Olumpia, setel van Zeus op die Peloponnees, deel I

  • 0

Foto van Athene: https://pixabay.com/photos/athens-sunset-acropolis-greece-7402123/

.............
Naas Delphi (Delphoí) in Middel-Griekeland, skuins oorkant die Korinthiese Golf in Phokis (Phôkís), is Olumpia (Olimpíā) in Elis (Êlis) sekerlik die tweede belangrikste godsdienstige plek in ou (pan-Helleense) Griekeland, met sy klassieke periode van die 5de en 4de eeu v.C. Hier was nie alleen die grootste heiligdom van Zeus as Oppergod van die Grieke geleë nie, maar hier, uit die vroegste tye reeds, was die plek waar die veelgeroemde Olimpiese Spele elke vierde jaar gehou is wanneer die Griekse stadstate hulle onderlinge strydvoeringe vir ’n tydjie opsy geskuif het om eers saam atletiekspele te hou.
..................

Naas Delphi (Delphoí) in Middel-Griekeland, skuins oorkant die Korinthiese Golf in Phokis (Phôkís), is Olumpia (Olimpíā) in Elis (Êlis) sekerlik die tweede belangrikste godsdienstige plek in ou (pan-Helleense) Griekeland, met sy klassieke periode van die 5de en 4de eeu v.C. Hier was nie alleen die grootste heiligdom van Zeus as Oppergod van die Grieke geleë nie, maar hier, uit die vroegste tye reeds, was die plek waar die veelgeroemde Olimpiese Spele elke vierde jaar gehou is wanneer die Griekse stadstate hulle onderlinge strydvoeringe vir ’n tydjie opsy geskuif het om eers saam atletiekspele te hou.

Olumpia lê in ’n breë vallei of vlakte in die middel van Elis in die Weste van die Peloponnees, aan die noordelike oewer van die Alpheîos-rivier (Alpheús, moderne Alfios) ongeveer 18 km van die Ioniese see af. Daar is egter argeoloë wat meen dat dit in antieke tye net die helfte van hierdie afstand was (soos dit die geval is by die see-engte van Thermopulai in die Golf van Malis teenoor die noordelike uitloper van die lang-uitgestrekte Euboia). Deur die vonds van Gastropoda (buikpotige skulpe) en Foraminifera op Olumpia is daar ook argeoloë wat meen dat Olumpia iewers in die verre verlede selfs deur ’n tsunami uit die Egeïese See getref kon gewees het.         

Terwyl Delphi hoog, majestueus en indrukwekkend aan die voetheuwels van die Parnassos-gebergte gelê het, met die onheilspellend diep Dal van die Pleistosrivier daaronder, het Olumpia op die Peloponnees die besoeker weer verwelkom waar dit in ’n oop, vrugbare en vriendelike vlakte omring deur lae heuweltjies gelê het. En terwyl alle monumente by Delphi binne die ommuring van die heiligdom (témenos) gelê het, was dit by Olumpia nie die geval nie, omdat daar later ook buite die oorspronklike témenos voortdurend aangebou is en verder ontwikkeling plaasgevind het.

Die belang van Olumpia in Elis op die Peloponnees

Die belang van Olumpia vandag lê in die feit dat die grondplan van hierdie ou heiligdom bykans volmaak ontbloot en oopgegrawe is, en dat ’n magdom van allerlei realia daar, ná 2 500 lange jare, bewaar gebly het vir die argeoloog om dit weer op te diep, hoewel effens verweerd, asof dit gister toegespoel het onder die illuviumsand en van tot agt meter hoog deur die Alpheiosrivier en sy takspruit die Kladeos wat ook daaromheen gevloei het. Selfs die as van die offerdiere by die Altaar van Zeus kon maklik uitgeken word. Met sy meer as 70 bouwerke volgens Pausanias in sy Reisgids van Hellas (Periêgêsis tês Helládos), en sy letterlik duisende standbeelde (Plinius die Ouere het dit in sy Naturalis Historia op byna 3 000 geskat), verskeie artefakte, inskripsies, en selfs verweerde dokumente wat gevind is, bevat Olumpia die grootse versameling skatte op een plek geberg wat ooit in Griekeland gevind is. Dit vorm amper ’n opelugmuseum van sy eie, waarvan die grondplan uitgelê kan word om alles te verstaan wat Pausanias kwytgeraak het toe hy Olumpia in die 2de eeu n.C. besoek het. Die Skotse etnoloog en Griekse filoloog James George Fazier (Glasgow 1854 – Cambridge 1941), skrywer van The Golden Bough, het hierdie werk van Pausanias in ses volumes in 1898 in Engels vertaal as Description of Greece, terwyl hy ook ruimskoots kommentaar daarby gelewer het, en dit as onontbeerlik beskou het by die hedendaagse studie van ou Griekeland. Raadpleeg hier ble. 5–6 vir Olumpia, en boek 6 vir Delphi. Die argeoloog Heinrich Schliemann (1822–1890) het hom ook baie op Pausanias verlaat met sy opgrawings by Mukene, Tiruns, Pulos en elders in Peloponnesiese Griekeland.

Die Duitse opgrawings by Olumpia

Richard Chandler, die Engelse antikwaar wat aan The Queen’s College op Oxford in die Klassieke studeer het, word vandag beskou as die man wat Olumpia herontdek het in 1766 toe hy die ruïnes hier as dié van Olumpia geïdentifiseer het. Dink daaraan: dat die louter bestaan van een van die twee belangrikste religieuse sentra van ou Griekeland (naas die een by Delphi in Phokis) ná ’n gebruik daarvan van meer as 1 000 jaar so totaal vergete kon geraak het. Maar danksy die goue graaf van die argeoloog kan ons vandag selfs die grondplan van hierdie Olumpia as ’n eertydse heiligdom vir die ou Grieke met groot sekerheid en in fyn besonderhede rekonstrueer.

Die opgrawings by Olumpia was die sukses van die destydse Duitse regering. Ernst Curtius en Friedrich Adler het hierdie uiters sistematiese opgrawings by Olumpia oor ’n tydperk van sewe jaar gelei: 1874–1881. En hulle het breedvoerig reportage van hulle werksaamhede gelewer wat ek onmiddellik hier wil aangee, tesame met die werke van hul Duitse epigone (omdat vele Engelse handleidings vandag dit byvoorbeeld doodswyg).

E Curtius en F Adler, Olumpia. Ergebnisse der vom Deutschen Reich veranstalteten Ausgrabungen (in 10 dele, 1890–97); R Hamann, Olympische Kunst (1923); E Buschor en R Hamann, Die Skulpturen des Zeustempels zu Olumpia (1924); W Dörpfeld, Alt-Olumpia (in twee dele, 1935); E Curtius, Olumpia (1935); W Wunderer, Olumpia (1936); W Hege en G Rodenwaldt, Olumpia (1936); L Deubner, Kult und Kunst im alten Olumpia (1936); E Kunze et alii, Bericht über die neuen deutschen Ausgrabungen von Olumpia I–IV (1937–1944); E Kunze en H Schleif, Olympische Forschungen I (1944). Ander werke oor Olumpia in Engels sal ek ook aan die einde aangee.

’n Heel oppervlakkige Franse Expédion scientifique de Morée is al in 1829 by Olumpia uitgevoer, deur A Blouet gelei. Hulle het daar hoofsaaklik in die beroemde Tempel van Zeus belang gestel. Fragmente van drie gebeeldhoude metopes wat toe daar gevind is, is na die Louvre in Parys oorgeplaas (’n metópê is ’n reghoekige basreliëf wat deel uitmaak van die entablementure van die fries by die kroonlys van ’n Griekse tempel, geskei deur trigliewe – waarvan 92 te sien is in die Britse Museum wat weer destyds van die Parthenon in Athene af verwyder is deur lord Thomas Elgin –  om dit te “bewaar”, wat hy toe sommer ook in 1816 aan die Britse Museum verkoop het). Morea was sedert die 13de eeu in Europa die gebruiklike naam vir die suidelike skiereiland van Griekeland, suid oorkant die Korinthiese Golf, tans weer die klassieke Peloponnees.

Ernst Curtius is in hierdie eerste dekade van opgrawings by Olumpia ook bygestaan deur Gustav Hirschfeld, George Treu, Adolf Furtwängler, A Boetticher, Wilhelm Dörpfeld en Richard Bormann.

Met die plaasvind van die Olimpiese Spele in Berlyn in 1936 het Emil Kunze en Hans Schleif die gebied suid van die stadion verder ondersoek en die kompleks rondom die Gumnásion, die gimnastiekterrein, verder blootgelê.

Na die Tweede Wêreldoorlog het Emil Kunze en die argitek Alfred Mallwitz tussen 1952 en 1966 die werkswinkel van Peidias, wat die reusagtige beeld van Zeus vir Olumpia geskep het, op verrassende wyse onder die fondasies van ’n Christelike kerk ontdek wat later, in die Bisantynse tyd, daaroorheen opgerig is.

Die grondplan van die ruïnes van Olumpia

Dit lyk my die beste om die opgrawings by Delphi te bespreek aan die hand van ’n (denkbeeldige) kaart van die grondplan daarvan.

