Willemien Brümmer is ’n joernalis en skrywer, en ook die agterkleinkind van CJ Langenhoven. Na aanleiding van die publikasie Op soek na Saartjie deur Dominique Malherbe het Izak de Vries met haar gesels.*
Willemien, kom ons val met die deur in die huis. Vandat ek jou ken, was die “die kind” altyd ’n vae moontlikheid. Jy het nog nooit ontken dat daar moontlik ’n kind was wat Langenhoven by Goldblatt verwek het nie?
Nie ek of my pa óf, glo ek, die Langenhoven Gedenkfonds, het enige probleem daarmee dat daar moontlik ’n kind kon gewees het nie. Dit maak Langenhoven trouens net interessanter – en dit werp ’n interessante lig op die verhouding met Sarah. Dit sou ook kon verklaar hoekom sy so jaloers gewaak het oor sy nalatenskap.
Maar daar is helaas ’n baie groot verskil tussen feite en verdigsel – en niks in die boek het vir my enige verdere getuienis gegee van so ’n kind se bestaan al dan nie.
Ek het intussen gaan kyk na die jare wat in die boek ter sprake kom (1924 tot 1926, hoewel Malherbe meestal konsentreer op 1925) en wragtig, net ’n Onbevlekte Ontvangenis sou hier moontlik gewees het. Ek het die meeste van daardie jare se briewe van Langenhoven aan Sarah onder oë gehad (behalwe dié wat sy glo vernietig het aan die begin van 1926), en daar is genoeg briewe om te wys dat sy deurgaans ’n werk gehad het, en beslis nie iewers in ’n Magdalenahuis was nie. Net nou en dan was sy nie so “fris” nie, maar dan skryf hy hy is bly om te hoor sy is weer “fris”. Tydens skoolvakansies het sy vakansie gehou, maar sy sou steeds na Die Burger gaan om te sorg vir sy weeklikse rubriek waarvan die setwerk onder haar waaksame oë gedoen is. Sy het blykbaar ook geproeflees.
’n Ongetroude swanger vrou sou sekerlik nie toegelaat gewees het om skool te hou nie? Sy sou beslis ook nie by Nasionale Pers kon ingestap het om met mans te onderhandel oor die werk van die waarskynlike vader van die buite-egtelike kind nie?
Ek het die vae skinderstories destyds gehoor by my pa (ek vermoed hy het dit vir my vertel terwyl die Groot Vergeet hom al begin bekruip het), maar hoe meer ek die briewe en ander dokumente bestudeer (sonder ’n romantiese skrywersbril), hoe sekerder is ek dat dit alles net mites was.
Daar is beslis nie ’n enkele dokumentêre bewys daarvoor nie.
Malherbe het ongelukkig eers nadat demensie by albei jou ouers gediagnoseer was, jou pa en ma ontmoet. Dit moes tog ’n invloed gehad het op die gegewens wat sy klaarblyklik by hulle gekry het?
Ek het haar vooraf gewaarsku dat albei my ouers aan demensie ly. My ma was ook in daardie tyd sterwend aan kanker, so dit was vir ons almal ’n besonder traumatiese tyd. Dominique het my ouers sover ek weet net twee keer besoek, of dalk was dit drie keer. Hulle het beslis nie besef dis ’n formele onderhoud nie.
My pa het al ’n paar keer met my oor die “seun” gepraat en dis belangrik om die konteks hier te verstaan. My pa was voor die demensie ’n fantastiese storieverteller, en in die Klein Karoo (waar ons ’n familieplasie het) waar hy grootgeword het, het waarheid en verdigsel deurmekaar geloop. Daar was ook ’n baie sterk tradisie van mondelinge oorlewering en familiemites, waar daar telkens ’n bietjie waarheid en baie vermitologisering was.
Wanneer dit by amptelike mededelings kom, sou hy egter dubbeld seker gemaak het dat sy feite korrek was. Hy was ’n gerekende wiskundige (sy vak was kategoriële topologie) en hy het ’n fotografiese geheue gehad, net soos sy oupa. Hy het ook ’n baie deeglike kennis gehad van die briewe en dokumente en van sy oupa se werk.
