Zeús, Oppergod van die antieke Griekse panteon, en die rare boodskap wat hy vir ons vandag nog inhou: deel 3

  • 0

Antieke Arkadië. Wikipedia

Is Zeús (eerder) in Arkadië op die Peloponnees gebore?

Daar bestaan ook die verder teorie dat Zeús in Arkadië op die Peloponnees gebore is op grond van sy epítheton Lúkaios (uit die naam van die Berg Lúkaion < lúkos, “wolf”) wat soms aan hom toegeken word, een van die berge in die bergagtig-geïsoleerde Arkadië in die middel van die Peloponnees. Volgens Plato (Respublica 565 d-c) het ’n bepaalde volkstam elke nege jaar op hierdie berg ’n offerande aan Zeús gebring bestaande uit ’n porsie menslike binnegoed wat gemeng was met die binnegoed van diere. As iemand daaraan geëet het, het hy in ’n wolf (lúkos) verander. Hy kon dan eers na die volgende negejaarsiklus verby is weer sy menslike gestalte teruggekry het as hy intussen nie weer mensvleis geëet het nie. By die Berg Lúkaion was daar ook gereeld atletiek- en sangspele gehou wat die “Lukaía” genoem was, en wat in die vierde eeu vC na die bewoonde Megalópolis in die Suide van Arkadië verskuif het. Daar bestaan die interessante (en veelseggende) moontlikheid dat lúkaios/lúkeios hier ook afgelei kon gewees het uit die Proto-Griekse *lukê wat “lig” beteken (soos in oud-Grieks amphilúkê, “oggend-skemerlig”, en lukábas, “etmaal van ’n dag en ’n nag” (met die aksent op die gang van die lig daartydens). Arthur B Cook, in ’n omvattende studie oor Zeús in drie volumes (met vyf dele), onder die titel, Zeus: A Study in Ancient Religion (Cambridge University Press, 1914-4) verwys na die eertydse Atheense tragedieskrywer Achaiós (gebore in 484/481 vC) wat van die “skitter-oë” van Zeùs Lukaiós sou gepraat het, wat miskien juis net hierdie Arkadiese Zeús kon gewees het, en wat, volgens die Latynse skrywer Cicero, die seun van Aithêr was (dit is met verwysing na “die helder stralende hemelstreek daarbo”). Die Griekse reisgidsskrywer van die tweede eeu AD, Pausanías, beskryf die stad Lukosoûra op die Berg Lúkaion as “die eerste stad wat ooit die son gesien het”, met ’n altaar van Zeús ook daar opgerig met twee massiewe suile en ook met twee vergulde arende daarop wat na die opgaande son kyk. Immers, Zeús was altyd beskou as die God van Lig.

Arthur Cook, in sy groot werk pas genoem, wys óók op die feit dat die Rigveda van die Hindoes in (Vediese) Sanskrit die naam Dyaus/Dyaus Pita vir die Latynse “(Vader) Jup[p]iter” dra (vgl Latyn Diēspiter), afgelei uit die Vokatief (Aanspreekvorm) van die Indo-Europese *dyeu-phatēr, met *dyeu (“om te skyn”) as die wortelstam. Dit bewys dat die naam “Zeús” taalkundig beslis Indo-Europees kan wees. Maar, soos ons reeds gesien het, het hierdie Zeús beslis ook Oosterse (en spesifiek Kretense) wortels. In die sillabiese Lineêr-B van die Mukeense tydvak op die Peloponnees (dws reeds vóór die 13de eeu vC van die Trojaanse Oorlog) kry ons Zeús as di-we/di-wo. Diogenes Laërtius (1.11), wat Pherekúdês van Sûros (een van die Kukládiese eilande in die Egeïese See) aanhaal, gee Zeús aan as Záʂ. Plato, in sy Cratylus, ’n dialoog wat handel oor die oorsprong van taal, gee ’n volksetimologiese oorsprong vir die naam Zeús aan, as sou dit kom uit die Griekse Voorsetsel diá met die betekenis van “deur (die toedoen van)”, om daardeur aan te toon dat Zeús die Skepper (Dêmiourgós) is deur wie die wêreld waarin ons leef, tot stand gekom het. Dit is heel waarskynklik ’n totale verkeerde etimologiese raaiskoot sonder enige gronde.

