Nuwe digitale argief maak kultuurerfenis toeganklik vir almal

  • 0

Toegang tot Afrikaanse kultuurerfenis onder jou vingerpunte, digitaal bewaar en beskikbaar aan ieder en elk, is ’n droom wat baie al lank koester. Die algehele verval van baie argiewe – in privaat- en staatsbesit – bied ’n groot bron tot kommer. Maandagaand is die bekendstelling van Nuuseum – ’n aanlyn platform sonder winsbejag wat voortdurend bygewerk sal word – op Stellenbosch bekend gestel.

Die argivaris, Lizabé Lambrechts, is die uitvoerende hoof van Nuuseum en het aan gaste die doel en visie van die instansie verduidelik. Hoewel dit in 2017 deur Karen Meiring, Herman Binge, Christoff Pauw en Albert Geldenhuys gestig is om ’n aktiewe verskil aan erfenisbewaring in Suid-Afrika te bewerkstellig, het die ratte in 2022 waarlik inmekaar begin draai.

Lizabé Lambrechts, uitvoerende hoof van Nuuseum, vertel meer.

Karen Meiring, direksielid van Nuuseum, Kabous Meiring, seremoniemeester van die aand, en Japie Gouws, direksielid van Nuuseum.

“Toekomsgeheue is nie iets wat self gebeur nie; dis iets wat ons aktief skep en dis waar Nuuseum sy bestaansrede kry.

“Ons bestuur en direksie bring ervare argiefkundiges, sakekenners, akademici, joernaliste, kopieregspesialiste, kultuurverteenwoordigers en mediakenners saam om die dokumentasie, bewaring en bestuur van argiefmateriaal te ondersteun. Ons werk met verskeie organisasies, argiewe, kerkgeskiedenisse en biblioteke om die argief uit te bou. Een van die voordele is dat jy nou kan kyk hoe die landskap gelyk het ’n sekere jaar of maand: wie geadverteer het in koerante, wie die rolspelers was en hoe pryse verander het.”

Die bekroonde skrywer, Danie Marais, en Leone Pitts wat die aand georganiseer het.

Die argief sluit Suid-Afrika se erfenis van taal, kultuur, die kunste, landbou, tot ekonomie in.

Wannie Carstens (middel), akademikus en taalkundige, staan by Deniel en Frazer Barry wat die aand se vermaak verskaf het.

“Ons wil die grootste digitale argief van Afrikaanse materiaal skep, vir die toekoms bewaar en dit beskikbaar stel vir navorsing, kreatiewe projekte en nuuskieriges. Ons visie is om die totale Afrikaanse erfenis te laat lewe en groei op een innoverende, dinamiese platform, oop en toeganklik vir almal.

“Ons versamel mediamateriaal in die breë en kyk na materiaal van geskiedkundige, wetenskaplike, maatskaplike, geestelike, taalkundige en tegnologiese waarde. Dit sluit in die nuusmedia, uitvoerende kunste, beeldende kunste, televisie- en filmmateriaal, familiestambome, kerkgeskiedenis en landbou.”

Geraldine Frieslaar, hoof-argivaris van die New Archival Visions-program by die Sentrum vir Geesteswetenskaplike Navorsing by UWK, Lizabé Lambrechts, uitvoerende hoof van Nuuseum, en Valmont Layne, akademikus, UWK Argief.

Lambrechts het gesê dat nagenoeg 1,5 miljoen bladsye reeds gedigitaliseer is en meer as 35 publikasie tussen 1959 en 1983 reeds beskikbaar is vir die publiek om te gebruik. Danksy die hoogste internasionale skanderingstandaarde word tot 2 000 bladsye per dag bygevoeg.

Johan Fourie, Bun Booyens, Geraldine Frieslaar en Karen Meiring wat aan die paneelbespreking deelgeneem het.

“Nuuseum skep en onderhou ’n opvoedkundige hulpbron en ’n interaktiewe argiefplatform vir die behoud van ’n diverse Afrikaanse kultuurerfenis. Deur te fokus op die digitalisasie van kosbare materiaal, die insamel van bestaande digitale materiaal en die dokumentasie van voorheen afgeskeepte en ongedokumenteerde geskiedenis, sal Nuuseum vir die eerste keer ’n unieke versameling op een plek saamtrek en beskikbaar maak.

