Nasa sê Langenhoven het toe nie sy naam krater gemaak nie

  • 0

Wat het Langenhoven se Loeloeraai, Méliès se kortfilm Le voyage dans la Lune en die TV-reeks Alpha 1999 gemeen? ’n Gat, dis wat.

Enkele dae gelede, op 18 Julie 2024, het Nasa by monde van Lonnie Shekhtman bekend gemaak dat hulle vermoed daar is ’n wye netwerk grotte onder die maan se oppervlak.

An international team of scientists using data from NASA’s LRO (Lunar Reconnaissance Orbiter) has discovered evidence of caves beneath the Moon’s surface.

In re-analyzing radar data collected by LRO’s Mini-RF (Miniature Radio-Frequency) instrument in 2010, the team found evidence of a cave extending more than 200 feet from the base of a pit. The pit is located 230 miles northeast of the first human landing site on the Moon in Mare Tranquillitatis. The full extent of the cave is unknown, but it could stretch for miles beneath the mare.

Dit is interessant, maar vir my nog meer, want CJ Langenhoven het enorme grotte diep onder die maan se oppervlakte voorspel in sy roman Loeloeraai wat reeds in 1923 verskyn het.

Hierdie maangrotte het ontstaan weens vulkane wat lank gelede op die maan aktief was. Nasa se amptelike berig verduidelik dit so:

Like “lava tubes” found here on Earth, scientists suspect that lunar caves formed when molten lava flowed beneath a field of cooled lava, or a crust formed over a river of lava, leaving a long, hollow tunnel. If the ceiling of a solidified lava tube collapses, it opens a pit, like a skylight, that can lead into the rest of the cave-like tube.

Langenhoven het dit meer as 100 jaar gelede al gesê. In hoofstuk 12, getiteld “Die afgronde in”, word die naderende maan se oppervlak só beskryf:

Wat ’n woeste, afskrikkende toneel! Almal kringe van berge wat ronde gate vorm met ’n piek wat in die middel regop staan. Nie ’n teken van boom of bos, rivier of waterplas nie.

“Dit lyk nes ’n heuningkoek,” sê Engela.

“Almal uitgedoofde vuurspuwende berge se kraters,” sê ek. (bl 83)

Terloops, alle bladsynommers in hierdie stuk verwys na die 2011-uitgawe wat steeds te koop is.

In die video hier onder word die vorming van die ondergrondse netwerke verduidelik.

Die verteller bespiegel dat robotte, dalk selfs mense, eendag hierdie ondergrondse grotte sou kon verken.

Volgens Langenhoven het dit reeds gebeur. Loeloeraai het toentertyd die tuig se elektriese ligte aangeskakel en begin rondsoek in die tonnels onder die maan se oppervlak. Dit is selfs in Die Burger gerapporteer, as ’n mens Langenhoven sou glo:

Die volgende oggend kom Die Burger uit met die volgende berig: “Neelsie telefoneer dat die reisgeselskap in die doolgange van die maan verdwaal geraak het. Die sfeer trek al ure lank op en af en heen weer [...].” (bl 86)

Vir diegene wat belangstel in die manier waarop wetenskaplikes die data interpreteer, sou ek hierdie video aanbeveel, hoewel dit effens droog is. Daar is ’n interessante aantal foto’s oor die 278 gate wat tans bestudeer word om moontlike grotte onder die maan se oppervlak te vind.

Daardie grotte sal waarskynlik eendag gebruik kan word om mense in te laat woon. Die maan se oppervlakte is, soos Neelsie gemeld het, ’n “woeste, afskrikkende toneel” (bl 83). Dagtemperature styg tot bo kookpunt, nagtemperature val baie ver verby vriespunt. Boonop is daar baie swaarder elektromagnetiese bestraling op die maan as op die aarde se oppervlak. In die grotte onder die maan se oppervlak sal die temperature gelykmatig wees en bestraling sal nie ’n probleem wees nie.

Dit is presies wat Neelsie ook voorsien het in 1923.

Ná ’n soektog van meer as 24 uur het Loeloeraai die tuig saggies neergesit in ’n “ontsaglike grot” (bl 87) diep onder die oppervlak. Daar was dit veilig genoeg vir die aardlinge om te kon uitklim.

Langenhoven se leeskennis

Neelsie se agterkleinkind, Willemien Brümmer, het verlede jaar ’n berig oor Loeloeraai se maanlanding geskryf.

Sy verduidelik daarin dat haar oupagrootjie ’n “besonderse kennis van die sterrekunde gehad” het. Volgens Ruhann Steyn, ’n ruimtefisikus by die sentrum vir ruimtenavorsing aan die Noordwes-Universiteit met wie sy vir die berig gesels het, “was die roman in vele opsigte sy tyd vooruit”.

Brümmer sê ook tereg dat haar grootjie se leeskennis van ander se fiksie bygedra het tot sy visie van die grotte en die lewe daar onder die aarde.

Jules Verne het byvoorbeeld twee romans oor besoeke aan die maan geskryf: De la Terre à la Lune, trajet direct en 97 heures 20 minutes (1865) en Autour de la Lune (1869). In Afrikaans sou die titels wees Van die aarde na die maan, direkte reis in 97 uur 20 minute en Om die maan. Eersgenoemde is in Nederlands en in Engels vertaal, die tweede beslis in Engels.

