Brümmer, W.
Die dag toe ek my hare losgemaak het
Human & Rousseau, Kaapstad
Sagteband, 144 bladsye
ISBN 9780 79814 9808
Klik op die omslag om die boek by kalahari.net te bestel.
Willemien Brümmer is ’n bekroonde joernalis wie se pasverskene kortverhaalbundel, Die dag toe ek my hare losgemaak het, klinkklaar bewys dat sy ook fiksie met groot vernuf kan hanteer. Sy het ’n vroeëre vorm van die bundel ingelewer vir die Meestersgraad in skeppende skryfkunde wat sy onder leiding van Etienne van Heerden aan die Universiteit van Kaapstad met onderskeiding verwerf het. Vir die Afrikaanse literêre fynproewer is die woordvaardige Brümmer ongetwyfeld ’n aanwins. Die verdere wins is dat die bundel ook toeganklik en genotvol vir die sogenaamde ‘gemiddelde leser' is, want dit belig universele temas soos seksuele ontluiking, gesin- en familiekompleksiteite en die soms pynlikheid van grootword.
Die bundel bestaan uit ’n versameling kortverhale wat elkeen op eie voete staan en tog gesamentlik werk om die hooftema, naamlik die innerlike groei en ontwikkeling van die hooffiguur, Mia Ragel Albertyn, van dogter tot jong ma, uit te bou. Dit is soos legkaartstukke wat inmekaar pas om die geskakeerde geheel te vorm. Die subtiele raakpunte tussen die verhale en deurlopende motiewe maak nie net die lees nie, maar ook die herlees van die bundel ’n insiggewende ervaring.
Brümmer se hantering van die seksuele dimensie, veral tydens Mia se ontluikende tienerjare, is subtiel, maar kragtig. In "Het jou!" word die dertienjarige Mia se liggaamlike ontwaking tydens ’n besoek aan die familieplaas naby Ladismith uitgebeeld. Mia raak al hoe meer bewus van die manlikheid van Hennerik, die bruin huishulp se ouer seun. ’n Eensame Mia dring daarop aan om met die kinders te speel. Sy loop haar egter vas teen die rigiede rasse- en klassekode wat veral op plase geld. "Ek is nie kleinnooi nie, my naam is Mia," (23) moet sy haar nuwe maats herinner. Die seksuele bewustheid tussen die twee tieners bereik ’n hoogtepunt wanneer hulle op Oujaarsaand alleen tuis bly en donkerkamertjie speel - vandaar ook die titel van die verhaal. Toe hulle deur Mia se ma "betrap" word, al het niks werklik gebeur nie, moet die bruin gesin elders gaan werk. "Het jou! het die Benz gedreun", soos Mia se pa hulle wegneem en die verhaal skielik tot ’n einde kom (31). Die Mercedes Benz, ’n motor wat dikwels as ’n statussimbool beskou word, verteenwoordig die gevestigde rasse- en klasseskeidings wat Mia nie kan oorbrug nie.
"Het jou!" is die enigste verhaal in die bundel wat ’n groter reikwydte as die leefwêreld van blanke, voorstedelike, middelklasmense het. Die bundel gee egter nie voor om ’n verteenwoordigende beeld van Suid-Afrika se mense te gee nie. Die krag van die verhale lê juis in die uiters persoonlike aard daarvan. Die leser word in hierdie twaalf verhale toegelaat om Mia se intieme binnewêreld te betree. Nietemin ondersoek Brümmer universele temas in haar uitbeelding van die verskillende menseverhoudings in die teks. "Ek het (...) geen behoefte gehad om oor politiek te skryf nie. Vir my was dit belangriker om die gesin te bekyk as ’n eie, klein slagveld; ’n mikrokosmos van die groter prentjie," sê Brümmer in hierdie verband (2008:12).
