boeke wat jy tot dusver gelees het.

My lysie van beste Engelse boeke is:

  • The Fountainhead - Ayn Rand
  • The Outsider - Colin Wilson
  • High Fidelity – Nick Hornby
  • Disgrace/Slowman/Diary of a bad year – JM Coetzee
  • The Dying Animal/Exit Ghost – Philip Roth
  • The Taoh of Pooh - Benjamin Hoff
  • Testaments Betrayed - Milan Kundera
  • Putting away childish things - Ute Ranke Heineman
  • Losing Faith in Faith – Ken Barker
  • The Kingdom Of God Is Within You - Leo Tolstoy
  • Lost Horizon - James Hilton
  • Fuzzy Thinking - Bart Kosko
  • CS Lewis - Biography - AN Wilson
  • Dancing naked in the mindfield - Kerry Mullis
  • We need to talk about Kevin - Lionel Shriver
  • Hitch-22 – Christopher Hitchens.

En nog een laaste vraag. Jou Afrikaanse vertaling van Sandor Kanyadi se “The Way” waarvan jy netnou gepraat het – ek sou dit graag wou hoor.

Oukei. Dis hoe dit gaan. Dis ’n beautiful gedig. Ek het die vertaling op 26 September 2009 gedoen.

hoe jy ’n skerm van jou hand maak
teen jou voorkop en stop elke nou en dan
hoe jy die eensaamheid in wandel en die
nag passeer sonder pyn van waar en wanneer

hoe jy die leë rakke aangaap sonder
die gemis van marsjerende boeke
hoe die bed jou smôrens vasvang en jy
daar gedy sonder skaamte

hoe jou gedagtes soms nog huis toe dwaal
maar waar is dit vir jou hierdie welkom mat
hoe die woord self vir jou uitgetrap raak
soos hierdie huis lostorring en afplat

hoe uit gewoonte jou tong nog trippel op
trappe van rym soos vingers oor die klawers
hoe jou aangepakte gelaat
net nog ’n spieël is wat die spieël sien

hoe die vlam niks meer bied as roet nie
en niemand iemand skuld nie
self die sonnet grimeer sy gelaat
soos die muse klokkies lui van deur tot deur

hoe jou groef gekerfde brein nou vergaan
en jy die onbekende bevriend
en die geheime skatte daar lank bewaar
saam jou oud word en vir die einde wag

hoe god in jou sy plek opeis
so asof hy dan eg sal wees
en jy die woning en bewoner is
ja kasteel en koning insgelyks

hoe jou are soos trillende snare uitstrek
ontsnap jou siel wie weet waarnatoe
dalk sal ’n sarsie die hemel in gevuur
dit laat voetsek soos ’n klomp kraaie

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top