Elders gesien: "Gaan kyk wat sê Kannemeyer"

  • 4

Leana Lategan skryf op Facebook [31/03/2020]:  

“Gaan kyk wat sê Kannemeyer”, is steeds my allerantwoord as iemand iets van die Afrikaanse letterkunde wil weet, die ouer deel daarvan.

Daar was ’n paar meer as waardevolle bronne wat my van die letterkunde geleer het: André P Brink se “Aspekte van die nuwe prosa” en “Aspekte van die nuwe drama”, en daarna weer JC Kannemeyer se tweedelige “Geskiedenis” van die Afrikaanse literatuur. Prof. Ena Jansen het dit ’n magnum opus genoem, en ek glo sy was in hierdie waardeoordeel reg.

JC Kannemeyer (Foto: NALN [CC BY-SA 4.0], via Wikimedia Commons)

Die laaste dag van Maart is John C Kannemeyer se verjaardagdatum. Hy was ’n literêre kritikus, historiograaf, skrywer, biograaf, gedugte gespreksgenoot, ’n dikwels moeilike mens om mee oor die weg te kom, maar ’n akademikus waarsonder ’n mens jou die Afrikaanse literêre (slag-)veld nie kan indink nie.

Antjie Krog, wie se menings ek óók hoog aanslaan, het verwys na sy “detail-neus en verstommende werkvermoë”. Afgesien van dit wat hy as dosent vermag het, en daar is vele sterstudente en eersteklasskrywers wat deur hom gementor is, is dit veral sy skrywersbiografieë wat ’n indrukwekkende nalatenskap is: DJ Opperman, Peter Blum, C Louis Leipoldt, CJ Langenhoven, Uys Krige, Jan Rabie, Etienne Leroux, en Hannes van der Merwe, en sy laaste biografie, dié van JM Coetzee.

Foto: Pixabay.com

Hy het vele bekronings ontvang, en ’n eredoktoraat van die Universiteit van Stellenbosch. In 1993 het hy sy eerste literêre toer aangebied, saam met prof. Wium van Zyl, op die spore van Langenhoven. “Ek is besig met lewende mense”, het hy oor sy werk gesê. Hierdie uitspraak sluit aan by wat prof. HP van Coller gesê het, naamlik dat Kannemeyer die egte biograaf is, “dié een wat sy bes doen om sy subjek nie net te beskryf nie, maar ook te begryp”.

Kannemeyer is op Kersdag 2011 oorlede. Hierdie kind van Robertson, wat nie bang was vir werk, of vir uitgebreid reis op soek na feite vir sy boeke nie, bly vir my een van die helder bakens in Afrikaans.

  • 4

Kommentaar

  • Gustaf Pienaar

    Stem saam. Ek ken hom van RAU se dae (het as student een vakansie sy huis opgepas.) Later jare het ons goed bevriend geraak. Ek het dikwels by hom op Stellenbosch gaan kuier, en het sy vordering met die JM Coetzee-biografie gevolg. (Ek was, op sy versoek, selfs betrokke met die navorsing van ’n spesifieke ondergesikte onderwerp vir die boek.) Sy skielike dood was ’n skok. Wat ’n nalatenskap!

  • Koos Holtzhausen

    Ek het uitgevind dat biografieë vir my die lekkerste leesstof is, veral as dit deur Kannemeyer geskryf is. 'n Mens kom baie te wete oor die skrywer en leer ook sy werke ken as jy dit nog nie gelees het nie. Dit is 'n aansporing om die skrywers se boeke te lees.

    Ek het veral dié van JM Coetzee en Etienne Leroux geniet.

  • Kannemeyer is 'n reus, en sekerlik een van die mees geniale biograwe wat ooit gelewe het!
    Hy is 'n onontbeerlike bron vir kennis oor die Afrikaanse letterkunde!
    Ek besit sy biografieë oor Etienne le Roux, Peter Blum, D. J. Opperman, sy Die Naamlose Muse (essays deur Uys Krige), sy Konfrontasies (essays) en biografie oor J.M. Coetzee asook sy onverkorte dubbelvolume Geskiedenis van die Afrikaanse Letterkunde (aangeskaf by die NALN).
    RIV Mnr. Kannemeyer!

  • Kannemeyer se biografieë - loutere leesgenot! (alhoewel hy bietjie lief was vir Afrikaanse woorde van nie-Germaanse afkoms - anglisismes [na my mening eintlik "Latynismes"!] ).

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top