Wie was Homerus, en wanneer het hy geleef en geskryf?

  • 0

Hierdie opstel gee agtergrond oor Homerus, die vader, die skepper, en die grondlegger van die Westerse letterkunde.

Fotobron: Wikipedia

Die Westerse letterkunde begin met Homerus (die Latynse vorm vir die Griekse Hómêros) se twee grootse eposse, die Ilias (15 693 daktiliese heksameterversreëls lank) en die Odusseia (11 670 daktiliese heksameterversreëls lank). Veral die Ilias is in die verre Oudheid deur die Grieke beskou as hul Bybel wat die laaste sê gehad het in mitologies-historiese kernfeite én moreel-etiese kwessies – net soos dit die geval is (was) met die Hebreeuse Ou Testament vir die Jode, die vier Vedas in Sanskrit (met hul addenda) vir die Hindoeïsme, en die Avesta (saam met sy addenda) in oud-Persies vir die Persiese Zoroastrianisme.

Dit is niks minder nie as ’n grenslose wonderwerk dat ons hierdie twee eposse van Homerus, ’n hele 30 eeue nadat dit op skrif gestel is, vandag nog feitlik ongeskonde in sy geheel kan lees – en daarby ook in Afrikaans, danksy die onverdrote ywer en vertalingsdrif, oor 14 skeppende jaar heen, van Johannes Petrus Janse van Rensburg, eertyds professor in Grieks aan die Universiteit Stellenbosch (1947–1976), wat daarmee hierdie twee formidabele literêre monumente ook vir óns verafrikaans het: die oudste en mees argaïese stuk Westerse letterkunde wat nou ook gemaklik te lees is in die jongste Westerse taal. Wat in Afrikaans egter nog hier heel dringend oorbly, is om die volle verhaal te vertel ágter die skepping van hierdie twee magistrale epiese werke, en ook ’n verslag te lewer van die oorlewering en studie daarvan oor 30 lange eeue heen. Dit is hoog tyd dat die ontstaan van hierdie twee grootse eposse van Homerus, en die reusevertalingsarbeid van Van Rensburg, nou in die volle perspektief geplaas word wat dit toekom. En dat ook dít ook in Afrikaans gedoen moet word. Die invloed van Homerus op die oud-Griekse gees en genie loop diep en wyd. Die Umwelt van Homerus lê in ’n heroïese tydsgewrig van sy eie waar sy Achaïese helde (die Achaioí, Achajers) en gode nog op dieselfde vlak wisselend-gelyk kon kommunikeer.

In die laat vyftigerjare van die vorige eeu moes ek as nagraadse student byna die helfte van Homerus se Ilias in sy oer-Grieks vir eksaminering lees en bestudeer onder leiding van die einste JPJ van Rensburg. Ek het dit toe as ietwat oordrewe gevind, maar verstaan vandag dat Van Rensburg destyds, midde-in die periode van sy vertaling daarvan, net die ene Homerus was! Selfs die klippe moes dit uitroep dat ek dit alles in my moedertaal moes ervaar. Ek besef nou terdeë watter unieke geleentheid en groot voorreg dit was om aan Homerus se karakters en gode op sy epies-Griekse stelwyse deur juis Van Rensburg voorgestel te kon gewees het. Dit was nie maar net nóg ’n kursus in sy honneursleerplan nie.

Om deel te hê aan die studie van Homerus se twee groot eposse is om in te skakel met die heel oudste literêre akademiese dissipline in die Europese Weste. Letterlik duisende vakkundige skrywes, teorieë, resensies, dissertasies, verhandelinge, monografieë, proefskrifte en allerlei ander ontledings het oor al die eeue heen rondom Homerus en sy eposse die lig gesien – waarvan talle deur die genadelose tande van die tyd (veral uit die antieke Oudheid self) jammerlik genoeg verorber is. Baie hiervan het vandag helaas vir ons onherroeplik verlore gegaan het. Maar die verhaal van die Griekse outeur en skrywer Homerus sal seker nooit, na al die eeue, klaar vertel kan word nie.

In hierdie opstel wil ek begin om die eeue oue vraag te probeer beantwoord wie hierdie Homerus werklik was, en wanneer en waar hy geleef en geskryf het, asook of hy die outeur van ander Homerica was wat onder sy naam ook vir ons behoue gebly het. Om dit te doen, moet ek egter hier eers direk met die deur in die huis val met die sogenaamde Homeriese vraagstuk/probleem, naamlik die sonderlinge gegewe dat die antieke Griekse letterkunde met hierdie twee literêre meesterstukke soos die Ilias en die Odusseia begin het. Ons sou dit eerder aan die einde van ’n hoogbloei in ’n volk se literêre geskiedenis verwag het – beslis nie aan die begin nie.

Ek wil heel eerste saaklike verslag lewer van die ontsaglike en omvangryke Homeriese navorsing deur die eeue heen. Immers maak die Ilias en die Odusseia van Homerus saam ’n kunswerk van oor die 27 000 versreëls (daktiliese heksameters) uit wat nie lukraak in die komponering daarvan beplan sou kon gewees het nie. Daarna wil ek wil ook probeer om die historiese milieu waarin hierdie eposse van Homerus ontstaan en afgespeel het, naamlik tydens die Achaïes-Mukeense tydvak in die laat Bronsperiode, te rekonstrueer om só die wêreld van Homerus te ontbloot. Verder wil ek dan ook probeer om die historiese ondergrond van die Trojaanse Oorlog van die 12de eeu vC (tradisioneel 1193–1184 vC), waarop die stofgegewe van hierdie eposse gebaseer is, te verken, en die vraag te vra in hoeverre Homerus se verhaal van hierdie oorlog tussen die ou Achaioí, oftewel Griekssprekende Achajers van die Peloponnees, en die Trojane in noordwestelike Klein-Asië (vandag deel van Turkye) enige historisiteit inhou, en of dit blote heroïese fantasie is soos sommige wil beweer. Dit sal ons dan bring by die kardinale rol wat die argeologie in die raamwerk van hierdie verhaal gespeel het – veral in die lig van Heinrich Schliemann se verbysterende opgrawings aan die einde van die 19de eeu by Mukene op die Peloponnees en by Troje in Klein-Asië, en ook sir Arthur Evans se (min of meer) kontemporêre opgrawings op Kreta. Daarna wil ek die proses skets van die eertydse orale transmissie van hierdie eposse in hul preliterêre fase. Hierop wil ek ook die epos as eerste Westerse literêre genre, oftewel literatuursoort, definieer vanuit ’n Homeriese gesigspunt. Dan sal ’n afsonderlike bespreking volg van die tema, bou en struktuur van die Ilias en die Odusseia, om uiteindelik die belles lettres van Homerus én sy eiesoortige kuns in ’n breër konteks te verduidelik.

