Zeús, Oppergod van die antieke Griekse panteon, en die rare boodskap wat hy vir ons vandag nog inhou: deel 4

  • 0

Die amoreuse Zeús verneuk sy vrou Hêra deur verskillende gestaltes aan te neem

Deur ’n uiters skelmstreek het Zeús die vader van Heraklês geword by Alkmene (Alkmênê) op wie se skoonheid hy dolverlief geraak het. Alkmênê, die verloofde van Amphitrúôn, was die seun van Alkaîos en ook die neef van Eléktruôn, koning van Mukene (Mukênê/Mukênai) en Árgos, alternatiewelik, op die Peloponnees. Amphítruôn het toe, heel per ongeluk, die dood veroorsaak van Eléktruôn, en moes vir sy lewe vlug na Thebe (Thêbai/Thêbê) om daar te gaan skuil. Alkmênê het hom ook na Thebe gevolg. Daar aangekom het Alkmênê vir Amphítruôn versoek om oorlog te gaan maak teen die Taphiane en Teleboane, om so die onlangse dood van haar broers te gaan wreek. Die absolute voorwaarde was dat sy hom eers sy huweliksregte sal gee sodra hy hierdie taak vir haar uitgevoer het. In Amphítruôn se afwesigheid het Zeús die kans gesien om by Alkmênê te gaan slaap, presies vermom as haar eie Amphítruôn. Eers pas daarna het die regte Amphítruôn weer by Alkmênê aangekom en ook gemeenskap met haar gehad. Uit hierdie sameloop van omstandighede is daar toe twee seuns gebore, die latere held Heraklês en Íphiklês (wat later ’n makker en handlanger van die einste Heraklês sou word met die uitvoering van sy bekende twaalf take). Die geboorte van hierdie twee seuns was egter vertraag deur Hêra, Zeús se eintlike godevrou (vgl hier Homerus (Hómêros) se Ilias 19.114 vervolgens, en sien ook die meer breedvoerige uiteensetting van wat presies sou gebeur het, by die Latynse skrywer Ovidius in sy Metamorphoses 9.290 vervolgens). Die geboorte van hierdie twee seuns, verwek deur verskillende vaders, het gesorg vir die skep van uiters lagwekkende tonele by Plautus (’n vroeë Latynse komedieskrywer), asook by die moderne Molière en Dryden.  

Standbeeld van Lêda en die swaan. Foto: Wikipedia

Nog ’n aardse vrou by wie Zeus aangelê en kinders verwek het, was Leda (Lêda), die dogter van Thêstios, koning van Aitolië, en die vrou van Tundáreos, koning van Sparta. Vir haar het Zeús in die gestalte van ’n elegante swaan genader (wat later ’n gunsteling onderwerp by antieke kunstenaars sou word). Die gegewens uit die mitologie verskil hier heelwat. By haar sou Zeús, volgens Homerus (Homêros), die skone (“mooihaar”) Helena (Helénê) van Troje verwek het (so ook volgens Apollodôros 3.126). Volgens ’n ander vertelling het Helena uit ’n eier uitgebroei wat Lêda gelê het (en nie Némesis nie : vgl Euripidês, Helena 257-9, wat ook bysê dat die Grieke van sy dag nie meer daarin geglo het nie, maar dat die storie opgemaak is uit wat Kratînos te sê gehad het in Athênaios van Naúkratis se Deipnosophistaí 373 e). Hierdie eier het egter ’n sentrale plek in die mite ingeneem (vgl in die moderne era die ontdekker van die mens se bloedsomloop, William Harvey, se uitspraak: omne vium ex ovo), en hierdie eier was in Sparta bewaar waar die Griekse reisbeskrywer Pausanías (3.16.1) dit glo nog gesien het in die 2de eeu AD. Homerus (Homêros) vertel ons egter niks van hierdie groteske verhaal nie. Zeús sou ook die pa gewees het by Lêda van die tweeling Poludeukês (Pollux) en Kastôr (die sogenaamde Diòs koûroi, oftewel Dioscuri in Latyn, dit is (Fab 77) het hier die naam van Klutaimnêstra bygevoeg, wat later die vrou van Agamémnôn, die koning van Mukene (Mukênai) sou word wat die ou Achaioí (die Grieke) in hul tienjarige oorlog (1194-1183 vC) teen Troje sou aangevoer het.

