JC Kannemeyer (1939–2011)

  • 0

Gebore en getoë

John Christoffel Kannemeyer is op 31 Maart 1939 op Robertson in die Wes-Kaap gebore. Sy enigste broer, Freddie, was veertien jaar ouer as hy.

Kannemeyer se pa is op Vanwyksvlei in die Klein Karoo gebore en het later op Ladismith in die Klein Karoo skoolgegaan, al was daar in die jare na die eeuwending nie veel geleenthede vir opleiding nie. Hy het dus slegs ’n paar jaar onderwys geniet. Hy was lank voor Kannemeyer se geboorte, soos sy broers, by die boubedryf betrokke, maar moes weens ’n longkwaal hierdie tipe werk laat vaar, het Kannemeyer in Die rym neem ook ’n hele lewe in beslag geskryf. In 1915 is hy na Robertson, waar hy as ”middelman” vrugte, droë vrugte en pluimvee opgekoop het. Later jare het hy ’n winkel besit met ’n gas-agentskap en het hy heelwat huise op die dorp gekoop of laat bou wat hy dan weer verhuur het. Hy het ook bekend gestaan as ’n moeilike, liggeraakte man met min geduld en ’n opvlammende humeur.

In teenstelling met sy pa was Kannemeyer se ma, Katie, iemand met ’n sterk emosionele inslag en met ’n neiging om “labiel van die hoogste vreugdes en uitbundigheid tot die uiterste aanvalle van swaarmoedigheid” oor te gaan. Sy was afkomstig uit die Van Zyl-familie wat ook, soos die Kannemeyers, by die boubedryf betrokke was of as timmermans gewerk het. Haar ouers en die meeste van haar broers en susters het op Robertson gewoon, sodat Kannemeyer as kind sy moeder se mense veel beter as dié van sy vader geken het. Sy ma se mense het ook bekend gestaan as moeilike mense met ’n oordrewe beklemtoning van godsdienstige aangeleenthede. So het sy moeder se soeke na vastigheid en waarheid haar tot ’n swerftog deur verskillende denominasies en sektes gelei. Toe Kannemeyer ’n kind was, het sy afwisselend die byeenkomste van die Heilsleër, die Apostoliese Geloofsending en die Sewendedag-Adventiste bygewoon, iets wat vir hom as jong seun nogal verwarrend kon wees.

Benewens die Van Zyl-familie se neiging tot die wysgerige en die mistieke het hulle ook ’n belangstelling in en aanleg vir die kunste gehad. Kannemeyer was van mening dat hy sy belangstelling in die literatuur en die kunste van sy ma se kant ontvang het. Sy moeder het ’n aanvoeling vir die poësie gehad en hy kon haar groot vreugde onthou wanneer hy tydens sy skooljare iets vir haar voorgelees het. Sy is in 1985 oorlede.

“Daarby kon sy by tye haarself in sappige Afrikaans uitdruk en ’n gewestelike idioom gebruik wat van ’n sluimerende taalvaardigheid getuig het. My vader het wel ’n bietjie kennis van en baie bewondering vir Langenhoven gehad, maar origens was hy sonder belangstelling of orgaan vir die letterkunde. As ek dus my aanleg vir die letterkunde van my moeder ontvang het, was my vader se logiese inslag seker vir my die basis om in later jare as kritikus sistematies verslag te doen van wat ek op dié gebied ervaar.”

Die Robertson van Kannemeyer se jeugjare was ’n klein dorpie wat in ’n mate ’n idilliese wêreld was, en hoewel hulle bewus was van die woelinge in die wêreld net voor die Tweede Wêreldoorlog, het dit hulle weinig aangegaan.

Kannemeyer se broer, Freddie, het na skool by hulle vader gaan werk en was later ‘n volle vennoot. Na hulle vader se dood het Freddie sy sakebelange verder uitgebrei en het as stadsraadslid vir amper 20 jaar waardevolle diens vir die Robertsonse gemeenskap gelewer.

Met net een baie ouer broer en ouers wat betreklik alleen sonder ’n wye vriendekring geleef het, was Kannemeyer as kind van vroeg af op homself aangewys, ’n “soort situasie wat naas vlugte van die verbeelding en die opbou van ’n eie towerdomein genoeg tyd gelaat het om uitgebreid te lees en geleidelik die wêreld deur boeke heen te leer ken”.

By die skool was twee van John se beste maats Issy Epstein en Ralf Pinto, albei van Joodse afkoms, wat met die godsdiensklas soggens deur die juffrou toegelaat is om buite in die son te gaan staan totdat sy klaar was met Bybellees en die klas klaar was met die leer van Hallelujaliedere. Issy was die trotse eienaar van die volledige Hardy Boys-reeks, wat Kannemeyer een na die ander by hom geleen het, terwyl Ralf hom vertel het van die uitdelging van die Jode in Nazi-Duitsland.

Van John se onderwysers in die laerskool op Robertson het veral mnr HMO Arangies uitgestaan, sy onderwyser in standerd 3 (graad 5). Hy het sy klasse lewendig aangebied en dit was veral sy meevoerende lesse oor die Suid-Afrikaanse geskiedenis wat ’n indruk op die jong Kannemeyer gelaat het.

Kannemeyer is in 1953 na die Hoërskool Robertson, waar hy in 1956 sou matrikuleer. In daardie jare het die sekondêre kursusse oor vier jaar gestrek en in standerd 7 begin, nie in standerd 6 soos in latere jare nie. Hy het sy hoërskooljare onthou as ’n plek waar harde werk van die leerlinge verwag is, maar waar hulle ook die geleentheid gebied is om hulle kennis te verruim en hulleself geestelik te verryk. Ook was daar goeie en toegewyde onderwysers onder die hoofskap van mnr AS Du P le Roux.

Kannemeyer was nie ’n groot sportman op skool nie en sy vrye tyd is in ’n groot mate aan lees gewy. Hy het reeds as laerskoolkind by die dorpsbiblioteek aangesluit. Die versameling was ongeveer 90% Engels en die Afrikaanse boeke wat daar was, het hy verslind. Hy kon hom nie herinner dat daar ’n enkele Afrikaanse digbundel op die rakke was nie. Daar was wel ’n eksemplaar van Gerrit Dekker se literatuurgeskiedenis, wat hy van ’n kant af deurgewerk het.

Miss Valerie Lewis was die bekwame hoof van die skoolbiblioteek, waar Kannemeyer naas ontspanningsverhale ook klassieke verhale van Dickens en Hardy kon uitneem.

As gevolg van die afwesigheid van Afrikaanse digbundels op die biblioteek se rakke het Kannemeyer besluit om enkele van die bundels wat in Dekker genoem word, uit sy sakgeld aan te koop. So het hy in 1953 in die plaaslike boekwinkel afgekom op die vierde druk van Elisabeth Eybers se Die stil avontuur, wat hy vir 6 sjielings en 9 pennies (ongeveer 70c) gekoop het. Hy het die bundel dadelik gelees, maar kon nie veel daarvan verstaan nie. Hy is na sy Afrikaans-onderwyser, mnr Loubser, wat begin lees het aan die eerste gedig, “Die gebed van verstarrende siele”, maar tot Kannemeyer se teleurstelling kon mnr Loubser hom nie help nie en was sy reaksie op die gedig: “Nee, kyk Kannemeyer, hierdie gedig kan geen mens begryp nie.”

Hierna het Kannemeyer ’n katalogus van die Nasionale Boekhandel bestel en ’n klein versameling Afrikaanse digbundels opgebou. Gelukkig het hy in daardie jare bevriend geraak met die landbou-onderwyser, mnr JH Pienaar, en sy vrou, wat vroeër Afrikaans-onderwyseres was. Mnr Pienaar het ’n lewendige belangstelling gehad in die literatuur en verwante gebiede soos die geskiedenis en het die vroeë digkuns van Celliers, Totius en Leipoldt met Kannemeyer bespreek, en het hom ook bekend gestel aan baie skrywers, soos NP Van Wyk Louw, met wie Kannemeyer nog nie kennis gemaak het nie.

Kannemeyer het gedurende sy hoërskooljare self gedigte geskryf en ook vir die skool se jaarblad enkele prosastukke geskryf. Op laerskool is ’n geleentheidsgedig vir Kersfees van hom by ’n byeenkoms van die Heilsleër voorgedra. Reeds in standerd 8 het hy in ’n brief aan DJ Opperman sy bewondering vir Periandros van Korinthe uitgespreek en ook van die geleentheid gebruik gemaak om enkele van sy digpogings aan Opperman voor te lê. Opperman se kritiek was nie so skerp soos die van Ernst van Heerden, vir wie Kannemeyer ook gedigte gestuur het nie.

Op hoërskool het Kannemeyer ’n aktiewe rol gespeel in die debatsvereniging en het in sy matriekjaar die redenaarsbeker gewen, “iets waarop ek nogal trots was, omdat ek nie van nature ’n goeie spreker is nie en dit dikwels moeilik vind om sonder voorbereiding saak en woord bymekaar uit te bring”.

Verdere studie en werk

Vir Kannemeyer was dit vroeg in sy hoërskooljare ’n uitgemaakte saak dat hy na skool universiteit toe sou gaan, en spesifiek na die Universiteit Stellenbosch. Sy pa wou gehad het hy moet in die regte gaan studeer, maar hy het van die begin af geweet dat die literatuur sy vakgebied sou wees en dat Afrikaans-Nederlands en Latyn sy hoofvakke sou wees, saam met Frans en filosofie. Hy sou ook nie by ’n BA-graad ophou nie, maar sou daarna ook sy honneurs, MA en doktorsgraad verwerf. Só het hy dus aan die begin van 1957 met sy naskoolse studie aan die Universiteit Stellenbosch begin.

Gedurende sy eerste jaar was Kannemeyer ’n inwoner van Dagbreek of John Murray-huis, maar daarna het hy privaat geloseer, eers by mnr en mev Mey en daarna in ’n kamertjie in Verreweide by mev Joubert. In 1959 het hy sy BA-graad behaal met Afrikaans-Nederlands en filosofie as hoofvakke en sosiologie, Frans, sielkunde en Latyn as eerste- en tweedejaarsvakke. Aan die einde van 1959 is hy verkies tot voorsitter van die Afrikaanse Studiekring.

