Zeús, Oppergod van die antieke Griekse panteon, en die rare boodskap wat hy vir ons vandag nog inhou: deel 2

  • 0

Kreta, in rooi aangedui. Foto: Wikipedia

Is Zeús op Kreta gebore?

Die Kretensiese mite van die geboorte van Zeús (en sy dood daar), is sekerklik ook vóór-Indo-Germaans – veral in die lig van die herkoms van die naam “Zeús” soos ons pas gesien het. Kreta (Krêtê) was in die oertyd die halfwegstasie in die Egeïese/Middellandse See tussen Egipte in Noord-Afrika en die latere Griekeland as (weer) deel van Wes-Europa. Kreta was inderdaad die bakermat van die Europese beskawing wat baie eeue later eers sou volg. Kreta was al reeds die verblyfplek van ’n soort hominiede (menslike wese) teen 13 000 v.C. Dit was vanuit ou Egipte dat die naam van Zeús as Songod, naas die latere Rê, gekom het en só oor die hele Ou Wêreld versprei het. In die Ooste was daar later ook die Persiese songod Mithras. Die Romeinse keiser Commodus (180-92 AD) het in sy tyd inderdaad Mitraïsme tot staatskultus verklaar. [Die ooreenkomste tussen Mithraïsme (en daarby Zoroastrianisme) en die Christelike dogma is so groot dat dit nie misgekyk kan word nie, soos byvoorbeeld die simboliese gebruik van water, wyn en brood.

Die vroeë Noord-Afrikaanse kerkvader Tertullianus het die kultus van Mithras beskou as ’n “duiwelse parodie” op die gebruik van die Christelike sakramente. Die ou Kerkvader had dit egter gruwelik mis: net soos die leer van die Zoroastrianisme het Mithraïsme egter in feite die Christendom met eeue  gepredateer, oftewel voorafgegaan. Sien hier byvoorbeeld L Mills, Our Own Religion in Ancient Persia, Leipzig, 1913; asook Eduard Meyer, Ursprung und Anfänge des Christentums, vol. II, 1921, pp. 58-94; en C Autram, Mithra, Zoroastre et la préhistoire aryenne du christianisme, in Bibliothèque Historique, 1935, pp 137-269; asook James Hope Moulton van King’s College op Cambridge se Early Zoroastrianism (sy Hibbert Lectures for 1912-1913)]. Hierdie is nóg ’n tema vir ’n ander dag.

Standbeeld van Zeús, wat in 1680 in Smirna ontdek is. Foto: Wikipedia

Om die twee uiteenlopende afkomste van Zeús in die mitologie te versoen, naamlik dat hy van Oosterse sowel as Indo-Germaanse afkoms is, sal die onderwerp vir volledige navorsing vereis deur ’n veelsydige etimoloog en ’n kultuurhistorikus. Ek het pas hier, vir die eerste keer, hierdie afleiding op skrif gestel (naamlik dat die naam van die Hoofgod van drie groot godsdienste tans ter sprake) een en dieselfde oorsprong het – tentatief, maar met redelike sekerheid. Alleen só gesien kan hierdie oeroue kontradiksie besleg word, naamlik dat Zeús op Kreta (uit Egipte) en terselfdertyd ook in Indo-Germaanse Europa aanbid is. En dit maak sin in die lang religieuse (godsdiensfenomenologiese) geskiedenis van die mensheid in die Ooste én die Weste. [Die Oosterse Boeddhisme (< Buddha, Sanskrit vir “verligting”) is eerder ’n lewenswyse as ’n godsdiens]. Alle mitologieë (Oosters én Westers) bevat historiese kerne, waarvan die meeste as etiologies (verklarend) bedoel was.

