Vier briewe vir Jan Ellis literêr goed, boeiend en toeganklik

  • 0

Vier briewe vir Jan Ellis
Steve Hofmeyr
Uitgewer: Zebra Press
ISBN: 978177022 081
Prys: R120

 

Die wêreldliteratuur lewer van tyd tot tyd onvergeetlike klein novelles op. Kamees wat jou ’n leeftyd bybly. Gewoonlik gaan dit om ’n enkele gebeurtenis of ’n paar agtereenvolgende gebeurtenisse wat iemand se lewe handomkeer verander. Dink maar aan Nikolaj Gogol se The overcoat (1842), Gustave Flaubert se Un Cœur simple (1877), Tsjechof se The lady with the dog (1899), Paul Galico se The Snow Goose (1940) en Ernest Hemingway se The Old Man and The Sea (1952), om maar ’n paar te noem. Jy lees hulle nie net een keer nie, maar ’n paar keer, en jy vergeet hulle nie.

Die kleinheid van die novelle sê beslis niks oor die volume van sy trefkrag nie. So het Vladimir Nabokof byvoorbeeld oor The overcoat gesê dat Gogol met dié onsterflike verhaal een van Rusland se grootste kunstenaars geword het. Dít is die impak wat ’n geslaagde novelle kan hê. Maar hy kan ook lelik platval as elke noot nie suiwer gespeel word nie; omdat hy oorsigtelik is, skreeu iedere vals toon ten hemele. Hierdie lastige genre – bedrieglik in sy eenvoud – kan ’n onervare skrywer makliker as maklik pootjie.

Steve Hofmeyr het dit aangedurf. Lyk my die man stuit vir niks nie. Ek begin Vier briewe vir Jan Ellis met die nodige skeptisisme lees, want Steve is Steve. Die vooroordeel is nie my skuld nie, probeer ek myself wysmaak, dis die gevolg van beeldvorming, en Steve Hofmeyr het nou eenmaal ’n sekere beeld: sanger, sepies-akteur, Bloubulle-fan en iemand wat in die laaste tyd politiese dinge kwytraak wat sommige mense die harnas injaag.

Vier briewe vir Jan Ellis begin met ’n klein nuusberig uit die Oudam Herald van 8 September 2009. Die beriggie vertel van ’n groot geluk wat die ook-maar-armoedige Sishenstraat getref het toe dit eendag sommer so uit die niet met tienduisende tienrandnote bestrooi is. Dorpenaars is gevra om nie die geld te vat tot tyd en wyl die oorsprong daarvan vasgestel kon word nie. Min mense het hulle aan die versoek gesteur.

Met hierdie raaiselagtige koerantberig word die leser die verhaal ingeslinger. Die berig skep spanning, maar stilisties is dit ook ’n gepaste manier om ’n novelle uit sy wegspringblokke te laat skiet, want die Italiaanse woord novella (meervoud: novelle) beteken tog letterlik “vertelling” (soos in die Engelse tale) of “stukkie nuus”. Terloops: dit is in veertiende-eeuse Italië wat hierdie genre tot stand gekom het, hoofsaaklik deur die werk van Giovanni Boccaccio en sy Decameron (1353).

Vermoedelik toeval dat Hofmeyr só in die kol wegspring, dink ek aanvanklik, maar soos ek vorder, begin ek twyfel, want hy pas ook ander styl-outentieke novelle-elemente toe, soos onder andere die raamvertellingstruktuur van verskeie vroeë Italiaanse novelles. Die verhaal se einde skuif netjies aan by sy begin en in dié sluiting lê die sleutels vir begrip van die binneverhaal. Die genre maak ook by uitstek gebruik van satirisering en ironisering – iets wat Hofmeyr ook pertinent toepas in Vier briewe vir Jan Ellis. En as ek hoor dat Steve ’n groot fan is van die Russies-Amerikaanse Ayn Rand, wat in haar werk ook beïnvloed is deur die vroeë Russiese novelle-meesters, begin ek agterkom dat toeval hier onwaarskynlik is.

Alles goed en wel, Steve het sy stylhuiswerk gedoen – dis maklik. Maar dat sy toepassing daarvan presies in die kol is én struktureel werk, vang my onkant. 

Faal hy dalk wat die inhoudelike invul betref? Of miskien gevoelsmatig? Of daar waar die styl, struktuur, verhaal en trefkrag van die taal mekaar moet ontmoet? 

Nee, nêrens nie. Die storie is fyn uitgedink en presies gekonseptualiseer. Net die nodigste word vertel en dit word met die regte ritme en dosering en op die regte oomblik vertel. George Jan Ellis Kok is ’n streetwise kind. Hy móét wees, want hy word arm groot en moet self maniere uitdink om geld te maak, soos om begraafplaas-besoekers se spoed te breek nét voor hulle by die begraafplaas aankom sodat hulle sy toiletrolle kan koop. Hy werk hard om krom dinge vir homself reguit te maak. Maar hy tref ook daagliks sy gelukkies, soos die huilende miesies Maddy M Louw wat met die Hertzog-koekie by haar voorhekkie wag as hy soggens skool toe stap. Nou en dan is daar ook ’n onverwagse meevallertjie, soos ’n dikwiel-bicycle wat sy kant toe kom. Maak nie saak hoe hard Antie Tô, die buurvrou, sy kant vat nie, Daphne Kok, sy ma, glo dis gesteelde goed – ook die Gesangeboeke wat sy tussen sy goed kry - en sy sorg dat hy behoorlik les opsê.