Die pragtige ligging van Olumpia aan die noordoewer van die Alpheios het ek reeds aangedui. Die heiligdom van Zeus daar dateer waarskynlik al uit ’n hele 1 000 jaar vC. Dit was eers onder die beheer van Pisa, ’n dorpie net noord van die Alpheiosrivier. Teen 570 vC het hierdie témenos, oftewel heilige kontrei, van Zeus egter in die hande gekom van die twee stadstate (poleîs) Elis en Sparta.

Die vlakte van Olumpia het basies uit drie dele bestaan: (1) die Áltis (’n Oud-Eleïese vorm vir álsos; saltus in Latyn), die heilige woud van Zeus, noord van die Alpheiosrivier waaraan Olumpos lê, met die Krónos-heuwel in die noordooste, en die takrivier Kladeos van die Alpheios wat daarrondomheen vloei, ’n gebied wat (vir maksimale beskerming) omring was deur ’n muur wat aan die oostekant, suidekant en westekant die kompleks afgesny het, met sy ingang aan die suidwestekant en sy uitgang aan die noordwestekant; (2) die oop ruimte vir die (latere) Olimpiese renbane en stoeiskole (palaístrai); en (3) die ruimte wat bestem was vir die gebruik van die priesters, die atlete (met en al), en ook vir die feesgangers ’n onderdak gebied het, met die Altaar van Zeus reg in die middel daarvan, noordoos, heel los van van Zeus. Die Altis was oorspronklik ’n beboomde ruigte aan die twee riviere, die Alpheios en die Kladeos, hoofsaaklik begroei met olyf- en plataanbome. Dit moes dus ’n aantreklike ligging gehad het, en dit is geen wonder dat die ou Grieke dit uitgekies het om dit net daar die setel van ’n heiligdom te maak nie.

Die Tempel van Zeus op Olumpia

Die Tempel van Zeus was die grootste en mees imposante gebou op Olumpia. Dit was nie die lokus van ’n orakel soos Apollo se tempel by Delphi nie, maar slegs die heiligdom van hierdie Oud-Griekse Oppergod. Dit is een van die grootste Doriese tempels in die hele Griekeland. Dit is in 460 vC gebou deur die argitek Libôn van Elis. Dit is met ’n rowwe romp aanmekaargesit, en die oppervlakke van die buitemure bedek met fyn wit stukadoorskalk. Dit het ses (opgeboude) kolomme (suile, pilare) aan die voorkant gehad, met 13 aan die sykante. Dit het, vir ’n Griekse tempel, soos die Parthenon op die Akrópolis in Athene, ’n prónaos (voorhal), naós (die cella van die templum), en opsthódomos (die “agterhuis”, of skatkamer, as die heiligste deel van die tempel)  gehad, met buite om drie loopgange met dun suile in twee vlakke geskep. Die dakteëls was van marmer.

Die Tempel van Zeus op Olumpia was ryklik versier met allerlei skulptuur, waarvan ’n groot deel (tot 80 persent) vir ons bewaar gebly het (en wat tans in die plaaslike museum te sien is). Op die frontgewelf was daar die wa-resies uitgebeeld tussen Pelops en Oinomaos, die mitologiese koning van Elis en vader van Hippodamia, asook die stryd tussen die Lapíthai en die Kéntauroi.

Die mitiese ondergrond by die verhaal van Pelops, en die vloek wat op die huis van Atreus van Mukene geheers het

Nou eers ’n stukkie mitologie wat ek moet vertel van die afbeeldinge op die gewelf van Zeus se tempel op Olumpia om enige sin daarvan te maak. Pelops, na wie die Peloponnêsos (die “eiland van Pelops”) vernoem is, was die seun van Tántalos en Niôbê. Toe hy nog ’n kind het sy vader Tántalos hom doodgemaak en sy vlees as ’n dis voorgesit by ’n feesmaal vir die gode – net om te kyk of hulle die verskil tussen mensvleis en die vleis van offerdiere kon onderskei. Dêmêtêr (nog steeds bedroef oor die opneem van haar dogter Persophónê in Hades) het toe, heel ingedagte, ’n deel van die kind se skouer geëet, terwyl die ander gode die verskil gou agtergekom het. Pelops is daarop weer uit die dode opgewek, en die skouer wat Dêmêtêr geëet het, is vervang met een van ivoor. Tántalos is toe bitter swaar gestraf vir sy afskuwelike misdaad (en ook omdat hy van die nektar van die gode gesteel het, en daarby ook van die geheime van die gode openbaar gemaak het). Hy is hierop in Tártaros (nog dieper die Onderwêreld in) gewerp, waar hy honger en dors langs ’n poel water vasgemaak is. En as hy daarvan wou drink, het die water net verder in weggetrek, en as hy van die vrugte van die bome wou pluk, het die wind die takke waarop dit was, buite sy bereik gestoot. ’n Ander mite oor sy straf lui weer dat ’n yslike groot rots bo sy kop gehang het wat enige oomblik op hom kon aftuimel. Maaltye is vir hom voorgesit, maar hy is verbied en verhinder om sy honger te stil.

Toe Pelops ’n jongman word, het hy aangelê by Hippodameia, die dogter van koning Oinomaos van Elis. Hy kon haar kry, maar dan moes hy die koning in ’n wa-resies klop, en as hy ingehaal is, sou die koning hom met ’n spies doodsteek. Pelops het egter vir Murtilos, die menner van die koning se renwa, omgekoop om ’n lunspen in sy meester se wa se wiele te vervang met een wat van was gemaak was, wat natuurlik gou sou smelt wanneer die wiele begin draai het. Natuurlik het Pelops toe vir Hippodameia as bruid gewen. Hy het egter nagelaat om vir Murtilos vir sy daad te vergoed, soos hy beloof het, en van hom ontslae geraak deur hom in die see te gooi om te verdrink. Hierdie moord wat Pelops gepleeg het, was die direkte oorsaak van die vloek (’n hamartía, dit wil sê ’n sondige vergryp, wat die Erinúes, oftewel Wraakgodinne, altyd in die Hiermaals reeds regstel) wat op die huis van Pelops uitgespreek is deur die gode, ’n vloek wat ook die koningshuis van Atreus van Mukene en sy broer Thuêstês geërf het. Thuêstês het weer vir Aithra, die vrou van sy broer Atreus verlei, wat hom toe eers verban het, maar later weer teruggeroep het, en op sy beurt weer ’n dis voorgesit het wat gekook was met die vlees van sy eie kinders. Thuêstês het toe vreesbevange weggevlug en die vader gaan word van Aígisthos by sy broer Atreus se dogter, Pelopía. En hierdie Aígisthos sou by die paleis van Agamémnôn se vrou Klutaimnêstra ingetrek het toe Agamémnôn die Achajers (Achaioí) in daardie 10-jarige Ekspedisie teen Troje (van 1193 tot 1184 vC) gelei het sodat hulle die skone, “mooihaar”-Helena, die vrou van sy broer Menélaos, die koning van Sparta, weer kon gaan terughaal vir wie Paris, die prins van Troje, uit Sparta ontvoer het saam met al haar skatte – wat Aphrodítê hom beloof het toe hy haar as die mooiste vrou bó Hêra en Athêna by die huweliksmaal van Pêleús en Thétis, die ouers van die Homeriese held Achilleús (Achilles) aangewys het.

Die slag van die Lapithai en Kéntauroi

Die Kéntauroi was ’n legendariese mens-dier-ras wat vroeër op die aarde was (vgl ons dinosourusse < deinós, “verskriklik/vreeswekkend” + saûros, “akkedis”, ’n naam wat vir die eerste keer gebruik is deur sir Richard Owen in 1842 vir hierdie uitgestorwe wesens, waarvan hy die skelette later as Homo Erectus/Sapiens sou opgrawe). Hulle het die liggaam van ’n mens gehad met die nek en kop van ’n perd, as afstammelinge van Ixiôn en Nephelê (’n “wolk” wat Zeus geskep het om soos Hera te lyk) en het in Thessalië in Noord-Griekeland gewoon. Toe hulle bure, die Lapíthai, ’n fees gehou het met die troue van hul koning Pirithoös met Hippodameia, het die Kéntauroi wat hulle na hul fees genooi het, Hippodámiea saam met nog ander vroue ontvoer. Daar het toe ’n stryd tussen hulle uitgebreek waarin die Kentaure verslaan is, en verdryf is uit hul woonplek by die hooggebergte Pêlion in Magnesia in Thessalië.

Hierdie skulptuur aan die Tempel van Zeus op Olumpia is meesterstukke in reliëf van die vroegste Griekse skulptuurtradisie. Ons weet nie wie die beeldhouer(s) was nie. Pausanias sê dat dit Paiônios en Alkamênês was, maar dié, weet ons vandag, het eers aan die einde van die 5de eeu vC gebeitel.

Die fries van Zeus se tempel hier (’n horisontale strook wat tussen die argitraaf en die kroonlys by die dak van die tempel aangebring is bó die metope, het weer die beroemde Twaalf Take van die held Herakles uitgebeeld. Vir ’n beskrywing van hierdie Twaalf Take van Herakles, sien PJ Conradie, Avonture van die Griekse helde en gode (Human & Rousseau, Kaapstad en Pretoria, ble 68–83).

