Die onlangse 50-jarige herdenking van Neil Armstrong-hulle se besoek aan die maan roep Langenhoven se boek Loeloeraai in herinnering. Loeloeraai is in 1923 uitgegee en is waarskynlik die eerste wetenskapfiksieboek wat in Afrikaans verskyn het.
By die herlees van die boek was ek verstom oor Langenhoven se insig. Hy was uit die aard van die saak belese en bewus van publikasies soos Jules Verne se De la Terre à la Lune (Reis na die Maan) van 1865 en HG Wells se The first men in the moon van 1901. Langenhoven het trouens erken dat sy verhaal losweg op Wells se boek gebaseer is, maar dat hy dit na die konteks van Oudtshoorn en Sagmoedige Neelsie se gesin verplaas het.
Terwyl hy en Vroutjie op die stoep sit, vra Neelsie uit die bloute: “Ek wonder, Vroutjie, of daar mense op Venus woon.” Terwyl hy besig is om aan Vroutjie te verduidelik dat Venus eintlik die aandster is, sê sy: “Ouman, ons kan die aandster môre-aand weer sien en ons met bepeinsings oor sy bewoonbaarheid besig hou. Kyk vereers daardie snaakse vliegtuig regoor ons kop.” ‘n Rukkie later sê hy: “Wragtig, Vroutjie, hy is van plan om op my somerhuis te kom sit.” Dit is toe inderdaad ‘n ruimteskip (‘n “sfeer”) wat land, ‘n aangename, superintelligente jongman klim daaruit, stel hom voor as Loeloeraai en wys met sy vinger na waar hy vandaan kom: Venus. Die ruimteskip vertrek sonder Loeloeraai en Neelsie-hulle nooi hom met tipiese Afrikaner-gasvryheid uit om ‘n tydjie by hulle te bly. Hy leer vinnig by Engela, Neelsie se dogter, Afrikaans. Hy bestudeer die hele Encyclopaedia Brittanica in ‘n japtrap, sodat hy alles van die aardbewoners weet. Loeloeraai is mal oor Afrikaans en verkies dit bo Engels, want dit is “doeltreffender en verstandiger”. Neelsie se buurman, oom Stoffel Gieljam, wat ook daar opdaag, is skepties oor alles. “‘Ja, Kerneels, ja, ja,’ sê oom Stoffel, nes iemand wat ’n kindjie of ’n malman (sic) paai. ‘Ja, Kerneels, ek weet. Die aarde draai om ’n as en die son staan stil. Ek word ook al daar in die dorp geleerd. As ek so vorder sal jy jou verwonder wat ek naderhand alles sal glo.’”
Almal hou baie van Loeloeraai en nooi hom uit om saam met hulle op ‘n vakansietog met Herrie en die trem te gaan. Loeloeraai het ‘n ander plan en vra of hulle nie liewers saam met hom in die ruimteskip na Venus wil gaan nie. Neelsie maak gou ‘n sommetjie: Venus is, as hy op sy naaste is, 25 miljoen myl (ook 25 miljoen myl volgens Nasa) van die aarde en selfs teen die 1 000 myl per uur van die ruimteskip sou die heen-en-terugreis ses jaar van hulle lewens in beslag neem. “En julle lewetjies hier is kort,” sê Loeloeraai. Hy het ‘n alternatiewe plan en stel voor dat hulle op die maan, “’n nader plekkie”, gaan uitkamp, “al moet julle nou die plesier van Herrie en die trem ontbeer”. Volgens Neelsie is die maan 240 000 myl (225 623 volgens Nasa) ver weg en teen 10 000 myl per uur sal dit 10 dae neem om die maan te bereik (Neil Armstrong het dit in ‘n bietjie meer as vier dae bereik) en hulle kan binne drie weke uit en tuis wees.
Voor hulle vertrek word ‘n afskeidsfunksie op Oudtshoorn gehou en ’n menigte mense van oraloor, selfs Amerika, het die dorp “kafgetrap”. Uiteindelik klim hulle (Neelsie, Vroutjie, Engela, oom Stoffel en Loeloeraai) “met ‘n trapleertjie” in die ruimteskip in en word hulle gelanseer. Oom Stoffel is ontsteld: “O magtig, Kerneels, ons val! Die ding raak onder ons uit. Hy begin te makeer.” Loeloeraai verduidelik dat “die swaartekrag nou afgesny” is en dat hulle gewigloos is. Die rit verloop verder vlot. Hulle eet pilletjies (“die rondetjies is vleis, die langwerpiges groente en die koekies vrugte”) en slaap sonder beddens, want hulle is “los in die lug swewende; ja, op die lug slapende soos geen sagte rusplek op die aarde ooit is nie”. Neelsie stuur gereeld, met die hulp van die “draadlose telefooninstrumentjie”, bydraes aarde toe vir sy gereelde rubriek in Die Burger.
