Op soek na Saartjie
Dominique Malherbe
Uitgewer: Tafelberg
ISBN: 9780624091233
“Van horen zeggen liegt men veel.” Dit is die waarskuwing wat steeds weer by my opgekom het by die lees en herlees van Dominique Malherbe se pas verskene Op soek na Saartjie, Langenhoven se geheime liefde.
Malherbe se doel is om die storie te vertel van haar merkwaardige, maar ook geheimsinnige groottante, Sarah Goldblatt (1889–1975) wat bekendheid verwerf het as energieke medewerker en uiteindelik literêre eksekuteur van die Afrikaanse skrywerikoon CJ Langenhoven. Sy vermoed naamlik dat daar in die verlede nie reg laat geskied is aan Sarah nie, dat haar storie andersins sou sterf “saam met ander stories oor vroue wat geskiedenis gemaak het”.
........
Malherbe se doel is om die storie te vertel van haar merkwaardige, maar ook geheimsinnige groottante, Sarah Goldblatt (1889–1975) wat bekendheid verwerf het as energieke medewerker en uiteindelik literêre eksekuteur van die Afrikaanse skrywerikoon CJ Langenhoven.
.........
Al gou ontwikkel die verwondering oor Sarah se groot toewyding tot ’n vraag of dit berus het op ’n liefdesverhouding buite Langenhoven se oënskynlik gelukkige huwelik met Vroutjie, oor wie hy steeds gemoedelik bly skryf het. Was dit ’n fisieke verhouding? En nog meer: Was daar ’n liefdeskind? Laasgenoemde word ’n queeste, ’n allesoorheersende speurtog, al noem Malherbe op ’n stadium dat dit nie die primêre motivering vir haar navorsing was nie (198).
Teen die einde bevind sy: “Ek het die geheim opgelos.”
Is dit egter waar? Dit verbaas my dat ’n skrywer met ’n regsagtergrond op grond van sulke yl en onbetroubare gegewens tot so ’n definitiewe gevolgtrekking kan kom.
Die vernaamste getuienis kom uit die mond van Langenhoven se kleinseun Guillaume Brümmer. Hy erken teenoor haar nie slegs dat daar ’n seun was nie, maar dui ook aan dat hy hom as jong man ontmoet het. Malherbe is voor hierdie onderhoud egter reeds deur Guillaume se dogter gewaarsku dat “sy geheue nie meer goed is nie”. Etlike elemente in die beskrywing van hierdie eerste en latere ontmoetings wat Malherbe met Guillaume gehad het, dui op iemand met gevorderde demensie. Dit blyk bowendien dat Brümmer se kennis van ’n liefdesverhouding tussen sy oupa (wat hy nooit geken het nie) en Sarah beperk is tot ’n enkele gesprek tussen sy ma en ouma wat hy as jong kind afgeluister het toe hulle gedink het hy slaap.
Daarnaas staan ’n mededeling van Malherbe se eie ma, Karen, dogter van Sarah se broer Israel. Sarah se verhouding met haar eie familie was egter teen die tyd dat daar so ’n baba die lig kon gesien het, beperk, en selfs gespanne. Na aanleiding hiervan vra sy haar op ’n gevorderde stadium in die boek af: “Het Rebecca van die liefdesverhouding geweet? Van die kind?” (Rebecca was Sarah se suster.) Haar eie ma se mededeling: “Yes, of course there was a child of Sarah’s. […] Everyone knew about it” (208) noem sy self voorheen “slegs ’n interessante brokkie” (107). Karen, wat Sarah skaars geken het, se skielike onomwonde mededeling wek selfs die skrywer se verbasing (208).
