Zeús, Oppergod van die antieke Griekse panteon, en die rare boodskap wat hy vir ons vandag nog inhou: deel 1

  • 0

[Skrywersnota: Ek het in hierdie stuk, as ’n eksperimentele nuutjie, die oorspronklike aksente ingesit by die transkripsies van Griekse, Sanskrit, en Hebreeuse woorde en eiename. Die Griekse ou word gereeld as oe in Afrikaans uitgespreek.]


In die ná-mitologiese, dws historiese, tydvak van ou Griekeland was Zeús die Oppergod van hulle komplekse panteon van 12 gode (dôdekátheon) wat hul permanente verblyf gehad het op die Berg Ólumpos (met 2 985 meter die hoogste berg in die Griekse Balkan), geleë reg op die grens tussen Thessalië in Noord-Griekeland en Macedonië. Hierdie berg het uitgekyk oor die Témpê-vallei, ’n diep ingesnyde Dal waar die Thessaliese Pêneiós-rivier deurgevloei het tussen die twee berge Ólumpos en Óssa. Hierdie 12 Olumpiese gode (ses manlik en ses vroulik) was almal familie van mekaar. Maar enkele ander gode word soms ook as Olumpiane ingereken, soos (veral) Dionúsos (die Wyngod) en Hadês (die god van die Onderwêreld). Ander gode wat tradisioneel by die lys hierbo bykom, is ook Dêmêter en Túchê (die Noodlot). Hierdie lys is egter nie absoluut vas nie.

Krónos en sy vrou Rhéa. Foto: dante.udallas.edu

Na ’n tienjarige oorlog waarin Zeús en sy kinders die Titánes (in die oud-Griekse mitologie ook 12 reuse wesens [vgl Genesis 6:4 se něfilim - in Hebreeus] as kinders van Ghê/Ghaîa, die Aarde, en Ouranós, die Hemel, wat eertyds oor die wêreld regeer het, verslaan het, het die eerste generasie Olumpiese gode na vore gekom as die kinders van die eertydse twee Titánes Krónos en sy vrou Rhéa, naamlik Zeús, Posei(á)dôn, Hêra, Dêmêtêr (en Hestía); waarna Zeús se eie kroos later ook bygekom het, naamlik Athêna, Apóllô[n], Ártemis, Árês, Aphrodítê, Héphaistos en Hermês. Hierby kom dan ook die latere Dionúsos/Diônusos, dit is die Wyngod Bacchus in Latyn, Bákchos in Grieks – wat van Lidiese (Klein-Asiatiese) oorsprong was, en Hadês, die god van die Onderwêreld, wat ook ’n broer van Zeús was. [Hadês kom oorspronklik uit *A-Fídês: volksetimologies vir “die plek wat on-sigbaar is/wat of waar nie gesien kan word nie”, geskryf met ’n alpha-privativum (vir non, “nie”), en waar dit in die eertyds sillabiese Lineêr-B daarby ook nog geskryf was met die nou obsolete dígamma F, oftewel “w”-klank, soos ons dit vandag nog het in Latyn video, “ek sien” (vgl. tele-visie, “wat ver sien”) - ’n klank wat ons ook dikwels (vandag nog) prosodies moet veronderstel by Homerus/Hómêros in sy twee groot eposse, die Ilias en die Odduseia. Dit was iets wat Richard Bentley van Cambridge (1662-1742), heel merkwaardig genoeg, die eerste was om uit te gewys het, nog lank voordat Lineêr-B in 1952 eers deur Michael Ventris en John Chadwick, ook van Cambridge, ontsyfer is.] Hadês was dus ook ’n Olumpiaan, maar sy domein was die Hiernamaals van ’n donker Onderwêreld - met Tártaros, die diepste Hel van Vergelding, nog verder daaronder. Hêraklês, die deurlugtige en vermaarde oud-Griekse held, sou na sy apothéôsis (vergoddeliking) ook op Ólumpos gaan intrek het. So ook, onder andere, die Mousaí, oftewel Muses, die nege dogters van Mnêmosúnê, godin van die skone kunste - naamlik Kalliópê (epiese digkuns), Kleiô (geskiedskrywing), Eutérpê (fluitspel), Melpoménê (tragedie),Terpsichórê (dans), Eratô (die minnedig) Polumnía (die gewyde lied), Ouranía (astronomie), en Tháleia (die blyspel), asook natuurlik ook die drie Grasieë (Chárites, as dienaresse van Aphróditê, naamlik Aglaïa, Euphrosúnê en Thalía). Die getal van die oud-Griekse veelgodedom is (egter) op 12 vasgestel, soos ons dit ook letterlik lokaal aantref op die eiland Dêlos in die Egeïese/Middellandse See, by Chalkêdôn (Chalc[h]edon, oorkant Bizántion/Konstantinopel/ Istanbul by die Bósporos, “Ox-ford” wat die See van Marmora met die Swart See verbind), in Magnesië, by die Maíandros-rivier in Klein-Asië, en ook by Leontînoi in Sicilië). Die oud-Griekse historikus Thoukudídês (6.54.6-7) vertel ons dat die árchôn (hoofmagistraat) Peisístratos in ongeveer 522 vC ’n altaar van 12 gode op die Atheense Agorá (Mark) laat oprig het. Die Homeriese Himne aan Demeter het die getal Olumpiane ook op 12 gestel, en so ook Píndaros (Olumpiese Ode 10.49).

