Ope brief aan Steve Hofmeyr

  • 7

Beste Steve

Sommige Afrikaners, en veral jy, het ’n uitsonderlike vernuf om menigmaal die toekoms van Afrikaans te bedreig en sodoende meehelp om dié taal op ’n glybaan van algemene verengelsing te plaas.

Ek verwys hier bepaald na jou gesingery van die “Die Stem” op die onlangse Innibos-kunstefees in Mbombela (Nelspruit). Dit is jou goeie reg, soos jy tereg kan argumenteer, om “Die Stem” te sing.

Elke reg moet egter met ’n absolute verantwoordelikheid beoefen word. Gegewe die oorweldigende negatiewe reaksie uit die burgerlike samelewing en veral uit politieke kringe het jou singery van “Die Stem” die teenoorgestelde uitwerking gehad waarop jy miskien (?) gehoop het.

Jou “ek het gebars van die trots”-singery het die EFF gerieflike skietgoed gegee om vir die skrap van die “Die Stem” te vra. Goed, die EFF se geblaf kan as opportunisties en politiekery afgemaak word.

Onthou egter, die EFF verteenwoordig ’n beduidende aantal swart Suid-Afrikaners, veral jeugdiges, wat reeds in koerantbriewe en sosiale media teen “Die Stem” en ook Afrikaans (veral ook die Afrikaanse gedeelte in “Nkosi Sikelel’ iAfrika”) te velde getrek het. Hulle is baie meer as die 45 000 Afrikaners (?) wie nostalgies saam met jou die donker apartheidspad van die verlede sing-sing aangedurf het. Jy (en jou handjievol ondersteuners) speel met gloeiende politieke vlamme.

Weet jy hoekom reageer die oorweldigende meerderheid Suid-Afrikaners so?

Dit is omdat Afrikaans nog gesien word as draer van konserwatiewe denke en verstarde filosofie. Deur “Die Stem” te sing het jy dié sentiment versterk en dus ’n geleentheid gemis om mense se persepsies te verander dat Afrikaans ’n progressiewe en dinamiese taal is van ’n groter en beter Suid-Afrika met groter eenheid tussen die mense van die land en ook tussen mede-Afrikaanssprekendes.

Jy het selfs die meerderheid Afrikaanssprekendes (wit, bruin en swart) wat hul lewens daaraan toewy om die tradisionele beeld van Afrikaans as ’n wit rassistiese taal teen te werk van jou vervreem. So ook het jy die voorbehoude oor die begrip “Afrikaanses” – omdat dit ’n valse eenheid sou suggereer – by sommige “gekleurde” Afrikaanssprekendes versterk.

Jy het op Twitter geskryf dat dit transformasie is wat hierdie land een van die gewelddadigste lande op aarde gemaak het. Daarmee suggereer jy seker dat wit mense die meeste onder geweld ly. Wel, die politieke wetenskaplike Piet Croucamp het raakgevat toe hy in Beeld geskryf het: “Suid-Afrika was nog altyd ’n gewelddadige land vir swart mense; en wit mense was in geen opsig minder gewelddadig as enige van Afrika se ander inwoners nie.”

Ironies genoeg laat geweld my reeds aan jou dink. Herinneringe van ’n sekere fliek van die regisseur Len Wiseman kom by my op. Underworld Evolution is as ’t ware ’n beeld wat jou op ’n gewelddadige en bloeddorstige toer neem. Dit neem jou van toeka se dae, deur ’n hoëtegnologie-era tot by die hede – wat deurspek is met bloed en genadelose gevegte, waar dood aan die orde van die dag is. Dit laat jou gril en somtyds verbeel jy jou jy bevind jou binne so ’n werklikheid.

Ek onthou ook hoe jy die joernalis Jan-Jan Joubert – toe redakteur van die feeskoerant Krit – in 2002 by die KKNK in Oudtshoorn te lyf gegaan het. Jy het hom bo-op ’n tafel gegooi omdat ’n Krit-resensent geskryf het jy dra k*k skoene vir jou destydse show Engele om ons.

Ek sluit af met ’n greep uit die toespraak van die onlangs ontslape rektor van die Universiteit Stellenbosch, Russel Botman, wat hy vir die Universiteit van Aberdeen in Skotland se oorhandigingseremonie van ’n eregraad aan hom geskryf het. Sy vrou, Beryl, het die graad postuum namens hom ontvang en die toespraak voorgelees: “Word ’n meningsvormer vir ’n beter toekoms, ’n leier vir geregtigheid, ’n leier vir waardigheid vir almal. Dis die regte ding om te doen.”

Steve, ek hoop jy gaan ten minste probeer.