Die Kretensiese weergawe van die geboorte (en dood) van Zeús, is ’n besonder interessante een. Die Titaan Krónos, so lui die mite, het elke keer wanneer ’n seun vir hom by sy gemalin Rhéa gebore word, dit as baba ingesluk, omdat daar ’n professie (orakel) was dat een van sy eie seuns hom eendag nog sal doodmaak en hom van sy troon stoot net soos hy dit met sy eie vader Ouranós gedoen het. Toe Rhéa vir Zeús verwag het, het sy Krónos met ’n slim plan om die bos gelei deur ’n klip in babaklere toe te draai en dit vir hom te gee om in te sluk in plaas van die pasgebore Zeús self. Hierdie Zeús is toe in die geheim na Kreta weggeneem waar hy in ’n grot aan die Bok-Nimf Amáltheia gedrink het om te oorlewe (só volgens Hyginus, Fabulae 139, en Kallímachos frag 49), maar ’n ander bron sê daardie Nimf was Adrásteia. Die geskree van baba Zeús is verberg deur die luide oorlogsdanse en wapengekletter van Rhéa se priesters, die Kurêtes. [Die Kurêtes was semi-goddelike wesens (so volgens Hêsíodos, fragment 198, maar Rzach het hulle ware theoí, “gode”, genoem) wat in Kreta hul tuiste gehad het: vgl hier, onder andere, die Alexandrynse digter Kallímachos, Jovis, 52 vervolgens, en sien H Jeanmaire se Couroi et Courètes van 1939]. Die mite lui ook verder dat baba Zeús tussen die Hemel, See, en die Aarde aan ’n tou gehang sodat sy vader Krónos hom nie kon raaksien nie. Pseudo-Apollodôros (Bibliotheca 1.1.5-7) vertel ons dat Zeús deur Amáltheia grootgemaak is in ’n grot met die naam Diktaîon Ántron (“die Grot van Zeús Diktaîos” –  só vernoem na een van Zeús se epítheta (sier-adjektiewe): vgl Strábô[n] 10.4.12, met ook verwysing hier na die Psuchròn Spêlaion (die “Koue Grot”) in Kreta – maar daar word ook na ’n alteratiewe grot op Kreta aangewys vir Zeús (sien hierna by Díktê/i Óros, die Berg Dikti). Hier het Zeús toe groot geword en is later ook daar op Kreta dood.

Maar hy sou met die omkeer van elke jaargety, vanuit die vaal winter na die groen somer, wéér in hergeboorte opgestaan en verskyn het vir ’n nuwe groei-lewe in na/die natuur, om daarna net weer te sterf – soos die vegetariese seisoene in plantegroei wissel en mekaar opvolg. Hierdie was ’n ou motief in die oud-Griekse mitologie by sommige godhede, soos die koringkorrel wat sterf as dit ontkiem, maar weer nuwe korrels lewer met die oes. Vergelyk hier, byvoorbeeld, die verhaal van Dêmêtêr en Persephónê by Eleusís in ou Griekeland, en die misterie-godsdiens wat daar in die klassieke tyd bedryf is. [Eleusís was ’n Attiese dorpie, 10 myl Noordwes van Athene (Athênai/Athênê), teen die see op pad na die Peloponnees. Dit word reeds in die “Homeriese Himne aan Demeter” vermeld. Die Perse het die heiligdom hier in 490 vC verwoes, maar Periklês van Athene het dit weer laat heropbou. Reste daarvan kan vandag nog daar gesien word, soos die propúlaia, oftewel entrée (voorhof) van die burg daarvan, en die groot “Saal vir Inwydinge” – wat weer deur die Romeine herbou is]. Richard Wyatt Hutchinston, Prehistoric Crete (Harmondsworth Penguin), 1968, p 204, asook Bernard Clive Dietrich, The Origins of Greek Religion (de Gruyter), 1973, p 16, voetnoot 78, wys daarop dat daar nêrens in die oorgelewerde oud-Griekse letterkunde ooit na die dood van Zeús (op Kreta of elders) verwys word nie. Zeús was immers die ou Grieke se onsterflike God. Hierdie is ’n belangrike gegewe feit in die oud-Griekse religieuse teorie.

