Steve Hofmeyr gee gas: Kapabel is 'n eerlike vertelling oor die leuenagtige

  • 1

Titel: Kapabel
Skrywer:
Steve Hofmeyer
Uitgewer:
ZEBRA PRESS
ISBN:
9781770224186


Klik hier om Kapabel te koop by Kalahari.com.

Steve Hofmeyr is bekend as sanger/liedjieskrywer en akteur, en die afgelope aantal jare toenemend ook as skrywer en omstrede meningsvormer. Wat musiek betref, weet hy hoe om byvoorbeeld met sy odes aan die Bloubul en die pampoen by die breë publiek aanklank te vind, maar sommige van sy “songs” beklee ’n belangrike plek in die geskiedenis van Afrikaanse musiek, veral die onderskatte “Agter elke man”, wat met sy eerste twee versreëls liries én musikaal een van die treffendste insette in populêre musiek besit. Hierdie lied, gebaseer op die gelyknamige televisiereeks uit die 1980’s wat die lewe van armblankes belig en waarin Hofmeyr self gespeel het (die tronkvoël Bruce Beyers), het voortgebou op die klein tradisie van onder andere die Briels en Anton Goosen (“Boy van die suburbs”) en die weg gebaan vir die Gert Vlok Nels van later. Ook wat musiekstyl betref, bring hierdie lied “een nieuwe lente en een nieuw geluid” (Gorter) in die Afrikaanse musiekbedryf.

Alhoewel Hofmeyr se eerste twee romans, Vier briewe vir Jan Ellis (2010) en Die verste uur (2011), nie wye en diepgaande literêre reaksie ontlok het nie, is die resensies wat wel verskyn het, verbasend gunstig. Die verkoopsyfers van hierdie werke is goed, soos mens sou kon verwag. Hofmeyr se outobiografiese Mense van my asem (2008) het ook goed in die smaak geval.

Sy jongste bydrae tot Afrikaanse fiksie heet Kapabel, waarin interessant genoeg iets van Agter elke man terugkeer.

In een van haar vroeë essays oor eietydse kuns verwys Susan Sontag na die volgende woorde van Nietzsche, wat in 1967, toe Sontag dit aangehaal het, veel groter geldigheid besit het as in Nietzsche se tyd en vandag sterker as ooit tevore resoneer: “[W]e live in the age of comparison, we can verify as has never been verified before.” Daarom, aldus Nietzsche, “[W]e enjoy differently, we suffer differently: our instinctive activity is to compare an unheard number of things.” Dít is nie net ’n media-, kuns- en wetenskapsgegewe nie, maar het ook ’n dwingende persoonlik-psigiese realiteit geword.

Reeds die titel van hierdie roman stel die vergelykende voorop. Die aanwesigheid van kapabelheid word immers bepaal deur middel van vergelyking met persone wat dit reeds openbaar of dit reeds verwerf het. Kapabelheid, en die graad daarvan, word dus gemeet aan iets of iemand. Verder kan dit nie losgedink word van onvermoë nie. Daarom is die boeiende “wegkomstories” (37) van die hoofkarakter Danie se geliefde stiefpa ook “af en toe afgewissel met verhale van sotlike mislukkings” (38).

Volgens die HAT dui kapabel op bekwaamheid en geskiktheid, maar ook in ’n negatiewe sin op die vermoë om iets onverantwoordeliks aan te vang. Voorts kan hierdie woord gebruik word om nugterheid aan te dui (die teenoorgestelde, dus, van ’n staat van bedwelming). Al hierdie betekenisfasette word in hierdie roman benut.

Danie word deur sy ewig troue moeder as haar “kapabelkind” beskryf, en hierdie “kapabelgeit” (81) van Danie herinner nogal aan die kordaatheid van Lucky Marais in Eben Venter se Santa Gamka. In albei romans gaan dit oor die (on)moontlikheid om te ontsnap (hetsy uit ’n pottebakkersoond, die gevangenis, omstandighede of die verlede), om ’n nuwe lewe te begin; die weë wat die protagoniste onderskeidelik kies om weg te kom, is “onkonvensioneel” en in stryd met algemene norme wat betref reg en verkeerd. In beide gevalle is daar ook ’n goeie skoot geluk betrokke.

Danie het hom in sy vroeë dae, toe hy nog Danie Fourie was, ten opsigte van sy algemene kapabelheid letterlik en figuurlik gemeet aan ’n man soos Rasman, wat reeds as skoolseun sy naam gestand doen het deur elke “oempabaloelie-kompetisie” (52) te wen, en later Danie se Lettie-Lee van hom afgevry kry, vermoedelik onder meer vanweë die feit dat hy so legendaries katel-kapabel was. Jaloesie lei tot moord, en dis hoe Danie in “Maksie se Taksie” beland. Hy het egter van lewenskapabelheid ook heelwat uit sy stiefpa, oom Desmond S’true, se aangrypende “wegkomstories” geleer.

