Katgedigte en ’n glasie sjerrie om die winterkoue te verdryf

  • 0

Dié van ons wat katkinders het én poësie lees, is dadelik die ene obsessiewe aandag as ons op ’n katgedig afkom. Ons sit by en met daardie gedig kompleet asof dit ons eie skootkatjie is. Saam met ’n glasie sjerrie is dit ’n baie gawe kombinasie om die winterkoue te verdryf. Is ons gepla oor akademici of resensente wat meen katgedigte is sentimenteel? Ons is min gepla. Katmense hóú van sentimenteel. Die eerste katgedig waaroor ek geswymel het, was Lina Spies se gedig “Hemel”. Enige katmens sou die volgende reëls uit die eerste strofe wou gebruik vir ’n meme:

My kat is geel soos ’n papawer
met oë nes botterblommetjies
en ’n voetstap ligter
as ’n sonstreep oor die water.

’n Ander katgedig wat ’n paar jaar gelede op my skoot kom lê het, is “in memoriam: Strooi” deur Marlise Joubert. As jy al ooit ’n katjie moes laat uitsit, is dié gedig ’n traan-in-die-oog- en knop-in-die-keel-leeservaring. Jy word gekonfronteer met die onverdunde realisme van waarde, weerloosheid en verlies:

dat ook hy, ja tog,
soos ’n mens van waarde was
’n keelronde warmte kon gee
met kromgeskuur teen jou kuit
weerloos in sy dierlikheid
en onvoorwaardelik elke dag
veertien jaar lank
getrou op ons tuiskoms kon wag.

Dan is daar my nuutste bondel woordvreugde: Danie Marais se gedig “Levinia kat”. Levinia maak haar opwagting in Marais se tweede digbundel, Al is die maan ’n misverstand in 2009.

In die eerste strofe word ons voorgestel aan ’n baie passiewe kat. Sy stel nie juis belang in nuusgebeure en om ingelig te wees nie. Sy kyk nie TV nie en kan dus ook nie saampraat oor populêre programme of tendense nie. Boonop is sy nie aktief wanneer dit kom by huistake en bydraes in die huis nie.

Strofe twee borduur voort op hierdie beeld van Levinia. Sy skeep haar familie en vriende af en is nie geïnteresseerd in die aktuele sake van die dag nie. Ten spyte hiervan bly sy die spreker se “gunsteling- outistiese kind”.

Levinia se slaapgewoontes word vergelyk met dié van ’n ballerina, akrobaat en sweefstokarties. Sy strek haar uit, krul haar op en spring. Haar bewegings is soepel en sy het fisieke vaardighede wat verras en vermaak. Let op die veerkragtige vonds “sweefsprong-arties”. Die kunsvorme waarmee sy vergelyk word, vereis hoë vlakke van dissipline en toewyding. Háár bewegings is egter sonder enige inspanning. Opvallend is die assonansie van die oo-klanke in strofe 4. Hiermee word gesuggereer dat dié kat gemaklik is in haar eie pels. Sy is eg en onpretensieus.

Wanneer die spreker Levinia se magie streel, regresseer sy na ’n tyd toe sy haar ma se tepels geknie het. Sy gaan in ’n beswyming en is dan “ondeurbringbaar”. Voel sy afgeskeep, swaai sy haar stert en verwyt die spreker in die woorde van Bruce Springsteen se liedjie “Human touch”. In strofe 7 verander haar verwyt ewe maklik na vergifnis. Dié keer spin sy op die klassieke klanke van Mozart se “Eine kleine Nachtmusik”. So lank en so diep lê Levinia op die bed en slaap dat die spreker hom verbeel dat sy haar eie “pelsdroomeiers” uitbroei.

Reeds in die verwysings na musiek begin dit duidelik word dat dit die spréker se musieksmaak is wat aan Levinia afgee. Die gebruik van die verlede tyd (“was”) en die onverwagse fokus op “ek” in strofe 8 bring ’n verrassende wending. Die spreker sien geen beduidende verskille meer tussen hom, Levinia, gedigte, wuiwende bome en ’n wolk nie. Al dié entiteite smelt saam, vorm ’n organiese geheel. In die slotstrofe erken die spreker dat hy self iemand se troeteldier geword het. Dit plaas die hele gedig in ’n nuwe lig. Met die tweede lees word alles duidelik. Net soos Levinia is die spreker passief, nie danig geïnteresseerd in populêre kultuur nie en verlang hy ook na menslike aanraking. En natuurlik, die spreker broei gedigte uit.

Levinia kat
deur Danie Marais

Levinia die kat woon by ons
maar sy lees nie koerant nie,
kyk nie TV nie,
en doen nie haar deel nie.

Levinia weet nie van verjaardae,
Zuma, apartheid
of die petrolprys nie,
maar sy’s my gunsteling- outistiese kind.

Levinia is ’n slaapkunstenaar
’n lui-strek-ballerina
’n opkruldutjie-akrobaat
’n sweefsprong-arties.

Levinia is net haarself –
die manier waarop sy haar wit poot
in die waterbak doop
en sistematies droogsoen.

Levinia is ondeurdringbaar –
die manier waarop sy haar oorle’ ma
se sagte tepels in die lug knie
as jy haar magie streel.

Levinia kan verwyt kwispel
en Bruce Springsteen miaau:
“All I need is someone to talk to
And a little of that human touch.”

Levinia kan vergifnis skuur
en “Eine Kleine Nachtmusik” spin;
sy broei haar eie pelsdroomeiers uit
op die rand van ons bed.

Daar was ’n tyd toe ek
beduidende verskille
tussen my en Levinia en gedigte,
wuiwende bome en ’n wolk kon sien.

Daar was ’n tyd toe ek
niemand se troeteldier
sou wees nie.

Bibliografie

Joubert, M. 2001. Lyfsange. Pretoria: Protea Boekehuis.

Marais, D. 2009. Al is die maan ’n misverstand. Kaapstad: Tafelberg.

Spies, L. 1971. Digby Vergenoeg. Kaapstad: Human & Rousseau.

Marié Jacobs is ’n vryskutskrywer en blogger

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top