Ook die sonderlinge aard van Homerus se tydlose karakterbeelding sal uitgespel word om te bewys dat die innerlike mens deur al hierdie eeue heen nooit werklik verander het nie.

Hierna sal ek die rol ontleed wat die Olimpiese gode (eintlik Olumpiese < die Berg Ólumpos wat hulle goddelike setel was in Thessalië, Noord-Griekeland) by Homerus gespeel het, waarin die onsterflike goddelike wesens daagliks in noue interaksie – byna op dieselfde vlak as dié van Homerus se aardse helde – opgetree het. Dan sal ek die invloed nagaan wat Homerus se eposse gehad het op die lewe en denke, die opvoeding, filosofie en godsdiens van die alledaagse Griek van die klassieke Oudheid. Daarna wil ek die louter romantiek en inherente dramatiek van Homerus se eposse blootlê, asook die veelkantige allegoriese boodskappe wat sy werke dra, probeer interpreteer. Ten slotte sal ek ook iets te sê hê oor Homerus se preklassieke, argaïese oer-Grieks – iets wat ek reeds vroeg aan eie lyf (lees: intellek) moes ervaar. Daar sit ’n matelose magiese grootskoonheid agter die poëtiese digting van Homerus, ons heel oudste digter. Dit maak ’n sublieme, betowerende ervaring uit waarvan so baie (selfs onder die voorste literati van ons dag) soms so bitter min weet. Hierdie verlede gaan ons herbeleef asof dit gister gebeur het. En die 3 000 jaar tussenin sal wegval.

Wanneer is die Ilias en die Odusseia op skrif gestel?

Oor presies wanneer Homerus geleef en geskryf het, bestaan daar groot meningsverskil. Dit kon tussen die 6de en 10de eeu vC gewees het. Soos dit die geval is met die meeste oud-Griekse skrywers voor die Atheense treurspeldigter Aischulos (525–456 vC), bestaan daar groot onsekerheid ook oor die datering van Homerus. Die afloop van die Trojaanse Oorlog, tradisioneel gestel teen die einde van die 12de eeu vC, vorm natuurlik die absolute terminus post quem vir ons datering van Homerus. Maar wat sê die ou Griekse skrywers self die datering van húl Homerus, die Digter, wat vir daardie haas onverklaarbaar grootse beginpunt van hulle eie letterkunde verantwoordelik was?

Die getuienis van Herodotus

Herodotus van Halikarnassos in Karië, Klein-Asië (ongeveer 480–425 vC), die vader van die oud-Griekse geskiedskrywing (soos die groot Romeinse skrywer Cicero hom by geleentheid genoem het), wat ’n uitmuntende verteller van stories en verhale uit die verlede was (hoewel hy ’n meer kritiese logopoiós was as al sy ander tydgenote), en ook die man was wat die Grieks-Persiese Oorloë van 490–480/79 vC vir ons beskryf het, plaas Homerus 400 jaar voor sy eie optrede: vgl hier sy “Geskiedenis”, 2.53 – waarvan die nege boekdele JPJ van Rensburg óók in ’n volledig-omvattende Afrikaanse vertaling van 505 bladsye weergegee het onder die titel Die Ooste teen die Weste (Hans Kirsten Uitgewery, Pretoria, 1994). Herodotus plaas Homerus dus teen ongeveer 850 vC, en hierin word hy blykbaar stilswyend gesteun deur die ander, veel meer wetenskaplike, oud-Griekse historikus wat kontemporêr die groot Peloponnesiese Oorlog tussen Sparta en Athene van 431–404 vC beskryf het, naamlik Thoukudides (ongeveer 460–400 vC), ’n Athener, wat waarskynlik afkomstig was uit Thracië (sien by sy “Geskiedenis”, 1.33).

Die getuienis van Heketaios

Heketaios van Milete (Fotobron: Wikipedia)

Daar was egter ook ander daterings vir Homerus in die omloop in die Griekse Oudheid self. Heketaios van Milete, nog ’n oud-Griekse kroniekskrywer en geograaf (as die eintlike vroegste Ioniese logopoiós), met ’n floreat teen 500 vC, van wie se “Geskiedenis” Herodotus self ook gebruik gemaak het (vgl. Eusebius, Praeparatio Evangelica 10.3), plaas Homerus weer in die 5de eeu vC, soos ons kan aflei uit die ongeveer 300 fragmente van hom wat bewaar gebly het uit hoofsaaklik Stephanos van Bizantium se aanhalings. Die meegaande “wêreldkaart” van Stephanos by sy Príodos Gês, oftewel “Omloop van die Aarde” (wat die aardryk rondom die Middellandse See, oftewel Egeïese See, afgeteken het) – hoewel Herodotus 4.26 die akkuraatheid daarvan bevraagteken het – rus, jammerlik genoeg, vandag saam met hom iewers apart in ’n ongemerkte graf in Klein-Asië. Heketaios was egter oortuig van sy feite: “Ek skryf alleen in wat ek glo die waarheid is, want die Grieke vertel baie stories wat, soos dit vir my lyk, totaal en al absurd is” (G Nenci, Hecataei Milesii Fragmenta, 1954).

Die getuienis van Eratosthenes

Eratosthenes van Cirene (met sy floreat in die tweede helfte van die 3de eeu vC), die man wat Zenodotos as hoof van die groot Alexandrynse Biblioteek in Noord-Afrika opgevolg het, en die eerste man was wat, met ’n vindingryke geografies-matematiese metode, die omtrek van die aarde feitlik akkuraat bepaal het, het weer gemeen dat Homerus kontemporêr gestel moet word met die gebeure wat hy in sy eposse beskryf, maw dat hy ook aan die einde van die 12de eeu vC geleef en geskryf het.

