Persverklaring: Langenhoven 150, Loeloeraai 100 by vanjaar se KKNK!

  • 0

Cornelis Jakob Langenhoven is in 1873 gebore, 150 jaar gelede.

CJ Langenhoven se Loeloeraai is in 1923 gepubliseer. Dit is 100 jaar gelede.

Die Langenhoven Gedenkfonds vier vanjaar hierdie dubbele mylpaal met ’n Langenhoven-gedenklesing tydens die KKNK in Oudtshoorn.

Almal is welkom. Toegang is gratis.

Hierdie baie spesiale Langenhoven-gedenklesing sal op 1 April 2023 om 13:00 in die Netwerk24-Feeskafee plaasvind.

Die gesprek sal grootliks fokus op die literêre relevansie van Loeloeraai 100 jaar later.

Hoekom?

  • Loeloeraai is volgens verskeie bronne die eerste wetenskapfiksieteks in Afrikaans.
  • Dekades voor Spoetnik verduidelik Langenhoven reeds hoe mense in die ruimte sou slaap, hoe water in die ruimte sou reageer en die belang van geprosesseerde kos kom ter sprake.
  • Belangriker selfs, is die ekokritiek in die roman. Langenhoven was daar sy tyd baie ver vooruit. As die mens in 1923 na Loeloeraai sou luister, sou ons nie vandag in so ’n groot ekokrisis gewees het nie.

Hier is die deelnemers aan die gesprek.

  • Carien Smith is tans ’n doktorale kandidaat by die Universiteit van Sheffield in Brittanje en doen haar navorsing in klimaatsveranderingetiek. In 2020 was sy ’n Writing Fellow by die Johannesburg Institute for Advanced Study. In 2019 ontvang sy die Iceland Writers Retreat Alumni-toekenning. In 2022 debuteer sy met Bot, ’n opspraakwekkende bundel kortverhale.
  • Jenny Pape is ’n opgeleide geochemikus en ook ’n digitale ontwerper. Boonop is sy ’n kranige leser van wetenskapfiksie.
  • Mellet Moll is ’n professor in bedryfsingenieurswese. As ’n voormalige dekaan van Ingenieurswese by die Skiereiland Universiteit van Tegnologie was hy ten nouste betrokke by Suid-Afrika se ruimteprogram. Hy het drie poësiebundels gepubliseer; werk deeltyds as resensent en letterkundige; en is tans besig met doktorale studie in Afrikaanse letterkunde aan die Universiteit van Johannesburg.
  • Nini Bennett is ’n bekende resensent en letterkundige. Sy debuteer met ’n bundel kortverhale, Stoornis, wat in 2003 met die UJ-debuutprys bekroon word. In 2008 wen sy die internasionale Room to Read-prys in die kategorie Afrikaans en haar jeugverhaal Die storie van Vusi se orkes verskyn in al elf landstale. Sy het ook drie poësiebundels gepubliseer en is tans besig met doktorale studie in Afrikaanse letterkunde aan die Universiteit van Johannesburg.

Izak de Vries sal die paneel fasiliteer.

Die Langenhoven-gedenklesing word aangebied deur die Langenhoven Gedenkfonds in samewerking met die KKNK.

Die direksie van die Langenhoven Gedenkfonds erken ook hiermee die groot bydrae van die LW Hiemstra-trust tot die bewaring en uitbouing van die Afrikaanse taal en letterkunde.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top