Die onderlinge dinamiek in die Albertyn-gesin geniet inderdaad baie aandag in die teks. In die openingsverhaal, "Skeikunde-eksperiment", lyk die leefwêrelde van Pa, Ma en Mia aanvanklik ver verwyderd van mekaar: haar pa is ’n briljante professor in skeikunde, haar ma ’n oudaktrise wat dramaklasse gee en oorklankingswerk doen, maar al bleker raak en kwyn van verlang na haar verhoogdae. As enigste kind is Mia hoogs sensitief en fyn ingestel op haar ouers se verhouding. Die afstand tussen die gewroegde professor, die hunkerende ma en hul alleenloperdogter word fyn uitgebeeld. Mia voel veral vervreemd van die skeikunde wat haar pa dikwels tot laat nagte en raserny dryf. In die slottoneel is dit juis die skeikunde, wat volgens Mia se pa afkomstig is van "alchemie", oftewel "die kuns van transformasie" (16), wat die uiteenlopende leefwêrelde van die Albertyn-gesin met mekaar versoen wanneer ’n eenhoringdiertjie van glas gemaak word. In hierdie deerniswekkende slottoneel, met die skep van ‘n uiters kwesbare glasornament, word die band tussen die drie gesinslede gesmee.
In die daaropvolgende verhaal, "Free-range whole bird", sit Brümmer op subtiele wyse die tema van transformasie voort deur Mia se ontwikkeling van kind tot vrou en die verstewiging van haar band met haar ma uit te beeld. Die afsluiting van Mia se skoolloopbaan is die rede vir ’n ma-en-dogter-viering waartydens hulle vonkelwyn drink, musiek luister, en Mia ’n bevrore hoender voorberei om gaar te maak:
Sonder dat haar ma vir haar die resep hoef voor te sê, prakseer sy ’n mengsel van heuning, pesto en sojasous. Haar hande beweeg eers aarselend, dan al meer geoefend, sekuur. Soos palings swem hulle oor die beentjies, die snytjies en die sagte plekkies, al is dit haar eerste keer. Heel laaste strooi sy ’n fyn lagie tiemie oor sy taai, bruin vel, en druk ’n hand vol ryprooi kersietamaties in die klam holte tussen sy bene (38).
Die erotiese ondertoon in die beskrywing van hierdie huishoudelike taak is onmiskenbaar. Die voorbereiding van die skrophoender - Mia se debuut - word uitgebeeld as ’n inisiëringsritueel tot volwasse vrouwees. Die ma gee erkenning aan die emansipering van haar dogter met die woorde "Mooi (...) Ek het gedink jy sou weet hoe" (38). Dit is ’n aandoenlike moment waarin ma en dogter saamgesnoer word deur hul gedeelde identiteit as vroue.
Die dag toe ek my hare losgemaak het is egter nie ’n bundel waarin kitsoplossings en eenvoudige skuiwergate opgedis word nie. Die onderlinge verhouding tussen die drie gesinslede is kompleks en intens. Mia se verhouding met haar pa kry veral aandag. Die bundel toon ’n sikliese gang omdat die openings- en slotverhale fokus op die spesiale verhouding tussen pa en dogter.
Mia se verhouding met haarself is dikwels pynlik. Sy word as kind uitgebeeld as ’n lomp, bleek en brose buitestander wat gedurende haar skoolloopbaan allerlei vernederings moet verduur. Die pogings wat sy na skool aanwend om ’n sinvolle liefdesverhouding te hê, laat hul letsels op Mia, wat op letterlike en figuurlike vlak as weerloos uitgebeeld word. Die vernuftige hantering van glas as deurlopende motief skep by die leser ’n bewustheid van die delikaatheid van die hoofkarakter en van die mens in die algemeen. Tog het Mia genoeg innerlike krag om haar ontroue minnaar in geen onseker taalgebruik nie van haar verjaarsdagpartytjie weg te jaag.