Op die dakspits van die tempel was daar die vergulde figuur van Paiônios se Níkê, die godin van Oorwinning, en by elke hoek ook ’n vergulde beker. Dit het egter verlore gegaan.

Die standbeelde by Olumpos

Plinius die Ouere vertel in sy Historia Naturalis, soos ek reeds inleidend opgemerk het, dat daar by die 3 000 standbeelde by Olumpos opgerig was. Daar was natuurlik die standbeelde wat vir uitsonderlike kampioene opgerig is. Daarnaas was daar egter ook die standbeelde wat in die Altis opgerig was wat ander groot Oud-Griekse geeste vereer het, byvoorbeeld dié van Aristoteles (in die Oudheid bekend as die Deus Philosophorum); Gorgias van Liontini in Sicilië (een van die groot voor-Sokratiese Sofiste); Lusandros van Sparta (bevelvoeder van die Spartaanse vloot wat in 405 vC die Atheners die finale nekslag toegedien het by Aigòs potamoî aan die Hellêspontos); Philippos II van Macedonië en sy seun Alexander die Grote; Purrhos van Epirus in Noord-Griekeland (wat sy geveg in 279 vC by Asculum in Italië wel gewen het, maar soveel manskappe verloor het dat so ’n oorwinning later bekend gestaan het as ’n “Phurriese oorwinning” – waar die kool die sous nie werd was nie); Hierôn van Sicilië (’n minder goeie tiran van Sirakuse vir wie Pindaros en Aischulos roem besorg het); en die Romeinse bevelvoerder Mummius wat Korinthe in 146 vC vir die Romeine ingeneem het. Helaas het slegs maar ‘n baie klein deel hiervan vir ons bewaar gebly. Dit sou vandag ’n hele museum kon gevul het. Ons weet vandag presies waarom hulle daar in beeld gestaan het. Maar wat sou die geskiedenis daarna van elkeen van hierdie beelde gewees het?

Die standbeeld van Zeus by Olumpia, geskep deur Pheidias

Binne-in hierdie Tempel van Zeus was daar die reusagtige chrūselephăntínos-standbeeld van Zeus, geskep deur die beroemde Atheense beeldhouer Pheidias, waar ’n volledige houtbasis oortrek was met ivoor en goud. Vir volledige besonderhede hieroor, sien Peter A Clayton en Martin J Price, The Seven Wonders of the Ancient World (Routledge, Londen en New York, 1988). Antipater van Sidon (met ’n floreat teen 120 vC) was die eerste opsteller van hierdie lys van Sewe Wonders.

Pheidias (en sy handlangers) het hierdie reusebeeld van Zeus stukkie vir stukkie in sy atelier, oftewel werkswinkel, buite die Altis, wes van die tempel geskep (vgl Pausanias 5.15.1). Die houtbasis daarvan was egter direk in die tempel op sy aangewese plek opgerig. Verdere opgrawings in 1954–1958 deur die Duitse Argeologiese Instituut by Olumpia het ’n dramatiese  bevestiging gelewer vir die bestaan van Pheidias se atelier op die terrein, waarop later ’n Bisantynse kerk opgerig is. Van sy gereedskap is daar opgediep, soos agt soorte beitels, sowel as sy gietvorme van klei waarop hy die goue kleed (oortreksel) van die beeld kon gemodelleer en uitgehamer het. Daar is ook fragmente van ivoor, hout, been en glas gevind. Die débris wat daar gevind is, het ook pottebakkerswerk (wat redelik betroubaar te dateer is) ingesluit wat op 430 vC gedateer is. Dit het ook ’n ou kontroversie opgelos: Pheidias het sy werk aan die Parthenon op die Akrópolis van Athene reeds amper ’n dekade vroeër klaargemaak, in 438 vC. By hierdie werksplek van Pheidias is verder ook ’n geriffelde drinkbeker van Atheense swartware gevind met ’n duidelike inskripsie in Grieks onder op die boom daarvan uitgekrap: ΦEIΔIO EIMI, “Ek is Pheidias [s’n].”

Hierdie standbeeld van Zeus is as een van die Sewe Wonders van die antieke wêreld beskou. By die Olimpiese Spele van 97 nC het die redenaar Dion Chrusotomos, wat genooi is om vir die geleentheid ’n toespraak oor die Tempel van Zeus op Olumpia te kom lewer, hom afgevra hoe so ’n reusagtige stuk werk aangepak sou kon gewees het in die kop van Pheidias. Daar is die storie toe aangehaal dat Panaînos, wat ’n medewerker van Zeus op Olumpia was, ’n passasie uit die Ilias van Homerus sou aangehaal het waar die grote Zeus sy kop geknik het en daar toe ’n hewige bewing gevolg het wat die hele Berg Olumpos in Noord-Thessalië laat skud het. En dit was hierdie Zeus wat Pheidias in beeld wou vaslê.

Cicero (106–43 vC), die groot Romeinse redenaar en skepper van die ideale Latynse gesubordineerde (ipv parataktiese) prosastyl in die 1ste eeu vC, het ook gemeen dat Pheidias hierdie grootse konsep (van Homerus) werklikheid wou maak en ’n beeld van Zeus wou skep volgens die “visie van grootse skoonheid” wat hy as uiters begaafde kunstenaar in gedagte gehad het en toe suksesvol gestalte laat kry het.

Strabo van Amasia in Pontus aan die Swart See het in sy omvangryke Geôgraphiká van 17 boekdele uit die 1ste eeu AD opgemerk dat hierdie beeld van Zeus en die tempel waarin dit gestaan het, proporsioneel totaal oneweredig was. Die beeld was glad te groot vir die tempel, waar dit amper die plafon geraak het. ’n Mens het die indruk gehad dat as Zeus nou sou moes opstaan, die hele dak opgelig sou word.

Die liriese digter Kallimachos van Alexandrië (350–240 vC) wat 200 jaar later na die beeld van Zeus gaan kyk het, het vir ons die mate van die vloerspasie van die tempel aangegee: 6,65 meter wyd, amper 10 meter diep, en net meer as 13 meter hoog, terwyl die beeld self amper dieselfde hoogte gehad het.

Pausanias het in sy “Reisgids van Hellas”, in die 2de eeu nC geskryf, ’n gedetailleerde verslag van die beeld van Zeus op Olumpos gegee. Dit het ’n gebeeldhoude krans van olyftakke op die hoof gehad; ’n beeldjie van ’n gevleuelde Nikê (“Oorwinning”) in sy regterhand vasgehou wat uit ivoor en goud geskep is; met sy goddelike septer in sy linkerhand geskep uit ’n verskeidenheid van metale, met ook ’n arend op die skerp punt daarvan; met ligte sandale aan die voete; ’n uitgekerfde kleed met dierefigure daarop saam met wilde lelies; die troon (thrónos) self versier met goud en allerlei waardevolle edelgesteentes daarin, met die insluiting van ivoor en ebbehout.

Die Christenskrywer Clemens Alexandrinus (150–215 nC), wat binne ’n klassieke paradigma  die Griekse Nuwe Testament uitgelê het (dws van die ou bekende idioom na die nuwe, nog onbekende dogma), het opgemerk dat op ’n vinger van Zeus die frase “Pantarkes is mooi” uitgekrap was. Dit verwys seer sekerlik na Pantarkes, ’n jongman van Elis met wie die kunstenaar Pheidias ’n verhouding gehad het.

En ja, die satirikus Lucianus van Samosata aan die Eufraat uit die 2de eeu nC het geskryf dat die houtromp van die groot beeld van Zeus op Olumpus van binne reeds hol gevreet was deur knagende muise.

Pausanias gee ook vir ons ’n gedetailleerde beskrywing van die skilderstukke van Panaîos wat teen die mure van die tempel aangebring was om die konstruksie binne die tempel van die sittende standbeeld van Zeus te komplementeer. Hierdie Panaîos was die broer (volgens Pausanias) of die neef (volgens Strabo) van Pheidias. Weer eens is al die tonele uit die mitologie hier tot lewe gebring. So het ons die huweliksviering van Pirithoös, die koning van die Lapíthai van Thessalië, met die Kéntauroi (wat later met ’n onsmaaklike geveg sou eindig); weer eens is die Twaalf Take wat Herakles vir Eurustheus van Mukene moes uitvoer, afgeteken, en oa ook waar Herakles die Titaan Prometheús moes gaan red wat Zeus teen ’n verlate muur laat vasspyker het omdat hy vir die sterflike mense ook die goddelike gawe van vuur (pûr) op die Berg Olumpos gesteel het en in ’n vinkelstok (om dit in te verberg) aarde toe gebring het. En daar was ook ’n mooi portret van Hippodámeia, die vrou van koning Pirithoös.

Daar word vertel dat nadat Pheidias met sy werk aan die standbeeld van Zeus klaar was, hy tot Zeus gebid het om hom ’n teken te gee of die godheid daarmee tevrede was. En onmiddellik het Zeús Astrapêphóros met ’n bliksemslag geantwoord; en presies op die plek waar Zeus die vloer van die tempel getref het, is daar toe ’n bronshouer geplaas om die merke mee te verberg.

