
In die lig van die afgelope weke se publieke gesprekke aangaande die noodsaaklikheid van ’n “tweede oorgang” is dit kommerwekkend om te verneem dat die twee mense wat enigsins aanspraak op die kopiereg van die Suid-Afrikaanse volkslied kan maak, sogenaamde wit mense is. Die freedom charters sal woedend wees: net soos die land se mineraalskatte behoort die volkslied nou ook nie eens aan die volk nie, maar eerder aan twee universiteitsprofessore, van wie een kopiereg besit weens ’n ou koloniale wet. A luta continua!
Owen Dean en Cobus Jooste se regsmening oor die huidige Suid-Afrikaanse volkslied (LitNet, 20 Junie 2012) is van groot waarde om die “droewige onkunde” oor hierdie werk(e) se outeursreg uit die weg te ruim. Verder bied hulle ook ’n goeie samevatting van die respektiewelike geskiedenisse van “Die Stem van Suid-Afrika”, “Nkosi sikelel’ iAfrika” en die huidige saamgestelde nasionale volkslied.
Ek wil hulle egter tog op ’n paar foute wys.
Eerstens is die outeurs van die laasgenoemde twee liedere se name verkeerd gespel. Enoch Sontonga is die onderwyser wat “Nkosi sikelel’ iAfrika” gekomponeer het en Jeanne Zaidel-Rudolph is die komposisiedosent wat die huidige saamgestelde volkslied gekomponeer het. Ja, dit is banaal om skrywers op toevallige spelfoute te wys, maar ek wil tog argumenteer dat regstellings in hierdie geval kan bydra tot ’n vollediger agtergrondskennis oor die twee liedere – kennis wat nié, in Dean en Jooste se eie woorde, “lig in die broek” is nie.
Tweedens is ek nie seker dat die huidige volkslied slegs uit drie komponente bestaan nie. (Dean en Jooste: “Die eerste gedeelte bestaan uit ‘Nkosi sikelel’ iAfrika’ met Xhoza-, Zoeloe- en Sesotho-woorde, terwyl die tweede en derde dele bestaan uit die musiek van ‘Die Stem’ met onderskeidelik Afrikaanse en Engelse woorde.”) In ’n musikologiese analise sou hierdie vormverdeling juis omgekeer wees, met twee komponente vir “Nkosi sikelel’ iAfrika” (deel een Xhoza- en Zoeloe-woorde en deel twee Sesotho-woorde) en een komponent vir “Die Stem van Suid-Afrika” (wat ’n periodies verkorte weergawe van die apartheidsvolkslied is). Natuurlik is Dean en Jooste se skatting geraam deur die aantal outeurs wat bygedra het tot die huidige volkslied en wat aanspraak kan maak op die kopiereg van hul onderskeie komponente. Maar Enoch Sontonga en Samuel Mqhayi is nie die enigste outeurs van “Nkosi sikelel’ iAfrika” nie. Die Sesotho-strofe in die huidige volkslied is nie deel van Sontonga of Mqhayi se oorspronklike werk nie (die lirieke en musiek verskil), maar is deur Moses Mpahlele gekomponeer en is die eerste keer in 1942 gepubliseer.1 Dus is daar ’n moontlike vierde kopieregskomponent in die huidige volkslied.
Derdens het “Die Stem van Suid-Afrika” nié in 1928 die nasionale volkslied geword nie, maar eers in 1957. Die besluit van Langenhoven se erfgename om die lied se outeurseg in 1957 aan die staat oor te dra het gepaard gegaan met ’n nasionale kongres oor volksmusiek wat die FAK in daardie jaar op Stellenbosch gereël het. Dit het ’n doelgerigte nasionale bewuswording van die Afrikaner se musikale roots behels, en “Die Stem van Suid-Afrika” is in ’n nasionalistiese gees beskou as die voorste eksemplaar van ’n genre musiek waarin die volk se gemeenskaplike siel tot uiting kan kom. So verklaar die FAK se uitvoerende komitee byvoorbeeld, reeds by hul silwerjubileumkongres in 1954, dat die tyd ryp is om “Die Stem van Suid-Afrika” as amptelike volkslied te aanvaar. Onder andere is die volgende stelling gemaak:2
’n Volkslied vertolk die verhewe, beheerste, spontane uiting van die standhoudende aspirasies wat diep in die volksiel leef. Dit dui op die verlange dat die volk en staat sal voortbestaan, en dit dien as middel om die volk tot ’n hegte eenheid saam te snoer en hom te versterk om die verhewe ideaal wat vir volk en staat gekoester word, te verwesenlik.