“Ons digitale infrastruktuur laat nie net toegang toe nie, maar stimuleer nuwe gesprekke en maniere van navorsing en lees.”

Personeel wys hoe Nuuseum werk.

Afgesonderde plekke word nou deur een kliek deel van die gesprek en kan bydra tot die platform.

Sy het verduidelik dat vier steunpilare Nuuseum ’n unieke instansie maak: digitalisering, bewaring, toeganklikheid en aktivering.

Skandeer dié kode vir toegang tot Nuuseum.

Dit bied die geleentheid om met een soekwoord deur duisende tekste te soek, wat in geel gemerk word. En dit gee ook ’n ruimte aan stories wat voorheen nie opgeteken is nie.

Die platform is selfs toeganklik vir gesiggestremdes. En dis ’n argief wat nooit “klaar” sal wees nie.

Lambrechts het gaste aangemoedig om deel te word van Nuuseum, deur skenkings – finansieel, óf deur geskrifte te skenk óf as vrywilligers om te help proeflees, metadata en konteksplasing te doen.

Die paneelbespreking wat gevolg het met Kabous Meiring, gewilde televisie-aanbieder en -regisseur, as gespreksleier het interessanthede opgelewer.

Meiring het met haar openingsaanmerkings gesê Nuuseum is ’n “digitale platform wat tegnologiese sorg en akademici kombineer om aan gemeenskappe nuwe toegang tot hul eie geskiedenis te gee”.

Hoe waar is dit nie? Dis ons almal se gedeelde geskiedenis, maar ons het nie toegang daartoe nie.

Op die paneel was skrywer Bun Booyens, voormalige redakteur van Die Burger, Geraldine Frieslaar, hoof-argivaris van die New Archival Visions-program by die Sentrum vir Geesteswetenskaplike Navorsing by UWK, Nuuseum-direksielid, Karen Meiring, en ekonomiese geskiedkundige, Johan Fourie.

Politieke wil, befondsing, personeeltekorte, wanbestuur, die afwesigheid van die wil om te bewaar en ontoeganklikheid tot argiewe, is van die grootste struikelblokke uitgelig. Selfs al is die dokumente vir die nageslag bewaar, beteken dit nie dis vir die publiek beskikbaar nie, het Frieslaar vertel.

“Burokratiese rompslomp lei daartoe dat mense nie moeite doen om geskiedkundige dokumente of voorwerpe op te soek nie. Ons het gedink die nuwe sal opgebou word uit die oue. Ongelukkig het dit nie gebeur nie en ons het grootskaalse verval tot gevolg gehad het.

“Maar argiewe is ook nie die stortingsterrein van die geskiedenis nie. Ek is opgewonde oor ’n digitale argief wat nie in onbruik kan verval nie. Daar is geen nut aan ’n argief as niemand dit gebruik nie.

“Dis eers wanneer argiewe vernietig word, dat mense wil huil oor wat nie meer bestaan nie. Maar mense moet ook geleer word wat toegang beteken.

“Ons kan dink aan die vrae wat in die toekoms gevra sal word nie, daarom is bewaring so noodsaaklik.

“Ons kan nie alles red nie, maar ons kan ons bes doen om fragmente te bewaar vir die volgende generasie.”

Fourie het ’n paar belangrike aspekte uitgelig: Eerstens dat hy nie kan sien dat die Staatsargief of Kaapse Argief, byvoorbeeld, binnekort vir die publiek beskikbaar sal wees nie; ook dat kunsmatige intelligensie klaar baie inligting tot die web toevoeg – foutief of nie – en ook dat daar geen betaalmodel is om inligting van mense weg te hou nie. “Mense gaan dit omseil of ignoreer. Maar KI sal beter word as dit toegang tot behoorlike inligting uit argiewe het. Dit help egter nie ons argiewe is toeganklik vir masjiene, maar nie vir mense nie.”

Hy sê met behoorlike argiewe wil ons nie net meer leer van die verlede nie, maar ook weet waarheen ons op pad is.