In 1960 het hy sy BA Honneurs cum laude verwerf en in 1962 sy MA, ook cum laude. Hy het hom daarna ingeskryf vir sy doktorale studie onder promotorskap van DJ Opperman. In 1964 het hy die graad DLitt verwerf met sy studie oor “die stem in die literêre kunswerk” wat Nasou in 1965 as boek sou publiseer.

In 1962 is Kannemeyer tydelik as lektor in Afrikaanse letterkunde aan die Universiteit van Kaapstad aangestel. In 1962 het hy vir Beatrix Marianne Broer, ’n meisie van Nederlandse afkoms, in Pretoria ontmoet en hulle is in April 1963 getroud. Twee seuns, Johan Mark en Anton Christoffel, is in 1965 en 1967 uit die huwelik gebore.

In Junie 1968 is Prosakuns gepubliseer wat ’n inleiding tot die tegniek van prosa was en die resensies was oor die algemeen gunstig.

Hoewel Kannemeyer ’n aangename tyd aan die Universiteit van Kaapstad gehad het, het hy tog gevoel dat hy liewer binne ’n oorwegend Afrikaanse gemeenskap sou wou werk en meer Afrikaanstaliges studente sou wou hê. Hy het dus in 1965 aansoek gedoen om ’n betrekking by die nuwe Universiteit van Port Elizabeth en ’n jaar later by die Universiteit van Suid-Afrika, maar sy aansoeke was nie suksesvol nie. Einde 1968 was daar ’n vakature vir ’n senior lektoraat aan die destydse Randse Afrikaanse Universiteit (RAU, nou UJ) in Johannesburg, maar hy het nie aansoek gedoen toe die pos geadverteer is nie. Nadat Frans van Rensburg so te sê die pos van senior lektor in Nederlandse letterkunde aan Kannemeyer aangebied het, het hy aansoek gedoen en op 1 April 1969 in Johannesburg begin werk.

As gevolg van die druk doseer- en administratiewe program by RAU het Kannemeyer tydens sy termyn nie baie geleentheid gekry om te publiseer nie, en die enigste stukke wat in hierdie tyd in tydskrifvorm verskyn het, was die kommentaar op die toekenning van die Hertzogprys vir drama aan Opperman, ’n artikel oor die debuutdramas van George Louw en PG du Plessis, en ’n bespreking van PG du Plessis se Siener in die suburbs.

Teen 1970 was sy werk só ingedeel dat hy in die eerste semester slegs nagraadse klasse gehad het en dus redelik los was. Ook het hy gevoel dat hy lanklaas iets konstruktiefs gedoen het. Hy het gemeen dat dit tyd was om sy gedagtes oor Etienne Leroux se Sewe dae by die Silbersteins, waaroor hy baie aantekeninge gereed gehad het, te orden en die boek te skryf wat hy lankal wou. En in Maart 1970 het hy die manuskrip van Op weg na Welgevonden aan Human & Rousseau gestuur; dit is later dieselfde jaar in ’n beperkte oplaag gepubliseer.

In Desember 1970 is Kannemeyer en sy gesin na Europa, waar hy in Nederland wou navorsing doen. Sy terrein het hy beperk tot ’n verkenning van die moderne Nederlandse poësie, met die aksent op die verhouding tussen eksegese en beeld as ’n tema – iets wat hom al sedert 1960 geïnteresseer het.

Dit was Kannemeyer se plan om die tweede deel van 1971 in Amsterdam met sy navorsingswerk voort te gaan, maar sy persoonlike lewe het hom gedwing om vroeër na Suid-Afrika terug te keer. Trix, sy vrou, het hom om ’n egskeiding gevra en het verkies dat hy die kinders behou. Daarby het Mark siek geword, en nadat behandeling in Frankryk nie gehelp het nie, het Kannemeyer en die kinders na Suid-Afrika teruggekeer, waar Mark gediagnoseer is met tuberkulose van die linkerknie.

Kannemeyer se vader is in Januarie 1972 oorlede en hy het gevoel dat hy terug Kaap toe wou gaan. Die middel van 1972 is ’n pos by die Universiteit van Kaapstad geadverteer en hy het daarvoor aansoek gedoen. Hoewel hy ’n lektoraat aangebied is en hy reeds senior lektor was, het hy dit tog aanvaar en het begin 1973 weer by die Universiteit van Kaapstad begin werk, vir twee jaar.

In 1973 is Kannemeyer weer getroud, hierdie keer met Estelle, dogter van die gewese eerste minister JG Strijdom, maar die huwelik was ’n mislukking en hulle is na slegs enkele maande uitmekaar. In die middel van 1974 is hy met Althea Roberts van Mosselbaai getroud. Hulle is in 1981 geskei en aan die einde van 1984 is hy met sy ou skoolvriendin Sugnèt Kriel getroud.

Kort na hulle terugkoms het Johan Smuts van Stellenbosch Kannemeyer meegedeel dat daar twee vakante lektorate in die Nederlandse letterkunde in die Departement Afrikaans op Stellenbosch is. Hy het vir die pos aansoek gedoen en dit op 1 Januarie 1975 aanvaar. In 1976 is hy as senior lektor aangestel, ’n posisie wat hy tot 1981 beklee het. Daar was vroeg in 1981 twee professorate in Afrikaans en Nederlands vakant: een aan die Universiteit van die Oranje-Vrystaat en een aan die Universiteit van die Witwatersrand. Kannemeyer het om albei poste aansoek gedoen en sy aansoek by Wits was suksesvol. Hy het hierdie professoraat tot die einde van Maart 1987 gevul.

Kannemeyer het in Die rym neem ook ’n hele lewe in beslag geskryf dat hy op Stellenbosch gelukkig was om briljante studente in sy klasse te hê. Daar was Gerrit Olivier, Anlen Jordaan (wat as Anlen Marais gedebuteer met Die wolf in die blare), Marianne de Jong, Jean Lombard en Koos Bekker. In later jare was daar Louise Viljoen, Daniel Hugo, Louis Krüger, Joan Hambidge, Etienne van Heerden (wat in sy honneursklasse was) en Marlene van Niekerk en André le Roux (wat voorgraadse kursusse bygewoon het).

In 1973 het Koos Human van Human & Rousseau Kannemeyer genader oor die moontlikheid om ’n literatuurgeskiedenis van Afrikaans aan te pak, aangesien die vorige twee skrywers van literatuurgeskiedenisse van Afrikaans, Gerrit Dekker en Rob Antonissen, albei oorlede is en dit beter sou wees as so iets deur ’n nuwe skrywer op hierdie gebied gedoen moet word – en Human en DJ Opperman het albei gemeen dat Kannemeyer die geskikste persoon is om so ’n taak te onderneem. Opperman was veral beïndruk met sy Nederduitse digkuns wat in 1973 verskyn het en was bereid om advies te gee en die aanpak van die werk met Kannemeyer te bespreek.

Na twee weke het Kannemeyer die ander twee meegedeel dat hy die uitnodiging aanvaar. “Oor ’n formidabele middagete in Lanzerac op 15 Julie 1973 het ek dan ook aan my twee gashere gesê dat ek die uitnodiging om ’n literatuurgeskiedenis te skryf, as iets soos ’n doodsvonnis sien. Die enigste twee persone wat dié taak in Suid-Afrika onderneem net, is reeds oorlede, al is ek met die gelatenheid van ’n Germanicus bereid om dit te aanvaar ‘soos ek ook die dood aanvaar’. Koos se enigste lakonieke kommentaar was dat een van die twee literatuurhistorici darem op hoë ouderdom gesterf het!” En só het Kannemeyer begin werk aan dít wat sy naam in die Afrikaanse letterkunde gevestig het.

Die projek het aanvanklik stadig gevorder, maar in die loop van 1974 het dit skielik op dreef begin kom. Terwyl Kannemeyer aan die literatuurgeskiedenis gewerk het, het hy ook tyd ingeruim om aan ander publikasies te werk. Só is Verspreide opstelle, ’n bundel met kritiese opstelle van Opperman, in 1977 uitgegee.

’n Bundel van Kannemeyer se eie kritiese opstelle is ook in 1977 gepubliseer, onder die titel Konfrontasies: letterkundige opstelle en kritiek, 1961–1975. Die bundel is aan DJ Opperman opgedra. LS Venter het sy resensie van Konfrontasies in Oggendblad met die volgende woorde afgesluit: “Kannemeyer bestendig met dié bundel sy beeld as verantwoordelike literêre vakman, van wie mens soms mag verskil maar wie se oordeel jy altyd graag verneem.”

In 1977 het Kannemeyer die taak van redaksie-sekretariaat van die letterkundige tydskrif Standpunte op hom geneem. Die eerste nommer wat hy behartig het, was 127 van die 3de reeks, jaargang 30:1, Februarie 1977. Hy het hierdie amp beklee tot 1983, en die uitgawe van Standpunte 168(XXXVI) van 6 Desember 1983 was sy laaste een. André P Brink het hom opgevolg.

Die eerste deel van Geskiedenis van die Afrikaanse literatuur is op 4 Augustus 1978 tydens ’n skemeronthaal in die ou Burgerhuis op die Braak op Stellenbosch bekendgestel. Die reaksie daarop was “oorweldigend gunstig”. Ernst Lindenberg het dit beskryf as “volledig, skerpsinnig en uiters bruikbaar. As naslaanwerk sal dit om sy omvang én deskundigheid moeilik geëwenaar kon word.” Op 2 Augustus 1979 het Kannemeyer in die Klub Here XVII in Kaapstad die Recht Malan-prys vir die boek ontvang.

In Oktober 1978 is Kannemeyer vir drie maande na Europa vir navorsingswerk en ’n vakansie. Dit het hom die geleentheid gebied om afstand te kry van die literatuurgeskiedenis en ook om sy “sintuie op te skerp”.

Met sy terugkeer het hy voortgegaan met sy navorsing vir die deel 2 van Geskiedenis van die Afrikaanse literatuur. Hy het gedurende hierdie tyd ’n aandeel gehad in die bundel Voetpad vir verkenning (1978), wat bestaan het uit Elisabeth Eybers se kritiese opstelle en wat André P Brink “een van die belangrikste bundels kritiese opstelle” genoem het.