Die FAK was gevolglik intiem betrokke by die prosesse wat daartoe gelei het om hierdie lied op 2 Mei 1957 amptelik tot volkslied te verklaar.
“Die Stem van Suid-Afrika” is wel in 1928 vir die eerste keer in die openbaar uitgevoer, toe die vorige Suid-Afrikaanse landsvlag (“Oranje, blanje, blou”) die eerste keer gewapper het. (Dit is waarskynlik waar Dean en Jooste aan hierdie datum kom.) Nietemin was die lied nog geensins alom bekend as Suid-Afrika se volkslied nie – nie eens as alternatiewe volkslied van die Afrikaners nie – “God Save the King” was tot en met 1938 die enigste en amptelike Suid-Afrikaanse volkslied. Na 1938 het “Die Stem van Suid-Afrika” ’n komplekse geskiedenis wat gepaard gaan met kulturele weerstand teen Brittanje en met die verskeie pogings van Afrikaners tot nasionale soewereiniteit. Dit is inderdaad die prototipiese struggle-liedjie, en is veral deurdring met Bloedriviersimboliek vanweë die aktivistiese gesing daarvan in 1938 se eeufeesviering van die Groot Trek.
Omdat “Nkosi Sikelel’ iAfrika” meer algemeen as ’n struggle-liedjie beskou word, wil ek juis nou op die strydsgeskiedenis van “Die Stem van Suid-Afrika” fokus met die doel om te demonstreer hoe sekere liedere wat deur individue gekomponeer is, uiteindelik aanvaar word as spontane uitdrukkings van bonatuurlike nasionale gemeenskappe. Die idee van nasies word nie genoegsaam bevraagteken nie en volksliedere is simptomaties van die kunsmatighede en hebbelikhede wat met nasieskap gepaard gaan.
1938 was polities belangrik vir Afrikaners, omdat dit ’n verkiesingsjaar was. Die oorgrote meerderheid van die kieserskorps was sogenaamde wit mense en een van die groot vraagstukke by die stembus was Suid-Afrika se moontlike deelname aan ’n Europese oorlog, bloot as ’n aanhangsel van Brittanje. Die Gesuiwerde Nasionale Party (onder die leiding van DF Malan) het sewe nuwe setels verower in daardie jaar se algemene verkiesing, wat die party gebring het tot ’n totaal van 27 uit 153. As gevolg van hierdie relatief klein oorwinning het die Afrikaner se struggle oorbeweeg na die kulturele front. Die volksliedvraagstuk was ’n sentrale deel van Malan se veldtog om sy party uiteindelik as die mondstuk van die Afrikanerdom te posisioneer.
Malan het op 26 Jule 1938 – reeds na die verkiesing – die volgende voorstel by die Volksraad ingedien:3
Dat geen oplossing van die Volkslied-vraagstuk bevredigend sal wees nie, anders as op die grondslag van één enkel, eg Suid-Afrikaanse en offisieel erkende volkslied. Die Raad versoek derhalwe die Regering om onmiddelik alle stappe te doen om praktiese uitvoering te gee aan hierdie beleid, en keur af enige beleid of optrede aan die kant van ministers, wat hiermee in stryd is, as synde ’n verkleinering van Suid-Afrika se onafhanklike status, en ’n aantasting van Suid-Afrika se nasionale eer.