Krónos - Ancient Greece

Die mite lei verder op Kreta dat toe Zeús tot sy volle manlikheid gekom het, hy sy vader Krónos gedwing het om sy kinders by Rhéa wat hy ingesluk het (en wat intussen in sy maag onsterflik gebly het) die een na die ander weer op te braak. Maar eers moes hy ’n klip uitbraak wat by Puthô, die latere Orakelsetel van Delphi (Delphoí), waar die Grieke gemeen het dat middelpunt (omphalós) van die aarde geleë was, geplaas is aan die voet van die indrukwekkende Parnas[s]ós-gebergte wat troon bo ’n ewe indrukwekkende aardspleet wat daaronder lê. Dit het later, in die klassieke tydvak, Apóllô[n], by uitstek die god van voorspellende profesie, se Orakel geword. Eers daarna moes Krónos sy kinders opbring in omgekeerde volgorde wat hy hulle ingesluk het. Daar word vertel dat Mêtis (die eerste vrou van Zeús) vir Krónos ’n braakmiddel (emetikón) hiervoor toegedien het. ’n Ander mite lui weer dat Zeús die maag van Krónos sou oopgesny het. Daarop het Zeús ook die broers van Krónos verlos, die Siklope (Kúklôpes, eenogige reuse), asook die Hekatóngcheires (monsters met elk ’n honderd hande). Dit was toe dat die Siklope vir Zeús die gawes van die donder(slag) en bliksem gegee het. Hierna het die groot Titanomáchia (godegeveg) plaasgevind waarin die eerste Reuse wat oor die aarde regeer het, uitgewis is, en in Tártaros (die diepste “Hel” in die Onderwêreld) gewerp is. Die Titán Átlas se straf was (volgens Hêsíodos) dat hy die hemelgewelf vir altyd op die kop met sy hande omhoog moes hou iewers in die verre Weste (Marokko vandag, vgl die Atlas-gebergte daar). Daarna het Zeús die heelal verdeel tussen homself (wat die glinsterende Hemele geneem het), Poseídô[n] (vir wie hy die Wêreldsee gegee het), en Hades/Haïdês (vir wie hy die Onderwêreld anderkant die Stuuksrivier wat daarheen loop, gegee het, met Charôn as die bootsman wat lyke van gestorwenes met ’n obool of twee in hul monde daaroorheen vervoer het). Niemand kon egter op Moeder Aarde (Gaía of Gê) beslag lê nie, want dit het, saam met die aardse sterflinge, ook aan al die (latere) Olumpiese gode behoort. Gaía was egter woedend vir die manier waarop Zeús van haar kinders, die Titânes, ontslae geraak het, en het toe die magte Tuphôn (dit is vulkaniese vuur) en Échidna (die giftige adder) gestuur om hom te teister. Zeús het egter vir Tuphôn oorwin en hom vasgeknel op die vuurspuwende Berg Etna in Sicilië. Vir Échidna, daardie adderagtige monster van ’n slang, en haar kinders, het hy egter losgelaat (wat later die moeder sou word van die Sphíngx [Sfinks] van Thebe [Thêbai/Thêbê], en Nemeïese Leeu wat Hêraklês moes gaan doodmaak [sien hier onderskeidelik PJ Conradie, Avonture van die Griekse Helde en Gode [Human & Rousseau, Kaapstad/Pretoria, 1964], pp 70 en 102, vervolgens).