Die getuienis van Theopompos

Theopompos van Chios (gebore in ongeveer 378 vC, juis op die eiland aan die Ioniese kus van Klein-Asië van waar Homerus volgens een tradisie sou gekom het) het hierdie Homerus ’n tydgenoot gemaak van die Lidiese koning Guges (vgl by Herodotus 1.8-12; en sien ook Plato se Respublica 2.359d), asook mede ’n tydgenoot van Archilochos van Paros, die vader van die oud-Griekse jambiese digter (vir wie Eustathius, aartsbiskop van Thessalonika, later die “skerpioen-getongde” sou noem – die moderne Alexander Pope, wat ook bekend was as “The wasp of Wimbledon”). Hulle het Homerus dus in die 7de eeu vC geplaas. Sien hier die Sofis Theopompos se (Oxyrhynchus) Hellenica, uitgegee in 1909 deur Eduard Meyer, ’n papirusvonds uit Egipte waarin hy merkwaardige hoogkritiese uitsprake maak, soos WR Connor aantoon in sy Theopompus and Fifth-century Athens van 1968.

Die getuienis van Pausanias

Die oud-Griekse reisbeskrywer Pausanias van Lidië (met sy floreat teen 150 nC) sê in sy “Reisgids van Hellas” (Periêgêsis tês Helládos, 9.30.3) dat alhoewel hy die datering van Homerus en Hesiodos (wat as ’n tydgenoot van Homerus ook een van die heel oudste Griekse digters was wat óók hoofsaaklik in Ionies geskryf het, net soos Homerus) sorgvuldig nagegaan het, hy sy gevolgtrekking liefs ongesê vir homself hou, want hy ken die puntenerigheid van die geleerdes van sy dag maar te goed. By Hesiodos het dit net om feite gegaan met sy beskrywing van die oud-Griekse, niemitologiese plaaslewe van sy tyd in sy “Werke en dae” [Érga kaì Hêmérai], ’n gedig van 828 heksmeterversreëls, waarin hy vele wyshede (gnômai) kwytraak, en ook die noodsaak uitspel vir geregtigheid wat daar moet wees in ’n era van tirannie. Die Skotse filoloog en etnoloog James George Frazer, wat die religie gesien het as ’n fase tussen die magie en wetenskap, het die skriftelike nalatenskap van Pausanias baie hoog aangeslaan (sien sy Pausanias’ Description of Greece, met teks, vertaling en kommentaar in 6 volumes, 1898). Die uitspraak van Pausanias bewys duidelik dat daar in die Oudheid self reeds groot onsekerheid bestaan het oor die datering van Homerus.

Homerus vergelyk met die datering van Hesiodos

Hesiodos (Fotobron: Wikipedia)

(pas hier bo genoem) wat ook die skrywer was van die bekende antieke Theogonía (“Die afstammeling/genealogie van die Gode”), is inderdaad ook een van die heel oudste Griekse digters van wie ons vandag weet. Pausanias meen dat hy ’n pseudonieme epiese nabootser van Homerus was. Die meeste kritici uit die Oudheid self, en ook vandag nog, meen egter dat sy werke outentiek op sy naam staan. Sy Theogonía is ’n uiters belangrike werk om die mitologiese geskiedenis van die oud-Griekse godedom te kan verstaan. Ek moet dit ook nou baie kortliks skets om enige sin daarvan te maak.

Alles het begin by ’n primordiale Chaos, gevolg deur die heerskappy van Ouranos en Gê (“Hemel” en “Aarde”) wie se kinders die Titane, die Siklope, en ander reusewesens was (vgl hier die něphilim, “reuse”, van die Hebreeuse Ou Testament by Genesis 6:4 en Numiri 13:33). Om hier egter kort te gaan: Kronos het sy vader, Ouranos, uiteindelik gemutileer deur ontmanning, en Aphrodite (Aphrodítê), die liefdesgodin van skoonheid en sinnelike genot, is toe uit sy saad gebore wat in die proses losgelaat is in die aphrós (“seeskuim”), tradisioneel waarskynlik net buite Ciprus, en sy word van daar “Aphrodite” genoem. Hierop het ’n Goue Era van vrede (Pax Divina) gevolg. Omdat Kronos egter deur ’n orakel gewaarsku was dat een van sy seuns hom eendag as Oppergod sou onttroon, het hy al sy kinders wat by sy vrou Rhea gebore is, self ingesluk. Zeus, die jongste kind (by Homerus is hy die oudste) is egter gered deur ’n slimstreek van sy moeder Rhea wat Kronos ’n klip laat insluk het ipv die pasgebore baba. Daarna het die volgroeide Zeus toe ’n lang oorlog teen Kronos gevoer, bygestaan deur die Siklope. Vanaf die Berg Olumpos in Noord-Griekeland het Zeus met sy donderende bliksemslae almal verslaan en in Tartaros, die diepste Hel, gaan werp. Hierdie mite is een van groot religieuse belang en kan gekoppel word aan die eerste Griekse migrasie na die Balkan teen die einde van die 3de millennium vC om die inheemse godsdiens van die oerinwoners van Griekeland, naamlik die Pelasgoí (“Pelasgers”, oftewel “Seevolk”) van die Balkan wat hulle daar aangetref het, te neutraliseer. Vir hierdie krities wydlopige kosmogeniese mite kan Andrew Lang se Custom and myth van 1884 nog steeds met gesag geraadpleeg word. Die ingeslukte kinders van Kronos is uiteindelik almal deur ’n braakmiddel teruggebring uit die maag van hul vader Zeus en op die Berg Olumpos geplaas. Hulle was, behalwe Zeus, Hestia, Demeter, Hera, Poseidon en Hades (Rhea was die moeder van hulle almal by Kronos).