As hy toe nog kon verstaan dat Malherbe nie net ’n vriendelike vrou was wat hartjiekoekies gebring het en familiestories kom gesels het nie, sou hy haar die deur gewys het.
My pa het beslis nie “geweet”, soos wat daar in die boek staan, dat daar ’n seun was nie. Dit was slegs ’n vae vermoede, dalk gebaseer op die kodes in die briewe waaroor Kannemeyer ook skryf, wat net sowel op ’n liefdesverhouding as op iets anders kon gedui het. Dalk was dit gebaseer op iets wat hy by Naomi, een van Israel Goldblatt se kinders, gehoor het. Hy het nog nooit vir enige van my drie ouer broers van hierdie “skimfamilie” vertel nie.
Maar Sarah het dit beslis nooit vir hom gesê nie, en sy ma en sy ouma ook nie. My pa het wel vertel dat daar in 1942 soms ’n seun op besoek gekom het by Sarah terwyl hy vir ’n paar maande by haar gebly het terwyl sy ma in ’n verpleeginrigting was vir haar alkoholverslawing. Hy was toe agt en nie in standerd vier, soos wat in die boek beweer word nie. (Sarah was beslis ook nie ’n moederfiguur vir my pa, soos wat Malherbe skryf nie! My pa het sover ek weet net daai een keer by haar gebly in die Kaap sodat hy sy ma kon sien terwyl sy in die verpleeginrigting was.)
Hy het later jare sy vermoedens gehad oor dié spesifieke seun – maar Sarah het nooit teenoor hom uitgewei oor wie die seun was nie. Sy het baie studente gehad vir wie sy Afrikaans gegee het wat na haar huis gekom het, en dit kon net sowel een van hulle gewees het.
Kannemeyer maak dit ook duidelik dat Langenhoven en Goldblatt meer as net “intieme huisvriende” was. Korrek?
Ja, hy het al in 1995 omvattend daaroor geskryf. Hy gee regdeur Langenhoven. ’n Lewe bewyse van die hegte vriendskap tussen hulle en hy ontken geensins dat daar ’n romantiese verbintenis was nie. Vanaf bl 645 tot 657 skryf hy onder meer uitgebreid hieroor – en ook oor die “kodes” in baie van die briewe. Hy skryf dat Langenhoven ’n “verregaande obsessie met Sarah” (646) gehad het – iets waarmee ek saamstem nadat ek die menigte briewe onder oë gehad het.
Lank voor Op soek na Saartjie skryf hy oor die briewe wat Sarah tot niet gemaak het en sekere kodes, byvoorbeeld: “Maar ek kan nie vir jou skryf nie want oor een ding wat my hart van vol is moet ek nie skryf nie.”
Kannemeyer interpreteer dit as volg: “Die ‘een ding’ waar sy ‘hart’ van vol is, kan trouens niks anders as ’n verwysing na hul intieme verhouding en liefde vir mekaar wees nie” (651). Hy verwys ook onder meer na die “naggesprek” tussen Vroutjie en Engela wat my pa gehoor het toe hy ongeveer 11 of 12 was toe hy een aand in sy ma se kamer oorgeslaap het terwyl Vroutjie op besoek was (652).
Verder noem hy die beweringe van Marjorie Pocock (familie uit Vroutjie se vorige huwelik), die bewerings van Mary Phillips in die koerantberig en die knipsel uit die Church Times. Hy gee egter noodsaaklike konteks deur te verwys na wat Langenhoven oor Vroutjie skryf in sy werk en die briewe, wat spreek van wat ’n basies gelukkige huwelik moes gewees het. Dít ten spyte van Sarah en die alkoholmisbruik en die feit dat hy nie ’n goeie verhouding met Vroutjie se kinders uit haar eerste huwelik gehad het nie.
Ek het self van die briewe onder oë gehad. Dis baie duidelik dat Langenhoven en Goldblatt ’n noue band gehad het, maar dan kan dieselfde gesê word van Vroutjie, nie waar nie?
