Waarmaker? Naarmaker? Windmaker? Wolhaarmaker?

  • 0

Titel: Mense van my asem
Outeur: Steve Hofmeyr
Uitgewer: Zebra
ISBN: 9781770220492
Bladsye: 392
Prys: R152

In this age of electronic sound bites and media stereotyping, few public figures are allowed complexity, complication, or chiaroscuro. - Erica Jong, The Devil at Large


1

In haar boek The Devil at Large, ? studie oor die lewe en werk van Henry Miller, maak Erica Jong skerp waarnemings oor die rol van literatuur in vandag se wêreld. Sy skryf:

Whether it is the fault of conglomerate publishing controlled by accountants or a failure of inner-directedness on the part of writers, my generation seem focused upon crowd-pleasing and success to the detriment of being free to tell the truth. As much as their publishers and agents, my contemporaries seem to worry about grosses and sales figures. The bestselling books of our time are rehashes of Gone With the Wind, gossipmongerings about "first" ladies, princesses, and movie stars, and ghostwritten bubble-mayses by ephemeral celebrities.

Dit lyk of (outo)biografieë deur/oor celebrities nou ook in Afrikaans mode begin word. Uit die pen van Sunette Bridges en Hestrie Els het onderskeidelik Gister, vandag en môre en My pyn, my glorie verskyn. Dis algemeen bekend dat Jurie Els ook aan ? outobiografie werk (titel onbekend). Dit is nie bekend of Robbie Klay aan een werk nie. In dié genre is Koos Kombuis se Seks & Drugs & Boeremusiek ? unieke baken, en na verneem word (en indien die bronne betroubaar is), verskyn Kombuis se volgende outobiografie volgende jaar. Op 5 September het Louis van Wyk aan Beeld gesê 2 300 eksemplare van Carel F Cronjé se biografie oor hom, So jy dink jy wil ? ster wees? Die waarheid en ander liegstories, is in die eerste twee weke na publikasie verkoop. By navraag het ? woordvoerder van Sonja Herholdt gesê daar is al sowat 10 000 eksemplare verkoop van Cronjé se biografie van haar, Sonja: Meisie van Nigel.

Persepsies oor Steve Hofmeyr - veral onder mense wat hom nie persoonlik ken nie of hom met oorgawe haat of aanbid - is interessant: vir party is hy ? waarmaker, vir ander ? naarmaker. Vir ander is hy ? windmaker of ? wolhaarmaker. Toe die nuus ? paar maande gelede bekend geword het dat Hofmeyr se outobiografie vanjaar gepubliseer gaan word, was die reaksie uiteenlopend. Hoekom dink hy is hy so belangrik dat die Afrikaanse literatuur ? biografie oor hom verdien? het sommige gevra. Wel, as Sunette, Hestrie en Jurie outobiografieë kan skryf, kan Hofmeyr seker tog ook, het ander teruggekap. Buitendien is Hofmeyr die grootste Afrikaanse superster van alle tye, het ander mense vir Deon Opperman aangehaal toe hy teenoor ? joernalis gemotiveer het hoekom hy ? musiekblyspel van R4 miljoen oor Hofmeyr se lewe op die planke gebring het (Dis hoe dit was). Daar is al meer as twee miljoen van Steve se CD's in Suid-Afrika verkoop. En hy is nie net ? sanger nie; hy is ook ? (goeie) liedjieskrywer, (knap) akteur, (gepubliseerde) digter (Valkuns, Human & Rousseau, 1997) en ? aktivis (? woord wat sommige sosiaal-politieke kommentators in dié konteks verkies om tussen aanhalingstekens te gebruik).

Party mense se reaksie toe hulle hoor Hofmeyr se outobiografie is op pad, was dat hulle nie kan wag om alles te lees oor sy onstuimige liefdeslewe nie en hoe dit voel om die sappigste droom van duisende donsdosies en bakvissies in die Republiek te wees. En hoe hanteer hy dit om op die ouderdom van 44 die pa van vyf kinders te wees? is iets wat veral oujongnooiens skynbaar interesseer.