Hesiodos was in die Oudheid dikwels gekoppel aan en vergelyk met Homerus. Daar was in die klassieke Oudheid reeds gestry oor wie van Homerus of Hesiodos die eerste was (vgl “Xenophanes” by Aulus Gellius 3.11.2; Herodotus 2.53; en Euphoros, fragment 101). Hesiodos sou selfs met Homerus in die digkuns meegeding het, volgens die Sofis Alkidamas (sien sy Certamen Homeri et Hesiodi, “Wedstryd tussen Homerus en Hesiodos”). Hesiodos vertel ons self dat hy ’n skaapwagter was op die Berg Helikon in Beosië waar hy gehoor het dat die Muses hom aanspreek om te gaan sing van die gode (Theogonía 22–35 – ’n veelbesproke passasie in die oud-Griekse letterkunde). Pausanias, in sy “Reisgids van Hellas" (9.31.4), vertel ons dat die Beosiërs op sy dag (die tweede helfte van die 2de eeu nC) aan hom (waarskynlik by die Berg Helikon, waarmee hy altyd geassosieer was) ’n oeroue loodrol gewys het waarop die werke van Hesiodos ingegraveer was. As dit so is, dan is dit getuienis van die vroegste bestaan van een van die heel oudste Griekse tekste waarna hier verwys word. Die Pérsai van Timotheos wat in 1902 deur Ludwig Borchardt te Abusir in Egipte gevind is, en paleografies uit die 4de eeu vC te dateer is, en daarna na Berlyn oorgebring is, is egter tot dusver die oudste Griekse skrifstuk per se in ons besit (sien my Rondom die antieke Griekse boek, UUB, Stellenbosch, bl 112 vervolgens). Terwyl Timotheos se Pérsai in ’n opvallende lapidêre styl in losstaande Majuskels geskryf is, word Hesiodos se werke weer gekenmerk deur die inkonsekwente gebruik van die dígamma (f vir ’n w-klank in Lineêr-B) in sy prosodie, net soos by Homerus, ’n verskynsel wat Richard Bentley (1662–1742) van Trinity College op Cambridge die eerste was om op te wys. Hierdie verskynsel is daarna deeglik ondersoek deur AV Pause (De Digammo Questiones, Stockholm, 1897).

Ek kan hier net ten slotte opmerk dat die Grieke van die laat 5de eeu vC, dws die eintlike klassieke tydvak van Perikles van Athene, Orpheús, Mousaîos, Hêsíodos, en Homerus (en wel in hierdie historiese volgorde) as hul oudste digters gereken het. Orpheús was beslis ’n “legendariese” voor-Homeriese digter. Hy was waarskynlik ’n Thraciër en volgeling van die wyngod Dionusos. Hy kon so mooi op die lúra (lier) speel dat selfs die wilde diere op die oop die veld in verrukking gebring is deur sy musiek. Dit was hy wat met die skone Eurudíkê getrou het, wat toe pas daarna aan ’n giftige slangbyt dood is, en wat Orpheús toe besluit het om weer in die Onderwêreld (Hades) te gaan haal, waar hy Pesephónê toe net so daar met sy mooi musiek bekoor het dat sy weer saam met hom na die Bowêreld kon terugkeer, op voorwaarde dat hy nie op pad na haar sal omkyk nie. Dit het egter gebeur, en hy het haar vir goed verloor, en Eurudíkê moes weer terug na Hades. Dit was dan ook die tema van Gluck se opera Orfeo van 1762. Mousaîos was beslis ook voor-Homeries. Hy sou ook van Thracië afgekom het, en ’n leerling van Orpheús gewees het. Plato (Respublica 364e) het sy digkuns geprys saam met dié van Orpheús. Aristophanes, Ranae (die “Paddas”, 1032–3) vertel ons dat Mousaîos siekes kon genees en ook orakels kon uitlê.

Dit was waarskynlik deur die toedoen van Homerus se Homerídai, ’n gilde (génos) van digters op die Ioniese eiland Chios aan die weskus van Klein-Asië, wat in die historiese tydvak daarop aanspraak gemaak het dat hulle afstammelinge van Homerus was, en dus geroepe was om die Digter se “Sange” te bewaar vir die nageslag (nog lank voordat dit op skrif gestel was), dat Homerus reeds as die outentieke digter van die Ilias en die Odusseia in die verre Oudheid aanvaar is. Die terminus post quem vir die datering van Hesíodos moet egter heelwat vóór 750 vC lê, enersyds omdat sy werk beslis reeds in skrifvorm gekomponeer was, en andersyds omdat hy reeds verwys na die Delphiese Orakel in Phokis waarvan ons weet dat dit eers ná 750 vC vir die Grieke van nasionale belang geword het, en ook omdat die Griekse alfabetiese skrif (wat ontwikkel het uit die Fenisiese tekens, tà phoiníkeia, volgens Herodotus 5.58) toe al vir ’n geruime tyd in gebruik moes gewees het om sy werke op skrif te kon gestel het.

Aristarchos van Samothrach (Fotobron: Wikipedia)

Die getuienis van Aristarchos

Aristarchos van Samothrache (Samothrá[i]che), hoof van die Alexandrynse Biblioteek in Alexandrië, in Noord-Afrika, vanaf ongeveer 180 tot 145 vC, die eintlike grondlegger van die Alexandrynse wetenskaplike studies, het met noukeurige navorsing bevind dat Homerus beslis die (eerste) voorganger (pródromos) van die oud-Griekse epiek was. Daar word vandag gemeen dat Hêsíodos nie lank voor 700 vC gelewe het nie. Homerus was dus ouer, maar met hoeveel jare of geslagte is nie te bepaal nie. Oor die probleem van die datering van Homerus vis-à-vis Hesiodos, sien Richard Janko, Homer, Hesiod and the hymns: Diachronic development in epic tradition, Cambridge, 1982.

Voorlopige gevolgtrekkings

Dat Homerus in die Bronstydperk van Mukeense era self kon gelewe het, soos Hekataios   en Eratosthenes beweer, word beslis uitgesluit, omdat Homerus anakroniese beskrywings van, en verwysings na, gebruike en gebruiksvoorwerpe uit die latere Ystertydperk in sy eposse opgeneem het. Net soos Troje, toe dit opgegrawe is, ’n reeks verskillende strata toon, vind ons ook by Homerus dieselfde strata waar tydperke en dialektiese oud-Griekse vorme uit verskillende tye heel vrolik gemeng word.

Theopompos se datering, aan die ander kant, lyk beslis te laat. Tussen die vroeg-klassieke liriese digters en Homerus lê daar weer ’n diep kloof, naamlik die era van heroïese geskei van die era van liefde en romanse. Die digteres Sappho van Lesbos, wat deur Plato die Tiende Muse genoem is, was waarskynlik reeds aan die begin van die 7de eeu vC (in 612 vC volgens die Suda, sv Sapphô) gebore.