In die oud-Griekse monogame tradisie was Zeús die opperste veelwywer, veral by sterflike (aardse) vroue, maar ook by onsterflike godinne self. Sy eintlik gemalin, oftewel vrou, was Hêra, wat ook sy suster was (’n soort huwelik wat ook gereeld in ou Egipte voorgekom het soos ons ook in die papiri lees wat daar opgegrawe is). Zeús het egter vir Hêra baie gekul, iets waaroor sy baie jaloers was. Dit was egter, so het hy (Zeús) seker gemeen, sy reg as Oppergod omdat hy geen verantwoording hoef te gedoen het nie. Indertyd, lui die mite, het Zeús die Nimf Échô aangestel om Hêra se aandag deur voortdurende gesprekke af te trek wanneer hy besig was om haar te verneuk. Toe Hêra hierdie truuk van haar man agterkom, het sy Échô vervloek om voortaan net die woorde van ander sprekers te kon herhaal, sonder om ooit weer ’n eie sê te hê. Daar is al bereken, deur die volle oud-mitologiese spektrum deur te werk, dat Zeús nie minder as 115 minnaresse gehad het nie, by wie hy 140 kinders sou verwek het – altans, net waarvan ons vandag weet. Eintlik was Zeús agtereenvolgens amptelik getroud met net drie vroulike godinne, naamlik Mêtis (“Wyse Raad”), Thémis (die natuurlike vasgelegde “Reg”) en Hêra (wat “Behaaglikheid” beteken as ons die spiritus asper na ’n spiritus lenis sou omdraai). Daar kom verslae in die oud-Griekse mitologie voor waarin van Hêra gesê word dat sy ook maagdelike geboortes geskenk het (soos by Éris [“Twis”], Ángelos [die bode van die godinne >“Engel”), Eileíthuia [die Geboortegodin], en Enuô [die godin van Oorlog]). Eweneens, word ook gesê dat Arês (die manlike Oorlogsgod), Hêbê (“die god van Adolessensie, van puberteit tot mondigwording”) en Hêphaistos (die god van Vuur en die Smeedkuns) eintlik partenogeneties (maagdelik) by Hêra gebore is. Homerus (Hómêros) vertel ons dat omdat Hêphaistos gebreklik en verlam gebore was, Hêra hom uit die Hemel (die Berg Ólumpos) uitgesmyt het omdat sy haar vir sy voorkoms geskaam het, waarop hy toe op die eiland Lêmnos in die Noordelike Egeïese/Middellands See geland het. Op hierdie eiland het daar toe ook later ’n belangrike kultus van Hêphaistos ontstaan. Hier, so vertel Hêródotos ons, het die Pelasgiërs (die oorspronklike inheemse “Seevolk” wat die Griekse Balkan bewoon het lank vóór die Griekse intog destyds uit die Suide van Europa) hulle toe gaan vestig nadat hulle uit Attika verdryf is. Hulle het egter Atheense vroue met hulle saamgeneem, moeders wat daarom die kinders wat uit hulle gebore is, net Attiese Grieks leer praat het. As wraak het die Pelasgiërs (wat natuurlik, as oorspronklike inboorlinge van ou Griekeland, nie Grieks kon praat nie, en dus Bárbaroi was) toe al daardie vroue doodgemaak. Die Grieke het daarna altyd van wrede en gruwelike dade as “Lemniese dade” gepraat. In Moderne Grieks word die Klassieke “ê”, as gevolg van itasisme, as “i” uitgespreek: Lêmnos > Limnos.