Ook was hy intensief besig met sy studie van DJ Opperman se oeuvre wat in 1979 onder die titel Kroniek van klip en ster verskyn het. En by dieselfde geleentheid is Die galeie van Jorik, ’n faksimilee en transkripsie van die oorspronklike dokumente met ’n weergawe van die finale teks bekendgestel. Sommige van die resensies van Kroniek van klip en ster was positief, soos dié van André P Brink, maar Kannemeyer vermeld self dat daar vir hom die eerste aanduiding was dat “daar onder sommige vakgenote ’n wrewel aan die opwel was oor my produktiwiteit as literator”. Terwyl AP Grové se waardering “gekwalifiseerd” was, was Hein Viljoen, DH Steenberg en TT Cloete se menings grootliks negatief. Ook Cloete en FIJ van Rensburg se besprekings van Die galeie van Jorik was negatief.

1980 was ’n besige jaar vir Kannemeyer, met die verskyning van die twee bundels van Etienne Leroux, Tussenspel en Tussengebied, wat onderskeidelik keuses uit sy verspreide korter stukke en sy lesings en opstelle bevat. Ook is C Louis Leipoldt se Versamelde gedigte uitgegee.

Tydens Kannemeyer se tyd as professor by Wits het bekendes soos Lucas Malan, Daniel Hugo en Etienne van Heerden, die eerste twee as doktorale studente en Van Heerden as MA-student, onder hom studeer. Onder die honneursstudente was Peter Kannemeyer Massyn, Dan Roodt, Johan van Wyk en Philip Kannemeyer.

Op 15 September 1983 is Geskiedenis van die Afrikaanse literatuur 2 in die Hotel Sunnyside Park bekendgestel, en meer nog as in die geval van deel 1 het die radio, televisie en pers die geleentheid gedek. Met die uitsondering van TT Cloete s’n was die reaksies op hierdie tweede deel besonder gunstig. Ena Jansen het gesê dat die twee bande saam ’n “magnum opus” voltooi, terwyl André P Brink dit ’n “monumentale stuk werk” noem. Dit was, net soos die eerste deel, op die kortlys vir die Louis Luyt-prys vir 1983.

Reeds voor die voltooiing van die tweede deel het Kannemeyer begin dink om ’n werk van biografiese aard te skryf. Sy aanvanklike idee was om so ’n werk oor NP Van Wyk Louw te skryf, maar hy het gou besef dat hy veel meer kennis en dokumente oor DJ Opperman tot sy beskikking het. Daarby het hy geen ander skrywer se werk so goed geken soos Opperman s’n nie en was hy dié figuur wat Kannemeyer feitlik sy hele lewe lank begelei het. En só het Kannemeyer se loopbaan as biograaf van formaat begin.

Ná die voltooiing van Geskiedenis van die Afrikaanse literatuur 2 het Kannemeyer in Maart 1983 begin met sy navorsing oor Opperman en dit is enkele dae na Opperman se dood op 22 September 1985 voltooi. Na die finale wysigings aangebring is, is DJ Opperman: ’n biografie op 30 Oktober 1986 by De Volkskombuis in Stellenbosch bekendgestel. Weer was die resensies oorwegend gunstig en het onder andere Antjie Krog Kannemeyer se aanbieding van feite en sy “besondere skryftalent” geloof. “Opperman en Kannemeyer sorg vir ’n boeiende kombinasie – asof die een spesiaal so moes lewe en die ander met sy detail-neus en verstommende werkvermoë eventueel oor hom móés skryf.” Kannemeyer het vir hierdie biografie ’n navorsingstoekenning van die senaat van die Universiteit van die Witwatersrand, ‘n RGN ad hoc-toekenning en steun van Radio Suid-Afrika se Skrywersfonds ontvang. DJ Opperman was op die kortlys vir die Rapport-prys vir 1987 en die Ou Mutual-prys vir niefiksie is in 1987 daaraan toegeken.

Alhoewel Kannemeyer gelukkig was by Wits, was daar tog bepaalde aspekte wat hom gehinder het en het hy dus aan die einde van 1986 as professor bedank. Aan die begin van April 1987 het hy diens aanvaar as senior navorsingspesialis by die Instituut vir Taal- en Kunstenavorsing van die RGN en daarmee saam het hy ook na Pretoria verhuis. Hierdie pos het hom in staat gestel om voltyds navorsing te doen, die tipe werk waaraan hy in daardie stadium van sy lewe voorkeur gegee het. Hy het binne enkele maande begin met die beplanning van ’n nuwe kultuurgeskiedenis van Suid-Afrika waaraan 38 vakkundiges oor die hele land sou meewerk. Hierdie werk is egter nooit gepubliseer nie, want ná FW de Klerk se dramatiese aankondigings in die parlement op 2 Februarie 1990 was dit duidelik dat die werk in ’n baie verouderde polities-kulturele sleutel geskep was. Hy het ook by die RGN ’n projek oor die Dertigers geregistreer wat op ’n verkenning van veral die Stellenbosse dokumente berus en waarin hy ’n beeld wou gee van die prikkels binne die literêre lewe van daardie tyd.

In 1988 is die Gustav Preller-prys vir literêre kritiek deur die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns aan Kannemeyer oorhandig en in 2002 het die Maatschappij der Nederlandse Letterkunde die C Louis Leipoldt-prijs aan hom toegeken vir die opstel “Uys Krige en die Suid-Afrikaanse politiek”. Die NP Van Wyk Louw-medalje van die Akademie is in 2003 aan hom oorhandig en daarby het hy deur die jare etlike beurse van onder andere Rupert International, Het Jan Marais Internationale Fonds, Stichting Neerlandia, Van Ewijck-Stigting, en Voorsittersfonds van Nasboek en Tafelberg-uitgewers ontvang vir navorsing plaaslik en in die buiteland.

Kannemeyer is in September 1992 terug na Stellenbosch, waar hy hom voltyds op navorsing toegespits het en vryskutwerk gedoen het. In 2003 is hy vir drie jaar as buitengewone professor in die Departement Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit Stellenbosch aangestel. As buitengewone professor sou hy ’n module in dokumentasiekunde aanbied waarin studente opgelei sou word om die Dokumentasiesentrum van die JS Gericke-biblioteek van die universiteit meer sistematies in hul bestudering van die Afrikaanse letterkunde te ontgin. Belangrike Afrikaanse skrywers het talle versamelings dokumente aan die sentrum nagelaat. Dit is die belangrikste sentrum van dié aard in die land. Gevolglik kan dit as ’n soort “laboratorium” by die aanbieding van so ’n kursus dien.

In die dokumentasiekunde-module sou onderrig in verskillende onderafdelings gegee word. Dit sluit in teksologie, edisiewetenskap en redigering, die voorbereiding van verskillende soorte uitgawes (soos histories-kritiese uitgawes, lees- en faksimilee-uitgawes), die uitgawes van versamelde werke van skrywers, van briewe, dagboeke en geskiedkundige dokumente, en die gebruik van dokumente by die skryf van biografieë en literatuurgeskiedenisse.

In Stellenbosch het John Kannemeyer dit begin doen waarvoor hy grootliks onthou sal word. Hy het na sy eerste biografie nog agt biografieë die lig laat sien, asook twee fotoboeke. In 1993 het hy die boek oor sy soektog na Peter Blum, getiteld Wat het geword van Peter Blum? Die speurtog na die Steppewolf: ’n narrasie in veertien episodes met ’n naspel, gepubliseer. Hennie Aucamp noem dit ’n studie oor Peter Blum en nie ’n biografie nie, aangesien daar maar min oor sekere gedeeltes van sy lewe bekend is. En Kannemeyer het Blum oortuigend laat herleef.

Naas die biografie oor Opperman het Kannemeyer in 1994 Die bonkige Zoeloelander: DJ Opperman in beeld uitgegee. Dit kan dien as aanvulling tot die biografie, het Johann Botha geskryf, en daar is genoeg aanvullende materiaal om hierdie aparte bundel te regverdig.

In 1996 het Kannemeyer sy tweede van drie Recht Malan-pryse ingepalm met die publikasie van Langenhoven – ’n lewe wat in 1995 verskyn het. As aanvulling is Die dienswillige dienaar: ’n Langenhoven-fotoboek ook in 1995 gepubliseer. Vir Abraham de Vries is een van die pluspunte van hierdie biografie dat dit ’n skrywer wat so lank byna oorbekend was, weer verlewendig vir die avontuursoeker, benewens dan dat dit vir die gewone leser die verhaal vertel van ’n bekende skrywer en volksfiguur se soms tragiese gespletenheid en van die worsteling met die demone in sy skadukant.

Kannemeyer het al in 1990 aan Langenhoven se biografie begin werk en naas die massiewe argivale materiaal het hy ook wyd in die Klein Karoo gereis om met Langenhoven se wêreld vertroud te raak. Begeester deur dié streek se unieke geskiedenis, sy natuurskoon en gasvrye mense, het hy in 1993 ’n paar kollegas op ’n driedaagse “Langenhoven-toer” geneem. Een van sy reisgenote, Wium van Zyl, het besluit om hierdie ekskursie aan die groter publiek te bemark. So het ’n unieke literêre reis “op die spore van Langenhoven” ontstaan wat die voorloper was van baie ander toere op ander Afrikaanse skrywers se voetspore met Wium van Zyl as organiseerder en Kannemeyer as kundige en geestige kommentator. Daar is tot in Nederland skrywerstoere gereël.

Oor Langenhoven – ’n lewe het JC Steyn geskryf dat dit ’n uitstekende werk is wat ’n magdom nuwe en interessante inligting oor die bekende skrywer bevat. Dit is vir Steyn beter as die Opperman-biografie. Kannemeyer slaag daarin om Langenhoven as mens voor te stel sonder om hom te ontluister of as vlekkelose held op te hemel. Ook Joan Hambidge het dit as ’n verstommende werk beskryf: oerdeeglik, openbarend én knap vertel.