Uit die groot invloed wat die Homeriese epos reeds op die vroegste oud-Griekse liriese digters nagelaat het (soos aantoonbaar is in die stofgegewe, prosodie, aanhalings en epiese temas), kan ons ook aflei dat die epiese digting reeds toe gevestig moes gewees het. Hierdie eersvolgende literêre genre in oud-Grieks, naamlik die liriek per se, val nou vierkantig terug op die gemeenskaplike voedingsbron binne die oorgelewerde (mondelinge) mitologie, waaraan Homerus nou ’n digterstatus gegee het.

Die era van ’n geskrewe Homeriese teks (wat ons vandag besit) moet noodwendig lê tussen die verdwyning van die oer-Griekse Lineêr-B-skrif (sien hierna) wat in sillabes geskryf was, en die steeds hedendaags gebruiklike Griekse alfabetiese skrif waarvan Herodotus (5.58) ons vertel dat Kádmos uit Tirus in Klein-Asië dit as “Fenisiese tekens” (tà phoiníkeia, van Noord-Semitiese oorsprong) na die Griekse Balkan oorgebring het om ook so die skryf van Grieks by Thebe in Beosië moontlik te kon maak. Die mitologie (altyd met ’n historiese kern) vertel ons dat koning Agenor van Tirus hierdie Kádmos uitgestuur het om sy verdwene suster, Europa, te gaan soek en nie sonder haar terug te keer nie. Toe Kádmos by Delphi aangekom het, het die Orakel hom aangesê om ’n vers (’n jong koei wat nog nie gekalf het nie, “en nog nooit ’n juk gedra het nie”) wat hy buite die Tempel van Apollo sal teëkom, te volg, en dat hy waar hierdie koei haarself gaan neervly, ’n burg moet gaan vestig, vir die latere stad Thebe. Om drinkwater te bekom moes Kádmos toe eers ’n draak, as afstammeling van die oorlogsgod Ares, wat die fontein beskerm het, doodmaak. Hiervoor moes hy toe eers ’n straf uitdien voordat die godin Athena hom aangeraai het om nou die tande van daardie draak te gaan saai. Die oes was toe ’n groep swaargewapende soldate wat mekaar begin doodmaak het. Uiteindelik het net vyf oorgebly wat toe die regerende élite van Spartaanse Thebe geword het: Spartoí in Grieks beteken “hulle wat (in die grond van die aarde) gesaai is” (vandaar dan ook Sparta). Hierdie vyf man het toe Thebe se beroemde brug, die Kadmeía, oftewel hê Kadmeía pólis (“die stad-staat van Kádmos”), op daardie plek gebou. Kaádmos self het met Harmonía, die dogter van Ares en Aphrodite, getrou, en hulle het drie kinders gehad: Inô, wat ’n seegodin geword het; Semélê, moeder van Diónusos by Zeus; Agave, of Agaúê, moeder van Pentheus, koning van Thebe; en Autónoê. Eersgenoemde twee sou later ’n groot rol in die oud-Griekse mitologie speel. Sien hier Francis Vian, Les Origines de Thèbes et les Spartes van 1963.

Die getuienis van Flavius Josephus

Flavius Josephus, die Joodse priester en Fariseïese aristokraat van die vroeg-1ste eeu nC (gebore in 37/8 nC) (wat weens sy openlike bewondering vir die Romeinse keiserryk toe ook Romeinse burgerskap verkry het) se apología, oftewel verdedigingsrede, vir die Joodse godsdiens en kultuur se duidelike uitspraak by sy Contra Apionem 1.12 (wat hy in Grieks geskryf het) vorm ’n belangrike gesigspunt rondom die “Homeriese probleem”.  Hy sê daarin: “Die huidige gebruik van die alfabet en skryfkuns kon nie bekend gewees het aan die Grieke in die Trojaanse Oorlog nie [’n oorlog wat Thoukudides net 80 jaar vóór die Doriese Intog van 1104 vC geplaas het]. Die Grieke het geen letterkunde ouer as Homerus nie; en Homerus [moes] ná daardie Oorlog gelewe [het]. En hulle sê ook dat Homerus nie sy gedigte in geskrewe vorm nagelaat het nie, maar dat dit deur memorisering oorgelewer is, en eers later byeengevoeg is uit aparte Liedere/Sange.” Ons weet vandag vir seker dat Josephus twee groot waarhede kwytgeraak het: die Griekse alfabet wat ons vandag ken, het beslis nog nie bestaan in die 12de eeu vC nie, én daar moes ’n lang proses van mondelinge oorlewering die geskrewe Homeriese teks voorafgegaan het.

Die idee van ’n ongeletterde Homerus is reeds lankal laat vaar. In pre-Klassieke Griekeland het (ongeskrewe, mondelingse) literatuur geletterdheid beslis voorafgegaan. Dit was in die volksmond dat die Trojaanse Sagekringe reeds literatuur geword het, en van geslag tot geslag toe ook so oorgedra is.

Friedrich August Wolf (1795)

Sedert die verskyning van Friedrich August Wolf se Prolegomena ad Homerum in 1795 is Homerus se Ilias en Odusseia beskou as ’n eensame “literêre” eiland, geskei deur ’n golf van eeue van die geskrewe oud-Griekse literatuur self. Wolf het oa aanvaar dat Homerus nie die skryfkuns ten dienste kon gehad het nie, en dat hierdie gedigte ná hom nog vir geslagte lank op mondelingse oorlewering aangewese was. Wolf was nie die eerste persoon wat hierdie gesigspunt gehuldig het nie, maar hy was wel die eerste gewees wat die probleem (en die oplossing daarvoor) profeties voluit geformuleer het. In ’n aparte aflewering sal ek die sogenaamde Homeriese probleem, soos Wolf dit gesien het, later in besonderhede bespreek. Ons weet egter vandag dat ons Homerus laat genoeg moet plaas en dateer om hom van die bekende alfabetiese Griekse alfabet (waaruit die Romeinse, én ook ons eie alfabet, met aanpassings, ontwikkel het) gebruik te kon laat maak het, teenoor die vroeëre gebruik van die sillabiese Lineêr-B-skrif op Kreta en op die Peloponnees. En die geskiedenis van die koms van hierdie alfabet sal ek nou vertel.

