
Grafika: Langenhoven Gedenkfonds
CJ Langenhoven is op 12 Augustus 1873 gebore; 150 jaar gelede. Enoch Sontonga is ook 150 jaar gelede gebore, waarskynlik in 1873. Ons sing nog steeds baie gereeld albei se woorde.
Die twee was so anders, maar hulle was ook eenders.
Ons nasionale lied
Suid-Afrika se nasionale lied bestaan tans uit ’n vermenging van “Die Stem”, wat deur CJ Langenhoven geskryf is, en “Nkosi Sikelel’ iAfrika”, wat deur Enoch Sontonga geskryf is.
Nie een van hierdie tekste is oorspronklik geskryf met enige grandiose politieke ideale in gedagte nie. Beide skrywers het bloot hul verse neergepen met die hoop dat hulle as gesange gesing sou word. Min ander tekste het egter sedert dit geskryf is soveel politieke emosie uitgelok soos hierdie twee verse.
Gedurende die strugglejare is “Nkosi Sikelel’ iAfrika” as ’n de facto-volkslied aanvaar en gesing. Dit was ’n pleidooi vir geregtigheid, maar is later ook gebruik as openlike verset teen die apartheidsregime. Ook in Afrikaans het Sontonga se lied ’n vastrapplek gekry in die versetliteratuur. Etienne van Heerden plaas byvoorbeeld ’n vertaling van die lied in Casspirs en Campari’s, enkele oomblikke voor die hoofkarakters hulself triomfantelik bevry:
God, seën Afrika
Mag haar gees tot in die hoogste styg
Hoor u al ons gebede
En seën ons ...
“Die Stem”, daarenteen, is destyds aanvaar as die de jure-volkslied van wit Suid-Afrika, en het gedurende die apartheidsjare ’n simbool van onderdrukking geword, wat natuurlik jammer is.
Vandag sing ons grepe uit albei, wat ’n mooi gebaar is.
Destyds, toe ons eufories die goue jare van bevryding ingegaan het, was dit ’n wonderlike insig om hierdie twee skrywers se tekste saam te bind in ’n poging om ook ons land se mense saam te snoer.
Was daardie jare nie wonderlik nie.
Uit ’n bankrot land het ’n nuwe ekonomie verrys. Geld het die land ingestroom, toeriste ook. Daar was werk. Daar was hoop. Meer nog, daar was sportspanne wat voor elke belangrike wedstryd CJ Langenhoven en Enoch Sontonga se woorde uitgebulder het as ’n teken dat niks vir ons onmoontlik is nie. Saam met die vreemde, bont vlag het die reënboognasie geskitter wanneer ons ons vreemde, bont nasionale lied gesing het.
Ek droom vandag dat ons dit sal regkry dat ons tans versplinterde land weer daardie samehorigheid sal terugkry. ’n Mens wil juis in die Afrikaanse vertaling van Sontonga se woorde ook bid:
... Seën ook die jongmense
Dat hulle geduldig die land sal dra
En seën hulle ...
Wie was Enoch Sontonga?
Ons weet nie wanneer Enoch Sontonga gebore is nie, maar bronne soos South African History Online sê dat 1873 ’n waarskynlike datum is.
Ons weet Sontonga is in Uitenhage gebore en hy het by Lovedale Kollege studeer, waarna hy in Johannesburg by Nancefield, ’n sendingskool van die Metodistekerk, gaan skoolhou het. Hy het ook die skool se koor afgerig.
Die jong onderwyser was ook ’n digter en het die eerste klompie reëls van “Nkosi Sikelel’ iAfrika” geskryf as ’n gesang vir sy koor om uit te voer. (Die Xhosa-digter SEK Mqhayi sou later die bykomende sewe verse skryf.)
Hoewel Sontonga “Nkosi Sikelel’ iAfrika” in 1887 gekomponeer het, is dit eers in 1899 vir die eerste keer in die openbaar gesing by die bevestiging van eerwaarde M Boweni, ’n Tsonga-Metodiste-predikant. Die gesang is daarna gereeld in die sogenaamde “naturelledagskole” gesing en is later gepopulariseer toe eerwaarde JL Dube dit tydens konserte in Johannesburg opgevoer het saam met sy Ohlange-Zoeloe-koor.