Die grot van Zeús, Berg Idhá. Foto: Wikipedia

Daar is later op Kreta gepraat van Zeus Velchanos (die “Seun Zeús”), of net eenvoudig van die Koûros (“Seun”, “Kind’, of “die Jongman”) met sy lang hare en jeugdige Minoïese (oud-Kretensiese) gelaatstrekke. Hierdie grot waarin Zeús op Kreta weggesteek was, word vandag op twee verskillende plekke in moderne Kreta aangewys, naamlik op Óros Idá/Idí (die Berg Idha/i) in Sentraal-Kreta, wat vandag ook Psêloreítês (“die hoë berg”) genoem word (dit is naamlik 8 057 voet hoog), ’n berg wat geëer was as die locus van Zeus se grot deur die eertydse Minoërs én die latere Hellene), óf (meer) spesifiek in die Spêlaio Psuchroú, oftewel die “Koue Spelonk/Grot”op Óros Díkti in die Lasíthi plato-vlakte. Laasgenoemde spelonk of grot is die nimlike Diktaîon Ántron, waarna reeds hierbo verwys is, geleë in die Ooste van die eiland Kreta, digby die moderne Lúktos/Lúttos. Sien hier DG Hogarth, “The Cave of Psychro in Crete” (in The Journal of the Anthropological Institute of Great Brittain and Ireland 30 [1900], p 90 vervolgens). Dit is slegs in die “Koue Grot” by Berg Díkti en by (Berg) Psêloreítês waar menslike beelde van klei gevind is. Die artefakte van eersgenoemde vind ons vandag verspreid in die Heraklion Museum (op Kreta), die Ashmolian Museum op Oxford, en in die Britse Museum en Louvre in Parys. Die historikus en argeoloog John Boardman het in 1961 ’n katalogus gepubliseer van al die fondse wat hier gemaak is. Die Griek Joseph Hatzidakis van Chanía (Kandia) op Kreta was die eerste om opgrawings by hierdie grot te maak in 1886, 10 jaar later opgevolg deur sir Arthur Evans (sien sy “Further discoveries of Cretan and Aegean scripts” (in Journal of Hellenic Studies 17 [1897], pp 305-57).                   

"Die "Kerk van die Kruis" op Berg Idhá. Foto: Oikos 1900

Volgens Hêsiodós, Theogoanía 477-84, het Rhéa aan Zeús geboorte gegee op Lúktos, en hom toe gaan wegsteek in ’n grot by die Berg Aigaiôn op Kreta, waar Spartaanse koloniste, wat hulleself “Doriërs” genoem het, vir Apóllô[n] aanbid het. Op die hoogste punt van Berg Idhá (pas hierbo genoem) staan daar vandag ’n Christelike kerkie (kapelletjie), naamlik die “Kerk van die Kruis” (Tímios Staurós). Hierdie klein kapelletjie moes daar lank voor die aanbreek van die 13de eeu gebou gewees het. Nadat dit later (om onbekende redes) verwoes is, is dit teen die begin van die 14de eeu weer herbou. Die apsis (rond uitgebou vir die koor) van die oorspronklike kerkie uit die 13de eeu was versier met talle fresco’s, wat vir ons vandag deur die argeologiese “tegniek van afskildering” ontbloot is Dit lê ágter/onder ’n dergelike reeks muurskilderinge wat vroeër aangebring was. In die vroeg-14de eeu is die “Kerk van die Kruis” weer opnuut herbeskilder deur twee kunstenaars uit dieselfde skool, wat egter verskillend te werk gegaan het. Die eerste kunstenaar se werke (in meer helder kleure, en met ’n neiging om liniêre lyne te gebruik en sy afbeeldinge te idealiseer) sluit die volgende in: ’n aftekening van die Almagtige (in die koepelgewelf), en die vier Evangeliste (in sferiese driehoeke); die “Afdaling na Hades”, die “Mariaboodskap”; die “Plaasvind van Pinkster”; die “Hemelvaart”; die “Heilige Veronica” (die vrou van Jerusalem wat, volgens ’n Franse oorlewering, die sweet en bloed van Jesus se gesig, op weg om gekruisig te word, met haar kopdoek afgeveeg het); en die OT “Profete” (met sterk skouers en relatiewe groot koppe).

