Papierblom
(by die dood van JC Kannemeyer)
Toe hulle die deur oopbreek
stroom hulle deur klein gangetjies wat tussen
die kordate boekrakke en kombinasiemeubels ontstaan het
na binne
die voorste bruin brandweerman wat die eerste in die slaapkamer kom
sien hom lê
op sy bed
’n wit man van postuur
ontdaan van statuur
op sy eie
daar
weerloos soos ’n gevalle olifant
lyk
die halfgeopende mond
op ’n swart wond
en gaap dit donkerder?
(want donkerder is die bloed wat uitstroom
nadat dit die olifantsgeheue eers vertroebel het
om daarna finaal uit te wis)
– wonder die voorste bruin brandweerman
terwyl die ander met die draagbaar maneuvreer
en hy vir ’n oomblik die man se wit kaalkop
bebloede wang en gapende mond van digby betrag, dink hy
skielik aan die heftige kleur van bougainvilleas
teen die witkalk van sy eie huis
(of soos sy vrou altyd sê: papierblomme)
wanneer hy sy blik van die katel afwend sien hy dat die hele huis
vol boeke geprop is
muurkaste, staankaste, hoekkaste
en hy aanskou die baie boeke op broos papier
voor hy weggaan
- Lees Melt Myburgh se huldeblyk aan John Kannemeyer
- Lees Kerneels Breytenbach se huldeblyk aan John Kannemeyer
- Lees David Attwell se huldeblyk aan John Kannemeyer
- Lees Ingrid Glorie se huldeblyk aan John Kannemeyer
- Lees ook Helize van Vuuren se huldeblyk aan John Kannemeyer hier
- Lees Amanda Botha se huldeblyk aan John Kannemeyer hier