Danie ontsnap op ’n verstommende manier uit die Wes-Randse tronk: hy benut die verslapping van paraatheid wat volg op die spuit van traangas om gewelddadige oproer onder die gevangenes te onderdruk, deur die liggaam van een van die gestorwenes in die kombuisoond te stop en self die plek van daardie lyk in die “body bag” in te neem. Vanweë die bedompigheid en stank ervaar hy hier erge asemgebrek en naarheid, wat assosiatief skakel met die belewenis van Danie as jongeling toe hy en Rasman ’n poskantoor probeer beroof het en in die gesteelde balaklawas amper van die hitte en stank vergaan. As leser deel mens byna fisies in die ontsnappingservaring deurdat jy met opgehoue asem lees! Gegewe Danie se voorneme om ’n nuwe lewe te begin is dit ook besonder funksioneel dat hy hierdie lewensfase in die geselskap van lyke, en vermom as ‘n lyk, betree. Danie staan as ’t ware op uit die dode, soos Lucky Marais. Hy adem dankbaar die vars lug van vryheid in.

Danie hervestig hom in die Kaap en neem ’n nuwe identiteit onder die naam Desmond Faure aan (waarmee hy ook hulde aan sy stiefpa as rolmodel betoon). Elke deurslaggewende handeling as die “nuwe”, meer beskaafde Desmond (in woord, daad én manier van skryf) meet hy aan hoe die onbesonne Danie die saak sou hanteer het.

Die ingewikkelde verhouding tussen waarheid en leuen word in hierdie roman op die voorgrond gestel, soos reeds blyk uit die motto verkry van Nietzsche, wat laasgenoemde as ’n soort lewenswaarheid stel: “The lie is a condition of life.” Die stiefpa het sy bynaam gekry omdat hy elke opmerking of vertelling geëindig het met “s’true”. Danie eindig sy sinne weer graag met “jy ken?”, iets wat hy as die meer gesofistikeerde Desmond probeer afleer. As die gereelde sêding van Marlene van Niekerk se Treppie, “It’s all in the mind”, in verband gebring kan word met Triomf se filosofiese ondermyning van die Apolloliniese (soos Willie Burger gedoen het), sou mens seker, ook gegewe Steve Hofmeyr se alombekende belesenheid in onder meer die filosofie, die “s’true”- en “jy ken?”-stertjies eweneens aan die filosofie kon koppel, hier spesifiek die epistemologiese (kenteoretiese). Oorweeg in hierdie verband ook die volgende (en dis asof hierdie roman mens uitnooi om skakels na te gaan, te verifieer!): Danie het in Randfontein grootgeword in ’n huis agter die Total Garage. Daar het dit “altyd geruik na uitlaatpypgasse, paraffien en ou olie. Ek is daar gebore. Dit is sleg vir ’n kind, dié besoedeling van dag een af. Sy catalytic converters verstop van die gas en stadig stomp sy vermoëns af” (37). Wat in hierdie verband beïndruk, is hoe Hofmeyr konsekwent binne ’n bepaalde “kode” skryf. Teen die agtergrond van sy grootwordjare agter die vulstasie merk Danie oor Desmond S’true se stories die volgende op: “Dit het my gepla dat ek hom geglo het, maar ek kon nie foutvind nie. En ek was te jonk om te onderskei tussen besoedeling en suurstof. Dit was alles gas” (37). Hiermee word aangesluit by die gasmotief van byvoorbeeld die ontsnapping.

Die dagboek wat Danie in die gevangenis op aanbeveling van sy sielkundige begin byhou, lê hy wat Danie/Desmond is voortaan aan as getroue weergawe en maat van sy ontwikkeling. Hy verloor hierdie dagboek en dit beland in die hande van sy kleinsielige Kaapse baas, Hugo Taljaard, wat die inkriminerende getuienis wat daarin vervat is, aanwend om hom af te pers. Die vergelykende kom in hierdie verband ook struktureel na vore deurdat die dagboek ter verifikasie as tweede afdeling van hierdie driedelige roman voorgelê word. Wat binne ’n ander roman-opset in die tweede afdeling as niefunksionele herhaling ten opsigte van sommige gegewens in afdeling een ervaar sou kon word, is, gesien die verifikasie-tema, wel in plek, ofskoon steeds ’n bietjie te kunsmatig en effens steurend.

