Marlise Joubert (1945–)

  • 1

Gebore en getoë

Marlise Joubert is op 17 Desember 1945 op Elim naby Louis Trichardt gebore, die enigste dogter van haar twee onderwyser-ouers. In 1949 trek die gesin na Warmbad, waar Marlise begin skoolgaan en waar sy ook matrikuleer aan die Hoërskool Warmbad in 1962. Haar skryfloopbaan begin op sewejarige ouderdom met die skryf van ’n paar gediggies oor die skool en die buitelewe. In 1962 is van haar verse in die skooljaarblad gepubliseer.

Verdere studies en werk

Na skool weet Marlise nie watter rigting sy wil inslaan nie. Haar pa raai haar aan om ’n lysie van haar belangstellings te maak en heel boaan staan “Lees”. “Toe sê my pa ek moet biblioteekkunde gaan studeer, dan sal ek omring wees van boeke.” En dit is hoe sy in biblioteekkunde beland het. “Lees is ’n passie, boeke is ’n passie, kuns is ’n passie. Maar as ek nou terugdink, moes ek eintlik kuns geswot het.” (Rapport, 29 Feb 2004)

In 1966 behaal Marlise haar BA in Biblioteekkunde en in 1967 ’n Honneursgraad in Filosofie, albei aan die Universiteit van Pretoria. In 1967 werk sy as bibliotekaresse van die Navorsingsinstituut vir Tuinbou op Roodeplaat buite Pretoria tot Augustus 1968. Sy sluit haar by die koerant Beeld aan as verslaggewer tot 1969, waarna sy verslaggewer word by die nuusdiens van die SAUK in Johannesburg. Vanaf 1971 tot 1974 is sy bibliotekaresse by die Wartenweilerbiblioteek by die Universiteit van die Witwatersrand en in 1975 en 1976 by die Germistonse Stadsbiblioteek as onderhoofbibliotekaresse.

Na haar debuut in haar skooljaarblad verskyn Marlise se gedigte in Tydskrif vir Letterkunde, Contrast en Kol. Op 23-jarige ouderdom lê sy haar eerste manuskrip aan ’n uitgewer voor en in 1970 word ’n Boot in die woestyn deur Afrikaanse Pers-Boekhandel uitgegee.

Oor hierdie eerste bundel van Marlise het Ampie Coetzee (Rapport, 31 Januarie 1971) gesê dat hoewel nie alle debuutbundels ernstige aandag verdien nie, ’n Boot in die woestyn beslis een is wat mens nie onopgemerk moet laat verbygaan nie.

“Met die deurlees van die bundel val die aksent duidelik op die werkwoord ‘bemin’, omdat verse waarin die erotiese verhouding van die ‘ek’ tot iemand anders weergegee word, die meeste voorkom. (…) Hoewel die liefdesverse tematies nie veel anders sê as wat alle liefdespoësie sê nie, is daar tog in die wyse waarop daar gepraat word, genoeg aanduiding van ’n strewe na ’n varsheid in die bewoording. Dit val veral op in die beeldgebruik.”

In 1973 verskyn Marlise se tweede digbundel, Domus, by Tafelberg. HP van Coller is die resensent in Tempo (2 November 1973) en hy het net gewonder of die bundel nie dalk te vroeg uitgegee is nie. Vir hom was ’n beswaar teen Domus “nié dat Marlise Joubert surrealistiese poësie in vrye vers skryf nie, ook nie dat Éluard en Ingrid Jonker saampraat nie, maar dat hulle dikwels alleen praat.

“Soos in haar eerste bundel ’n Boot in die woestyn (1970) verwerk sy nog nie al haar invloede nie. Die omvorming van idiome, die verkapping van die taal word dikwels slegs navolging van Breytenbach en niks meer nie. Ongelukkig ook is baie van die gedigte blote niemendalletjies, terwyl ander weer eens nie ‘af’ is nie.”

In 1979 word haar eerste prosawerk, die novelle Klipkus, gepubliseer en lok dit heelwat bespreking uit, aangesien dit die eerste roman in Afrikaans was wat oor lesbiese liefde handel. Hierdie werk het ook ’n draai by die Publikasieraad gemaak en is vir enkele dae verban. Na ’n pleidooi deur DJ Opperman is die ban weer opgehef. Dit is vir eerstejaarstudente in Durban voorgeskryf – wat gesorg het vir nog meer kontroversie. In 1981 is Klipkus deur Ena Jansen in Nederlands vertaal onder die titel Rode granaat.

Jakes Gerwel was die resensent van Klipkus in Oggendblad van 27 Julie 1979. Hy was nie baie beïndruk daarmee nie: “Die novelle laat ’n mens heeltemal onvervuld: die tematiek van die werk, nl dié van die Lesbiese ‘liefde’ is nog heeltemal nuut in Afrikaans en dit is met groot afwagting – en nuuskierigheid – dat die boek opgeneem word.

“Op slot van sake stel dit egter heeltemal teleur: Dit kon ewe goed oor ’n heteroseksuele verhouding gehandel het, so min kom daar van die psigologiese kleur van die betrokkenes tereg. Dit is gewoon die poëtiese (en dikwels on-poëtiese) inspan van woorde met die tematiese gegewe in geforseerdheid.”

In Beeld (5 Februarie 1979) was FR Gilfillan egter ’n ietwat ander mening oor Klipkus toegedaan: “Klipkus is ’n insiggewende neerslag van Marlise Joubert se Nederlandse verblyf van etlike jare, en ’n werk waarin sy haar verrassend en vernuftig openbaar as belowende romanskryfster. Dit is sonder twyfel haar grootste literêre prestasie tot dusver, ’n boek wat veel duideliker blyk gee van skeppende vermoë as wat haar poësie tot nog toe kon doen.”

Klipkus is ’n briefroman en nie die eerste een wat in Afrikaans geskryf is nie, skryf Gilfillan verder. Vir hom is hierdie genre in dié roman baie knap gebruik. “Die reekse briewe van Adri (die hoofkarakter) wat Brigitta van tyd tot tyd aan Vink, die uitgewer, voorlê word plek-plek onderbreek en gekontrasteer deur die korrespondensie tussen Brigitta en Vink self.