Dit is onseker of Langenhoven die tweede Verne-teks gelees het, maar hy is deeglik bewus van die eerste; hy moedig selfs leerlinge aan om die “Hollandse” vertaling te lees (bl 101).

Tog sê Langenhoven ook: “Daar is baie wetenskaplike onjuisthede in die boek” (ibid), en: “In Loeloeraai is daar omtrent niks wat aan Jules Verne se boek ontneem is nie” (ibid).

Direk daarna sê hy: “’n Meer moderne en hoërstaande boek is die Engelse van HG Wells, The first men in the moon” (ibid).

Langenhoven verskaf dan ’n tegniese verduideliking oor Wells se idee van swaartekrag (bl 101–2) en gee erkenning aan Wells vir die manier waarop hy die ruimtereisigers laat sweef in die goue sfeer.

Dan volg ’n baie interessante paragraaf:

Daar is nog een ooreenkoms tussen Wells se boek en Loeloeraai, en dit is naamlik die holligheid van die maan. Die veronderstelling is onwaarskynlik maar hy doen nie die moontlikheid geweld aan nie, want die maan is baie ligter as wat hy behoort te wees as hy ’n vaste rotsblok is – sy soortgelyke gewig is baie minder as dié van die aarde. (bl 102)

Neelsie erken dus dat hy nie glo die maan is hol nie, maar hy doen beslis nie “die moontlikheid geweld aan” met sy “doolgange” (bl 86) en moontlike grotte nie. Sy kennis – dat die maan relatief ligter as die aarde is, en die feit dat daar vuurspuwende berge op die man was – bly interessant.

Soos Shekhtman in haar berig oor Nasa se bevinding skryf:

Scientists have suspected for decades that there are subsurface caves on the Moon, just like there are on Earth. Pits that may lead to caves were suggested in images from NASA’s lunar orbiters that mapped the Moon’s surface before NASA’s Apollo human landings.

Koos Holtzhausen, ’n toenmalige dosent in elektriese ingenieurswese aan die Universiteit Stellenbosch, het in 2019 reeds op LitNet geskryf: “By die herlees van die boek was ek verstom oor Langenhoven se insig.”

Georges Méliès se maansending het ook ’n grot betrek

In 1902 het Georges Méliès ’n kortfilm gemaak met die titel Le voyage dans la Lune, of te wel ’n Reis na die maan.

’n Skermgreep uit Le voyage dans la Lune

Dis ’n effens stuitige film met meisies in eina broekies wat ’n reeks ou ooms in ’n tuisgemaakte ruimtetuig in ’n kanon instoot. Die kanon skiet die tuig dan maan toe, waar dit in die oog van die maan, ’n holte dus, te lande kom.

’n Skermgreep uit Le voyage dans la Lune

Daardie oomblik wanneer die maantuig in die oog van die maan invlieg, is ikonies.

Wanneer die spannetjie uitklim uit hulle tuig, gaan hulle ook dadelik ondergronds waar hulle maanlinge aantref wat nie alte vriendelik is nie.

Méliès se film is duidelik gebaseer op Jules Verne se twee romans oor besoeke aan die maan wat reeds hier bo bespreek is. In Langenhoven se woorde: “In sy [Verne] se Reis na die maan word die reisigers in ’n kanonkoeël daarheen geskiet” (bl 101).

Ook die plantegroei en die maanlinge is ’n ode aan Verne.

Alpha 1999

Wie onthou die reeks Alpha 1999 wat vanaf 1977 op Suid-Afrikaanse TV uitgesaai is? Ons het nie ’n TV gehad nie, maar op ’n Vrydagmiddag het ek so gereeld moontlik by ’n maatjie gaan kuier om te sien wat volgende op die maan sou gebeur.

Alpha 1999 was ’n oorklanking van die Britse reeks Space: 1999 wat deur Gerry Anderson vir die BBC vervaardig is. Opvallend was die veelrassige aard van die maankolonie – onthou, die jaar was 1977 toe die reeks die eerste keer in ons land uitgesaai is.

Terugskouend, met my nou nuutverworwe kennis van Nasa se ondersoeke na die lawagate op die maan, moes ek wonder hoeveel van Maanstasie Alpha ook ondergronds sou moes wees?

’n Skermgreep uit episode 1 van Space:1999

Kyk na hierdie skermgreep van die basis. Dit is duidelik om ’n sentrale kern uitgelê en dit wat ons sien, is hopeloos te klein om die honderde mense in die basis te huisves.

Meer nog: In episode een word kernafval gestoor in daardie einste maangate...

Besoek die ou dae weer

Feite en fiksie meng soms lekker.

Loeloeraai is te koop: Langenhoven, CJ. 2011. Loeloeraai. Pretoria: Protea Boekhuis.

Georges Méliès se ikoniese Le voyage dans la Lune is op YouTube.

Space: 1999 is ook te sien op YouTube.

Lees ook:

Langenhoven se 1923-verbeeldingsvlug maan toe

Loeloeraai, kunsmatige intelligensie en die oordeelsdag

Herrie die olifant, ’n engel uit die buitenste ruim, en ’n blinkgoue eier: Loeloeraai 100 jaar later en CJ Langenhoven 150 jaar later

Loeloeraai 100 jaar later

Loeloeraai as steampunk? Oor die uitbeelding van die wetenskappe 100 jaar gelede

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top