’n Kykie na Brümmer se biografiese gegewens dui aan dat sy in hierdie bundel ’n fyn lyn tussen werklikheid en fiksie handhaaf. Haar akademiese geskiedenis, woonplek en beroep stem ooreen met dié wat sy aan haar hoofkarakter, Mia, toeskryf. Net soos Mia, het Brümmer ook ’n besonderse verhouding met haar pa. Sy dra byvoorbeeld die bundel op aan haar pa, ’n wiskundige en "die éintlike storieverteller". Ook Mia se pa, die wetenskaplike, is ’n kranige storieverteller. Mia ontmoet haar een minnaar, Phillip, wanneer sy verslag doen by ’n mediese konferensie oor oorerflike siektes. Brümmer self was vir ’n aantal jare ’n mediese verslaggewer. Brümmer stel dit egter duidelik: "Mia se storie is nié my storie nie. Daar is wel baie van myself daarin: persoonlike herinnerings, dalk iets wat iemand my vertel het of ’n sprokie wat ek gelees het wat ’n wegspringpunt sou wees" (2008:12).
Stories en sprokies word deurgaans ingespan as reddende genade teen die harde werklikheid, die buitewêreld wat dikwels bedreigend voorkom. In die Albertyn-huishouding word met die vertel van ‘n storie iets belangrik gekommunikeer. As die pa ‘n storie vertel, luister almal sonder om te onderbreek. In "Kunstenaars" kan Mia se pa in die hede tot sy vrou en dogter uitreik deur ’n storie oor die verlede te vertel. Naas hierdie helende funksie word die storiewêreld ook uitgebeeld as ’n duister en ondeurgrondelike ruimte wat sekere gevare vir die karakters inhou. Die mees prominente voorbeeld hiervan is die titelverhaal, waarin Brümmer die Rooikappie-gegewe verwerk om te illustreer hoedat ’n wêreldwyse oorlogsfotograaf wat met ’n jakkals vergelyk word, ’n bedreiging vir Mia se onskuld kan wees. "[I]n hierdie ‘Rooikappie' gaan dit nie oor wat die wolf aan Rooikappie kan doen nie, maar wat Rooikappie wil hê hy moet aan haar doen," meen Brümmer (2008:12). Mario oortuig Mia om naak te poseer en dit is tydens hierdie fotosessie dat Mia, heeltemal vrywillig en as gebaar van medepligtigheid, haar hare losmaak.
Mia se selfvernietigende neigings skakel met haar familie se geskiedenis van depressie en alkoholisme wat deur die loop van die bundel na vore kom. Die invloed van haar voorgeslagte kry veral aandag in die ruimte van die familieplaas, Toorvoet, naby Ladismith. Brümmer se hantering van die plaasgegewe is nie juis vernuwend nie. Die tradisionele teenstelling tussen stad en plaas, met die plaas as plek "waar mense nie met stywe rûe by mekaar verbyloop" soos in die stad nie (22), vind ook in hierdie bundel neerslag. Dié opposisie is wel al holrug gery, maar dit word gelukkig nie oorbeklemtoon in die teks nie. Die idee van ’n familieplaas as magiese ruimte waar die oorlede voorgeslagte saamkuier, is ook reeds met groot trefkrag in die Afrikaanse letterkunde gebruik. Nietemin is Toorvoet die gepaste ruimte om Mia se familiegeskiedenis onder die leser se aandag te bring. Sy worstel deurentyd met identiteitskwessies, omdat daar in haar bloed ook die risiko van sielkundige probleme skuilhou. Dit is egter vir haar belangrik om te onthou waar sy vandaan kom.
In die bundel is elke verhaal nog ‘n ligwerpende episode uit Mia se lewe. Die gevolg is dat die leser hierdie verwikkelde, soms geknelde, karakter met haar vreugdes en pyn leer ken. Mia se aanvanklike kinderlike onskuld word mettertyd vervang met ontnugtering en later ook emosionele afgestomptheid. Brümmer se besonderse skryftalent blyk uit die feit dat sy die leser deurentyd op die golflengte van ’n komplekse karakter kan hou. Die ondersoek van kwessies soos selfbeeld, liefde, seer, familie en herinneringe maak van hierdie aangrypende bundel tegelyk ’n ervaring van die universele en van die intens persoonlike. Dit sal spreek tot enige leser wat belangstel in die uitdaging van menswees.
Bronnelys
Brümmer, W. 2008. Die dag toe ek my hare losgemaak het. Kaapstad: Human & Rousseau.
Rautenbach, E. 2008. Tussen twee pole. Boeke-Insig: Lente.