Ander meen celebrities gebruik boeke soos dié net om hulle reeds opgeblase ego's nog verder blink te vryf, en dat dit bedenklik is as ? mens ? boek wil lees net vir die sensasionele sappigheid daarvan. Waarop teruggekap is: omdat Hofmeyr al weldeeglik die slagoffer van die snuffelende sensasiepers was, sal dit interessant wees om sy eie weergawe van gebeure uit die perd se bek te hoor ná die buitensporige obsessie oor sy buite-egtelike kinders in die geelpers, Sondagkoerante en gesinstydskrifte.

Wie is die ware Steve? wonder sommige mense. Ander gee nie om nie. ? Mens is nie ? simplistiese, enkelvoudige gegewe nie. Nog voor die boek verskyn het, het party mense wat die kultuur besonder baie ernstig opneem, gevra: Sal die ware Steve nou opstaan?

? Mens kan verstaan hoekom mense sulke boeke wil lees, ongeag die debat onder die hogere siele onder ons oor die betekenisvolheid van hierdie soort bydrae tot die literatuur, wat deur hulle as pure verstrooiing afgemaak word. Agter die skerms is die vermaakbedryf ? sirkus van openbare figure waarvan die meeste se ego's groter as Kimberley se Gat is (en ek praat nou nie hier van die Egoli-karakter Kimberley nie). Die vermaakbedryf is ? slagveld van agterbaksheid, rugstekery en professionele afguns. Dis wedywering om aandag, die kollig, TV-kameras, voorblaaie en gratis publisiteit. Dit is ? agteraf geskinder, slegsêery en swartsmeerdery. Dit is jagse groupies, dwelms, drank en seks. Dit is narsisme, tantrums, Peter Pan-komplekse, neuroses, skades en skandes. Ook van gierigheid en gatkruip, sensasiesnuffelaars en tabloid-bloedhonde. Dit alles is uiteraard ? resep vir vet pret. Dis soos Dallas, Dynasty en Californication in real life, en ons is die voyeurs.

2

Met dit alles in gedagte het ek Steve Hofmeyr se outobiografie, Mense van my asem, begin lees. En gelees. En gelees en gelees en gelees - dis ? baie lywige boek. Wanneer hulle die boek toemaak, sal party lesers seker voel of hulle van ? roller coaster afgeval het. Daar is hope en hope en hope inligting en die teks loop ook besonder wye draaie wat op hul beurt vol afdraaie is.

Lesers wat sappige skinderstories en onthullings verwag, gaan teleurgesteld wees. Dit lyk nie of Hofmeyr daarop uit is om wraak te neem teenoor enigiemand nie. Op ? kol verwys hy wel daarna dat Dozi ? persoonlike vriend in die rug sal steek as dit by ? meisie kom.

Die naaste wat Hofmeyr daaraan kom om die masker van die valsheid van die vermaakbedryf af te ruk, is waar hy skryf oor wat alles by en rondom Skouspel 2003 gebeur het. As hy dit nie hier geboekstaaf het nie, sou baie mense (soos ek) al lankal daarvan vergeet het, maar nou is dit amptelik vasgelê in die annale (amper tik ek anale, wat seker ook nie heeltemal onvanpas sou wees nie). Die deel van die boek wat oor Skouspel 2003 handel, laat ? mens se mond oophang oor die venyn in hierdie bedryf. Ek sal nie die mense wat die boek wil lees se pret bederf deur al die besonderhede hier te herhaal nie. (Pret, ja, want ondanks die verbasing oor die kinderagtigheid van die sterre, is dié dele juis hierom hoogs vermaaklik.)

Die eerste deel van die boek (hoofstukke 1 tot 9) lees heel vlot. Vanaf hoofstuk 10 is dit egter asof die teks begin uitrafel en die narratiewe kohesie wat die eerste nege hoofstukke onderhoudend gemaak het, versteur word.

Die eerste deel van die boek, waarin Hofmeyr skryf oor sy voorgeslagte, kinderjare, tyd in die weermag en die ontwikkeling van sy musiekloopbaan, is heel interessant. Hier wys hy dat hy ? goeie en onderhoudende skrywer is. Sosiologies gesproke bied dit ook ? interessante retrospektiewe blik op die politieke en kulturele mentaliteit van Afrikaners in die 1970's en 1980's. ? Mens kry ? goeie idee van die destydse leefwêreld, van dit wat hom gevorm het en hoe hy gevorm is.