Sontonga het sy komposisies in tonika-solfa op los velle papier geskryf. Sy droom was om uiteindelik sy musiek in boekvorm uit te gee. Hy is op 18 April 1905 oorlede sonder om ooit sy werk te kon publiseer en is in die “nieblanke-afdeling” van die Braamfontein-begraafplaas begrawe. Hy is oorleef deur sy vrou, Diana Mgqibisa, en hulle seun.
Wie was CJ Langenhoven?
Daar is talle boeke oor Langenhoven geskryf, en hy het self ’n enorme aantal boeke geskryf.
Neelsie, soos hy later sou bekendstaan, is op 12 Augustus 1873 naby Ladismith in die Klein Karoo gebore.
Jan-Jan Joubert skryf oor sy kinderjare:
Sy moeder is naamlik dood met sy geboorte en hy het grootgeword aan huis van sy oom en tante, vir wie hy as Mammie en Pappie geken het. Sy eie pa was by Langenhoven as “Anderpa” bekend. As kind was Langenhoven se gesondheid swak, en hy het afgesonderd, sonder speelmaats, op die plaas grootgeword, waar hy die natuur baie goed leer ken het.
Langenhoven het aan die Victoria Kollege in die regte studeer – dié instansie sou later die Universiteit Stellenbosch word.
Hy werk aanvanklik in die Kaap as ’n advokaat, maar vestig hom dan in Oudtshoorn as ’n prokureur waar hy bekend word vir sy insae in die land se waterwette.
Langenhoven is op 23 Februarie 1897 getroud met Lenie van Velden, die nimlike “Vroutjie” in sy skryfwerk. Hulle het ’n dogter, Engela, gehad. Vroutjie het daardie bekende huis, wat hulle Arbeidsgenot gedoop het, aangekoop. Die huis is tans ’n museum wat oop is vir die publiek, ook per virtuele toer.
Langenhoven sou later ook die politiek betree. Hy was ’n vurige Nasionalis en het ook baie hard gewerk om Afrikaans, nie Nederlands nie, as amptelike taal in Suid-Afrika naas Engels te vestig. Dit het in 1925 gebeur. Vir laasgenoemde kan ons hom baie dankbaar wees.
Langenhoven het ontsettend baie geskryf. In 1923 is Loeloeraai, die eerste wetenskapfiksieroman in Afrikaans, gepubliseer. Hy het ook die eerste speurroman in Afrikaans geskryf onder die titel Donker spoor. Dit is egter maar een deel van die seekoei se een oor. Spookstories, kinderverhale, reisverhale, niefiksie ... Langenhoven se uitset was enorm. Altesaam 61 werke uit sy pen is gepubliseer. As joernalis en rubriekskrywer in Die Burger was hy geliefd. Ook het hy heelwat gedigte geskryf waarvan die bekendste ongetwyfeld “Die Stem van Suid-Afrika” is.

Foto: Izak de Vries
Langenhoven is op 15 Julie 1932 oorlede.
Hulde
Op 13 Augustus word sy lewe en geboorte gevier met ’n kranslegging by Arbeidsgenot deur die FAK, ondersteun deur die Langenhoven Gedenkfonds en die KKNK.
Ek sal daar wees.
Langenhoven was ’n merkwaardige skrywer. Oor sy oeuvre kan ek baie lank praat, maar ander het dit al beter gedoen.

Toe ons vroeër vanjaar by die KKNK ’n gesprek oor Loeloeraai aangebied het, was dit duidelik hoe versiende Langenhoven was in van sy skryfwerk.
Hy was ook ’n feilbare mens. Vreemd genoeg vind ek baie deernis in sy menslikheid. Neelsie het te diep in die bottel gekyk en dit het sekerlik sy lewe verkort.

Gesinsfoto, van links: Engela, Niko Brümmer, Vroutjie, Saartjie en Neelsie. Let op die Olifant tussen Vroutjie en Neelsie. Dit was Kersfees 1931 by Arbeidsgenot, Sarah Goldblatt se verjaarsdag dus. Engela se verjaarsdag was die 22ste Desember. (Foto uit die Brümmer-argiewe)
Dan was daar, jare voor konsep van poliamorie bekend was, die bekende verhouding wat hy as getroude Nasionalis met sy Joodse “sub” gehad het. Wonderlik.