Die Altaar van Zeus

Die Altaar van Zeus was, soos ons reeds gesien het, noordelik buite sy tempel opgerig in die ommuurde Altis, en dit het ’n elliptiese vorm gehad, met ’n opgeboude basis. Dit was 22 voet (6,7 meter) hoog gebou. Ook dít was alles met grond toegespoel deur oorstromings van die Alpheîos. Maar selfs die verbrande as van die offerdiere kon nog duidelik uitgeken word na al die eeue.

Die antieke mense het onderskei tussen ’n bômós (altare, soos die een wat die apostel Paulus in Athene raakgeloop het (Handelinge 17:23), waarop geskryf gestaan het AΓΩSTΩ ΘEΩ, “aan ’n God wat nie geken kan word nie” (binne die Oud-Griekse wysgerige tradisie, ipv “’n Onbekende God” – dus afhangende van die interpretasie van die gebruik van die álpa-privativum hier); ’n eschára, oftewel ara, vir ’n hoofgod; en ’n hestía vir ’n held of halfgod. In Archaïese Griekeland, soos hier by Olumpia, was dit net ’n blote hoë blok wat opgerig was. By Pergamum in Klein-Asië was dit in die Hellenisties-Romeinse tyd die offeraltaar wat baie hoog opgebou is en wat met trappe bestyg moes word. By Sirakuse in Sicilië, en Parium in die Troas, sou hierdie altare selfs ’n stádion (amper 600 voet, of 182,88 m) hoog gewees het. Sien hier CG Javis, Greek altars (VSA), 1949.

Die Pelopeion en die Tempel van Hera

Reg noord van die Altaar van Zeus was daar die Heiligdom van die Eleaanse held Pelops, by die Altis ingesluit, halfpad op weg van die Tempel van Hera. Daar word vandag aanvaar dat die Tempel van Hera die heel oudste tempel is wat op Olumpia gebou was en vir haar aanbidders besonder heilig was. Oorspronklik is Zeus hier sáám met haar aanbid, totdat hy sy eie tempel gekry het. Hierdie tempel kon al voor die 6de eeu vC gebou gewees het, selfs reeds in die 10de eeu vC. Hierdie Tempel van Hera was lank en smal gebou, met ses Doriese pilare aan die eindes en 16 pilare in die lengte daarvan. Hierdie pilare was aanvanklik van hout, en is eers later met steenpilare vervang. In die opisthódomos het inderdaad nog van die ou houtpilare bly staan. In sy verslag vertel Pausanias ons dat daar ’n klipbeeld van Hermes was wat die jonge Dionusos op sy arm gedra het, ’n werk van Praxiteles. En sowaar, in 1877 is dit ook in die cella van Hera se tempel ontdek. Dit kan nou in die Museum van Olumpia besigtig word nadat dit vir 2 300 jaar daar begrawe gelê het. Praxitélês is ongeveer 390 vC in Athene gebore. Hy het die meer waardige en verhewe styl van die 5de eeu vC vervang met een wat sagter is en uitdrukking van gevoel wou vasvang in die steen waaruit hy gebeitel het. Beroemd was destyds ook sy Aphrodite van Knidos (te onderskei van die Venus de Milo van die Louvre in Parys), asook sy Apóllôn Sauroktónos (“Apollo wat die akkedis doodmaak”). Volgens Pausanias was hier ook die pragtige sederhoutkis, met uitgekerfde patrone daarop, geberg waarin Kúpsêlos, die tiran van Korinthe, deur sy moeder weggesteek is sodat die oligargie van die heersende Bakchiádai hom nie kon opspoor nie, want ’n orakel het voorspel  dat hierdie seun van haar eendag die Bakchiádai omver sou werp. Kúpsêlos was die vader van Periandros, die latere sterkman van Korinthe – oor wie een van Afrikaans se grootste digters, DJ Opperman, ’n  uitsonderlike drama, Periandros van Korinthe (1954), in vyf bedrywe, sou skryf – wat aangesluit het by die geslote bou van die Oud-Atheense tragiese dramaturge. Opperman het die stofgegewe van hierdie drama hoofsaaklik by Herodotus en Diogenes Laërtius gekry.

Die Prutaneion van Olumpia

Noordoos van die Tempel van Hera was die Prutaneîon van Olumpia, die eetsaal van die atlete by die Spele. Feitlik alle Griekse stadstate het ’n Prutaneion gehad wat vir die belangrike amptenare van die pólis bedoel was, en waarin hulle ook vir werksaamhede kon vergader, asook onbelangrike besoekers kon ontvang, en natuurlik saam kon eet. Die Prutaneion van Athene kon 500 siele herberg. In die haard (vuurherd) van die Prutaneion moes ook altyd ’n vuurtjie gebrand het. Vuur was ’n kosbare kommoditeit in die Oudheid, en iets wat nooit mag doodgegaan het nie.

Die Prutaneion op Olumpia het sy eie weelderige versierde fontein, apsidaal uitgelê, gehad. Die ryk Herodes Atticus (wie se vader toevallig die groot skat in sy tuin in Athene ontdek het) het vir hierdie fontein gesorg, en dit laat oprig in die naam van sy vrou Regilla. Daar was 20 standbeelde opgerig om Herodes en sy familie te gedenk, asook beeldvan die Romeinse keisers Hadrianus en Antonius Pius. Herodes Atticus, as private persoon, kon dus daar sy eie persoonlike monument opgerig het in die Altis by Olumpia, terwyl hy terselfdertyd ook die terrein vir almal, die godheid ingesluit, versier het. Rykdom en status het toe al terdeë gepraat.

Die twaalf skatkamers

Heel oos van die Prutaneion en die Tempel van Hera was daar die 12 skatkamers van verskeie stadstate, net soos by Delphi. Dit het suid op die Altis afgekyk, teen die laer hange van die Berg Kronos. Dit was in ’n Doriese styl gebou, en almal dateer uit die 6de eeu vC. Daar was die skatkamers van selfs Busantion aan die Swart See, en Gela aan die laer suidkus van Sicilië, asook Cirene (Kurênê) in Noord-Afrika. In die geval van drie van hierdie skatkamers, naamlik dié van Sikuon, Megara en Gela, is daar genoeg materiaal gevind om rekonstruksies van te maak. Soos by Delphi het hierdie skatkamers gedien as plekke waarna dankoffers gebring kon word van atlete by die Spele, of bloot net as dankoffers aan Zeus. Al hierdie skatte is natuurlik eeue gelede geroof toe Olumpia sy deure moes toemaak.

Die Metroön

Die Metroön (Mêtrôon) is die Tempel van die “Moeder van die Gode” wat pas wes van die Weg van die 12 skatkamers staan. Dit was die tempel van Magna Mater in die geval van die Klein-Asiatiese Kubélê, ’n Frigiese godin. Hierdie tempel is ook in ’n Doriese styl gebou, in die 4de eeu vC. Omdat hierdie kultus daarna nie langer by die Romeine bly voortbestaan het nie, is (eerder) standbeelde van Romeinse keisers daarin gevind. Hierdie lemma laat my onwillekeurig dink aan die groot Nuwe Testamentiese grammatikus AT Robertson se The mother of Jesus (Baker Book House, herdrukte uitgawe, 1963). Iewers ontmoet religieë uiteindelik mekaar – dit het ’n uitgebreide studie van die godsdiensfenomenologie my geleer. Hier het die gode oorspronklik uit Moeder Aarde (Gaía of) gekom, en nie uit die onverklaarbare Hemelgewelf nie.

Die Zánes

Oos van die Metroön vind ons die Zánes (meervoud) as bronsbeelde van Zeus. Zên is in Ionies ’n ander vorm vir “Zeús”. Hierdie standbeelde is opgerig met die boetegeld wat met die Spele ingevorder is as die reëls van die Spele op een of ander manier geskend is. Die basisse van 16 van hierdie beelde is daar gevind. Dit was opgerig net binnekant die Altis, op pad na die groot Stádion daarbuite aan die oostekant.

Die Altaar van Dêmêtêr

Hierdie ontdekking by Olumpia is eers, heel toevallig, in 2006 gemaak. Chamúnê was ’n prehistoriese plaaslike (dus nie-Griekse) godin wat geassosieer was met die vrugbaarheid van Moeder Aarde, en is daarom later vereenselwig met Dêmêtêr (en Persephónê) van Eleusis aan die see in suidelike Attika. Pausanias vertel ons in sy “Reisgids van Hellas” van Chamúnê se kultus. Die reghoekige fondasies van hierdie heiligdom van Dêmêtêr en Chamúnê is buitekant die ou Altis gevind, ongeveer 150 meter oos van die Stadion, saam met terracotta-figure van die Helhond Kérberos. Die priesteres van hierdie heiligdom was die énigste getroude vrou wat by die Spele van Olumpia toegelaat is. Regilla, Herodes Atticus, die groot donateur van die pragtige fontein wat by Olumpia aangelê is, is amptelik by die Spele toegelaat, en het haar sitplek op die altaar gehad aan die noordelike skuinswal van die Stadion, reg teenoor die sitplekke van die Hellanodíkai, die hoofskeidsregters by die Spele. Ja, nie alle getroude vroue is toegelaat om die Spele by Olumpia by te woon nie; net ongetroude jong meisies is toegelaat, wát ook al die rasionaal daaragter was. In die Gimnasiums (Gumnásia) by Olumpos was die mans lig en skamel aangetrek, maar hulle was sekerlik nie kaal en naak, wat die adjektief gumnós in die eerste plek beteken, nie. Die ou Grieke was in elk geval nie so preuts soos die Victoriane in Engeland tydens koningin Victoria (1837–1901) se lang heerskappy nie – waar hierdie vrome ou koningin letterlik geweier het om wetgewing teen seksdade tussen vrouens te onderteken, om die doodeenvoudige rede dat daar net nie so iets bestaan het nie. Kom ons by die ou Grieke, dan vind ons dat pederastieë (seksuele verhoudings tussen volwasse mans en jong seuns, paidés) eintlik algemeen was, en dat hulle hul glad nie geskaam het vir die Hermae (vierkantige borsbeelde van die god Hermes met ’n phalloí aan die onderkant aangebring) wat die hele Athene versier het nie.

