Jannie Pretorius lees graag oor die verlede en gebruik KI om ou foto’s ’n nuwe lewe te gee. Klik op die foto om te vergroot.

Die beminde “Sagmoedige Neelsie” was en is steeds volksbesit. Hoeveel plesier het sy priemende en gevatte spreuke my nie al verskaf nie en hoeveel frustrasie veroorsaak die aangrypende strofes in “Die Stem” nie steeds onder EFF-lede en hulle leier nie! Ek onthou hoe ek huilend saamgesing het toe Louis Luyt in 1992 voor ’n toets teen die All Blacks die volledige “Stem” op Ellispark laat uitbasuin het. Groot probleme …
Langenhoven het egter onder al die geskryf sy eie stryde teen sy persoonlike duiwels gestry en moes uiteindelik die knie voor hulle buig. In hierdie opsig is Edna St Vincent Millay se beroemde strofe, “My candle burns at both ends – it will not last the night; but ah, my foes, and oh, my friends – it gives a lovely light” besonder toepaslik. Hy is voortydig op amper 59-jarige ouderdom oorlede nadat sy gesondheid weens sy rook- en drinkgewoontes ingegee het (Kannemeyer, 1995a:644).
Hy self stel dit op kenmerkend gevatte wyse so:
Ek het meer as my regmatige beurt gehad, oneindig minder as my verdiende deel van leed, oneindig meer as my verdiende deel van geluk. By doen en by nalaat was ek en bly ek ’n sondaar, God alleen weet hoe groot, maar onreg en bedrog en valsheid, hetsy in my omgang met my ewenaaste, hetsy in my beroep of in my politiek, was nooit my wesenlike ondeug nie.
Kannemeyer se biografie oor Langenhoven met ’n meegaande fotoboek kan weer en weer gelees word.
Dankie Neelsie.

(Só lyk die oorspronklike foto’s.)
Wil jy hulle sien beweeg? Klik op die knoppie.
Bronne
Kannemeyer, JC. 1995a. Langenhoven: ’n lewe. Kaapstad: Tafelberg.
—. 1995b. Die dienswillige dienaar: ’n Langenhoven-fotoboek. Kaapstad: Tafelberg.
Lees en kyk ook:
Uit die blou van onse Langenhoven, uit die diepte van ons Sontonga
LitNet en die Langenhoven Gedenkfonds se wetenskapfiksiekompetisie




Kommentaar
Langenhoven se jaartalle moet wees: 1873-1932
Baie dankie, Daniel, waardering.