Dít is die begin van George se negatiewe imago. Want as jou ma jou nie glo nie, wie kan jou dan glo? Antie Tô hou aan probeer: “Ag, nee, hy’s ’n mooi seun. Ek laaik hom. Hy hark vir my die gravel. Hy’s ’n dreamer, Daphne. ’n Poet. Soos ekke myselwers.” Maar Daphne wil nie byt nie. George se storie word laag vir laag afgeskil en die ware stories van die koekies, die fiets, die gesangeboeke en uiteindelik ook die tienrandnote in Sishenstraat word ontmasker – en ook hoe Daphne nou eintlik in sy lewe pas. Daarmee saam ontvou die verhaal van hoe ’n gemeenskap ’n beeld van iemand opbou en hoe die beeld só ’n lewe van sy eie kry dat die slagoffer self daaraan begin glo - selfs later wanneer dit nie meer die oorspronklike skeppers daarvan pas dat hy aan sy eie slegte beeld vasgegroei het nie.

As George, na ’n lang lewensreis, self agterkom dat hy onbewustelik “die duiwel se accomplies” geword het, wend hy pogings aan om van sy skuld ontslae te raak. Dit gaan nie meer om sy beeld nie, want dis lankal nie meer van belang wat ander van hom dink nie, maar wel wat hy van homself dink. Dít moet hy regmaak. Met eenvoudige gegewens en ’n gestroopte vertelling slaag Hofmeyr daarin om die instrumente van imago-skepping onder die vergrootglas te plaas en die skadelike gevolge wat dit vir’n gewone mens kan inhou, met groot deernis uit te beeld – só dat George, die een wat buitestander word, heeltemal onder die vel van die leser inkruip.

Hofmeyr speel met die misterieuse krag van die woord – die woord wat gespreek word én die woord wat nie gespreek word nie. Laasgenoemde gaan in hierdie novelle oor geheime wat nie vertel word nie, oor skandes wat nie durf uitgespreek word nie, oor briewe wat nie afgelewer word nie, oor boodskappe wat nie oorgedra word nie. En George, die “poet” van wie Antie Tô praat, word stap vir stap die verpersoonliking of die draer van die woorde en die boodskappe. Aan die einde van die novelle doen hy dit letterlik deur briewe af te lewer wat hy baie jare gelede nie kon aflewer nie, maar as hy dan by die regte adresse uitkom is die “helfte van die mense of dood of stad toe” en loop George se storie ’n ander pad as wat hy gedink het dit sou loop.

Hofmeyr vertel nie soos ’n buitestander nie. Hy vertel soos iemand wat die stof van Oudam tussen sy eie tone voel vassit het, iemand wat self gesien het hoe Antie Tô met haar hangarms oor daai heining gehang het, self by was in Oudam se konsistorie waar daar dinge met George se beste vriend, Basiltjie Blue gebeur het wat nooit moes gebeur het nie, en ook self by was toe George se ma met haar drilstêre weggestap het en vir hom gesê het “djy’s ’n fokken verlêkind” en hoe verlate dit hom laat voel het.

Humor en patos word in goeie balans gevleg deur die verhaalgebeure, deur die karakterisering en deur die dialoog. Soms wil-wil die patos in sentimentaliteit verval, soos wanneer George vir ou Diemies na baie jare gaan besoek en sy trane kom “’n [b]ietjie buite maar baie binne” of wanneer hy by Oom Harry inloer en sy “oumenstrane” sien (“Hulle hang daar. Hulle drup nie. Binne hulle spin die jare. Om en Om.”), maar dan sorg die ironie dat die sentiment nie vatplek kry nie. En daar waar dinge byna te mooi word, sluip die lelik gou genoeg in. En daar waar dinge dreig om lelik te word, help die mooi uit, soos wanneer George op sy laaste missie na Oudam gaan: “Ek hoes my voorarm se moue kersierooi.” Hofmeyr trap fyn en presies.

Vier briewe vir Jan Ellis sou pragtig verfilm kon word. As genre is die novelle hoeka goed geskik vir verfilming. So is heelwat van byvoorbeeld Stephen King se novelles aangepas vir film. Dink maar aan Stand By Me (1986) gebaseer op sy The Body, The Shawshank Redemption (1994) en Apt Pupil (1994) gebaseer op sy novelles met dieselfde titels. Maar daar’s ook Thomas Maclean se A River Runs Through It (1976), wat in 1992 verfilm is; Truman Capote se Breakfast at Tiffany's (1958) in 1961; Joseph Conrad se Heart of Darkness (1902) wat die basis van die screenplay vir Apocalypse Now (1976) was, om maar drie te noem. Die lys is eindeloos.

Filmmakers, ek sou as ek julle was, naderstaan. En ook diegene wat oor nuwe voorgeskrewe boeke vir skole moet besluit – hierdie boek is nommerpas: literêr goed, boeiend en boonop toeganklik.

Gaan lees gerus Vier briewe ... Maar wees gewaarsku: as jy hom neergesit het, gaan hy bo-oor jou bly hang soos George daai Oukersaand gesien het hoe die vuurwerke “soos dandelions oor die dorp” gehang het – stillerig, maar “sieker maar mooi”. Baie mooi. En nou mag Steve Hofmeyr nie ophou skryf nie.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top