“Deur hierdie afwisseling word die emosionele verwarring van Adri, om wie dit in die eerste plek gaan, gestel teenoor die nugtere styl en skepsis van die uitgewers wat teenoor die aard van die lesbiese verhouding onbegrypend staan en in sy afsydigheid selfs geïnteresseerd is in die reklamewaarde van sensasionele berigte oor haar dood. (…)

“Om saam te vat: ’n werk wat deurgaans goed geskryf is met talle voorbeelde van indrukwekkende taalbeheer. Inhoudelik egter te yl: selfs ietwat passé. Die eksistensiële angs van die ledige jong mens was ’n modeverskynsel wat al weer aan die verdwyn is. Die mens is meer as net ’n seksuele wese en die lewe bied ’n ryker tekstuur – selfs in die irreële belewing daarvan – as net die lyflike.”

Marlise Joubert se derde digbundel, So ver en verder, wat in 1976 by Perskor gepubliseer is, sluit volgens Stephan Bouwer se bespreking in Rapport van 28 November 1975 in baie opsigte aan by Domus. Daar is weer verse oor die liefde en erotiek, hartseer en verlange, geboorte en moederskap, ervaringe in die buiteland en ander temas – alles onderwerpe waaroor sy die graagste dig.

Bouwer het voortgegaan: “’n Mens kry die indruk dat daar ’n voortsetting, eerder as verdieping, van sekere gunstelingtemas en leitmotiewe is.

“In haas al elf verse in die eerste afdeling kom die woord ‘droom’ een of meermale voor. In dié verse beteken droom veral fantasie – en dan volg die hallusinatoriese, vrye assosiasies wat al so ’n kenmerkende element van Marlise Joubert se werk geword het. (…)

“In die tweede afdeling is daar onder meer gedigte oor bevrugting, geboorte, moederskap, en verse wat aan ’n kind opgedra is. Wanneer die digteres so direk en onpretensieus praat soos in ‘Begin van ’n seun’; ‘Op so ’n middag’ en ‘Al weet jy nie’ skryf sy aangrypende verse. (…)

“In die slotafdeling (die vierde) is daar die intens-persoonlike verse waarmee Marlise Joubert haar altyd op gladde ys waag … en waarmee sy gewoonlik groot welslae het. Dié afdeling (én die bundel) se hoogtepunt is die vers ‘Waterbergidille’ wat haar besondere bydrae tot die jonger poësie illustreer.”

In 1976 gaan woon sy en haar gesin in Durban, waar sy haar veral toelê op pottebakkerswerk en ook werk as katalogiseerder by die Killie Campbell Africana Biblioteek. Haar egskeiding vind plaas in 1983 nadat sy ’n jaar lank in Graaff-Reinet woonagtig was. Marlise se bundel Ontruiming, wat in 1986 verskyn, handel oor hierdie onderwerp. In daardie stadium woon sy en haar twee kinders, Pierre en Marcelle, op Stellenbosch en werk sy in die biblioteek van die Universiteit van Stellenbosch se Kunsdepartement.

Ontruiming ontlok nie baie gunstige kommentaar van Phil du Plessis (Die Burger, 18 Desember 1986) nie. Hy het as volg daaroor geskryf: “Daar is ’n vlak van woordrykheid in die poësie wat my dikwels laat voel soos die man in die advertensie op TV wat in ’n glastenk staan wat vol water gepomp word. Hy word natuurlik op die laaste nippertjie gered, maar as resensent is mens nie altyd so gelukkig nie. Dieselfde soort byna-versuip, in oordaad van woord en beelding, wag vir die leser in Marlise Joubert se jongste bundel. Mens begin die eerste gedig (‘l’heure du guitariste’) lees, dink dan: Dis nie sleg nie, maar ’n bietjie lank vir wat sy nou eintlik te sê het. Dié tendens duur egter die hele bundel met haar gevoelens oor die geliefde, haarself en nog wat verweef in eindelose poëtiese taal. Daar is so ’n oorvloed woorde wat op soortgelyke wyse in beeldgroepe gebruik word, dat dit op die ou end, nadat jy die bundel weer deurgelees het, moeilik is om die verskillende verse as aparte entiteite te onthou. Die oorheersende tema van die bundel bly die gee en neem tussen man en vrou, met die gebruik van water as digterlike metafoor vir vroulikheid. (...) Die vloed wat die leser laat snak na asem is dié van opeenvolgende gedronge beelde en woorde. (...) Die vloei van hierdie poësie bring die leser nie tot vervoering nie, hy swem wild om daaruit te kom.”

In Die Suidwester is Ia van Zyl egter ’n ander mening oor Ontruiming toegedaan. Sy het as volg geskryf: “Ek is getref deur die egtheid van die emosie en deur die passende vorm waarin hierdie emosie gegiet is. In soms wyduitstromende verse word die allesoorweldigende verdriet van ’n jong vrou wat deur haar man verlaat is en wat wanhopig worstel om weer tot klaarheid te kom, hier verwoord.

“In die afdelings van die bundel waarin gedigte voorkom, is hierdie gedigte ongeborsrok, vry van te veel digterlike tug (wat in stryd sou wees met die intensie om rou emosie te vertolk) en word hulle verder gekenmerk deur frisheid van in die beeldspraak, ’n goeie sin vir klank en ritme en ’n sterk sintuiglikheid.

“Die prosagedeelte – gebaseer op Une saison en enfer van Rimbaud en hier getiteld ‘’n Seisoen by die shrink’ – maak paslik van die nog meer ontspanne prosavrom gebruik om die tydperk van haar diepste wanhoop, waartydens sy besoeke aan ’n psigiater bring, te vergestalt. Hierdie afdeling is veral aangrypend. (…)

“Dit is waarskynlik veral vroue wat hierdie bundel werklik na waarde sal kan skat en wat dit met een lees sal wil deurlees.”

Marlise se volgende prosawerk is Oranje Meraai, wat in 1996 by Tafelberg uitgegee is. Die hoofkarakter is Vera Rozendal en in die roman word sy op gereelde grondslag geteister deur herinneringe wat voor haar geheue afspeel – herinneringe aan haar studentejare, haar jeugherinneringe en van haar ouers en voorouers.

In Insig van Augustus 1996 is Hans Ester die resensent en vir hom het Oranje Meraai nie só beïndruk soos Marlise se eerste roman, Klipkus, nie. “Misschien is het onrechtvaardig om een nieuw werk te meten aan de norm die het vroegere werk voor jou als lezer vormt. Maar er zijn gedeelten in Oranje Meraai die de vreemde genotvolle pijn van Klipkus toch wel benaderden.

“Hopelijk schrijft Marlise Joubert nog een derde roman. Dat moet een roman over de rijkdom van die liefde zijn, tegen de tendens van deze tijd in om het totale leven te esthetiseren en er mummie van te maken.”