Voordat ek hierna by die histories belangrike stádion van Olumpia kom, moet ek eers enkele ander bouwerke op antieke Olumpia noem wat ook van belang was:

(1) Die Philíppeîon, ’n kleinerige ronde gebou, in die Ioniese styl opgerig met Korinthiese halwe kolomme in die Doriese orde, wat deur Philippos II van Macedonië (die vader van Alexander die Grote by sy vrou Olumpias) laat bou is om die beslissende slag van Chairôneia in Beosië in 338 vC te herdenk waar die Thebane en Atheners deur Philippos finaal verslaan is (“a battle fatal to liberty” noem John Milton dit in een van sy sonette – want dit was die begin van die einde van klassieke Griekeland). Hierdie gebou het ivoor en goue standbeelde gehuisves van Philippos self, sy seun Alexander die Grote, en ander lede van die Macedoniese koningshuis van daardie tydperk. Dit was geleë aan die einde van die binnekant van die noordelike muur van die Altis. Dit was hierdie Philippos wat die Engelse hul spreekwoord gegee het, “to call a spade a spade” – net dat die “spade” hier ’n skáphê, “bak” of ’n “hol ding” was, toe hy self, volgens Ploutarchos, die Macedoniërs maar ’n klomp onbeskofte mense genoem het. Dit was teen Philippos II dat die beroemde Attiese redenaar Dêmosthénês sy ewe beroemde drie Philippiese Redevoeringe (Philippicae) geskryf het om sy volk te waarsku teen Philippos wat besig was om die destydse beskaafde wêreld oor te neem vanaf Thermopulai aan die Sinus Maliacus tot by die Propontís, oftewel See van Marmora, op pad na die Swart See vanuit die ou Egeïese See. In sy drie Philippicae, wat hy in die destydse Atheense Ekklêsia gelewer het, het Demosthenes die “globale” politiek van die destydse Oud-Griekse wêreld waarin hy gelewe het, maar profeties reg gelees, is dit uiteindelik bewys.

(2) Die Leonídaion, waarskynlik vernoem na koning Leonidas van Sparta, ’n hostel wat in die 4de eeu vC gebou was vir die amptenary en belangrike besoekers, opgerig teen 300 vC. Dit was ’n groot gebou, geleë buite aan die Altis, aan die suidwestelike hoek daarvan. Die Romeine het dit later vir hulle (gerieflike eie) gebruik, herbou.

(3) Die Boulleutêrion, oftewel Raadhuis, ten suide van en ook buite die Altis. Dit het bestaan uit twee langwerpige geboue in die Doriese styl, maar wat uit verskillende tye dateer, met apsidale ente wat weswaarts wys. In die binnevierkant daarvan het die standbeeld van Zeús Hórkios (“Zeus, beskermer van die eedaflegging”) gestaan. Dit was langs hierdie standbeeld van Zeus dat die atlete by die Spele van Olumpia elkeen ’n eed moes aflê dat hy nie in sy mededinging oneerlik sal wees nie.

(4) Die Palaístra oftewel Stoeilokale, was ook ten Weste buite die Altis geleë, net noord van die latere sogenaamde Romeinse Huis.

(5) Die Exedera  (<  éx-hédra), Numphaîon, oftewel Tuinhuis, van Herodes Atticus, wat noord tussen die Prutaneion en die 12 skatkamers lê, het ook ’n reservoir vir watervoorsiening vanaf  ’n akwaduk gehad. Dit het ook standbeelde gehuisvan hierdie groot weldoener van Olumpia. Dit was ook verbind met die inwoners van Elis wat daarmee hulle dank aan die bouer daarvan wou betoon.

(7) Die lang Êchô Stoá was gebou aan die westekant van die noordelike muur van die Altis, en het dus, in effek, die Altis afgesny van die Stadion ten noorde daarvan.

(8) Die Hestía Stoá binne die suidoostelike hoek van die Altis, met Hestía as die godin van die haard waar die vuur altyd moes brand.

(9) Die sogenaamde suidelike Stoá wat reg in die middel buite die suidelike muur van die Altis gelê het.

(10) Die Villa van keiser Nero buite die suidoostelike hoek van die Altis.

Dit is opvallend dat Olumpia nie ’n amfiteater (soos by Delphi die geval was) gehad het nie. Die rede lê miskien daarin dat daar nie ’n natuurlike skuinste in die onmiddellike omgewing van die Altis daarvoor was nie. Die suidelike hang van die Krónosberg by die Alpheîosrivier was nie daarvoor geskik nie. Die Peloponnees was nie ryk aan opelugteaters nie. Die Spartane was Doriërs, en het nie so ’n groot belangstelling daarin gehad soos dit by die Atheners die geval was nie. Die Akrópolis van Athene was by uitnemendheid juis hiervoor ideaal en geskik. Die Atheners se eerste uitgangspunt was die gees van die mens. Die Spartane s’n was die liggaam van die mens.

Die Stadion van Olumpia, eerste tuiste van die Olimpiese Spele

Noordoos van die Tempel van Zeus, net buite die Altis, het die Stádion gelê waar die atletiekspele by Olumpia elke vier jaar plaasgevind het. Aanvanklik was dit nie afgesny van die Altis nie, totdat een ent van die wedloopbaan in die onmiddellike omgewing van die Altaar en Tempel van Zeus gedraai het, waar die Echo-kolonnade (Êchô, “Weergalming”) later aangebring is. Hierdie Echo moes die Nimf gewees het wie se toenadering die bosgod Pan afgewys het, en die herders haar ook later in stukke verskeur het. Moeder Aarde het toe egter self hierdie stukke geberg, wat steeds bly sing het en ook allerhande geluide nagemaak het (vgl Longus van Lesbos se roman Daphis en Chlóê 3.23).

Teen die middel van die 4de eeu vC is die Stadion van Olumpia met ongeveer 90 tree (82 m) ooswaarts verskuif, en ook ’n klein bietjie meer noord. Die wedloopbaan was hier omring deur skuins hellings wat as sitplek gedien het vir die toeskouers, behalwe in die noorde, waar dit aan die laer voet van Berg Kronos gelê het. Die loop van die Stadion was in die begin effens verdeel, maar dit is weer byeengebring deur die Kruptê met ’n booggewelf (eers teen 200 vC aangebring), waar diepasie ietwat verborge gelê het tussen die oorspronklike twee dele daarvan. In die Hellenisties-Romeinse era is hierdie welwing of ronding met stene bedek. Die ingang hier was bedoel vir die atlete en die skeidsregters. Daar was toe nog geen steensitplekke vir die Stadion nie, afgesien van ’n afskorting aan die suidelike ent ongeveer een derde weg van die beginpunt/wegspringplek vir die atlete naby die Altis. Hier het die Hellanodíkai, die hoofbeoordelaars en skeidsregters van die Spele, gesit, waarna reeds hoër op verwys is.

Die Stadion van Olumpia van die 4de eeu vC is volledig oopgegrawe en gerestoureer,  met die gevolg dat ons met ware argeologiese sekerheid weer hierdie stadion kan betree na bykans 3 000 jaar. Toe die skuinswalle van hierdie stadion en die onmiddellike omgewing daarvan opgegrawe is, is allerlei realia wat ook daar begrawe was, gevind, soos offerandes vir die aanbidding van Zeus, klein standbeeldjies in brons, allerlei reliëfafbeeldings, terracotta-beeldjies, en ook ’n groep beeldjies van Zeús Ganumêdês (waar Ganumêdês die komieklike skinkertjie van Zeus was). En daar is ook ’n groot wapenvonds gemaak, met inskripsies daarop wat dit identifiseer, vandag die grootste van sy soort wat nog in die wêreld oorgebly het. Hieronder tel ’n Persiese helmhoed met die volgende inskripsie daarop: “Die Atheners wy hierdie helmhoed aan Zeus, nadat dit by die Medes afgeneem is.”