Voor die koms van Homerus had die ou Griekse Achajers (hoi Achaioí – wat later by Troje sou gaan veg) wel ’n skriftipe tot hul diens aan die koninklike howe gehad vir die notering van proviand, naamlik Lineêr-A, en veral daarna Lineêr-B. Maar dit was ’n sillabiese lynskrif (wat deels aan die Egiptiese hiërogliewe herinner) wat totaal ongeskik was vir die Homeriese prosodie (versopstelling in kort en lang sillabes by die daktiliese heksameter). Hiervoor was ’n alfabetiese skrif, wat veel later uit die Fenisiese tekens (tà phoiníkeia, by Herodotus 5.58), sou ontwikkel het, met sy afsonderlike vokale en tweeklanke (diftonge) naas medeklinkers, nodig.

Die ontdekking en ontsyfering van Lineêr-B as ’n oervorm van Grieks

Dit was teen die Middel-Mukeense tydvak, ongeveer 1250 vC, dat Homerus se Achaioí ʼn eie skryfsisteem ingevoer het, eers Lineêr-A (tans nog onontsyfer, en waarvan ons vandag slegs die Phaistos-skyf oor het waarop dit geskryf is), en Lineêr-B, wat in 1952–54 deur Michael Ventris en John Chadwick as ʼn oervorm van Grieks ontsyfer is – sien voorlopig John Chadwick, The decipherment of Linear B (eerste uitgawe, Cambridge, 1958). Hierdie lynskrif kom waarskynlik oorspronklik van Kreta af, en het nie op die Grieks-Achaïese Peloponnees self onstaan nie, maar is later kontemporêr gebruik.

Die Griekse Lineêr-B, ook Lynskrif-B genoem, het waarskynlik ontwikkel uit die Minoïese Lynskrif-A, wat waarskynlik reeds teen 1750 vC op Kreta in gebruik was, en voorafgegaan was deur ʼn soort Egiptiese piktografiese skryffase. Lynskrif-A wag egter nog steeds op ontsyfering, hoewel Simon Davis van Wits in Suid-Afrika dit as ʼn vorm van Hetities sou ontsyfer het: vgl sy The decipherment of Minoan Linear A and Pictographic Scripts (Witwatersrand Universiteitspers, Maart 1967). Die probleem met die ontsyfering van Lineêr-A is egter dat daar geen ander skrifstukke daarin, behalwe in die Phaistos-skyf alleen, bewaar gebly het om mee gekollasioneer te word nie, terwyl ons letterlik duisende kleitablette in Lineêr-B het. Die Phaistos-skyf is in 1908 deur Italiaanse argeoloë in ʼn Minoïese paleis op Phaistos in Suid-Kreta ontdek, en bevat 45 piktografiese tekens, dws is in prentskrif geskryf.

Selfs die latere Griekse en Hebreeuse alfabette, wat uit die eertydse Fenisiese skriftekens (weer eens Herodotus 5.58 se tà phoiníkeia te vergelyk) ontwikkel het, het in werklikheid óók hul oorsprong in prentskrif gevind, ’n alfabet geskep op akrofoniese beginsels waar, by Hebreeus, as Noord-Semities (soos ook by die Fenisiese tekens wat á na Thebe gebring het), die a as die eerste letter van ’alεf, ’n woord wat in werklikheid “beeskop” beteken, vir die enkel-klank “a” afgesonder is; bēt, wat “huis” beteken, die klank “b” gegee het; gîmεl, wat “werphout” of “boemerang” beteken, die “g(h)” gegee het; dālεt, wat “deur” beteken, weer die “d” as klank gegee het, ens. ’n Heel vindingryke proses, dus, deur ’n uiters geniale skepper wie se naam ons nooit sal weet nie. Hy was die uitvinder van ’n alfabet wat ek nou hier besig is om (met sy mutatis mutandis-aanpassinge) ook in Afrikaans te gebruik.

Dit is nie nou die plek om hier weer eens volledig die filologies-tegniese aspekte by die ontsyfering van Lineêr-B teenoor Klassieke Grieks te probeer nahaal nie, behalwe om later vir die belangrike prosodiese uitwysing van die voorkoms van die dígamma (f), oftewel “w”-klank, in Homeriese Grieks wat verlore gegaan het, te verklaar wat baie duidelik verstegnies by Homerus veronderstel moet word. Daarmee saam sal ek later tog wel ’n oorskouende indruk van Lineêr-B moet gee om ietwat meer sin aan die ontsyfering daarvan te gee vir die huidige leser. Die eie aard van Homeriese Grieks (ook Epiese Grieks genoem), wat onmiskenbaar sterk en uniek preklassiek is, sal ek later in hierdie reeks opstelle nog volledig opvolg. Voorlopig kan ek die leser verwys na my Die geskiedenis van die Griekse taal oor 35 eeue heen (Sun Media, Stellenbosch, 2017), veral hoofstuk 2, waarin ek die eerste van die ses fases in die omwikkelingsgeskiedenis van Grieks bespreek – en dit tot op hede bring. Hier wil ek meer klem lê op “die storie agter die storie” om sodoende my gevolgtrekking vir die datering van Homerus binne ’n verwante holistiese patroon te motiveer.

John Chadwick

Hoewel dit eintlik Michael Ventris van Londen was wat die kode gebreek het vir die ontsyfering van Lineêr-B, wil ek hier eerste die bydrae bespreek van John Chadwick van Corpus Christi College op Cambridge, wat nie alleen gesorg het vir die filologies-tegniese interpretasie van die Lineêr-B-tablette én die dialektiese implikasies daarvan nie, maar wat Ventris, na sy ontydig-vroeë dood, vir 42 jaar oorleef het en volle gestalte gegee het aan die waarde van hierdie dokumente en die interpretasie daarvan in die geskiedenis van die Griekse taal.

Die verhaal van die ontsyfering van Lineêr-B vertel John Chadwick (amper) volledig in sy Decipherment of Linear B, waarna ek reeds verwys het. Self was ek later bevoorreg om in 1962 Chadwick, as mede-ontsyferaar, se kursus oor Lineêr-B aan die Universiteit van Cambridge te volg en te voltooi, pas tien jaar na die ontsyfering daarvan in 1952–54. Ek onthou nog goed die staande applous wat Chadwick gekry het met die afronding van sy reeks lesings oor die ontdekking en ontsyfering van Lineêr-B in ’n lokaal aan Silver Street op Cambridge. ʼn Jaar of wat voor dit het ek, as nagraadse student in Klassieke Grieks, hom op Stellenbosch ontmoet, waar hy ʼn lesing kom gee het oor die hersiening van Liddell en Scott se groot Greek-English Lexicon (eerste uitgawe in 1843) deur Henry Jones en Roderick McKenzie in 1940.