Hulle land op die maan “aan die oewer van ’n meer” by ‘n “’n kabbelende bekie tussen varings en blomme”. Hulle maak vuur en die “wasem van soutribbetjie meng met die geur van die blomme”. Voor hulle afskeid neem van die maan, rig hulle ‘n gedenkteken op:
HIERDIE GEDENKTEKEN
is hier gelaat deur
LOELOERAAI van VENUS
en deur
STOFFEL en KERNEELS en LENIE
en ENGELA van die AARDE
in die 23ste jaar van die 20ste eeu
van die Christelike Jaartelling.
As Langenhoven se vertelling nie ‘n absolute verbeeldingsvlug was nie, kon Neil Armstrong-hulle dalk op die gedenkteken afgekom het. Verskuil in die verbeeldingsvlug is daar egter verrassende uitsprake. Langenhoven openbaar, by monde van Loeloeraai, ‘n ongelooflike mate van wetenskaplike en ander kennis, selfs uit ‘n moderne perspektief.
Oor die ruimte: “En so trouens val ons almal maar al die tyd: so val die sterre wat sonne is, so val ons son wat ‘n ster is, so val die planete en die mane. Komete en meteore en newelvlekke, uitgeleefde donker bolle: alles in die groot heelal is ewigdurend aan die val: en die val is die beweging en die lewe.” Dit is duidelik dat Langenhoven van Einstein se werk kennis gedra het. Die “uitgeleefde donker bolle” laat my byvoorbeeld aan gravitasiekolke dink.
Oor hernubare energie: “Julle gebruik julle kapitale voorrade van steenkool en olie wat nog in die aarde oorskiet op om elektriese krag te genereer om om te sit tot kunsmatige lig en hitte. Ons gebruik die natuurlike lig en hitte van die son om in elektriese krag om te sit. Ons (op Venus) span die oneindige bronne van energie van die atome in.”
Oor morele sake: “So min vordering het julle nog gemaak met die grotere rebellie – die verset teen julle eie selfsugtige diere-aard – dat selfs waar julle die beginsels van offerande en liefdediens van buite wou toepas, het dit op ’n aaklige ramp uitgeloop. Die Franse rewolusie was gegrond op die vrome beginsels van vryheid, gelykheid, broederskap. Die Russiese bolsjewisme op die vrome doel van die beheer van die voortbrengsels van die wêreld in die hande van die werkers van die wêreld. En in plaas van die beoogde geluk het daardie proefnemings die vorige ellende verdubbel en verhonderddubbel.”
Tussen alles deur breek Langenhoven ‘n lansie vir die eenvoud van sy geliefde Afrikaans: “Met Afrikaans en Afrikaners ondervind geen vreemdeling mos ooit moeilikheid nie.”
Langenhoven was werklik sy tyd ver vooruit. Hy verdien ons respek.
Bron: http://www.mieliestronk.com/loeloeraai.html (28/07/2019 geraadpleeg).
Kommentaar
Tog tragies dat so baie mense soveel jare later nog dink die aarde is plat en staan op pilare.
Wat 'n interessante artikel!
Dis bekend dat die pionier Thomas Edison (wat die eerste kragnetwerk in 1882 in Londen in bedryf gestel het) ook 'n groot voorstander was van son-, wind- en gety-krag.
In sy boek Uncommon Friends vertel James D Newton dat Edison in 1931 in gesprek met Henry Ford gese^ het:--
“We are like tenant farmers chopping down the fence around our house for fuel when we should be using Natures inexhaustible sources of energy – sun, wind and tide. … I’d put my money on the sun and solar energy. What a source of power! I hope we don’t have to wait until oil and coal run out before we tackle that.”
Maar Langenhoven was hom voor -- Loeloeraai is reeds in 1923 gepubliseer.
Wat sou Loeloeraai van Eskom gesê het?