Die herkoms van die godin Aphrodítê

Aphrodítê, uitgebeeld in ’n seeskulp, 4de eeu vC. Foto: Wikipedia

Oor die herkoms van Aphrodítê verskil die oud-Griekse mitologie. Volgens Hómêros (Ilias 3.374) was Aphrodítê die dogter van Zeús by Diônê. Die Hoof-Orakel (manteîon) van Zeús (wat maar min plaaslike Orakels gehad het in vergelyking met Delphiese Apollô[n]) was geleë in Dôdôna in Êpeiros (Epirus), Noordwes-Griekeland, teenoor die bekende eiland Corcyra (tans Corfu, by Thoukudídês Kérkura) in die Ioniese See (as onderdeel van die Adriatiese See). Hier sou Zeús by sy gesellin, die godin Diônê, vir Aphrodítê verwek het. Diônê is die vroulike vorm van Zeús self, naamlik uit die Genitiewe vorm van Zeús: < DiF-ós/DiFa, met die dígamma F uit te spreek as “w”.  Met haar eintlike status as ’n Titánes (dws behorende tot die geslag van reusegode wat Zeús voorafgegaan het) mag dit wel suggereer dat hierdie Orakel van oorsprong eintlik Diônê s’n was, en daarby dan ook ’n magtige pre-Hellenistiese godin was. By Dôdôna het Zeús (later) ’n kultus gehad waarvan daar religieuse getuienis is uit reeds die tweede millennium vC, met ’n groot eikeboom as fokuspunt. In Homerus (Hómêros) se Odusseia (14.326-27) was die rites van Zeús daar uitgevoer deur kaalvoet priesters (Selloí) wat op die grond gelê het en die ritseling van boomblare en die ou (eike)boom self waargeneem het. Toe Hêródotos in die vyfde eeu vC daar gekom het, was die oorspronklike vroulike priesteresse, wat “duiwe” (peristeraí) genoem was, reeds met manlike priesters vervang. Volgens Hêsíodos weer, in sy Theogonía (183-200), is Aphrodítê, die godin van die skoonheid en sensuele liefde, digby Páphos in Ciprus (of alternatiewelik op die eiland Kuthêra aan die Lakoniese kus van die Peloponnees) gebore. By Páphos sou Aphrodítê uit die seeskuim (aphrós) gebore gewees het, tot lewe bevrug uit Ouranós se saad, toe Krónos hom daar dodelik aan sy genitalieë verwond het. In die Oudheid was daar ’n beroemde voorstelling, in beeld, waar hierdie godin van volmaakte skoonheid uit die see aangestap kom na die land, verruklik mooi vir die oog om te aanskou.

Die altare van Olumpiese en aardse gode

Die eschára, altaar van ’n opperste godheid. Foto: Wikipedia

Die Olumpiese gode word gewoonlik gekontrasteer met die chtoniese (aardse én onder-aardse) gode (waaronder Hadês) waar laasgenoemde hulle offerandes in bóthroi (Latyn scrobes, dit is gate of holtes in die grond) of in ’n mégaron (soos die groot saal van ’n paleis, by die eertydse Mukênê/Mukênai) ontvang het, terwyl die 12 Olumpiese gode eerder by hulle diverse gevestigde altare oor die oud-Griekse wêreld heen met hierdie offerandes aanbid is. Die altaar van ’n opperste godheid was ’n eschára (brand-altaar of haard, ara in Latyn) genoem, en dié van ’n halfgod of held ’n estía (focus in Latyn). In pre-histories Griekeland is op tafels geoffer. In argaïese Griekeland was daar nog van rowwe primitiewe, onafgewerkte altare gebruik gemaak. Blok-altare was later ook gebruik as die fokuspunte vir offerandes en aanbidding. Baie hoë blok-altare is later ook in Ioniese Klein-Asië gebou wat netjies afgewerk was met met trappe wat bo na die offer-platform gelei het.