John Chadwick (gebore op 21 Mei 1920) was, as klassikus, ’n kenner van die oud-Griekse dialektologie en klassieke filologie. Gedurende die Tweede Wêreldoorlog was hy reeds (in diens van die Britse vloot by hul vlootbasis HMS Nile in Alexandrië in Noord-Afrika) betrokke by die ontsyfering van Italiaanse geheime kodes, en later ook by Japannese kodeskrif in Stockholm en Berlyn. Na die oorlog het Chadwick sy studies in linguistiek op Cambridge met skitterende resultate hervat, en saam met medestudente kriptografiese metodes ontwikkel om “Minoan Linear B” te ontsyfer. Hy was toe al daarvan bewus dat Michael Ventris, wat ’n argitek wou word, ook besig was om hierdie onbekende skrif uit Kreta, én op die Peloponnees by Mukene (Mukênê, in Argolis, waar Agamemnon se koninkryk geleë was) en op Púlos (waar Homerus se ou Nestor sy koninkryk gehad het) te ontsyfer. Púlos was sedert die Middeleeue tot in die 19de eeu bekend as Navarino (vandag is dit Ano Englianos in Messinië). Dit was hier waar die Grieke in hul groot Vryheidsoorlog teen die Ottoman Turke (1821–29/31), met Franse en Engelse hulp, ’n roemryke vlootoorwinning oor die Turks-Egiptiese magte behaal het.

Chadwick se kennis van Klassieke en Epiese (Homeriese) Griekse, die oud-Griekse dialektologie, en Griekse filologie in die algemeen, is ook toegepas op Ventris se aanvanklike teorie dat Lineêr-B en die Etruskies van ou Italië verband hou. Die Etruskers was die oorspronklike inwoners van Italië. Dit het egter gou geblyk nie die geval te wees nie. Chadwick was egter later wel die uiteindelike katalisator vir die ontsyfering van Lineêr-B deur die finale insigte van Michael Ventris. Chadwick, wat toe ook Fellow of the British Academy (FBA) geword het, is vir sy werk vereer met die Oostenrykse Dekorasie vir Wetenskap en Kuns, en in 1997 is die Internasionale Antonio Feltrinelli-prys ook aan hom toegeken. Hy sterf eers op 24 November 1998.

Michael Ventris en Arthur Evans

Michael George Francis Ventris (Fotobron: Wikipedia)

Michael George Francis Ventris (gebore op 12 Julie 1922) was vir agt jaar op skool in Gstaad in Switserland. Daar het hy Frans en Duits vlot leer praat, en ook Adolf Erman se Die Hieroglyphen (in Duits) gelees. Later het hy ook Russies bestudeer. Gedurende die Tweede Wêreldoorlog het hy weer in die Royal Air Force (RAF) diens gedoen. Professioneel was hy as argitek opgelei.

Die belangstelling van Ventris in Lineêr-B het al veel vroeër gekom toe hy in 1936 ’n uitstalling oor die argeologie van Kreta by Burlington House in Londen (tuiste van die Britse Akademie) bygewoon het. Arthur Evans (1884–1941), die doyen van argeologie op Kreta, het vanuit sy eie huis op Kreta opgrawings gedoen – ’n huis wat hy vernoem het na Ariadne, die suster van Phaedra, die dogter van (koning) Minos (eerder ’n titel soos die Egiptiese “farao”) van Kreta in die tyd dat sy die Atheense held Thêseus gehelp het om die Labúrinthos (’n doolhof wat die vaardige Daidalos vir die koning ontwerp het) binne te gaan om die wrede Minôtauros dood te maak aan wie elke jaar sewe jongmanne en sewe jongvroue van Athene as tribuut gegee is om deur die ongedierte verslind te word. Koning Minos was met Pasiphaê, die dogter van die Son, getroud. Toe Minos (eintlik Mínôs) nagelaat het om ’n pragtige bul (stier) wat Poseidôn, god van die Oopsee, vir hom gestuur het, aan die godheid te offer soos hy belowe het, het Poseidôn dit bewerk dat Minos se eie vrou, Pasiphaê, toe op die bul verlief geraak het, en daardeur later aan die Minôtauros geboorte geskenk het, ’n monster wat half mens en half bul was.

Terug by die argeologiese uitstalling – wat ook presies saamgeval het met die vyftigjare bestaan van die British School of Archaeology in Athens: Hier het Evans, toe al 85 jaar oud (al halfblind, en hy moes reeds met ’n kierie loop) aan die seuns van die skool op Dowe vertel van die duisende kleitablette wat op Kreta (en elders op die Peloponnees) gevind is met ’n onbekende skrif daarop geskryf, en ’n paar daarvan ook vir die leerlinge gewys. Niemand, het hy gesê, kon dit nog ontsyfer nie. Ventris was toe nog net 14 jaar oud, maar hy het dadelik besluit dat hy dit eendag nog sélf gaan ontsyfer.

In 1940, toe 18 jaar oud, het Ventris reeds ’n artikel oor hierdie kleitablette uit Kreta met die onbekende skrif daarop in die American Journal of Philology gepubliseer. Sy aanvanklike teorie dat Lineê-B verwant moet wees aan die Etruskies van die oorspronklike inboorlinge van ou Italië, is egter gou as onjuis bewys. In daardie stadium was daar al by die 10 000 Etruskiese graf-inskripsies versamel, buiten die lang Etruskiese teks van 1 190 woorde op ’n dodedoek waarin ’n Egiptiese mummie toegedraai was en wat tans te sien is in ’n museum in Zagreb van die ou Joego-Slawië. Etruskies bly nog vandag onontsyfer – ’n onontsyferde inheemse taal wat die Latyn in Italië voorafgegaan het en ook spore daarop gelaat het net soos die Pelasgers met Grieks gedoen het.

Evans is kort hierna dood. Intussen het Alice Kober van Brooklyn College in New York(-stad) daarop gewys dat sekere woorde in Lineêr-B op hierdie kleitablette ’n stel woorduitgange het wat dalk met Grieks en Latyn verbind kan word (verbuiging van die selfstandige naamwoord en vervoeging van die werkwoord). Ventris het toe hierop ’n reeks roosters opgestel van die 87 simbole wat op hierdie inskripsies gebruik word, konsonante naas vokale. Maar wat vir wat gegaan het, het steeds ’n ope vraag gebly. ’n Tree vorentoe was egter gegee, en Ventris het later vir Alice Kober vir haar insig geprys (vgl Margo Fox, “The Riddle of the Labyrinth”, in Ecco, 2013).