Helize van Vuuren (Die Burger, 10 Julie 1996) skryf as volg oor Oranje Meraai: “In Oranje Meraai gebruik Marlise Joubert weer briewe (soos in Klipkus) as stilistiese vorm: ou familie-briewe uit die Anglo-Boereoorlog is deel van haar hoofkarakter se soeke na haar wortels, briewe van Vera aan haar ouers uit haar studente-tyd as deel van ’n verkenning van haar vroeëre, jongere self, en ook tydgenootlike e-pos briewe tussen Vera en haar universiteitskollega en vriendin Anja.

“Die liriese inslag van Klipkus en ’n veelheid van intertekstuele verwysing en aanhalings vorm weer skering en inslag van die teks. Die groot verskil lê egter in die leefwêreld wat beskryf word: in Klipkus was dit die opwindende wêreld van die jong volwassene met Europa wat ‘agter die venster’ wag om ontdek te word, in Oranje Meraai is dit die klein-geworde huishoudelike wêreld van ’n alleenloper-vrou met drie kinders in ’n kleinerige Bolandse universiteitsdorp tussen die berge. (…)

“Vera se alledaagse bestaan draai om ’n sterk bewussyn van die seisoene, van geldgebrek, van die gemis aan ’n man, en om haar verhouding met haar kinders, veral haar probleemseun, Storm. Self-ironisering en ’n humoristiese inslag maak dat hierdie presiese beskrywings van die alleenvrou se klein, huishoudelike stryde besonder onderhoudend is.

“Hoewel Oranje Meraai die oënskynlik saai lewe van ’n middeljarige alleenvrou beskryf, is dit ’n onderhoudende roman, waarin tydgenote gejukstaponeer word met die lewens van haar vroulike voorgangers in die tyd. Die integrering van die raaisel oor verdwene familielede tydens die Anglo-Boereoorlog is egter nie heeltemal geslaag nie, en interesseer minder.

“Met ’n besonderse oor vir dialoog, en as fyn-humoristiese waarnemer van die alledaagse sleur, het Joubert beslis haar forté gevind in ’n andersins oninspirerende onderwerp.”

In 2001 trou Marlise met digter Louis Esterhuizen en breek daar ’n nuwe fase in haar skrywersloopbaan aan. Louis het as hoërskoolseun van Marlise bewus geword. Een van sy eerste drie bundels wat hy besit het, was haar Domus. Vir hom was dit ongelooflik sensuele verse, maar hy het nooit gedink hulle paadjies sou kruis nie. En toe trek Louis Kaap toe. “Ons het eers aanvanklik met korrespondensie begin,” vertel Marlise vir Murray la Vita (Die Burger, 20 November 2009). “Ek het die korrespondensie baie geniet. Toe ek hom ontmoet het, was dit óók aangenaam. Ons het net soveel gehad om vir mekaar te sê. Hy het net vir my gevoel soos ’n metgesel; soos iemand met wie jy so baie dinge kan deel.”

In 2001 verbreek Marlise ’n digterlike swye van bykans vyftien jaar met die publikasie van Lyfsange, haar vyfde – en vir Joan Hambidge haar beste – digbundel.

“Uitstaande kenmerke van haar vorige bundels is in Lyfsange terug te vind. Eerstens is daar ’n weelderigheid van segging in (hoofsaaklik) die minder gebonde vryeversvorm. Die rykdom aan beelding, wat dikwels sinesteties en surrealisties van aard is en plek-plek die poësie van Ingrid Jonker en Breyten Breytenbach eggo, is bepalend vir dié indruk.

“Tweedens geniet die intiem-persoonlike liefdesvers steeds die voorrang, maar hierdie keer in ’n oorrompelende erotiese gedaante. Lyfsange bevat van die mees sensuele gedigte oor die hetero-liefde in Afrikaans. ’n Mens is eintlik verbaas om te ontdek dat geen gedigte uit Joubert se vorige bundels in Die dye trek die dye aan (1998), Johann de Lange en Antjie Krog se poësiebloemlesing oor die lyflike liefde, opgeneem is nie. Dit is ’n goeie aanduiding van die ontwikkelingsprong wat Lyfsange in hierdie opsig in Joubert se digkuns verteenwoordig.

“Die woord- en beeldweelde staan, in die geheel gesien, funksioneel in diens van die tematiek, druk die sintuiglike en sensuele oorstelping uit waarmee die spreekster haar aan die liefdeskoestering oorgee.

“Die minnaars in die bundel, albei digters, bevind hulle in die middeljare van hulle lewens. In afdeling 1 is die verganklikheidsbesef en die angs om verydeling by die spreekster prominent, maar daar is ook ’n aanvoeling van ’n moontlike nuwe begin. Laasgenoemde neem in afdeling 2 die vorm aan van die ontluikende erotiese liefdesverhouding. ’n Fisiese verwydering tussen die minnaars gee aanleiding tot ’n aantal gemis-gedigte. In die slotafdeling is die liefdesvervulling egter volkome en ekstaties.

Lyfsange bevat ’n aantal gedigte wat gedeeltelik of in hulle geheel gaaf en treffend is. Die erotiese liefdesverse in die bundel is vir my Joubert se mees besonderse bydrae tot die Afrikaanse poësieskat tot op hierdie tydstip.”

Lyfsange moet saamgelees word met Louis Esterhuizen se Opslagsomer. In 2001 het Bernard Odendaal, tydens die Volksblad-kunstefees, daarop gewys dat dié twee “vatterige” bundels “intiem op mekaar ingestem is”.

Die verse in Lyfsange en Opslagsomer was nooit bedoel vir publikasie nie, het Esterhuizen gesê. Hy het aan Elize Parker in Sarie (19 September 2001) vertel dat dit geskryf was vir hulle eie plesier.

“Takelwerk”, ’n afdeling van Opslagsomer, bevat verse oor die aftakeling van egskeiding, verlies, eensaamheid. In ’n ander afdeling van Opslagsomer is ’n vertaling van die Engelse “Indian summer” wat dui op ’n paar onverwagse somersdae in die winter – die herontdek van liefde en vreugde. Die derde afdeling, “Ligte bedryf”, sit dié tema voort.

Marlise het gesê sy het nooit gedink sy sal weer poësie publiseer nie. Esterhuizen se minneverse aan haar het egter haar gedagtes gestimuleer om ook haar gevoelens in poësievorm te verwoord. “Daarom dat dieselfde beelde, soos heupviool, ook in my verse voorkom.”

In ’n stadium het albei gemeen die verse is waarskynlik ook vir ander toeganklik en hul manuskripte afsonderlik voorgelê. Die twee bundels is op dieselfde dag gepubliseer.