Wat oorbly, is ’n verwysing in ’n brief van Sarah aan Langenhoven uit 1926 na ’n baba wat na ’n boot gebring is (55). ’n Inskrywing in Sarah se dagboek oor “ouerlike kenmerke” word al gesien as ’n aanduiding dat sy ook self ervaring van ouerskap het. ’n Bladsy in die Langenhoven-argief waar hy ’n hele reeks punte van advies vir “my seun” aanteken (208) is vir haar nog so ’n teken. As Sarah in 1924 aan Langenhoven skryf dat sy ontsettend moeg is, meen Malherbe dat sy moontlik swaarkry onder haar swangerskap (100). Steeds soek sy in die korrespondensie na “’n sin wat dalk die juweel kon oplewer wat ek so nodig het” (99). ’n Laaste verhulde bewys in dié verband is vir haar die gedig “Kuns en liefde” (204–7). Dit is nooit in ’n bundel ingesluit nie, maar het in 1923 in Die Burger verskyn. ’n Handgeskrewe eksemplaar sluit die laaste volume briewe in die Goldblatt-versameling in die Universiteit Stellenbosch se dokumentasiesentrum af. Malherbe beskou dit as ’n gedig gerig aan die liefdeskind wat uit hul lewens vertrek het.
’n Mens moet toegee dat die ontbreking in die argiewe van briewe uit die tyd toe so ’n baba die lig kon gesien het (ongeveer 1923–1925), ’n probleem skep. Daarby kom nog die briewe in Brümmer en nou sy erfgename se besit wat hulle nie wil prysgee nie. Die gegewens oor die baba wat na ’n passasierskip gebring is, is so vaag dat dit na heeltemal iemand anders kan verwys. Dit is ook moeilik verenigbaar met die bewering in Malherbe se familiemites dat hy uiteindelik die aanneem-van Van der Merwe sou gekry het. Die dagboekinskrywing oor “ouerlike kenmerke” (179) volg op ’n gesprek met Audrey Blignault op dieselfde dag oor dieselfde saak, beswaarlik ’n aanduiding van eie ouerskap. Vir ’n suksesvolle skrywer van spreuke hoef dit sekerlik nie op ’n eie seun te dui as Langenhoven oefen met klinkende adviese aan “my seun” nie. (DJ Opperman, vader van slegs dogters, se Negester oor Ninevé is byvoorbeeld gerig op ’n seun.) Dat Sarah in 1924 baie moeg is, kan ook gewoon verband hou daarmee dat sy kort tevore die seniorsertifikaat voltooi het en nou ’n kwaai pas moet volhou met haar werk. En die volgende woorde in “Kuns en liefde” skakel Malherbe se interpretasie uit dat Langenhoven dit op sy seun rig: “Sy stem ewig stil, / Maar in sy werke leef sy woorde voort.”
Dit is terselfdertyd opvallend dat Malherbe toenemend in die boek stellings maak wat die bestaan van die kind voer van ’n moontlikheid tot ’n waarskynlikheid en uiteindelik ’n vasstaande feit. Vergelyk maar hoe sy hoofstuk 6 afsluit na die 1926-brief oor die baba wat na die skip geneem is:
Ek ken nie die presiese datum nie. Al wat ek weet, is dat Sarah volkome toegewyd aan Langenhoven was en terselfdertyd smoorverlief op hom.
En dat daar ’n kind was. (54)
Niks in die 1926-brief onderskryf selfs die gevolgtrekking dat Sarah “smoorverlief” was nie.
’n Finale gedeelte in die opbou oor die bestaan van die kind is haar nogal emosionele reaksie op ’n opmerking van die Langenhoven-biograaf JC Kannemeyer oor die wyse waarop Sarah haarself deurgaans daarvan weerhou het om buite haar rol as administrateur van die skrywer se literêre nalatenskap te tree. Kannemeyer voeg naamlik by: “behalwe wanneer dit haar gepas het” (225).
Omdat ek weet dat Sarah ’n kind by Langenhoven gehad het (soos Guillaume ook weet, en Kannemeyer vermoedelik ook geweet het) en dat sy hom vermoedelik vir aanneming moes afgee, vind ek hierdie soort bewerings oor Sarah buitengewoon kwetsend. Soveel so dat dit my hart laat pyn. Ek kan my maar net indink dat om ’n kind af te staan, en veral ’n kind van ’n man aan wie jy geheel en al onmeetlik en obsessief toegewyd is, ’n bron van diepe hartseer vir haar deur die lewe moes gewees het. (225)
Dit volg nadat Malherbe in haar hoofstuk 16 groot dele aanhaal uit ’n artikel deur Sue van Waard wat uitsprake deur Sarah bevat oor haar eie tegnieke van manipulasie. Malherbe verwyt trouens vir Kannemeyer dat hy te min aandag gegee het aan Van Waard se stuk. In haar betoog oor die bestaan van die kind gaan die skrywer dus hier in haar “Slotwoord” oor tot ’n emosionele aanslag, patos, retories gesien iets waarmee die gebrekkige feitelike bewyse ten slotte bedek word.