  • 7

Kommentaar

  • Beste Jason
    Soos enige mens in 'n demokratiese land is jy geregtig op jou mening.
    Maar so erg soos jy oor die sing van die Stem voel, so erg voel ek oor die dreunsang 'Kill the farmer-Kill the boer' en die staatspresident se propaganda (oorlogslied) lied

    Umshini wami mshini wami (lead)
    khawuleth'umshini wami (Follower)
     Umshini wami mshini wami,
     khawuleth'umshini wami
    Umshini wami mshini wami,
    khawuleth'umshini wami
    khawuleth'umshini wami
     Wen'uyang'ibambezela(Lead)
     umshini wami,
     khawuleth'umshini wami(Follower)

    My machine my machine
    Please bring my machine
    My machine my machine
    Please bring my machine
    My machine my machine
    Please bring my machine
    Please bring my machine
     You're pulling me back
    My machine,
    Please bring my machine

    bron:wikipedia.org

    Jy is bekommerd oor die reaksie van miljoene swart mense as 'n klompie mense die Stem sing,maar ek is meer bekommerd oor die groter aantal swart mense wat lustig met die President saamsing en dan  die soms geweldadige  reaksie van die opgesweepte skares wat hul opgesweepte gevoelens op alles in die omgewing uithaal.

    Die verwoesting van infrastruktuur soos nou weer in Apex aan die Oos-Rand waar eienaars aangerand is en werksplekke verwoes is en 'n sewe maande swanger vrou haar selfs moes ontbloot om te wys sy is swanger
    en toe met 'n metaalpyp oor haar opgeswelde maag aangerand is, is vir my en miljoene regdenkende Suid-Afrikaners 'n groter bron van kommer as oor die sing van 'n volkslied.

    En 'n nog groter bron van bekommernis is die gewelddadige samelewing waarin mense in die Kaap deurloop onder bendegeweld en die toenemende dwelmgebruik wat die lewens van miljoene jong mense verwoes.

  • Ek dink mense moet nou maar vir eenmaal besluit wat hulle wil doen. Gaan ons die land maak werk, dan los ons al hierdie liedere. As ons egter wil aangaan om die land in groter gemors te dompel moet ons aanhou om hierdie liedere te sing. Of dit nou "Die Stem" is of "Kill the Farmer, Kill the Boer" is maak nie saak nie, want al hierdie liedere bring almal verdeeltheid.

     
     
  • Jason

    Ek hou van Steve se musiek.  Ek hou net nie van sy politiek nie.  En ja.  Ek glo ook hy doen groot skade aan beide Afrikaans en die Afrikaner met sy uitlatings en politieke optredes.

    In teenstelling, Bok van Blerk met sy "Gen de la Rey" skep nie dieselfde politiese beeld as Steve nie.

    F.C. Boot.  One wrong does not justify another.

     

     

  • Beste Jaco

    Jy skryf "F.C. Boot.  One wrong does not justify another."

    Ja dit sou nogal waar gewees het as die deelnemers wedersyds min of meer in gelyke getalle deelgeneem het en die gevolge ewe katastrofies was. Die 45 000 wat op 'n plek waarvan die toegang beperk is, omdat dit nie meer kon akkomodeer nie, kan nie vergelyk word met die massas en hul optrede aan die ander kant.

    Om 'n volkslied te sing is nie barbaars nie en het nie onder die deelnemers gely tot 'n verwoestingsveldtog nie. Dit sal ook nie buitelandse beleggers afskrik nie.

    Die optrede waarna ek verwys het het talle sakeondernemings wie se aktiwiteite nie eers verband hou met die staking nie. Onskuldige mense is aangerand, ondernemings leeggestroop, terwyl eienaars hulpeloos moes toekyk en die polisie glad nie beskerming gebied het nie.

    Wie wil nou in 'n nywerheidsgebied belê en ondernemings begin om werk aan die werkloses te voorsien, as jy nie seker is van jou lewe of eiendom nie?

    Hierdie vakbonde en hul lede is besig om Suid-Afrika 'n onvriendelike beleggingsplek te maak.

  • FC Boot.

    Om Nkosi Sikelel' iAfrika sonder die Stem bykomstig te sing as volkslied van S.A. is net so foutief as om die Stem te sing sonder Nkosi Sikelel' iAfrika bykomstig as volkslied van S.A., en veral by 'n kunstefees waar buitestanders se oë ook daarop gefokus is.   Dit is in daardie lig wat ek Jason se brief hierbo lees.

     

    Die Stem kan nie meer as 'n suiwer Afrikaner-besitreg gesien en geëien word nie, maar wel as almal se volkslied en besitreg.  Dieselfde argument geld vir Nkosi Sikelel' iAfrika wat nie as 'n suiwer Swart besitreg gesien moet word nie, en veral ook nie onder Afrikaners nie.   

     

    En ja.  Zuma se "Umshini" is belaglik en onvanpas, maar neem dit van  wie dit kom. Wil jy hê ons moet met 'n "Tit" for "Tat" tipe optree?

     

    Mbt jou aantuigings oor die stakings en swak beeld wat die unies die wêreld uitstuur, is ek en menigtes, wat swart, wit en bruin insluit, met jou eens, maar dit is nie waaroor Jason geredeneer het nie.