Met die aansporing van Louis skryf Marlise haar in 2001 in vir RSG se radiodrama-kompetisie. “Ek het vir Louis gesê ek het niks om te sê nie en ek kan in elk geval nie dialoog skryf nie. Maar hy het geneul en toe gehelp om die storie te beplan en daar wen ek toe die beginnerprys. Jy kon my met ’n grashalmpie omslaan. Eintlik het ek dit net vir die pret gedoen.”

Oor hierdie radiodrama, getiteld Nosferatu, die doodlose, het Margot Luyt gesê: “Wat ’n briljante debuut vir Marlise Joubert!” Volgens Luyt het Marlise ’n fyn sin vir die dramatiese, karakterskepping, en die ritme van die taal, en haar dialoog is uiters speelbaar. (Die Burger, 24 April 2002)

In 2002 word die derde prys in die kategorie vir gevestigde skrywers aan haar toegeken vir die hoorspel Die vierde wedren en in 2003 die tweede prys vir haar drama Die nag kom in in dieselfde kategorie. In 2006 word sy weer bekroon met die derde prys in die kategorie vir gevestigde skrywers met Die paspoort.

Op 2 Desember 2021 is haar radiodrama Onder die appelliefiebos onder regie van Joanie Combrink oor RSG uitgesaai.

Terwyl die radiodramas die een jaar ná die ander gekom het, het sy vyf jaar tevore al met haar volgende roman begin. Die idee het ontstaan uit haar leeswerk oor Auguste Rodin en Camille Claudel toe sy in die kunsbiblioteek gewerk het. Aanvanklik was dit ’n kortverhaal oor ’n beeldhouer en die vrou as model, vertel sy aan Marguerite Robinson (Rapport, 29 Februarie 2004). “Is sy net lyf? Watter soort mens is sy? Wat is haar identiteit?”

Die storie het aan haar bly krap, daar het nuwe stories bygekom, en die karakters het hul eie pad begin volg: “Toe ek hier by veertig blaaie trek, het ek geweet die kortverhaal het in ’n roman begin ontwikkel.”

Marlise meen dat ’n boek vir homself moet praat, dat elke mens ’n boek lees “met die somtotaal van sy eie ervarings en dit daarvolgens interpreteer”, en sy het ook ’n probleem daarmee om haar eie werk te ontleed en te verduidelik.

Maar oor Ateljee van glas, wat in 2004 by Protea Boekhuis verskyn het, het sy tog die volgende vir Marguerite Robinson verduidelik: “Die ‘ateljee’ van die titel verwys na ’n mens se eie ateljee, jou eie menswees, jou identiteit. Die ‘glas’ verwys na iets wat breekbaar is, maar ook gelouter is. Glas kom uit sand, dit is deursigtig, gee insig. Die karakters is skimfigure van Rodin en Camille, maar in my storie word die vrou al hoe sterker namate sy haar geheue herwin. Tematies gaan dit daarom dat die een nie die ander moet koloniseer nie. Dit plaas Westerse kuns teenoor Afrika-kuns, koloniseerder teenoor gekoloniseerde. Die model teenoor die beeldhouer, beeldhou teenoor drama. En die uiteindelike slotsom is dat jou verlede jou identiteit is.”

Ateljee van glas het die beeldhouer Ruben as hoofkarakter. Hy aanskou – deur die lens van ’n teleskoop – hoe sy vrou deur ’n fratsgolf op ’n skerp rots val. Sy lê hierna vir weke in ’n koma in die hospitaal. Hy neem haar terug na sy huis, “na sy ateljee van glas”, skryf Marina le Roux in Die Burger (8 Maart 2004).

Daar omskep hy haar in ’n nuwe mens, met ’n nuwe naam: Camille. “Maar belemmerde verledes, Ruben s’n sowel as dié van Camille, speel in op die hede en word in terugflitse gerekonstrueer. Terugreise wat in ’n koue stilte begin, eindig positief met ’n geheue van die son.

“Dít, kru afgeknot, is die verhaalgegewe van Joubert se derde roman,” skryf Marina le Roux (Die Burger, 8 Maart 2004). “Hoewel Ateljee van glas dikwels in gesprek tree met Lyfsange en Opslagsomer van Louis Esterhuizen, veral in die verwysings na en omdigtings van die werk van Yehuda Amichai, sou dit onregverdig wees om ’n gebreklike vergroeiing of ’n parasitiese ondermyning van tekste te suggereer.

“Daarvoor is Ateljee van glas te selfstandig, verrassend en eiesinnig. Dit is minder wydlopig en episodies as Oranje Meraai, kompakter, gedronge en spannend. Selfs die ontknopings van die verskillende verhaalstringe van Ruben, Benard die dramaturg, en Camille en haar kinders, verhinder nie ’n doelgerigte en volgehoue strewe na kohesie nie. Joubert het, enkele insinkings ter syde, haar karakters en stof ferm onder beheer. Soms, maar werklik net soms, word die intrige omfloers deur uitgesponne, kwasifilosofiese gesprekke en selfkoesterende interne monoloë.

“Joubert se gebruik van ’n verskeidenheid van intertekste is besonder interessant: van Amichai, Frida Kahlo en Bartho Smit tot by Roland Holst: ‘Laten wij zacht zijn voor elkander, kind ...’

“Aansluitend hierby is die alter ego’s van die karakters hoofsaaklik uit die leefwêreld van die Franse beeldhouer Auguste Rodin: Ruben – Rodin, Milla – Camille, Eva – Eve Fairfax. Intertekstualiteit en interreferensie word egter nooit ’n étalage vir die skrywer se erudisie nie. Dit is geïntegreer met die tema en maak ’n onafskeidelike deel uit van teksverdigting en -verryking. Agter die ateljee se mure van glas flikker ook ander tekste wat ontsyfer moet word. En om so ’n teks te lees, sê Terry Eagleton, ‘is like counting the beads on a necklace’ – ’n besonder gepaste vergelyking vir dié roman waarin so dikwels met ’n krale-motief gespeel word.

“In Ateljee van glas word deurlopend besin oor die aard en wese van kuns, veral in Ruben se dilemma van moraliteit teenoor amoraliteit, van etiek teenoor estetiek en erotiek. Daar word bespiegel oor presentasie en representasie, skepping en herskepping, oor die verhouding tussen kunstenaar en kunsskepping en telkens oor die magies-religieuse transformasies in kuns. (...)