Die baan van Olumpia se Stadion was ongeveer 230 tree (210 m) lank, met ’n wydte van 35 tree (32 m). Dit is met ’n parapet geskei van die skuinswalle waarop die toeskouers gesit het. En al daarmee langs was daar ’n oop steenkanaal met verspreide waterpunte. Die wegspringblokke van klip vir die atlete was op afgemerkte strepe aangedui, en dit het ook riffels (groewe) in gehad sodat die atlete nie maklik kon gly nie. Die lengte van die renbaan het 600 tree (net meer as 548 m) gemeet, met lang treë soos die held Herakles, wat as die stigter van die Spele beskou was, dit self afgetree het. Dit het 20 wedloopbane gehad. Die klassieke resies was die stádion, dws net een volle lengte van die baan. Uit die vroegste geskrewe rekords van die Spele by Olumpia sien ons dat daar aanvanklik net één item op die program was vir die eerste 13 jaar van die Spele, naamlik hierdie stádion, en dat ’n kok by name Kóroubos die eerste wenner daarvan was. Later het die díaulos van twee baanlengtes bygekom, asook die dolichós (die “lang” resies van ongeveer 24 stádia, dws 3 myl, of 4,828 km). Die voor-Sokratiese natuurfilosoof Xenophanes van Kolophôn, wat omstreeks 540 vC na Elea in Magna Graecia in Suid-Italië verhuis het, en ’n man was wat die ontstaan en bestaan van die wêreld in terme van metafisiese abstraksies probeer verklaar het, het by geleentheid gesê dat ’n oorwinning deur die spoed van die mens op sy twee bene alle ander roem oortref. (Ons weet vandag dat ’n kakkerlak, vir sy grootte alleen, die vinnigste lewende wese op aarde is.) Mettertyd het die items op die program by die Spele ook jaar op jaar aangegroei. Die belangrikste daarvan was die volgende: (1) die péntathlon, bestaande uit voetresies, verspring, diskusgooi, spieswerp en stoei (pálê) in 708 vC, en boks (pugmachía, waar pugmê “vuis” aandui en máchê staan vir ’n “geveg”) in 688 vC; (2) die pankrátion (’n kombinasie van boks en stoei) in 648 vC; en (3) die hoplitódromos in 520 vC, wat altyd die laaste item op die program was waarin hopliete (swaargewapende soldate) in hulle volle monderings teen mekaar moes hardloop in die stádion en die díaulos, enkel- of dubbelbaanresies (wedlope), min of meer gelyk aan 400 en 800 meter onderskeidelik. Hoogspring was nooit ’n item op die Spele by Olumpia nie. Aanvanklik was alle kompetisies bedoel vir volwasse mans; later is daar ook kompetisies vir jong seuns in wedlope vanaf 632 vC by die Spele ingestel, en daarna vir die jonges ook boks (in 616 vC reeds) en die pankrátion (in 200 vC, met die 145ste Spele by Olumpia). Leonidas van die eiland Rhodos in die suidoostelike Mediterreen het op die Spele van Olumpia die rekord gehou vir die man wat die meeste eerste pryse (medaljes vandag) ooit verwerf het, naamlik 12 in alle naellope, van die stádion tot die hoplitódromos.

Die Oud-Griekse kalenderjare in Olumpiádes aangegee

.............
Die Spele by Olumpos het saamgeval met die aanbidding en fees van Zeus, of dalk vroeër ook selfs ter ere van Pelops. Dit was dus in die heel eerste instansie ’n godsdienstige fees. Dit is elke vierde jaar gehou, tussen 6 Augustus en 19 September.
..............

Die Spele by Olumpos het saamgeval met die aanbidding en fees van Zeus, of dalk vroeër ook selfs ter ere van Pelops. Dit was dus in die heel eerste instansie ’n godsdienstige fees. Dit is elke vierde jaar gehou, tussen 6 Augustus en 19 September. Terwyl die aangetekende rekords daarvan terug dateer na 776 vC, is dit moontlik dat die Spele toe al reeds vir ’n geruime tyd plaasgevind het. ’n Lys van die oorwinnaars (kampioene) by die Spele is daarna gereeld opgeteken tot die jaar 217 nC (dws dit is vir amper ’n volle 1 000 jaar volgehou) soos deurgegee deur Sextus Julius Africanus, ’n bekeerde Christen wat in Athene, Rome en Alexandrië studeer het, in wie se (verlore gegane) wêreldgeskiedenis (beginnende by die Skepping) dit opgeneem was, later ruim gebruik is deur die Christelike kerkhistorikus Eusebius van Caesarea (ongeveer 340–360 nC) in sy Chronica waar hierdie besonderhede gelukkig (weer) vir ons bewaar gebly het. Die begin van die Spele by Olumpia, waarna alle kampioene se name deeglik op rekord gehou is, is deur later skrywers gebruik as ’n vaste begindatum in die verlede vir die datering van alle historiese gebeure daarna. Die historikus Timaios van Sicilië (ongeveer 346–250 vC) wat vir 50 jaar in Athene sou gebly het), was die eerste wat hierdie wyse van datering gebruik het, waarin ’n Olumpiás (met -ádos by die genitief) telkens in opeenvolging ’n siklus van vier jaar aandui. Ander kandidate vir die invoering van Olimpiades vir datering sluit ook die historikus Ephoros van Kumê in Euboia (ongeveer 405–330 vC) in, wat weer ’n belangrike bron vir Diodorus Siculus en Strabo was, en met wie se werk die biograaf Polubios ook bekend was. Hierdie kalender was net vir amptelike daar, en nie vir alledaagse gebruik nie, waar die (verskillende) plaaslike kalenders van stadstate aan die orde van die dag was. Dit het groot chaos in geskiedskrywing tot gevolg gehad. Nou was daar egter ’n universele vaste punt in die geskiedenis waarvolgens alles gedateer kon word. Diodorus Siculus het hierdie dateringstelsel gebruik om ’n sonsverduistering in die 3de jaar van die 113de Olimpiade te plaas. Ons kan dit dus maklik uitwerk as 316 vC. So het Romeinse geleerdes (soos Marcus Terentius Varro, wat bekend gestaan het as “die geleerdste van alle Romeine”, en Cornelius Nepos, saam met Herodes Atticus) uitgewerk dat Rome in die 3de jaar van die 4de Olimpiade gestig was, dus in 753 vC, en is gebeurtenisse in Rome daarna ook gereeld gedateer as ab urbe condita  (AUC, “ná die stigting van die Stad/Rome”), of ook net annus urbis conditae (“die jaar van die stigting van die Stad/Rome”). Die hedendaagse Christelike jaartelling is eers in die 6de eeu nC ingevoer deur die Skithiese monnik Dionysius Exiguus, wat destyds deur pous Hormisdas gevra is om ’n nuwe lys vir die viering van Paasfees in die Romeinse Kerk op te stel, en dit toe laat begin het met die “vleeswording van die Here” (AD, Anno Domini, “in die jaar van ons Heer”), waar hy egter met minstens ses jaar uit was. Ons weet vandag vir seker dat Herodes die Grote, die koning van Judea, reeds in die jaar 4 vC gesterf het, terwyl hy destyds beveel het dat alle Joodse seuntjies onder twee jaar doodgemaak moes word, omdat die drie (volgens die geskenke wat gebring is) mágoi uit die Ooste (eintlik “sterrewiggelaars”, en nie “wyses” nie) in Bethlehem kom navraag gedoen het waar die “koning van die Jode” is wat pas gebore is. Só het die geboorte van Jesus toe die hedendaagse kalender laat begin wat die Olimpiese Spele-datums vervang het. Ons besit vandag nog kopieë op papirusfragmente van die name van Olimpiese kampioene van die 75ste tot 78ste, en die 81ste tot die 83ste Olimpiades, dws wat dateer uit onderskeidelik 480–468, en 456–448 vC. Sien hier onder andere EJ Bickerman, Chronology of the Ancient World (2de uitgawe, 2de druk, Ithaca, Cornell University, New Jersey, 1982).

Die oorsprong van die Spele by Olumpia

Die ou Grieke het in hul omvangryke mitologie die oorsprong van die meeste van hul gevestigde gebruike en tradisies gesoek. Daar is sonder meer aanvaar dat die Spele by Olumpia ’n geskenk uit die hand van hul gode was. Maar daar bestaan tog hier ook partikulêre tradisies daarnaas:

  1. Pausanias vertel ons van ’n ou mite waar die “daktiel” Herakles (nie die bekende held Herakles van Argos nie) en sy vier broers Paiônaios, Epimêdês, Iásios/Jásios en Ídas op Olumpia teen mekaar gehardloop het om die pasgebore baba Zeus te vermaak. Ons weet vandag dat Zeus op Kreta gebore moes gewees het (waar selfs die grot waarin hy gebore is, vandag bekend is). Dit klop met die verhaal van die Daktuloi Idaioi van die Berg Ida op Kreta aan wie die pasgebore Zeus toevertrou was. Hulle was dalk ook die kourêtes waarvan Hesiodos ons vertel, halfgode wat die gehuil van baba Zeus onhoorbaar gemaak het deur net hul wapens teen mekaar te klap. Daar is ’n inskripsie op moderne Palaikastro in Kreta gevind wat ’n himne aangee wat die kourêtes aan Zeús Koûros (die “jongeling Zeus”) gewy het.
  2. ’n Ander mite vind die oorsprong van die Spele van Olumpos weer in die verhaal van Pélops, na wie die Peloponnêsos (“[skier]eiland van Pelops”) ook vernoem is. Die verhaal van hierdie Pélops, die seun van Tántalos, het ek reeds hoër op vertel. Hy was ’n groot plaaslike held op die Peloponnees.
  3. Volgens die groot Griekse liriese digter Pindaros (gebore in 522 of 518 vC) was dit inderdaad die groot held Herakles, as die seun van Zeus, wat die Spele by Olumpia ingestel het om sy vader Zeus mee te eer pas nadat hy sy bekende Twaalf Take verrig het.
  4. ’n Verdere mite lui weer dat, nadat die eertydse Spele by Olumpia ter ere van Zeus opgehou het om verder beoefen te word, Lukourgos, die wetgewer van Sparta wat om raad by die Delphiese Orakel gaan aanklop het, saam met Iphítos van Elis, en Kleisthênês van Pisa daar naby, juis toe aangesê was dat die Spele weer ingestel moet word omdat daar van die gode afgedwaal is, en dat daar nou ’n plaag as straf kan ontstaan, of ’n oorlog sonder einde kan uitbreek.