Met Leipoldt: ’n lewensverhaal het Kannemeyer in 2000 die driekuns aan Recht Malan-pryse verower. Dit het ook die Helgaard Steyn-prys in 2000 ingepalm. Kannemeyer het aan Boekewêreld vertel dat toe hy sy werk aan die Langenhoven-biografie afgehandel het, hy reeds geweet het dat Leipoldt sy volgende projek sou wees. Reeds as honneursstudent in 1960 het hy ’n uitgebreide opstel oor Langenhoven geskryf. Daardie opstel was sy eerste kennismaking met Leipoldt se werk en ’n voorstudie tot sy uitgawe van Leipoldt se Versamelde gedigte wat in 1980 tydens die Leipoldt-eeufees uitgegee is. Agter in Versamelde gedigte het Kannemeyer in die verantwoording alle variante van die Leipoldt-tekste vir verdere navorsing gekatalogiseer. Hy het ongeveer tien jaar later Leipoldt se kritiese opstelle en resensies in twee bundels versamel. Leipoldt was dus al die jare nie ver uit Kannemeyer se gedagtes nie.

In sy navorsing het hy gesteun op MPO Burgers se uitgebreide aantekeninge wat by die Staatsargief in Pretoria bewaar word. Uit Burgers se briewe het dit geblyk dat hy in die laat jare veertig en vroeë 1950’s van plan was om ’n biografie oor Leipoldt te skryf, maar dit het nooit gebeur nie. Kannemeyer het begin deur Leipoldt se gepubliseerde skeppende werk weer met aandag te lees en die omvangryke versameling van Leipoldt by die Universiteit van Kaapstad van ’n kant af deur te werk.

Daar was egter probleme, want Leipoldt se handskrif was dikwels moeilik ontsyferbaar en die feit dat hy op ’n verskeidenheid gebiede werksaam was, skep probleme vir ’n biograaf met beperkte kennis op mediese gebied, botanie en die kulinêre kuns. Gelukkig kon Kannemeyer met deskundiges skakel om hom te help. Hy is ook na Londen om in die Colindale Newspaper Library Leipoldt se berigte oor die Anglo-Boereoorlog op te spoor en kon ook daar Leipoldt se redaksionele werk op die gebied van die geneeskunde tydens sy jare as student by die Guy’s Hospital nagaan. Tydens sy besoek in Londen is Kannemeyer ook na Berkhamsted om dr Peter Shields, bekende “grootmaakkind” van Leipoldt, te ontmoet. In Suid-Afrika het hy ’n onderhoud gevoer met Jeff Leipoldt, sy wetlik-aangenome kind, ongeveer ’n jaar voor sy dood.

Van Londen is Kannemeyer na Amsterdam om Leipoldt se Nederlandse joernalistiek tydens die Boereoorlog en daarna te verken. In Desember 1996 en Januarie 1997 is hy ook na Indonesië, omdat die Ooste ’n sterk neerslag in Leipoldt se werk gevind het.

AP Grové het sekere vraagtekens en bedenkings gehad, maar ten spyte daarvan het hy die biografie beskryf as ’n “indrukwekkende studie wat van grondige navorsing getuig. Dis ’n belangrike inligtingsbron oor ’n veelsydige en verwikkelde mens. Daarby is dit ’n boek wat lekker lees, ’n boek waarin kritiese erns meermale met ’n vermaaklike insident of opmerking afgewissel word, ’n kwinkslag of moedswillige uitspraak van Leipoldt wat ook guitig kon wees en daarvan gehou het om sy toehoorders te skok – klein besonderhede wat help om die mens Leipoldt tot lewe te bring en die leesvreugde te verhoog.”

Hennie van Coller het die Leipoldt-biografie as ’n monumentale werk bestempel. Kannemeyer is volgens hom die egte biograaf wat sy bes doen om sy subjek nie net te beskryf nie, maar ook te begryp. En uit die biografie is dit duidelik dat hier ’n gedugte letterkundige aan die woord is, veral waar hy hom wend tot tekste self en dit op verhelderende wyse ontleed of toelig.

Ná die afhandeling van sy Leipoldt-biografie in Junie 1998 was Uys Krige se lewensverhaal ’n vanselfsprekende keuse vir Kannemeyer. Hy het reeds op skool by die lees van werke soos Sol y sombra en Ver in die wêreld onder die bekoring gekom van ’n skrywer wat baie in die Mediterreense lande gereis het. Hy het ook onthou watter genot die ervaring van Uys se “Tram-ode” was toe hy in die skoolbloemlesing daarmee kennis gemaak het. Sulke verse met hul ritmiese stuwing en vreemde musiek was so anders as die verse van ander Afrikaanse digters.

Maar hy het tog getwyfel of Krige (of dan Uys, soos Kannemeyer hom van die begin af geken het en wie hy in die vroeë 1960’s ontmoet het) hom enduit sou boei – die gebruiklike huiwering wat ’n mens dikwels aan die begin van ’n omvangryke projek beetpak.

Die werk aan die Krige-biografie, getitel Die goue seun: die lewe en werk van Uys Krige, het in Junie 1998 begin met die verkenning van die Krige-dokumentasie wat in die US se Dokumentesentrum geberg word. Dié versameling is omvangryker as dié van enige van die ander skrywers met wie Kannemeyer vroeër gewerk het. Die vordering daarmee is egter kort-kort onderbreek deur die afhandeling van ander projekte en twee ernstige operasies. In Augustus 2000 het hy met die skryf van die biografie begin en in Oktober en November 2000 is hy na Den Haag om inligting oor Krige se Nederlandse verbintenisse te bekom. Die manuskrip is op 15 Junie 2001 voltooi, gevolg deur die finale redigering.

Vir Kannemeyer as biograaf was dit ’n probleem dat Krige nie, soos die ander skrywers oor wie hy geskryf het, ’n besliste of vermoedelike skadukant gehad het nie. Hy het nie te veel gedrink nie, het nie buite-egtelike verhoudings gehad nie en was te eerlik, oop en naïef om misdadig te wees. Sy fases van depressie was oorgeërf en hy kon daaroor praat. En dit was vir Kannemeyer ’n aanpassing om iemand as onderwerp te hê wat “psigologies” só probleemloos was, al het die boeiende veelsydigheid van die hele Krige-figuur daarvoor vergoed.

Vir Kannemeyer was die biografie van die “goue seun” ’n verrykende ervaring en ’n projek waaraan hy met vreugde gewerk het, ten spyte van die omvangryke dokumentasie wat hy moes deurwerk en ander probleme.

Weer eens was die besprekings oorwegend gunstig. Hennie Aucamp skryf in Insig in 2002 dat die biografie aan die grootste eis voldoen wat aan een gestel kan word, naamlik dat dit die subjek in ’n nuwe, verhelderende lig stel, maar hy voel dat Kannemeyer strenger kon gesnoei het aan die stambome en ook die jeugjare van Krige kon ingekort het. Ook Hennie van Coller het gevoel dat daar gebreke is, soos dat die biograaf persoonlike byltjies geslyp het, maar Krige is tog met die werk literêr in ere herstel. Dit is ook ’n uiters leesbare biografie met baie nuwe inligting, sprekende foto’s en bewyse van deeglike navorsing.

Twee jaar ná Die goue seun is Jan Rabie: prosapionier en politieke padwyser uitgegee. Oor sy besluit om Jan Rabie as onderwerp van ’n biografie te kies, het Kannemeyer tydens die bekendstelling vertel: “In die geval van Jan Rabie was ek vroeg in my lewe beïndruk met die mooi dinge wat hy gelewer het. Op Stellenbosch het hy my en my studentemaats, in ’n tyd toe die Afrikaanse prosa deur droogtes en sprinkaanplae oorheers is, beïndruk met die volgende sinnetjie in sy Een-en-twintig: “Paul Roux was ’n krombeen-boertjie wat sy twee liters wyn per dag gedrink en sy lande en vrou met strenge reëlmatigheid vir hul jaarlikse oeste geploeg het.” Dit was ’n sin so bevrydend soos NP Van Wyk Louw se verse oor die liefde en die vreugde van die vroulike liggaam.

“Nou het ons vir die eerste keer ook van sulke dinge in ons prosa gehoor. Ek was egter van vroeg af ook bewus daarvan dat Rabie ’n hele paar romans geskryf het wat literêr gesproke mislukkings is, en die vraag was of dié mislukkings my nie in my biografiese ywer sou ontmoedig nie. Toe ek egter onder die vel van Rabie begin inkom het, is ek gou meegevoer deur die wyse waarop hy as prosapionier met sy Een-en-twintig die weg na Parys as kultuursentrum en intellektuele Mekka vir jongmense aangedui het.

“Anders as baie van sy enigsins ouer tydgenote, wat volgens sy oordeel van die Suid-Afrikaanse realiteit weggeskram het deur ’n ‘estetiese ster’ na te jaag, het Rabie met mag en mening sy skeppende werk in diens gestel van die protes en van sy feitlik fanatieke ideaal dat daar aan die suidpunt van Afrika uit die smeltkroes van rasse, afkomstig van drie kontinente, ’n nuwe volk tot stand moet kom met Afrikaans as gemeenskaplike taal.”

Oor die Jan Rabie-biografie het Ampie Coetzee gemeen Rabie is in hierdie boek ’n mens: nie net word van sy lewe vertel nie, maar daar word ook bespiegel oor die aard van sy en Marjorie se huweliksverhouding en oor Rabie se soort seksualiteit. Veel word vertel van sy vriende en medeskrywers. Hy praat dikwels en sê onthoubare dinge. Dit bring verdiende hulde aan ’n prosapionier wat vreesloos gestry het om gelykheid en om ’n taal wat versoenend sou kon wees.

Op sy kenmerkend deeglike manier, skryf Gunther Pakendorf, het Kannemeyer omtrent alles wat deur en oor Jan Rabie geskryf of gesê is, geraadpleeg, die argief gefynkam en boonop onderhoude gevoer met mense wat Rabie geken het. Die resultaat is ’n omvattende kompendium van Rabiana en ’n uiters gedetailleerde naspeur van dié skrywer se lewe wat boonop ’n interessante lig werp op die werkinge en woelinge van die Afrikaanse literêre bedryf, veral in die dekades voor 1990/1994. Maar Pakendorf het voorbehoude: om met Kannemeyer se werkswyse te begin, moet ’n mens vra waarom elke titseltjie inligting bygehaal moet word, waarom ellelange aanhalings nie verkort of geparafraseer is nie, hoekom daar so baie – dikwels gewoon banale – besonderhede en so min oorsig is. Die boek kon wesenlik verkort gewees het. ’n Lewensverhaal bestaan kennelik uit stories en anekdotes, maar van ’n biografie verwag ’n mens ontleding, interpretasie, waardering – wat grootliks afwesig is in Kannemeyer se werk.