Ateljee van glas het die onweerstaanbare allure van ’n deurskynende houer vol glinsterende krale. Dit is ’n roman vir die sinne, ingeklee in liriese, beeldryke taal, soms miskien selfs oorversier en oordadig. Die roman verenig die beeldhou-, skilder- en skryfkuns op ’n innoverende wyse en die meelewende leser word verwelkom in ’n ateljee van glas, ‘die glansateljee van melk en heuning’.

Vir Hennie van Coller (Volksblad, 16 Desember 2004) is die teks van Ateljee van glas ’n voorbeeld van ’n vroulike teks en al sou die storietjie dun wees, bevat die teks genoeg om te boei. “Joubert se beskrywings in die retrospektiewe gedeeltes is veral assosiatief, beeldend en poëties. Boonop is daar genoeg pragtige beeldryke passasies, sensitiewe beskrywings van wat byna beskrywe kan word as ‘die liefdesdaad’ en word heelwat van die omdigtings van die Hebreeuse digter Yehuda Amichai (wat Ruben vir Milla gee as huweliksgeskenk) in die teks opgeneem. Dikwels hoogstaande poësie wat ’n resonansie van die (Bybelse) Hooglied opvang.”

Met passies en passasies, Marlise se volgende digbundel, wat in 2007 gepubliseer is, kry die leser te make met ’n sterk vroulike stem, “’n stem van rypheid en insig, ’n stem wat kan praat in direkte sterk terme, wat probleme en ellende kan oopdek, maar wat ook deernis en liefde verwoord,” skryf Heilna du Plooy in Beeld van 2 Junie 2008.

“Die digter put uit ’n groot verskeidenheid bronne en gebruik verskillende style om hierdie omvattende blik op die lewenswerklikheid van ’n vrou en van vroue in haar verse tot uiting te laat kom.

“In die afdeling getiteld ‘passies’ gaan dit om verskillende mansfigure in die digter se verlede en hede. Joubert het reeds in vorige bundels haar vermoë getoon om die subtiliteite van erotiese spanning te verwoord, en in hierdie afdeling doen sy dit weer met aangrypende liefdesverse, soms speels, soms bloed-ernstig, maar deurgaans oortuigend.

“As ’n mens hierdie bundel in sy geheel in een sitting deurlees, kan die woordrykheid en die intense metaforiek ’n bietjie swaar word, maar as elke gedig uit eie reg en binne sy afdeling beskou word, is dit goeie en vindingryke verse. Tematies sowel as tegnies is daar variasie in die eksperimente met versvorme en strukture, en ritmies en klankmatig is die verse goed afgerond. Hierdie bundel is ’n toevoeging van gehalte tot Joubert se oeuvre.”

Marius Crous skryf in Rapport van 17 November 2007: “Die leser moet self die aroma van die woorde van passies en passasies inadem, want ’n resensie kan nie al die kleure en geure vrystel nie. Dit is ’n bundel wat jy met al jou sintuie wil lees, waardeer en herlees. Marlise Joubert en Protea het vir ’n uitsonderlike bundel gesorg.”

Oor Marlise se volgende bundel, Splintervlerk, wat in 2011 verskyn het, skryf Zandra Bezuidenhout op Versindaba: “Hier is ’n digbundel wat groot byval onder die algemene leserspubliek behoort te vind en selfs kritikasters onder die kennebak mag kielie. Diegene wat hul vooroordele en voorbehoude oor die poësie vir die duur opskort, sal ontroer word deur die gevoeligheid en veral die teerheid van Marlise Joubert se nuwe versameling.

“Sedert haar debuut met ’n Boot in die woestyn (1970) geniet Joubert bekendheid as digter en prosaïs, en meer onlangs ook as ’n skrywer van radiodramas waarvoor sy etlike kere bekroon is. Daarby is sy ook ’n skilder, wat die sterk visuele inslag en die tematiese ontginning van dié medium in haar digkuns verklaar. Haar poësie kan tydsgewys in vier vroeëre (voor 2000) en drie latere bundels ingedeel word, met Splintervlerk (2011) as haar sewende publikasie in dié genre. Haar jongste verse skep egter nie die indruk dat ’n ‘ouer’ stem aan die woord is nie, en ook jonger lesers sal genot put uit die wyse waarop die spreker haar met groot intensiteit in- én uitleef in die lewe en die liefde. Soos voorheen konsentreer sy op die intiem persoonlike ervaring van die liggaam en die natuur, asook op bepaalde plekke, van Cambridge tot Stilbaai, wat in fyn besonderhede beskryf word.”

Tom Gouws is ook baie positief oor Splintervlerk (Volksblad, 18 November 2011): “Marlise Joubert se sewende digbundel is ’n uitstalvenster van ’n beleë digterskap. Met die verloop van baie jare het sy haar eiesoortige vroulike stem in Afrikaans laat hoor, en met hierdie nuwe bundel bereik sy in haar oeuvre vir seker ’n bepaalde hoogtepunt.

“Met bepaald een van die heel mooiste voorblaaie tot nog toe word die skildery van Joubert die kodeslot van die bundel. Hierin word lyflikheid, naaktheid (= weerloosheid), beweging en vryheid naas mekaar gestel binne die sentrale bundelmetafoor van ‘lumbale mikrodiskektomie’, die mediese prosedure waarin die ‘vier ontsteekte vlerkies’ van die laerugwerwels gedeeltelik verwyder word.”

Vir Marlies Taljard (Rapport, 1 Julie 2011) is Splintervlerk een van daardie boeke wat net té mooi is om in ’n boekrak weg te steek. “Dié versbundel tref die oog met ’n kleurvolle omslag en sorgsame afwerking – voorwaar ’n prestasie waarop Protea Boekhuis trots kan wees.

“Die voorblad met ’n skildery deur Joubert trek die leser ín die volryp, meesleurende verse wat haar digterskap kenmerk ín. 

“’n Hele lewensverhaal kry sy lê onder die meerduidige titel Splintervlerk, wat primêr verbind word met ’n rugoperasie ‘waar die splinters vlerk verwyder is’, maar wat ook in verskeie ander betekenisonderskeidinge in die bundel opduik, soos die voorblad verraai. 

“Byna elke gedig is deurtrek met verwysings na beweeglikheid wat aan bande gelê word – die vlerk wat versplinter – en die verlies van sekerhede.

“Pyn, siekte en ontnugtering is temas wat die bundel in sy geheel onderlê. Daar is ’n sterk narratiewe lyn wat die gedigte saambind tot ’n soort universele verhaal van verwonding, verskrikking en stadige herstel. Dié narratief word ondersteun deur Joubert se sprekende illustrasies by elke afdeling.”

