Regsalmanak: Putatiewe noodweer

  • 1

Vir sy navorsing vir die weeklikse Regsalmanak-rubrieke maak Gustaf Pienaar grotendeels van Juta Law se aanlyn biblioteek gebruik.  Hierdie regsbiblioteek is ‘n omvangryke naslaanbron van hofsake, wetgewing en ons land se dinamiese grondwetlike ontwikkeling. Juta Law stel hierdie bronne goedgunstiglik tot Gustaf se beskikking vir die skryf van hierdie rubrieke. Vir nadere besonderhede besoek www.jutalaw.co.za.

Lees ook vorige Regsalmanak-rubrieke
Hy sou met haar trou, mits ...
Dink twee keer voor jy appèl aanteken
Ceres se akkerbome
Die "kousale ketting" in strafsake
Diefstal van eie goed
Regsalmanak: Stephan Welz se epiese hofstryd
Regsalmanak: 'n Storie oor 'n spinnekopwespe
Regsalmanak: Die bloedige hand erf nie
Regsalmanak: Regte van ‘n ongeborene
Regsalmanak: Teologie-proffie wat slegs sy Bybel en ‘n sannageweer op sy naam gehad het ...
Regsalmanak: Wanneer vermoed word dat iemand dood is
Regsalmanak: geldige testament of nie
Regsalmanak: #SmutsMustFall? Toe nie – danksy Epidermix 372
Regsalmanak: Ondertekening van parlementswette
Regsalmanak: Robert McBride
Regsalmanak: Is McBride ‘n “moordenaar”, of nie?
Regsalmanak: Produkaanspreeklikheid, toe en nou
Regsalmanak: Die vere maak die voël
Regsalmanak: Die rokende bus en die motorfietsryer met trane in sy oë
Regsalmanak: "Die tjek is innie pos"
Regsalmanak: Protes en brandstigting
Regsalmanak: Sal ‘n rekenaar eties kan optree? En wat van liegbekke ontmasker?
Regsalmanak: Die Groot Krokodil se swanesang
Regsalmanak: Nasionale Wet op Veld- en Bosbrande
Regsalmanak: Tyd om die roede ook in Suid-Afrika te spaar?
Oscar Pistorius – vir laas: Voorste strafregkenner krities oor appèlhof se uitspraak
Regsalmanak: Hoofregter Stratford en die Wêreldhofuitspraak oor SWA
Regsalmanak: Twee juriste
Regsalmanak: Die verskyningsvorme van opset

Toe ons kinders nog klein was, is die twee groter kinders dikwels deur hulle jonger boetie verpes terwyl hulle gespeel het. Op 'n dag het hulle besluit om die mannetjie 'n les te leer. Hulle het hom geblinddoek en by die boonste verdieping van ons woonhuis by 'n buitedeur uitgeneem na 'n oop stoep. Daar het hulle hom op 'n baksteen laat staan en hom wys gemaak dat hy op die rand van die stoep staan. Hulle het gedreig dat hulle hom daar sou afstamp as hy nie dadelik en plegtig sou beloof dat hy sou ophou om hulle te verpes nie. Die outjie het soos 'n maer varkie geskree sodat die bure vyf huise verder hom gehoor het. Uiteindelik het hulle hom toe wel van die baksteen afgestamp en het hy die blufspul agtergekom. Maar ek kan jou verseker dat solank hy op die baksteen gestaan het en deur sy ouer boetie en sussie getreiter is, hy vas geglo het dat hy op die rand van die dak staan.

Dit bring ons by vandeesweek se hofsaak. 'n Sekere mnr Naidoo van Gauteng is daarvan aangekla dat hy sy pa in 1995 vermoor het deur hom in die kop te skiet. Die jeugdige mnr Naidoo het 'n paar dae vantevore die pa van 'n fris seun geword. Vroeër die aand was daar nogal 'n taamlike debat in die familie oor na wie die seuntjie vernoem moes word. Naidoo se vader was 'n Tamil terwyl hy self en sy vrou – die ma van die babaseun – Moslems was. Die argument het daaroor gegaan of die seuntjie 'n Tamil- of 'n Moslem-naam moes kry.

Die debat het lank ná middernag voortgeduur en op 'n stadium is Naidoo se vader en sy broer daar weg. Naidoo het egter nog met sy ma en suster oor die gewigtige kwessie geargumenteer, toe hy 'n geluid by die veiligheidshek voor die huis se voordeur hoor.

Omdat daar voorheen inbrake by sy huis was en omdat hulle in 'n gevaarlike buurt gewoon het, was hy dadelik op sy pasoppens. Hy het drie maal gevra wie is daar, maar daar was geen antwoord nie en toe het hy die voordeur oopgemaak. Daar was weer 'n geluid by die hek en hy het toe 'n skoot met sy vuurwapen afgetrek. Onmiddellik daarna het hy tot sy afgryse ontdek dat dit eintlik sy vader en broer was wat, nadat hulle vroeër die aand daar weg is, teruggekom het. Sy vader was op daardie stadium reeds sterwende.