In ’n brief van 10 Maart 1932, kort voor sy dood, bring Langenhoven roerend hulde aan Vroutjie. Hy skryf hier: “Maar die Vroutjie weet, ten spyte van alles en alles, dat jy nooit ’n man kon gehad het wat jou meer liefgehad het as ek nie. Dit het nou so getref dat jy groot gelukkigheid en groot droefheid bymekaar moes kry …”
Dit is ook interessant uit die briewe wat ek gelees het dat die toonaard van dié aan Vroutjie en aan Saartjie baie verskillend is. Die briewe aan Vroutjie (veral aan die beginjare) is veel, veel meer intiem, in ’n aansienlik meer romantiese styl. Om die waarheid te sê, ek het talle liefdesbriewe van Langenhoven aan Vroutjie in my besit (dit was tot onlangs in my pa se studeerkamer) wat Sarah spesiaal getik het vir ons familie se bewaring.
Sarah bring self in ’n radiopraatjie van 30 Mei 1950 hulde aan Vroutjie, kort ná laasgenoemde se dood. Sy sê dat Langenhoven by Vroutjie altyd sy “troos en sterkte” kon vind en dat hy altyd na hierdie vrede kon terugkeer en “nêrens anders op aarde was hy so gelukkig as by haar nie. En dit was Vroutjie wat daardie rus gegee het” (Kannemeyer bl 36).
Sarah was nie Langenhoven se enigste intellektuele pasmaat nie. Vroutjie het ’n merkwaardige geheue gehad en sy het baie van Langenhoven se gedigte – en ook bladsye en bladsye Shakespeare, sowel as Gray se “Elegy” – uit haar kop geken. My pa het haar altyd beskryf as ’n baie slim vrou.
Daar is gerugte in Malherbe se boek dat die gesin sekere briewe opsetlik van Kannemeyer en ander weerhou het. Is dit waar?
Die enigste briewe wat Kannemeyer nie gesien het nie, is ’n aantal briewe (nou in my besit) tussen Langenhoven en Vroutjie in ’n blou lêer van my pa. Dit dateer uit die begin van die 1900’s toe Langenhoven onsuksesvol probeer het om as advokaat naam te maak in die Kaap terwyl Vroutjie en hul baba, Engela, in Oudtshoorn agtergebly het. Hierdie briewe is dikwels intiem en het te doen met sy stryd teen die alkoholisme en depressie en het hoegenaamd niks met Saartjie te doen nie. Sy het eers sowat ’n dekade later op die toneel verskyn in Oudtshoorn.
Kannemeyer bedank my pa in sy voorwoord vir die uitvoerige onderhoude wat hy met hom en my ma gevoer het, die mense met wie hulle hom in aanraking gebring het en die gasvryheid wat hy “by herhaling by hulle geniet het”. Ook vir die “kundige wyse waarop hulle die volledige manuskrip met tersaaklike kommentaar deurgelees het”.
Hy skryf ook hier dat my pa vir hom uitsluitlike toegang tot die geëmbargeerde gedeelte van die Langenhoven-dokumentasie in die US se biblioteek gegee het (dis nie meer onder embargo nie, en enigeen het toegang daartoe) en dat my pa bereid was om, “behoudens enkele dele van briewe tussen Langenhoven en sy vrou wat van ’n intieme aard is [die briewe waarna ek vroeër verwys het in die blou lêer] dokumente in sy private besit aan my ter insae gegee het en vir my die embargo” opgehef het wat betref die briefwisseling “C.J. Langenhoven-Sarah Goldblatt waarvan die oorspronklikes in die Kaapse Argief bewaar word”.
Die boek maak dit duidelik dat jy en Malherbe wel by tye gekommunikeer het.
Ja, maar ek onthou dit nie goed nie en dit was baie vlugtige ontmoetings. In daardie stadium was ek oortuig daarvan dat sy nie met die boek sou voortgaan nie omdat dit vir my duidelik was dat sy met die Afrikaans sou sukkel. (Bykans al die primêre bronne wat sy nodig sou hê, is in redelik ingewikkelde Afrikaans.)
Ek is baie spyt dat ek haar aan my ouers voorgestel het, want as my pa nog in staat was om die boek te lees, sou die onjuisthede hom baie erg ontstel het.
Ná ons ontmoeting was daar ’n paar vinnige elektroniese boodskappe. Die probleem met vinnige e-posse en Facebook-boodskappe is dat dit private korrespondensie is en gebaseer is op dit wat jy op daardie stadium weet. As ek geweet het sy gaan uit hierdie korrespondensie aanhaal, sou ek baie seker gemaak het van my feite. Dis natuurlik ook ’n groot probleem as iemand jou buite konteks aanhaal omdat hulle graag iets probeer bewys.