Oor sy politiek wil ek my liefs nie uitlaat nie. Dit is maklik, en wel korrek, om te noem dat hy ’n kind van sy tyd was. Olive Schreiner, reeds in 1855 gebore, het egter die insig gehad om aktief te baklei vir ’n nierassige, nieseksistiese samelewing. Neelsie nie.
Ja, hy had gebreke. Maar op 12 Augustus 2023 sal ek my hoed lig vir ’n man wat geweldig baie vir Afrikaans beteken het, en wie se skryfwerk steeds gelees word.
Op 12 Augustus wil ek ook ’n lansie breek vir die ander belangrike digter wat op ’n onbekende datum in 1873 gebore is. Sonder Enoch Sontonga en sy mooi gedig sou dit vir my vandag moeilik gewees het om oor ons mooi land te kan sing:
Uit die blou van onse hemel,
Uit die diepte van ons see,
Oor ons ewige gebergtes,
Waar die kranse antwoord gee.
Sontonga is die Jin van Langenhoven se Jang.
Nkosi Sikelel’ Afrika.
Erkennings en belangeverklaring
Ek sou die hierdie stuk nie kon skryf sonder Eureka Barnard en Jan-Jan Joubert se navorsing nie. Beide is direksielede van die Langenhoven Gedenkfonds en hulle harde werk verskyn op ’n webwerf: https://cjlangenhoven.co.za/.
Ek is ook verbonde aan die Langenhoven Gedenkfonds, maar hierdie stuk skryf ek in my persoonlike hoedanigheid.
Die Afrikaanse vertaling van “Nkosi Sikelel’ Afrika” verskyn op bladsy 638 van Etienne van Heerden se roman Casspirs en Campari’s wat in 1991 by Tafelberg verskyn het.
Lees ook:
Loeloeraai as steampunk? Oor die uitbeelding van die wetenskappe 100 jaar gelede
Op soek na Saartjie: In gesprek met Langenhoven se agterkleinkind
Searching for Sarah, Joanne Hichens interviews Dominique Malherbe
Persverklaring: Langenhoven 150, Loeloeraai 100 by vanjaar se KKNK!



Kommentaar
Dankie vir 'n interessante artikel.
Twee punte van kritiek:
1.) Die huidige volkslied is 'n letterkundige en musikale disgrace. Die musikoloog George King wys daarop dat dit begin in die tonika en eindig in die dominanttoonsoort. Hoe op aarde kan dit dan versoening en enigheid simboliseer? Dit het 'n tacky modulasie in die middel wat, soos Christopher Ballantine dit stel, 'n kortstondige oomblik van velcro in die musiek is wat samehorigheid (in die musiek en die land se kulture) probeer skep. 'n Swak komposisionele besluit. Winfried Lüdemann wys ook daarop dat die tekste en musiek (spesifiek frasestrukture) van beide liedere lelik in die nuwe volkslied geamputeer word.
2.) Die stelling dat Langenhoven nie "Die Stem van Suid-Afrika" oorspronklik geskryf het met enige grandiose politieke ideale in gedagte nie is naief en ondeurdag. En dieselfde geld vir Sontonga en "Nkosi sikelel' iAfrika". Moet ook nie vir ML de Villiers (komponis van "Die Stem" se musiek) en Samuel Mqhayi (digter van baie van "Nkosi" se teks) en Moses Mpahlele (digter van die Sotho teksgedeelte in "Nkosi") met oorwegings van politiek uit die prentjie laat nie.
Vir meer oor "Nkosi" se politiek, loer bietjie na die navorsing van David Coplan, Benetta Jules-Rosette en Nicholas Cook. En vir meer oor "Die Stem" se politiek, kyk na Stephanus Muller en Erika Bothma se navorsing, en ook na my eie werk.
Ek het terloops in 2012 oor beide "Nkosi" en "Die Stem" vir LitNet gepubliseer. https://www.litnet.co.za/bre-eerder-die-volksliedere/