Kort geskiedenis van die Spele by Olumpos

Die Spele by Olumpos het sekerlik plaasgevind voor die tot stand koming van die lys van oorwinnaars wat sedert 776 vC op rekord gehou was. Die moontlike mitologiese oorsprong daarvan het ek pas geskets. Dit moes sekerlik maar deur die held Herakles ingestel gewees het – wie se naam buitendien in twee bronne aangegee word, alhoewel in verskillende hoedanighede. Die assosiasie is ook histories te sterk.

Die Spele by Olumpos, het ons gesien, is in wese ’n religieuse instelling waarin die Oppergod Zeus verheerlik word. Op die middelste dag van die Spele is gereeld 100 osse aan Zeus geoffer. Sien hier EN Gardiner, Greek athletic sports and festivals (Londen, 1910) en Athletics of the Ancient World (Oxford, 1930), asook daarby Mark Golden, Sport and society in Ancient Greece (Cambridge, 1998). In die eerste 200 jaar van die Spele by Olumpos het dit eintlik net ’n streeksgebaseerde godsdienstige funksie gehad. Getuienis hiervan is dat die Peloponnesiërs die lyste van oorwinnaars by die Spele totaal oorheers het. Met die reëlmatige aanwas van die Griekse kolonies vanaf die middel van die 8ste eeu vC tot die eerste helfte van die 6de eeu vC is die Helleense kultuur nie alleen wêreldwyd rondom die Egeïese See uitgedra nie, maar het atlete uit die kolonies self ook na Olumpos gekom om mee te ding. Pausanias vertel dat Cirene (Kurênê) in Noord-Afrika in ongeveer 630 vC deur setlaars uit Thêra (tans Santorini) beset is met Spartaanse bystand. Die ondersteuning wat Sparta toe gegee het, was om hulle drie keer die Olimpiese kampioen Chiônis te “leen”.

Die uitgangspunt van die Spele van Olumpia was ook polities van aard. Gedurende hierdie Spele het ’n wapenstilstand (ek-echeiría, letterlik “a hands-off”, cheír synde “hand”) gegeld. Drie hardlopers, wat bekend was as spondephóroi, “plengofferdraers”, wat ’n voorstel gebring het vir ’n wapenstilstand of verdrag, spondê, is vanaf Elis uitgestuur na deelnemende state om die Spele aan te kondig, en nou eers die wapens neer te lê. Tydens die periode wat die Spele geduur het (6 Augustus tot 19 September van daardie jaar) was leërs daartoe verbied om Olumpia binne te kom. Alle plaaslike regstappe moet ook eers gestaak word, en die doodstraf was ook tydens hierdie periode verbied. Dit was dan ook niks anders as ’n periode (venster) van besinning en afkoeling nie. Die geskiedskrywer Thukoudides vertel van ’n geval waar die Spartane verbied was om aan die Spele deel te neem, en dat hulle toe ook hierdie verbod geskend het deur Lêpreôn (in Elis) gedurende die afgekondigde ekecheiría aan te val. Hiervoor is hulle ’n boete van 2 000 mnaî opgelê, dws 2 000 X 100 drachmaí (in ’n tyd toe die dagloon van ’n arbeider maar twee drachmaí was). Die Spartane het egter onskuldig gepleit deur te sê dat die wapenstilstand toe nog nie van krag was nie.

Gedurende die Peloponnesiese Oorlog van 27 jaar (431–404 vC) was dit moeilik om altyd hierdie verdrag na te kom, veral tussen Sparta en Athene, hoewel die ander onafhanklike stadstate ook maar op een of ander wyse altyd betrokke was. Hierdie wapenstilstande is egter ook vir propaganda gebruik, en dit het dikwels tot nuwe alliansies gelei, en ook die geleentheid gebied om aan die gode te offer vir welslae in militêre botsings. Die Spele is ook as ’n politieke hefboom gebruik deur die sterkere state om hul oorheersing oor mededingende kleiner state te behou.

Wie is almal tot die Spele by Olumpia toegelaat? Dit was alleenlik vir vrygebore Hellene daar. Geen slawe, oftewel Bárbaroi, dws nie-Griekssprekendes (wat vir die Griekse oor net ge-“babar” het, maar veral nie op Griekse wyse geleef het nie). Nie alle getroude vroue is ook nie by die Spele toegelaat nie, maar jong meisies wel. Wat die rasionaal daaragter kon ek nog nie uitvind nie, soos ek reeds hoër op aangedui het. Toe koning Alexander van Macedonië aan die Spele by Olumpia wou kom deelneem, moes hy eers sy Griekse/Helleense afkoms bewys. Pausanias vertel ons ook van die geval van die atleet Sotadês wat, toe hy by die 99ste Spele die díaulos (lang naelloop) gewen het, gesê het dat hy van Kreta af gekom het (waar Grieks gepraat is). By die eersvolgende Spele het hy egter gesê dat hy nou Efese in Klein-Asië verteenwoordig. Vir hierdie optrede het die Kretane hom summier verban. ’n Interessante geval was dié van Arrhichiôn van Phigaleia uit suidwestelike Arkadië op die Peloponnees wat aan ’n pankrátion (’n mengsel van stoei en boks) deelgeneem het. Hy het, waarskynlik weens ooreising, gesterf op die oomblik dat sy opponent toegegee het. Arrhichiôn is toe postuum as wenner verklaar.

By die Spele van Olumpia het slegs die wenner in elke afdeling getel, en dié is bekroon met ’n krans van louriertakke. Tweede en derde plekke het nie, soos by die hedendaagse Olimpiese Spele, met silwer- en bronsmedaljes, bestaan nie. Daar kon maar net één wenner wees, en dit was immers ook die doel van elke atleet om in sy item eerste te kom, dit te wen. As ’n atleet die eerste prys verloor het, het hy dit verloor. Daar kon in elke item maar een wenner wees. Dié wat verloor het, het geen troosprys gekry nie.

Kuns en kultuur het ook sy plek by die Spele by Olumpos gehad. Beeldhouers, digters, skilders en ander kunstenaars het ook by Olumpos kom saamtrek as dit die jaar van die Spele was. Hulle het hul werk kom vertoon, en kunskompetisies is ook gereël. Digters is hier die opdrag gegee om oorwinningsliedere (epiníkia) vir atlete te skryf, ’n terrein waarop veral Pindaros van Thebe so uitgeblink het. Toe Alexander die Grote se soldate Thebe in 335 vC ingeneem het, het die Kongres by Korinthe besluit dat die stad met die grond gelyk gemaak moet word. Alexander het egter ’n spesiale bevel uitgereik dat die huis van Pindaros (net daarbuite) nie enige skade aangedoen mag word nie. Die Spele was ook die plek waar beroemde standbeeldjies soos die Duskobólos (“Diskusgooier”) die eerste gesien kon gewees het. Hierdie merkwaardige skepping deur die bronsgieter Múrôn, ’n tydgenoot van Pheidias, is teen 460/450 vC vervaardig. Die simmetrie, ritme en suiwer energie wat in hierdie beeldjie van brons deur die kunstenaar vasgevang is, maak dit ’n unieke meesterstuk.

In die loop van die 3de eeu vC moes ’n reeks aardbewings groot skade by Olumpos aangerig het. In 267 vC het plunderende stamme die heiligdom by Olumpos van sy skatte probeer beroof. Die ommuring van Olumpia is waarskynlik daarop versterk.

Nadat Rome teen die middel van die 2de eeu vC Griekeland ingeneem het, is die Spele by Olumpia voortgesit. Hoewel daar toe nog meer bouwerke op Olumpia aangebring is deur die Romeine, het die aard en standaard van die Spele gou begin afgeneem. In 67 nC het die dekadente keiser Nero byvoorbeeld daarop aangedwing om aan die strydwa-resies in die hippodrómos deel te neem – en ’n groot gek van homself gemaak: Hy het halfpad van sy wa afgeval, maar homself nogtans die oorwinnaar verklaar op grond van die feit dat hy sóú gewen het as hy nie van sy wa afgeval het nie.

