kom jy kuier, kind
met die bromvoël uit anderland
kom jy werklik kuier
om bergblou hiér te lande te raak
vir enkele spatsels bolandson
julle kom nie meer kuier nie
alles word gekanselleer
julle mag nie elders nesgooi
as virusryke swerfvoëls
uit die ontsteekte nie
kyk, beskimmeld bewe my hande
my rugstring stram nog regop
en ek verskiet in witter sand
alle rigtings in
verlange is ’n wond
soos ’n dubbelgevlerkte vlam
binnewaarts, altyd binnewaarts
ek skakel die ketel aan –
ek sal wag en droom tot later dan
om wel nog ’n volgende keer
ons verbondenheid
nader, al hoe nader
bergblou te bêre
in ’n enkele spatsel son



Kommentaar
It is so sad to hear your tears as only you can describe. This loneliness will also pass and you will once again hold them close to your heart. Go well peaceful soul.
Ek sal my kommentaar reduseer tot: bittermooi. Dankie Marlise.
Hoe pragtig verwoord jy die verlange, Marlise!