     

    Net soos wat baie Afrikaners vinning op hul perdjie klim wanneer iets teen die Afrikaanse taal en kultuur gedoen of gesê word, moet ons dan nie kerm wanneer ander soortgelyke emosies openbaar oor sake wat hulle raak, hetsy werklik of  denkbeeldig.

     

    Die Afrikaner / Afrikaanses het 'n tweeledige reg in hierdie land.  Hy het die reg om sy kultuur en taal te kan handhaaf, en het ook 'n reg om deel van die mulitkulturele gemeenskap hier in SA te wees.

     

     

     

     

     

     

  • Ek verstaan Jason nie.  Hoe kan hy sê dat Steve “ ... meehelp om dié taal [Afrikaans] op ’n glybaan van algemene verengelsing te plaas” oor Steve se sing van Die Stem?  Verengelsing!?  Jason is taamlik ontstig (‘n ou skryf nie om dowe neute ‘n ope brief nie) so ek neem aan hy is teen verengelsing maar hy sê niks oor Nathan Trantraal (Poolshoogte 26-6-2014) se verengelsde Afrikaans nie.  Ook sê hy niks oor UWK, Maties, Kovsies en Tukkies se verengelsing nie (veral oor eersgenoemde drie moes hy erg gegrief gewees het gesien die bruin aandeel in die proses).  Ook sê hy niks oor die verengelsing van Sanparke, die poskantoor en VISI nie.  Eienaardig.

    Ek verstaan ook nie vir Philippe nie; hoe kan hy Die Stem, net oor dié Afrikaans is, as ewe opruiend beskou as ‘n lied wat openlik ‘n oproep tot geweld is?  Baie snaaks, verbysterend eintlik.

    Jaco  verstaan ek ook nie.  Weet hy nie Die Stem is ook in Engels nie, naamlik The Call of South Africa  (daar’s dan selfs ‘n stukkie daarvan in Nkosi Sikelel' iAfrika)?  Hoe kan Steve nou groot skade “aan Afrikaans en die Afrikaner” doen deur Die Stem te sing, of wil Jaco hê hy moes die Engelse weergawe ook gesing het?  Eienaardig.

    Ek verstaan FC Boot baie duidelik.  Wat hy sê maak sin.

  • Sommer ver in die ou Kalahari

    Die Stem was 'n Afrikaanse gedig wat in Mei 1918 deur CJ Langenhoven geskryf is en in 1921 deur  Marthinus Lourens de Villiers getoonset is.Nkosi Sikelel' iAfrika was oorspronklik gekomponeer as 'n gesang in 1897 deur Enoch Sontonga.Beide is uitnemende werke waarvan almal die diepere betekenis heeltemal verloor.

    Die Engelse vertaling van Nkosi Sikelel'Afrika is soos volg:

    Lord, bless Africa May her spirit rise high up Hear thou our prayers Lord bless us. Lord, bless Africa Banish wars and strife Lord, bless our nation of South Africa.

    Daar word gevra dat die Here Afrika moet seën en die mense se gebede moet verhoor. Dat die Here oorlog en twis moet verban uit die land en die hele nasie van Suid-Afrika seën. 

    Uit die blou van onse hemel, Uit die diepte van ons see,Oor ons ewige gebergtes, Waar die kranse antwoord gee.Deur ons ver verlate vlaktes,Met die kreun van ossewa.Ruis die stem van ons geliefde,Van ons land Suid-Afrika.Ons sal antwoord op jou roepstem,Ons sal offer wat jy vra:Ons sal lewe, ons sal sterwe,ons vir jou, Suid-Afrika

    Die een lied vra seën oor die mense in Suid-Afrika en dat daar geen meer twis en oorlog sal wees wat ons en ons pragtige land afbreek en 'n plek van droefheid en leed skep.

    Die eerste paar reëls van Die Stem beskryf die wonderskone natuur van ons land en daarna kom die felle oproep of jy sal offer wat jou land van jou vra.Is ons bereid om voluit te lewe en te sterwe vir ons land - en dit sluit almal van ons in.

    Geen mens kan verhoed word om Die Stem te sing nie , net soos wat geen mens verhoed kan word om Nkosi Sikelel' iAfrika alleen te sing.

    Hou op om alles so ingewikkeld te maak

    Ek kry hoendervleis wanneer Miriam Makeba of Ladysmith Black Mambazo Nkosi Sikele' iAfrika sing en net so kry ek hoedervleis wanneer Steve Hofmeyr Die Stem sing - ek meen die man het die stem daarvoor.

    Hou op om alles te verpolitiek.

    Mnr Hofmeyr, as jy Die Stem as deel van jou repetoria die aand gesing het sou alles goed en wel gewees het - maar toe moes jy die politieke kinkel ingebring het. Regtig???

    Ek sê maar net

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top