Sy sluit die Slotwoord af met die versugting: “Ek hoop ek kon reg laat geskied aan Sarah se storie. En ek hoop haar seun, waar hy ook al was, sou trots gewees het op sy moeder.”
Met hierdie selfingenomenheid sluit Malherbe dus haar onthulling af van die geheim van ’n familielid wat ’n leeftyd lank alles gedoen het om dit juis te bedek dat sy ’n liefdesverhouding sou gehad het met Langenhoven, om nie eens die moontlike feit van ’n liefdeskind te noem nie. So ’n redenasie is niks anders as die reinste hipokrisie nie.
Die kwessie dat die noue verhouding tussen Sarah en Langenhoven ten minste met tye ook fisieke liefde ingesluit het, is reeds openbaar in Kannemeyer se Langenhoven ’n lewe (1995) nadat daar waarskynlik voorheen skinderstories oor bestaan het. Kannemeyer baseer sy gegewens hieroor op ’n mededeling deur Brümmer oor toe hy die gesprek afgeluister het. Dit kom dus ooreen met wat Brümmer aan Malherbe gesê het. Kannemeyer beklemtoon egter dat dit nie gegaan het om ’n mariage à trois nie (653). Dit het eerder gegaan om twee vroue wat alles gedoen het om ’n hoogs talentvolle, maar onstabiele en aan depressies uitgelewerde man orent en produktief te hou. (Hoeveel skrywers was al ooit in staat tot so ’n volgehoue produksie?) Dat Malherbe dit hier wel (98) as ’n “sogenoemde mariage à trois” bestempel, is nogal verbasend.
Vergun my om hier ’n persoonlike inset te lewer. In die aanloop tot die publikasie van Kannemeyer se biografie, en trouens ook in die jare daarna, het ek noue betrekkinge met hom en sy navorsing gehad. Ek kan dit as ’n feit stel dat Kannemeyer hoegenaamd nie van die bestaan van so ’n kind geweet het nie. Hy moes wel ’n biografiese geskiedenis hanteer wat wemel van “vreemde stories”, soos Malherbe Brümmer se afluisterverhaal bestempel (31). Dit sluit in dat Langenhoven eintlik die kind van ’n Joodse smous sou gewees het. Ek het saam met Kannemeyer besin oor die ware geboortehuis en die kwessie dat die graf van sy moeder nie opgespoor kan word nie. Om natuurlik nie te vergeet van Langenhoven se eie spottery oor die dubbele brein wat hy volgens party mense sou hê en wat hy daarom aan die Universiteit Stellenbosch bemaak het nie.
........
Op soek na Saartjie is nogtans nie ’n boek sonder meriete nie. Sarah Goldblatt se verhaal is seer seker die moeite werd om te vertel. Sy was ’n besonderse persoon uit eie reg. Almal betrokke by kultuurbevordering, soos die organiseerders van ons hededaagse kunstefeeste, behoort bewondering vir haar prestasies te hê.
.........
Op soek na Saartjie is nogtans nie ’n boek sonder meriete nie. Sarah Goldblatt se verhaal is seer seker die moeite werd om te vertel. Sy was ’n besonderse persoon uit eie reg. Almal betrokke by kultuurbevordering, soos die organiseerders van ons hededaagse kunstefeeste, behoort bewondering vir haar prestasies te hê. Ook as literêre agent wat die werk van ’n topverkoperskrywer se werk bevorder was sy haar tyd ’n halfeeu en langer vooruit. Dit is ’n aspek wat Kannemeyer inderdaad miskyk, maar waaraan Malherbe self ook nie genoeg aandag gee nie. Wat was Sarah se strategie?