In 393 nC moes die onvermydelike kom toe die oostelike keiser Theososios I (van Konstantinopel) die Spele by Olumpia as profaan-verbode verklaar het. Hiermee is ’n   tradisie van amper 12 eeue finaal gesnoer. Daar is argeologiese bewyse dat die Spele tog nog daar op ’n manier in die geheim voortgesit is, selfs met ondersteuning van Christene, tot met die koms van keiser Justinianus in die 6de eeu nC. Hierdie Justinianus (527–65 nC), wat verantwoordelik was vir die kodifisering van die Romeinse Wet, het die groot Sint Sophia-kerk in Konstantinopel laat bou, en het ook die Atheense filosoweskole in 529 nC finaal gesluit verklaar. Die Donker Middeleeue, waarin blinde geloof (pístis) alle vorme van die rede (noûs) vir 10 eeue lank verdryf het, en só die DNS van die mens van die tyd stelselmatig laat muteer het, was op hande: van 476 nC, met die val van die westelike Romeinse Ryk, tot 1492 nC, die ontdekking van die Amerikas deur Columbus, en die koms van ’n nuwe wêreld.

Die Tempel van Zeus is waarskynlik eers teen omstreeks 426 nC finaal vernietig toe die Christelike kerk en godsdiens die bordjies verhang het, en toe in plaas van profane keisers soos Nero, en Domitianus, cum suis, wat die Christenvervolging genadeloos uitgevoer het, dit nou die bekeerde keisers was wat weer die heidene genadeloos vervolg het. ’n Voorbeeld van ’n groot historiese paradoks op sy allerbeste.

Literatuuraangawe

Stephen G Miller, Ancient Greek Athletics (Yale, 2006); David C Young, A brief history of the Olympic Games (New York, 2008); Tony Perrottet, The naked Olympics: the true story of the Ancient Games (Londen, 2004); MI Finley en HW Pleket, The Olympic Games: the first thousand years (Courier Corporation, 2012); András Patay-Horváth, The origins of the Olympic Games (Boedapest, 2015); Wendy J Raschke, The archaeology of the Olympics: the Olympics and other festivals in Antiquity (Wisconsin, 1988); Sofie Remeijsen, The end of Greek athletics in Late Antiquity (Cambridge, 2015); Ulrich Sinn, Olympia: cult, sport, and ancient festival (Princeton, 2000); Panos Valavanis, Games and sancturies in Ancient Greece: Olympia, Delphi, Isthmia, Nemea, Athens (Los Angeles, 2004).

Die moderne herlewing van die Olimpiese Spele

Toe die moderne Grieke hul vaderland herwin het uit die kloue van die Ottomaanse Turke met die groot Griekse Vryheidsoorlog van 1821–29/31 onder die slagspreuk “Thánatos é/i Eleuthería” (“Die Dood of Oorwinning”), het hulle na bykans ’n halwe millennium van onderdrukking nogeens ’n Anabíôsis (“Wedergeboorte”) ondergaan soos in die tye van Homerus (literêr met sy twee groot eposse) en Sokrates (met die herstelling van die werking van die menslike noûs, oftewel rede). Die moderne Grieke wou hulle verlede herleef – hoewel hulle sekerlik besef het dat hulle dit nie weer maklik sou kon ewenaar nie. En een ideaal daarvan was om die Spele van ou Olumpia te laat herleef. Die skatryk skeepsmagnaat, Evangelis Zappas, het in 1856 ’n brief aan koning Otto van Griekeland geskryf waarin hy sy fortuin beloof het om die Spele van Olumpos weer ingestel te kry. Hy sou, saam met ander borge, sorg vir ’n nuwe pan-Helleense Stadion waarin dit kan plaasvind. Twee jaar later, in 1858,  het die “Zappas Spele” dan ook gekom wat oor drie Sondae gehou is, op model van die eertydse Spele van Olumpia. Griekssprekendes van oor die hele wêreld het daarvoor in Athene opgedaag. Die organisasie daarvoor was egter in hierdie stadium nog te swak. Die Koningin van Griekeland het dSpele geopen. Zappas sterf sewe jaar later in 1865.

Die eerste goedgeorganiseerde Spele van moderne Griekeland het egter in 1898 in Athene plaasgevind. En die man wat hoofsaaklik vir hierdie herlewing verantwoordelik was, was die Fransman Pierre de Coubertin (1896–1925). Een van die belangrikste items by die Spele was die Marathon (vandag ’n standaardafstand van 42,195 km) wat ingevoer is, en wel om ’n goeie historiese rede. Hierdie langafstandwedloop is vernoem na die plek Mărăthôn (“Vinkelveld”) in Oos-Attika, waar die Atheners in Augustus–September 490 vC die Perse van Darius verslaan het wat probeer het om die Uud-Griekse wêreld oor te neem. Dit het vir benoude dae in Athene gesorg. Die boodskap van oorwinning is toe teen die grootste spoed moontlik na Athene gebring deur ene Pheidippidês, wat met sy aankoms in die stad net “nenikêkamen” (“Ons het gewen”) kon uitroep voordat hy van uitputting dood neergeslaan het. Hierdie Atheense hardloper, Pheidippides, was ook kort daarvóór na Sparta gestuur om die Grieke by Marathon dringend te kom help (sien Herodotus 6.105-6) – maar hulle het toe, helaas, te lank gedraal met hul optrede. Daar word vertel dat Pheidippides die afstand tussen Athene en Sparta, ’n hele 150 myl (241,4 km), in slegs twee dae afgelê het. By die eerste amptelike Olimpiese Spele in Athene in 1898 het Spuridôn Louis, ’n waterdraer van beroep, die nuwe, standaardmarathon gewen nadat hy dit in 2 uur, 58 minute en 50 sekondes voltooi het.

Pierre de Coubertain (1 Januarie 1863 – 2 September 1937) was van aristokratiese afkoms, en het veral belanggestel in (en ook geskryf oor) die opvoeding, veral liggaamlike opvoeding van die kind op skool (vgl mens sana in corpore sano, Juvenalis 10.356) en die geskiedenis van die verlede. Hy het selfs gaan kontak maak met Thomas Arnold van Rugby in Warwickshire, Engeland (die skrywer van Tom Brown’s school days) waar die moderne spel rugby ontstaan het toe ’n seun, William Web Ellis, tydens ’n sokkerwedstryd in 1823 die bal met sy hande gevang en daarmee na die opponente se doellyn genael het in plaas daarvan om dit verder aan te skop – só lui die storie wat opgeduik het eers ná Web Ellis (wat later predikant geword het) se dood op 24 Januarie 1872. ’n Herdenkingstevir hom by sy ou skool in Rugby lui vandag: “This stone commemorates the exploits of William Web Ellis who, with a fine disregard for the rules of Football as played in his time, first took the ball in his arms and ran with it, thus originating the distictive feature of the rugby Game, AD 1823.” Die spel rugby is dalk vandag vinnig besig om óók ’n Olimpiese sport te word. Selfs op ou Olumpia is nuwe sportsoorte van tyd tot tyd ingebring.

Coubertin het die Oud-Griekse beskawing bewonder en hom dit laat romantiseer. Sy geïdealiseerde visie van ou Hellas het by hom die idee laat posvat om, ook suiwer opvoedkundig, die Spele van Olumpos universeel te laat herleef. Immers, dit bring mense bymekaar, selfs in tye van oorlog. Maar só het Adolf Hitler van Nazi-Duitsland, desondanks, ook in sy verwelkomingstoespraak in Berlyn gesê toe die 11de moderne Olimpiese Spele in 1936 daar aangebied is onder die motto “Ich rufe die Jungend der Welt!” en 25 000 duiwe vir vrede oor die Stadion losgelaat is. Hierdie spele was die eerste Olimpiese Spele wat gebeeldsend is, en die Olimpiese vlam daarvoor is in Olumpia self op die Peloponnees aangesteek, en is deur aflosspanne na Berlyn oorgedraf. In Berlyn het daar toe 3 963 atlete uit 43 nasies deelgeneem.

Pierre de Coubertain se lewensmotto was: “L’ important dans la vie ce n’est point le triomphe, mais le combat, l’essentiel ce ne’est pas d’avoir vaincu mais de s’être bien battu.” Dit geld natuurlik net vir amateursport.

Die kop en hart van Evangelis Zappas is op verskillende plekke in ou Olumpos se ruïnes weggebêre, en vir Pierre de Coubertin is daar ook na sy dood in 1937 ’n monument by Olumpos opgerig.

  • Die tweede en finale aflewering van die teks sal weldra ook op LitNet verskyn.

Lees ook:

Aankondiging: Wenners van die SA Akademiepryse 2023

Zeús, Oppergod van die antieke Griekse panteon, en die rare boodskap wat hy vir ons vandag nog inhou: deel 1

Zeús, Oppergod van die antieke Griekse panteon, en die rare boodskap wat hy vir ons vandag nog inhou: deel 2

Zeús, Oppergod van die antieke Griekse panteon, en die rare boodskap wat hy vir ons vandag nog inhou: deel 3

Zeús, Oppergod van die antieke Griekse panteon, en die rare boodskap wat hy vir ons vandag nog inhou: deel 4

Wie was Homerus, en wanneer het hy geleef en geskryf?

’n Drieduisendjaaroue papirusargief in die woestyn van Egipte ontdek

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top