Marlise waag ook haar hand aan die vertaling van kinderboeke, en vyf vertalings verskyn in die tagtiger- en negentigerjare. Ander belangstellings is skaak, musiek en skilderkuns. Sy was ook in die 1990’s deel van die Bekgevegte wat in Pretoria en op kunstefeeste aangebied is. Volgens Louis was sy onontbeerlik deel van die Bekgevegte, omdat sy die stem van die vrou met groot onderskeiding verwoord het.

Marlise en Louis bly op Stellenbosch, waar sy vir vier jaar vir Protea Boekwinkel gewerk het. Sy het in 2007 afgetree en skryf en skilder nou voltyds. Sy was baie nou gemoeid met die jaarlikse Versindaba wat op Stellenbosch plaasvind en was die samesteller van die bundels wat tydens die poësiebyeenkoms gepubliseer word. Tydens 2010 se Versindaba is Marlise en Louis vereer met medaljes vir hul jare lange onbaatsugtige werk vir Versindaba.

Marlise meen self dat sy baie visueel skryf (aan Murray la Vita) – “liries-visueel, en dit is seker as gevolg daarvan dat ek dit geniet om ook met my hande te werk, ook te skilder, ook iets skeppend te doen. Dit was nog al die jare ’n belangstelling, maar ek het nog nooit kans gehad om die skilder-aspek uit te leef nie.

“Ek is mal oor waterverf. Dit is vir my ’n verskriklik poëtiese medium, want waterverf is vervlietend. Jy moet vinnig werk om ’n moment vas te vang voordat daardie verf droog raak, want as hy eers droog is, kan jy niks verander nie ... met moeite sal jy miskien hier en daar iets kan verander. Verkieslik verander jy dan niks nie.

“En dit het vir my só aangesluit by my eie manier van skryf, jy weet,” sê sy vir Murray la Vita. “Ek skryf baie intuïtief en op impuls, kan jy maar sê. Ek kan nie besluit: oe, vandag wil ek nou ’n gedig skryf oor die bergbobbejaan nie. Dit werk nie vir my so nie. Ek put uit wat nou vir my emosioneel geraak het of wat in my wêreld gebeur het of waarmee my kop nou besig is op daardie stadium. En dan kom die impuls skielik. Daai eerste reëls kom en dan weet ek nou moet ek dit neerskryf. En dan werk ek baie vinnig daaraan en lê hom neer net soos ek waterverf neerlê.”

Sy en Louis stem saam dat poësie teenoor prosa staan soos wat akwarel teenoor olieverf staan. “En ek hou ook van die spanning net voordat jy begin. Jy bou jou half op daartoe. ... [Met] olieverf kan jy ’n bietjie verf en besluit jy hou nie daarvan nie en dit oordoen. Jy kan ook in enige luim wees as ’t ware. Maar met waterverf het jy nou jou spesifieke idee wat jy wil doen, en dan raak jy half gespanne daaroor omdat jy dit reg wil doen. Die eerste waterverfkwashaal is soos die eerste reël van ’n gedig.”

In 2008 is ’n uitstalling van Marlise se waterverfskilderye in die Breytenbach Sentrum op Wellington gehou met die titel Wat die water onthou. Dit is ook die titel van Louis se digbundel wat in 2010 by Protea Boekhuis verskyn het. Vir haar uitstalling het sy van Louis se gedigte geskilder en andersom.

“Daar is ’n hele klomp pragtige waterverf-verse in die bundel wat vir my wys hy het hom so ingeleef in hierdie kunsvorm wat ek nou ontdek het. Dan práát ek daaroor en vertél vir hom, en as ek weer sien dan het hy ’n gedig gemaak daarvan,” vertel Marlise aan La Vita.

In 2015 is Marlise saam met Tom Gouws, Francis Galloway, Neels Jackson en Magdaleen Kruger vereer met Cordis Trust se Orde van die Goue Pen.

In dieselfde jaar, die jaar waarin sy 70 word, verskyn Marlise se volgende digbundel, bladspieël, by Human & Rousseau.

Gisela Ullyatt het op Versindaba (19 Mei 2015) ’n onderhoud met Marlise gevoer en wou meer weet oor die watermotief wat op ’n deurlopende grondslag in bladspieël voorkom. Sy wou ook weet of water vir haar ’n besondere simboliek het.

Marlise se antwoord was as volg: “Water het beslis ’n geweldige betekenis vir my en dit sal seker altyd as ’n simbool figureer in my skryf- en skilderwerk. Water het sekerlik ’n groot betekenis in ander digters se werk ook. Ek het grootgeword in die Waterberge. Net die naam ‘waterberge’ alleen sou ’n permanente afdruk gelaat het in my geheue. Die plek (Bela Bela/Warmbad) waar ek grootgeword het, is bekend vir sy warmwaterbronne en as kind was dit ’n sentrale deel van my wêreld, so ook die omgewing met talle watervalle, damme en riviertjies. En ja, skoolvakansies ook, wat altyd by die see was, of ’n rivier, of ander plekke met warmwaterswembaddens. Water is ’n bron van leef en koestering, ’n noodsaaklikheid. Soos asemhaling. Ek wens mens kon op water skryf! Maar ten minste kan ek skilder daarmee…”

Tom Gouws (Die Burger, 8 Augustus 2015) was weer baie beïndruk met die agtste bundel van Joubert. Hy het as volg geskryf: “Met die dood van TT Cloete op ’n rype 91 in hierdie tyd wil ’n mens kwalik Joubert se bundel op 70 kategoriseer as ‘laatwerk’, maar tog staan die teks onteenseglik in die tematiese gety van dié twyfelagtige taksering.

“Die bundel sou gehaak kon word aan hierdie twee versreëls in die hart van die bundel: ‘om hoopvol aan te hou leef / verby die einde van ’n lewensloop’. Die digter soek haar hele oeuvre immer na ’n veilige aanlandplek, soos drie vorige bundeltitels suggereer: So ver en verder, Domus en Ontruiming. Dié deiktiese soeke van die verganklike mens is ’n dwingende poging ‘om miskien te transendeer na ewige substansie toe / sonder eindigheid’.

“Hierdie omvangryke agtste bundel van Joubert bied ’n poëtiese verslag van verinnerliking. (…) Die innerlike struktuur van die gedig word ’n ryk herinneringstranskripsie van die dimensies van die geleefde wêreld.