Met Hannes van der Merwe: argitek en skrywersvriend het Kannemeyer afgewyk van skrywers as subjek vir sy biografie. Dit het egter nie vir Lucas Malan verbaas dat hy Van der Merwe as onderwerp gekies het nie, aangesien Van der Merwe teen die laat 1950’s ’n indrukwekkende loopbaan op sy gebied gehad het. Van der Merwe het ook ’n sterk belangstelling in die literatuur gehad wat gevoed is deur sy vriendskappe met Boerneef en DJ Opperman. Met kenmerkende aandag aan historiese en geografiese besonderhede beskryf Kannemeyer Van der Merwe se herkoms en kinderjare en daarna sy uitdagende en suksesvolle loopbaan as argitek. Vir Malan lees die biografie vlot en bied dit met talle foto’s ’n onderhoudende beeld van ’n begaafde skeppende figuur in ons kultuurgeskiedenis.

Die volgende toevoeging tot Kannemeyer se lys biografieë was een oor Etienne Leroux, wat beskou word as een van die grootste, indien nie dié grootste nie, Afrikaanse romansier, getiteld Leroux: ’n lewe (2008). Vir Heilna du Plooy word daar oor die algemeen ’n goeie balans gehandhaaf tussen die gegewens oor Leroux se persoonlike lewe en sy skrywerslewe en word daar ook deurlopend rekening gehou met die wyer Suid-Afrikaanse geskiedenis en die literêre ontwikkelinge in Afrikaans en in Suid-Afrika.

Du Plooy meen egter dat wanneer Kannemeyer oor die Leroux-navorsingseenheid aan die Universiteit van die Vrystaat skryf, hy besonder venynig is oor die sogenaamde “naïewe” navorsers wat hulle dan kwansuis nie goed sou gedra het ten tye van besoeke aan Leroux se plaas nie.

In hierdie biografie kom staan die biograaf met sy eie oordeel en vooroordeel te duidelik tussen die leser en sy stof, en dit is jammer, maar gelukkig is die grootste gedeelte van die inligting oor Leroux as mens en as skrywer so boeiend dat die meeste lesers hierby verby sal kan lees. Dit is ’n tydige en noodsaaklike toevoeging tot die reeks biografieë oor Afrikaanse skrywers.

Daar was egter ’n nadraai aan die publikasie van Leroux: ’n lewe wat so ’n ietwat slegte smaak in die mond agtergelaat het. Kannemeyer het in Februarie 2009 aangekondig dat hy regstappe gaan doen teen Nicol Stassen, uitvoerende hoof van Protea Boekhuis wat Leroux uitgegee het. Hy het Stassen gedagvaar vir die wanbetaling van tantième wat glo aan hom verskuldig is vir die biografie. Volgens Kannemeyer wou Stassen hom ook nie inlig oor die aantal eksemplare van die boek wat gedruk en verkoop is nie. Stassen het die bewerings ten sterkste ontken. Volgens hom word tantième elke ses maande betaal en sou Kannemeyer sy geld vir die 657 eksemplare van die 3 000 wat gedruk is, betaal word. Stassen het aan Rapport gesê dat Kannemeyer vergeet het dat Protea Boekhuis hom reeds ’n voorskot van R5 000 betaal het. “Dis jammer om te sê, maar John is nie die maklikste mens nie,” was Stassen se kommentaar. “Ek ís vooraf gewaarsku. Daar is groot uitgewers wat weier om sy boeke uit te gee omdat hulle geen wins maak nie. Dis te verstane, want dit word deur ’n beperkte getal mense gelees. Protea beskou sy werk egter as uiters substansieel vir die Afrikaanse letterkunde. Ek wou nie toelaat dat dié mylpaalwerke om geldelike redes nié verskyn nie. (...) Waar het jy al gehoor ’n uitgewery met Protea se aansien betaal nie sy skrywers nie? Dan kan ons maar toemaak.”

Vir Thys Human wys Kannemeyer met Leroux dat biografiese geskiedskrywing ’n bydrae tot ’n beter begrip van die letterkunde kan lewer, veral in die opsig dat dit ingewikkelde aspekte in Leroux se romans konkretiseer en meer verstaanbaar maak. Daarby het die biografie veel te vertel van die ontwikkeling van Leroux as skrywer. Verder lewer dit ’n onmisbare bydrae tot die literatuurgeskiedenis, deurdat dit Leroux se verhouding tot ander skrywers deeglik belig en aandui hoe hy bygedra het tot die literêre klimaat van sy tyd. Dit is ’n skrywersbiografie wat Human weer sou wou lees, aangesien dit ’n gedugte werk is wat ryke stof tot nadenke en navorsing bied.

Die laaste werk wat Kannemeyer voor sy ontydige dood op Kersdag 2011 aangepak het, was die biografie van die Suid-Afrikaanse skrywer JM Coetzee. Op ’n dag oor middagete het die ouduitgewer Hannes van Zyl aan Kannemeyer gevra: “Hoekom skryf jy nie oor John Coetzee nie?”

“Ek was ’n bietjie uit die veld geslaan,” het Kannemeyer aan Murray la Vita vertel. “En toe het ek begin dink daaroor. En gedink dit is nié so ’n gek idee nie. Maar mense het my gewaarsku dat hy nooit gaan toestem tot ’n biografie nie. En toe het ek vir Hermann Giliomee gevra, wat ’n kollega was van hom en goed bevriend, of hy Coetzee sal pols.”

Coetzee het laat weet hy “is nie prinsipieel gekánt” teen ’n biografie nie. “En toe het ek aan hom geskryf. In Afrikaans. Hy het in Afrikaans geantwoord en gesê hy sal álles in sy vermoë doen om die projek te laat slaag. Ek het hom bedank en gesê: ‘Jy besef natuurlik ek sal in Afrikaans skryf? Dít is my medium.’ En ek het vir hom geskryf: ‘Jou Afrikaans is baie goed, máár ek sal wil hê dat jy in Engels aan my skryf, want ek wil sien hoe jy formuleer in die medium wat vir jou natuurlik is.’

Coetzee het geantwoord: “Very well, I’ll write in English. I have of course understood that you would be writing in Afrikaans. I wouldn’t like to have it any other way.”

Dit was in Junie 2008. Kannemeyer het teenoor La Vita erken dat hy nie geweet het waarvoor hy hom inlaat nie. “Ek het geweet dit is ’n belangrike skrywer. Nobelpryswenner ... daar is oral aandag aan hom. Maar ek het die ómvang daarvan nie besef nie.”

Sy navorsing het ingesluit die herlees van al Coetzee se werk en baie van die werke oor hom; besoeke aan onder meer Coetzee se grootword-Karoo, sowel as aan Harvard in die VSA, waar Coetzee se manuskripte is. “Januarie het goed begin,” het hy verder aan La Vita vertel, “want ek het ’n baie delikate hoofstuk waarin ek heelwat persoonlike sake moes ter sprake bring, hoofstuk 12, voltooi. Toe het ek begin met hoofstuk 13, wat ek geweet het ’n baie lang hoofstuk gaan wees. Santayana praat van ‘the enormous burden of perception’ ... Ek het gewonder: Hoe op gods aarde gaan ek dít wat ek wil sê in hiérdie hoofstuk akkommodeer?

“Ek moes eers ’n beeld gee van hom in die negentigerjare ... Kyk, hy is met ontséttend baie dinge besig. Dis nie net dat hy ’n paar boeke publiseer nie. Hy gaan na Amerika toe. Hy hou hier lesings, daar lesings. Dan kom die stroom eredoktorate wat aan hom toegeken is ...

“En ek was ook nie lank besig nie toe het ek werklik siek geword. Ek het binne 14 dae 10 kilo’s gewig verloor. Toe het hulle my opgeneem in die hospitaal waar vasgestel is dit is ’n virus.

“En nou is die ding natuurlik: Hoe eindig jy ’n biografie oor ’n man wat nog lewe? Hy het eintlik die oplossing gebring. Ek het hom besoek in Ade­laide in Maart 2009. Wat hy nié vir my gesê het nie, is hy was in daardie stadium aan die skryf aan Summertime. En in Summertime het jy te make met ’n fiktiewe biograaf wat kom navorsing doen oor die gestorwe skrywer JM Coetzee.

“En hier meld ’n wérklike biograaf hom aan. En daardie situasie, wat hom sekerlik ten minste moes laat glimlag het, kon ek gebruik, want ek het die manuskrip begin met ’n lang inleiding. Daarin skryf ek natuurlik in die ek-vorm. Ook in die epiloog. Ek kon daardie ding gebruik as ’n soort maneuver.”

“Kyk, John Coetzee staan bekend as teruggetrokke, en dit is hy sékerlik wél. Hy is iemand wat waak oor wat hy sê, maar ek het dadelik die indruk gekry dat hy met entoesiásme, met ’n óórgawe, meewerk aan die biografie. Álle vrae wat ek gestel het, het hy beantwoord. Ook oor sensitiewe sake. Wat my opgeval het, is ... ek dink as jy met John Coetzee besig is, dan moet jy baie sterk rekening hou met die feit dat hy ’n opleiding het in wiskunde. Dis ’n matemátiese brein wat daar praat. Dit wil sê die essensiële woord; hy gee die inligting matematies juis.

“Ek sou sê ’n mens het daar die verbinding van ’n ongelooflike intellek en ’n ongelooflike skeppende vermoë. Kyk, hy is ook iemand wat dáágliks skryf. Hy gaan eenvoudig voort met werk. Selfs teenspoed wat hy het, en hy’t báie teenspoed gehad in sy lewe, persoonlike dinge ook ... dit tas nie sy absolute toewyding aan nie  ... die kreatiewe vaart word nie aangetas nie.”