Zeus by die Atheense tragedieskrywer Aischulos

Die karakter van die Oppergod Zeús in die Prometheus van Aischúlos skep ’n probleem. Hy word daarin voorgestel as ’n hardvogtige, onbillike, ongenaakbare, onbuigbare, en onbarmhartige tiran. Dit pas nie by die Zeús in Aischúlos se ander ses oorgeblewe dramas nie, waar hy veel meer genaakbaar geword het in terme van wat die menslike pólis eerder van hom verwag. Daar is dus twee beelde van Zeús uiteindelik by Aischúlos. K Reinhardt, Aischulos als Regisseur und Theologe (Bern, 1949) skroom dan ook nie om twee gesigte aan Zeús by Aischúlos toe te ken nie. Aischúlos moes, as “teoloog” onder die Atheense tragici, met hierdie ongerymdheid en teenstrydigheid in sy diepste siel geworstel het. Die enigste manier om hierdie spanning in die Zeús-beeld by Aischúlos te verklaar is om dit met ’n ontwikkelingsteorie in die wese van Zeús te benader. Of het Aischúlos se seun Euphóriôn, as ’n tragiese dramaturg in sy eie reg, eerder hierdie werk geskryf soos sommige geleerdes ’n uitvlug uit die probleem wil soek? Maar dan, wat van die Oresteía as trilogie, dws as eenheid, waar dieselfde kwessie by daardie ander twee dramas nie so akuut is nie?

In die Prometheus wou Zeús, die jong Oppergod, pas aan bewind gekom, hom met alle mag teen alle opposisie laat geld. Hy moes nog eers volwasse word en ontwikkel tot wat die mens van hom verwag. Zeús vertoon hier eienskappe wat die ou Grieke nie voorheen aan hom toegeken het nie. In sy ander twee dramas van sy Oresteía (die enigste trilogie van ’n Atheense tragiese digter wat vir ons behoue gebly het) het Aischulos nou meer genaakbaar teenoor Zeús geword deur die menslike rede (noûs)en oorreding (peithô) ook te aanvaar. So het ’n volk dan uiteindelik self die karakter van sy nasionale Hoofgod probeer skep.

In die Prometheus verteenwoordig Zeús suiwer die wet van die jus naturae, die onpersoonlike wat geheel en al a-moreel is. Die jus naturalis (die natuurlike “menslike” wet teenoor die natuurwet) sou eers later moes kom. In die plek van die primitiewe wraakwet (die lex talionis: “’n oog vir ’n oog en ’n tand vir ’n tand”) het menslike billikheid nou bygekom. Die primitiewe Natuurgod Zeús moes plek maak vir ’n Zeús wat meer gesofistikeerd en verfynd is sonder om sy almag, regverdigheid, en barmhartigheid te verloor. In die Eumenides (die laaste drama in Aischúlos se trilogie, die Oresteía), vind ons Oréstês in Delphi (Delphoí) by die altaar van Apóllô[n]. Apóllô[n] sê hom aan om na Athene te gaan en geregtigheid by Pallás Athêna te gaan soek, as die moordenaar van sy moeder Klutaimnêstra - Klutaimnêstra wat weer voorheen sy vader, Agamémnôn, op uiters sluwe wyse vermoor het. Oréstês het gemeen dat hy die regte ding gedoen het deur sy vader se onskuldige moord te wreek. In Athene (Athênai/Athênê) beland Oréstês dan voor die Raad van die Areopágos, ’n tribunaal wat sulke moordsake moes aanhoor. Die jurie stem toe gelykop, waarop Athênê (Athena) haar stem van vryspraak vir Oréstês gee, ondanks die verskriklike en ongenaakbare teenstand van die Furieë (oftewel Erinúes, vir wie sy [Athena] ten slotte moes paai deur aan hulle hul eie aparte domein van eerbied toe te ken). Uiteindelik moet ons dit alles vandag seker die beste sien en beoordeel in die lig en perspektiewe van Sarah B Promeroy se Ancient Greece: A Political, Social and Cural History (OUP, 1999).

Die verandering van die morele beeld by Zeús in Aischúlos se Prometheus stem in ’n sekere sin ooreen met Ludwig Feuerbach se filosofie oor die godsbeeld soos uiteengesit in sy Das Wesen der Religion van 1845 en Theogonie van 1857, voorafgegaan deur sy Gedanken über Tod und Unsterblichkeit van 1830. In kort kom dit by Feuerbach daarop neer dat God (“Wie Hy ook al is”: vgl L Golden, T.A.P.A., vol. XCII, 1961, pp 156-167 vir die geval van die oud-Griekse Zeús) nie, as Skepper, die mens gemaak het nie, maar dat die mens God uitgevind en gemaak deur Hom in sy rede [noûs] te ge-ontdek het. Dit is die mens self wat aan God die goeie moraal gegee het wat hyself nie kan wees nie, maar waarna hy strewe. God transendeer só nie die mens nie, maar is self immanent teenwoordig in die mens. So is die mens ’n ekstensie van God.