Die hoofstuk oor Hofmeyr se weermagjare bevat heelwat inligting wat ? mens se hare laat regop staan. Soos onder meer:

Ons moes ná ? grensoperasie "opveewerk" - basies die opruiming na ? veldslag - doen soms weke nadat dit verby was. Ek en James moes ontbinde SWAPO-lyke in ? ou sel insleep. En soos die gesneuweldes se vel in my hande afkom, kon ek sien dat almal met dieselfde witterige weefsel bedek was. Die reuk van vrot lyke raak jy nie sommer gewoond nie; en jy vergeet dit nooit.

3

Die tweede deel van die boek is hoofsaaklik ? sameraping uit uiteenlopende bronne - van groot dele uit Hofmeyr se "Spoegblok" tot uittreksels uit "getuigskrifte" oor Hofmeyr (waarin mense soos onder andere Brumilda van Rensburg, Deon Opperman en Anton Goosen sê hoekom hulle van hom hou). Die tweede deel gee ? onsamehangende gevoel aan die struktuur van die boek, wat ook lei tot enkele herhalings en oorvleuelings. Desondanks bevat die hoofstuk "Moerige millennium" interessante onderdele.

Ek het hard probeer om hoofstukke 11 ("Wat soek God van my?") en 12 ("Quo waar is die Afrikaner??"), wat onderskeidelik handel oor godsdiens en politiek, te probeer lees, maar het dié hoofstukke persoonlik as ? moerse spoedbreker in die boek gevind. Bygesê: daar sal mense wees wat juis in hierdie hoofstukke belangstel, maar omdat die betrokke onderwerpe my teen dié tyd al erg verveel ná al die eindelose mediadebatte daaroor die afgelope jare, het ek langtand daaraan gebyt en dit uiteindelik oorgeslaan. (Ek kan en wil my dus nie uitspreek oor die meriete van Hofmeyr se argumente en ideologie nie - daar is genoeg ander mense wat dit kan doen. ? Mens voel wel jy sal graag ? repliek van Christi van der Westhuizen wil lees oor Hofmeyr se 11 bladsye lange resensie van haar boek White Power in hoofstuk 11 van sy boek.)

Hoofstuk 14 ("Terug na pyn") is die mees persoonlike hoofstuk in die boek. Hierin skryf Hofmeyr oor die liefdesdriehoek tussen hom, sy vrou, Natasha Sutherland, en Janine van der Vyver. Baie mense sal dit opslurp, soos ook Hofmeyr se openhartigheid oor al die vorige meisies in sy lewe vroeër in die boek (veral in hoofstuk 7, "Girls, girls, girls"). Omdat dié aspek van Hofmeyr se lewe vir my so ? sterk reukie het van die tipe ding wat die bloedhonde van die sensasiepers mal maak, het dit my minder geïnteresseer as ander aspekte. (Nodeloos om te sê dat dit sommige ander lesers weer die meeste kan interesseer.) Hofmeyr noem die mees beduidende meisies in sy lewe net op die eerste letters van hul name: K, N, O en P.

Die hoofstuk oor sy Spoegblok is ook ? mengelmoeskardoes (as ek Juanita du Plessis se pikante groot woord mag gebruik). ? Mens wonder hoeveel daarvan werklik verdien om in ? outobiografie verewig te word, want groot dele hiervan grens aan die triviale, soos: "Steve Hofmeyr se 20 redes om te vermoed jou dogter date Deon Maas", "20 gebeure wat ons te wagte kan wees na die ANC se nasionale indaba in Desember 2007"; "Die voordeel van verkeersopeenhopings op die Ben Schoeman"; "My voorstelle vir ? nuwe naam vir die Uniegebou"; en "My 18 redes hoekom intelligente vrouens moontlik rugby gaan kyk". Hierna lys hy selfs almal wat hy op sy blog as Dom Drolle van die Week aangewys het, wat onder andere insluit politici, ? burgemeester, ? kunstefees-organiseerder, ? skrywer en ? joernalis.

