Die lucky strike deur Steve Hofmeyr: ’n lesersindruk deur Barend van der Merwe

  • 0

Die lucky strike
Steve Hofmeyr

Uitgewer: Penguin Random House
ISBN: 9781776093670

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer geskryf en aan LitNet gestuur.

Fiksie is nie eintlik my ding nie. Die werklikheid is veel meer boeiend as opgemaakte stories. Maar vir misdaadfiksie het ek tog ’n sagte plekke, en ek maak tyd om dit te lees. Meer nog vir die Kalahari. ’n Belangrike deel van Steve Hofmeyr se nuwe boek speel in dié deel van die land af. Die lucky strike is die tweede van Hofmeyr se Sluiper-rillers. Soos Die onaantasbares word ook Die lucky strike vertel vanuit die eerste persoon. Dit is ongewoon vir misdaadfiksie. En dit is weer eens ’n verhaal wat vinnig vloei. Op dié manier behou dit mens se aandag.

In Die lucky strike tel die Sluiper die stukke van sy lewe op na al die drama van die eerste boek. Hoewel die tweede Sluiper-boek voortbou op die eerste, is dit nie nodig om die eerste boek te gelees het om die tweede een te kan verstaan nie. Die Sluiper keer terug en hy is uit op wraak, maar hy is nie al een nie. Hy misluk aanvanklik, maar hy gee nie bes nie. “Ek kom met alles. Alles wat ek het. Behalwe genade” (121). En so is dit ook. “Bloeddorstig” is nie heeltemal die regte woord nie, maar dis die beste onder die omstandighede.

Hier en daar was daar van die besonderhede wat ’n bietjie voorspelbaar was, byvoorbeeld: een van die belangrike karakters is blind, en ek het van meet af aan gewonder of dié persoon dan nou werklik blind is. Maar soos wat die voorblad van die boek aandui: “Die liefde is blind”, en so is dit inderdaad met die Sluiper. Gelukkig vind hy elke keer ’n manier om homself uit enige situasie te wikkel. Hoewel hy die hoofprotagonis is, is hy glad nie ’n aangename kêrel nie. Hy is nog steeds dieselfde Sluiper. ’n Huursoldaat vir wie doodmaak maar net ’n gewone deel van die lewe is.

Dan is daar ook ’n ietwat oorhaastige stap van die Sluiper aan die einde van die boek wat ietwat onoortuigend voorkom. Die Sluiper keer terug van ’n operasie uit die Demokratiese Republiek van die Kongo. Eintlik was die Sluiper mislei oor die hele aard van die operasie, maar meer kan in die boek daaroor gelees word. Terug in Suid-Afrika herstel hy nie eers van sy wonde nie, maar gaan eerder dadelik oor na aksie. Van waar die haas? het ek gewonder. Ek wens iemand kan dit vir my verklaar.

Alles in ag genome sou ek egter ter samevatting sê dat Die lucky strike, presies nes sy voorganger, interessante en prikkelende misdaadfiksie is. Trouens, dit is vir my selfs beter as Die onaantasbares en ek kan nie anders as om te wonder of ons nog meer van die Sluiper in die toekoms te siene sal kry nie.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top