En in die tydperk voor Langenhoven se dood, toe sy sy “sub” was? Wat was haar werklike literêre funksie(s)? Is daar gegewens oor haar toesig oor die manuskripte op pad na en van die drukker? Was sy ’n kritiese klankbord? Malherbe noem hoe ’n opbouende kritiese rol sy teenoor ’n jong Elsa Joubert gespeel het (211). Ook Audrey Blignault word aangehaal as dat Sarah teenoor haar as “’n kritiese gehoor” (194) opgetree het. Haar skerp insig blyk uit haar snydende beoordeling van die Nobelpryswenner Ernst Hemingway se werk (131).
Wanneer Malherbe teensinnig die Afrikaanse Taalmonument besoek, moet sy veg teen haar aversie. Tot op daardie stadium meen sy “dat dit gebou is om die taal van die verdrukker te gedenk – die argitekte van apartheid, wat die land geplunder en onteer het, wie se nalatenskap beslis geen akkolades verdien nie” (116). Dit moet sy oorkom om iets te probeer begryp van haar groottante se toewyding aan hierdie taal en gepaardgaande nasionalisme. Sy dring egter steeds nie deur tot die essensie van die Langenhoven/Saartjie-benadering nie. Met die aanhaal van ’n brief van Saartjie aan Langenhoven skuur Malherbe kennelik verby die essensie sonder om dit te besef: “Denk terug aan die gedurige gevegte met die beste onder jou eige volk om tog jou eige volk ’n bietjie self-respek te laat kry” (93). Deel van hierdie eintlik baie beskeie nasionalistiese ideaal is ook die stryd om ’n Afrikaanse skryftaal te ontwikkel uit die gewone mens se spreektaal en om dit vervolgens te gebruik sodat ’n letterkunde gevorm kan word wat bevatlik bly vir die gewone mens. Daarvoor was streng kontrole noodsaaklik. Vandaar ook Langenhoven se teensin in letterkundige geleerdes.
........
Deel van hierdie eintlik baie beskeie nasionalistiese ideaal is ook die stryd om ’n Afrikaanse skryftaal te ontwikkel uit die gewone mens se spreektaal en om dit vervolgens te gebruik sodat ’n letterkunde gevorm kan word wat bevatlik bly vir die gewone mens.
...........
Is dit waar dat Sarah, ondanks haar belangrike werk vir Afrikaans as Jood, steeds ’n uitgestotene was onder Afrikaners? Dit is ’n sienswyse wat Malherbe oorneem van vorige navorsers. Sarah was lank nie die enigste persoon van Joodse afkoms wat opgegaan het in Afrikaanse gemeenskappe nie. Dat sy intense vriendskappe met van die prominentste Afrikanervroue van haar tyd gehad het, dui op die teendeel: MER, Audrey Blignault, Anna M Louw, die jonger Elsa Joubert. Malherbe haal Audrey Blignault aan wat haar “my goeie en getroue vriendin” noem. Die landwye 1973-viering van Langenhoven se 100ste geboortejaar was moontlik slegs danksy die oop deur wat Sarah gehad het na prominente Afrikaner-leiers. Ek het gesien met watter eerbied sy ontvang is toe sy in daardie jaar op Stellenbosch die verhoog betree het. Natuurlik is dit soms nodig om in so ’n projek druk op mense uit te oefen.
Malherbe neem ’n versugting oor uit Audrey Blignault se dagboek dat Sarah ten minste ’n eredoktorsgraad moes ontvang het “vir haar voortreflike arbeid en toegewyde strewe vir Afrikaans” (195). Ook elders wys sy daarop dat Sarah nie na verdienste vereer is nie. Daar was destyds waarskynlik minder toekennings beskikbaar van die ATKV, die FAK, ens. Sekerlik het sy groot verdienste gehad. Van die Kaapse Drie Eeue Stigting kry sy wel ’n toekenning. Met die gegewens wat Malherbe in hierdie boek aanbied, sien ek egter swarigheid om spesifiek die toeken van ’n eregraad by ’n universiteit te motiveer en goedgekeur te kry.