Ek weet nie almal het tyd om dit te doen nie, maar as joernalis vertel ek vir mense wanneer ek hulle gaan aanhaal, en ek transkribeer die volledige gesprek. Ek maak ook altyd seker ek check al my feite voor publikasie. Ek is byna net so obsessief daaroor soos my pa!
Is die manuskrip ooit aan jou gestuur voor publikasie?
Nee.
Wium van Zyl maak die volgende stelling in ’n resensie van Op soek na Saartjie: “Ek kan dit as ’n feit stel dat Kannemeyer hoegenaamd nie van die bestaan van so ’n kind geweet het nie.” Ek vermoed dat Kannemeyer wel sou geweet het van die gerugte, maar dat hy, ten spyte van vele soektogte, bevind het dat daar geen bewyse was nie. Dit sou tog ook in gesprekke met jou pa na vore gekom het?
Ek vermoed my pa sou vir Kannemeyer alles gesê het wat hy geweet het, maar ek sit nie my kop op ’n blok hieroor nie. Omdat hierdie op mondelinge bespiegelinge berus het (en nie op enige feitelike gegewens nie), sou Kannemeyer dalk uiteindelik besluit het om nie daaroor te skryf nie, maar ek weet nie.
Die bibliotekaresses by die Universiteit Stellenbosch waar Kannemeyer vir maande en jare navorsing gedoen het, weet van niks.
Kannemeyer was baie lief vir ’n goeie skinderstorie, en hy sou alles in sy vermoë gedoen het om hierdie skinderstorie op te volg. Hoekom sou hy dan nou nie?
Hy skryf wel hy het as biograaf baie hard probeer om feite en fiksie van mekaar te onderskei. Hy skryf op bl 74 tot 75: “In dié verband is dit ’n gesonde wetenskaplike uitgangspunt om ’n verslag sover moontlik op dokumente te baseer en mondelinge inligting slegs te betrek waar dit sonder enige sweem van twyfel – en dan liefs deur die verifiëring van verskeie persone – aangewend word.” Die “verleidelike mondelinge oorlewering met al sy luister en drama” is ’n maklike maar uiteindelik tog onbevredigende oplossing.
En die dr Van der Merwe wat genoem word? Op bladsy 202 skryf sy: “Eienaardig genoeg het ek juis vandag in Kannemeyer gelees dat die huisdokter wat Sarah versorg het net voordat sy na die inrigting in Oranjezicht gegaan het, dr C van der Merwe was. Toeval?”
Ek is nie seker wat sy hier suggereer nie. Hierdie gedeelte is baie onduidelik geskryf, maar sy praat hier van dr CP van der Merwe, wat ook in ’n stadium my ouers se huisdokter was. CP lewe nog; hy is in 1936 gebore, en Boerneef was sy pa se broer. Langenhoven moes dus ’n spook gewees het toe hy die kind by Sarah verwek het, maar niks is natuurlik onmoontlik nie …
CP het ook oor die foon vir my vertel dat hy as Sarah se huisdokter ernstig twyfel of Sarah ooit swanger was. Dit het definitief nie uit enige van die ondersoeke geblyk nie.
As jy Langenhoven goed lees, sal jy agterkom dat hy ’n totale hekel gehad het aan wat die Engelse so mooi noem “pomp and circumstance”. Tog het daar onder die Nasionale Party geweldig baie vlaghysings en Voortrekkerparades en toesprake en optogte van verskillende aard plaasgevind in sy naam. Dit wil voorkom asof Sarah Goldblatt nie omgegee het vir die kollig nie en dus sulke gebeure skynbaar aangemoedig het in Langenhoven se naam?