Danie/Desmond is “fynproewer van die noodleuen en ’n kenner van die lieg” (34), en wend hierdie gawe in sy nuwe lewe aan deurdat hy ’n besonder empatiewekkende beeld aan die merendeels bejaarde Europese toeriste voorhou. Hierdeur bring hy homself heelwat in die sak (eers fooitjies, later klein aftrekorders, en uiteindelik ’n volle vyftig miljoen skille), maar word hy ook met ondraaglike verlies gekonfronteer, wat hom bring tot op die drumpel van selfmoord. Dis hier waar die roman eindig, en begin. Desmond neem sy veelbewoë lewe in oënskou, soos Lucky Marais doen vanuit die pottebakkersoond waarin hy opgesluit is, en so kom die leser te wete hoe die hoofkarakter hierdie punt bereik het. Desmond se lewe loop dus uit op die enkele konsentrasiepunt van die voorgenome selfmoord, wat aansluit by die implisiete simboliek van sy eertydse nering as sweiser. Sweiser is boonop die naam/titel van sy dagboek. Hy stel sy ambag as sweiser dan ook teenoor die werk wat hy as vry en nuwe man in die Kaap beoefen:

Almal verdien ’n kans om oor te begin. Sweiswerk kan so finaal wees. Totsiens en koebaai, uit die stram ou vasgelooptheid op weg na die nukkerige vryheid. Die één ambag, sweis, knoop los stukke in ’n beknoptheid saam by fel temperature, die ánder, busdryf, vermy knope en bars weg uit die stad die ooptes in met die koel wind deur die afgerolde venster. Lugreëling, gemak, selfs weelde; en ’n diep weidsheid wat voor jou windskerm verbyskuif. Nou praat ons. Ek gaan nooit weer fokken sweis nie. (5-6).

Die afstuur op ’n beslissende punt is trouens kenmerkend van die novelle as genre. Kapabel sou moontlik in meer as een opsig as novelle getipeer kon word, soos Vier briewe vir Jan Ellis, wat Annemarié van Niekerk in haar LitNet-resensie oortuigend as tegnies getroue novelle bespreek.

Dis egter asof die teenoormekaarstelling in die aanhaling hier bo ook metatekstueel iets skryfambagtelik suggereer, dalk met betrekking tot ’n voorneme by Hofmeyr om iets “ruimer” te ontsluit?

Susan Sontag se Nietzsche-verwysing is ook in ’n ander opsig verhelderend by ons lees van Kapabel: iets wat my opval in resensies van vorige Hofmeyr-boeke en dié wat reeds van Kapabel verskyn het, is dat sommige kritici genoop voel om die hande bak te hou langs die oë sodat Hofmeyr se status (en berugtheid) as mediafiguur hul oordeel nie beïnvloed nie. Gegewe die werklikhede van die wêreld waarin ons leef, kán en hóéf Kapabel nie los hiervan gelees te word nie. Dit is alles relevante aspekte van die resepsie en eintlik “reeds daar”, bloot byvoorbeeld vanweë die feit dat Hofmeyr vir ouer Suid-Afrikaners sterk met die karakter Bruce Beyers vereenselwig bly. Dat Hofmeyr met sy bewese prestasies op ander terreine ook boeke (in Afrikaans) wil skryf én bewys het dat hy dit kán doen, is eweneens ter sake. Dit is duidelik dat Hofmeyr baie moeite doen met die skryf van sy boeke. Die respek vir die skryfambag wat uit sy werke spreek, mag nie uit die oog verloor word nie. Met sy letterkundige poging toets Hofmeyr die omvang van sy kapabelheid. Hy is daaraan gewoond om te meet en gemeet te word (om te “roast” en ge-“roast” te word). Trouens, hy is onlangs in ’n meningspeiling van Maroela Media as die grootste Afrikaner in die eietydse kategorie aangewys, maar dalk is dit meer ’n kwessie van “Jy is my ‘hero’ as die Skim doodgaan.” Hierdie “prestasie” word ook gerelativeer deur die feit dat Liewe Heksie in genoemde meningspeiling met die louere as grootste Afrikaner van alle tye wegstap. Voorts moet in ag geneem word dat Kapabel opgedra is aan, en ten dele geskoei is op, die werklike bendeleier Ralph Haynes. Haynes se kapabelheid, onder meer as verteller, speel eweneens ’n rol.

Kapabel kan in sy geheel gesien word as ‘n teks waarin vergelyking vooropgestel word, as ’n doelbewuste uiting binne ’n wêreld soos geskets deur Nietzsche (in sy aangehaalde uitspraak).

Hofmeyr hanteer die taalmedium met ’n soepelheid en vindingrykheid wat aan Tom Lanoye herinner.

As prosawerk is Kapabel ’n besonder keurige en geslaagde voorbeeld van sy soort, maar geen literêre grense word hier verskuif nie. Kapabel kan as ’n karakterroman beskryf word. ’n Fokus op één individualistiese, teendraadse karakter is dan ook weer tipies van die novelle. Hoe ook al, die klem op karakter sal baie lesers aanstaan, aangesien lesers, synde mense, se belangstelling gewoonlik gerig is op die wedervaringe van mense. In terme van karakter en storie is Kapabel dus besonder kapabel.
Soos ek aangetoon het, is hierdie boek funksioneel gekonstrueer. Daar is heelwat diepte en reikwydte, maar sonder dat mens veel pretensie gewaar.

Kapabel is ’n eerlike vertelling oor die leuenagtige.

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.

  • 1

Kommentaar

  • Hierdie was een van my gunstelinge van 2012. My allergunstelinglees van 2012 was ook van Hofmeyr, Verste uur.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top