Die gesprekke met Coetzee was nooit gemoedelik nie. “Daar was ’n saaklikheid in die gesprekke, maar ek het hom baie meelewend gevind. Hy is ’n ontséttend beskaafde persoon. Jy sien dit ook in sy briewe. Briewe is staccato-agtig. Hy konsentreer op die essensiële. Sy briewe, e-posse aan my ... nie één enkele woord oorbodig nie.”

Kannemeyer het groot dele van sy tyd gebruik om Coetzee se dokumente te bestudeer. “Hy het in ’n stadium ’n seleksie van e-posse wat hy gekry het deur die jare aangestuur. Uitgedruk, beslaan dit dúisende bladsye. E-posse van vriende en medeskrywers soos Breyten Breytenbach. Maar in hoofsaak onderhandelinge met sy agente en met uitgewers en met vertalers.”

Coetzee wou nie die manuskrip sien nie. “Jy kan nooit sê, behalwe in sy literêre kritiek miskien, wat dínk John Coetzee nie. Of wat is sý oortuigings nie. En daarom ook, hy het vir my van die begin af gesê hy sal graag wil sien dat die féite in die boek korrek is, maar die interpretasie laat hy aan my oor. Ek het vir hom geskryf aan die begin van die jaar die enigste persoon wat eintlik kan sê of alles reg is, is hý. Maar hy wil dit nie sien nie.”

Ouduitgewer Hannes van Zyl, het ná Kannemeyer se afsterwe die Afrikaanse en Engelse uitgawes versorg. Hy het dit verkort, maar nie ingrypend nie, geen hoofstukke of belangrike insidente nie, eerder klein snitte binne paragrawe om die verhaal te laat vloei.

Daar was diegene wat gemeen het die biografie is te omvangryk; dat Kannemeyer nie daarin geslaag het om die enorme hoeveelheid inligting wat hy oor Coetzee ingesamel het, na wens te integreer nie; dat dit met tot die helfte verkort kon word.

Daarteenoor staan die woorde van David Attwell, een van die voorste kenners van Coetzee se werk. Hy skryf in Oktober 2011 aan Kannemeyer: “Now that I have read the whole ms carefully, the scale of your achievement comes home. It is a remarkable book, in fact I’m astounded at the amount of information you’ve been able to assemble, and your eye for the illuminating fact, incident or quota­tion is wonderful ... I could never ­have attempted, much less been successful at, a work of this magnitude. You have placed Coetzee scholarship on a completely different footing with this book, both in criticism and in future work that will be done in the field of critical biography.” En: “[W]hatever work those of us do who come after you, it will always be a mere supplement to your achievement.”

Vir Murray la Vita lê die waarde van Kannemeyer se biografie veral ook daarin dat hy aan ons ’n blik op die lewe van Coetzee bied wat afwyk van die stereotiepe beeld van hom as ’n kil, geslote mens.

Joan Hambidge skryf in Rapport: “So pas het JC Kannemeyer se uitgebreide en deeglike verslag oor die enigmatiese JM Coetzee verskyn, in Engels (as JM Coetzee: A Life in Writing) en Afrikaans (JM Coetzee: ’n Geskryfde lewe). 

“Die dissipline en talent van die outeur om te midde van teenspoed en ellende steeds ’n skryfdissipline te kon handhaaf, word oortuigend weergegee. Die onthulling van persoonlike leed – die dood van ’n kind, die siekte van ’n ander, die troebel lewe van die pa – word nooit transgressief aangebied nie. Vir my is die ellendes juis dit waarteen die skrywer hom verweer in sy tekste. Die verset teen die vaderfiguur en gesag is ’n sterk tema in sy werk.

“Daar is eweneens ’n meer gedistansieerde skryfstyl en dié biografie mis genadiglik die persoonlike aanvalle wat die biografie oor Etienne Leroux ontsier het. ’n Goeie biograaf is ’n buikspreker en Leon Rousseau, die skrywer van die onoortroffe Die groot verlange, het op ’n keer verwys na die biograaf as ’n advokaat wat ‘sy man’ moet verdedig. 

“Boonop is ’n biografie des te moeiliker wanneer die ‘onderwerp’ nog lewe en in sy romans, soos onder meer in Boyhood, Youth, Summertime, sy eie lewe fiksionaliseer én verdraai. (...)

“Die biografie handhaaf ’n fyn balans tussen letterkundige analise en ’n beskrywing van die lewe. Onder meer is die debat oor die besoek van Salman Rushdie (wie se memoire, Joseph Anton, nou by Random House Struik verskyn het) – en die openbare verskil met Nadine Gordimer – ’n belangrike sleutel tot Coetzee se beginselvastheid en sy vermoë om agterna ’n uitspraak of siening te verander.”

Tussen die skryf van al die biografieë deur het Kannemeyer ook nie sy werk as literêre kritikus en navorser vergeet nie. Só het hy in 1990 sy “outobiografie”, Die rym neem ook ’n hele lewe in beslag, geskryf en sy eie kritiese opstelle en resensies gebundel onder die titels Ontsyferde stene (1996), Op weg na 2000: tien jaar Afrikaanse literatuur 1988–1997 (1998), Verse vir die vraestel (1998) en Uit puur verstrooiing (2007). Ook is Die Afrikaanse literatuur twee keer hersien – in 1988 en 2005.

In 2000 het hy ’n teksuitgawe versorg van DJ Opperman se ongepubliseerde laaste manuskrip, Sonklong oor Afrika. Hieroor het Kannemeyer gesê dat dit een van die moeilikste projekte was wat hy ooit onderneem het. “Daar was die probleem van die plek-plek haas onleesbare manuskrip, die probleem van die variante. Sommige dele het reeds poësie geword. Maar ook die baaierd wat hierdie wordende bundel in baie dele nog gebly het, is vol lewe en gisting, feitlik gereed vir die finale omstookproses.”

In 2009 ontvang Kannemeyer ’n eredoktorsgraad van die US vir sy “uitsonderlike bydrae tot die beklemtoning van die waarde wat die Afrikaanse letterkunde inhou”. Hy is vereer vir sy rol as navorser, skrywer en kenner van die edisiewetenskap en sy bevordering van die Afrikaanse letterkunde.

Op 25 Desember 2011 is John Kannemeyer aan ’n beroerte op Stellenbosch oorlede. Hy was alleen in sy wooneenheid in die aftreeoord Agapé, en toe sy metgesel van veertien jaar, Santa Hofmeyr-Joubert, nie antwoord kon kry op Oukersdag nie, het sy ’n inwoner van die aftreeoord na sy huis gestuur. Hy het op sy bed gelê en is per ambulans na Stellenbosch Medi-Clinic geneem, waar hy om 05:20 op Kersoggend oorlede is. Hy wou geen samekoms hê nie en is veras. Hy laat twee seuns, Mark en Anton, agter.

Huldeblyke

  • Melt Myburgh: kora-treurlied (vir john kannemeyer)

o vader, rus jy vandag vir altyd in jou wysheid?
lê jy daar met ’n hartseer gesig en sonder glimlag?

asseblief, staan op vir my
seun van ’n skoonmoeder

o, is jou rus vandag vir ewig?
van wie weet jy wat na ons kan omsien noudat jy so daar lê?

waar sal ek weer iemand van jou gelyke in wysheid raakloop?
ek huil nie oor jou nie – is jou rus van so ’n aard dat ek jou moet betreur?

my susters, laat ons die man uitlos sodat hy kan rus,
kom ons kyk wie kan sy wysheid verbysteek

eers môre sal ons ween
nou, my susters, moet ek eers gaan

  • Van Vuuren, Helize: Met sy biografie oor JM Coetzee in die pyplyn vir 2012, ’n boek waarna almal in die Suid-Afrikaanse literêre wêreld reikhalsend uitsien, verlaat John Kannemeyer ons “with a bang, not a whimper”. Met sy kennis, ongekende werkywer en die toewyding van ’n monnik, het hy die Afrikaanse literatuurgeskiedskrywing en skrywersbiografie as genre verryk met ’n boekrak vol fassinerende en ensiklopediese boeke, wat ons nog lank sal gebruik. Ons gedenk ’n groot gees ...
  • Jerzy Koch: Papierblom

(by die dood van JC Kannemeyer)

Toe hulle die deur oopbreek
stroom hulle deur klein gangetjies wat tussen
die kordate boekrakke en kombinasiemeubels ontstaan het
na binne

die voorste bruin brandweerman wat die eerste in die slaapkamer kom
sien hom lê
op sy bed
’n wit man van postuur
ontdaan van statuur
op sy eie
daar
weerloos soos ’n gevalle olifant

lyk
die halfgeopende mond
op ’n swart wond
en gaap dit donkerder?
(want donkerder is die bloed wat uitstroom
nadat dit die olifantsgeheue eers vertroebel het
om daarna finaal uit te wis)
– wonder die voorste bruin brandweerman

terwyl die ander met die draagbaar maneuvreer
en hy vir ’n oomblik die man se wit kaalkop
bebloede wang en gapende mond van digby betrag, dink hy
skielik aan die heftige kleur van bougainvilleas
teen die witkalk van sy eie huis
(of soos sy vrou altyd sê: papierblomme)

wanneer hy sy blik van die katel afwend sien hy dat die hele huis
vol boeke geprop is
muurkaste, staankaste, hoekkaste
en hy aanskou die baie boeke op broos papier
voor hy weggaan