Die leier van die Gesuiwerde Nasionaliste was besig om munt te slaan uit ’n twis in generaal Hertzog se Smelterregering. Die herrie was reeds twee maal vantevore in 1938 los, nadat Hertzog (eerste minister) gereël het dat “Die Stem van Suid-Afrika” by die parlementsopening gespeel word, en nadat Oswald Pirow (minister van verdediging) toegesien het dat die lied ook by die weermag en vloot se Uniedag-feesvieringe gespeel word in die plek van “God Save the King”. Hertzog en sy kabinet is op 3 Junie deur Engelsgesindes in die Volksraad gedwing om ’n verklaring uit te reik dat die Unie van Suid-Afrika geen enkel erkende en amptelike nasionale volkslied het nie, maar dat beide “God Save the King” en “Die Stem van Suid-Afrika” voortaan by plegtighede gespeel sou word. Die absurditeit van twee onerkende volksliedere het selfs gelei tot voorstelle van ’n saamgestelde lied, “God Save Die Stem”, soortgelyk aan die idee wat tot die ontstaan van die huidige volkslied gelei het.4
Malan se mosie om die volksliedvraagstuk op te los het tot fel debatte in die Volksraad gelei – die volkslieddebatte het oor ’n maand se tyd plaasgevind en die transkripsies daarvan in Hansard beslaan nagenoeg 400 kolomme (ongeveer ’n tiende van die hele jaar se gedokumenteerde parlementêre verrigtinge). Deur daarop aan te dring dat “God Save the King” vanweë die Anglo-Boereoorlog geskiedkundig ongepas was as volkslied, wou Malan Suid-Afrika distansieer van die Britse Ryk. Sy doel hiermee was om die regerende Verenigde Party – ’n koalisie wat Engels- en Afrikaanssprekendes verteenwoordig het en lojaal teenoor Brittanje was – uit mekaar te dryf. Sy tydsberekening om twee redes was perfek. Eerstens was Afrikaners nie deur die bank gretig om saam met Engeland teen Duitsland te veg in ’n nuwe Europese oorlog nie, en tweedens was die eeufeesvieringe van die Voortrekkermonument ’n geleentheid waartydens die gemeenskaplike Afrikaner-siel voor die wêreld blootgelê sou word. Ware Afrikaners, soos wat Malan hulle verstaan het, was republikeine.
In een van die eienaardigste moontlike kronkels van die Suid-Afrikaanse geskiedenis is Alan Paton, die beroemde skrywer van Cry, the Beloved Country, een van die deeglikste dokumenteerders van die simboliese Ossewatrek wat aan die einde van 1938 regoor Suid-Afrika plaasgevind het. Paton was op daardie stadium van sy lewe nog geensins beroemd nie, en boonop nog simpatiek teenoor die Afrikanernasionalisme. Hy het selfs ’n baard gekweek en in ’n ossewa na Monumentkoppie toe getrek om te sien hoe die hoeksteen van die Voortrekkermonument gelê word. Onder andere beskryf hy hoe “Die Stem van Suid-Afrika” nog geensins universeel bekend was nie, en hoe die simboliese trek bekendheid vir die lied verwerf het: “‘Die Stem van Suid-Afrika’ became familiar to tens of thousands of people who had never heard it before.”5 Die Afrikaners was, as’t ware, ’n volk in wording wat stelselmatig Langenhoven se woorde as uiting van hul siel aanvaar het.
Malan se toespraak by Bloedrivier op 16 Desember 1938 demonstreer hoe sentraal hierdie lied tot die Nasionaliste se doelbewuste kultuurpoging was:6
U voorvaders het “Die Stem” nooit gesing nie omdat hul hom nie geken het nie. Maar uit die blou van onse hemel, uit die diepte van ons see en oor ons ewige gebergtes waar die kranse antwoord gee, het hulle sy geklank tog opgevang en verstaan. Hulle het geantwoord. Hulle het geoffer. In u ore weerklink daardie selfde stem. Hy is op u lippe omdat u hom lief het en bely as u eie en enige volkslied.
Dit is geensins moontlik dat die Afrikaners in die laer by Bloedrivier hierdie lied kon opgevang en verstaan het nie. En tog het Malan sy gehoor met beeldspraak oortuig dat hier ’n spesifieke lied is wat die Afrikaner se identiteit in vaderlandsliefde kon saamvat – juis deur daarop aan te dring dat hul voorvaarders die lied op ’n denkbeeldige vlak geken en verstaan het. In hierdie oomblik word die idee van ’n eg Suid-Afrikaanse volkslied verseker vir die toekoms. David Coplan, Benetta Jules-Rosette en Nicholas Cook het ook reeds soortgelyke opinies oor “Nkosi sikelel’ iAfrika” gepubliseer.7 Omdat beide liedere nog steeds met ons is, dink Suid-Afrikaners vandag nog op ’n soortgelyke manier aan hul volkslied(ere).
Tog is die huidige volkslied ’n vreemdsoortige skepsel wat veeltalig is en wat selfs in twee verskillende toonsoorte gekomponeer is (’n unieke eienskap wat juis toe te skryf is aan die lied se hibriede wesentlikheid). Suid-Afrika se Mandela-oomblik was kortstondig en ons volkslied is ’n produk van en vir daardie tyd. Die lied het reeds, te danke aan Ras Dumisani en diesulkes, hewige kritiek binne ons Suid-Afrikaanse gemeenskap ontlok. Die feit dat dit terselfdertyd deur buitelanders verromantiseer kan word as iets eksoties “out of Africa”, beteken dat dit per slot van rekening simbolies is van ’n Suid-Afrika wat nie eintlik bestaan nie.