’n Saak wat nie genoeg aandag kry nie, is die finansiële voordele wat Sarah uit haar rol met die Langenhoven-nalatenskap ontvang het. Sou hy haar betaal het vir haar werk tydens sy lewe? Sy inkomste behoort voldoende te gewees het. Malherbe noem dat Langenhoven deur sy testament wel vir haar sekuriteit gegee het, naamlik 25% van die opbrengs uit sy werk, terwyl sy ook die volle tantieme sou ontvang op sommige titels. Foutiewelik skryf Malherbe (226) dat daar “in die jaar voor Sarah se dood twee miljoen eksemplare van die Versamelde werke verkoop is”. ’n Meer korrekte gegewe is wat Kannemeyer (27–8) haal uit ’n toespraak van Sarah in 1974, naamlik dat daar tot op daardie datum altesame 2 100 000 boeke (dus ook in ander uitgawes) van Langenhoven se boeke verkoop is. Dit gee in die jare 1914 – 1973 ’n gemiddeld van 35 000 eksemplare per jaar. Sarah het dus ’n literêre goudmyn bestuur en haar aandeel moes aansienlik gewees het. Haar insette het vir haar groot voordeel ingehou. Dit is jammer dat Malherbe se oorhaastige redakteurs haar nie verwys het na Nasionale Pers se argiewe nie. (Niemand het haar ook verwys na die Langenhoven-versameling by die NALN in Bloemfontein nie.)
Die niechronologiese opbou van Op soek na Saartjie hoef nie op sigself ’n beswaar te wees nie. Dit veroorsaak egter onnodige herhalings en werk meer verhullend as verhelderend. Watter probleme so ’n benadering kan oplewer, blyk reeds vroeg. Malherbe skryf hoe sy tydens haar eerste besoek aan Elsa Joubert die storie van Guillaume Brümmer vertel het dat sy ma die twee verliefdes eenkeer in die kombuis betrap het. Net daarna sit Malherbe buite Elsa se blyplek in haar motor en wonder hoe haar kennelik eerste ontmoeting met Brümmer sal verloop! (26).
Die boek bevat interessante gegewens, maar beantwoord nie aan sy potensiaal nie. Dit is eintlik ’n verlore geleentheid en is te oorhaastig gepubliseer. Die kwessie van die liefdeskind is inderdaad vandag nie meer “’n verhaal van oneer en skande” nie. Malherbe se poging om dit tot waarheid te dwing, is egter skadelik vir die boek. En Sarah se storie bly onvolkome vertel.
Lees ook:
The heart has spaces – the love letters of André Brink and Ingrid Jonker
Flame in the Snow – the love letters of André Brink and Ingrid Jonker
Kommentaar
Dankie vir u beskouing, prof. Wium!
Corlietha Swart
Talle navorsers het al te hard na antwoorde/feite gesoek wat hulle graag daar wou vind, en daarmee hulle verwagte strewe na objektiewe dokumentering versaak. Helaas, dit skyn ook hier die geval te wees. Langenhoven blyk ook skynheilig te gewees het met al sy raad aan ander, selfs spreuke soos Salomo, en ironies, soos Salomo ook, voor sy minder intellektuele drifte geswig. Ikone is egter maar mense, nie gode nie. Uiteindelik moet sy en Sarah se nalatenskap egter steeds hoofsaaklik aan literere maatstawwe beoordeel word. Heldeverering maak mense blind, maar skynbaar ook die behoefte om 'n sekere deel van die bevolking te ondergrawe. Dit lyk mos so half asof Afrikaner-bashing nou begin vlam vat in die boekebedryf?
Nog 'n sensasionele boek deur die opportunistiese uitgewer.
Dankie, Wium, vir die verantwoordelik-kritiese sorg met hierdie resensie.
Sien Tali Feinberg se uitstekende bespreking van Malherbe se boek in die jongste uitgawe van die SA Jewish Report:
https://4crdug1m1izqix01u1hvesh1-wpengine.netdna-ssl.com/wp-content/uploads/2021/05/2021-05-14_b.pdf
'n Uitstekende bespreking, Daan Desimaal? Een waarin beweer word dat Saartjie nooit erkenning vir haar werk gekry het nie. Dis mos onsin, soos wat Wium van Zyl uitwys.