Die lucky strike deur Steve Hofmeyr: ’n lesersindruk

  • 1

Die lucky strike
Steve Hofmeyr

Uitgewer: Penguin Random House
ISBN: 9781776093670

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer geskryf en aan LitNet gestuur.

Die onaantasbares het met die kinkel van alle kinkels geëindig. (Dit sal help om eers dié boek te lees.) Gordel vas, want die man wat ons as die Sluiper ken, is terug en daar is onafgehandelde sake op die Kalahari-wildsplaas waar dinge laas keer bymekaargekom het. Of was dit ’n geval van uitmekaargedonner het? En nou, met sy staccato-aanslag, dans die poppe behoorlik met lyke wat oral rondlê op hierdie onwaarskynlike held se soektog na antwoorde en ’n nuwe toekoms wat hom telkens ontwyk.

Verraad en wraak is ’n kousale realiteit. En die liefde ’n verleidelike bliksem. Siende blind ook. Die Sluiper se pogings om onder die radar te funksioneer, sy geskende gesig ten spyt, blyk nou eenmaal nie suksesvol te wees nie. Hoog op testosteroon en macho in elke opsig is die Sluiper ’n kanniedood wat veglustig voortstu om sy vyande te fnuik. ’n Vinnige missie in die Kongo is ’n lastige afdraaipad alvorens vergelding voltrek word. En afsluiting? Ja, wel.

Steve Hofmeyr beloon die Afrikaanse leser met ’n viriele leksikon om aksietonele onder woorde te bring en bewys daarmee waartoe dié taal in staat is. Ek het groot vreugde geput uit ’n teks wat tegelyk evokatief en selfs poëties is. So word ’n kapokboom byvoorbeeld beskryf: “Hy lok jou met sagte katoen wat hy soos liefdesbriewe op die bries laat sweef” (bl 3). Anderkant sy omstredenheid is Hofmeyr ’n woordvirtuoos wat respek by vriend en vyand afdwing.

Wat ook beïndruk, is Hofmeyr se kennis van wapentuig, onmiskenbaar ingegee deur goeie navorsing. Voeg hierby die realistiese beskrywings van wonde en pyn. Spanningsrillers verskyn deesdae soos paddastoele op die literêre veld. Die Sluiper is bestem om soos Bennie Griesel (Deon Meyer) en Kassie Kasselman (Rudie van Rensburg) deel te word van die Afrikaanse krimikultus.

Met ’n storielyn wat tot op die heel laaste bladsy verras, is Die lucky strike ontvlugtingsleesvermaak uit die boonste rakke.

  • 1

Kommentaar

  • Albert Wapenaar

    Die man het sukses met al sy boeke. Tot dusver is hy ’n wenner, van Die onaantasbares tot en met Die Lucky Strike. Mens kan nie beskryf hoe dit voel nie, maar jy moet net die boek in die hande kry en hom lees. Toe hy uitkom, het ek hom dadelik gekoop. Dieselfde as die vorige boek wat wel ook ’n baie goeie boek is. 20 uit 10 sterre kry @steve_hofmeyr. 110%. Welgedaan.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top