Die groot altaar by Pergamum in Klein-Asië was byvoorbeeld 40 voet hoog, en dié by Sirakuse op Sicilië en Parium in die Trôás (moderne Turkye), word ons vertel, was selfs een stádion hoog, dws gelyk aan die lengte  van ’n renbaan soos by Olumpía op die Peloponnees. In die Hellenistiese tydvak het ronde altare ook soms voorgekom (terwyl die latere Romeine dit altyd vierkantig verkies het). Die altare van gode was die plek waarheen vlugtelinge en smekelinge hulle vir beskerming kon wend. Sien hier verder CG Yavis se Greek Altars van 1949.

In Handelinge 17:23 in die Christelike NT vind ons dat toe Paulus die Atheners op die Areópagus toegespreek het, hy hulle verwys het na ’n altaar (bômós, Latyn altare) waarop hy in hulle stad afgekom het waarop geskryf gestaan het” “Aan ‘n onbekende God” (ΑΓΝΩΣΤΩ θΕΩ in Griekse hoofletters). Dié wat die rasionele Griekse gees en denke ken, meen dat dit eerder vertaal moet word as “Aan ’n God wat nie geken kan word nie”. Hulle het Paulus by dié geleentheid ’n “praatjiesmaker” (‘n spremológos, vers 18) genoem – en daarom het Paulus geweet dat hy nooit ’n aanvaarbare brief aan die Atheners sou kon skryf nie, al wou hulle “altyd graag iets nuuts te sê en te hoor” gehad het (vers 21). Watter tour de force sou dit nie kon gewees het nie as Paulus ook ’n skrywe aan die destydse (én antieke) sentrum van die gekultiveerde profane Griekse Ou Wêreld kon gerig het nie! Interessant is dat vir die huisvesting van die antieke kultus-beeltenisse oikoí (“huise”) gebou was, soos later op die Apkrópolis in Athene). Dít verteenwoordig dan óns moderne kerkgeboue.

Die etimologiese herkoms van die name Zeús, Juppiter, en Jahwêh

Dit is feitlik seker dat die eerste Grieke wat die Balkan binnegekom het teen die einde van die derde of begin van die tweede millennium vC die Indo-Germaanse god Zeús saam met hulle ingebring het. Dit het gelei tot ’n uiters interessante teorie, waaraan selfs die naam van die Joodse Bondsgod, naamlik Jahwêh (wat 6 823 keer in die OT voorkom, en so heilig was dat die Jood dit nooit mag uitgespreek het nie, maar in plaas daarvan altyd Adonâi, “Here” moes gesê het – sien Eksodus 20:7 en Deuteronomium 5:11) geknoop kan word, sowel as die naam van die Latynse Oppergod Jup(p)iter. In Attiese Grieks kry ons Zeús, en Deús in Ioliese Grieks. Die gevestigde (pater familias) uitdrukking Zeú patêr (“Vader Zeús”), as aanroep, voer ons terug na die oud-Latynse Jup(p)iter, waarvan die Genitiewe naamval Djovis-pater is (vgl hier JB Hofmann, Etimologisches Wörterbuch des Griechischen, München, 1950, p 102, sub voce). Dit verwys beslis na “(die helder) lig”, dit is die “Vader van lig en (alle) lewe”. Hierin  kan ons onmiddellik die Sanskrit woord vir “dag”, “lig” en “hemel” raaksien, naamlik dyâúch (vir Latynse dies, en maklik met ons “dag” te vergelyk is, en ook net so ook verwys na “die helder lig” (van die son). Sien hier ook Arthur A Macdonell, Sanskrit-English Dictionary, London, 1893, sub voce). Die Latynse dies (“dag”) korrespondeer weer met die Griekse woord vir “god”, naamlik theós. En die Latynse adjektief vir “heilig”, naamlik divus, korrespondeer weer met beide. Waar daar lig is, is daar ook die heilige beginsel van lewe. Die Hebraïs, Samuel Prideaux Tregelles, in sy Gesenius’ Hebrew and Chaldee Lexicon, p 337, sub voceJAHWEH”) het die Griekse Zeús, die Latynse Jup(p)iter, en die Hebreeuse Jahwêh, hier etimologies bymekaar uitgebring, en die oorsprong daarvan teruggevoer na oer-oue Egipte waar die wonderbaarlike piramides verskeie millennia gelede opgerig is vir die kadawers van die Farao’s. [Die woord “piramide/piramied” kan ons, volgens Hêródotos, wat dit 25 keer gebruik in sy “Geskiedenis van die Peloponnesiese Oorlog”, aflei van die Griekse naam vir ’n soort oud-Griekse spitsgebakte brood, wat hulle puramís, Genitief -idos, genoem het: vgl JE Powell, A Lexicon to Herodotus, tweede uitgawe, 1977, p 328 sub voce].  Al drie die groot Godsname, naamlik  Zeús (Grieks), Jup(p)iter (Latyn) en Jahwêh (Hebreeus) kan dus etimologies teruggevoer word na een en dieselfde bron van oorsprong in benaming. Uiteindelik het dit die hoofgod van drie verskillende vorme van aanbidding (godsdienste) geword het. Hierna sal ons in besonderhede sien dat Zeús reeds op Kreta [Krêtê] vanuit Egipte) bekend was nog lank vóórdat die intog van die eerste Grieke na die Balkan vanuit Suid-Europa plaasgevind het. 

