Grondwater: ’n onderhoud met Marlise Joubert

  • 0

Foto: verskaf

Marlise Joubert se bundel Grondwater is op die rak. Remona Voges het met haar gesels.

Sluit hierdie bundel tematies by jou vorige bundels aan en indien wel: tot hoe ʼn mate?

In ʼn mate sluit dit seker tematies by vorige bundels aan, hoewel hierdie een waarskynlik ook as “laatwerk” beskou kan word, aangesien hierdie verse in hoofsaak oor my moeder se onlangse afsterwe en gepaardgaande afskeid handel; ook oor die veroudering, aftakeling en bestekopname van ’n lewe. Die verse handel meestal oor herinneringe, sowel jeugjare as afgestorwenes. Daar is ook gedigte oor die proses van gedigmaak, tyd, kleinkinders, siekte, sosiopolitiese gebeure, met ʼn bepaalde fokus op die helende, bykans terapeutiese waarde wat dit by wyse van troos het om te bied.

Die omslag van die bundel is ʼn afdruk van Elizabeth Miller-Vermeulen se kunswerk uit die “Distant Landscape”-reeks. Wat het tot dié keuse gelei?

Ek het toevallig in my soektog na ʼn geskikte omslag op hierdie kunstenaar se werk afgekom. Dit nadat ek heelwat ander voorstelle van die uitgewer oorweeg het. Dit was juis die reeks intiem-aardse landskappe wat my aangegryp het en wat toe perfek by die temas van die bundel sou pas. Veral die krapmerke in die verf is vir my besonder evokatief omrede dit verwonding oproep, asof dit nagelate merke is wat ʼn lewensloop simboliseer. Ook is die suggestie van grondwater in die skildery teenwoordig.

Die titel hou ryk simboliese waarde in. Kan jy uitbrei hierop?

Grond verteenwoordig die aarde – die stof waaruit alles kom. Dit bevat elemente van vrugbaarheid, en groei. Dis ook ʼn vroulike argetipe. Water daarenteen is vloeibaar en dien daarom as ʼn simbool van veranderlikheid en lewe. Grondwater is meestal soos ʼn mens se lewenservarings onder die oppervlak teenwoordig, maar soms word dit bogronds sigbaar as syferwater in ons daaglikse handel en wandel. ʼn Mens kan nie aan jou persoonlike geskiedenis ontkom nie – soos die grondtafel wat die oppervlak breek en ʼn fontein tot stand bring, vorm en definieer dit ons as individu. Anders gestel: die gedig is die fontein wat deur die onderliggende grondwater tot stand gebring word.

Die spreker onthou haar ma in baie van die gedigte. Kan jy ons ʼn bietjie meer oor die tema van die verlies van die moeder, en die kind wat uiteindelik self ʼn moeder word, vertel?

Daar is een hele afdeling waarin ek my ervarings en meelewing verwoord oor my ma se demensie, haar agteruitgang en noodwendige afsterwe. Verlies, soos die dood, is deel van elke mens se lewe en die verwerking van die geleidelike aftakeling, kommunikasiegapings en afsterwe van ʼn geliefde is traumaties en kan soms lank neem om te genees, indien ooit. Die digkuns was dus my toeverlaat tydens hierdie helingsproses. Ek is self ʼn ma, en ʼn ouma: ʼn kringloop wat voltooi word omdat die kind in jou nog altyd aanwesig is – ek voer nou nog soms stilgesprekke met my ma, al is sy nie meer hier nie.

Die motief van ʼn raam kom regdeur die bundel na vore. Waarom juis dié motief?

Ek is nie seker nie, maar ʼn raam begrens en daarom is dit miskien ʼn algemene lewensloop (water) wat hier in onderskeidende rame (grond) gestalte vind? Om lewensprosesse te verreken of begrens. Die raam sal dus dien as ordeningsbeginsel vir die outobiografiese gegewe, gebeure of onthoue wat afgehandel is, maar steeds na gekyk kan word en sodoende in verhouding of verwysing geplaas kan word met die hede, of selfs die toekoms wat nog nie sigbaar is nie. Ek het ook meer geëksperimenteer met verskillende digvorms, oftewel ‘rame’, in hierdie bundel. In die laaste afdeling word heelwat jeugbelewenisse in oënskou geneem, en ook binne bestek van ʼn wyer lewensraam geplaas. Terloops, ek voeg graag hierby ʼn skakel na ʼn foto-vers wat ek (as amateur!) gemaak het van ʼn gedig in die laaste afdeling. Die titel daarvan is “jeughuis, mentzlaan 4”: https://www.youtube.com/watch?v=pYViP3hJGCs 

Die bundel is oor die algemeen terugskouend en is al deur sommige resensente as ʼn laatwerk geklassifiseer. Is daar nog bundels in die vooruitsig? Waarmee hou jy jouself op die oomblik besig?

Tans skryf ek nie. Dis asof hierdie bundel ʼn ‘sluitstuk’ vorm. As ek niks verder publiseer nie, sal dit my nie ontstel nie. Gedigte gebeur natuurlik nog in my kop, maar ek skryf dit nie neer nie. Miskien is dit ʼn soort onwilligheid, teësin of selfs depressie – miskien weet ek nie hoe om die barbaarse en angswekkende gebeure in ons land te verteer of af te werp nie. Ek weet nie. Met verwondering en verbeelding bou jy soos ʼn kind vir jou ʼn dorpie in die sand, ʼn dorpie met die beste paaie, huise en winkels. Jy kan maar net hoop dat lesers ook jou woorddorpie sal besoek, voordat die tyd dit verkrummel. Miskien moet ek ʼn ander dorpie bou, met skilder? Weer die verfkwas opneem – ek wag nog net vir die regte oomblik daarvoor! Die tyd sal leer.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top