Kort voor die Tweede Wêreldoorlog het die argeoloog Carl Blegen van die VSA ’n verdere 6 000 kleitablette in Lineêr-B op Púlos ontdek, wat die tuiste was van Homerus se ou Nestor wat ook by Ilion saam teen die Trojane gaan veg het. Alison Frantz het foto’s hiervan geneem wat Ventris ook bekom het. Op hierdie kleitablette het daar kombinasies van tekens voorgekom wat nie op die kleitablette uit Kreta voorgekom het nie. Ventris het nou die intuïtiewe raaiskoot gewaag dat hierdie kombinasie van tekens na plekke buite Kreta verwys. En dit was die groot deurbraak waarmee Ventris uiteindelik die grootste deel van die Lineêr-B-tablette  kon ontsyfer, en gou gesien dat dit ’n vorm van oer-Grieks in ’n sillabiese skrif was (in lynskrif soos die Egiptiese hiërogliewe waaraan dit ook herinner). Hiermee het Ventris Arthur Evans se teorieë oor sekere aspekte binne die Minoïese geskiedenis as verkeerd bewys deur vas te stel dat die Kretensiese beskawing, ten minste in die latere fases daarvan soos af te lei uit die Lineêr-B-tablette, altyd deel was van die Mukeense Griekeland op die Peloponnees.

Dit was dus eintlik Michael Ventris, die argitek van beroep (“with a little knowledge of Greek”) wat finaal die kode van Lineêr-B gebreek het en die legkaart kon uiteensit. En dit was sy vriend en medewerker John Chadwick wat as beroepsklassikus op Cambridge (verbonde aan Corpus Christi en Downing College die gegewens kon orden en interpreteer met sy kennis van die oud-Griekse dialektologie en filologie in die algemeen. Die ontsyfering van Lineêr-B is toe eers finaal in 1954 voltooi.

Dit was dus Michael Ventris wat die patroon en reëlmatigheid wat die onderliggende struktuur van die Lineêr-B-skrif verraai, ontdek het. As opgeleide argitek het hy oor die vermoë beskik om eindelose patrone met die mees nougesette akkuraatheid te konstitueer.

Lineêr-B het (tot nog toe) geen stukkie letterkunde as sulks opgelewer nie. Dit het slegs die inventarisse van voorrade aan die koninklike paleise sorgvuldig genoteer. Die waarde daarvan is meer leksikaal (semanties) as grammaties om die oervorm van Griekse woorde uit te wys. Ons besit egter vandag ook wel meer as 100 Lineêr-B-inskripsies wat aangebring is op erdevase wat in Khaniá (die klassieke Kanea, die hoofstad van Kreta sedert 1841), Knossos, Mukene, Turins, Eleusis, Oichomenos (in Beosië), en veral Thebe (ook in Beosië), gevind is. Die totale aantal Lineêr-B-tablette tel nou al in die duisende, wat natuurlik vele afleidings deur blote kollasionering grootliks vergemaklik.

Lineêr-B is ’n sillabiese skriftipe (soos “a-to-ro-po-se” vir ánthrôpos, “mens” in Klassieke Grieks: altyd met oop lettergrepe) met 87 skriftekens, elk met sy eie klankwaarde en getalwaarde, waarvan nog net die laaste ses karakters nog nie (volkome) gelees kan word nie.

In 1955 is ’n OBE (Order of the British Empire) aan Ventris toegeken vir “services to Mycenaean palaeography”. Die Universiteit van Uppsala het ook reeds in 1954 ’n eredoktoraat aan Ventris toegeken. Menandros, digter van die oud-Griekse Nuwe Komedie (wat self heel vroeg in die Piraeus, Athene se hawestad, verdrink het), het by geleentheid gesê “Hulle vir wie die gode liefhet, sterf jonk.” Op 6 September 1956 het Ventris op slag gesterf toe hy laat die aand op die Great North Road naby Hatfield in Londen met ’n lorrie gebots het. Ek was toe aan die einde van my eerste jaar op Stellenbosch, min wetende watter rol Michael Ventris later in my lewe sou speel by die studie van die oud-Griekse filologie.

Literatuuraangawe by Michael Ventris en John Chadwick as die ontsyferaars van Lineêr-B

Michael Ventris alleen, en ook saam met John Chadwick, het die volgende publikasies die lig laat sien (met enkele ander tersaaklike dissertasies wat ek ook hier bygevoeg):

Ventris, Introducing the Minoan Language (artikel in The American Journal of Philology 44.4,1940;

Ventris, The languages of the Minoan and Mycenian sivilazations: mid-century report (London, 1950);

Ventris, A Preliminary analysis of the language contained in the in the Mycenaean Archives from Pulos in Messenia (1951);

Ventris en Chadwick, Evidence for Greek Dialect in the Myncenaean Archives (in Journal of Hellenic Studies 73 [84-103], 1953);

Ventris en Chadwick, King Nestor’s Four-handled cups: Greek inventories in Minoan Script (Bobbs-Merril, Idianopolis, 1954);

Ventris en Chadwick, Documents in Mycenaean Greek (Cambridge, 2nd ed., 1974, ’n omvattende werk van 622 bladsye);

Ventris en Chadwick, Mycenean furniture on the Pulos tablets (Eranos Förlag, Uppsala, 1956);

Ventris en Anna Sacconi, Work notes on Minoan language research and other unedited papers (in Incunabula Graeca 90, 1988, Edizioni dell’Ateneo, Roma);

John Chadwick, The Decipherment of Linear B (Cambridge, 1958/1990);

Margalit Fox, The Riddle of the Labyrinth: The Quest to Crack an Ancient [Greek] Code (Ecco, 2013);

Andrew Robinson, The Man Who Deciphered Linear B: The Story of Michael Ventris (Thames & Hudson, New York, 2002);

Thomas G Palaima, Unlocking the Secrets of Ancient Writing: The Parallel Lives of of Michael Ventris and Linda Schele and the Decipherment of Mycenaean and Myan Writing: Catalogue of an Exhibition in Conjunction with the Eleventh International Mycenologogical Colloquium (University of Texas Austin, 2000)

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top