Zeús was ook die vader van (minstens) drie kinders by Europa (Eurôpê). Europa was die dogter van Agênôr van Túros (Tirus), of die  dogter van Phoîniks, die “Fenisiër” (Ilias 14.321). Toe Zeús op haar verlief geraak het, het hy homself in ’n wonderskone bul verander wat na die strand geswem het waar sy gespeel het en haar so betower het dat sy op sy rug geklim het. Daarop het sy saam die see in geswem en op Kreta geland waar sy in ’n grot op die Berg Diktê geboorte gegee het aan Minos (Mínôs, later die koning van Kreta), Rhadámanthos (wat later die regter geword het oor die dode, en die heerser van die “Eilande van die Geseëndes” (makarôn nêsoi – waar net konings, groot helde en uitstaande vaderlanders sorgvry voortgeleef het), en waarskynlik ook aan Sarpêdôn (aanvoerder van die Lidiërs, as bondgenote van koning Príamos teen die Achajers in die Trojaanse Oorlog van die 12de eeu vC: vgl Ilias 2.876).

Semele (Semélê), die dogter van Kádmos en moeder van die god Diónusos, was ook een van Zeús se minnaresse. Hêra was baie jaloers op haar en het haar man Zeús toe gesmeek om dié in al sy glorie van bliksem en donder te besoek (in die hoop dat sy dan totaal tot as vernietig sou word). Zeús het dit toe ook gedoen, maar hy het die asse van die kind wat hy reeds verwek het in sy dy weggesteek. Hieruit is die onsterflike Dionúsos toe op die regte tyd gebore.

Antíopê van Thêbai. Foto: Wikipedia

Zeús se volgende groot liefde was Antiope (Antíopê), mitologies die dogter van die Rivier Asôpós in Beosië (Odusseia, 11. 260), of Nukteûs, die koning van Beosië. Zeús het haar hier as ’n wellustige Sater (bos- of veldgod, beskermer van die herders, met bokpote en horings) genader, en toe by haar die vader geword van die tweeling Amphíôn en Zêthos. Om die woede van haar vader hieroor te ontvlug het Antíopê toe na Sikuôn (“Komkommerland”, aan die laer Westelike einde van die Korintiese Golf) gevlug. Nukteús was woedend hieroor, en het besluit om selfmoord te pleeg, maar nie voordat hy sy broer Lúkos, koning van Thebe (Thêbai), gevra het om op Aníopê wraak te neem nie. Lúkos het toe ook Sikuôn summier beset en Antíopê gevange geneem. Sy is daarna wreed behandel deur Lúkos juis omdat sy vrou Dirkê weer gemeen het dat sy hóm in haar net sou vang. Uiteindelik het Antíopê daarin geslaag om te ontsnap en weer verenig geword het met haar twee seuns by Zeús wat intussen groot geword het. Dié twee het weer hulle wraak geneem deur Dirkê vas te maak aan die horings van ’n bul wat haar, aan hulle horings, rondgesleep het totdat sy dood is. Ook Lúkos is doodgemaak – of van sy troon by Thebe (Thêbai) afgesit.