“Die vindingryke bundeltitel is ’n stemvurk van dié proses. ’n Bladspieël is die bedrukte vlak op die bladsy van ’n boek, maar hier word dit metafories verruim om die proses van transponering van buiteruimte na binneruimte te vergestalt. Die belewenis (ook van die onderbewuste) word die bladspieël in die omtreklose wieg van teks. (…) Maar moenie dink dat hierdie verse moeisaam dra aan sulke swaartillende filosofiese en literêr-teoretiese ballas nie. Bepaald nie!

“Die poësie is oënskynlik eenvoudig, maar bepaald helder soos diep water, gestroop en toeganklik, heerlik liries, met ’n meesterlike vermoë tot metaforisering, dié hartklop van die ware digkuns. Dit is suiwer, onpretensieuse poësie wat die leser meesleur, dikwels mesmeraais, jou die fynskrif van die katalogus van die skeppende verbeelding wíl laat lees.”

En dan sluit Gouws af: “Met hierdie uitsonderlike digbundel bied Marlise Joubert aan die Afrikaanse letterkunde ’n kosbare en ryk onthoubare skat wat met die verloop van baie, baie jare sal meespreek met die beste liriese digters in Afrikaans.”

Philip John was die resensent op LitNet (21 Augustus 2015): “Die poësie in bladspieël is primêr stemmingspoësie, gebou om gedagtegange en beelde, terwyl konvensionele versmiddels soos ritme, rym en versbou tot die minimum beperk word. Die sentrale rol wat deur die visuele gespeel word, word beklemtoon deur die titel met sy oënskynlik teenstrydige betekenisse; enersyds kan ‘bladspieël’ verwys na die gedigte as weerspieëlings van die digter se bestaan, ’n betekenis wat andersyds weerspreek word deur die letterlike betekenis van ‘bladspieël’ soos dit in die tipografie gebruik word. (…)

bladspieël bevat uiters toeganklike, maar tog treffende poësie,” is John se gevolgtrekking, “waarvan die trefkrag net toeneem met elke herlees.”

Weer verloop daar vier jaar voordat Marlise Joubert se volgende digbundel, grondwater, gepubliseer word – hierdie maal by Protea Boekhuis.

In ’n onderhoud met Remona Voges op LitNet (9 Julie 2019) vertel Marlise meer oor die omslag van grondwater: “Ek het toevallig in my soektog na ’n geskikte omslag op hierdie kunstenaar se werk afgekom. Dit nadat ek heelwat ander voorstelle van die uitgewer oorweeg het. Dit was juis die reeks intiem-aardse landskappe wat my aangegryp het en wat toe perfek by die temas van die bundel sou pas. Veral die krapmerke in die verf is vir my besonder evokatief omrede dit verwonding oproep, asof dit nagelate merke is wat ’n lewensloop simboliseer. Ook is die suggestie van grondwater in die skildery teenwoordig.”

Die titel van die bundel, grondwater, is baie ryk aan simboliek en hieroor verduidelik Marlise aan Voges dat die aarde deur grond verteenwoordig word en dat dit die stof is waaruit alles kom: “Dit bevat elemente van vrugbaarheid, en groei. Dis ook ’n vroulike argetipe. Water daarenteen is vloeibaar en dien daarom as ’n simbool van veranderlikheid en lewe. Grondwater is meestal soos ’n mens se lewenservarings onder die oppervlak teenwoordig, maar soms word dit bogronds sigbaar as syferwater in ons daaglikse handel en wandel. ’n Mens kan nie aan jou persoonlike geskiedenis ontkom nie – soos die grondtafel wat die oppervlak breek en ’n fontein tot stand bring, vorm en definieer dit ons as individu. Anders gestel: die gedig is die fontein wat deur die onderliggende grondwater tot stand gebring word.”

In Beeld van 29 April 2019 skryf Marius Crous dat die titel verwys na die water wat net onder die oppervlakte van die aarde opgegaar lê: “Die skaars en diep water. In ‘berig en klip’ sluit die spreker hierby aan en praat van ‘genealogiese grondwater’ om die diep familieverbintenisse te beskryf. Dit is ter sake, want in hierdie bundel staan die gestorwe moeder sentraal. Ook die ander familiefigure word betrek en daar is ’n versugtende herbesoek aan die huis van haar kinderjare. Die skakeling met die ma word reeds geaktiveer met die foto voorin, asook die ‘in memoriam: didi joubert’. Ook die drie motto’s berei die leser voor dat dit onder meer handel oor ’n leeftyd vergaar soos water; asook dat ’n dogter sonder haar moeder ’n gebroke vrou is. (…)

“Saam met die afskeid neem van die moeder, is daar in hierdie bundel ook ’n tipe berustende terugblik op die lewe, ’n bestekopname van lewenservarings as kind, jong meisie, werkende vrou en later ma en ouma. Hiermee saam word ook die ouerwordende liggaam met sy kwale belig. (…)

“’n Kunsteoretiese kode loop soos ’n wateraar deur die bundel. Opvallend hoe dikwels daar na woord en woorde verwys word. Daar word ook ingespeel op Joubert se onderskeie bundel- en romantitels wanneer sy in ’n gedig ’n bestekopname van haar lewe maak. (…)

“Ook die alledaagse aktualiteit vind neerslag in verskeie gedigte. Vir die digter is Suid-Afrika nie meer ’n land vir kinders nie, want selfs by die sogenaamde freedom-kinders is daar ’n ontnugtering. (…)

“Teenoor hierdie elegiese ondertoon is daar heelwat verse wat handel oor vreugdes – soos haar kleinkinders, haar liefde vir die woord en skilder en interaksie met geliefdes. (…)

grondwater is ’n bundel van die stropingsproses. Dit is byvoorbeeld nie so swoel en wydlopend soos passies en passasies nie, maar dis ’n besonderse toevoeging tot Marlise Joubert se oeuvre.”

Joan Hambidge sluit haar bespreking van grondwater só af: “’n Mens kry in hierdie bundel verskillende argetipes van vrouwees, soos Pinkola Estés uitwys. Hier is die sterkste een waarskynlik die moeder-argetipe, wat in die kringloop omgedraai word: eers kind van ’n moeder; dan sélf ’n moeder. Veral lesers wat ’n moeder aan die dood moes afstaan, sal sterk met hierdie bundel identifiseer.”