Bun het gesê die waarde van ’n argief spreek vanself en koerante gee konteks.

Hy het vertel hoe die argiewe by Media24 se kantore in vragte uit die gebou gedra is vir verpulping en hoe die voormalige redakteur van Kultuurkroniek, Martiens van Bart, tevergeefs probeer het om dokumente en foto’s te red.

Dis egter nie net een instansie wat hul argiewe te gering skat nie. Baie ander koerante, skole, kerke en kultuurorganisasies se argiewe het ook vervalle geraak.

Baie mediafotograwe het hul fotoversamelings huis toe geneem, uit vrees dat dit vernietig sou word. Baie van die sketse van Fred Mouton en Honniball is reeds vernietig en baie ander argiewe regoor die land is nie in veel beter toestand nie.

Hy het met die samestelling van die gedenkboek met Die Burger se 100 jaar-vieringe opnuut besef van hoeveel onskatbare waarde dit is om deur ’n hele koerant te kan “blaai”, omdat ’n berig se betekenis eers reg verstaan word wanneer dit in die konteks van die res van daardie uitgawe se inhoud gelees word.

Hy het voorbeelde genoem van berigte wat ’n geheelbeeld skep van ’n era, wat dikwels met ander digitale argiewe verlore gaan.

Karen het vertel dat Nuuseum groot klem lê op die kunste. “Die kunste is nie nostalgie nie, dis ’n kulturele noodsaaklikheid. Die kunste is ’n belangrike aanduider van tyd. Die argivering van die kunste skep konteks van die belewing van ’n tyd wat nie vasgevang kan word in geskrewe meningstukke nie.”

Gaste kon lekker in die soel somersaand voor die Hofmeyrsaal kuier en na die musiek van Frazer en Deniel Barry luister, terwyl wyn en peuselgoed bedien is.

Dis die woorde: “Ons is oortuig dat erfenis nie iets is wat bewaar word sodat dit net stil kan lê nie, maar moet lewe kry deur gebruik, vertolking en gesprek” wat die aand se bekendstelling die beste saamvat.

Besoek https://nuuseum.media/ vir meer inligting of skandeer die kode in die aangehegte foto.

  • Foto’s: Clifford Roberts
Lees en kyk ook op LitNet, LitNet Akademies en Voertaal:

Stephanus Muller praat met Lizabé Lambrechts, uitvoerende bestuurder van Nuuseum

Argiewe: Bêre of brand in die digitale era?

SteedsDink met LitNet Akademies: Lizabé Lambrechts

Die impak van grootdata op tradisionele argiewe: ’n oorsig van uitdagings en geleenthede

Ingrid Jonker is weer tuis tussen haar vriende

SASNEV Ontbytborrel was veel meer as netwerkgeleentheid

LitNet: Daar was al ’n brand hier

Die digitalisering van NALN se knipselversameling: Die bemiddeling van 21ste-eeuse navorsing in die Afrikaanse letterkunde

’n Oorsig oor enkele digitiseringsprojekte in Afrikaans: ’n Vertrekpunt vir Afrikaans se digitale toekoms

Afrikaans se digitale toekoms: ’n onderhoud met Wannie Carstens en Roné Wierenga

Die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (NALN): ’n onderhoud met Wyno Simes

Reguit met Robinson: ’n Zoom-gesprek met Wyno Simes

Die NALN-tydkapsule: Jan Rabie – Rondom 21

LitNet Akademies-NALN aanlyn katalogus: ’n onderhoud met Burgert Senekal

NALN word 50! Mylpaal en LitNet Akademies-NALN aanlyn katalogus

Die digitalisering van NALN se knipselversameling: jongste verslag

Die mense wat ’n sterwende taal opgeteken het

Symposium Zuid-Afrikahuis blijkt roerend pleidooi voor creatieve en eigentijdse benadering koloniale archieven

Lewende, gesaghebbende digitale biblioteek vir Afrikaanse letterkunde

Rooibostee, awê en oepsies

AI podcast | KI-kortluister: "Rooibostee, awê en oepsies"

Die Lasarus-effek: CJ Langenhoven (1873–1932)

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top