Die tweede kunstenaar het ook talle soortgelyke fresco’s met Bybelse (NT) temas bygevoeg aan die Westelike, Noordelike en Suidelike mure (apsis en ’n boog-gewelf ingesluit). By hom kry ons nie minder nie as 13 tonele uit die lewe van die Maagd Maria. Hierdie siklus sluit in: die offerandes van Joachim en Anna; die Ontvangenis (Konsepsie) van Maria; die geboorte van Maria; die seën-uitspraak van die priesters oor Maria; die gebed van die priesters vir Maria; die oorgee van Maria aan Josef (dit is haar verlowing aan Josef); Josef se gesprekvoering met Jesus; die Maria-boodskap by die fontein; en die omhelsing van Maria en Elisabeth. Verder kry ons hier ook die verheerliking van Jesus op die berg; die laaste avondmaal van Jesus saam sy dissipels; die verraad van Judas teenoor Jesus; en die genesing van kreupelgeborene; Jesus voor die regterstoel van Pilatus; die kruisiging van Jesus; Jesus en die Samaritaanse vrou by die put.

By die Weste en Suidelike ingang van die kerkie vind ons afbeeldinge van keiser Konstantyn die Grote (wat met die Edik van Milaan vroeg in 313 die Christelike Kerk die staatskerk gemaak het) saam sy moeder, die Heilige Helena. Ek het kortliks oor die ”Kerk van die Kruis” uitgebrei omdat ons dit vind presies op die profane Zeus, Oppergod van die oud-Griekse panteon, se ewe “heilige” berg Idha in Kreta. Die oud-Griekse godsdiens en dié van die Christene ontmoet mekaar hier konkreet.

In sy Historiae (5.1-13) weet die Romeinse geskiedskrywer Cornelius Tacitus ons te vertel dat die Jode oorspronklik, as ballinge, uit Kreta afkomstig was, in die tyd toe Saturnus deur Jup(p)iter uitgedryf is. Sy argument plaas hy verder (bk 5.2) op grond van die etimologie van die Latynse Judaei vir die naam van die Jode, as sou dit verwys na die berg Idhá op Kreta vir die herkoms van die Jode, waar Idaei toe Iudaei geword het omdat die vokaal “i” (soos by Idha) op “barbaarse” wyse verleng is tot “iu” (en die beginvokaal “i” nou die medeklinker “j”geword het). [Die bron van my skrywe hier kom van die Inligtingsburo van die Gemeenskapsraad van die dorpie Peléndri, geleë aan die voet van die Troodos-gebergte in die distrik Pitsilai in mid-Westelike Kreta.]

Op muntstukke uit Kreta wat teruggevind is, word Zeus Velchanos as ’n arend voorgestel (foto hierbo van Wikipedia) wat altyd saamgespan het met die godin wat mistieke huwelike voltrek het. Inskripsies wat by moderne Górtun en Lúktos op Kreta gevind is, verwys ook nog steeds na die “Fees van Velchania” in die Hellenistiese tydvak (ong 323 vC, met die dood van Alexander die Grote, tot 31 vC, met die slag van Actium in Epirus [Épeiros] in Noordwes-Griekeland aan die Ambrakiese Golf, toe die Romeinse keiserryk tot stand gekom het. Die Grieks-ongewone term “Velchanos” waarmee die Kretense Zeús beskryf het, moes die eerste Grieke, toe hulle op die eiland Kreta aangekom het, sekerlik verstaan het dat dit na die Grot verwys waarin Zeús gebore is – waarna sedertdien lokaal verskillend verwys word. In Hellenistiese periode was daar ook ’n klein heiligdom vir Zeus Velchanos opgerig in die Hágia Triáda (die “Heilige Drie-eenheid) van die Minoïese Paleis op Knôs[s]ós wat sir Arthur Evans van Oxford daar opgegrawe het.

Op Kreta was Zeús indertyd voorgestel as ’n jongman met lang hare, en besing as ho mágas koûros, “die Groot Jonge”. Sir Arthur Evans (later kurator van die Ashmolean-museum op Oxford) het aan die einde van die 19de eeu ivoorstandbeeldjies van hierdie “Heilige Seun” in die Labúrinthos (Doolhof – ’n woord wat die ou Grieke by die oorspronklike inwoners van Griekeland, die Pelasgiërs, geleen het) van Gnôs[s]ós op Kreta opgegrawe. By Phaistós, in die Suide van Kreta, is daar weer muntstukke opgegrawe wat aantoon in watter vorm Zeús destyds op die eiland aanbid was: as ’n jongman wat tussen die takke van ’n boom sit met ’n hoenderhaantjie op sy knie.