Marlise se tiende digbundel getiteld Disteltyd word in 2021 uitgegee en op Facebook skryf sy dat dit haar laaste gaan wees, “want tien is tog genoeg”. Volgens die uitgewers neem sy haar lewe en die proses van oudword in hierdie bundel in oënskou. “Sy besin oor haar familie, haar kinderjare die inperking weens Covid-19, beurtkrag en geweld. Dit lewer ’n belangrike bydrae tot die groeiende korpus van laatwerke – dit is gedigte wat meestal ontroer danksy die menslikheid en humor wat daarin verwoord word, maar terselfdertyd ook die leser konfronteer met die maatskaplike onregte van ons tyd.”

Oor Disteltyd skryf Johan Myburg op Netwerk24 (20 Junie 2021) as volg: “In die voorbereiding op die onvermydelike dood is die groot kuns om bietjie vir bietjie deur alles te sien. Mettertyd. Om bietjie vir bietjie te laat gaan. Om terug te hou, Om pas te hou. Want dis teltyd. Disteltyd is ’n bundel waarin Marlise Joubert dié kuns skitterend beoefen, ’n bundel waarin sy met wysheid rekening hou met tyd, tyd registreer en tyd uitkoop. (…)

“Die sekuur en sterk stem wat Joubert in die letterkunde geword het in tien bundels, sedert haar debuut in 1970 met ’n Boot in die woestyn, klink in dié jongste bundel allermins ‘klepelklein’ (‘stem’). Dit is juis haar woordgebruik wat sulke duidelike visuele beelde oproep, haar aanvoeling vir ’n gedrae metrum en hier en daar fyn gekose rym wat hierdie verse kenmerk.

“Haar tegniese vaardigheid blyk so heerlik in ‘pergola, rustenburg’, waarin die gedig die raamwerk word waaroor en waardeur woordrose rank. Selfs in dié gedig met sy malse sintuiglikheid stroop Joubert haar werk van oordaad. Dalk juis omdat die oog in donker tye begin sién, soos sy Theodore Roethke as motto voor in die bundel aanhaal.”

Marius Crous sluit sy bespreking in Rapport (9 Mei 2021) af: “Hierdie bundel maak dalk deel uit van Joubert se laatwerk, maar ek twyfel of dit haar laaste werk sal wees soos sy op Facebook gesuggereer het. Soos Stefan van Zyl tereg aandui in sy resensie op Versindaba, skakel die woord disteltyd ook met distilleer. Ek meen tog Joubert gaan nog heelwat verse distilleer uit haar ervarings van die staat van afsondering waarin sy leef.”

Oor haar toekomsplanne en of daar nog bundels in die vooruitsig is, sê Marlise aan Remona Voges op LitNet dat sy ná die publikasie van grondwater nie geskryf het nie: “Tans skryf ek nie. Dis asof hierdie bundel ’n ‘sluitstuk’ vorm. As ek niks verder publiseer nie, sal dit my nie ontstel nie. Gedigte gebeur natuurlik nog in my kop, maar ek skryf dit nie neer nie. Miskien is dit ’n soort onwilligheid, teësin of selfs depressie – miskien weet ek nie hoe om die barbaarse en angswekkende gebeure in ons land te verteer of af te werp nie. Ek weet nie. Met verwondering en verbeelding bou jy soos ’n kind vir jou ’n dorpie in die sand, ’n dorpie met die beste paaie, huise en winkels. Jy kan maar net hoop dat lesers ook jou woorddorpie sal besoek, voordat die tyd dit verkrummel. Miskien moet ek ’n ander dorpie bou, met skilder? Weer die verfkwas opneem – ek wag nog net vir die regte oomblik daarvoor! Die tyd sal leer.”

Publikasies

Publikasie

’n Boot in die woestyn

Publikasiedatum

1970

ISBN

(hb)

Uitgewer

Johannesburg: Afrikaanse Pers-Boekhandel

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Domus

Publikasiedatum

1973

ISBN

0624004252 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

So ver en verder

Publikasiedatum

1976

ISBN

0628009720 (hb)

Uitgewer

Johannesburg: Perskor

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Klipkus

Publikasiedatum

1978

ISBN

0624011925 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Novelle

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

1981 Nederlands vertaal deur Ena Jansen as Rode Granaat (Amsterdam: Anthos, 1979)

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Ontruiming

Publikasiedatum

1986

ISBN

0798621915 (hb)

Uitgewer

Pretoria: HAUM-Literêr

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Oranje Meraai

Publikasiedatum

1996

ISBN

0624034607 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Lyfsange

Publikasiedatum

2001

ISBN

1919825304 (sb)

Uitgewer

Pretoria: Protea Boekhuis

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Ateljee van glas

Publikasiedatum

2003

ISBN

1869190491 (sb)

Uitgewer

Pretoria: Protea Boekhuis

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

passies en passasies

Publikasiedatum

2007

ISBN

9781869191665 (sb)

Uitgewer

Pretoria: Protea Boekhuis

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Splintervlerk

Publikasiedatum

2011

ISBN

9781869194727 (sb)

Uitgewer

Pretoria: Protea Boekhuis

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

bladspieël

Publikasiedatum

2015

ISBN

9780798169547 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Finalis vir ATKV-Woordveertjie vir poësie (2016)

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

grondwater

Publikasiedatum

2019

ISBN

9781485310204 (sb)

Uitgewer

Pretoria: Protea Boekhuis

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

  • Wenner ATKV-Woordveertjie vir poësie (2020)
  • Mede-wenner SALA-poësieprys vir Afrikaanse digbundel (2020)

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Disteltyd

Publikasiedatum

2021

ISBN

9781485312598 (sb)

Uitgewer

Pretoria: Protea Boekhuis

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Vertalings deur Marlise Joubert

  • Hemp, Marje (red): My eerste woordeboek: 1 000 woorde vir Suid-Afrikaanse seuns en dogters. Kaapstad: Struik-Timmins, 1987, 1991, 1993 [ISBN 0869774751; 0869785826 (hb)]
  • Owen, Phyllis: Hongerspieël. Pretoria: Daan Retief, 1988 [ISBN 0795916329 (hb)]
  • Lamb, Charles en Mary: Verhale uit die skatkis van Shakespeare. Pretoria: Daan Retief, 1990 [ISBN 0795919026 (hb)]

Marlise Joubert as samesteller en redakteur

Biografiese artikels oor Marlise Joubert beskikbaar op die internet

’n Keur van artikels deur Marlise Joubert op die internet

Marlise Joubert se ATKV|LitNet-Skrywersalbum is oorspronklik op 2013-04-24 gepubliseer en is nou volledig bygewerk.

Bron:

  • Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

Die opsteller vra om verskoning dat van die skakels nie tans kan oopmaak nie, maar Media24 se koerantargief is op die oomblik nie toeganklik nie. 

 

• Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top