Zeús het op ’n keer ook verlief geraak op Kallisto (Kallistô, wat dalk “Ártemis Kallístê” kon gewees het), die dogter van Lukáôn. Sy het toe ’n seun, Arkás, vir hom gebaar (die eponiem vir Arkadië, die bergland, op die Peloponnees). Die jaloerse Hêra het Kallistô toe in ’n berin laat verander. Arkás is daarop groot gemaak deur Maîa, dogter van Átlas en moeder van Hermês by die einste Zeús. Arkás se grootvader Lúkaion wou die alomteenwoordigheid van Zeús op die proef stel deur sy kleinseun dood te maak, die lyk op te kook, en dit as ’n gereg vir gaste voor te sit. Zeús het egter die huis met ’n bliksemstraal verwoes, Lúkaion in ’n wolf verander, en Arkás weer sy lewe teruggegee. Later sou Arkás egter weer sy moeder Kallistô, nou in die vorm van ’n beerwyfie, ontmoet. Arkás het haar toe na  die heiligdom van Zeús op die Berg Lúkaion gejaag, waar beide toe omgekom het. Die Latynse skrywer Ovidius in sy Metamorphoses 2. 496 sê niks van Zeús se heiligdom nie, maar wel dat Arkás haar nie (as sy moeder) herken het nie, en op die punt  gestaan het om haar dood te maak. Vader Zeús het hulle toe onderskeidelik verander in die sterrebeelde van die Groot Beer en Arktophúlax oftewel Biôtês.

Niks en niemand kon Zeús keer om aardse vrouens lief te hê nie. Toe koning Akrísios van Árgos deur ’n orakel verneem het dat sy dogter Danaë (Danáê) ’n seun sal baar wat hom eendag sy troon sal ontneem, het hy haar in ’n digte bronstoring laat opsluit sodat niemand by haar kon kom nie. Maar Zeús het haar wel gaan besoek toe sy naak was in die water van ’n goue bad, en Perseús is gebore – die latere held vir wie Poludéktês sou uitgedaag het om die kop van die vreesaanjaende Médousa te gaan afkap. Akrísios het daarop vir Danaë en haar kind Perseús in ’n kas opgesluit en dit in die see laat gooi. Hulle het toe uitgespoel op die eiland Sériphos (een van die Kukládes, digby die eiland Páros). Daar is hulle toe beskerming gebied deur Díktus, die broer van Poludéktês, die koning van die eiland.

Persephóneia. Foto: Wikipedia

Ander buite-egtelike kinders van Zeús (waaroor die mitologie nie so duidelik is nie), sluit in Persephone (Persephóneia, wat Zeús in die gestalte van ’n slang by die godin Dêmêtêr sou verwek het); Nemensis (Némesis,“Vergeldende Wraak”) met Zeús in die gedaante van ’n gans); Mnemosune (Mnêmosúne, (moeder van die Nege Muses waar Zeús vermom was as ’n skaap- of bokherder); Manthea (Manthéa, met Zeús in die gestalte van ’n beer); Lamia (Lámia, ’n fabelagtige monster wat Zeús as ’n kiewiet besoek het); Imandra (Imándra, vir wie Zeús besoek het terwyl sy besig was om haar [naak] te was); Ganumede (Ganumêde, vir wie Zeús weer verlei het as ’n arend); Eurumedousa (Eurumédousa, vir wie Zeús as ’n mier [múrmêx] besoek het, en van wie ons in die Odusseia 7 en 8 lees); Asopis (Asôpís, waar Zeús hom as ’n vuurvlam voorgedoen het); Kassiopeia (Kassiopêïa en haar man Kêpheûs, koning van die Ethiopië, was die ouers van Androméda wat gespog het dat sy mooier was as die Nereïde, en vir wie Perseús toe moes verlos het van die rots waaraan sy daarvoor vasgeketting was – net om uiteindelik met haar te trou); Aigina (Aígina, waar Zeús hom weer voorgedoen het as vuurvlam, óf as ’n arend, aan die Nimf Aígina, na wie daardie eiland in die Saroniese Golf toe ook vernoem is, en waar Zeús eens die eiland herbevolk het, nadat ’n plaag almal daar uitgewis het, deur toe mense uit die miere [múrmekes] te maak – waar ons vandag die pragtige Aphaía-tempel aantref, en waar die eerste hoofstad van die moderne Griekeland aanvanklik geleë was in hul Oorlog vir Onafhanklikheid teen die Ottoman-Turke in 1821-29/31).