Die mite van die dood van Zeús is later op Kreta tradisioneel gelokaliseer in die grotte van verskeie bergreekse op die eiland, soos by Knôs[s]ôs, ĺda (in die middel van Kreta) en by Palaikástron, aan die Oostelike einde van hierdie uitgestrekte eiland in die Egeïese See. Die jongste verwysing na hierdie grot op Kreta vind on by Kallímachos, tesame met Antonius Liberalis se vertelling dat daar jaarliks ’n helder vuur begin skyn het by die geboortegrot van Zeús op Kreta (’n grot wat hy met ’n swerm bye sou gedeel het). Dit verwys natuurlik na Zeus Velchanos as ’n vegetatiewe gees wat jaarliks met die nuwe seisoen van groei saamgeval het – ’n uiters gevestigde idee by meer as een godheid in die oud-Griekse mitologie (soos ons reeds gesien het). Die Hellenistiese skrywer Euhêmeros van Sicilië (teen 300 vC), wat gemeen het dat al die oud-Griekse gode hulle oorsprong gehad het in groot konings en helde wat eens geleef het (soos ons dít verneem van die latere Christelike Patristiese skrywers) het dan ook voorgestel dat Zeús eens ’n groot koning van Kreta moes gewees het wat na sy dood gedeïfiseer is, dws as ’n God verklaar is. Weereens: dit is lig, lewe, en groei, wat saamhang.

In die ou mitologieë rondom die Egeïese See vind ons, soos by Epimenídês (en ook by Minos/Mínôs van Kreta – “Minos” wat later die titel van die hoof van die heersende dinastie op Kreta geword het – net soos by die Pharaoh’s van Egipte), dat konings en priesters soms in grotte gebore was wat as plekke van hulle inkubasie gebruik was. Epimenídês sou ’n legendariese profeet en digter van Kreta gewees het wat as seun ook in so ’n grot aan die slaap geval het – om hom voor te berei om sy wyse rypheid te bereik. Eers 57 jaar later sou hy weer wakker geword het, waarna hy tot ’n baie hoë ouderdom sou gelewe het. Daar word vertel dat hierdie Epimenídês Athene tydens die bestuur van Solon (Sólôn, ong 640-558 vC) besoek het, en die stad toe gereinig het van die smet op die moord van Kúlôn (’n Atheense revolusionnaire wat Solon voorafgegaan het). In die Griekse NT haal Paulus hierdie Epimenídês aan in sy Brief aan Titus (1:12, “Die Kretense is altyd leuenaars, ongediertes, lui buike”(Krêtes aeì pseûstai, kakì thêría, gastéres argaí).

Will Durant, The Life of Greece (in The Story of Civilization, Part II, New York, Simon & Schuster, 1939), p 23, had dit tog reg gehad toe hy gesê het die Minoïese kultuur (van Kreta) “by a hundred channels emptied itself into the ‘new’ (i e the period of classical Greece)”. Die Grieke van klassieke Griekeland, ten Noorde, het veel meer van Kreta, ten Suide, geleer as wat soms toegegee word. Kreta was in vele opsigte ’n brug én ekstensie van Egipte in die Middellandse See waaruit die inkomende Grieke (iewers vanuit Europa) in die Griekse Balkan (teen die einde van die derde of begin van die tweede millennium vC) veel meer geleer het as wat toegegee word. Wat bouwerke alleen betref, dink maar aan die magalitiese konstruksies by Mukene (Mukênê/Mukênai) se Leeupoort en bouwerke by Karnak ten Noorde van Luxor aan die regteroewer van die Nyl in Egipte. Daardie oerskakel lê veral ook in die prehistoriese oud-Griekse mites opgesluit. ’n Goeie voorbeeld hier is die twis tussen die Danaós met sy 50 dogters (later koning van Árgos op die Peloponnees) en sy broer Aíguptos met sy 50, die tragiese verhaal wat ons by Píndaros, ou Griekeland se grootste koorlirikus, terugvind in sy “Negende Puthiese Ode”, reël 193 vervolgens.

Word vervolg

Lees ook

Zeús, Oppergod van die antieke Griekse panteon, en die rare boodskap wat hy vir ons vandag nog inhou: deel 1

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top