  • Johann Lodewyk Marais: Prof JC Kannemeyer was ’n onvergelykbare navorser, kenner en interpreteerder van die Afrikaanse literatuur. Met sy afsterwe klap die deure van ’n biblioteek van kennis toe.
  • Etienne van Heerden: ’n Era van ongekende boekstawing van veral Afrikaanse literêre aktiwiteit is verby met die dood van JC Kannemeyer. Dat John Kannemeyer se woeste arbeid – hy het inderdaad met ’n kille besetenheid gewerk – verby is, is ’n groot slag vir die Afrikaanse letterkunde. Hy sluit sy loopbaan af met die biografie van JM Coetzee, wat nou in produksie-fase is. Daarmee gee Kannemeyer ’n tree na die wyer, internasionale literêre wêreld. Hy was een van ons letterkunde se mees interessante en knorrige figure. Hy was ’n verbete dokumenteerder. Ek sien geen opvolger op die horison nie.
  • Wium van Zyl: Dit is nie net vir my persoonlik ’n pynlike slag nie, maar ook ’n swaar slag vir Afrikaans. Kannemeyer was die mees produktiewe literatuurkritikus wat Afrikaanse letterkunde en trouens Suid-Afrika in die geheel ooit opgelewer het. Hy het ingesien dat in die nuwe tydperk met enersyds die koms van elektroniese media en andersyds die pogings om Afrikaans te marginaliseer, uitgereik sal moet word na ’n breë publiek. Daarom het hy as literêre toergids aktief geraak, iets wat ’n wyd uitkringende effek gehad het. Hy was allermins ’n ivoortoring-akademikus.
  • Leon Rousseau: Soos Karel Schoeman die Afrikaanse kultuur met literêre werk en navorsing na ons vroeë verlede verryk het, en dit nog doen, het Kannemeyer die standaardwerk ten opsigte van literêre kritiek gelewer en ’n aantal biografieë tot stand gebring wat soos bakens sal bly staan.
  • Peet van Aardt, ’n joernalis en oudstudent: Hy was ’n streng, maar inspirerende mentor. Sy liefde vir en kennis van die Suid-Afrikaanse letterkunde het my altyd verstom.
  • Etienne Britz: Sy dood is vir sy vriende en almal wat die Afrikaanse letterkunde op die hart dra, ’n onvervangbare verlies. Niemand het met soveel selfdissipline, dryfkrag, toewyding, lojaliteit en strydlus sulke enorme dienste aan die Afrikaanse letterkunde bewys nie. Sy buitengewone produktiwiteit kon toegeskryf word aan die Germaanse lyn in die Afrikaanse letterkunde, ondernemend, deeglik, uiters gedissiplineerd, maar ook met dominerende, onredelike en selfs dekadente trekke, tipies van die formidabele Germaan. As akademikus het Kannemeyer behoort tot ’n byna uitgestorwe, aristokratiese soort wat inkomste, status en ’n magsposisie binne die akademiese establishment geringgeskat het. Hy wou sy vak beheers, ’n vak wat uitdagings bied waaraan ’n mens jou lewe kan wy. Met sy bydraes het hy sy vak inderdaad op daardie peil help bring.

Kannemeyer was ’n baie kleurvolle persoonlikheid wie se boeke onderhoudend lees. Daar kon nie altyd maklik met hom huisgehou word nie. Maar wanneer die gesprek binne sy belangstellingsveld beweeg het, was hy altyd geestig en boeiend, ’n vriend wie se geselskap ek ten seerste sal mis.

  • Russel Botman: Ek onthou hoeveel vreugde Kannemeyer geput het daaruit dat sy alma mater met die toekenning van ’n eredoktorsgraad twee jaar gelede uiteindelik erkenning aan hom gegee het. Maar wat my nóg beter bybly, is die passie waarmee hy toe gepraat het oor die volgende boek en wat hy wou doen. My gevoel is dié is ’n mens wat eintlik onsterflik is, selfs in sy weggaan wil hy agterbly – op vele rakke, in talle huise en in baie mense se gedagtes
  • Ton Vosloo, Naspers se nie-uitvoerende voorsitter: Kannemeyer was die hardwerkendste van Suid-Afrika se ernstige skrywers. Ons uitgewers het hom oor dekades leer ken as ’n kwasterige outeur – puntenerig – maar ’n mens wat ’n produk van hoë gehalte gelewer het. Hy was die doyen van Afrikaanse biografieë. Sy werk- en uithouvermoë om iets wat hy aangepak het, klaar te kry, was indrukwekkend. John Kannemeyer was enig in sy soort. Ons bring hulde aan ’n groot Afrikaanse letterkunde-kenner en ’n waardevolle bydraer tot ons kultuur in sy volste sin.
  • Santa Hofmeyr-Joubert, sy metgesel die vorige 14 jaar: Al was ek vir hom belangrik, was niks belangriker as sy liefde vir die letterkunde en sy werk nie. Dié hele grote man was boeke.
  • David Attwell, voorheen verbonde aan die Universiteit van die Witwatersrand en nou ook by die Universiteit van York: John Kannemeyer se massiewe bydrae tot die Afrikaanse literatuurgeskiedenis is welbekend en ek het hom in die konteks van sy biografie oor JM Coetzee beter leer ken. Die internasionale gemeenskap sal dié biografie ook in Nederlands en Engels kan lees. Dit was ’n seldsame voorreg om iets van John Kannemeyer as persoon te kon beleef. Van ons eerste ontmoeting het ek sy ou-wêreldse hoflikheid, integ­riteit en algehele toewyding aan sy werk bewonder. Sy skielike dood is tragies, omdat hy op die punt gestaan het om internasionaal gelees te word en om die eerbetoon te geniet wat daarmee saamgaan.
  • Amanda Botha: Die bydrae van dr John Kannemeyer tot die Afrikaanse letterkunde kan kwalik oorskat word. Inteendeel, sy bydrae bly steeds die belangrikste verwysingsbron vir enige literatuur navorser. Ek wil graag aan hom hulde bring as onvergelyklike leermeester en gulhartige mentor. Vir my is John Kannemeyer as leermeester en mentor enig in sy soort – ruimhartig, onbaatsugtig en inspirerend in wat hy deur sy onmeetlike groot liefde vir die Afrikaanse letterkunde deurgegee het. Hy was ’n man van onberekenbare waarde.
  • Petrovna Metelerkamp: John Kannemeyer was ’n jare lange vriend en ondersteuner van Hemel & See Boeke. Ek dink met groot respek aan hom en het net goeie herinneringe aan die jare wat ons saam aan boeke gewerk – en saam lekker geëet en geskinder! – het.
  • Marina Brink, Dokumentesentrum: Kannemeyer het ons soms kwaad gemaak en meesal baie hard laat werk, maar ons het heerlike en baie leersame tye saam gehad. Ons mis hom.
  • Lynne Fourie, Dokumentesentrum: Kannemeyer was ’n gereelde besoeker en het tydens een van ons koffietye gehoor dat ek en Marina Brink op pad is om Jan Rabie se dokumente op Onrus te gaan haal. “Ek is in!” sê hy. Tipies Kannemeyer het hy hom nie gesteur aan ons verduidelikings dat hy nie in die universiteitsmotor mag saamry nie. Toe ons wou vertrek, staan hy langs die motor. Dit het ontaard in ’n heerlike uitstappie deur die Hemel-en-Aarde Vallei na ’n restaurant waarvan net hy geweet het. Dit is hartseer dat hy nie die verskyning van sy grootste biografie, dié oor JM Coetzee, sal beleef nie.
  • Kerneels Breytenbach: Die afsterwe van John Christoffel Kannemeyer op Kersdag 2011 het groot literêre betekenis vir Afrikaanssprekendes. Dit is nie ’n gewone afsterwe van ’n skrywer of literator nie, maar een wat op unieke wyse die oorgang van een tydvak na ’n volgende in die Afrikaanse letterkunde markeer.

Kannemeyer is die verpersoonliking van die toegewyde akademikus wat met onblusbare drif alle beskikbare feite navors ten einde volledig aan die geslagte van die toekoms verslag te kan doen oor die skrywers en skryfwerk wat hulle voorafgegaan het. Die tumult en wydlopendheid van sy privaat lewe was niks in vergelyking met die felheid van sy aanslag op primêre en sekondêre bronne nie; niks eens naby aan die vitterigheid waarmee hy dinge waaroor daar onsekerheid was onder sy deurpriemende blik gebring het vir verifikasie nie.

Wat werkvermoë betref, had John Kannemeyer baie gemeen met Karel Schoeman. Sy werk getuig nie alleen van erudisie nie, maar ook van die allesomvattende literêre liefde wat dit aangevuur het. As biograaf het hy in Afrikaans haas geen gelyke nie, met net JC Steyn wat in dieselfde asem genoem kan word.

Kannemeyer was die ideale literêre historikus vir ’n era waarin skrywers dagboeke gehou het en uitvoerig per brief met mekaar gekorrespondeer het. Skrywers wat hul literêre versamelings en private boekerye aan universiteite nagelaat het, het geweet dat die geoefende oog van John Kannemeyer reg sou kon laat geskied daaraan.

Ingrid Glorie: Drie jaar lang had ik de beste leermeester die iemand zich kan wensen. Helaas trad er later een verwijdering in, want vriendschap met John Kannemeyer was nooit ongecompliceerd. Het was de tragiek van zijn leven, dat hij zelfs de mensen die hij het liefst om zich heen had kon wegjagen. Hij had geen tijd om er lang bij stil te staan en zich rekenschap te geven van het verlies, omdat dat hem maar zou afhouden van zijn heilige taak, de letterkunde. Maar vanaf een veilige afstand kon je niet anders, dan van hem blijven houden. En naarmate de jaren verstrijken, besef ik steeds meer hoe veel ik aan hem te danken heb.