Altaar toegewy aan Juppiter. Foto: Wikipedia

In Sanskrit lees ons ook van Dyāus pitā, (in Latyn “Diēspiter”, ’n ander naam vir Jup[p]iter), wat ons sou kon opneem as “Heilige Vader (Zeús)” – “Vater Himmel” by JB Hofmann (op.cit., loc.cit.). Hierin sien ons duidelik die Latynse dies, “dag”, en divus, “heilig”, asook die Griekse patêr, “vader”. Die hoofattribuut van Zeús, Jup(p)iter en Jahwêh was (helder) lig, iets “heiligs”, soos in die daaglikse Son-Lig. En ons verstaan dan ook hoekom die Son so wyd aanbid is in die Ooste. Inderdaad, die grootste woorde wat ooit uitgespreek was, staan sekerlik in Genesis 3:1, “Laat daar lig wees!”(wajěhi ‘ôr). En hierdie sentrale begrip van “lig” (contra die “duisternis”) het die basiese nomenklatuur van die name van al drie Gode gevorm. Lig en Lewe, teenoor die duisternis. Die positiewe teenoor die negatiewe; die konstruktiewe teenoor die destruktiewe. Daar kan maar net één werklikheid bestaan is geredeneer – soos ’n muntstuk, monolities, met sy twee kante van die kopstuk en keersy. Die oud-Griekse voor-Sokratiër en atomis, Dêmókritos van Ábdêra (gebore teen 460 vC), het daarop gewys dat die nie-Synde (tò mê ón) net so ’n werklikheid is as die Synde (tò ón). Die fisiese balans van die skepping lê juis daarin (waar daar ’n op is, is daar ook ’n af om dit te balanseer), sowel as die eties-metafisiese tussen goed en sleg. Die teologiese implikasie hiervan is natuurlik verreikend: waar kom die kwade en bose vandaan, en wie het dit geskep as God slegs goed is? Sal die Skepper-God van alles dan ook sy eie Opposisie geskep het? Die huidig-aanvaarde teologiese verklaring (dat die Duiwel ’n afvallige Engel was) is hier sekerlik suiwer mitologies (’n mite gepopulariseer deur John Milton [Paradise Lost] en Joost van den Vondel [Lucifer]). Vgl hier die pseudepigrafiese “Etiopiese Boek van [H]enog” (waar ook gehandel word oor die kwessie van die bestaan van engele, die aard van die Hel, en die aard van die ewige Paradys, die Bybelse begrip van “die Seun van die Mens”, ensovoorts), en waarna die Duiwel (as die donker “Duisternis”) ook as “swart” verwys word teenoor God (as die enigste bron van Lig). Hier het ons te doen met die twee kante van dieselfde munt (waarna ek pas verwys het). Daar kon, “van die grondlegging van die wêreld af”, maar net één fisiese met één metafisiese werklikheid bestaan het. Maar hierdie is ook ’n tema vir ’n ander dag.

Lees ook deel 2

Zeús, Oppergod van die antieke Griekse panteon, en die rare boodskap wat hy vir ons vandag nog inhou: deel 2

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top