Van pop tot polemiek: Steve Hofmeyr se Jêmbekseep

  • 0

Titel: Jêmbekseep
Outeur: Steve Hofmeyr
Uitgewer: Griffel Media
ISBN
: 9780980255690
Formaat: Sagteband
Aantal bladsye: 100

Klik hier om jou boek NOU by kalahari.net te bestel!

Ná jare in die musiekbedryf, televisiebedryf en filmbedryf, ná duisende optredes, duisende vlieënde panties, ná die geskeurde denims, geskeurde kondome (?), ná die skandes, gedigte, “Pampoen”, polemiek, politiek, buite-egtelike verhoudings, bekgevegte, tirades, ’n roos en die oopvlek van die popster se siel deur middel van blogging is dit tyd vir … ’n boek. Natuurlik.

Jêmbekseep is nie die eerste publikasie deur Steve Hofmeyr nie. Meer as ’n dekade gelede (in 1997) het sy digbundel, Valkuns, verskyn. So waarvoor ek gehoop het toe ek verneem Steve Hofmeyr stel nou nog ’n boek vry, was daardie eerlike outobiografiese dokumentasie waarop ons so lank al wag. Iets soos Koos Kombuis se Seks, drugs & boeremusiek (dalk Seks, hugs & popmusiek?). Iets wat daardie storie sou vertel wat agter elke man skuil. Maar Jêmbekseep is nog nie die outobiografie nie, dis eerder ? versameling van, soos die subtitel lui, "omstrede en ander woorde van Steve Hofmeyr" wat in sy sameflansing voorkom as ? vermenging van ’n dagstukkieboekie, ’n joernaal, ’n koffietafelboek, ’n digbundel, ’n plakboek en SêNet.

Wat die titel betref, kan mens aanneem dit het te make met die uitdrukking “so ? bek moet jêm kry”, wat dan terselfdertyd kwansuis ook seep moet kry vanweë gewaagde uitsprake. Of sou die boek dan die bekseep wees vir die jêmbekke daar buite? Of sou die boek beide die jêm en die seep wees? Seepjêm? Die produk van wat jy kry as jy jêm en seep saam in jou bek druk? Urgh. Dalk ? verwysing na “in die bek ruk”? Bekkigheid? ? Vuilbek in ? jêm?

Afgesien van ? multi-layered titel is die publikasie opgedeel in 22 afdelings wat strek van “Algemeen” tot “Filosofie” tot “Selfmoord” tot “Steve se wenresep”. Dit kan dus selfs ook as ? selfhelpboek gelees word deur ernstige aanhangers van hierdie popprofeet, want daar is sekerlik diegene wat Steve beskou as ons hedendaagse Siener (vir wie sy blog, Spoegblok, hulle daaglikse brood is). Maar kan ? popster ooit werklik ? profeet wees? Terwyl dit vir Steve tel dat sy popsterstatus aan hom genoeg bekendheid verskaf dat hy nou nog ? boek kan vrystel, tel dit juis teen hom dat jare van ligte vermaak sy dieper insigte moeilik verteerbaar maak vir die skeptiese leser.

Die skeptiese leser is die een wat sal raaklees dat daar in die inleiding deur Steve genoem word dat aanhalings – meestal verkry uit die media, korrespondensie en van sy Spoegblok – gesien moet word “as kinders van hul tyd”, maar tegelyk word daar selde datums geplaas by aanhalings, wat die kontekstualisering daarvan bemoeilik. Boonop word debatte meermale eensydig voorgestel deur slegs Steve se opinies aan te haal – dit wás wel natuurlik die idee, maar dit maak die lees van die boek uiters moeisaam indien jy nie voorafkennis dra van die debat ter sprake nie.

Boonop is sitate wat buite konteks geneem word, moeilik leesbaar. Onder elke aanhaling word die konteks waaruit dit geneem is, kortliks geskets, maar dis ? kwessie van lees, konteks lees, weer lees, probeer in konteks plaas, weer lees ... en dan volg ? lukrake aanhaling uit ? liedjie waarvan jy nie dadelik die wysie kan onthou nie. Maar moenie bekommerd wees nie, want hier volg Steve se gedagtes oor geloof (en kort daarna, rugby).

Waar aanhalings nie buite konteks moeilik leesbaar is nie, is hulle soms effens vaag. Die eerste aanhaling in die boek kom uit Rapport waar daar vir Steve gevra is wat die titel van sy outobiografie sou wees. Hy antwoord: “Die hoogste boheme vang die minste wind.” Waarom hierdie as die eerste aanhaling gekies is, weet nugter, want dit bly vir my onduidelik waarom dit ? gepaste opsomming van sy lewe sou wees en wat hy nou eintlik daardeur probeer sê. Dat hy ? boheem is? Dat boheme hoog is? Dat hy min wind vang? Dat hy hoog is?

Alle aanhalings is egter nie moeilik verstaanbaar of onleesbaar nie. Daar is goeie one-liners soos sy woorde op Dis hoe dit is aan Emsie Schoeman oor etiket: “Aangesien die skeisyfer in SA so hoog is, hoekom maak ons alle troues nie liewer net ? bring-en-braai nie?” Asook enkele skerpsinnige insigte soos: “Sou God nie beter voorsien het deur aan elke wydverspreide Bybel ? hermeneutiek-dosent vas te spyker nie?” Dan is daar selfs daardie aanhalings wat jou laat nadink. Onder die afdeling “Literêre” is daar byvoorbeeld die volgende pragtige literêre mantra van die bekkige Steve: “Knowledge makes me loud – wisdom makes me quiet.” Pragtig, maar die ironie daarvan laat jou dink.

Omstrede is sommige van die aanhalings wel, soos waar hy met betrekking tot naamsveranderings vir president Mbeki beskuldig van “Afrosentiese draadtrekkery”. Sodanige aanhalings, enkele vloekwoorde en uitlatings oor gayregte en geloof (byvoorbeeld: “Wat anders is die Christendom dan as ’n Joodse sekte?”) het veroorsaak dat Jêmbekseep reeds van die kettingwinkel PNA se rakke verwyder is.

Die uitgewer, Griffel Media, bemark die boek soos volg: “Die keurige ontwerp en formaat van die boek maak van dit ’n moet vir die koffietafel, die kroeg, rondom die braaivleisvuur of selfs vir die kantoor, en beloof om nog baie giggels en selfs meer ernstige reaksie uit te lok.” Ek sukkel om te visualiseer hoe ’n groep vriende in Bloubultruie langs ’n braaivleisvuur hulle brannas-en-Coke vir ’n wyle gaan neersit om gou te lees: “Ons straight Y-chromosoom-oorbelaaides kan baie leer by ons gay eweknieë, veral oor hoe mans vroue moet behandel.” En hoewel ek saamstem met Steve oor hierdie een, sowel as enkele van sy ander uitlatings, kan ek nie maklik die teikengroep van hierdie boek visualiseer nie.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top