In die NT-teologie bestaan daar ’n goeie parallel. Marcion (Markíon) van Sinôpê aan die Swart See, het die Judaïstiese Jahwe(h), die Skeppergod (die oud-Griekse Demiourgós, oftewel “Wêreldskepper”) van die Hebreeuse OT, ook gesien as wispelturig, kwaadwillig, tirannies, wreed en onkundig teenoor die sterflike mens. Net mooi die teendeel van die NT se Jesus Christus wat vol liefde en mededoë is. Teenoor die onverbiddelike tôrah, oftewel “wet” van die OT (die NT se nómos), het hy die agápê (“liefde”, “eerbied”, “respek”) van die NT gesien. Marcion het gemeen dat net Paulus en (gedeeltelik ook) Lukas in die NT die geestelike en pneumatiese wat aan die agápê geknoop word, verstaan het. Daarom het hy dan ook die NT-teks gesuiwer van die oordeel van die wet en sy eie Bybel saamgestel, wat Adolf Harnack probeer rekonstrueer het in sy Das Evangelium von Fremden Gott, Texte und Unterschungen zur Geschichte der altchristlichen Literatur, XLV van 1921). Waar Marcion egter nog ’n monoteïsme verkondig het, het Aischúlos ’n henoteïsme ontwerp waar die ander Olumpiese gode in sy panteon elkeen aparte aspekte van die (een sentrale) Oppergod Zeús verteenwoordig. Aischúlos het die antropomorfistiese politeïsme aanvaar wat hy geërf het. Vir Marcion, vgl verder EC Blackman, Marcion and his Influence (1948), en John Knox, Marcion and the New Testament: An Essay in the Early History of the Canon (Chicago, 1942). Marcion het volgehou dat met die kruisiging van Jesus die God van die OT (Jahweh) eintlik gesterf het om ’n nuwe bedeling te laat aanbreek waar die Messías (“Gesalfde”) wat Jesaja 53 voorspel het, nou die “vleesgeworde” God in Jesus geword het.

[Vir verdere literatuur rondom hierdie uiters interessante debat, vgl OJ Todd, “The Character of Zeus in Aeschylus’ Prometheus Bound” (Classical Quarterley 1925, pp 61-67);  H Lloyd-Jones, The Justice of Zeus (Berkeley, 1971); L Golden,Zeus the Protector and the Destroyer” (CP LVII, 1962, pp. 20-25); ER Dodds, The Greeks and the Irrational, Berkeley (1956); WKC Guthrie, The Greeks and their Gods (London, 1968); AWH Adkins,Homeric Gods and the Values of Homeric Society” (Journal of Hellenic Studies 1972, pp 1-19); RP Winnigton-Ingram,A Religious Function of Greek Tragedy” (Journal of Hellenic Studies LXXIV, 1954, pp 16-24); Idem, “Clytemnestra and the Vote of Athena” (Journal of Hellenic Studies LXVIII, 1948, pp 130-47); R Stock, Het griekshe drama en de westerse mens,  Desclée de Bouwer, 1959); Jacobus van Wyk Cronjé, Die voorstelling van Zeus in Aischulos (MA-skripsie, Universiteit van Stellenbosch, 1975); Martin Nilsson, Geschichte der griechischen Religion (in Handbuch der Altertumswissenschaft, tweede druk, 1955-61; Idem, Griechische Glaube (1950).]

Die tema van die wisselwerking van die jus natura (die natuurwet van die Skeppergod wat onveranderlik is in die skepping) naas die jus naturalis (die natuurlike wet, die oud-Griekse nómos, wat “wet” geword het suiwer deur die menslike sanksie daarvan, as gevolg van die erkende daaglikse gebruik daarvan, speel ’n belangrike rol in die godsdiensfilosofie wanneer dit kom by die definisie van die attribute van die Skepper, dit is God self, want dit wys hoe die mens self hierin aandadig is/was en selfs sy eie “God” kon gemaak het. Maar ook dít is ’n onderwerp vir ’n ander geleentheid.