In die kort weergawe hierbo is dit duidelik dat Zeús, die Oppergod van die antieke Griekse panteon, moeders van kinders op die ondermaanse aarde kon verwek of laat gebore word. Dit klop met die latere NT-dogma van die “Maagd” Maria, die moeder van Jesus/Josua (Jěhôsju’a in Hebreeus, met die betekenis van “Jahwêh is redding”). Iêsoûs (Jesus) is in Grieks die “transkribering” van die Hebreeuse naan “Josua”. By Handelinge 7:45 en Hebreërs 4:8 word hierdie naam inderdaad net so gebruik vir die OT Josua. Maria se “seun” Jesus is eers tot God verklaar met die eerste ekumeniese Konsilie van Nicea (digby Konstantinopel) wat in die vroeë somer van 325 (tradisioneel 20 Mei tot 25 Julie van daardie jaar) saamgeroep was deur keiser Konstantyn, wat die Christelike godsdiens in 313, met die sogenaamde Edik van Milaan, tot staatsgodsdiens verklaar het. Die hoofdoel van hierdie Konsilie was om die Ariaanse kontroversie te besleg wat geweier het om die ware godheid van Jesus te aanvaar. Dit is op hierdie Konsilie dat Hosius van Cordova in Spanje voorgestel het dat (die groot “Profeet”) Jesus homo-oúsios (van dieselfde substansie/syn, consubstantialis in Latyn) is as God self. Die volgelinge van die kerkvader Origines het egter gevoel dat daar darem nou te ver gegaan word, en (miskien wyslik) eerder die term homoi-oúsios vir Jesus voorgestel, naamlik dat  hy van “soortgelyke” substansie/syn is. Sien hier JF Bethune-Baker, The Meaning of Homoousios in the Constantinoplitan Creed (Texts and Studies vii, no 1, Cambridge, 1901), asook C Hauret, Comment le défenseur de Nicée a-t-il compris le dogme de Nicée? (dissertasie by die Universiteit Gregoriana, Brugge, 1936). Dit het uiteindelik gelei tot die leer van die “Drie-eenheid” (Grieks triás, Latyn trinitas) in die Christelike Kerk – ’n woord wat mensgemaak is, en nêrens in die NT voorkom nie. Die Griekse triás het Theophilus van Antiochië die eerste keer gebruik (reeds in 180). Die Latynse trinitas het die kerkvader Tertullianus (ong 160 – 220, van Kartago in Noord-Afrika) waarskynlik die eerste gebruik. Dit het die begrip “monoteïsme” in die Christelike Kerk onder groot druk geplaas (vgl hier, o a, die Koran, sura 5.77, waar Mohammed, wat Jesus as Profeet (die belangrike Mahdi aan die einde van hierdie wêreldorde) erken het, dit duidelik stel dat (die ware) God (van ’n suiwer monoteïsme) nie een van drie is nie; en sien ook die OT by Deuteronomium 6:4 ,“Hoor, Israel, die Here onse God is ’n enige Here (Jěhôwâh êchâd)”. Hierdie is egter nóg ’n tema vir ’n ander dag.

Zeús was volgens Homerus (Hómêros) die “Vader van die gode en mense”. Zeús word egter nêrens voorgestel as (’n/die) Skepper nie. Na sy eie arbitrêre keuse het Zeús goed én kwaad  vir die sterflike mens uitgedeel. Zeús was sy eie soewereine norm wat die mens nie straffeloos durf naboots het nie. Die sterflike mens was nie toegelaat om die onsterflike god te emuleer of te wedywer nie. Dit was ’n onvergeeflike sonde (hamartía) en louter onverskoonbare húbris (misdadige oormoed). Zeús was slegs daar as die uiteindelike beskermer wat die mens gesoek het. Zeús het die regte van die konings van Mukene/Mukênai (soms Árgos ingesluit) tot die regeerders van Athene (Athênai/Athênê) beskerm, al was sy aanbidding eintlik in hoofsaak pro forma, dws, net in naam.

Zeús en sy mede, onderdanige, gode het as ’n panteon op die spits van hoogste berg in Griekeland (Ólumpos) gewoon – so na-aan die oneindige sterrehemel en hemelkoepel daarbó as wat moontlik was.