Asof dit alles nie genoeg is nie, bevat die boek ook twee bylaes vir diegene wat maar net nie genoeg kan kry van onse Steve nie. Bylae 1 heet "Wat is ? kolostomie?" en bylae 2 "Vrae en antwoorde", wat onder meer bestaan uit vrae van aanhangers aan hom op sy Spoegblok asook onderhoude wat met hom gevoer is deur De Kat en Sarie. Hier kan ? mens antwoorde kry op aardskuddende vraagstukke soos: Wat is die vyf grootste insigte waartoe jy hierdie jaar gekom het? Was 2008 jou annus horribilis? Was daar ? dag in die swaar tye dat jy gevoel het nou begin die son weer deurbreek? Wanneer was dit? Glo jy in die Goddelike maagdelike geboorte? Glo jy dat Jesus op die derde dag weer opgestaan het? Is alles in die Bybel waar? Is jy besig om vir jou broers soos ? pa te wees? Is jy die enigste een wat bietjie belangstelling in die dieper kant van die lewe het? Jy is so patrioties en jou vrou is Engels? Dink jy hierdie wat die Afrikaner sien as ? beproewing is dalk ? suiweringsproses (sic)? Wat dink jy is die oplossing vir die misdaadsituasie? Wat maak jou kwaad? Wat is die hoogste ideaal vir jouself? Wat maak jou regtig bang? Dis 2030, hoe lyk Suid-Afrika? Wie/wat/hoe is iemand as hy die totale teenoorgestelde van Steve Hofmeyr is volgens jou?

In ware massamedia-kitsjoernalistiekstyl is daar aan die einde "Steve's Lists": onder meer gunstelingsangers, gunstelingliedjies, gunstelingboeke, gunstelingdigters, mense wat sy lewe verander het, mins genotvolle goeters, gunstelingplekke om te wees, mins lekker plekke om te wees, twaalf reëls van Steve, verveligste skottelprogramme, beste reuke ooit, vyf vroue op wie hy ? crush gehad het op laerskool, vyf mees irriterende goed.

Die boek word afgesluit met "Steve Hofmeyr se lang-hark-teorie":

Die media is heeltemal binne hul (liberaal-konstitusionele) reg om ander se diepste heilskennis te beledig. Maar in die regte wêreld en in die lig van die hedendaagse sensitiwiteit sal hulle dit slegs doen met gelowe wat oorwegend apaties staan, soos met Christene. Hulle sal dit NOOIT waag met Allah en die Moslems nie, want al wat jou humanitêre grondwet jou dan sal bied is ? bom onder jou gat en iemand wat jou met ? lang hark van die plafon afkrap.

4

Daar is kritiek te lewer teen die redigering van die boek. Patti Smith se naam word nie Patty Smyth gespel nie, en in die boek word Janine van der Vyver se van sowel "Van der Vyver" as "Van der Vyfer" gespel (selfs op een bladsy in twee opeenvolgende paragrawe) - om net twee voorbeelde te noem.

Mense van my asem is nietemin ? interessante leeservaring. Hofmeyr se kop is duidelik baie besig, en ? mens behoort seker bly te wees dat daar ? Afrikaanse sanger is wat dink. Anders as die meeste ander Afrikaanse sangers wat net daarop uit is om te behaag en in die proses ? soetlike soort sielloosheid uitdra, is hy nie bang om uitdagend, uitgesproke en konfrontasioneel te wees en op mense se tone te trap nie.

Sy passie vir lees verdien vermelding en ? mens hoop sy bewonderaars vind dit aansteeklik en doen ? bietjie moeite om boeke te lees van al die skrywers wat Hofmeyr noem (oa Colin Wilson, JM Coetzee, Breyten Breytenbach, Leo Tolstoi, Oscar Wilde, Umberto Eco, Langenhoven, Franz Kafka, JC Kannemeyer, Hennie Aucamp, Kleinboer, Sheila Cussons, Gert Vlok Nel, Milan Kundera).

Ná die lees van die boek voel ? mens jy kan saamstem met wat die aktrise Annelize van der Ryst in haar "getuigskrif" sê:

Daar is ? baie diep, slim seun agter al die onbesonnenheid, geraas en publisiteit. Ek dink nie iemand ken Steve werklik nie. Net hy self en miskien sy ma.

 


  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top