Zeús en die Sondvloed

Die Hebreeuse OT vertel die verhaal van die Sondvloed (“Groot Vloed”) in groot detail in Genesis 6:1 – 9-17. Hierdie verhaal vind ons ook oorvertel langs presies dieselfde lyne in die Babiloniese Gilgamesj Epos wat George Smith in 1872 in Nineve ontdek het, geskryf op 12 kleitafels wat dateer uit die 7de eeu vC, maar in werklikheid reeds opgestel is teen 1198 vC Die ooreenkomste hiervan met die Bybelse verhaal is te merkwaardig om toevallig te wees. CFA Dillmann, SR Driver, Hermann Gunkel, en Friedrich Delitzsch is almal van mening dat die narratief daarvan uit ’n oorspronklike gemeenskaplike bron kom. Volgens die OT-teks hiervan in die Pentateuch, waarin Julius Wellhausen se bronne “J” (dit is “Jawistiese”, omdat die heilige tetragrammaton JHWH, vir Jahwêh, die Bondsgod van Israel, hier de rigieur gebruik word) en “P” (dit is “Priesterlik”, omdat die priesterlike ritueel hier vooropstaan) saamgegooi is, het ons eintlik hier ’n samevloeiing van die twee verskillende verhale waarin God, die Skepper, besluit het om “alle vlees” (kôl-bâsjâr, Genesis 6:17) op die aarde deur ’n groot watervloed uit te wis omdat dit boos geword het. Net Noag en sy huisgesin is in ’n ark (tēbâh), wat hulle voor die tyd moes bou, die lewe gespaar (saam met al die soorte insekte en diere in pare).

Promêtheús - Olie op doek deur Ilyas Phaizulline.

Nou is dit so dat die ou Grieke ook die verhaal van die Groot Vloed vertel het. Vader Zeús het ook besluit om alle mense in ’n Groot Vloed te laat omkom (verdrink) omdat hulle nie meer op die regte wyse vir die gode op die Berg Ólumpos hul offerandes gebring het nie. En hiermee sou Poseidôn, god van al die Seë en al die waters hom help. Promêtheús (die godheid wat altyd goedgesind teenoor die mens was en hom die gawe van vuur gegee het wat hy op Ólumpos by die gode gesteel het) het vir die egpaar Deukalíôn en Púrrha hieroor gewaarsku, en hulle het ook vir hulle ’n boot (ploîon) gebou om hulleself te red. Toe die Vloed gesak het, het hulle boot op Berg Parnas[s]ós in Phôkís (net Noord van die Korintiese Golf) beland, juis daar waar die Delphiese Orakel later gesetel sou wees. ’n Orakel het hulle toe daar al aangesê om “die bene van Moeder Aarde” oor hulle skouers te gooi. Hulle het egter verstaan dat dit die klippe moes wees. Uit die klippe wat Deukalíôn oor sy skouer gegooi het, het toe mans ontstaan, en uit Púrrha se klippe weer vroue. Die oudste seun van Dekalíôn en Púrrha was Hellên wat later die legendariese voorvader van die Helleense (< Hellás, dit is. Griekse) volk sou word, en self die vader van Dôrós, Xoûthos, en Aíolos. Hier het ons dan ook onmiddellik die onderskeie grondleggers van die Doriese, Ioniese en Eoliese volksgroepe met hulle onderlinge dialektiese verskille in die gebruik van Grieks, en die ontwerp van daardie massiewe suile vir hul Tempels waarvan die kapitele so kenmerkend verskil.

Die verklarende adjektiewe (epítheta) by Zeús

Hómêros se Ilias - Fagles-vertaling, uitgegee deur Penquin.