Een van die baie, baie redes vir die gekompliseerde verhouding met Saartjie was dat my pa reeds sedert hy by Degenaar klasgeloop het by die Universiteit Stellenbosch, en veral daarna, toe hy en my ma in die sestigerjare vanaf Amsterdam teruggekom het, besef het apartheid is verkeerd. My pa het veral ’n probleem met enige vorm van nasionalisme ontwikkel. Sy ouers en veral Saartjie was groot nasionaliste (nes Langenhoven in sy tyd, natuurlik), en Saartjie was volgens my pa (en Kannemeyer) ’n vurige ondersteuner van apartheid. Die NP was vir haar ’n “waarmerk van Afrikanerskap” en sy het dié party tot haar dood aangehang met ’n blindelingse geloof.
Daar was egter ontsettend baie teenstrydighede in Saartjie. My pa het dikwels vir my gesê hy besef Sarah moes gesukkel het omdat sy as Jodin ’n buitestander was wat die Afrikaner-kultuur haar eie gemaak het en dat sy “ontsettende eensaamheid” moes ervaar het.
’n Deel van my pa se probleme in later jare met Saartjie was oor al die hoogwaardigheidsbekleërs, ministers en selfs eerste ministers (almal natuurlik van die NP) wat sy betrek het by toesprake, vlaghysings, kransleggings en onthullings en dies meer ter ere van Langenhoven – iets wat hy gevoel het glad nie by sy oupa gepas het nie en sy erfenis verdraai het.
Sy het Langenhoven vir haarself toegeëien en sy het hom eensydig voorgestel as die groot vaderlander en held. Soos Kannemeyer skryf (47): “Sy het Langenhoven as metafoor gebruik om die aandag op haarself te vestig, en sy het daarvan gehou om met mense in hoë posisies te verkeer.”
My pa en my ouma was eksentrieke mense met baie eksentrieke gewoontes (ouma Engela het byvoorbeeld ’n troetelkalkoen gehad, George Arliss) en hierdie soort vertoon was geheel en al nie hulle soort ding nie.
Langenhoven self was in essensie ’n beeldebestormer en ’n stroomop ketter wat nie daarvan sou hou as hy in ’n galery van heiliges geplaas word nie. Ek is ook seker as hy langer gelewe het, en die 1960’s en die 1970’s meegemaak het, sou hy kon insien die nasionalisme hier ter plaatse het afskuwelik skeefgeloop.
Sarah Goldblatt was merkwaardig. Sy het duidelik ’n oop deur gehad na talle NP-voorvatters, Broeders en waarskynlik selfs dominees, haar Joodse afkoms ten spyt. Haar Joodse herkoms word egter gereeld in die Malherbe-boek as ’n struikelbok genoem.
Die Langenhovens sowel as die Brümmers het baie Joodse vriende gehad – op Oudtshoorn, Beaufort-Wes en Ladismith – en ek vind dit bitter jammer dat Malherbe bespiegel dat my pa dalk antisemities kon gewees het. Dis bloot nie waar nie, en as sy die moeite gedoen het om hom te leer ken, sou sy dit ingesien het.
Die Joodse bevolking was in Oudtshoorn en Ladismith so groot in die tyd van die volstruisveervoorspoed dat daar in albei dorpe sinagoges gebou is. Oudtshoorn het as “Klein Jerusalem” begin bekend staan en het met al die buitelanders en weelde ’n internasionale karakter gekry.
Malherbe skryf op bladsy 116: “Dalk was dit waar dat die Afrikaners nie die Jodin wou aanvaar wat hulle held laat voortleef het nie.”
Dis moontlik, en natuurlik sou daar ’n mate van buitestanderskap gewees het, maar die renons in Saartjie het ook met baie ander dinge te doen gehad – onder meer die ongenuanseerde uitbeelding as “volksheld” van ’n baie komplekse mens – en haar eensydige besluitneming.
My ma was (natuurlik in my oë) ’n soort Moeder Teresa wat nie maklik kwaad geraak het nie, maar Saartjie het haar ’n paar keer taamlik die harnas ingejaag!
Die beeldmateriaal kom uit die Brümmer-familie se privaatargief, tensy anders vermeld.
* Belangeverklaring. Willemien Brümmer en Izak de Vries dien beide op die direksie van die Langenhoven Gedenkfonds. Die gesprek vind egter in hulle persoonlike hoedanighede plaas.
Lees ook:
Op soek na Saartjie deur Dominique Malherbe: ’n LitNet Akademies-resensie-essay
Kommentaar
Great article.
What is interesting is all the collateral history.