Die NALN-tydkapsule: Jan Rabie – Rondom 21

  • 1

Reis saam met die Nasionale Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (NALN) in Bloemfontein terug in tyd.  

Leana ­­Lategan gaan tweeweekliks interessante, waardevolle en soms byna vergete argief-items met LitNet-lesers deel. 

Jan Rabie is eerste aan die beurt, maar nuwe ontdekkings wag: Langenhoven se houtsneewerk; ’n handvol kinderboeke uit boekrakke van vergange jare; dalk die valstande van Erich Mayer, of die Rococo-meubels van Nancy de Villiers ... Wie weet? 

Gaan kyk ook by die Uit die argief-glyer op die LitNet-tuisblad na “Uit NALN se Sarkofaag”.

Dié foto van Jan Rabie, Robert Pearce, Marjorie Wallace en Vernon February is in 1993 geneem tydens ’n skrywersgildeberaad wat buite Bloemfontein by Maselspoort gehou is. Die fotograaf was Jakkie Pretorius wat desjare NALN se amptelike fotograaf was.

Hier lê die dun bundel dan, 63 jaar later, voor ons. Met Jan Sebastian Rabie se naam op die voorplat, en ’n lyntekening deur Marjorie Wallace, op ’n heel fyn, sagte geel papierjas.

Dis die resultaat van 30 kort prosasketse wat Rabie tussen Januarie 1950 en Junie 1954 in Parys geskryf het.

Hy woon in ’n dakkamer, is soms baie arm, en ander kere, wanneer daar vir skryfwerk na Suid-Afrika tantième opgedaag het, weer ryker. En hy skryf hierdie stukke in Engels, sodat Marjorie, sy Skotse meisie, dit kan lees en kommentaar daarop kan lewer. Daarná eers skryf hy dit oor in Afrikaans. Hy het reeds enkele van die stukke vir DJ Opperman gestuur met die oog op publikasie, maar dié het dit afgekeur.

Die destyds bekende uitgewer AA Balkema is nie ’n bang of oorversigtige man nie. Hy maak ’n seleksie van die verhale en in 1956 publiseer hy 21 van hulle onder die titel 21. Hierdie bundel sou met verloop van jare soos daardie beiteltjie van NP Van Wyk Louw word en sy eie klip oopkap.

En die belangrike bars sou ’n wesenlike invloed op die Afrikaanse letterkunde hê. Kritici het trouens by herhaling gewys op die betekenis van “mondigheid” in die titel. Ter geleentheid van Jan Rabie se 80ste verjaardag publiseer Human & Rousseau in 2000 ’n heruitgawe getitel 21+. André P Brink skryf die voorwoord en die oorspronklike Engelse weergawes van die verhale word ook opgeneem.

Wat ’n leser uit 21 se tekste óók kan aflees, is die eie temperament, die persoonlike kennis en ervaring van Jan Rabie. Die avontuur- en waarheidsoeker; die ongedurigheid van ’n gees wat hom nooit aan bande sou laat lê nie; die gulsige leser van wêreldletterkunde – ál hierdie gewaarwordinge stu boontoe. Iets hiervan kom ook onder ’n mens se aandag wanneer jy na voorwerpe in die uitstalling in NALN kyk: sy skryfstoel, ’n boekrakkie, die skuins houtstaander wat op die lessenaar gestaan het en waarop hy geskryf het (almal in seeblou geverf); ’n skildery van Jorie op die stoepdivan, omring van haar katte; ook haar esel en ’n skildertafeltjie; die rugsak wat onafskeidbaar van hom was, vele staptogte later, en ook deel van die ontstaansgeskiedenis van sy jeugroman Die seeboek van die sonderkossers.

Marjorie se esel met skildery

Rugsak

Brilhuisie van metaal met bril van Jan Rabie binne-in

Medalje Nasionale Orde van die Franse Vreemde Legioen

Turkoois houtstoel met armleunings

Turkoois houtrakke op wiele

“Die Sestigers het niks meer te sê nie ...” Dis die opmerking van een van ons skrywers. En tóg: Ander erken dat hulle by Jan Rabie vuur gesteel het, bewus geword het van een van sy eie waarnemings: “Waar mense is, is heftige woestyne”; en dat voorgelese flardes uit 21 destyds selfs pokerspelende studente se spel kon onderbreek. Meer as ’n halfeeu later hoor ek steeds sy driftige sagte stem in 21.

  • Foto’s: Amanda Groenewald
  • 1

Kommentaar

  • Vir sy vertaalwerk het Jan Rabie die "Legion d'honneur" gekry, die Ere-legioen.

    Die Vreemde Legioen verwelkom buitelandse soldate in die Franse leër.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top