Omdat die Olumpiese godsdiens aan geen moraal verbind was nie (dus a-moreel was), en die gode in hulle optrede as geen etiese voorbeelde vir die sterflike mens gedien het nie, het die Griekse denkers van die klassieke tydvak, filosoof en dramaturg, hard probeer om daardie moraal in hulle voorvaderlike gode te probeer ontdek en dit selfs daar ingesit. In die Hellenistiese tydvak was daar selfs blyke dat die Grieke monoteïsties begin dink het in hulle godsdiens. Hier is die verskillende gode van die ou panteon begin beskou as maar net aspekte van die Oppergod Zeús (van wie dit vir die Grieke onmoontlik was om na soveel eeue der eeue afstand te doen). Só was Zeús vir hulle hul Redder, Verlosser, en Heiland (Sôtêr), net soos van Jesus, as Godheid, in die Griekse NT gepraat word.

By Homerus (Hómêros < “hy wat al die oorgelewerde mondelinge sange rondom die Trojaanse Oorlog aan mekaar ‘geryg’ het” in sy twee Eposse, die Ilias en die Odusseia) is Zeús die “Wolkeversamelaar”(Nephelêgeréta). In sy heel primitiefste vorm leef Zeús in die hemelse domein vanwaar hy sy bliksemstrale en donderslae loslaat. As dit reën het die ou Grieke dan ook gesê, Zeùs húei, net so goed as ho theòs húei (“Zeús/God laat reën”, transitief gestel vir die intransitiewe húei, “dit reën”).

Standbeeld van Zeús in Olumpía. Foto: Wikipedia

In die kuns is Zeús voorgestel as ’n majestueuse ouerige man, gespierd, met ’n welige bos hare en baard. Soms was daar ’n krans van olyf- of eikeboomblare ook op sy hoof geplaas. Hy kon verskeie voorwerpe in sy hande vashou, soos ’n septer, ’n roomhoring (cornucopia),’n bliksemstraal met sy donder, of ’n beeldjie van Níkê (die godin van Oorwinning) in sy hand. Soms is Zeús ook afgebeeld met ’n arend wat teen sy voet aanleun. In die argaïese tydvak was hy gereeld gekleed, maar later is Zeús ook nakend afgebeeld. Die beroemdste beeld  wat ooit van Vader Zeús gemaak is, is die beeld van hom deur die veelgeprese beeldhouer Pheidias in sy heiligdom in Olumpía op die Peloponnees. Hierdie kolossale beeld van die sittende Zeús is oorgetrek met ivoor en goud (dit is as chruselephántinos beskryf). In die Oudheid was dit beskou as een van Sewe Wonders van die antieke wêreld. Pausanías (1.17.1) het by die Heraeum op Olumpía ook ’n beeld van ’n staande Zeús daar gesien waar hy ’n helm op die hoof gedra het.

In die Griekse NT word Zeús ook genoem by Handelinge 14:12, “En hulle het vir Bárnabas Júpiter genoem, en vir Paulus Mercurius, omdat hy die woordvoerder was”. Soos die Statenvertaling van die Bybel in Nederlands (1625-37) het die Afrikaanse Bybel (1933) hier die Romeinse name onderskeidelik vir Zeús en Hermês gegee. Die Griekse teks het egter hier Día en Hermên onderskeidelik, die Akkasatiewe naamval van Zeús en Hermês. Die geleerde Nederlanders wat die NT indertyd vertaal het (Jac Rolandus, Ant Walaeus, en Festus Hommius) het, as tradisionele en vak-egte klassici, egter verkies om die Griekse eiename hier te verlatiniseer. Dit was eintlik jammer, en totaal onnodig. Zeús en Hermês was nog springlewendig aan die kwyn toe die NT geskryf is. Die naam van Zeús het om meer as een rede in die NT gehoort.

Lees ook

Zeús, Oppergod van die antieke Griekse panteon, en die rare boodskap wat hy vir ons vandag nog inhou: deel 3

Zeús, Oppergod van die antieke Griekse panteon, en die rare boodskap wat hy vir ons vandag nog inhou: deel 2

Zeús, Oppergod van die antieke Griekse panteon, en die rare boodskap wat hy vir ons vandag nog inhou: deel 1

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top