In sy uitspraak[i] van op 29 Augustus 1996 beslis regter Marais dat die Staat nie bewys het dat mnr Naidoo die direkte opset gehad het om sy pa dood te skiet nie. Omdat hy egter toegegee het dat hy die moontlikheid voorsien het dat hy, deur te skiet, iemand buite die woonhuis dodelik kon tref, het hy wel opset by moontlikheidsbewussyn – ook bekend as dolus eventualis – gevorm. Dít sou voldoende wees om hom aan moord skuldig te bevind.

Die hof het egter beslis dat die Staat moes bewys het dat daar by mnr Naidoo die persepsie was dat, terwyl hy die skoot afgevuur het, hy onregmatig opgetree het. Nou, al maak 'n mens iemand opsetlik dood, kan dit onder bepaalde omstandighede nie onregmatig wees nie, byvoorbeeld wanneer jy in noodweer of selfverdediging optree. As iemand jou aanval en jy jou kan verweer of beskerm slegs deur die persoon dood te maak, is jou optrede wel opsetlik, maar nie onregmatig nie. Daar word in regstaal gesê dat jy in noodweer opgetree het; dat jy met ander woorde 'n regverdigingsgrond gehad het.

Maar dit is duidelik dat in mnr Naidoo se geval daar geen werklike aanval op sy huis was nie. Net soos ons jongste wat op die baksteen gestaan het, vas geglo het dat hy eintlik op die rand van die stoep op die eerste verdieping was, het Naidoo, toe hy twee maal 'n geratel by die veiligheidshek gehoor het, vas geglo dat daar inbrekers was wat hom en sy huisgenote aanval. Hy het nie regtig in noodweer opgetree nie, maar hy het gegló dat hy in noodweer optree. By hom het wederregtelikheidsbewussyn – wat ‘n element van opset is – ontbreek.[ii]

Die hof het beslis dat dié oortuiging by Naidoo nie onredelik was nie. Om mee te begin was hy maar skaars 19 jaar oud. Daar was voorheen inbrake by sy huis. Hy was die enigste man in die huis en hulle het in 'n gevaarlike buurt gewoon.

Die hof het egter 'n probleem gehad met die manier waarop Naidoo geskiet het. Die hof was van mening dat hy onredelik opgetree het deur die skoot op kophoogte af te vuur. Die redelike mens sou onder die omstandighede waarskynlik 'n waarskuwingskoot in die lug of in die grond afgevuur het of hy sou op só 'n hoogte gemik het dat hy die vermeende of werklike aanvallers nie met die eerste skoot noodlottig sou tref nie. As hy 'n waarskuwingskoot geskiet het, kon hy die houtdeur weer onmiddellik toegeslaan en gegrendel het – iets wat hom net 'n paar oomblikke sou neem. Hy kon daarna alarm gemaak het en ander maatreëls getref het om hom en sy huisgenote te beskerm.

Kortom, hoewel Naidoo volgens die hof dus redelikerwys gegló het dat daar 'n aanval op sy huis is – regsgeleerdes praat van putatiewe noodweer – was sy optrede daarná onredelik. Die hof het bevind dat hy nalatig was, en omdat hy sy pa se dood op 'n nalatige wyse veroorsaak het, is hy aan strafbare manslag skuldig bevind.

Ons lees nie in die hofuitspraak wat Naidoo se vonnis was nie, maar 'n mens kan nie glo dat hy besonder swaar deur die hof gestraf is nie.

En as die feite van hierdie saak jou aan die Oscar Pistorius-sage herinner, is jy natuurlik reg. Steeds wonder ‘n mens wat die prinsipiële verskil is.[iii]

 

[i] S v Naidoo  1997(1) SASV 62 (TPD).

[ii] Vir ‘n elementêre bespreking van opset, gaan na  http://www.litnet.co.za/regsalmanak-die-verskyningsvorme-van-opset.

[iii] ‘n Kritiese LitNet-bespreking van die appèlhofuitspraak oor Oscar Pistorius kan gelees word by http://www.litnet.co.za/oscar-pistorius-vir-laas-voorste-strafregkenner-krities-oor-appelhof-se-uitspraak.

  • 1

Kommentaar

  • Avatar
    Chris Marnewick SC

    Inderdaad. Daar was al so baie soortgelyke sake dat die beginsels maar selde in die hofverslae bepreek word. In die 1970s reeds is hierdie soort sake "afgepleit" na strafbare manslag toe. Rudi Visagie is nie eers aangekla nie omdat die owerhede aanvaar het hy het geglo daar was 'n dief in sy dogter se motor.

    Die probleem vir Oscar Pistorius is dat 'n sensasie-soekende (makende?) media die openbare mening so aangeblaas het dat Pistorius aan 'n heksejag sonder presedent in SA se geskiedenis blootgestel is.

    En nou dat die howe finaal beslis het hy het geglo daar was 'n inbreker in sy huis maar hom desnieteenstaande skuldig bevind het aan moord, kom ten minste drie waarhede na vore. Een: Ons howe is nie so bekwaam as wat aan ons voorgehou word nie. Daar is geen waarborg dat geregtigheid geskied of sal geskied nie. Twee: Die stroom van openbare mening kan nie deur logika of regsbeginsels omgedraai word nie. Drie: Die feit dat elke Jan Rap en sy maat dink hulle is bevoeg om oor die feite en regsbeginsels te pontifkeer sonder dat hulle die saakrekord of 'n hofverslag gelees het, bevestig die rol van die media in die vorming van die openbare mening. Aanklaer, regter en laksman.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top