Die mees onlangse media-uitbarstings oor die lied se kopiereg is ook ‘n aanduiding van die land se kompeterende ekonomiese denkstrome. Een is dat die mense van Suid-Afrika (’n amorfe en onmoontlik definieerbare gemeenskap) finansieel moet baat by die lied se tantieme – as voorbeeld van hierdie denkstroom het die Demokratiese Alliansie se nasionale woordvoerder Mmusi Maimane daarop aangedring dat die regering die lied se regte verseker, “to ensure that our national anthem is the rightful property of all South Africans and that the people of this country are the first to profit from our national symbols”.8 (Hierdie dubbelsinnige taalgebruik is oënskynlik deel van die DA se volgehoue pogings om die ANC se marxistiese struggle-geskiedenis uit ’n nuwer en blouer liberaal-kapitalistiese invalshoek te aanskou.)
Die tweede denkstroom is pragtig deur Dean en Jooste opgesom: ’n volkslied behoort nie ’n nasionale kontantkoei te wees nie:
Dit is nie die Suid-Afrikaanse regering se reg om daarmee te woeker nie. […] Dit mag wel deel wees van ons ryke, saamgesnoerde en gemene erfenis, maar dit behoort gratis en onbeslommer beskikbaar aan almal en tot voordeel van almal te wees. Niemand kan dit monopoliseer of vaslê nie – nie die regering nie en ook nie die 61 huigelaars nie.
Lieflike woorde, maar soos met soveel pragtige idees oor die nuwe Suid-Afrika, blyk dit uiteindelik op windmakery af te speel.

Ek wil voorstel dat die huidige volkslied moontlik afgeskaf word. Dit voldoen nie aan wat dit belowe nie. Die struggle wat die historiese “Nkosi sikelel’ iAfrika” verteenwoordig, is onversoenbaar met die struggle wat “Die Stem van Suid-Afrika” verteenwoordig. Wat doen hulle dan in dieselfde lied? Terselfdertyd is ek nie oortuig van die haalbaarheid van ’n tweede oorgang nie, en ook nie oor die moontlike sukses van nog ’n nuwe volkslied nie. Bêre die volksliedere. Sing hulle by gepaste kultuurgeleenthede, maar moenie aanhou soek na die één lied wat ons almal kan definieer nie. Suid-Afrika het nie ’n volkslied nodig nie.
[1] Coplan, DB en B Jules-Rosette. 2008. “Nkosi sikelel’ iAfrika”: Stories of an African Anthem. Composing Apartheid: Music For and Against Apartheid, 201. Geredigeer deur Grant Olwage. Nog ’n interessante brokkie is dat Sontonga se vrou Diana die regte van “Nkosi siskelel’ iAfrika” iewers voor haar dood in 1929 verkoop het. Is dieselfde posduif-bepaling in die Britse Imperiale Outeurswet op Sontonga se erfgename van toepassing as op De Villiers s’n, sodat hulle weer kopiereg daarvan kan besit?
[2] Bothma, E. 1986. Die Bydrae van die Musiekkomitee van die FAK tot die bevordering van musiek in Suid-Afrika met spesifieke verwysing na die Volksmusiek van die Afrikaanssprekendes. MA-verhandeling, Universiteit van die Oranje-Vrystaat, 44.
[3] Malan, DF. 1959. Afrikaner-volkseenheid en my ervarings op die pad daarheen. Kaapstad: Nasionale Boekhandel, 142.
[4] A South African Centenary. Celebrating the Great Trek: In the Path of the Pioneers. National Anthem Controversy. Glasgow Herald. 21 Oktober 1938.
[5] Paton, A. 1965. Hofmeyr, 299.
[6] Malan, DF. 1964. Bloedrivier: Toespraak op 16 Desember 1938 op Bloedrivier, ’n hoogtepunt van die Voortrekkereeufees. Saamgevat in Glo in U Volk: Dr DF Malan as Redenaar. Kaapstad: Tafelberg, 122.
[7] Coplan en Rosette in Composing Apartheid, soos reeds vermeld. Cook (1998) in Music: A Very Short Introduction. Londen: Oxford University Press, 75-6.
[8] 19 Junie 2012. President must take urgent steps to ensure Nkosi Sikelela belongs to all South Africans.
http://www.da.org.za/newsroom.htm?action=view-news-item&id=10848