Pausanías (2.24.2) het opgemerk dat daar die algemene gesegde was dat “Zeús koning in die Hemel is”. Zeús speel ’n baie belangrike rol in Homerus/Hómêros se Ilias (’n Epos 15 693 heksameter reëls wat handel oor die tienjarige Trojaanse Oorlog wat tradisioneel sou plaasgevind het tussen 1194 en 1183 vC). Homerus (Hómêros) het Zeús die “Vader van die gode en die mense” genoem. Hy was vir die latere Grieke die pater familias wat in ’n patriargaal-vaderlike verhouding tot hulle gestaan het soos hulself onder mekaar. In die proses is nie minder nie as 685 epítheta aan hom toegeken. Hier wil ek egter slegs net ’n paar daarvan uitsonder, soos (Zeús) Ktêsios (wat die eiendom beskerm); Hérkios (wat die voorhof van die huis beskerm);  Híkesios (wat die smekeling by sy altaar beskerm); Xénios (wat die gas/vreemdeling ontvang en beskerm); Políeus (wat die stad [pólis] beskerm); Eleuthérios (wat vryheid beskerm); Agoraîos (wat die vergadering op die mark [Agorá] beskerm); Boulaîos (wat die Raad [Boulê] beskerm); Eposíos (wat toesig hou oor alles op aarde); Hórkios (wat oor die eed [hórkos] waak); Aigíochos (wat die aigís, oftewel skild, dra wat van bokvel [aíks, “bok”] gemaak was, en ook die kop van die Médousa op kon gehad het); Areîos (wat oorlog maak, < Áres, die god van Oorlog); Astrápios (wat die bliksem slinger); Brontaîos (wat donder en dreun); Geôrgós (wat die Boer van die Oes is); Apómuios (wat die vlieë wegjaag);  Adúltos (wat deur volwassenes aangeroep word met hul troue); Panhellênios (wat aan al die Hellene/Grieke behoort); Panomphaîos (wat toesien dat alle plegtige voorspellings [omphaí] nagekom word); Sotêr (wat die Redder en Verlosser is); Apemíos (wat siektes afweer); Diktaîos (van die Berg Diktê in Kreta, waar hy gebore sou gewees het); Lukaîos (wat afkomstig is van die Berg Lúkaion in Arkadië op die Peloponnees, waar ’n mite weer sê dat hy gebore is en opgegroei het); Olúmpios (van die Berg Ólumpos op die grens tussen Thessalië en Macedonië, waar hy sy vaste setel saam met die ander 11Olumpiane gehad het – op die hoogste berg in Griekeland; Dôdônaíos (van Dôdôna in Epirus/ Épeiros, waar die oudste Griekse Orakel gesetel was); Ammôniós (van Ammonium, tans die Oase van Siwa in Egipte, waar Alexander die Grote in 332 vC begroet is as die seun van die god Ammon [van Thebe] by sy altaar daar, en later gelyk gestel is aan die eg-Griekse Orakels van Dôdôna en Delphi/Delphoí); Olumpikós (van Olumpía in Élis op die Peloponnees waar die Olimpiese Spele elke vierde jaar gehou was vanaf 776 vC ter ere van Zeús, en waar Pheidías die kolossale Tempel van Zeús gebou het wat later beskou is as een van die Wonders van die Antieke Wêreld). Ander epítheta van Zeus is geknoop aan die plek/stad waar hy aanbid was, soos Abrettênos (in Missië, Klein-Asië); Achád/Adád (aanbid in Sirië); Akraíos (in Smurna, Lidië); Bottiaíos (aanbid in Antiochië, in Sirië waar ’n sentrum van Hellenistiese kultuur was); Hêlioupolítês (as Songod te Hêlíou pólis in Egipte, tans Baalbek); Adádos (uit die Kanaänitiese Hadad en Assiriese Adad); Kasíos (van die berg Kásios, moderne Jebel Aqra, op die grens tussen Sirië en Turkye); Labrándos (aanbid in Karië, afgebeeld met die dubbel-byl, lábrus); Meilíchios (die genadige, aanbid in Athene); Naós (aanbid te Dôdôna in Epirus/Êpeiros, die oudste Orakel in Griekeland - asook daarby as bouleús aanbid is); Tallaíos (as die Songod op Kreta); Ithomátas (waar Zeús op die bergvesting van Ithômê in Missenië aanbid is).

Deel 4 volg binnekort.

Lees ook

Zeús, Oppergod van die antieke Griekse panteon, en die rare boodskap wat hy vir ons vandag nog inhou: deel 2

Zeús, Oppergod van die antieke Griekse panteon, en die rare boodskap wat hy vir ons vandag nog inhou: deel 1

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top