Publikasies

Publikasie

Die stem in die literêre kunswerk: ’n ondersoek na die aanbiedingswyse in die liriese en epiese poësie, verhalende prosa en drama

Publikasiedatum

1965

ISBN

(hb)

Uitgewers

Kaapstad: Nasou

Literêre vorm

Letterkundige kritiek

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

-

 

Publikasie

Jochem van Bruggen

Publikasiedatum

1965

ISBN

(sb)

Uitgewers

Kaapstad: Nasou

Literêre vorm

Monografie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

-

 

Publikasie

Die heks en Die laaste aand deur C Louis Leipoldt

Publikasiedatum

  • 1966
  • 1972

ISBN

(sb)

Uitgewers

Pretoria: Academica

Literêre vorm

Studiegids

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

-

 

Publikasie

Prosakuns

Publikasiedatum

  • 1968
  • 1976

ISBN

062500177X (hb)

Uitgewers

Kaapstad: Nasou

Literêre vorm

Studiegids

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

-

 

Publikasie

Opstelle oor die Afrikaanse drama

Publikasiedatum

1970

ISBN

(hb)

Uitgewers

Kaapstad: Academica

Literêre vorm

Dramakritiek

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

-

 

Publikasie

Op weg na Welgevonden: ’n studie van Etienne Leroux se Sewe dae by die Silbersteins

Publikasiedatum

1970

ISBN

(hb)

Uitgewers

Pretoria: Academica

Literêre vorm

Letterkundige kritiek

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

-

 

Publikasie

Nederduitse digkuns: ’n inleiding met tekste en aantekeninge tot die sewentiende-eeuse Nederlandse poësie

Publikasiedatum

  • 1973
  • 1984

ISBN

  • 0940064107 (hb)
  • 0868742112 (hb)

Uitgewers

Pretoria: Academica

Literêre vorm

Nederlandse poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

-

 

Publikasie

Die Afrikaanse bewegings

Publikasiedatum

1974

ISBN

(sb)

Uitgewers

Pretoria: Academica

Literêre vorm

Letterkundige geskiedenis

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

-

 

Publikasie

Letterkunde en beweging voor 1900: oorsig en bloemlesing

Publikasiedatum

1975

ISBN

0949964530 (hb)

Uitgewers

Pretoria: Academica

Literêre vorm

Letterkundige geskiedenis

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

-

 

Publikasie

Konfrontasies: letterkundige opstelle en kritiek, 1961–1975

Publikasiedatum

1977

ISBN

0940064808 (hb)

Uitgewers

Pretoria: Academica

Literêre vorm

Letterkundige kritiek

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

-

 

Publikasie

Geskiedenis van die Afrikaanse literatuur 1

Publikasiedatum

  • 1978
  • 1984

ISBN

  • 0949964972 (hb)
  • 0868741892 (hb)

Uitgewers

Pretoria: Academica

Literêre vorm

Letterkundige geskiedenis

Pryse toegeken

Recht Malan-prys 1979

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

-

 

Publikasie

Kroniek van klip en ster: ’n studie van die oeuvre van DJ Opperman

Publikasiedatum

1979

ISBN

0868740624 (hb)

Uitgewers

Pretoria: Academica

Literêre vorm

Letterkundige studies

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

-

 

Publikasie

Geskiedenis van die Afrikaanse literatuur 2

Publikasiedatum

1983

ISBN

0868741752 (hb)

Uitgewers

Pretoria: Academica

Literêre vorm

Letterkundige geskiedenis

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

-

 

Publikasie

Die taak van literêre geskiedskrywing

Publikasiedatum

1985

ISBN

(sb)

Uitgewers

Johannesburg: Universiteit van die Witwatersrand

Literêre vorm

Letterkundige geskiedenis

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

-

 

Publikasie

DJ Opperman: ’n biografie

Publikasiedatum

1986

ISBN

0798119993 (hb)

Uitgewers

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Biografie

Pryse toegeken

Ou Mutual-prys 1987

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die Afrikaanse literatuur 1652–1987

Publikasiedatum

1988

ISBN

0868743364 (hb)

Uitgewers

Pretoria: Academica

Literêre vorm

Letterkundige geskiedenis

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Getuigskrifte: lesings en opstelle

Publikasiedatum

1989

ISBN

0702122572 (hb)

Uitgewers

Kenwyn: Jutalit

Literêre vorm

Letterkundige opstelle

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die bevestigende vlam

Publikasiedatum

1989

ISBN

9780798126007 (hb)

Uitgewers

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Nederlandse letterkunde

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

-

 

Publikasie

Die rym neem ook ’n hele lewe in beslag: by wyse van outobiografie

Publikasiedatum

1990

ISBN

0702124052 (hb)

Uitgewers

Kenwyn: Jutalit

Literêre vorm

Outobiografie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die dokumente van Dertig

Publikasiedatum

1990

ISBN

0702125237 (sb)

Uitgewers

Kenwyn: Jutalit

Literêre vorm

Letterkundige kritiek en geskiedenis

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die rotsmusiek van eie hiëroglief: ’n visie anderkant die teks

Publikasiedatum

1991

ISBN

(sb)

Uitgewers

Stellenbosch: Universiteit Stellenbosch

Literêre vorm

DJ Opperman-gedenklesing

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Figuur en fluit

Publikasiedatum

1992

ISBN

9064120951 (sb)

Uitgewers

Leiden: Dimensie

Literêre vorm

Letterkundige opstelle

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Wat het geword van Peter Blum? Die speurtog na die Steppewolf: ’n narrasie in veertien episodes met ’n naspel

Publikasiedatum

1993

ISBN

0624031969 (sb)

Uitgewers

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Biografie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

A history of Afrikaans literature.Translated by Elaine Ridge

Publikasiedatum

1993

ISBN

0796005486 (sb)

Uitgewers

Pietermaritzburg: Shuter & Shooter

Literêre vorm

Letterkundige geskiedenis

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die bonkige Zoeloelander: DJ Opperman in beeld

Publikasiedatum

1994

ISBN

0624032957 (hb)

Uitgewers

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Biografie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Langenhoven – ’n lewe

Publikasiedatum

1995

ISBN

0624033570 (hb)

Uitgewers

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Biografie

Pryse toegeken

Recht Malan-prys 1996

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die gespitste binneblik: ’n opstel oor die poësie van Elisabeth Eybers by geleentheid van haar tagtigste verjaardag op 26 Februarie 1995

Publikasiedatum

1995

ISBN

0624033678 (sb)

Uitgewers

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Poësie Elisabeth Eybers

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

-

 

Publikasie

Arbeidsgenot: ’n besoekersgids

Publikasiedatum

1995

ISBN

 9780620190336 (sb)

Uitgewers

Oudtshoorn: Arbeidsgenot

Literêre vorm

CJ Langenhoven-geskiedenis

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Die dienswillige dienaar: ’n Langenhoven-fotoboek

Publikasiedatum

1995

ISBN

0624033570 (hb)

Uitgewers

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Biografie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

-

 

Publikasie

Probleme van ’n Langenhoven-biograaf

Publikasiedatum

1995

ISBN

0869886231 (sb)

Uitgewers

Port Elizabeth: UPE

Literêre vorm

Letterkundige opstel

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

-

 

Publikasie

Ontsyferde stene: herinnerings, huldigings, herlesings en herbevestigings

Publikasiedatum

1996

ISBN

062020544X (sb)

Uitgewers

Stellenbosch: Inset

Literêre vorm

Letterkundige opstelle

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Verse vir die vraestel

Publikasiedatum

1998

ISBN

062403657X (sb)

Uitgewers

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Poësiebesprekings

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Op weg na 2000: tien jaar Afrikaanse literatuur 1988–1997

Publikasiedatum

1998

ISBN

0624037312 (sb)

Uitgewers

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Bundel resensies

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Leipoldt: ’n lewensverhaal

Publikasiedatum

1999

ISBN

062403738X (hb)

Uitgewers

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Biografie

Pryse toegeken

  • Recht Malan-prys 2000
  • Helgaard Steyn-prys 2000

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Kaap van skrywers: ’n literêre reisgids

Publikasiedatum

2000

ISBN

0624038904 (sb)

Uitgewers

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Letterkundige toergids

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die goue seun: die lewe en werk van Uys Krige

Publikasiedatum

2002

ISBN

0624040828 (hb)

Uitgewers

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Biografie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Jan Rabie: prosapionier en politieke padwyser

Publikasiedatum

2004

ISBN

062404243X (hb)

Uitgewers

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Biografie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die Afrikaanse literatuur 1652–2004

Publikasiedatum

2005

ISBN

0798144734 (sb)

Uitgewers

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Letterkundige geskiedenis

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Hannes van der Merwe – argitek en skrywersvriend

Publikasiedatum

2006

ISBN

1869191366 (hb)

Uitgewers

Pretoria: Protea Boekhuis

Literêre vorm

Biografie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Uit puur verstrooiing: lesings, praatjies, artikels, onderhoude en besprekings

Publikasiedatum

2007

ISBN

 9780620388528 (sb)

Uitgewers

Stellenbosch: Inset

Literêre vorm

Letterkundige opstelle

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Leroux: ’n lewe

Publikasiedatum

2008

ISBN

9781869192341 (hb)

Uitgewers

Pretoria: Protea Boekhuis

Literêre vorm

Biografie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

JM Coetzee: ’n geskryfde lewe

Publikasiedatum

2012

ISBN

9781868424962 (hb)

Uitgewers

Kaapstad: Jonathan Ball

Literêre vorm

Biografie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Engels: JM Coetzee: a life in writing vertaal deur Michiel Heyns 2012

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

JC Kannemeyer as samesteller:

  • Kraaines: ’n keuse van hedendaagse digters tussen twee seë. Pretoria: Academica, 1988
  • Die veelsydige Krige: vyf studies oor die skrywer en mens. Kaapstad: Human & Rousseau, 1988
  • Vier eenbedrywe. Pretoria: Van Schaik, 1968, 1969, 1970, 1971, 1981
  • Kees Konyn, pseud: Die koléperas van Kees Konyn. Emmarentia: Taurus, 1982
  • Krige, Uys:
    • Uit die skatkis van die goue seun: ’n omnibus. Kaapstad: Tafelberg, 2002
    • Versamelde gedigte. Pretoria: Van Schaik, 1985
  • Leipoldt, C Louis:
    • Literêre causerie: kritiese opstelle oor die literatuur en eie agtergronde. Kenwyn: Jutalit, 1990
    • So blomtuin-vol van kleure: Leipoldt oor Clanwilliam. Kaapstad: Tafelberg, 1999
    • Uit die skatkis van die Slampamperman: ’n omnibus. Kaapstad: Tafelberg, 1999
    • Versamelde gedigte. Kaapstad: Tafelberg, 1980
  • Louw, NP Van Wyk en WEG: Ek ken jou goed genoeg: die briefwisseling tussen NP Van Wyk Louw en WEG Louw, 1936–1939. Pretoria: Protea Boekhuis, 2006
  • Opperman, DJ: Verspreide opstelle. Kaapstad: Human & Rousseau, 1977
  • Rabie, Jan: Hutspot: reissketse, verhale, essays, praatjies. Pretoria: Protea Boekhuis, 2004


JC Kannemeyer as redakteur:

Artikels oor JC Kannemeyer beskikbaar op die internet:

’n Keur van artikels deur JC Kannemeyer beskikbaar op die internet:

Bygewerk: 2012-11-21
Inligting verouderd/onvolledig? Stuur 'n e-pos aan album@litnet.co.za

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top